Die vermiste prentjie

  • 4

’n Triestige Sondag is die ideale tyd, emosioneel gesproke, om The Missing Picture te kyk. In die oorspronklike Frans word dit L’image manquante genoem. Dis wat ek ’n week of wat gelede gedoen het, met die reën wat buite val en ’n sjokolade labrador aan my voete.

Hierdie dokumentêre film probeer sin maak uit die wyse waarop Pot Pol en die Khmer Rouge Kambodja gedurende die middel 1970’s oorgeneem het. Die regisseur, Rithy Panh, gebruik ’n interessante tegniek om die storie te vertel. Hout- en kleifigure word gebruik om gedeeltes van die storie uit te beeld, terwyl wit-en-swart insetsels uit ware nuusflitse die balans uitbeeld. Die verteller in die Engelse weergawe is die stemkunstenaar Jean-Baptiste Phou.

Panh probeer verstaan hoedat dit gebeur het dat die Khmer Rouge in so ’n kort tydjie, relatief gesproke, die land so ingrypend kon verander. Hy probeer verstaan wat hy gemis het, hoe dit kon gebeur dat niemand voorsien het dat die uiterstes wat die land getref het, kon gebeur nie. Dis die vermiste prentjie wat hy probeer vind. Die aangrypendste en ontstellendste deel van die hele dokumentêr is egter wanneer die stemkunstenaar sê daar is ’n prentjie wat hy nie wil terugkry nie. Dis die prentjie van sy familie wat uitgewis is gedurende die tydperk wat die Khmer Rouge in beheer was. Sommige is gedood omdat hulle intellektuele was. Sy pa het op ’n eetstaking gegaan en gesterf. Daar was eenvoudig net nie genoeg van enigiets om liggaam en siel aanmekaar te hou nie. Daardie prentjie wil hy vergeet.

Net so is daar vandag dwarsoor die wêreld miljoene mense wat moes vlug uit hul eie lande as gevolg van politieke onrus en vervolging. Die Rohingya van Myanmar en die Koerde van verskeie Midde-Oosterse lande is die afgelope ruk in die nuus. Hierdie week, na ’n heldedaad deur ’n vlugteling van Mali in Frankryk, is die kollig weer op vlugtelinge uit Afrika.

Dan is daar die vlugtelinge wat onder ISIS deurgeloop het. Die oorlewendes van die Rwandese slagting. Uganda. Turkye. Sjina. Kenia. Die lys gaan aan. Dis maar net sommige van die onregte van die onlangse verlede.

In elke enkele een van daardie konflikte was daar slagoffers. Oorlewendes. Mense met prentjies in hul koppe wat hulle wens hulle eerder kon vergeet, prentjies wat hulle wens vermis kon word.

Hoe gaan enigeen wat sulke vergrype deurgemaak het aan met hul lewens? Hoe kan hulle selfs begin om enigiets wat naastenby normaal is, aan te pak? Wat beteken normaal? Vir kinders wat in die midde van die vergrype gebore word, is onderdrukking, marteling en hongersnood tog normaal. Dis al wat hulle ken, al is dit nie moreel reg of regverdigbaar nie.

Wonde aan die liggaam kan maklik behandel word. Daar is ’n kneusing, of ’n skaafwond, behandel dit. Hier is ’n gebreekte been, spalk dit. Daar is ’n oop wond, heg dit en verbind dit. Hierdie ledemaat kan nie gered word nie, amputeer dit.

Maar hoe amputeer jy ’n gebroke siel? Hoe behandel jy ’n wond van die psige, wat onsigbaar is? Hoe speel die onbehandelde trauma uit in die oorlewende se latere lewe, in hul intieme verhoudings, in magsverhoudings by die werk, in stresvolle situasies? Dis maklik om te kyk na vergrype in ander lande, en om te verstaan dat daar sielkundige letsels is wat mense se keuses beïnvloed. Dis minder maklik om dieselfde in ons eie agterplaas te doen.

Hoeveel mense in ons eie land is gemartel of moes sien hoedat hul geliefdes sterf? Hoeveel onbehandelde sielkundige letsels loop hier rond? Die terapeutiese uitwerking van die Waarheids- en Versoeningskommissie was maar beperk. Politieke gevangenes en sommiges van dié wat met die staatsapparatus gebots het, kon hul pyn deel. Maar wat van die groot gros mense wat nie in formele aanhouding was nie? Wat van die plaaswerker wat deur die plaasboer geskok is met ’n elektriese apparaat, en wat nog steeds op die plaas moet aanbly want daar is geen ander heenkome nie? Wat van die derduisende mense wat ’n ekonomiese agterstand het, want hulle arbeid was nie na behore vergoed nie? Wat van die derduisende ongeletterdes of semi-geletterdes wat nie gelyke geleenthede tot opvoeding gehad het nie omdat die sisteem ingerig was om hulle te onderdruk?

As daar mense is wat nou nog verbittering uitspreek oor die Anglo-Boereoorlog, wat voor hul leeftyd gebeur het, is dit dan onredelik om bitterheid uit te spreek oor vergrype wat jy eerstehands ervaar het?

Ons almal het prentjies in ons koppe wat ons wens ons kon uitwis. Soos die situasie uitgebeeld in The Missing Picture, is dit prentjies van die onlangse verlede. Soos Kambodja, is ons nog steeds besig om die wonde te probeer herstel.

Hoe herstel ons wonde as die konflik nooit regtig opgehou het nie? Hoe kan ons as ’n nasie voortbeweeg as ons nie toegelaat word om ons wonde te wys, en te ween oor dit wat ons verloor het nie?

Die menslike brein is ’n wonderlike orgaan wat my elke dag opnuut verstom. Ons brein kan nuwe sinapse vorm. Ons kan nuwe prentjies maak wat die ou, pynlike prentjies kan vervang. Ons kan met eerlikheid en ’n oop gemoed probeer om te leer uit die foute van die verlede, en om mekaar te probeer genees.

Maar hoe doen ons dit wanneer die nuwe prentjies party dae presies net soos die ou prentjies wat ons moet vervang, lyk?

  • 4

Kommentaar

  • Niemand praat apartheid goed nie.
    Dis egter bietjie rof om apartheid in konteks met die vergrype van Pol Pot te noem. In dieselfde tydperk wat die Khmer Rouge 3 miljoen van Kambodja se inwoners vermoor het, het die Suid-Afrikaanse bevolking met miljoene aangegroei danksy hospitale en gesondheidsgeriewe wat die destydse regering daargestel het.

    • Heidi Newby-Rose

      Jy's reg, Louis. Die twee kan nie vergelyk word nie. Daardie was gou oor, en het net 'n sekere groep mense getref. Apartheid het vir dekades aangehou, en die aantal mense geaffekteer was baie groter, en die gevolge baie meer wydverspreid.

  • Dit sal miskien goed wees as die skrywer plekke en name aan die voorvalle wat sy noem verskaf. Dan kan dit verder nagevors word en miskien kan vergoeding geëis word om afsluiting te kry. Interessante leesstof is ook The Truth about the Truth Commission geskryf deur Anthea Jeffrey.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top