Inleiding
Die toename in die verspreiding van disinformasie is ’n fundamentele uitdaging wat stabiliteit en vrede in Afrikalande in die gesig staar. Teen die einde van 2023 was daar 189 gedokumenteerde disinformasieveldtogte in Afrika. Dit is vier keer meer as die aantal veldtogte in 2022. Gegewe die ondeursigtige manier waarop disinformasieveldtogte versprei word, is die figuur ’n onderverteenwoordiging van die werklike situasie.
Rolspelers maak gebruik van digitale kommunikasie om disinformasieveldtogte in Afrika te loods. Die doel is om sosiale media-gebruikers en ander kanale vir die verspreiding van inligting en nuus te beïnvloed. Die doelwit kan nie bereik word indien tradisionele analogiese platforms geteiken word nie.
Daar is ’n noue verband tussen die omvang van disinformasie en onstabiliteit. Disinformasieveldtogte dra direk by tot geweld, militêre staatsgrepe, sosiale onrus, korrupsie en uitbuiting. Dit het gevolge vir menseregtevergrype, vryheid en sekuriteit.
In die laaste sewe jaar het 300 miljoen Afrikane toegang tot sosiale media verkry. Daar is tans meer as 400 miljoen aktiewe sosiale media-gebruikers en 600 miljoen internetgebruikers op die kontinent. Afrika is ’n kontinent in die wêreld wat toenemend van sosiale media gebruik maak om inligting te bekom en te versprei.
Sosiale media-gebruikers in Kenia en Nigerië is van die grootste aanlyn gebruikers in die hele wêreld. Die twee lande is ook baie uitgesproke oor misleidende inligting wat op sosiale media versprei word.
Hoogtepunte
Disinformasieveldtogte teiken elke streek van die kontinent. Ten minste 39 Afrikalande was al die teiken van spesifieke disinformasieveldtogte. Díe veldtogte is gekonsentreerd. Die helfte van die lande wat reeds onder disinformasieveldtogte deurgeloop het (20 van 39), is drie of vier kere geteiken.
Afrikalande wat konflik ervaar, is onderworpe aan baie groter vlakke van disinformasie. Die gemiddeld is vyf veldtogte in elkeen van die konflikgeteisterde lande. Dit dui op ’n verband tussen onstabiliteit en disinformasie. Daar is verskeie rolspelers wat die veldtogte loods. In sekere gevalle werk die rolspelers saam om mekaar se boodskappe te bevorder en in ander gevalle is daar uiteenlopende en verskillende boodskappe. Bykans 60% van disinformasieveldtogte word gefinansier deur buitelandse rolspelers. Rusland, China, die Verenigde Arabiese Emirate (VAE), Saoedi-Arabië en Katar is die hooffinansierders.
Rusland is die hoofverspreider van disinformasie in Afrika. Teen die einde van 2023 was die land betrokke by 80 gedokumenteerde veldtogte in Afrika en meer as 22 lande die teiken. Dit verteenwoordig bykans 40% van alle disinformasieveldtogte in Afrika. Miljoene Afrikane word deur die veldtogte bereik deur middel van vals berigte op sosiale media.
Rusland gebruik disinformasie om demokrasie in Afrika te ondermyn in ten minste 19 Afrikalande. Dit erodeer die lande se potensiaal om te transformeer na demokrasieë. Verkiesings is die ideale plek om disinformasie te versprei. Die Israeliese groep Team Jorge het sedert 2015 disinformasieveldtogte by meer as 20 verkiesings in Afrika geïmplementeer. Plaaslike rolspelers het ook van disinformasieveldtogte gebruik gemaak om verkiesings in Kenia en Nigerië in 2022 en 2023 te beïnvloed.
Lande in Afrika met demokratiese vorme van regering is minder ontvanklik vir disinformasie as gevolg van presidensiële termynbeperkings wat in die grondwet verskans is. Die gemiddeld is een en ’n half veldtogte in lande wat demokrasieë is, in vergelyking met drie veldtogte in lande wat outoritêr is. Dit dui op die algemene neiging om die guns van outoritêre leiers te wen.
Disinformasie neem toe in lande waar mediavryheid afneem, wat ’n belangrike middel is om disinformasie teen te staan. Wetgewing is onder andere in outokratiese lande ingestel om joernaliste te teister en aan te hou.
Disinformasietendense in streke
Teen die einde van 2023 is 23 disinformasieveldtogte in Afrika van stapel gestuur. Bykans al die veldtogte word gefinansier deur eksterne rolspelers met Rusland en China as die groot finansierders. Die doel is om hulle geostrategiese belange te beskerm en boodskappe te bevorder wat demokrasie ondermyn. Verder is dit die poging om staatsgrepe te bevorder, anti-Westerse sentimente aan te jaag, die werk van die Verenigde Nasies (VN) te diskrediteer en verwarring oor klimaatsveranderinge, wetenskap en ander verskynsels te skep.
Disinformasieveldtogte bereik ’n groot teikengroep. As voorbeeld word genoem dat Russiese beïnvloeders meer as 28 miljoen sosiale media-gebruikers in die laaste aantal jare bereik het. Russiese disinformasie word op groot skaal deur sosiale media-gebruikers gedeel wat die inhoud van die boodskappe geweldig versprei. Dit is ’n verskynsel wat nie gestop kan word nie.
Beïnvloeders uit Afrika word betaal om die Russiese boodskap te versprei. Van die metodes wat gebruik word, is om vals sosiale media-rekeninge te skep met ’n digitale avatar as profiel. Vals en buite-konteks-video’s en -foto’s word gesirkuleer op die rekeninge om teikenmarkte te bereik. Die boodskappe word meestal gekopieer en dan geplak (copy and paste). Dit is onoorspronklik en somtyds swak gedefinieer en verwoord.
Verder help Russiese ambassades in Afrika met die verspreiding van die boodskappe. ’n Netwerk van Afrika-frontorganisasies bestaan ook om disinformasie te versprei, byvoorbeeld die Partenariat Alternatif Russie-Afrique pour le Développement Économique (PARADE) en Groupe Panafricain pour le Commerce et l’Investissement (GPCI).
Die Wagner Private Militêre Groep is die hoofinstrument om Russiese disinformasie in Afrika te versprei. Die groep is direk verbind met bykans die helfte van alle Russiese disinformasieveldtogte. Na die afsterwe van Yevgeny Prigozhin, die stigter van Wagner in 2023, word disinformasieveldtogte tans bestuur deur die Russiese Afrika Korps (Russian Africa Corps) en die Inisiatief vir Afrika Nuus (Africa Initiative News Agency). Die twee organisasies is direk verbind met die Russiese Intelligensiediens onder leiding van Artem Sergeyevich Kureyev van Moskou.
Naas Rusland is die Chinese Kommunistiese Party (CKP) aktief betrokke by die verspreiding van disinformasie in Afrika. Dit geskied deur middel van die Verenigde Front (VF) en die Chinese Media Groep. Tans is China betrokke by vyf streeksveldtogte in Afrika. In twee van die veldtogte word saam met Rusland gewerk om disinformasie te versprei. Die CKP maak gebruik van gevestigde telekommunikasie- en rekenaarnetwerke om boodskappe te versprei. Dit dui op ’n meer georganiseerde benadering. Lisensies word ook aan nuusagentskappe in Afrika toegestaan om Chinese nuus te versprei.
Wes-Afrika: 72 veldtogte in 13 lande
Die streek in Afrika wat die meeste geteiken word, is Wes-Afrika. Ongeveer 40% van alle disinformasieveldtogte vind plaas in dié streek. Rusland is verantwoordelik vir die helfte van die aanvalle. Sedert 2018 word Mali, Burkina Faso en Niger in die Sahel deurlopend geteiken. Rusland het die drie lande gehelp om militêre staatsgrepe uit te voer ten spyte van Frankryk se pogings om die staatsgrepe te voorkom.
Die tweede grootste finansierder van disinformasie in die streek is die militêre juntas in Mali en Burkina Faso. Die twee regimes is toenemend afhanklik van Russiese hulp om aan bewind te bly en gebruik Russiese disinformasietegnieke. Die bevordering van demokratiese beginsels deur Frankryk, die VN en die Ekonomiese Gemeenskap van Wes-Afrika State (ECOWAS) word verwerp. Die regimes poog verder om inligtingnetwerke te beheer deur plaaslike joernaliste te arresteer en internasionale nuusnetwerke te verban. Daar bestaan min of geen mediavryheid in die lande nie.
Militante Islamitiese groepe is die derde finansierder van disinformasie in Wes-Afrika. In Nigerië gebruik die groepe die verskeidenheid van inheemse dialekte en geslote netwerke (Telegram) om beïnvloeders te werf en boodskappe te versprei.
Oos-Afrika: 33 veldtogte in agt lande
Die streek waar die tweede hoogste aantal gedokumenteerde disinformasieveldtogte voorkom, is Oos-Afrika. Dit is ook die streek waar die grootste, meer as 60%, plaaslike veldtogte geloods word. Die meeste van die veldtogte is in Soedan (14 en ses plaaslik) en Kenia (nege en vyf plaaslik).
Soedan word gebombardeer met disinformasie. Dit is afkomstig van die twee groepe in die land se konflik, naamlik die Rapid Support Forces (RSF) en die Sudanese Armed Forces (SAF). Die RSF en SAF versprei teenstrydige berigte oor veldslae wat gewen is en die verkryging van nuwe grondgebied. Dit is ’n grootskaalse poging om disinformasie te gebruik om die oorlogsmasjien aan die gang te hou. Die gevolg is dat ’n onveilige en onstabiele omgewing vir burgerlikes in die oorloggeteisterde areas geskep word.
In Kenia is daar ’n merkbare toename in plaaslike, politieke disinformasieveldtogte. Dit illustreer die wyse waarop inligtingstelsels as ’n wapen gebruik word om teen die regering te draai. Dit is in teenstelling met die reg op vryheid van spraak wat in demokratiese lande as een van die belangrikste beginsels in die grondwet verskans is.
Al-Shabaab en die Islamitiese Staat in Somalië (ISS) gebruik sosiale media reeds vir jare om disinformasie in Oos-Afrika te versprei. Die groepe skep mediaprofiele op Facebook, Telegram en X om ekstremistiese ideologieë in verskeie Afrikatale te versprei. ISS het ’n veldtog in Kenia geloods om die verkiesing te boikot en gevra vir die ekskommunikasie van alle Moslems wat in die verkiesing gestem het.
Sentraal-Afrika: 21 veldtogte in vier lande
VN-vredesendings word herhaaldelik deur disinformasieveldtogte in Sentraal-Afrika geteiken. In die Sentraal-Afrika Republiek (SAR) het ondersteuners van die Russies-gekoöpteerde president Faustin-Archange Touadéra samesweringsteorieë oor die VN se Multidimensional Integrated Stabilisation Mission (MINUSCA) versprei. In die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) is personeel en soldate van The United Nations Organisation Stabilisation Mission in the Democratic Republic of the Congo (MONUSCO) van partydigheid en menseregtevergrype beskuldig. Die veldtog is deur plaaslike politici geloods om dié vredesending in ’n slegte lig te stel.
Rusland word verbind met agt disinformasieveldtogte in die SAR sedert 2018. Dié disinformasie het ten doel om die Touadéra-regering se belange te bevorder en beperkinge op presidensiële regeertermyne te verwyder.
Suidelike Afrika: 25 veldtogte in agt lande
Suid-Afrika en Zimbabwe is die twee lande in Suidelike Afrika wat geteiken word. Rusland is die primêre rolspeler wat disinformasie in Suid-Afrika versprei. Die doel is om kleiner gemeenskappe te polariseer, wantroue tussen die bevolking te skep en die African National Congress (ANC) se invloed in verkiesings te vermeerder. Invloedryke Suid-Afrikaners word gebruik om die Russiese boodskap te verkondig.
China is die primêre rolspeler wat disinformasie in Zimbabwe versprei. Veldtogte is geloods om die Zimbabwe African National Union Patriotic Front (ZANU-PF) te ondersteun. Dit word gedoen deur opposisiepartye se kritiek op die regerende party te onderdruk, gemeenskapsgroepe te ignoreer, Chinese politieke en besigheidspropaganda te bevorder en anti-Westerse sentimente te verkondig. China gebruik sosiale media baie doeltreffend om vals boodskappe te versprei en die bevolking te verdeel.
Noord-Afrika: 15 veldtogte in vyf lande
Rusland het ’n merkbare invloed in die verspreiding van disinformasie in Noord-Afrika. Egipte dien tans as die “beheersentrum” vir die verspreiding van die Russiese boodskap. Die Egiptiese staatsmedia het gesonde verhoudinge met Russiese joernaliste wat in die land werksaam is en hersirkuleer nuus en artikels van die Russiese nuuskanaal RT op die land se nasionale nuusnetwerk. RT Arabic is die tweede grootste RT-kanaal naas die Engelse weergawe.
Russiese disinformasie het gepoog om Khalifa Haftar, die bevelvoerder van die Libiese Nasionale Weermag (LNA), se publieke status ’n hupstoot te gee. Verder is gepoog om nostalgie vir die Gaddafi-regime aan te wakker en politieke dialoog met opposisiegroepe te ontwrig. Die VN se vredesending in Libië is ook ondermyn om verdeling tussen verskillende dele van die bevolking te saai.
Plaaslike disinformasieveldtogte word in bykans elke land in Noord-Afrika geloods. Ondersteuners van die president van Tunisië, Kaïs Saïed, is byvoorbeeld aktief besig om opposisiegroepe te diskrediteer en die grondwet te gebruik om mag te konsolideer. Saïed in sy toesprake beskuldig etniese groepe in die streek ook van sameswering om sy regering omver te werp. Dit word deur sy volgelinge op sosiale media-netwerke geplaas om die boodskap te versterk.
Bibliografie
Raphaëlle, D. 2024. Disinformation in Africa: Lessons for the West. 18 Julie. https://idrc-crdi.ca/en/stories/disinformation-africa-lessons-west (1 November 2024 geraadpleeg).
state.gov. 2024. The Kremlin’s Efforts to Spread Deadly Disinformation in Africa. https://www.state.gov/the-kremlins-efforts-to-spread-deadly-disinformation-in-africa/ (29 Oktober 2024 geraadpleeg).
theconversation.com. 2024. Chinese and Russian disinformation flourishes in some African countries – anti-US sentiment helps it take hold. 4 September. https://theconversation.com/chinese-and-russian-disinformation-flourishes-in-some-african-countries-anti-us-sentiment-helps-it-take-hold-238101 (31 Oktober 2024 geraadpleeg).
Lees ook:
Disinformation in the Global South: ’n onderhoud met Herman Wasserman

