1. Inleiding
China se Gordel-enpadinisiatief (GPI) in Afrika is 11 jaar oud. Die projek is deur die Chinese president Xi Jinping afgekondig tydens ’n besoek aan Kazakstan in September 2013. Die GPI is vinnig gereken as die mees ambisieuse ontwikkelingsprojek in die geskiedenis van die moderne mensdom en ook die wêreld se grootste transnasionale infrastruktuurprogram. Die Chinese leier het self na die projek verwys as die grootste projek in die 21ste eeu en ’n ontwikkelingsprogram wat ’n pad oop spel vir vrede, welvaart en innovasie. Verder verbind die projek die verskillende bevolkings en dele van die wêreld met mekaar, ten einde ’n internasionale gemeenskap met gedeelde belange en toekomsvisie te skep. Die Chinese leier het die projek ook bekendgestel as ’n keuse wat ander lande kan maak om nasies nader aan mekaar te bring en gesamentlike ontwikkelingsprojekte te loods. Dit sou gebeur sonder dat die lande hulle onafhanklikheid opgee.
Die GPI word egter deur baie lande beskou as ’n ontwikkelingsprojek wat reeds tekens van veroudering begin toon. Díe artikel ondersoek die standpunt met ’n spesifieke fokus op Afrika. Die sentrale argument is dat die fokus verskuif na nuwe en kleiner projekte in plaas van die bou van groter infrastruktuur. Die gevolgtrekking is dat die GPI hier is om te bly ten spyte van probleme met finansiering en vertragings in die voltooiing van bestaande projekte. Die GPI is ’n verlengstuk van China se buitelandse beleid en definieer die land se internasionale ekonomiese interaksie, veral met Afrika en ander ontwikkelende streke van die wêreld.
2. Is die GPI nog op koers?
Volgens Cobus van Staden van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Internasionale Sake het die GPI ná 10 jaar ’n doodloopstraat bereik en is daar geen rede vir Chinese leiers om opgewonde oor die projek te raak nie. Ander kundiges beweer dat die GPI uit stoom gehardloop het en nou slegs ’n skaduwee van sy vorige self is. Sedert 2018 is finansiering vir GPI-projekte in ’n vryval-fase en het finansiering drasties afgeneem. Tussen 2013 en 2017 het die in- en uitvoerbank van China (Exim Bank of China) en die Chinese Ontwikkelingsbank (China Development Bank) meer as 500 miljard Amerikaanse dollars vir GPI-projekte befonds. Die tydperk is gekenmerk as die bloeitydperk van die GPI. Tussen 2019 en 2021 het díe twee reuse-Chinese banke slegs 10,5 miljard Amerikaanse dollars vir GPI-projekte toegestaan. Die globale neiging is ook waarneembaar in Afrika. GPI-beleggings het met 55% geval tydens die globale pandemie, vanaf 16,5 tot 7,5 miljard Amerikaanse dollars teen die einde van 2021.
In ooreenstemming met finansiële bydraes wat afneem, is daar ’n toenemende aantal lande wat nie tevrede is met die vordering wat die GPI maak nie. Die globale pandemie het Beijing ook onkant gevang en baie projekte is tydelik gestaak. Die implementering van sommige projekte het eenvoudig nie plaasgevind nie. Lande wat geld van Chinese Staatsbanke (China State Bank) en die Asiese Ontwikkelingsbank (Asian Development Bank) geleen het, sukkel om die skuld terug te betaal. Dit is die skuldlokval waarna verwys word. Daar is ook Afrika-regerings wat enorme projekte van stapel gestuur het slegs om politieke guns te wen. Voorbeelde is die Standaard Kenia Spoorlyn (SGR) en Uganda se Kampala-Entebbe Snelweg (KEE).
Die situasie tans rondom die GPI is reeds lank in wording en behoort nie as ’n verrassing te kom nie. Dit is die resultaat van verskeie kritieke knooppunte. Daar is inderdaad min twyfel dat die inisiatief sedert sy ontstaan verskeie uitdagings in die gesig gestaar het. Byvoorbeeld die afname in oorsese lenings deur Chinese banke het nie oornag gebeur nie. Dit was die gevolg van ’n relatiewe verlangsaming in China se plaaslike ekonomie, asook politieke skommelinge binne die Chinese Kommunistiese Party (CKP). Een van die skommelinge is president Xi Jinping se strewe om mag te konsolideer en binnelandse sekuriteit ’n hoofprioriteit van die CKP se beleid te maak. Sekuriteit op tuisbodem speel ook ’n groot rol in die aanwending van mag in die buiteland, wat die GPI insluit.
Boonop is verskeie GPI-projekte in Afrika aangepak sonder om die ekonomiese lewensvatbaarheid en gevolge vir die omgewing in ag te neem. Dit skep ’n prentjie van die GPI as swak beplan, ambisieus en gemik op die selfgesentreerde belange van die Chinese regering. In ’n studie deur Malik (2022) is bevind dat 35% van GPI-projekte probleme met implementering ondervind. Dit sluit in korrupsie, skandale, oortredings van arbeidswetgewing in betrokke lande, gevare vir die omgewing en openbare protesaksies.
Soos aangedui het die staking van projekte lank voor die aanvang van die globale pandemie begin. Globale ekonomiese resessies, oorloë in die Midde-Ooste, politieke skommelinge in Amerika en Wes-Europa is alles redes vir die stadige vordering wat die GPI die afgelope vyf jaar gemaak het. Dit het die leierskap in China met geen ander keuse gelaat as om die GPI in sy geheel te hersien nie. Die Chinese leierskap het besluit om die GPI nuwe dryfkrag te gee deur te fokus op strategiese beplanning. In dié verband word gefokus op kleiner projekte en die toelating van ander rolspelers om betrokke te raak by GPI-projekte.
3. Wat is die gevolge vir Afrika?
Afrika-lande het tans nie ’n keuse as om hulleself te staal vir die veranderende dinamika van die GPI nie. Dit sluit in China se gebrek om reuse-projekte te finansier as gevolg van swak plaaslike ekonomiese groei en die toenemende skuldkrisis in verskeie Afrika-lande. Afrika-lande het ’n hele paar projekte wat in die beplanningsfase is, maar kan nie op die Chinese regering steun om finansiering te verskaf nie.
In Kenia, byvoorbeeld, finansier China tans slegs 5% van projekte teenoor wat gefinansier is voor 2022. Teen die einde van 2022 het Chinese finansiering in díe Oos-Afrika-land gestaan op slegs 12,7 miljoen Amerikaanse dollars. In 2020 was die bedrag 216,5 miljoen Amerikaanse dollars en in 2017 wat die hoogtepunt van Chinese finansiering in Afrika was, het die bedrag gestaan op 522,5 miljoen Amerikaanse dollars. Uit die statistieke kan mens aflei dat China meer versigtig te werk gaan om geld aan Afrika-lande te leen. In die lig van globale stygende rentekoerse is dit onwaarskynlik of die vloei van kapitaal om projekte te befonds gaan terugkeer na vorige vlakke. Na bewering sal dit die geval wees selfs nadat Afrika-lande in staat sou wees om hulle skuld terug te betaal en die Chinese regering gewillig sou wees om groot lenings te maak. Terwyl dit in die media vermeld word dat China se lopende rekening tekens van herstel begin toon, is dit tans die beleid van die CCP om die geld vir plaaslike ontwikkelingsprojekte aan te wend.
Dit plaas die Afrika-kontinent op nog ’n kritiese kruispad. Die kontinent sit met ’n geweldige agterstand in die bou van infrastruktuur wat gevolge vir ontwikkeling en die welvaart van veral die jonger generasie inhou. ’n Verslag van die Wêreld Ekonomiese Forum in 2023 dui aan dat Afrika die vinnigste groeiende jonger generasie van al die kontinente in die wêreld het. Die Afrika Ontwikkelingsbank beraam verder dat Afrika ongeveer 170 miljard Amerikaanse dollars vir infrastruktuurontwikkeling gaan nodig hê teen 2025. Die tekort gaan ongeveer 100 miljard Amerikaanse dollars vir die volgende vyf jaar beloop. Die korttermyngevolge is dat Afrika-regerings nie veel van ’n keuse gaan hê anders as om weg te beweeg van Chinese finansiering en duurder private kapitaalmarkte te oorweeg nie.
’n Onlangse voorbeeld is die besluit van die Ugandese regering om ’n 2015-kontrak vir die bou van ’n spoorlyn tussen Mombasa en Kampala te kanselleer. Die spoorlyn was oorspronklik deel van die Chinese regering se GPI in Oos-Afrika. Met ’n vertraging van agt jaar om fondse van Chinese banke te bekom, is daar besluit om die Turkse boukontrakteur Yapı Merkezi aan te stel vir die bou van die spoorlyn. Díe boukontrakteur sal fondse deur middel van gesindikeerde (syndicated) lenings bekom.
4. Die veranderende landskap van die GPI in Afrika
Die afname in Chinese lenings vir GPI-projekte het konkrete gevolge vir Afrika. Die fokus is tans op kleiner projekte in telekommunikasie, vervoer en energievoorsiening, terwyl projekte in die reusagtige bedrywe van olie en gas afgeskaal word. In die vroeë dae van die GPI was finansiering grotendeels gereserveer vir die verkenning en ontginning van koolwaterstowwe. Min ag is geslaan op gevolge vir die omgewing en gemeenskap. Daar is toe besluit om ’n nuwe strategiese rigting in te slaan en te fokus op drie areas van belang:
a) die skuif na kleiner projekte,
b) die toelating van ander Chinese rolspelers om nuwe prioriteitsareas te identifiseer en
c) die insluiting van groen en digitale projekte.
Eerstens het die fokus geskuif na die ontwikkeling van kleiner projekte in die laaste aantal jare. As voorbeeld word genoem dat die Exim Bank van China lenings vir die ontwikkeling van die telekommunikasie, vervoer en energiesektore in Afrika verskaf. Angola, Burkina Faso, die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK), Ghana, Lesotho, Madagaskar, Mosambiek, Ruanda en Zambië ontvang almal lenings van die bank om díe sektore te ontwikkel. Die mynbedryf het in die laaste aantal jare geen openbare finansiering van China se Exim Bank ontvang nie.
Die versuim van finansierders om geld beskikbaar te stel, beteken nie noodwendig dat daar geen geld beskikbaar is nie. Wat gebeur, is dat daar tans ’n wye groep rolspelers is wat nuwe prioriteite vir die Chinese regering identifiseer. Dit is alles in ooreenstemming met die Aksieplan van die Forum vir China-Afrika-samewerking (FOCAC) se 2021-vergadering in Dakar, Senegal 2021. Tydens die vergadering is besluit dat Chinese krediteure minder finansiering vir groot projekte gaan verleen en meer finansiering vir kleiner projekte. Die groot projekte is net te duur en teenproduktief om op die langtermyn te onderhou. China is meer geïnteresseerd in projekte wat ekonomies lewensvatbaar op die korttermyn is. In dié verband word projekte soos tolpaaie en datasentrums gefinansier, omrede dit inkomste genereer sodra dit operasioneel is.
Tweedens is daar tans ’n magdom kleiner instellings wat finansiering aanbied. Dit sluit in staatsbeheerde ondernemings, private maatskappye, provinsiale banke en besighede wat ondernemerskapitaal aanbied (venture capital firms). Dit is nie slegs meer die domein van die Chinese Exim Bank en die COB nie. Daar is ’n skuif weg van tradisionele lenings wat oor ’n lang tydperk in die vorm van rente terugbetaal word, na gelykheidsmodelle en openbare, private vennootskappe. China se
gelykheidsmodel in Afrika fokus op die ontwikkeling van nywerhede, werkskepping en beleggings. Dit is veronderstel om te lei tot verhoogde uitvoere in verskeie ekonomiese sektore, soos tekstiel, swaarmasjinerie en die landbou. Verder is openbare, private vennootskappe ’n groot inisiatief om die GPI ’n hupstoot te gee. Dit sluit in samewerking tussen regeringsagentskappe en ’n privaatsektor-maatskappy wat gebruik kan word om projekte te finansier, te bou en te bedryf. Byvoorbeeld openbare vervoernetwerke, parke en konvensiesentrums.
Derdens word projekte aangepak wat fokus op die ontwikkeling van digitale en groen infrastruktuur. Dit is ’n skuif weg van die groot projekte wat in die vroeë jare van die GPI aangepak is. Chinese finansiering vir oorsese projekte word tans toenemend gedefinieer deur die beskrywing “small is beautiful” en nie deur “bigger is better” nie. Die Chinese tegnologiese reus Huawei het ook aangekondig dat 300 miljoen Amerikaanse dollars in die ontwikkeling van datasentrums en kubersekuriteit belê gaan word. Die projekte is ekonomies ook meer lewensvatbaar. As voorbeeld word genoem dat die Diamniadio-datasentrum in Senegal deur Huawei gebou en sedert 2021 aktief is.
5. Die GPI is hier om te bly
Ten slotte word genoem dat dit voortydig is om die GPI ná ’n dekade as verouderd en rigtingloos te beskou. Die GPI ondergaan slegs ’n gedaanteverwisseling en is nie dood en begrawe nie. Ten spyte van al die probleme en uitdagings, is die inisiatief hier om te bly. Die inisiatief is te diep verweef met president Xi Jinping se persona en die politieke kapitaal wat hy belê het. Die GPI is in 2017 in die CKP se grondwet verskans, wat dit ’n onlosmaaklike deel van president Xi se politieke nalatenskap maak. Die veranderende dinamika van die GPI beteken verder dat China se betrokkenheid in Afrika nog glad nie tot ’n einde gekom het nie. Die onus rus egter op Afrika-lande om die meeste van die geleenthede te maak wat hulleself voordoen.
Bronnelys:
Biryabarema, E. 2023. Uganda drops Chinese firm from railway deal, eyes Turkish rival. 13 Januarie. https://www.reuters.com/markets/deals/uganda-drops-chinese-firm-railway-deal-eyes-turkish-rival-2023-01-13/ (6 Februarie 2024 geraadpleeg).
garoweonline.com.2023. Chinese tech giant to invest over 300 million in Africa’s data center and cyber security market. 3 Maart. https://www.garoweonline.com/en/featured/business-n/chinese-tech-giant-to-invest-over-300-million-in-africa-s-data-center-and-cyber-security-market (6 Februarie 2024 geraadpleeg).
Malik, T.H. 2022. The belt and road initiative, joint intellectual capital development towards industry value added of a partner economy. International Journal of Chinese Education, 11(3):1–21.
Sun, Y. 2021. An examination of the 2035 Vision for China-Africa Cooperation. 27 Desember. https://www.brookings.edu/articles/an-examination-of-the-2035-vision-for-china-africa-cooperation/ (7 Februarie 2024 geraadpleeg).
weforum.org.2023. How Africa’s youth will drive global growth. 16 Augustus. https://www.weforum.org/agenda/2023/08/africa-youth-global-growth-digital-economy/ (5 Februarie 2024 geraadpleeg).
Lees ook in LitNet Akademies:
China se Gordel-en-pad-inisiatief (Belt and Road Initiative, BRI): Die vroeë invloed op Afrika


Kommentaar
Goeie samevatting van die situasie rakende Beijing se falende ambisie. Dankie.
Dankie David. China se GPI sal op kleiner skaal voortgaan in Afrika. Ander rolspelers soos Turkye raak nou meer betrokke.