die taal (vir ampie coetzee, na ingrid jonker se "die kind")

  • 8

Clinton V du Plessis (foto: Naomi Bruwer)

Clinton V du Plessis op Facebook:

die taal is nog nie dood nie
die taal draai sy gekneusde gesig na sy moeder
afrikaans skreeu skreeu die kleur
vol van verwyt en verbittering
in die taalrepubliek van die gekoesterde tong

die taal draai sy gekneusde gesig na sy vader
dra die sonde van die geslagte
afrikaans skreeu skreeu die kleur
van ongeregtigheid en suiwer bloed
in die kerkhowe van die stommes sterf die klank

die taal is nog nie dood nie
nog by magersfontein nog by kammieskroon
nog by pella nog by kakamas
nog by die hospitaal of hof
waar hy lê met ’n strop aan die nek

die taal is die murg in die bene
maar die taal is ook tenger en weerloos
die taal is uitgesluit by al die vergaderings en wetgewings
swyg in raadsale en lesingslokale
die taal staan buite, kyk deur die tralies van die land in die oë
van die moeders
die taal wat net wou soepel lê in die mond van ’n mens is nêrens,
roggel, weifel, vergeefs …

die taal wat ’n boom kon word met baie wortels, 
wat kon tak en blaar oor afrika
die taal wat ’n beitel kon word, kan nie meer reis nie
sterf, met sy meulsteen, 
sonder ’n paspoort
sonder ’n land
sonder ’n tong.

  • 8

Kommentaar

  • Ja, helaas. Die hoop beskaam nie dat die jongeres nuwe lewe en plekke en klanke, selfs nuwe moeder in ons moedertaal, sal blaas ...

  • Avatar
    Wilhelm Fourie

    Ek het lanklaas so 'n ontroerende gedig gelees. Clinton V du Plessis het die rou kern van die situasie 100% beskryf in ons hartstaal.

  • Avatar
    Anton Vorster

    Dankie, Clinton. Jou gedig is self 'n bewys van hoe "soepel (die taal nog kan) lê in die mond van ’n mens", ten spyte van alle pogings om dit dood te maak. Miskien is daar tog hoop dat die roggel nie finaal 'n doodsroggel sal word nie.

  • Avatar
    Pieter. Kroutz

    Die taal het baie tonge. Die Xhosa-leerders by Hoërskool De Aar wil die taal leer. In watter taal sal die bruinmense van die Karoo jou verstaan? My bruinmense in Barrydale ken net die taal. Genadendal sê dit is ons taal. Die taal sterwe vir mense wat dink oor die dood. Die taal het meer sprekers as in die verlede omdat mense weet dit is 'n nuwe taal met 'n nuwe hart in 'n nuwe land. Kom saam met my deur ons land dat ek jou aan ons AFRIKAANSSPREKERS kan voorstel. Kom ons gaan na De Rust, Vredendal, Heilbron, Uniondale, Reigerpark en Eldorado Park.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top