Die uitbou van wetenskapstaal en tersiêre ruimtes en wat Nederlands en Afrikaans vir ander tale bied

  • 0

Bydrae gelewer tydens Roots-konferensie by Universiteit van Wes-Kaapland, 22–23 September 2009

Prof Jacques van der Elst, hoof uitvoerende beampte van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns

Amsterdam (illustrasie deur Lucas Grey op Pixabay)

Die keuse van die onderwerp is nie myne nie. Dis min of meer ’n onderwerp-opdrag. Eintlik sou ek vanuit my vakgebied verkies om die problematiek van die digter Lucebert se poësie te bespreek, of om te besin oor waarom Willem Kloos tog ween “om bloemen in de knop gebroken”.

Maar dis dalk sinloos om in Suid-Afrika oor die geween te besin. Die pas oorlede digter Barend Toerien het Willem Kloos se geween naamlik gerelativeer met die volgende gedig:

Kloos het geween oor blomme in die knop gebroke –
Kloos het gesnik oor blomme in die knop vergaan.
Oor die swart townships is my toorn ontstoke,
die kinderknoppe wat nooit oop sal gaan;
die swart gesiggies, siek en wangevoed
wat vroeg leer om te steel om te bestaan.
Hier in die donker woud van krotte woed
die oerwoudwette van slaan of word geslaan,
Dit is die wêreld dié van lang bustoue.
Dit is die donkerte van tsotsis en skokiaan.
Dit is die buurt van dompasse en bierbroue.
Dit is die blomloosnag vir Kloos om oor te traan.
Kloos het geween en was nie eens bloemis;
En wat gaan dit my aan, ek wat wit is?

Toerien, BJ. 1975. Illusies, Elegieë, Oorveë, Transfusies.
Kaapstad, Pretoria: H&R, p 71)

Die versoek om oor bostaande onderwerp te praat hou verband met my pos as hoof uitvoerende beampte van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, ’n liggaam wat hom oor die afgelope 100 jaar besig hou met die taal Nederlands, Afrikaans in die hoër onderwys, die kunste en die wetenskap in die algemeen – kortom, Afrikaans as wetenskapstaal.

Aanvanklike ontstaansgronde vir die Akademie in die vroeë jare van die vorige eeu was die verdringing van Nederlands ten gunste van Engels. Voorstanders van Nederlands was deel van die stigterskorps en het aanvanklik nie sinnigheid gehad in die “geradbraakte” Nederlands of die Kaapse-Hollands wat as spreektaal en in mindere mate as skryftaal opgang gemaak het.

Hulle het die Kaaps-Hollands, of dan Afrikaans, heftig beveg en dit as ’n dialek bestempel. Prof PJG de Vos van Stellenbosch pleit daarvoor dat geen beweging op tou gesit moet word “... om ‘t Afrikaans-Hollands als zodanig tot onze schrijftaal verklaard te krijgen”, want het hy gesê dit verbreek die bande met Holland (Nienaber 1969:1).

Die laaste deel van sy opmerking is natuurlik nie van alle waarheid ontbloot nie. Die uiteindelike keuse vir Kaaps-Hollands of Afrikaans hét verwydering met die Nederlande gebring en afstand gebring van ’n taal wat toe al wetenskapstatus gehad het en tewens ’n literêre tradisie van eeue, van Van Veldeke tot wie weet waar. Die verwydering is oor dekades vererger deurdat Afrikaans in die politieke arena beland het en uiteindelik ook bestempel is as taal van die onderdrukker – ’n bestempeling wat op moedswillige wyse in sekere kringe nou nog in die binne- en buiteland gerieflik in stand gehou word – by name deur mense wat geen snars van Afrikaans verstaan nie en hulle onkundigheid/ontoereikendheid verberg agter ’n openlike vyandigheid teenoor die taal ongeag, daarby genoem, die feit dat taal nie noodwendig in die beskuldigdebank staan nie. Dit is eerder die sprekers van die taal wat die aangeklaagdes behoort te wees. Maar laat ek nie afdwaal nie.

Die SA Akademie is sedert sy ontstaan besig met die standaardisering van Afrikaans – iets wat van kritieke belang vir die ontwikkeling van ’n wetenskapstaal is. Die tiende uitgawe van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls getuig daarvan. In 1915 het die eerste spelreëls verskyn en twee jaar later die eerste amptelike Afrikaanse Woordelys en Spelreëls. Voordat ek vergeet, moet ek byvoeg dat die Akademie die taak van standaardisering in die vroeë jare vir homself toegeëien het. In die later jare, veral na 1990, is aan die Akademie die vraag gestel waar hy in vredesnaam die reg vandaan haal om te standaardiseer. Die antwoord is eenvoudig: die Akademie het die reg verwerf deur die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad en sy taalliggame, naamlik in hierdie geval die NTLA, die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans.

Het die Akademie dit deur die jare reggekry om by te dra tot die ontwikkeling van Afrikaans as wetenskapstaal, en is Afrikaans dan ’n wetenskapstaal, en sal dit ’n bydrae kan lewer tot die ontwikkeling van ander tale as wetenskapstale? (Met "ander tale" bedoel ek dan die ander inheemse tale van Suid-Afrika.)

Die antwoord op die vraag of Afrikaans ’n wetenskapstaal is, is ’n besliste ja. Die leksikon van Afrikaans is toereikend om die terreine van die wetenskap te dek. Al die wetenskappe? Beslis die geesteswetenskappe. Kan en wil Afrikaans bybly by die ontwikkelinge in die natuurwetenskappe? Dieselfde vraag geld seker ook vir Nederlands.

Die groot gevaar vir Afrikaans is dat die behoefte aan die taal as wetenskapstaal begin taan. Ek hoef nie uit te wei oor die oneindige debatte wat die afgelope jare gevoer word oor Afrikaans as onderrigtaal, Afrikaans as moedertaal in die onderwys – op universiteit en in die skool – nie.

Die Nasionale Navorsingstigting (NNS/NRF), wat die gradering van akademici bestuur, ontken dat taal enigsins ’n rol speel by hulle evalueringsprosesse en bevestig tereg dat wetenskaplike gehalte na inhoud beoordeel moet word en nie volgens die taalmedium waarin dit aangebied word nie. In ’n verslag wat onlangs in Vlaandere verskyn het, word gesê dat as dit by evaluering kom, daar “geen alternatief (is) voor het criterium van de kwaliteit. Ook niet de ideologische eigenheid en opstelling nog de regionale gebondenheid.” Ek glo opreg dat dit ook die NNS se standpunt is, maar wat kan daarvan teregkom as byvoorbeeld hoofsaaklik eentalige Engelstalige referente Afrikaanse navorsingsverslae of artikels moet beoordeel? Wat sou ek in dié geval doen as ek ’n Afrikaanstalige natuurwetenskaplike was? Ek sou nie teen die prikkels skop nie en die weg van die minste weerstand volg en slegs Engelstalige artikels en navorsingsverslae skryf en daarmee bewustelik of onbewustelik die status van Afrikaans as wetenskapstaal ondermyn.

Dat dit trouens die neiging in die natuurwetenskaplike bedryf is, is algemene kennis en word bevestig deur my onlangse ervaring by die SA Akademie. Ons ken in samewerking met die ATKV pryse van R10 000,00 elk vir die beste ses wetenskaplike artikels in Afrikaans in geakkrediteerde Suid-Afrikaanse tydskrifte: vier vir die geesteswetenskappe en twee vir die natuurwetenskappe. Al die geakkrediteerde tydskrifte op die Departement van Onderwys se lys in die land is genader.

Veertig inskrywings is van geesteswetenskap­like tydskrifte ontvang – maar slegs twee van ’n natuurwetenskaplike tydskrif. Laasgenoemde is die Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie, die SA Akademie se éie tydskrif, wat slegs artikels in Afrikaans oor natuurwetenskaplike temas publiseer – gewoonweg omdat die SA Akademie glo dat daar ruimskoots ander publikasiegeleenthede vir natuurwetenskaplike artikels in Engels in ons land bestaan. Baie van die tydskrifredakteurs het laat weet dat hulle nie meer, of nooit, artikels in Afrikaans publiseer nie.

Ek kom weer terug by die opskrif en ek moet ongelukkig die vraag stel, of die versugting slaak: Gaan Afrikaans as wetenskapstaal sy plek bly volstaan en met gesag ’n assisterende rol vir ander tale kan speel?

Ek kan nie met kennis en insig ’n dergelike vraag oor Nederlands beantwoord nie. Dat die vraag oor die taalmedium in die hoër onderwys in die Nederlande tog ook ’n turksvy is, is vir seker. Prof Kris van der Poel van die Universiteit van Antwerpen het onlangs verwys na talle publikasies wat wel die brandende kwessie binne die Vlaamse hoër onderwys behandel. Die saak word uitvoerig bespreek in De Vlaamse en Europese uitdaging: Vlaming zijn nu van Jan de Groof en Matthias E Storm.

Oor die algemeen glo ek dat die Nederlandse gesindheid oor taal in die onderwys minder op die spits gedryf word. Sou daar vanuit Vlaandere en Nederland besorgdheid oor Afrikaans as wetenskapstaal bestaan? Vanuit Vlaandere word Afrikaans terloops vanweë sy vindingrykheid bewonder, terwyl daar – ek mag verkeerd wees – in Nederland simpatiek geglimlag word oor ’n "grappig taaltje". Leopold Scholtz het in sy opinierubriek (Die Burger, 21.05.2009) gesê dat Afrikaans vir Jan Burger in Nederland en Vlaandere iets is wat daar ver weg is. “Maar ten minste lok dit net ’n half welwillende reaksie wat wys dat die bedding vir ’n groter bewuswording by die publiek vrugbaar is.” ’n Konferensie soos hierdie sal seker ook tot die bewuswording bydra.

Dit is origens so dat daar volgens die jongste bekende gegewens 571 750 studente by Nederlandse instellings vir hoër onderwys geregistreer is van wie nagenoeg tien persent internasionale studente is. Daar is 14 navorsingsuniversiteite en 54 universiteite vir beroepsopleiding. Altesame 1 285 studieprogramme word in Engels aangebied, waarvan 927 vir graaddoeleindes is.

Ek aanvaar dat die situasie by die Nederlandstalige universiteite in Vlaandere effens anders lyk, maar ook nie só drasties anders nie. Die Bologna-verklaring, wat klaarblyklik nie afdwingend is nie, plaas hoëronderwysinstellings onder druk as ’n groot gelykmaker van die onderwyssisteme. Internasionale konkurrensievermoë van die Europese onderwyssisteem, die optimale afstemming van opleidings en die behoeftes van die bedryfslewe speel ’n rol. Daarby is ’n objek die bevordering van Europese burgerskap wat bewussyn moet skep van gedeelde waardes en die behoort tot ’n gemeenskaplike sosiale en kulturele ruimte. Wat moet die taal­vervoermiddel van hierdie ideale wees? Met die toetrede van baie Oosbloklande het die EU sterk verengels en is ook Frans ’n opsie in die verdrukking.

Wat, onder die omstandighede, kan Afrikaans en Nederlands werklik bydra as die ruimtes van daardie tale in hulle eie tuistes krimp? In Suid-Afrika krimp die ruimte vir Afrikaans beslis. Daar is vandag nie meer ’n ware Afrikaanstalige universitêre instelling in ons land nie. Ja, daar is universiteite met Afrikaanse programme. Daar word toegegee aan die politieke druk wat ’n koloniale taal soos Engels vooropstel, iets wat uiteindelik lei tot ’n eentalige land wat kulturele verarming meebring. Eentaligheid ondermyn die potensiaal van ’n opwindende veelkleurige en multikulturele nasionale samesyn. Is ons universitete op pad na eentaligheid? En is die bespreking in hierdie voordrag vrugteloos?

By US, wat in wese ’n Afrikaanse universiteit is, is die situasie so dat daar 1 601 modules aangebied word, waarvan 640 puur Afrikaans is, 625 in dubbelmedium aangebied word en 336 in Engels. Dis nou volgens my jongste inligting en gegewens kan bes moontlik vinnig verander.

Die feitelike situasie rondom ander universiteite in die RSA is dat voorheen Afrikaanse universiteite soos die RAU verengels het en “Ujee” geword het. Die Universiteit van Pretoria kry ’n rektor met Engels as moedertaal. Sy is positief oor Afrikaans as wetenskapstaal, maar as ’n mens effektief wil bestuur en kommunikeer, sal sy vir seker daartoe bydra dat die bestuurstaal van een van die voorheen grootste Afrikaanse universiteite in Suid-Afrika weldra Engels sal wees en dit sal so bly. Die situasie met die administratiewe of bestuurstaal móét ’n uitwerking op die onderrigtaal hê.

Wat is tog die verskil tussen die situasie waarin baie universitêre programme in die Nederlande in Engels aangebied word en Nederlands dus werklik vervang word en die situasie in Suid-Afrika waar Afrikaanse studieprogramme geleidelik vervang word met Engelse programme?

Die verskil hou verband met gevolge: die neiging tot verengelsing in die Nederlandse tersiêre sektor sal nooit ’n bedreiging vir die Nederlandse taal en kultuur inhou nie. Ek twyfel of Engels ooit op Nederlandse of Vlaamse bodem ’n indringertaal sal wees. Afrikaans is ongelukkig te broos – die aanslae van die politiek is te sterk; die blaam van onderdrukkerstaal is te groot. Die sprekers van Afrikaans is dalk te moeg om hulle te verweer; die rade van universiteite en hulle bestuurders voel skatpligtig teenoor hulle befondsers. Hulle glo dalk – om den brode – wat die minister van hoër onderwys, dr Blade Nzimande, beweer: “Afrikaans word deur universiteite as ’n middel tot uitsluiting gebruik. Dis ’n taal waarmee teen niesprekers van die taal gediskrimineer word.” Die kwessie van uitnemendheid in die hoër onderwys – uitstekende opleiding, uitmuntende resultate, is origins van minder belang as dit gestel word teenoor massatoelatings, verlaging van standaarde – ’n “free for all”-universiteitstelsel wat uiteindelik niks, maar dan ook niks, vir die nasionale belang van ons land sal beteken nie. Uiteindelik verlaag ’n oop stelsel, soos hier bo vermeld, die kwaliteit van die uitsette en sal die universitêre stelsel massas tweederangse burgers/beroepslui oplewer wat ’n tweede- of derderangse Engels praat.

Kan Afrikaans en Nederlands regtig iets vir Suid-Afrika se tersiêre ruimtes beteken? Dis albei wetenskapstale wat, as aan hulle die ruimte gebied word, geweldig baie vir ons land kan bied. Ek glo dat hierdie konferensie die geleentheid bied tot nuwe horisonne. Dit is vir my belangrik dat hierdie konferensie bande tussen twee tale hernuwe – nie noodwendig en in die eerste plek bande tussen die sprekers van die tale nie. Die tale kan inderdaad tersiêre ruimtes uitbrei. In Suid-Afrika moet ons, ook die bewindhebbers, besef dat Afrikaans toegang bied tot ander wêrelde as net die Engelse wêreld, dat daar naas die Engelse wêreld ook ’n Nederlandstalige wêreld bestaan wat selfs die Duitse wêreld meer toeganklik maak.

Ek hoop dat hierdie konferensie Suid-Afrikaners opnuut sal inspireer om ook daardie Europese (nie-Britse) tersiêre wêreld te gaan verken. Gebruik Afrikaans vir daardie verkenning – vergeet van die vooroordele teen die taal en van sy sprekers. En ek wil origens van die Nederlandssprekende wêreld vra om meer toeganklik te wees vir die mense wat in en deur Afrikaans daardie wêreld akademies wil verken. Die Nederlande ontvang met ope arms en versorg asielsoekers, werksoekendes, maar maak dit vir bona fide-studente wat gewoonweg ’n visum vir studieverblyf wil bekom en ’n Nederlandse of Vlaamse kwalifikasie wil verwerf, uiters moeilik.

Ons vra die Nederlandse Taalunie om ook Afrikaans in sy pakket op te neem en die taal as ’n waardevolle vennoot te aanvaar en ook daardeur sy of haar aansien in die Suid-Afrikaanse konteks te verhoog. ’n Erkenning op hierdie vlak sal baie vir Afrikaans se aansien kan beteken.

Die Departement van Kuns en Kultuur se betrokkenheid by hierdie konferensie en die samewerking met die Vlaamse en Nederlandse regerings is van die hoogste belang. Ek wil hartstogtelik pleit dat die onderlinge wantroue van plaaslike groeperings teenoor mekaar tog sal wyk. Miskien is ek verkeerd, maar ek kry so die indruk dat daar aanvanklik nie ’n oorweldigende begeerte was om gevestigde Afrikaanse instellings na hierdie byeenkoms uit te nooi nie.

Ek is hier as ’n verteenwoordiger van die SA Akademie, ’n instelling waarvan Nelson Mandela, FW de Klerk en aartsbiskop Desmond Tutu erelede is. Ons wil graag deel wees van gebeure wat vorentoe as uitvloeisel van hierdie konferensie mag plaasvind. As hierdie inisiatief gebore is en aangedryf word deur ’n waardering vir taalverwantskap wat tussen Suid-Afrika, Vlaandere en Nederland bestaan, glo ek dat die SA Akademie ’n bydrae kan lewer. As dit by die (voort)bestaan van Afrikaans as wetenskapstaal kom, is daar genoegsame bewys dat die SA Akademie ’n bydrae gelewer het in die ontstaan van ’n menigte woordeboeke, vakwoordeboeke en terminologielyste. Die Akademie wil dit steeds bly doen.

Om weer by die gegewe titel, die onderwerp van hierdie voordrag, terug te kom, is dit ongelukkig so dat die rooi ligte flikker. Afrikaans as wetenskapstaal is onder beleg. Dit geld in mindere mate vir Nederlands in Nederland en België. Te veel kragte, en mag ek sê, negatiewe magte, lê aan op Afrikaans. Die motiewe is menigerlei – die maklike een is die verweer dat Engels tog maar die internasionale taal van die wetenskap is! Wie dit ontken, leef in ’n waanwêreld, word gesê. Moet ons daarom dan maar oorgee?

Gee Ampie Coetzee die saak vir Afrikaans gewonne op die altaar van eenheid? Ek verwys na sy onlangse lesing wat vernoem is na iemand wat haar hele nalatenskap aan Afrikaans bemaak het, Marie H Luttig: “Niks verenig soos ’n taal nie. Engels alleen sal hierdie land moet probeer verenig,” sou Ampie gesê het.

En tog word daar op skrif nie in die land vir so ’n eentalige situasie voorsiening gemaak nie. Theuns Eloff, rektor van die NWU, het in ’n onlangse DF Malherbe-lesing in die Vrystaat die volgende gesê, en ek siteer ’n deel van sy belangwekkende toespraak:

"Die anomalie is dat op skrif en in beleid daar volledig ruimte vir Afrikaans in hoër onderwys is. Die Minister van Onderwys se 2002 taalbeleid stel onder andere die volgende:

  • Engels en Afrikaans se posisie as dominante onderrigtale in hoër onderwys word aanvaar totdat ander tale bemagtig is (art 15.1).
  • Die Ministerie erken dat Afrikaans as taal van navorsing (“scholarship”) en wetenskap ’n nasionale bate is, en ondersteun daarom die behoud van Afrikaans as ’n middel tot akademiese uitdrukking en kommunikasie in hoër onderwys en dat hierdie kapasiteit nie ondermyn word nie (art 15.4).
  • Afrikaans as akademiese-uitdrukkingstaal kan verseker word deur ’n verskeidenheid van strategieë, waaronder Afrikaans as primêre, maar nie enigste medium van onderrig nie (art 15.4.4).
  • Die ministeriële raamwerk het onder andere ten doel om Afrikaans as taal van “scholarship” en wetenskap te versterk (art 21).
  • Meertaligheid in institusionele beleide en gebruike word aangemoedig (art 21).

"Natuurlik is daar ook waarskuwende geluide oor Afrikaans en universiteite. Hieronder tel die volgende:

  • As net een of twee universiteite die rol kry om Afrikaans te bevorder, kan dit lei tot ’n konsentrasie van Afrikaanse studente wat transformasie en diversiteit kan kortwiek (art 15.4.2).
  • Die idee van 'Afrikaanse universiteite' is lynreg teen die doel van ’n getransformeerde hoëronderwyssektor, aangesien die doel is die skepping van universiteite wie se identiteite en kultuuroriëntasie nie swart, wit, Afrikaans of Engels is nie, maar onbeskaamd Suid-Afrikaans (art 15.4.3).

"Hierdie positiewe geluide oor Afrikaans as wetenskapstaal beteken nie dat dit orals erken word nie. Daar is ’n populêre (en ongelukkig wydverspreide) persepsie dat Afrikaans een van die dinge van die verlede is wat getransformeer moet word – uit die openbare lewe uit, omdat die nuwe Suid-Afrika Engelstalig is."

Eloff vermeld vier fundamentele redes is vir die behoud en uitbreiding van Afrikaans as hoër onderwystaal:

  • ’n Regsgrond is in artikel 29 van die Grondwet gesetel, en onderhewig aan die feit dat die onderrig “redelikerwys doenlik” moet wees, en dat daar billikheid (lees: “ekwiteit”) moet wees en dat sulke onderwys nie diskriminerend mag wees nie, kan die staat selfs enkelmediuminstellings oorweeg.
  • Daar is verder ’n pedagogies-akademiese rede: internasionale navorsing het onteenseglik aangetoon dat die gebruik van moedertaalonderrig duidelik en ten minste tot op ’n stadium, beter is as tweede- of derdetaalonderrig.
  • Derdens is daar die feit dat meertaligheid diversiteit as universiteitsbate sal bevorder.
  • En vierdens is die Afrikaanse spraakgemeenskap se inherente vitaliteit sterk genoeg, en die hoëfunksiestatus van Afrikaans as onderwystaal gevestig genoeg, dat Afrikaans se posisie as hoëronderwystaal geregverdig kan word.

Teen hierdie agtergrond moet gevra word hoekom Afrikaans as hoëronderwystaal dan onder druk is. Eloff meen dat universiteite wat Afrikaans probeer behou en bevorder, drie probleme ondervind:

  • Daar is politieke druk op plaaslike vlak, van studentegroepe, vakbonde en politieke partye – almal met ’n eng transformasie-agenda van regstelling en koppe tel.
  • Daar is ’n gebrek aan politieke wil op universiteitsbestuursvlak om taal aktief te bestuur. Sommige universiteite het as gevolg van kommersiële faktore besluit om Engels in te stel, terwyl ander dit in nasionale belang as ’n transformasie-agent ingebring het.
  • By sommige universiteite is die onbedoelde gevolge van parallelmedium onderrig dat die sterker wêreldtaal (Engels) meer en meer bo die kleiner taal verkies word, met al minder lesings wat deur oorwerkte akademici in Afrikaans aangebied word.

Aldus dr Eloff.

’n Mens kom ten slotte by ’n belangrike ander kwessie: Wat nou van die ander tale in ons land? Nederlands en Afrikaans (dan relatief gesproke) kan as voorbeelde dien vir die ander tale in ons land, maar ek glo dat dit nog dekades sal duur voordat byvoorbeeld ’n taal soos Zoeloe of Tshwana of enige ander van die inheemse tale werklik volwaardige tersiêre tale sal kan word. Ons is daarvan bewus dat Afrikatale as akademiese vakke by ons universiteite al minder getalle trek.

Op die gevaar af dat weer in kompartemente gedink gaan word, is dit noodsaaklik dat hierdie tale vir hulleself akademies moet skep. As daar ’n English Academy kan wees en ’n Afrikaanse Akademie, kan daar ook ’n Akademie vir Zoeloe wees waar die Zoeloetaal en -literatuur gekoester kan word met gunstige gevolge vir die taal as tersiêre taal. Die Akademie sal diegene wat daarom vra, met raad en daad bystaan. As daar ’n wil is by die sprekers van dié tale, is daar ’n weg. Die regering behoort hierdie wil, in diens van diversiteit, te respekteer en, moet ek bysê, subsidieer en die hulp van sterker tale inroep. Op so ’n wyse kan Engels, Afrikaans en Nederlands voorbeelde stel en nuwe tersiêre ruimtes skep en uitbrei.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top