Die taal van ’n nuwe menslikheid

  • 0

Oor die legitimiteit van openbare vakansiedae kan seker baie gesê word. Die manier waarop dit gevier word, is in ’n groot mate tekenend van die verdelingslyne wat steeds in ons samelewing lê. Laurie Gaum en Amelia Burger het Vrouedag ligtelik én met erns by Kunstekaap deurgebring.

Sommige politici benut openbare vakansiedae om saamtrekke en toesprake te hou. Ander probeer hulle met nuwe betekenis vul deur byvoorbeeld Erfenisdag tot Braaidag te herdoop. Nog ander het pas weer gevra of daar enige sin is om Vrouedag te vier as geweld teen vroue so endemies in ons samelewing voorkom.

Laasgenoemde vraag, saam met die gewaarwording dat daar maar elke jaar weer byeengekom word terwyl slagofferlyste langer en langer word, het ook by verlede week se Vroue-/Menslikheidkunstefees by Kunstekaap ter sprake gekom. Dié fees is sekerlik, in Suid-Afrika ten minste, uniek daarin dat dit spesifiek op vroue gerig is. Hoewel dit aansluit by Vrouemaand, het dit die afgelope jaar of wat met ’n breër fokus ook na menslikheid (humanity) in die algemeen gekyk.

Aandag word gegee aan kwessies rondom gestremdheid en gendersake soos seksuele oriëntasie en gender-identiteit. Dit gebeur deur die aanbied van werkswinkels, uitstallings en ‘n paneelbespreking, maar juis ook deur die kunste in die vorm van verhoogproduksies met toneel, musiek en beweging.

By die openingsgeleentheid was die indrukke reeds sterk: “Gestremdheid is nie ’n mediese toestand nie; dis ’n menseregte-kwessie.” Hoe kon ’n mens ooit anders gedink het? Ons gaan kyk na Nancy, waarin omtrent al die lettertjies in die veelkleurige LGBTI- (lesbiese-gay-biseksuele-transgender-interseks-) gemeenskap uitgebeeld word. En boonop uitdagings soos MIV/vigs, geloof, gay-ouerskap en gestremdheid. En dit alles in die gay lingua franca, gayle.

Op Vrouedag self bring ’n hele paar busse vroue uit die Kaapse townships vir die eerste keer Kunstekaap toe. Hulle woon onder meer die paneelbespreking by. Die bekendste wit vrou in Suid-Afrika, Evita Bezuidenhout, is daar om die ys oudergewoonte te breek oor kultuur-, klas- en rassegrense heen. Verteenwoordiging uit Indië herinner ons aan die vlaag van protes wat einde 2012 daar uitgebreek het ná die bendeverkragting van ’n student op ’n bus. Ons eie Anene Booysen kom natuurlik ook ter sprake.

Tydens die paneelbespreking verwys Michelle Boonzaaier van Inclusive and Affirming Ministries na die vier hoekstene wat die patriargale stelsel bestendig: dualismes (swart-wit-denke), hierargieë (’n top-down-struktuur met die top dogs wat superieur is), modelle van dominasie (waarin die mag onregverdig verdeel is) en intrinsieke ongelykheid (gegrond op bogenoemde teorie).

Ngangelizwe is ‘n eenvrouvertoning wat ná die paneel aan die beurt kom. In verskillende tale en deur middel van sterk beelde word ’n kragtige boodskap oorgedra omtrent identiteit in terme van kultuur, seksualiteit, seksuele oriëntasie en misbruik.

Die multidissiplinêre Talking souls van die bekroonde regisseur Mandla Mbothwe is ’n visuele en oudiovisuele ontploffing wat by die Magnet-teater met hulp van die British Council op die planke kom. Deur klank, beelde en beweging word die weerloosheid van die menslike lewe verken. Die Britse visuele kunstenaar Rachel Gasden en die danser Andile Vellem kom saam met die Abelusi-geselskap van die Steve Biko-sentrum soveel meer as net “aan die woord”.

En dis hierin dat die geheim lê van wat die Vroue-/Menslikheidsfees aan ’n mens doen. Die beperkinge van woorde en taal word agtergelaat wanneer gebaretaal, Xhosa, Engels, Afrikaans, gayle, liggaamstaal, die taal van beweging en musiek en skilder gepraat word. Ons leer die taal van ’n nuwe menslikheid wat respek en menswaardigheid in álmal bevestig.

“Wat ’n sinvolle Vrouedag,” dink ons terwyl ons wonder hoe ons dié ervaring aan die politici gaan oordra.

 

* Laurie en Amelia hou van woorde en van kuns. Hulle is al langer as 20 jaar vriende, vier gereeld saam fees en gesels oor hoe openbare vakansiedae benut kan word om álles reg te ruk.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top