Die te groen waatlemoen

  • 0

Naby aan hier waar ek
op die punt van selfoplossing
in die lugspieëling van Stellenbosch
se suburbs sit,
is Charles Marais gestenig
op sy plaas Les Plessis Merle
deur die sogenaamde Khoi-rondloper Edassoäh,
bekend as Dikkop, en twee ander plaaswerkers.

Die eerste Marais op Suid-Afrikaanse bodem is
met ondubbelsinnige klippe
doodgegooi op 30 Maart 1689 –
300 jaar voor ek matriek sou skryf,
minder as ’n jaar nadat hy
aan boord van die Voorschoten
hier aangekom het.

Dit was duidelik ’n waarskuwing
waarop geen Marais destyds
kon bekostig om ag te slaan nie.

Ek raai die vanlose Edassoäh
was nie Dikkop se regte Khoi-naam nie.
Ek vermoed die rondloper-Hugenoot Charles,
wat in 1638 gebore is,
se laaste woorde was Franse vloekwoorde
wat sy agterkleinkinders
kwalik sou verstaan.

Die Kompanjie het mos Frans
soos rook in skooltoilette
hier op sy buiteposte verbied.

Charles se nasate sou nietemin veg
vir ’n taal wat hy nooit geken het nie.

Dikkop se nasate sou
in dieselfde taal
leer bid,
aan dieselfde taal
moes stik.

Charles se familieplaas in Frankryk was “Orange”
in Lesierre du Plessis naby Marle,
maar Charles moes vlug van die Katolieke
in die rigting van ’n ander Oranje, Blanje, Blou
en nou sal geen Marais ’n grondeis
vir ou “Orange” kan wen nie,
sal geen verjaagde afstammeling van Dikkop ooit
’n nuwe plaas in Europa kry nie, en iewers
is nog ’n Edik van Nantes altyd
vir almal in die pos.

Dikkop is skuldig bevind deur Charles se mense
en glo deur sy “eie mense”
gevang en doodgeslaan.

En tog is Charles se klein koloniale kameevertoning
drie eeue later gehuldig:
Die Charles Marais is die vlagskipwyn
van Plaisir de Merle –
’n sagte, duur versnit
van Cabernet Sauvignon,
Cabernet Franc, Petit Verdot en Merlot.

Charles die dikkop is glo gestenig
omdat hy opsluit nie
’n te groen waatlemoen
vir Eddassoäh wou gee nie.

O, so groen soos gras
so witbene soos was
so rooi soos bloed
so suikersoet

so kleef die te groen waatlemoen steeds
soos Hugenoot
aan my hande.

 

Lees al die Mondig-gedigte hier:

Mondig

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top