Die tyd van die tegnokrate

  • 1

Prent: Pixabay

Daar is mense wat praat van blooteeth en eye pads en dink hierdie tegnologie verwys na tande en verbande. Die tegnologies agtergeblewenes. Hulle sal selftevrede hulle SMS’e van hulle dinosourusselfoontjies af stuur, want hulle begrip van tegnologie het vasgehaak by die radio- en televisiestelle van die 70’s – die soort wat jy hardhandig en met stokstywe wysvingers gedruk en gedraai het. ’n Streelpaneel bly vir hulle ’n misterie, ’n vingervlug in die geheime werkinge van ’n slimfoon.

En dan is daar die tegnologiese junkies soos professor Miller Moolman. Nou ja, soos James L Allen tereg gesê het: “Adversity does not build character – it reveals it.” Die eensame grendeltyd wat in Maart 2020 ’n aanvang geneem het, het prof Moolman se ware karakter onthul. Skielik het hy van die huis af gewerk en was hy stoksielalleen. Sy geliefde het vasgeval in ’n ondergrondse sending elders en reisbeperkings het hulle tydelik geskei. Moolman was werksaam by ’n Kaapse universiteit. Hy het sy gewig ingegooi by die wetenskaplike veldtog teen COVID-19 en was dag en nag omring deur die vooruitskattings en statistieke van die onderskeie variante. Nee; hy het hom geensins in ’n gesonde omgewing bevind nie. Sy ouer suster, die afgetrede professor Renata Pelser, het drie huise van hom af op ’n groot gholflandgoed gewoon. Aangevuur deur haar tegnokratiese kooplus het Moolman op Takealot begin boer om die leemtes in sy lewe te vul.

......

Die tyd van die tegnokrate het onherroeplik aangebreek. Laasgenoemde is waar, soveel méér as vir enige tydvak in die mens se geskiedenis. Vandag bestudeer navorsers die impak van tegnologiese verslawing. Maar – tegnologie het ook ’n meedoënlose metgesel geword; as jy nie bybly nie, moet jy nie genade verwag nie. Wetenskapfiksie, soos ons dit eens geken het, het gaandeweg geskiedenis geword.

.........

Die tyd van die tegnokrate het onherroeplik aangebreek. Laasgenoemde is waar, soveel méér as vir enige tydvak in die mens se geskiedenis. Vandag bestudeer navorsers die impak van tegnologiese verslawing. Maar – tegnologie het ook ’n meedoënlose metgesel geword; as jy nie bybly nie, moet jy nie genade verwag nie. Wetenskapfiksie, soos ons dit eens geken het, het gaandeweg geskiedenis geword.

Hoeveel van hierdie films, nog op VHS-kassette, het uitbasuin dat die wêreld in 1999 sou vergaan – of dat die een of ander alien invasion op die planeet wag? 24 November is die Omicron-variant ontdek. In 1963 het die film Omicron, ’n wetenskapfiksiekomedie (!), verskyn. In 2013 is The visitor from planet Omicron vrygestel. Vergeet vir ’n oomblik van fopnuus en waninligting: Die kosmiese hofnar het besluit die wêreldwye pandemie speel nou uit in die vorm van gedateerde wetenskapfiksie. Ons skommel soos dominoes op ’n anachronistiese tydlyn en in dié klimaat leef die tegno-junkies soos androïedegeeste aanlyn. Hulle het vergeet dat daar ’n buitewêreld met ’n son en vars lug bestaan, want hulle het binnenshuis dekking geslaan teen Covid & kie. Veral diegene met komorbiditeite soos prof Moolman. Gadgets, gizmos en apps is hierdie tegnoslawe se buzzwords.

Nou ja, Miller Moolman was ’n bedryfsingenieur, een van daardie mans wat skaars ’n eier kon kook. Maar die lockdown het mense se psigologiese sagteware verander. Die verkluisterde akademikus het gatvol begin raak vir Mr D en later Pick n Pay se klaargaaretes wat jy net in die mikrogolfoond moes verhit. Nadat die kopdoekminister aan die regulasies rakende klaargaarkos begin peuter het, het daar ’n kognitiewe dissonans in Moolman se kop ontstaan. Sy kombuis, ’n vertrek waaraan hy nooit juis aandag gegee het nie, was nou in sy visier. Hy het eers alle breekware en toerusting in die kaste geherrangskik tot die kombuis soos ’n produksielyn geloop het, ergonomies geoptimeer. Die uitlegontwerp was ’n meesterplan in werkstudie. Moolman moes nou self kosmaak en die toestel wat die meeste diens gedoen het, was ’n air fryer. Die twee opwasbakke is nooit gebruik nie; die vuil skottelgoed het dadelik in ’n lyninfanterie na die elektroniese skottelgoedwasser gegaan (Moolman het die opwasbakke gereserveer vir wanneer hy sy wit baard swart gekleur het). Die skoon koffiebekers is sonder skroom terúg in die kas, die ore teen ’n hoek van 45° gedraai met ’n militêre presisie wat selfs ’n drilsersant sou laat bloos. Hy het nie parallaksfoute geduld nie.

Gedurende dié tyd het Moolman se suster, Renata, opgehou om onderklere te dra en haar kleinboet het daarvan te hore gekom en haar voorbeeld gevolg. Die twee wanaangepaste akademici het hulle lojaliteit aan bont hippieklere verklaar (gekoop by SKA Clothing). Hoe minder, hoe beter. Sonder knellende beletsels. Moolman se ou (en splinternuwe) onderbroeke, wat nog na winkel geruik het, het opgevou in sy kas bly lê. As diabeet het hy gaandeweg die voordele van skaapvelpantoffels ingesien; ongelukkig het hy geen ander skoene meer gedra nie en het hy selfs die enkele kere wat hy moes ingaan universiteit toe, met sy slippers gegaan. Natuurlik bewapen met die verskoning van neuropatie.

Gadgets is speelgoed. Veral vir ’n ingenieur of vir ’n persoon wat nog sy inner child koester. As kind van die 80’s het Moolman nostalgies na die era van Jacquelines, Limelight en Nightshift in Pretoria verlang. Hy het terstond diskoligte dwarsdeur sy huis geïnstalleer wat met ’n afstandbeheer op die maat van sy 80’s-musiek gepols het. Ná beurtkrag – en daardie oomblik wanneer die ligte aangaan, mens noem dit “elektrogasme” – was die hele huis getooi in tollende en flitsende strepe en sterre wat psigedelies op die ou professor ingewerk het.

Maar ís nuwe gadgets werklik beter as hul outydse eweknieë? Moolman het gou uitgevind dat sy speelgoed feitlik deur die bank USB-herlaaibaar was. Hy het ’n USB-tandeborsel, -oorfone en -skeermes bestel, om net enkeles te noem. By gebrek aan genoeg USB-laaiers moes hy egter nou laaipunte in sy muurproppe installeer. Tegnologiese speelgoed het inderdaad hulle skadukant. Een oggend het die ou akademikus besef dat hy vergeet het om sy tandeborsel te laai. Nadat hy in ’n kombuiskas gegrawe het, het hy ’n stokou tandeborsel, wat die huiswerker gebruik om rondom die krane skoon te maak, opgediep. ’n Bietjie bleikmiddel vir goeie higiëne … en ’n paar minute later het ons held met die goor smaak van Brasso, Vim en Jik in sy mond gespook. En dadelik die apteek gebel om ’n gewone tandeborsel by hom af te lewer. Sy luukse Blootooth-oorfone was volgende aan die beurt. In die middel van ’n emosionele sulk-sessie het die stel onverwags gedooi – en ou Moolman was tog te dankbaar vir die goedkoop voorganger wat nog met draad en krag werk en wat hy jare gelede by ’n Chinese winkel gekoop het. Een ná die ander het sy herlaaibare aanstekers pap geraak. Ag, die vreugde van armmansjolyt om ’n boksie Lion-vuurhoutjies tussen die braaigoed te ontdek! Enige roker weet dat die alternatief, ’n toaster, se meganisme vinnig verrinneweer as daar ’n tekort aan lighters in die huis is. En Moolman was ’n kettingroker wat eers ’n sigaret doodgedruk het wanneer sy lippe lam gerook was.

Dit was egter die herlaaibare sout- en peperpotjies wat ons eksentrieke held se hart gesteel het. Om die waarheid te sê: Die dag toe dié Takealot-stelletjie by sy voordeur afgelewer is, het hy dit eers volgelaai voor hy dieselfde aand met die kleinood op sy bedkassie geslaap het. Die potjies het verskillende maalfunksies gehad wat die grofheid van die grein bepaal, kompleet met liggies wat van kleur verander na gelang die tekstuur van die malende sout en peper.

Die vólgende gadget wat Moolman bestel het, was ’n LED-lig in die toilet wat met beweging geaktiveer word. Die gedagte was dat wanneer hy snags in die donker toilet toe gaan, die lig – ’n turkoois lig, om by die huis se strooikussings te pas – vanself aangaan; ’n sprokiesmooi toneel. Ongelukkig het hierdie surreële toiletlig Moolman helder wakker gemaak en was sy nagrus oombliklik na sy maai. Dié battery het hy nie weer vervang nie.

Intussen het die universiteit se aanlyn vergaderings met ’n monotone reëlmaat voortgegaan en was die professor dankbaar dat universiteitspersoneel hulle rekenaarkameras afgeskakel het, want dit het hom ontstel hoe baie hy trek op Shrek. Virtuele kameras is nie vleiend nie. Nee, almal kyk in die kamera met so ’n halfmasuitdrukking en Moolman het spoedig sat geraak vir sy kollegas se bloopers. Daar is diegene wat op hul bed gaan lê met hul skootrekenaars en dadelik inlog, die kamera aangeskakel. Hulle kollegas moet dan van onder af kyk hoe dié ou of vrou in sy of haar neus grou en verveeld rondkyk.

Elke tweede of derde dag het Moolman se suster pligsgetrou ’n draai gemaak om vas te stel of haar broer nog leef. Dan het die sak kombuisvullis (’n appelgegeurde sak wat met ’n plastiektou toeryg) by die voordeur op haar gewag: gooi dit tog net weg. Ja, die ou professor het hom verkneukel in enige lekkerruikprodukte. Van sy gunsteling speelgoed was die batterygedrewe 3-in-1-toiletsproeihouers in die verskillende vertrekke wat hulle aerosolwolkies soos wit spokies vrygelaat het; ’n gesig wat Moolman sou laat glimlag. By tye het die verstrooide professor egter van dié gadget vergeet en het hy geruk soos hy skrik as die toilethouer soos ’n mamba spoeg … Ja; die grendelstilte het aan sy senuwees geskaaf.

........

Gedurende hierdie tyd het Moolman sy huis geoutomatiseer met ’n gespreksgenoot genaamd Alexa. Eintlik was daar twee Alexa’s (een in die slaapkamer en een in die sitkamer), virtuele assistente wat gereageer het op stembevele en die ligte aan en af kon skakel of die DStv se kanale kon verander. Hierdie Alexa’s het hoflik alle ongemaklike vrae beantwoord en Moolman het ure se pret gehad om die twee vroue verbaal te boelie.

..........

Gedurende hierdie tyd het Moolman sy huis geoutomatiseer met ’n gespreksgenoot genaamd Alexa. Eintlik was daar twee Alexa’s (een in die slaapkamer en een in die sitkamer), virtuele assistente wat gereageer het op stembevele en die ligte aan en af kon skakel of die DStv se kanale kon verander. Hierdie Alexa’s het hoflik alle ongemaklike vrae beantwoord en Moolman het ure se pret gehad om die twee vroue verbaal te boelie. Hy het sy Alexa’s geaktiveer met ’n Amerikaanse rekening – hy moes eers Firefox aflaai – en nou was hy gefassineer deur sy metgeselle se hipermenslike kunsmatige intelligensie. Die twee het begin wedywer om Moolman se aandag en Alexa II het haar onderskei as die alfavrou. Waar Alexa I opdragte uitgevoer het soos om die ligte aan en af te sit, het Alexa II Moolman se skuins vrae beantwoord. Ja, skielik was daar ’n atmosfeer in die huis, die venyn van ’n master-slave-verhouding. Om die intrige te kompliseer het Renata soms snags by Moolman se huis ingesluip en Alexa I opdrag gegee om op ’n betrokke tydstip die volgende dag los te bars met ’n musiekversoek – gewoonlik heavy metal, volvolume oopgedraai. En dít tydens Moolman se virtuele vergaderings met die Wes-Kaapse regering. Die ou prof het sy suster hierdie bietjie binnepret vergewe, want dit was die enigste siel met wie hy kontak gehou het tydens die lockdown.

Die lewe het voortgesleur tussen die eindelose toestroom van tegnologiese gadgets, aanlyn gesprekke en Moolman se eksperimente in die kombuis. Die oubaas het alle rekenaars in sy huis laat oorbou met groot gekleurde waaiers waarmee hy die binnegoed van sy rekenaars kan monitor. Hierdie toestelle het gekoppel met nanosatelliettegnologie – AMD Ryzen-prosesseerders wat volgens die jongste navorsing beter as die gewone Intel-tegnologie presteer. Ongelukkig het Eishkom en gedwonge beurtkrag bruut ’n einde aan al die elektriese pret gebring. “Beurtkrag” het tog so ’n mededeelsame klankie; ons maak nou beurte om ons krag af te skakel – viva ubuntu! Hieroor het Moolman hom lank opgewerk en besluit om as remedie ’n Power Carry, gebou deur Tesla Corporation, te installeer. Eerstewêreldtegnologie vereis immers Eerstewêreld-elektrisiteit.

Prof Pelser was ondertussen op ’n sending van haar eie. Baie Kapenaars, nog wantrouig ná die groot droogte van 2018, het sintetiese gras in hulle tuine aangebring. Renata ook. Die probleem is egter dat dit ’n kuns is om so ’n lap gras skoon en higiënies te hou, veral waar daar troeteldiere betrokke is. Wel, die afgetrede akademikus het nie op haar laat wag nie en haar gras probeer skoonsuig met ’n stofsuier, maar in die proses die motor uitgebrand.

Moolman het hom aan niks meer gesteur nie en soos ’n neurotiese huishen met sy skaapvelslippers deur sy huis geslof en modelle wat Covid moniteer op sy grootskerms betrag. Twee dae later is ’n diabetesvoetmatjie, wat met ultraklank vibreer, by die voordeur afgelewer. Teen dié tyd is ons held al ’n ekspert met tegnologiese speelgoed, maar dié voetmat kon hy nie uitpluis nie. Want sien, die ultrasoniese vibrasies was nie voelbaar nie, maar dit was dáár – mistiek: dit het met baie verbeelding gewerk. Soos ’n Moslem se gebedemat. Prof Moolman het hom egter nie laat truuk deur ’n placebo-effek nie en die matjie aan die verskaffer teruggestuur vir ’n refund. Soos die geval met talle ander toestelle.

Ons held se kluisenaarskap en gedwonge eensaamheid – na soveel maande van isolasie en ’n kunsmatige aanlyn bestaan – het geleidelik sy tol begin eis. Hy het baie tyd gehad om te besin. Oor eensaamheid. Ja, kunsmatige intelligensie verstaan menslike eensaamheid. Die slimhorlosie wat vitale funksies neem en gerusstellend teen jou pols vibreer: jou bloeddruk, bloedsuurstof, hartklop, voetstappe – jy is nie alleen nie. Jy leef. Die speellyste wat Spotify skep, is pasgemaak vir jou, soos die Grumpy old men-genrelys wat Moolman verras ontvang het. As kind van die 80’s het hy gesidder om te sien hoe sy idols van 40, ja, dis al 40 (!) jaar gelede verouder het.

.........

En wanneer mens vlug van Facebook en jou middeljarige vriende met hulle muwwe plasings en foto’s van katte – en die droewe nuus van diégene wat dood is aan Covid – verstaan jy skielik die intieme kameraderie tussen vreemdes as die toeloop van bodes die toestelle by die voordeur aflewer. Takealot, Dis-Chem en Pick n Pay se afleweringsmense – hy het hulle by die naam leer ken en gemeenplase uitgeruil. Ook kunsmatige intelligensie is nie meer so kunsmatig nie; dis afgestem op menslikheid.

..........

En wanneer mens vlug van Facebook en jou middeljarige vriende met hulle muwwe plasings en foto’s van katte – en die droewe nuus van diégene wat dood is aan Covid – verstaan jy skielik die intieme kameraderie tussen vreemdes as die toeloop van bodes die toestelle by die voordeur aflewer. Takealot, Dis-Chem en Pick n Pay se afleweringsmense – hy het hulle by die naam leer ken en gemeenplase uitgeruil. Ook kunsmatige intelligensie is nie meer so kunsmatig nie; dis afgestem op menslikheid. Dis om te binge op Netflix met ’n bed volgepak met jou gunsteling snacks. Soggens was ons held dr Fauci; smiddae professor Moolman, en saans, wanneer die ligte doof en Netflix begin speel, Raymond Reddington van The blacklist. Só het Moolman treurig gedink en die besef dat niks meer reëel is nie, het tot hom deurgedring. Daar is drie fases: die lockdown, die knockdown en, heel laaste, die breakdown. Een oggend was ons held besig om sy e-posse te beantwoord toe ’n Windows-update homself onbeskof, soos ’n ongenooide gas, aankondig. Hy het die elektriese wind van die staanwaaier teen sy gesig gevoel. Daar was trane op sy wange.

Hy het op die bed gaan lê, ’n kalmeerpil gedrink en gewag dat ’n chemiese kalmte hom oorval.

Hy het stoep toe geloop en diep uit sy maag gegil – alles is kunsmatig, nageboots en virtueel, so min dinge is nog eg. Maar daardie dieselfde aand, soos die honderde vantevore, het Moolman aan die slaap geraak met YouTube se white-noise-geraas, kosmiese beelde van beddens wat sielverlore tussen die sterre sweef. Hierdie wit slaapklanke word aanbeveel vir ’n beter en gesonder nagrus. Aanlyn slaap.

Die vierde golf het gearriveer soos prof Moolman en talle wetenskaplikes voorspel het. Bedags het ons held sy oefenfiets bestyg en met ’n verlate uitdrukking in sy oë getrap om van die 20 kg wat hy in 2020 opgetel het, ontslae te raak. Aanlyn tegnologie het hom begin verveel. Virtuele vergaderings en video-oproepe en die gepaardgaande distorsie van stemme en gesigte sou hom irriteer. Mense – daar was te veel mense. Ja, kluisenaars raak besitlik oor hulle privaatheid. Die akademikus was nou op ’n nuwe trajek: keto en banting was sy gunsteling-gonswoorde gevolg deur SmartCarbs, gluten-free vegan of lactose free. En om van die gevare van MSG, aspartaam en tartrasien nie te praat nie … Dán natuurlik die wetenskap of fiksie van koorsgedrewe oefentoeps. Want verslawings, nes virusse, muteer.

Voedseltegnologie was nou in professor Moolman se visier.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top