
Grafika: ©Falco op Pixabay, gepubliseer op 20 Desember 2014.
1. Inleiding
Wanneer God in Gen 3:10 sê: “Wat het jy nou gedoen?”, verwag Hy nie ’n antwoord nie, al is die sin in die vraagvorm (’n interrogatief), want Hy gaan direk voort. “Die bloed van jou broer [...].” Dit is omdat dit nie ’n vraag is nie, maar ’n verwyt soos wanneer ons ons kinders verwyt of berispe: “Wat het jy nou weer aangevang!” In enige gespreksituasie is daar dus meer op die spel as net die betekenis van die woorde wat uitgespreek word.
Pragmatiek is die dissipline in linguistiese taalstudie wat taalgebruik bestudeer soos dit by gespreksgenote in ’n werklike tyd-ruimtelike situasie op ’n bepaalde plek voorkom. Hierdie taalgebruik noem ons uitings. Uitings is nie noodwendig volsinne nie, maar kan ook bestaan uit enkelwoorde, soos wel, nouja, ja-nee, sjoe, of geluide soos uh, mmm, aa, of volsinne soos Die deur is oop, Maak toe die deur, of langer komplekse sinstrukture soos in wetenskaplike studies of hofuitsprake en dies meer.
By die uitspreek van die uiting (die taalhandeling) onderskei ons gewoonlik die woorde in ’n ry met bepaalde betekenisse (die lokusie), die intensie van die spreker (die illokusie of bedoeling om die woorde ’n bepaalde taalhandeling te maak, byvoorbeeld ’n versoek, bevel, vraag of wat ook al) en die bedoeling (bedoelde perlokusie) om die hoorder iets te laat doen, byvoorbeeld te antwoord op ’n vraag, te reageer op ’n bevel of uitnodiging. Die werklike reaksie (werklike perlokusie) stem nie altyd ooreen met die bedoelde perlokusie nie. Skematies kan dit soos volg voorgestel word:

Grafika: geskep en verskaf
Die basiese taalhandeling (performatief) impliseer altyd ’n taalhandelingswerkwoord,1 soos beveel, vra, versoek, uitnooi, verbied en dies meer, maar ons gebruik hulle selde in gewone gesprekke, met ander woorde: “Kom eet vanaand by ons”, en nie: “Ek versoek jou hiermee om by ons te kom eet vanaand” nie. Die konteks en situasie waarin die taalhandeling voorkom, asook die sinstruktuur speel ’n rol om aan die hoorder duidelik te maak watter taalhandeling bedoel word.
Een van die groot afdelings van taalhandelinge is die direktiewe, soos bevele, opdragte, instruksies, maar ook onder andere versoeke, suggesties en wenke. Die spreker verwag dat die hoorder sal optree soos wat die spreker se wens (bedoelde perlokusie) is. Indien die spreker die mag of gesag het om die hoorder te dwing om die spreker se wens uit te voer, dan praat ons van ’n bindende imperatief. In al die gevalle in die Pentateug waar God, asook onder andere Moses, Abimeleg en Josef bevele of opdragte gee, het ons met bindende direktiewe te doen as gevolg van die gesag / mag van die spreker. Daar word ook gepraat van gebooie, insettinge en wette (vergelyk Gen 26:5); verordeninge (Eks 21:1); en voorskrifte (Num 35:24).
.......
In die Bybel word die eksplisiete performatiefformule deurgaans gebruik, byvoorbeeld: God sê, beveel, gee opdrag. Die bindende direktief word gewoonlik in die imperatiefsin (bevelsin) geuiter, met ander woorde: “Gaan na Farao en [...]”, of: “Jy moet na Farao gaan [...]”, maar kan ook negatief wees: “Jy moet nie [...]”; “Jy mag nie [...].” Dis opmerklik dat die eerste gesprek tussen God en die mens juis ’n negatiewe bindende direktief bevat.
..........
In die Bybel word die eksplisiete performatiefformule deurgaans gebruik, byvoorbeeld: God sê, beveel, gee opdrag. Die bindende direktief word gewoonlik in die imperatiefsin (bevelsin) geuiter, met ander woorde: “Gaan na Farao en [...]”, of: “Jy moet na Farao gaan [...]”, maar kan ook negatief wees: “Jy moet nie [...]”; “Jy mag nie [...].” Dis opmerklik dat die eerste gesprek tussen God en die mens juis ’n negatiewe bindende direktief bevat. Die taalhandelingswerkwoord bevel gegee (AFR53) of beveel (AFR83 en AFR20) impliseer dus dat dit wat volg, ’n bindende direktief is.2
| AFR53 | AFR83 | AFR20 | ||
| Gen 2:16–7 | u·itzu ...l·amr (Hebreeuse taalhandelings-werkwoorde) commanded ... ·to-say-of |
En die Here God het aan die mens bevel gegee en gesê: “Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, [...].” | Die Here God het die mens beveel: “Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, [...].” | Die Here God het die mens beveel: “Van al die bome van die tuin mag jy na hartelus eet, [...].” |
Daarteenoor, wanneer God aan Noag bevel gee om die ark te bou, word die algemene sê gebruik. Sê kan semanties beskou word as die superordinaat van taalhandelingswerkwoorde as hiponieme: beveel, vra, versoek, uitnooi, suggereer, ensovoorts. Sê gee nie die taalhandeling wat volg, weer nie. Daar kom talle sulke voorbeelde voor in die Pentateug. U·iamr = sê in die volgende voorbeelde:
| Gen 6:13–4 u·iamr |
En God sê vir Noag: “[M]aak vir jou ’n ark [...].” | Toe sê God vir Noag: ... | God het vir Noag gesê: ... |
| Gen 7:1 u·iamr |
Daarna het die Here aan Noag gesê: “Gaan in die ark [...].” | Toe sê die Here vir Noag: “Jy en jou hele gesin moet [...].” | Die Here het toe vir Noag gesê: ... |
| Eks 2:9 u·thamr |
Daarop sê Farao se dogter vir haar: “Neem hierdie seuntjie [...].” | Toe beveel die farao se dogter die ma: “Neem hierdie seuntjie [...].” | Die farao se dogter het vir haar gesê: “Neem hierdie seuntjie [...].” |
| Eks 4:27 u·iamr |
Die Here het ook aan Aäron gesê: “Loop Moses tegemoet [...].” (Direkte rede) | Intussen het die Here vir Aäron opdrag gegee om Moses ... (Indirekte rede) | Die Here het vir Aäron gesê: “Gaan ontmoet Moses in die woestyn.” (Direkte rede) |
In Eks 2:9 en ook in Eks 5:6 gebruik AFR83 beveel (u·thamr) in plaas van sê soos by die ander twee vertalings. Dit is van die min voorbeelde waar AFR83 die eksplisiete performatiefwerkwoord wat aansluit by die taalhandeling, gebruik. In Eks 4:27 gebruik AFR83 opdrag gegee in plaas van sê. Hoekom AFR83 die indirekte rede gebruik, is nie duidelik nie. Inkonsekwente gebruik van die performatiewe werkwoord suggereer ook dat AFR83 in die meeste gevalle hou by die direkte vertaling.
Wat gebeur as die spreker nie die optrede by die hoorder bereik wat hy bedoel het nie, met ander woorde as daar ’n diskrepansie is tussen die bedoelde perlokusie en die werklike reaksie (werklike perlokusie) by die hoorder?
Die spreker kan sy mag gebruik en ’n spesifieke reaksie afdwing, andersins straf (Adam); hy kan terugtree en dit laat gaan; of hy kan oorreding gebruik om sy doel te bereik. In die Pentateug kom daar ’n paar voorbeelde voor. Adam se ongehoorsaamheid word gestraf. God beveel Moses om na Farao te gaan, maar hy het beswaar. God gebruik dan ’n strategie deur Aäron te gebruik. Later maak Moses verskoning dat hy nie goed kan praat nie en God wys Aäron aan om sy tong te wees. Daarteenoor in Gen 39:7 en volgende probeer Potifar se vrou Josef eers ompraat (beveel, want sy het gesag?), maar het nie die gewenste resultaat gekry nie. Sy het aangehou (hom probeer oorreed), maar hy het geweier tot sy hom gryp en beveel: “Kom lê by my.” Sy werklike perlokusie was om te vlug, wat hom as straf in die tronk laat beland het. Seker die mooiste voorbeeld hiervan in die Pentateug is die tien plae. Telkens word Farao beveel om die volk te laat trek. Telkens weier hy (werklike perlokusie). Telkens is daar straf in die vorm van plae. Tot by die tiende plaag (Eks 12:29–1).
In Gen 8:15 kom spreek en sê die eerste keer voor (AFR53): u·idbr (and·he-is-speaking) Elohim to Noah l·amr (to-say-of). And God spoke unto Noah, saying. Dit is ’n duidelike bevel en Gen 8:18 wys ook dat dit ’n geslaagde perlokusie het. Nou is die vertaling van beide die AFR83 en AFR20 vreemd. Dinamiese ekwivalensie beteken my insiens ook pragmatiese ekwivalensie en die vertalers sou ook beveel / opdrag gee / gebied kon gebruik (AFR83). AFR20 gebruik die algemene woord praat, wat my insiens nie van ’n goeie keuse is nie. Praat het nie die imperatiewe krag van byvoorbeeld sê / beveel / gebied nie.
Chaim Bentorah3 argumenteer dat daar ’n verskil is tussen debar (spreek) en amar (sê). In die meeste vertalings, volgens hom, ignoreer die vertalers gewoon die verskil. Dit is ’n verskil in nuanse wat hy soos volg beskryf.
There are times God simply ‘amar’s to us: “Don’t watch that movie.” Then there are times God will snuggle up to us and debar: “My beloved,” and then ‘amar: “Let’s go over that passage of Scripture I pointed out to you this morning.”
Dit beteken dat in hierdie geval die bevel versag word tot ’n soort uitnodiging of aanmoediging.
In die Afrikaanse vertalings (AFR83 en AFR20) word die onderskeid nie getref nie. Daarbenewens is daar tekste waar gewone mense, en nie God nie, spreek en sê. Gen 22:7: “Toe spreek Isak met sy vader Abraham en sê: ‘My vader!’ En hy antwoord: ‘Hier is ek, my seun!’ En hy sê: ‘Hier is die vuur en die hout, maar waar is die lam vir ’n brandoffer?’” (AFR53).
2. Die Tien Gebooie
In die volgende gedeelte word die Tien Gebooie as bindende direktiewe bespreek.
| Eks 20 | Toe het God al hierdie woorde gespreek en gesê: ... | Toe het God al hierdie gebooie aangekondig ... | Toe het God al hierdie woorde gespreek: ... |
| Deut 5:5 | — en Hy het gesê: ... | Die Here het gesê: ... | Die Here het gesê: ... |
AFR83 se poging om die aanhef te vertaal is my insiens uitstekend. Nie alleen vermy die vertalers die onnodige herhaling van die semantiese gelyke spreek en sê nie, maar gebruik ook ’n goedgekose taalhandelingswerkwoord.
AFR20 bly maar by die letterlike vertaling en kon nie praat gebruik nie. Daarom verkies hulle die letterlike, pedantiese spreek. Dit is ’n tipiese voorbeeld waar die oorspronklike teks se direkte vertaling (AFR20) die vertalers dwing om minder idiomatiese Afrikaans te gebruik.4 Die vertalers kon maar my insiens gehou het by sê, of eerder uitgespreek gebruik het wat my insiens meer idiomaties sou wees. Indien hulle minder gebonde was aan die beginsel van direkte vertaling kon hulle dalk “Die Here het gebied” of “Die Here het met hierdie woorde gebied” gebruik.
2.1 Aanhef
| Eks 20:2 | Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het. | Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. | Ek is die Here jou God, wat jou uit Egipteland, uit die plek van slawerny, uitgelei het. |
In Eks 3:10 stuur God vir Moses om die Israeliete uit Egipte uit te lei. Nou, in die aanhef van die Tien Gebooie, word die oppermag, gesag en alleenheerskappy van God eksplisiet gestel. Daar is geen sprake daarvan dat Moses as instrument gebruik is om God se wil uit te voer nie. God kan dus die gebooie en verbiedinge verorden en dit afdwing.
2.2 Gebooie 1–2
| Eks 20:3 (1) Eks 20:4–5 (2) |
3 Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie. 4 Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak ... 5 Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die Here jou God, is ’n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat; 6 en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou. |
3 Jy mag naas My geen ander gode hê nie. 4 Jy mag nie vir jou ’n beeld of enige afbeelding maak ... 5 Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, 6 maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam. |
3 Jy mag naas My nie ander gode hê nie. 4 Jy mag nie vir jou ’n gesnede beeld maak nie – enige afbeelding ... 5 Jy mag nie voor hulle in aanbidding buig nie, en jy mag hulle nie dien nie; want Ek, die Here jou God, is ’n besitlike God, wat kinders laat boet vir die sondeskuld van ouers, selfs die derde en vierde geslag van hulle wat My verwerp, 6 maar troue liefde bewys aan duisende, aan hulle wat My liefhet en my gebooie nakom. |
Die eerste gebod of verbieding is ’n negatiewe bevel waarin die alleenheerskappy van God aangedui word. Die tweede gebod is eintlik ’n presisering daarvan en bestaan uit ’n verdere twee verbiedinge, vergelyk verse 3–5. In vers 5 word die rede gegee vir die verbiedinge nadat, let wel, God weer eens sy status aandui: “Ek, die Here jou God, [...]” wat “jaloers” of “besitlik” is. Interessant dat AFR83 die woord eis gebruik wat die gesag van God beklemtoon.
God stel twee sanksies. Die eerste negatief: “[W]at kinders laat boet” (AFR20). Daarteenoor, in semantiese teenstelling, die beloning; in AFR83 en AFR20 uitgedruk deur die voegwoord maar, wat die begrippe beloning en straf in jukstaposisie plaas. Die tweede is beloning: “[L]iefde bewys” (AFR20).
2.3 Gebod 3
| Eks 20:7 (3) | Jy mag die Naam van die Here jou God nie ydellik gebruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie. | Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie. | Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal hulle wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat nie. |
Die derde gebod is ook ’n verbod. Die grammatiese patroon bly dieselfde: “Jy mag nie [...].” Anders as by die tien plae, is hier nie ’n duidelike sanksie nie. Wat gaan die straf wees en is dit op die lewe of hiernamaals van toepassing?
Die “ydellike gebruik” of “misbruik” gaan volgens rabbi Rashi5 hoofsaaklik oor God se naam gebruik om vals te sweer, maar die Heidelbergse Kategismus (Sondag 36) noem eerstens God se naam belaster of misbruik deur te vloek of te laster (vergelyk Lev 24:14–6), en daarna word genoem valse eed of om onnodig te sweer; dus ’n hele uitgebreide interpretasie.
2.4 Gebod 4
| Eks 20:8–11 (4) | 8 Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig. 9 Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; 10 maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God; dan mag jy géén werk doen nie — ... 11 Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die Here die sabbatdag geseën en dit geheilig. |
8 Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou. 9 Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, 10 maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, ... 11 Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig. |
8 Gedenk die Sabbatdag deur dit heilig te hou. 9 Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, 10 maar die sewende dag is ’n Sabbat ter ere van die Here jou God ... 11 Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde en die see gemaak, en alles wat daarin is, maar op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die Here die Sabbatdag geseën en dit geheilig. |
| Deut 5:15 | 15 En jy moet daaraan dink dat jy in Egipteland ’n slaaf was, en die Here jou God jou daarvandaan uitgelei het deur ’n sterke hand en ’n uitgestrekte arm; daarom het die Here jou God jou beveel om die sabbatdag te hou. | 15 Jy moet daaraan dink dat jy in Egipte ’n slaaf was en dat die Here jou God jou deur sy groot krag en met magtige dade daaruit bevry het. Daarom het die Here jou God jou beveel om die sabbatdag te onderhou. | 15 Jy moet onthou dat jy ook ’n slaaf was in Egipteland en dat die Here jou God met ’n sterk hand en uitgestrekte arm jou daar uitgelei het. Daarom het die Here jou God jou beveel om die Sabbatdag te vier. |
Gebod 4 is die eerste een wat positief gestel word. Die enigste twee gebooie wat positief begin, is 4 en 5. Die volgende bevel plaas die eerste in konteks (wat jy moet doen) en die teenstelling ingelui deur maar. Omdat dit die Sabbatdag is van die Here, mag jy geen werk doen nie, ensovoorts. Die volle rede kom eers na vore in die laaste gedeelte en word ingelui deur want (AFR53 en AFR 20). Ses dae het Hy gewerk en toe gerus en daarom is dit ingestel. Alhoewel AFR 83 (Gen 20:11) begin met ’n nuwe sin, is die implikasie duidelik dat dit ’n rede is vir voorafgaande.
Deut 5:15 voeg nog ’n rede by in bevelvorm: “Jy moet daaraan dink [...].” Dit bestaan uit
- ’n opdrag om te onthou dat jy slaaf was;
- dat God jou verlos het; en
- dat jy nou God se slaaf is; en
- dat Hy jou daarom besit en jou kan beveel om die Sabbat te eerbiedig.
Die ooreenkoms tussen die aanhef (Gen 20:1) en hierdie gebod is opvallend. AFR83 gebruik die woord bevry (Gen 20:15), wat semanties sterker aansluit by die idee van besitting.
2.5 Gebod 5
| Eks 20:12 (5) | Eer jou vader en jou moeder, dat jou dae verleng mag word in die land wat die Here jou God aan jou gee. | Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee. | Behandel jou vader en jou moeder met eerbied, sodat jy lank kan leef op die grond wat die Here jou God vir jou gaan gee. |
Hierdie gebod het ook ’n belofte (vergelyk Gebod 2). Anders as by gebod 2 word daar nie iets negatiefs voorspel wanneer die gebod oortree word nie. Indien die werklike perlokusie ooreenstem met die bedoelde perlokusie wag daar beloning.
2.6 Gebooie 6–10
| Eks 20:13 (6) Eks 14 (7) Eks 15 (8) Eks 16 (9) Eks 17 (10) |
Jy mag nie doodslaan nie. Jy mag nie egbreek nie. Jy mag nie steel nie. Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie. Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie; jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, of sy dienskneg of sy diensmaagd, of sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie. |
Jy mag nie moord pleeg nie. Jy mag nie egbreuk pleeg nie. Jy mag nie steel nie. Jy mag nie vals getuienis teen ’n ander gee nie. Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie ’n slaaf of slavin, ’n bees of ’n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie. |
Jy mag nie moord pleeg nie. Jy mag nie egbreuk pleeg nie. Jy mag nie steel nie. Jy mag nie vals getuig teen jou naaste nie. Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie. Jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, ook nie sy slawe en slavinne, sy beeste en donkies nie – enigiets wat aan jou naaste behoort nie. |
Die verbiedinge in Gebooie 6–10 is eenvoudige direktiewe in die negatiewe vorm. Daar is geen sanksie of beloning nie. Die enigste presisering kom in 10 voor.
Saamgevat dus:
| Lokusie | Illokusie | Bed Perl | Werk Perl | BP <> WP | Beloning / straf |
| 1 Bevelsin Negatief | Verbod | Weerhou van | – | – | – |
| 2 Bevelsin Negatief | Verbod | Weerhou van | Negatief Positief |
BP≠WP BP=WP |
Straf Beloning |
| 3 Bevelsin Negatief | Verbod | Weerhou van | Negatief | BP≠WP | Straf |
| 4 Bevelsin Positief | Gebod | Voer uit | – | – | – |
| 5 Bevelsin Positief | Gebod | Voer uit | Positief | BP=WP | Beloning |
| 6–10 Bevelsinne Negatief | Verbiedinge | Weerhou van | – | – | – |
Die doodstraf word verder aan in die voorskrifte in Num, Deut en Lev gegee:
- Ander gode aanbid: Deut 17:3–6; Lev 20:1–8 (Gebooie 1 en 2)
- God se naam laster: Lev 24:14–6 (Gebod 3)
- Vader en moeder vloek / slaan: Eks 20:15, 17; Eks 21:15; Lev 20:9
- Ongehoorsaamheid: Deut 21:18–21 (Gebod 5)
- Doodslaan / moor: Eks 21:12; Num 35:16–9; Num 35:30; Lev 24:17, 21; Deut 19:12–3; Deut 27:24 (Gebod 6)
- Egbreek / owerspel: Lev 20:10–3 – doodstraf vir man en vrou (Gebod 7)
- Vrou begeer (Gebod 10), vergelyk Mat 19:9 (AFR83): “Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor owerspel, en met ’n ander een trou, pleeg egbreuk.”
- Steel: Eks 20:16; Deut 24:7 (mens steel) (Gebod 8)
Dit bly steeds voorskrifte. Die enigste twee gevalle waar werklike straf verhaal word, kry ons in Num 15:32–6, waar ’n man op die Sabbatdag hout bymekaar gemaak het (Gebod 4). Die Here het Moses beveel dat hy buite die kamp gestenig word (Num 15:36): “Toe het die hele vergadering hom buitekant die laer uitgebring en hom gestenig, dat hy gesterf het, soos die Here Moses beveel het.”
In Num 25:1–9 kry ons die werklike straf oor die afgodediens waar Israeliete saam met hulle Moabitiese vrouens Baäl-Peor aanbid het (Gebooie 1 en 2). Die stamhoofde het die manne om die lewe gebring op bevel van die Here (Num 25:5). Nogtans het ’n man sy Midianitiese vrou gebring “voor die oë van Moses en die hele gemeente” tussen sy familie. Hy en sy vrou is deur Finehas agtervolg tot by die vrou se tent waar hy hulle met ’n spies gedood het, terwyl daar 24 000 “deur die ramp gesterf het” (AFR83, Num 25:9).
Daar kan dus afgelei word dat enige oortreding van die wet die doodstraf beteken het en dat duisende sulke oortredings gestraf is. Tog kom daar in die verhaal van koning Dawid moord en egbreuk voor, maar hy word nie met die dood gestraf nie. Die buite-egtelike seun sterf egter (2 Sam 11–2).
3. Samevatting
3.1 Op die keper beskou is die Tien Gebooie, soos ons dit elke Sondag hoor, wel bindende direktiewe, maar die volle konsekwensies van die oortreding van die gebooie word nie eksplisiet aangedui nie. Sonder ’n breër bybelse konteks, kan nie bepaal word hoe die bedoelde perlokusie en werklike perlokusie op mekaar afgestem is nie.
3.2 Alhoewel die dinamies-ekwivalente vertaalmetode die vryheid gehad het om pragmatiese ekwivalensie toe te pas in die gebruik van taalhandelingswerkwoorde, hou hierdie vertaling hoofsaaklik ook by woordekwivalensie,6 soos AFR53. AFR20 bereik my insiens nie sy doelwit om in “vloeiende, idiomatiese” Afrikaans te vertaal in Gen 20:1 nie en val terug op die argaïese spreek.
3.3 Aangesien die performatiewe werkwoorde, soos beveel, opdrag gee, gebied, aangesê, verbied en andere, semanties ingesluit is (as hiponieme van die superordinaat sê), is daar pragmaties-gesproke dus ’n verskraling van die performatiewe werkwoordopsies in al drie vertalings. Moontlik sal toekomstige vertalers ook hieraan aandag gee.
Eindnotas
1 Ek wou aanvanklik ’n uitgebreide, vergelykende artikel skryf oor die gebruik van taalhandelingswerkwoorde in die Pentateug in die 1933/53-, 1983- en 2020-vertaling van die Bybel. Ek het al die direktiewe se eksplisiete performatiewe werkwoorde nagegaan. Die uitslag was redelik teleurstellend. Al drie vertalings hou hoofsaaklik by sê en gebruik nie alternatiewe soos beveel, gebied, opdrag gee, verbied, ensovoorts nie.
2 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. 1953. Die Bybel (AFR53).
Bybelgenootskap van Suid-Afrika. 1983. Die Bybel (AFR83).
Bybelgenootskap van Suid-Afrika. 2020. Die Bybel (AFR20).
Ek doen slegs ’n vergelyking van die drie vertalings in soverre dit betrekking het op die gebruik van taalhandelingswerkwoorde en die bedoeling van die spreker. Ek het ook plek-plek geraadpleeg:
Hebrew interlinear Bible. Old Testament. https://www.scripture4all.org/OnlineInterlinear/Hebrew
The complete Jewish Bible with Rashi’s commentary. https://www.chabad.org/library/bible_cdo/aid/9881/showrashi/true.
3 https://www.chaimbentorah.com/2018/08/hebrew-word-study-speak-to-say /
4 Oor die probleme met ’n direkte vertaling vergelyk (dankie Annette de Wet wat my aandag pertinent hierop gevestig het): Van der Spuy, R. 2021. Die invloed van die lojaliteite en onderliggende vertaalfilosofie van die vertaler op die vertaalkeuses, met verwysing na die Afr2020 Bybelvertaling. Die Skriflig, 55(3):a2755. https://doi.org/10.4102/ids.v55i3.2755.
5 Vergelyk: The complete Jewish Bible with Rashi’s commentary.
6 Vergelyk: Oberholzer, J.P. 2018. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 40(1):a4293. https://doi.org/10.4102/hts.v40i1.4293.


Kommentaar
Leuk artikel!
Dankie, Jarries. Dit is uiters interessant en sinvol.