
Eerste foto: Protea Boekhuis-Facebookblad; omslag: Protea Boekhuis
Titel: Die uitvaart
Skrywer: Carla van der Spuy
Uitgewer: Protea Boekhuis, 2025
ISBN: 978-1-4853-1582-7
’n Mens kan nie aan iemand voorskryf hoe om te rou of hoe om begrafnis te hou nie. Dié sinnetjie op die agterblad van Carla van der Spuy se nuutste boek, Die uitvaart, lyk aanvanklik heel eenvoudig. Maar soos die ure aanstap en ek dreig om die boek te begin lees, begin die ware betekenis daarvan in my kop maal.
’n Vriendin wat in haar vroeë vyftigs aan kanker oorlede is, se man (een van ons goeie vriende) het ’n paar weke na haar roudiens sy huis verkoop, na ’n ander voorstad getrek en sy bande met almal verbreek. Sy WA-antwoord-boodskappies oor hoe dit gaan, is kort en kragtig: “Dit gaan goed met my en die honde. Dankie.”
Ek het gou gesnap en ophou vra (pla). Ons het hom te veel herinner aan wat hy verloor het.
........
Ek het gou gesnap en ophou vra (pla). Ons het hom te veel herinner aan wat hy verloor het.
........
My ouer vriendin wie se man oorlede is, het vir etlike jare nie sy klere uitsorteer, sy pyp uit die asbak by die leunstoel gehaal nie. Ook nie sy stemboodskappe van haar foon gevee of sy selkontrak opgehef nie. As jy sy nommer gebel het, het sy stem mooi gevra dat jy ’n boodskap los. Vreemd, maar haar manier om stadig afskeid te neem.
So ’n paar jaar gelede lees my geliefde Stiff: the curious lives of human cadavers deur die wetenskapjoernalis Mary Roach. Sy het baie navorsing gedoen oor wat met jou liggaam gebeur nadat jy dood is, en ook die hele “romanse” van orgaanskenking of jou liggaam skenk vir navorsing, uit die water geblaas. Maar alles met humor, goeie navorsing en insae van kundiges. En soos hy mense daarvan vertel het, het ek besef hoe graag mense meer wil weet oor die dood; oor die “regte” rouproses en wat presies met ontbinding en verassing gebeur.
Toe reeds het ons gesê ons kort ’n soortgelyke boek in Afrikaans, deur ’n Afrikaanssprekende wat in Suid-Afrika woon en dit binne ons kontaks kan beskryf. Want o genade, by elke begrafnis waar jy oor driehoekbroodjies in ’n stowwerige kerksaal sit, is daar een of ander mite oor die dood waaraan iemand krampagtig vasklou. Of elke keer as jou huishulp of tuinwerker iemand moet begrawe, is daar soveel onkunde en bygelowe – mens kan nie glo dis 2025 met al sy toegang tot inligting nie.
Carla skryf in haar inleiding:
’n Mens kan nie aan iemand voorskryf hoe om te rou of hoe om begrafnis te hou nie. Dis ’n persoonlike saak. Die dood bly ’n sensitiewe onderwerp. Die werklikheid is egter dat ons almal een of ander tyd te sterwe kom.
Mag hierdie boek mense inlig, inspireer en bemagtig.
Carla se navorsing is breedvoerig uitgevoer. Sy sluit haar eie pad met die dood in; skryf oor mediese speurders; kyk na die voor- en nadele van begrawe of veras; balseming; vreemde maniere van sterf; en natuurlik een van die belangrikste debatte van ons tyd: “My lewe, my keuse”, wat in bitter min lande van die wêreld regtig waar is.
Ek vind die hoofstuk oor forensiese werk fassinerend. Daar is onder meer ’n gedeelte waar ’n ginekoloog gevra het vir ’n disseksie van die senuweenetwerk van die onderste derde van die uterus en twee derdes van die vagina. “Die rede daarvoor is dat daar soms nie beheer van die blaas is nadat ’n vrou ’n histerektomie ondergaan het nie.” Drie weke se werk met ’n vergrootglas en ’n nuwe wêreld vir ginekologie gaan oop. Wetenskap aan’t werk vir jou.
Iemand se liggaam wat vir navorsing geskenk is, het dit moontlik gemaak. Daar is geen romanse daaraan nie, maar daar is noodsaaklikheid daaraan. Sy verduidelik in besonderhede hoeveel tyd kan verloop voor organe nie meer bruikbaar is nie en hoekom dit noodsaaklik is dat orgaanskenkers seker maak die regte mense weet van hul wense om organe te skenk, sodat dit betyds verwyder kan word en iemand anders se lewe kan red. En baie interessant, as jy die oë ook kan kry, kan een liggaam 106 produkte verskaf wat pasiënte benodig om ’n normale bestaan te voer.
........
Ek verstaan ook waar sy skryf dat mense nie veel belangstel in wetenskaplike feite wanneer hul geliefde sterf nie. Dit gaan oor berusting, sodat jy sonder selfverwyt kan voortgaan nadat jou geliefde weg is.
Dit bring mens na jou eie pad met verlies en hoe moeilik daardie eerste ure na iemand wegval, is.
........
Ek verstaan ook waar sy skryf dat mense nie veel belangstel in wetenskaplike feite wanneer hul geliefde sterf nie. Dit gaan oor berusting, sodat jy sonder selfverwyt kan voortgaan nadat jou geliefde weg is.
Dit bring mens na jou eie pad met verlies en hoe moeilik daardie eerste ure na iemand wegval, is. Behalwe die besluite oor verassing of begrawe, is daar ook die groot vraag of jy jou geliefde wil gaan besigtig en hoe jy daaroor voel dat ander hulle gaan besigtig. Is dit morbied of makaber?
En as jy nie gaan besigtig nie, sal jy vir altyd spyt hê. Hoe weet mens?
Die hoofstuk oor bystandsdood, “My lewe, my keuse”, het diep getref. Ek het ’n paar jaar gelede ’n onderhoud met Sean Davison gedoen nadat sy boek The price of mercy verskyn het. Hy is al verskeie male vervolg omdat hy mense met bystanddood help.
My skoonpa het vir ses maande swaar gely onder verskeie soorte kanker. Hy was ’n sakkie bene teen die einde en ons het vir die laaste drie weke voor sy bed sit en waak. Die emosionele impak wat sy agteruitgang op ons almal gehad het, was ingrypend en diepreikend ...
Dis nou 12 jaar later en die verskrikking daarvan voel steeds vlak onder die oppervlak. Ek weet sy kinders sou die voorreg wou gehad het om sy wense om nooit te ly nie, tot uitvoering te kon bring. Maar dis steeds teen die wet en ons moet – soos miljoene ander regoor die wêreld – net toekyk en berus.
Carla verduidelik dié hele onderwerp baie goed.
Ek prys Carla vir hierdie boek, ’n noodsaaklike hulpmiddel vir elkeen wat deur rou gaan en elkeen wat nog moet besluit wat met die geliefde se oorskot moet gebeur nadat hy of sy gesterf het.
Niemand spring die dood vry nie, maar hoe jy sterf en wat met jou liggaam gebeur, is iets wat jy vooraf kan bepaal en wat die lyding van dié wat agterbly, baie kan verlig. Jy wil rou oor die verlies van ’n geliefde, nie oor die tweespalt wat onduidelikhede meebring nie.
- Carla van der Spuy is ’n bekroonde vryskutjoernalis en skrywer van niefiksie, waaronder Mens of monster (2012) en Bloed op haar hande (2015), wat deur BooksLive gelys is as een van 2015 se mees verbysterende Suid-Afrikaanse ware-misdaad-boeke. Haar ongekompliseerde, openhartige gesprekke en haar gemaklike skryfstyl lei na indringende, ware lewensverhale. Carla is nie bang vir taboe onderwerpe nie, maar skryf met deernis en joernalistieke integriteit – iets wat deesdae maar skaars is!
Lees ook:

