''Die tyd het vanself ryp geword.'' Alexander Strachan gesels oor Grenslit

  • 0

Tydens die Grensoorlog is boeke oor dié oorlog gereeld uitgegee; dit was meestal fiksie en dikwels bedoel as protes teen die oorlog self. Hoekom het daar soveel jare verloop voor daar weer op ’n groot skaal en so intensief oor die Grensoorlog geskryf sou word?

Na die Grensoorlog het die mense se aandag na ander dinge verskuif, soos die verkiesing in 1994, ’n nuwe regering, oorgang en ’n tydelike euforie aangehelp deur die wêreldrugbybekeroorwinning in 1995. Gedurende hierdie tyd was die Grensoorlog wel latent aanwesig in die bewussyn van veral diegene wat dit self beleef het. In gesprekke en koerantberigte was daar egter in die postapartheid-jare ander sake aan die orde van die dag. Maar die sluimerende na-effek van die oorlog sou te sterk wees om vir altyd onderdruk te word. Daarom moes daar die een of ander tyd hieraan uiting gegee word. Dat daar nou weer so intensief hieroor gepubliseer word, is ’n kollektiewe uiting wat deur niemand vooraf bepaal is nie – die tyd het vanself ryp geword daarvoor.

Hoekom was Grenslit (spesifiek dié wat ook as protesliteratuur moes dien) feitlik deur die bank fiksie, in teenstelling met hedendaagse Grenslit wat amper nooit fiktief is nie? (Niefiktiewe boeke wat wel destyds verskyn het, soos dié deur Helmoed Römer-Heitman (The War for Africa en ander) en Fred Bridgeland is aangebied as onpartydige, feitelike verslaggewing.)

Onder die ou bedeling se wetgewing was die literatuur hoofsaaklik as fiksie aangebied omdat die skrywer dan agter die “fiksionaliteit” van sy werk kon skuil – dikwels met ’n skadeloosstelling voorin dat "die karakters en gebeure fiktief" is. Sodoende kon hy steeds sy boek gepubliseer kry, al was dit eintlik baie realisties en op werklikhede gebaseer. Die meerderheid lesers het die boeke ook gelees met die indruk dat dit, ten spyte van die fiksionele aanbieding, inderdaad "so was op die Grens". Daar was in elk geval nie veel ander inligting beskikbaar nie, behalwe natuurlik propogandistiese verslae.

Hoekom verskyn daar veel minder memoires deur “struggle”-kamerade as boeke deur SAW-veterane?

Dit is ’n vraag wat seker beter deur die “struggle”-kamerade self beantwoord kan word.

Die “Grensskrywers” van destyds (waarvan jy een was) moes baie kritiek verduur omdat hulle oor hul oorlogervarings geskryf en onder meer gruweldade aan die kaak gestel het. Hoekom is dit oukei om vandág oor die oorlog te skryf, in teenstelling met tóé?

Daar het intussen soveel tyd verloop dat mense afstand van die oorlog en ook van hulself kon kry – sensitiewe dinge het oor die jare minder sensitief geraak. Die skryfproses is nou meer van ’n terugblik (met agternavisie) - ’n ouer man wat oor ’n jonger man (hy self) se belewenisse skryf. In die vroeë tagtigerjare was dit anders: ons het nie “oor” die oorlog geskryf nie, ons het “vanuit” die oorlog geskryf. Dan moet ’n mens ook nooit vergeet nie dat ons destyds gekondisioneer was om nie “uit te praat” nie. Daar was altyd ’n mate van verdagtheid teenoor enigeen wat in daai dae die pen opgeneem het oor sake wat veronderstel was om dig gehou te word. Maar tye verander vertstommend vinnig. Op die oomblik word die wetgewing op die vryheid van spraak al klaar weer deur die nuwe bedeling bedreig.

In die beoogde artikel ondersoek ek moontlike vergelykings tussen die Viëtnam- en Grensoorloë. ’n Skokkende aspek van die Viëtnam-oorlog was “fragging”: soldate het soms makkers (gewoonlik ongewilde offisiere) vermoor deur ’n handgranaat in die slagoffer se woonkwartiere of “foxhole” te gooi. Is jy bewus van soortgelyke voorvalle tydens die Grensoorlog?

Ek is nie bewus van sulke voorvalle nie.

Om aan te sluit by bogenoemde: daar het al stapels boeke oor die Grensoorlog verskyn; ’n mens kan aanneem dat die meeste van dit wat ongesê gebly het omdat die betrokkenes nie daaroor kon of wou praat nie, intussen aan die lig gekom het. Maar hoeveel “geheime” is daar nog? Dalk het daar dinge tydens die doodsnikke van die oorlog (byvoorbeeld tydens Operasies Hooper, Packer en Modular) gebeur waarvan slegs die betrokkenes weet omdat hulle steeds nie gereed voel om dié dinge met die wêreld te deel deur byvoorbeeld daaroor te skryf nie?

Ek weet nie hoeveel "geheime" daar nog is nie. In enige oorlog is daar seker dinge wat jy vir jouself hou en dit het niks met sensuur te doen nie. Ek vermoed dat die Grensoorlog mettertyd volledig uitgeskryf sal word.

Rassespanning was destyds algemeen in Amerika, insluitend in die Amerikaanse gewapende magte. In konfliksituasies was wit en swart soldate verantwoordelik vir mekaar se lewens, maar in hul basissie was daar volop uitbarstings. Swart en wit soldate het ook in die Grensoorlog sy aan sy (aan Suid-Afrikaanse kant geveg). Daar is dikwels gesê dat daar (in teenstelling met Viëtnam) geen rassisme aan die destydse Suidwes/Angola-front was nie – inteendeel.  Stem jy saam? Hoe is dit moontlik dat wit soldate met ’n rassistiese agtergrond en opvoeding sáám met swart soldate kon veg? Is dit moontlik dat om saam met soldate van ’n ander ras te veg, rassisme kan teenwerk, ten spyte van ’n rassistiese bestel soos apartheid?

Dit hang seker af van in watter eenheid jy destyds gedien het. In Spesmagte het wit en swart van meet af saam die harde, gespesialiseerde opleiding meegemaak en is daar vroeg al ’n onderlinge band gesmee. Hoogs opgeleide operateurs het mekaar deur lewe en dood gedra en was te alle tye bereid om hul lewens vir mekaar te gee. Ons het nooit sulke rasse-uitbarstings in die basisse beleef nie, seker omdat almal dieselfde voordele geniet het en nie gedwing was om daar te wees nie. Gevolglik was die frustrasie min. In Spesmagte is jy op grond van jou vaardighede aangeslaan en niks anders nie, daarom kon wit en swart saamveg.

Is dit heiligskennis om oorlog te “kommersialiseer”? Rolprente soos Full Metal Jacket toon respek vir die realiteite van die Viëtnam-oorlog. Maar wat van die Rambo­-tipe-rolprente met skeefgetrekte waarhede, sonder respek vir wat regte mense (aan albei kante) moes deurmaak? Hoe sal jy voel as ’n oppervlakkige, kommersiële rolprent oor die Grensoorlog vervaardig word?

Daar was al hier sulke kommersiële rolprente gemaak vir ’n mark wat hopelik nou meer kieskeurig geraak het. Ek praat van flieks soos Kaptein Caprivi, Vier soldate, Boetie gaan Border toe ... Die filmweergawe van ’n Wêreld sonder grense het my self ook nie vreeslik opgewonde gehad nie. Ek het destyds meer iets in die lyn van ’n Joseph Conrad se Heart of Darkness verwag. Daar is tot op hede nog nie ’n behoorlike fliek oor die Grensoorlog gemaak nie.

Hoe voel jy daaroor dat geskiedskrywers ’n oorlog soos die Grensoorlog boekstaaf? Is ware verhale wat eerstehands oorvertel word, nie die éintlike geskiedenisboeke nie? Kan die realiteite van oorlog aan ’n akademikus se verbeelding en navorsing (hoe deeglik ook al) oorgelaat word?

Geskiedskrywers sal altyd hulle plek hê, en die waarde van hul werk lê daarin dat gebeure gedokumenteer word. Niks kom egter by eerstehandse beriggewing nie. Ek praat hier van Deneys Reitz en ook genl De Wet (Anglo-Boereoorlog), Jack Greeff se boek oor spesiale magte, Louis Bothma oor 32 Bataljon, en Jan Breytenbach se talle publikasies oor die Grensoorlog. Via hul persoonlike ervarings neem hierdie skrywers jou op ’n fassineerde tog wat die leser dadelik emosioneel betrek. Omdat hulle so direk en intens waarneem, is dit as't ware of jy die oorlog aan die bladsye kan "ruik". Die leser word onafwendbaar deel daarvan. Maar nie almal het noodwendig die talente van die skrywers wat ek hier bo genoem het nie. Daar is ’n outentisiteit en dringendheid in hul werke wat jy nooit by ’n gewone geskiedskrywer kan ervaar nie, al is sy navoring hoe goed ook al gedoen.

Aan die ander kant: as ’n mens aanneem dat ’n “relaas” oor ’n oorlog of slagveld meriete het slegs indien die skrywer eerstehandse ervaring daarvan het, maak dit dalk die deur oop vir bevooroordeeldheid? (Die slag rondom Cuito Cuanavale is ’n goeie voorbeeld: lede van die destydse SAW se weergawe van dié slag verskil hemelsbreed van hul opponente s’n.)

Bevooroordeeldheid kan seker ’n probleem wees as die een wat daar was, self oor die gebeure berrig. Amper soos met die selfkommentaar van deelnemers ná ’n boksgeveg. Die skrywers wat ek genoem het se werke word egter deur ’n nugterheid gekenmerk wat onder meer teweeggebring is deur die langer agternaperspektief en ook die nodeloosheid om kant te kies in ’n slag wat reeds gelewer is. In hierdie tipe boeke gaan dit nie noodwendig oor wie dan kwansuis gewen het nie, maar eerder daaroor om ’n persoonlike ervaring te deel. Die belewing van dié unieke ervaring tel dus veel meer punte as die uiteindelike "body count". Maar ja, oor die uitslag van Cuito Cuanavale sal daar seker nog lank gepraat word.

Dink jy ander veterane is die hoof-teikenmark van al die “Grensboeke” wat deesdae verskyn – of is daar ook wesenlike belangstelling by lesers wat nie deel was van die oorlog nie (byvoorbeeld ’n nuwe generasie wat wil lees oor wat hulle pa’s en ooms destyds moes deurmaak)?

In die geval van niefiksie sal die mark waarskynlik in die eerste plek ander veterane en ook navorsers wees, of mense wat in militêre geskiedenis en die land se geskiedenis belangstel. Ook mense wat ’n fassinasie het met die psige van oorlog. Ek kan nie met sekerheid sê wat "gewone lesers" se belangstelling sal wees nie, behalwe natuurlik as die stof in die vorm van ’n roman aangebied word. Dan sal die lesersgehoor uiteraard wyer wees, omdat mense dan ook om literêre redes lees. Aan die ander kant lees baie van die niefiksie-boeke ook amper soos romans vanweë hul sterk intrigelyn. Iets wat al met Deneys Reitz begin is.

Die algemene siening is dat skrywers Grensboeke skryf om na baie jare ontslae te raak van posttraumatiese stres. Was die skryf van ’n Wêreld sonder grense vir jou traumaties? Het die skryf van die boek, of dalk bloot om die voltooide produk in jou hande te hou, wel genesing gebring? Hoekom hét jy hierdie betrokke boek geskryf? Wat was jou primêre doel met jou debuutbundel? Was dit in die eerste plek bedoel as “protesliteratuur”; of het jy dalk gevoel jy het ’n storie beet wat jy móés vertel? En dat jy nie oor enigiets anders kon skryf as dít wat jy self moes deurmaak nie?

Dat skrywers Grensboeke skryf om ontslae te raak van PTS is sekerlik ’n populêre veralgemening. In sommige gevalle wel, maar ek dink daar is ook baie ander redes waarom daar geskryf word. Dit kan verskil van geval tot geval. Die skryf van ’n Wêreld sonder grense was wel baie "na aan die been" – onmiddellik en direk. Daar was geen tyd vir nabetragting nie. Ek het dit geskryf omdat ek in daardie stadium gevoel het ek weet van ’n belewenis waarvan niemand anders daarbuite weet nie. Dit het soos ’n skok uit my gekom, nie met voorbedagte rade of te veel strategiese beplanning nie. Soos ’n oorverhitte geweer wat vanself op loop sit sonder dat iemand aan die sneller raak.

Is daar regtig iets soos ’n “goeie soldaat” en indien wel, wat maak van iemand ’n “goeie” soldaat? Dalk die vermoë om kalm te bly wanneer die koeëls en skrapnel begin vlieg?

’n Goeie soldaat is iemand wat die teiken doelgerig en meedoënloos nader en uitwis met so min moontlik verliese aan eie kant.

Wat maak een oorlog anders as ’n ander? Is oorlog “universeel”, spesifiek ten opsigte van die emosionele aspekte?

Met die Anglo-Boereoorlog was die Vrystaat en Transvaal (ten minste aan die begin van die oorlog) verenig agter die Boere. Met die Grensoorlog was die hele land nie verenig nie. Oorlog is egter universeel in die sin dat jy vriendskappe smee wat vir ewig saam met jou sal bly. Niks en niemand kan dit ophef nie. Wat julle gedeel het, word nooit vergeet nie. Daarom reik oudsoldate na mekaar uit en is daar ’n groot ondersteuningsband - sommige mense noem dit ’n broederskap. Oorlog gaan dikwels ook gepaard met respek vir die vyand. Soldate wat aan verskillende fronte veg, is, vreemd genoeg, op ’n manier ook kamerade, want die oorlog het hulle onherroeplik saamgebind.

Die Grensoorlog in Angola word dikwels Suid-Afrika se “Viëtnam” genoem – sou jy sê die verglyking tussen dié twee oorloë is geregverdig?

Dit was verskillende oorloë … maar by ’n nadere terugblik is daar tog ook heelwat vergelykings te tref. In beide gevalle was daar nooit amptelike oorlogverklarings uitgereik nie en was die oorlog volgens die owerhede direk teen kommunisme gerig – hierdie “saak” moes gedurig by die deelnemers ingeprent word. Verder het al twee oorloë onkonvensioneel begin, is volle militêre mag nooit aangewend nie en het die “antagoniste” die twee oorloë eintlik “gewen”, sou ’n mens kyk wie na die oorlog aan bewind gekom het. Dit is verder opvallend dat daar in beide situasies weerstand aan die tuisfronte ontwikkel het en dat die soldate ook nie as “helde” teruggekeer het na hul eie lande toe nie. In Suid-Afrika is baie van die “ou Bosvegters” nou nog onvergenoegd omdat hulle nie erkenning en ondersteuning gekry het vir wat hulle opgeoffer het nie – baie het die gevoel gekry dat hulle eerder vir die plaaslike en internasionale oog weggesteek was. Die gevolg was dat daar ’n al groter kloof tussen die oudvegters en die politici ontstaan het.

Was jy ooit spyt dat jy destyds ’n Wêreld sonder grense geskryf het, of dat jy dit nie ánders geskryf het nie? Het die kritiek wat jy jou met die skryf van die boek op die hals gehaal het, jou soms soos ’n verraaier laat voel?

Ek was nooit spyt dat ek dit geskryf het nie en het ook nooit soos ’n "verraaier" gevoel nie. Kritiek van die owerhede, maar nooit van my makkers af nie. Ek wou die boek ook nie anders geskryf het nie; ek wou dit skryf soos dit was. Sonder fieterjasies en sonder om enigiemand te ontsien. Menige Spesmagte-soldaat kon hom met die gebeure vereenselwig asof dit voor sy eie oë afspeel.

Met so baie “Grensboeke” wat deesdae verskyn, oorweeg jy dit nie dalk om “die sirkel te voltooi” en self weer iets in dié genre te skryf nie? Dalk niefiksie?

Ek oorweeg so iets, maar in romanvorm.

In ’n artikel in The Observer van 11 Julie 2010 beweer Robert McCrum dat Tim O’Brien (ook ’n skrywer van Viëtnam-stories) “seems to be arguing that a story which is technically inaccurate yet truthful about the sensation of the war – as opposed to baldy stating the facts of a situation – is the more honest way to report the veteran’s experience, while at the same time assuaging the writer’s conscience.” Karl Marlantes verklaar self dat hy tydens die skryf van sy roman Matterhorn soms gevoel het: “Never did fiction feel less like entertainment.” Wat is jou kommentaar op dié uitlatings?

(Strachan het dié vraag te “esoteries” gevind en verkies om dit oor te slaan – JBR.)

Marlantes sê in ’n onderhoud met Andy McSmith (12 Augustus 2010) sy karakters is meestal 19 jaar oud met ’n lae vlak van akademiese opvoeding. In ’n onderhoud met Brian Appleyard in The Sunday Times (11 Julie 2010) sê hy ook sy boek is deels gemotiveer deur sy begeerte om die wêreld te laat verstaan dat hy en sy medemariniers net gewone mense is, ten spyte van wat hulle alles moes deurmaak en in die naam van oorlog moes doen. Elders sê hy: “They don’t know what they are trying to accomplish and in the end they do not care. They merely endure. (…) Killing is about the only thing that makes sense. (…) This is not a war of conquest, after all, but of attrition.” Oorlewing, beweer hy, is waaroor oorlog éintlik gaan; politiek is ’n bysaak. Dink jy dié bewerings was/is ook van toepassing op soldate wat destyds in die Angola-oorlog geveg het?

Dalk nie so skerp as wat hier bo geformuleer word nie. Oudsoldate wat ek ken, verskil in elk geval oor hoekom hulle by Spesiale Magte aangesluit het. Sommiges het ’n groter patriotiese gevoel as ander gehad. ’n Mens kan nie hier veralgemeen en namens individue praat nie. Vir baie het dit egter wel daaroor gegaan om die beste operateur te wees - selfverwesenliking. Wanneer dinge tot ’n punt gekom het, was oorlewing al wat getel het. Daar was in elk geval nie tyd vir politieke gesprekke nie en woorde soos "vir volk en vaderland" het in my waarnemings glad nie bestaan nie. In ’n oorlog soos die Grensoorlog raak jy heeltemal geïsoleerd van die sogenaamde "saak" waarvoor daar geveg word (nie almal stem saam hieroor nie). Maar daar word, in wat ek gesien het, vir selfbehoud geveg en vir die makkers saam met jou, terwyl ideologie op die agtergrond skuif.

Marlantes het aan erge posttraumatiese stressindroom gely. Die skryf van Matterhorn het hom daarvan weerhou om onbesonne dinge aan te vang: hy het nie aan dwelms of alkohol verslaaf geraak of vyf keer getrou en geskei nie. “I would visit the book instead of the bar.” Elders sê hy: “I am not a pacifist. Being a warrior is a noble calling which is why we should not waste them.”    Kan jy jou met dié uitlatings vereenselwig? Dwaalpoort (geluk, terloops, met dié boek!) en jou ander werk wat sedert Grense verskyn het, is nie Grensliteratuur nie. Het jy nogtans die spoke van die verlede kon besweer deur te skrýf, al is dit oor iets heel anders as die gruwels van die Grensoorlog?

’n Mens moet versigtig wees om die woord gruwels te maklik los en vas te gebruik asof dit ’n standaardgegewe is vir iets wat dalk net in isolasie voorgekom het. Ja, my ander werke is weliswaar nie Grensliteratuur nie, maar aspekte van die Bosoorlog kom gereeld daarin voor. Dit kan ook te maklik mode en gewigtig word om te sê jy het "die spoke van die verlede besweer", terwyl jy dalk net ’n indringende verslag oor ’n uiters sensitiewe situasie wou lewer.

Robert McCrum sê in sy resensie oor Matterhorn: “Combat is not Marlantes’s deepest subject. Metaphysically, he wants to grapple with the relationship of killing to the nature of evil.” Sou jy sê dié aspek word nie genoeg beklemtoon in Suid-Afrikaanse Grensliteratuur nie – in die protesfiksie van destyds én die (dikwels nostalgiese) boeke wat deesdae verskyn?

(Strachan het ook hier verkies om nie te reageer nie: ons het vooraf ooreengekom dat dit sy goeie goeie reg is om spesifieke vrae te ignoreer.)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top