Die tale wat ons praat, saamgestel deur Danny Fourie: ’n lesersindruk

  • 3

Die tale wat ons praat: Taaldinge uit die gewilde radioprogram
Samesteller: Danny Fourie

Redakteurs: Jana Luther en Fred Pheiffer
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781776092338

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Elke keer wanneer daar ’n boek verskyn wat aan ’n Radio Sonder Grense- (RSG-) program gekoppel word, prikkel dit my aandag. RSG se programme is van uitstekende gehalte, en al die boeke wat ek al gelees het wat uit geselsprogramme op RSG voortgevloei het, was eersteklas. Mens dink terug aan titels soos Wat sê die prokureur?, Rand en sent en Sterre en planete. En daar is van dié soort publikasies wat ek nooit eens gelees het nie, soos Hoe verklaar jy dit?. Ons het Die tale wat ons praat leer ken as die program wat begin met ’n stem wat aankondig dat dit nie saak maak hoe jou Afrikaans klink nie – maar dit dan opvolg met die een taalreël na die ander. Taalreëls is iets wat my ambivalent laat, maar vir die doeleindes van skryf kan dit seker nie anders as dat daar reëls moet wees nie.

Die tale wat ons praat is ’n radioprogram wat ten minste deels staatmaak op die publiek se vrae aan taalkenners, en die boek wat daaruit voortgevloei het, is dan ook saamgestel uit ’n keur van hierdie navrae. Die boek is eintlik meer bedoel vir naslaandoeleindes; dit is nie regtig bedoel om van voor tot agter deurgelees te word soos wat ek daarmee gemaak het nie. Die inhoud is alfabeties gelys in ’n inhoudsopgawe, wat dit ideaal maak vir naslaan.

Baie van die inligting in die boek is eintlik voor die hand liggend, maar daar is ook ’n klomp ongewone woorde en uitdrukkings waarvan ek in my lewe nog nooit gehoor het nie. Ek het byvoorbeeld nog nooit van iets soos “gallisismes” (159) gehoor nie. ’n Gallisisme is nou soos ’n anglisisme, maar verwys na Frans in plaas van Engels. Anglisismes, dié ken ek natuurlik alte goed, maar nie gallisismes nie. En daar stop dit ook nou nie, hoor. Daar is ook nog germanismes (Duits), latinismes (Latyn) en gresismes (Grieks). Trouens, dit eindig op onheilspellende wyse met die uitdrukking “en so meer”. Sug. Ek het jare gelede die hoop laat vaar om die grootste kenner van taalreëls te word. Daar is vertakkinge van die taalkunde wat vir my totaal en al duister is. Slegs sommige kan ek sê verskaf my suiwer genot, soos die etimologie en semantiek. Woorde kom mos altyd iewers vandaan. En daar is dikwels ’n politieke verband met hoe ’n woord in ’n bepaalde taal beland. Die stories van woorde ...

Dit is moeilik om enige geldige kritiek teen hierdie publikasie te lewer. Ek sou sê die boek is eintlik baie straightforward. Dis ’n no-nonsense-tipe boek en beslis die moeite werd om uit te check. Maar daar is tog een iets wat ek nou graag in die boek sou wou sien, en dit is ’n tipe inleiding. ’n Inleiding wat dalk meer vertel van die program Die tale wat ons praat, wat die program kontekstualiseer. Wanneer is die program die eerste keer uitgesaai? Wie was die aanbieders? Watter kenners het die vrae beantwoord? Dié tipe van ding. En dan ook dalk iets oor die samestelling van die boek. Wie het eerste daaraan gedink om ’n keur saam te stel? Hoe is die keur gedoen? Dit sou nou die perfekte afronding gewees het vir ’n andersins baie knap publikasie.

  • 3

Kommentaar

  • Barend, as een van die oud-aanbieders van Die Tale wat ons Praat deel ek jou beswaar oor die afwesigheid van 'n kontekstualiserende inleiding by die boek. Dit is veral onvergeeflik dat die taalkundiges wat aan die program deelgeneem het nie genoem word nie. Intellektuele eiendom?

  • Ek wil nie bogenoemde bespreek nie, maar wil graag 'n vraag vra en weet nie aan wie. Ek vul 'n week gelede 'n blokraaisel in en met skok besef die antwoord vir kranksinnig is demensie. Hoe kan dit wees, maar die woordeboek bevestig dit. Ek wonder of dit nog in die modern tye en die geweldige emosie en hartseer oor demensie en Alzheimersiekte korrek is dat dit as kranksinnig verwoord word. Ek is 'n Verpleegsuster en baie hoog opgelei in die versorging van pasiënte met demensie en Alzheimersiekte. Ek weet die mense se denkvermoë is aangetas, maar hulle is nie kranksinnig nie. Kan een van die hooggeleerde Afrikaanse Professors nie by die Taalfees hierdie onderwerp onder bespreking neem nie ?

  • At (Adriaan) M de Lange

    https://www.litnet.co.za/die-tale-wat-ons-praat-saamgestel-deur-danny-fourie-n-lesersindruk/
    Beste UFO (Unidentified Flying Object),
    My naam is At (kortste manier vir Adriaan). Ek is nie, soos jy skryf, 'n "hooggeleerde Afrikaanse Professor" nie, maar 'n wyd-gestudeerde en belese man soos "Field Marshall" (weermag) "Sir" (edelstand)) Jan Chistiaan Smuts. Hy het sy liewe vrou Sybella Margaretha Krige die liefnaam “Isie” gegee. Self was hy hart en siel 'n Boere-Afrikaner waarvan die voorvader uit die provinsie "Overijsel" van Nederland (Holland in die 1600's) was. Daarom het hy die vertaling van "Sir" met "Oom" en nie "oom" vir familie telkens verduidelik.
    Ek het Oom Jan se boeke drie keer gaan bestudeer, die laaste keer (sonder loon "salary") vir 'n week. (Die "base" by die universiteit het gedink dis tydmors.) Ek wou tasbaar weet hoekom hy in Internasionale Engels (iEng) as die "Father of Holism" genoem word.
    Ek het nooit sy boeke getel nie en daar was ook nie katalogus met elkeen genommer nie. Maar daar was duisende geleerde boeke oor die volle akademiese spektrum van universiteite Cambridge, Brussels, Parys, Bern, Frankfurt en selfs Moskou. Selfs Einstein het, nadat hy Oom Jan se boek "Holism and Evolution" gelees het, uitgeroep "Nou is daar 10 mense wat my artikel oor massa en energie wat 'n tweeling is, verstaan."
    Oom Jan het 'n gesegde gehad van hoe meer boeke ek ken, hoe meer mense ken ek.
    Oom Jan het duidelik onderskei tussen evolusie en rewolusie. Evolusie het miljoene jare geduur wat die hele natuur behels het, van muggies en groen-alge tot blou walvisse en rooi seders.
    Oom Jan het skole tot universiteit verkwalik dat mense hulle gedra soos perde met oogklappe aan. Hulle toets nie wat die leerder weet wyer as wat voorgeskryf word nie. Hulle toets ook nie hoe leerders met mekaar saamwerk en omgee nie. Elkeen probeer so gou as moontlik 'n eie paleis en huis besit asook om ander werkers te hiet en gebied. Dis die gees van revolusie.
    Die gees van evolusie ontwikkel oor geslagte heen en betrek soveel as moontlik alles wat nog lewe.
    Ek skryf 'n boek oor evolusie teenoor rewolusie. Daarom wil ek nie eers een woord praat of skryf oor die boek nie. Ons geliefde land word beleer en bestook met revolusies van elke kant af. Maar ek sou graag wou hoor hoe ander mense saam praat oor Evolusies en Rewolusies. Ons mense staan op hulle knieë want werk, brandstof en kos word al hoe minder of skaarser. Siektes, misdaad en swape (vir leiers) word al hoe erger.
    Kan RSG nie in 'n program soos die "Tale wat ons praat" aandag gee nie? RSG is die lampie wat 'n Afrika in donker verlig. Moenie my intrek nie. Beurtkrag het nou so erg geword dat 'n mens nie meer kan bybly nie. Oues van jare en gestremdes kan nie meer by bly nie.
    Ek praat nie saam nie, want ek is 74, gestremd en my boek moet nou klaarkry.
    Beste groete en goeie wense ... At (Adriaan).

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top