CJ Langenhoven het in 1923 Loeloeraai geskryf. Die eerste wetenskapfiksieroman in Afrikaans het dus ’n eeu gelede verskyn. Op 12 Augustus 2023 is die 150ste herdenking van CJ Langenhoven se geboortedag gevier. Om hierdie dubbele herdenking te vier, daag LitNet en die Langenhoven Gedenkfonds alle skrywers uit om ’n wetenskapfiksiekortverhaal voor te lê vir publikasie. Hier is meer inligting.
***
Vanoggend is Dawid verveeld en hy loer om die hoekie by Oupa se studeerkamer in. Hy wonder of Oupa weer vir hom ’n fluitjie sal kerf van een van die damriete. Oupa kan enige iets met sy knipmes regkry.
Oupa is nie daar nie, maar soos die son deur die venster val, blink iets wat Dawid se aandag trek. Dis Oupa se spesiale pen wat hy op sy lessenaar hou. Dawid weet hy mag nie daaraan vat nie. Dawid staan nader. Hy sal net na die prentjie op die pen kyk en dit dadelik weer terugsit, dink hy.
Hy lig die pen tussen die ander uit die pennehouer uit. Verbaas sien hy hoe die skippie binne-in begin beweeg. Kyk! As hy dit grond toe hou dan vaar die skippie ondertoe en as hy die pen weer anderkant toe swaai dan vaar die skippie agteruit. Daar moet water binne-in wees wat die skippie help beweeg, dink hy.
Hy wonder of die pen kan skryf. Kliek-kliek-kliek druk hy die pen se knoppie. Verbeel hy hom of het hy die houtvloer nou net onder sy voete voel vibreer?
Dawid buig af grond toe en trek ’n sirkel op die houtvloer daarmee. Hy maak bromgeluide met sy mond en hou sy arms in die lug. Hy het al gesien hoe ander superhelde maak wanneer hulle in die lug opstyg. Hy staan in die middel van die sirkel en skree hardop: “Hier gaan ek nou maan toe!”
Skielik begin alles rondom hom skud en loswoel. ’n Sirkel breek los van die blokkiesvloer. Dawid begin regdeur die vloer ondertoe vryval.
“Aaah!” skree hy. Vinnig gryp hy die swewende pen vas voordat dit in die lug verdwyn. Oupa sal hom nooit vergewe as hy dit verloor nie!
Voor hy sy oë kan uitvee, is alles wasig om hom in ’n ligte wolk wat saam met hom deur die ruimte val. Dawid verloor sy bewussyn.
Boem! Skrik hy wakker toe hy hard op sy sy op die grond te lande kom. Die stofwolkie om hom gaan lê. Om hom sien hy net droë kraters en grys klippe.
Is hy dan regtig op die maan? Hy leun op sy arms en bekyk die helder, blou bal wat hang in die verte. Aarde? Hy onthou die slaaptydboeke wat Mamma vir hom gelees het oor planete en die buiteruim. Ai, hy wens hy het beter geluister. Hierdie plek lyk presies soos die foto’s in die boek.
“Biedie-biedie!” Dawid skrik hom yskoud. Wat was dit? Dis ’n blikstem wat hier skuins agter hom praat. Sy oë rek toe hy ’n metaalrobot wat met kettingwiele nader beweeg, bespeur. Hy duik terug agter die krater se rant in. Hy moet nou tjoepstil bly. Wat as hierdie robot vyandig is?
“Wie is jy en hoekom is jy hier?” vra die robot.
Dawid hou sy asem op terwyl hy hom nog platter teen die growwe klippe trek. Die fyn stof trek diep in sy neusgate in. Moet net nie nou nies nie, dink hy.
Hy hoor hoe die robot se wiele nader rol en dan op een plek knaend begin kreun. Dawid glimlag. Hy weet hierdie krater is te hoog vir die robot om baas te raak! Hoor hoe sukkel die robot se wiele om teen die rant uit te klim.
Is die robot nou vriend of vyand?
Sy hart klop vinnig. Hy sal blitsig ’n plan moet maak. Dawid seil versigtig op sy maag om verder weg te kom. Versigtig loer hy bo-oor die krater se verste rant.
“Wie is jy en ... hoekom ... is … jy … hier?” vra die robot weer.
Hierdie keer kan Dawid hoor dit klink of die robot se batterye geleidelik begin pap raak. Hy sien hoe die robot se rooi liggies al hoe flouer en flouer flikker. Die robot se een oog hang heeltemal skeef waar dit uit sy skarnier uitgehaak het.
“Wie … is … jy … en …” en daar bly die robot stilstaan, net so, teen die krater se skuinste. Net ’n paar treë van waar Dawid wegkruip.
“Dit was nou amper, Dawid Burger!” lag hy en rol verlig op sy rug.
Met sy hand voel hy of Oupa se pen nog in sy broeksak is. Hy klik die pen kliek-kliek-kliek. Dit moet ’n toorpen wees, dink Dawid.
Skielik kom daar ’n warrelwind op wat om hom begin tol en draai. Maar dis asof dit bly vassteek en net nie rigting kry nie. Dawid se hare staan glad regop. Hy sit orent en trek sy oë op skrefies om beter te kan sien. “Ek weet!” kry Dawid ’n blink gedagte.
Hy spring op sy voete. Met die toorpen trek hy ’n sirkel om hom op die grond.
“Ek wil huis toe gaan!” roep hy hardop.
Hy hou sy hande geduldig in die lug op terwyl die tornadowind die grond en los klippies om hom loswoel en hom opraap.
Dawid se voete begin van die grond af oplig.
Doing! Eina! Val iets op hom. Wat was dit? Dis wraggies die robot! Dit het oor die kraterrant op hom geland. Dis asof die warrelwind die robot se battery weer opwen soos hulle saam al hoe vinniger in die lug spin.
“A ... B ... C ... D ... E ...! grrrrr ...
“Alfa kom in, Alfa kom in — ons sukkel om te land.
“Ons is drie grade weg van die koördinate.
“ABCDBD Bd Biedie Bieee-Dieeee,” rammel, praat en sing die robot sommer deurmekaar.
Dawid druk sy ore toe met sy wysvingers. “Sjt! Jy raas vreeslik! Ek kan nie sien wat om ons aangaan nie.”
Doenk! Doing! Land hulle op Oupa se studeerkamer se blokkieshoutvloer.
Alles is doodstil. Die stof gaan lê om hulle. Dawid se hart klop wild en dit voel of sy kop gaan bars, so dronk gedraai is hy.
Daar kraak die gang se plankvloer. “Dis Oupa!” Gou! Hy moet die toorpen weer op sy plek terugsit anders gaan Oupa wéét hy het daarmee gespeel.
Dawid se hand bewe soos hy Oupa se pen op sy plek tussen al die ander penne in die pennehouer terugsit. Net betyds, want hy sien hoe die deurknop begin draai.
“Oupa!” hoor hy Ouma van ver af roep.
“Ja, Ouma?” Oupa huiwer by die deur. “Ek kom ... Ek was nou juis op pad kombuis toe,” mompel Oupa in die gang af. Sy voetstappe raak al hoe verder weg.
“Sjoe! Dit was nou amper,” sug Dawid van verligting en vee sy hare plat oor sy voorkop.
“Biedie-biedie.” Die robot se rooi liggies flits vrolik in formasie met sy een oogskarnier wat nog steeds skeef hang. Sy wiele draai in die lug.
“Wat gaan ek nou met jou maak, hè?” Dawid krap sy kop.
“Wat gaan ek nou met jou maak, hè?” praat die robot terug.
Lees die ander inskrywings hier:
LitNet en die Langenhoven Gedenkfonds soek jou wetenskapfiksieverhaal!