Die verset van voegsel -ss- in ’n Vlag aan die tong

  • 3

Titel: ’n Vlag aan die tong. Gedenkbundel van die derde Swart Afrikaanse Skrywerssimposium
Outurs: Hein Willemse en Steward van Wyk (reds)
Uitgewer: Hond
ISBN: 978-0-620-6702-4

’n Paar jaar gelede is ek en wyle Tienie du Plessis besig met die afronding van die publikasie ’n Vlag aan die tong* — ’n verslag van die derde Swart Afrikaanse skrywersimposium. Nadat ons die netjies geredigeerde manuskrip van Annemarie Swartz van die Universiteit van Wes-Kaapland ontvang het, het Tienie, ’n noulettende boekmaker, die galeiproewe gereed gekry. Terwyl ons daardeur blaai, merk hy terloops op: “Die redigering is op Woordelysstandaard.” Sy opmerking het daartoe gelei dat ons vir ’n paar minute gepraat het oor hoe die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Taalkommissie wat Afrikaans bereël, voortspruit uit ’n bepaalde geskiedenis van Afrikaans, een wat saamhang met Afrikanernasionalisme en dat met ideologiese verdoeseling daardie band eintlik nie meer raakgesien word nie.

Dit was dus ironies, het een van ons opgemerk, dat ’n Vlag aan die tong wat verset teen Afrikanernasionalisme registreer, so getrou die verordeninge van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls nakom. Selfs in verset het ons aanvaar dat AWS-reëls die enigste weergawe van spelling is, net soos ten onregte aanvaar word dat die GRA-geskiedenis die enigste weergawe van die geskiedenis van Afrikaans is. Op daardie moment was dit duidelik dat ons in ’n Vlag aan die tong ook in die spelwyse ’n moment van verset moes laat flikker — ’n weiering om die orde goedsmoeds te aanvaar.

Op my tog terug huis toe dink ek aan die ondertitel van ons bundel Gedenkbundel van die derde Swart Afrikaanse Skrywersimposium. Waarom verander ons nie die voegsel -s- na ’n dubbele -ss- nie, het ek gewonder? Dis ’n baie algemene spelfout — dus die volk se spelling — en nie dié van die bewakers van die orde nie. Dis dit! Daardie aand bel ek Frank Hendricks wat toe die ondervoorsitter van die Taalkommissie was, en vra hom hoe hy as AWS-lid op die -ss- spelling in “skrywerssimposium” sou reageer. Sy reaksie was min of meer: “Die reël is natuurlik dat die voegsel -s nie gebruik word waar die eerste komponent sonder ’n -s- gespel word nie”.
“En wat as daardie eerste komponent bedoel is as ’n meervoud?”
“Jy weet, Afrikaans gebruik die enkelvoud en nie die meervoud in sulke gevalle nie. Volgens die Woordelys sal daar net een -s- wees.” Daarmee was die saak verseël.

Die volgende oggend bel ek Tienie om die proewe wat reeds in die bladstadium was, aan te pas en vra hom om die korrek-gespelde “skrywersimposium” te verander na “skrywerssimposium”, dus die voegsel -s- te verander na -ss-, en daarmee spelreëls AWS 11.30, 17.14 en 17.16 te verbreek.

Tienie was nie gelukkig nie. “Ek het nog nooit gehoor,” het hy gesê, “dat ’n mens doelbewus ’n spelfout maak en dit dan dwarsdeur ’n boek aanbring nie.” Die uitlegprogram wat hy destyds gebruik het, het nie ’n outomatiese knip-en-pas-funksie gehad nie en hy moes letterlik elke “skrywersimposium” fisies verander na “skrywerssimposium”. ’n Paar veranderinge later bel hy my: “Jong, dit lyk nie reg nie, wil jy dit regtig verander?”
“Ja, Tienie, druk maar deur — al maak dit jou oë seer.”

Na nog ’n verdere aantal veranderinge bel hy my weer: “Miskien moet jy iewers in die boek ’n nota skryf soos Jeanette [Ferreira] vir André [Brink met Bidsprinkaan] laat doen het: "Ons wyk soms doelbewus af van die AWS-spelling.” “Tienie, moenie bekommer nie . . . dis ’n skop teen die elite . . . Dink net daaraan elke keer as ’n ou ’n aanhaling met dié woord maak, moet hy (sic) byvoeg om die fout uit te wys, want hy kan dit nie ignoreer nie!” Daarmee was die saak afgehandel en voegsel enkel -s- het voegsel dubbele -ss- geword. Minder as ’n maand later is Tienie oorlede.

Dit was die rasionaal. Die -ss-voegsel dwing elke ingeligte leser om twee keer te dink, die woord te korrigeer en dan te spring om die korreksie uit te wys en op daardie moment is die arbitrêrheid van spelling, die rol van die AWS as bereëlingsinstrument in die spel. Soos met die gebruik van die begrip “swart Afrikaanse skrywer” wat in ’n Vlag aan die tong gebruik word, word iedereen — elke letterkundige wat die begrip weier, gedwing om ’n alternatief te soek en daarmee te worstel.

Dit is maklik om te vergeet dat taal, in dié geval Standaardafrikaans, ook ’n magsinstrument is en as sodanig gebruik word. Net soos verset in benoeming, is hierdie moment van verset teen die Afrikaanse geskiedenis van bereëling ook ’n manier om die breuk — die Derridiaanse rapture — in taal en ideologie uit te wys. In dié geval die onkritiese aanvaarding dat die Akademie of die Taalkommissie ’n natuurlike reg op die bereëling van Afrikaans het. Sou ons die geskiedenis van Afrikaans in ag neem, moet ons ook onthou dat hierdie aanname berus op ’n geskiedenis van toeëiening (van taal) en uitsluiting (van medesprekers). Die verset van voegsel -ss- in ’n Vlag aan die tong wou iets van daardie breuk registreer.

  • 3

Kommentaar

  • Hein, ironies genoeg is die –ss-spelwyse die standaard-Nederlandse spelreël. Ek betwyfel dus die “volksheid” van hierdie ortografiese verset. Die vasstelling van spelvoorskrifte is altyd arbitrêr en word in alle tale deur die dominante groep bepaal. Niemand had destyds “’n natuurlike reg op die bereëling van Afrikaans” nie. Aan die standaardisering van ‘n taal is niks “natuurliks” nie. En om te beweer dat die GRA-weergawe van die geskiedenis van Afrikaans nog steeds as die enigste waarheid voorgehou word, is mos doodgewoon foutief.

  • Wonderlik! "Verkeerd" skryf as protes. Behalwe vir ongedwonge foute maak ek altyd een opsetlike fout in Engelse tekste wat ek skryf - 'n "has" in plaas van 'n "have" of 'n "are" in plaas van 'n "is". Die reaksie van Engelse portuur-evalueerders is dan dikwels: mens kan sien Engels is nie die skrywer se eerste taal nie. Ditsem. Ongelukkig wil die redaksie dan nie die fout so los of byskryf dat dit op versoek van die skrywer is nie, maar ten minste is die pot dan geroer.

  • Johnnes Comestor

    Soos gebruiklik gee Willemse voorkeur aan ideologie bo taal. Oral ter wêreld bepaal die elite die standaardtaal, maar Willemse berus nie daarin nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top