Buddy Holly: Dié vertoning laat jou uitasem – van rock ’n roll én hartseer

  • 0

Buddy: The Buddy Holly Story

Maryke Roberts

Foto’s: Gustav Klotz

Die stampvol Operahuis het amper ’n soort elektrisiteit wat tussen die stoele dans toe ons ons plekke inneem. Die gordyne vertoon ’n reuse- swart-en-wit foto van Buddy Holly met sy kenmerkende dikraambril en mens kry amper die gevoel niemand het eintlik ’n program nodig nie – almal ken die tragiese storie van die jong sanger wie se loopbaan in ’n baie kort tydjie deur ’n vliegramp kortgeknip is.

Buddy Holly het in sewe kort jare amper meer vermag as die meeste ander kunstenaars in ’n leeftyd, en in ’n tyd toe rock ’n roll as “boosaardig en volksvreemd” beskou is, gewys dat daar baie meer in die lirieke steek as wat mense verwag.

Maar dit klink nou asof ek die storie wil vereenvoudig. Allermins. Sit vir Pieter Toerien weer in sy ou stoel as voorste teatermaker, bring die gehore in hul honderde terug en voeg daarby ’n West End-regisseur, Nick Winston (Fame, Cats, Chess, Annie, Bonnie and Clyde) en jy weet jy is in vir ’n ding.

In die hoofrol as die legendariese Buddy Holly is die sanger-liedjieskrywer Jethro Tait, en mensig, kan hy ’n kitaar tokkel. Jy is sommer terug in die 1950’s en wens dit was jy wat op die verhoog kon ruk en rol ...

Die ensemble is ’n keur uit van Suid-Afrikaanse se beste talent, onder wie Bethany Dickson (Matilda – the musical, Grease, The sound of music) en Keaton Ditchfield (Evita, Saturday night fever, West Side Story), met Michael Stray, Chad Baai, Gianluca Gironi, Thoko Jiyane, Che-Jean Jupp, Gerard van Rooyen, Koketso Mere, Gabriela Dos Santos, Nic Sedgewick, Virtuous Kandemiri, Sindiswa Ndlovu, Stephan Bezuidenhout en Morgan Marshall.

Maar die towerkrag stop nie daar nie. Dis asof elkeen op daardie verhoog die rolle lééf, asof hulle uit die vyftigs geklim het om net vir vanaand op te tree. Die danse is wild en wakker en wonderlik en mens moet kort-kort onthou die geluk is van korte duur.

Steeds is het einde niet.

Die kostuums pas só mooi, dis asof dit hul elkedagdrag is. Die stel en kostuums verdien hul eie applous vir die Fleur du Cap-pryswenner Niall Griffin (I love you, you're perfect, now change, Hedwig and the angry inch, Joseph and the amazing technicolor dreamcoat).

Soos wat Buddy in verskeie teaters en ouditoriums regoor Amerika optree, wissel die kostuums saam met die stel en jy voel amper asof jy in elkeen van daardie teaters sit. Onder die bekwame hand van die Naledi-bekroonde Wessel Odendaal (The phantom of the opera, Here's to you – the Simon and Garfunkel songbook, Avenue Q en The sound of music) as musikale regisseur, kom elkeen wat sy lippe voor die mikrofoon sit, tot sy reg.

Die treffende gebruik van ’n reusehorlosie waarvan die wysers oor die ure draai terwyl Buddy en sy groep, The Crickets, hulle liedjies opneem, dra die gevoel van sy onuitputlike energie en werksetiek baie doeltreffend oor. Maar dit suggereer ook sy kort lewe.

Tog is dit eintlik wonderlik om te dink dat hy verklaar: “Buddy Holly doen sy eie ding. Hy dra selfs bril op die verhoog.”

Al Buddy se bekendstes en gunstelinge wat soveel ander kunstenaars deur die jare inspireer het, soos “Peggy Sue”, “That'll be the day”, “True love ways”, “Oh boy”, “Chantilly lace” en “Johnny B Goode” is almal daar en mens is verbaas hoe gemaklik die gehoor saamsing en klap.

Mens kan eintlik nie glo as die radio-aanbieder aan die einde vertel Buddy was maar 22 jaar oud toe hy in die vliegongeluk gesterf het nie.

Mens kan heeltemal verstaan hoekom die sanger-liedjieskrywer Don McLean in sy 1971-liedjie “American pie” na 3 Februarie 1959, toe die drie rock-’n-roll-musikante, Buddy Holly, Ritchie Valens en The Big Bopper JP Richardson in ’n vliegongeluk gesterf het, verwys as die dag toe musiek gesterf het. Na twee en ’n half uur uur van een treffer na die ander, ywerige deelname van die gehoor, hande klap en selfs saam sing, voel jy waarlik die gemis aan wat nog kon gevolg het.

En al ken jy die storie, al weet jy hoe rampspoedig dit eindig, klop jou hart steeds seer in jou bors as sy jong bruid, swanger met hul “baby bump”, vir hom net voor hy op die toer vertrek, laat belowe hy sal nie vlieg nie. Sy is verskeie aande deur nagmerries geteister waar sy ’n reusevuurbol in die lug gesien het. Buddy-hulle sou die toer per bus onderneem het, maar die strawwe winter en lang afstande tussen optredes het die oorhand gekry en hulle het besluit om te vlieg.

Waar sou die musiekwêreld vandag gewees het as hy nie op daardie vliegtuig geklim het nie?

Maar hoe dit ook al sy, sy nalatenskap is emmers vol vreugde en goeie tye.

Buddy: The Buddy Holly Story

Met: Jethro Tait

Ensemble: Bethany Dickson, Keaton Ditchfield, Michael Stray, Chad Baai, Gianluca Gironi, Thoko Jiyane, Che-Jean Jupp, Gerard van Rooyen, Koketso Mere, Gabriela Dos Santos, Nic Sedgewick, Virtuous Kandemiri, Sindiswa Ndlovu, Stephan Bezuidenhout en Morgan Marshall.

Regisseur: Nick Winston

Musikale regisseur: Wessel Odendaal

Kostuums en stel: Niall Griffin

Tot 16 April by Kunstekaap Operahuis en daarna by die Pieter Toerien-teater by Montecasino van 22 April tot 28 Mei 2023.

Kaartjies deur Webtickets by https://www.webtickets.co.za/v2/search.aspx?search=buddy.

Geen onder 8’s.

  • Foto’s verskaf
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top