Die Suid-Afrikaanse politiek – ’n tyd van fundamentele verandering?

  • 4

Foto van André Duvenhage: verskaf

In die meeste gevalle vind verandering (ook politieke verandering) stadig en geleidelik plaas, met voorvalle van sneller verandering wat soms sporadies voorkom. Uit die geskiedenis blyk dit nietemin dat daar in uitsonderlike gevalle tydperke betree kan word waarin meer fundamentele verandering, waarna ook verwys word as dinamiese ekwilibrium (punctuated equilibrium), transformasie, hervorming en selfs revolusie, kan plaasvind. 

Volgens my staan Suid-Afrika tans in ’n fase van meer fundamentele verandering, en die faktore wat onderliggend is aan en waarin hierdie bedeling veranker is, is besig is om te erodeer (en kan moontlik selfs verval) om ’n nuwe bedeling of staatsbestel tot stand te bring. Trouens, met ’n politieke en staatkundige bedeling wat reeds besig is om te verval, word kernfunksies van die staat op indirekte wyse aan ander, dikwels private instellings, oorgedra – ’n bewys van bogenoemde stelling. Sodoende word ’n toenemend disfunksionele staat ’n kleiner rolspeler in die lewens van sy burgers en raak sommige groepe meer en meer aangewese op eie skole, universiteite, private beveiliging, eie werkskepping en so meer. Dit laat talle vrae ontstaan oor wat die toekoms vir Suid-Afrikaners inhou. In hierdie tyd van onsekerheid is daar talle akademici, toekomskundiges en andere wat ’n beter beeld van die toekoms probeer vorm. Die doel van hierdie aanbieding is om die kollig te laat val op die uitkomste van post-COVID-19, naamlik die heroopstelling van die ekonomie en samelewing en om ook die langer termyn gevolge van gepaardgaande veranderinge en wat dit vir Suid-Afrikaners mag inhou, kortliks in oënskou te neem.

Reeds voor die uitbreek van COVID-19 was die Suid-Afrikaanse ekonomie, politiek en samelewing in krisis gedompel. Suid-Afrika het, volgens my oordeel, toe reeds ’n kantelpunt bereik, of was vinnig daarheen onderweg, met kombinasies van faktore waaronder gebrekkige ekonomiese groei, verhoogde staatskuld, toenemende sosiale en maatskaplike uitdagings (waaronder armoede en werkloosheid), swak dienslewering en die inploffing van staats- en semistaatstrukture, asook endemiese korrupsie en staatskaping, wat ingrypende besluite genoodsaak het. 

Daar is gehoop dat die bewindsoorname deur die CR17-groep (in teenstelling met die Zuma-korruptes) die land kon regruk en terugneem na die grondbeginsels van ’n demokrasie en die toepassing daarvan in ’n grondwetlike staat. Hierdie hoop het nietemin geleidelik vervaag en mettertyd verdwyn sodat die staat se situasie waarskynlik tans ongunstiger is as teen die einde van die Zuma-era. (Ons moet in ag neem dat nie alle mislukkings voor die deur van die CR17-groep gelê kan word nie.)

Daar word telkens verwys na die belangrikheid van strategiese leierskap, wat inderdaad belangrik is, maar die huidige uitdagings vereis heelwat meer as bloot sterk en goeie leierskap. Sistemiese probleme is ter sprake, wat te make het met die grondslae van die polities-staatkundige omgewing; grondliggende ekonomiese denke, beplanning en strukture; asook ’n maatskaplike struktuur wat toenemend verbrokkel of meer en meer van ’n verswakkende staat afhanklik raak. 

Toenemend raak dit ook duidelik dat hierdie “Republiek” (wat verwys na die groter polities-staatkundige bedeling) nie volhoubaar is nie en dat die uitdaging van fundamentele verandering vierkant teenoor die bestaande orde staan. Vandaar my argument dat Suid-Afrika by ’n soort kantelpunt is.[1] Hierdie argument geld steeds en verklaar ook die wankelrige posisie van Ramaphosa as politieke leier – ’n mening waaroor akademici in gesprekke hewig verskil. 

Die uitbreek van COVID-19 het nie alleen bogenoemde scenario laat agteruitgaan nie, maar die politieke speelveld in belangrike opsigte ook dramaties gewysig. Die uitdagings is groter en meer, en die vooruitsigte om dit suksesvol die hoof te bied word verder aan bande gelê deur omstandighede soos verhoogde verwagtinge (byvoorbeeld in die Taxi-bedryf), beperkte groei, patrone van onstabiliteit en so meer. Dit is in hierdie verband dat daar na ’n nuwe normaal (moontlik ’n nuwe abnormaal) verwys word en die perspektief gehuldig word dat niks ooit weer dieselfde as voorheen gaan wees nie. Hierdie nuwe (ab)normaal beteken onder meer twyfelagtige tenderprosesse vir die toekenning van fondse rakende COVID-19; die soeke na buitelandse finansiële lenings op eie politieke voorwaardes; die herbeplanning van ’n noodbegroting; konflik onder die politieke hoëlui oor die pad vorentoe; geleenthede vir die ingrypende herstrukturering van die ekonomie om te voldoen aan die gestelde vereistes, soos Radikale Ekonomiese Transformasie (RET) Swart Ekonomiese Bemagtiging, (SEB) en grondhervorming, soos beliggaam in die ideologiese denke van die Nasionaal-Demokratiese Rewolusie-idee. Volgens my gaan die onmiddellike toekoms en hoe dit bestuur gaan word, deur die volgende makro-omgewings oftewel makro-faktore beïnvloed word: 

Elite-konflikte, leierskapsuitdagings en dalende steunbasisse in die politieke sfeer: Met dalende steunbasisse in die onlangse verkiesings, ernstige leierskapskonflikte in die aanloop tot en afloop van die verkiesing van Ramaphosa as president van die ANC; diepliggende ideologiese verskille oor die pad vorentoe; en verskeie ondersoeke na korrupsie en staatskaping (wat moontlike betrokkenheid van senior ANC-leiers suggereer) is die groter ANC-familie (met inbegrip van die drieledige alliansie) allesbehalwe ’n gelukkige familie. Die uitkomste hiervan is onder meer ’n president wat voortdurend van binne eie partygeledere geopponeer word; gebrekkige leierskap en afwesigheid van duidelike politieke rigting in moeilike tye; ideologiese en bestuursverwante konflikte, en die afwesigheid van sterk besluitneming in die geval van krisissituasies. Kortom, vir diegene wat verbind is tot die idee van ’n demokraties-grondwetlike staat, is die regering van Cyril Ramaphosa (nou reeds bykans twee jaar aan bewind) nie net ’n teleurstelling nie, maar is omstandighede op politieke, ekonomiese en sosiale vlakke waarskynlik tans slegter as gedurende die Zuma-era. Weinig kan getoon word met betrekking tot die stryd teen korrupsie en staatskaping; ekonomiese groei het van baie laag tot negatief gewissel; staatskuld vermeerder toenemend; dienslewering gaan agteruit, en maatskaplike vraagstukke vererger. Ten beste kom Ramaphosa voor as ’n president wat nie die mas opkom nie, wat verdwyn as groot krisisse opduik en wat glad nie oortuig as die leier wat strategies kan lei in moeilike omstandighede nie. Sy hantering van die COVID-19-scenario word ook toenemend deur kritiek en hofsake begroet. Kortom, met ’n skip in onstuimige vaarwater huiwer die stuurman om besluite te neem, is dikwels nie op sy pos nie en raak passasiers toenemend bekommerd oor waarheen die skip polities gesproke onderweg is. 

Ekonomiese en finansiële uitdagings: Reeds in die aanloop tot COVID-19 het Suid-Afrika met omvangryke ekonomiese en finansiële uitdagings te make gehad. Lae tot negatiewe ekonomiese groeikoerse, verlaagde per capita-inkomste, verhoogde staatskuld, ’n verkleinde belastingbasis, korrupsie en staatskaping (sommige beraam die waarde hiervan op R1.5 triljoen) was Suid-Afrika reeds genoodsaak om vir buitelandse lenings (en waarskynlik IMF-hulp) aansoek te doen om die spreekwoordelike sinkende skip te help red. Hierdie scenario is vererger deur die skuld-/disfunksionaliteitskrisis van instellings soos ESKOM, die Poskantoor, TRANSNET, DENEL, SAL en die toenemende probleme ten opsigte van plaaslike regerings in Suid-Afrika. Met die COVID-19-dinamika is hierdie scenario vererger en word bereken (volgens die Tesourie se Aanvullende begroting vir 2020) dat die Suid-Afrikaanse ekonomie eers teen die tweede helfte van 2024 sal terugkeer na die posisie van voor COVID-19. Die Tesourie verwag ook dat belastinginkomste met 15% tot 20% gaan daal, wat verreikende gevolge inhou vir die nasionale begroting en die bereiking van strategiese doelwitte, soos onder meer die uitskakeling van armoede en ongelykheid; salarisverhogings soos met vakbonde ooreengekom; die kritieke probleme van instellings soos ESKOM – om net enkele sake te vermeld. Ekonomiese en finansiële syfers wat die rondte doen (sommige spekulatief) dui op ’n werkloosheidsyfer wat tot 50% kan toeneem en beraamde begrotingstekorte van tot R300 biljoen, wat die skuldlas van ESKOM en ander semi-staatsinstellings uitsluit. Die volgende kwessies is belangrik: 

  1. Waar gaan Suid-Afrika finansiële hulp kry en wat gaan die voorwaardes daaraan verbonde wees? In die geval van die IMF gaan dit ongetwyfeld elite-konflik vererger en spanning en druk op die Ramaphosa-regering verhoog.
  2. Wat gaan die ondersteunende begroting behels en hoe gaan die vakbonde reageer indien daar geen salarisverhogings gaan wees nie; moontlike salarisverminderings kan plaasvind; asook die aflegging van duisende werknemers binne die staats- en niestaatsomgewings? Indien besluitneming ten opsigte van die SAL as voorbeeld dien, tesame met die regering se onvermoë om noodsaaklike en moeilike besluite te neem, is die skrif aan die muur. Dit bekend dat Tito Mboweni ’n sterk standpunt inneem ten opsigte van finansiële dissipline, maar ook uiters ongewild is binne die groter ANC-familie. Gerugte doen ook die rondte dat hy moontlik vervang kan word in ’n kabinetskommeling waaroor daar die afgelope tyd bespiegel word. ’n Oorwinning vir die populiste in die ANC voorspel onoorkomelike probleme vir gesonde en goeie ekonomiese besluitneming. Is die president sterk genoeg om wat dit betref, die nodige besluite te kan neem? Kan die president nasionale belang hoër stel as die belang van die ANC en die loopbane van politici? Ek twyfel baie sterk!
  3. Konstitusionele en wetlike veranderinge: Die vraag is nie óf daar wysigings gemaak gaan word aan artikel 25 van die Grondwet nie, maar eerder wanneer en watter vorm dit gaan aanneem. Ongeag die verreikende ekonomiese gevolge van sodanige besluit sal dit deur talle vertolk word as ’n verbreking van die Nasionale Akkoord (1994-1996) en gaan dit bydra tot verhoogde spanning binne ’n reeds ernstig gepolariseerde samelewing. Die boodskap dat die “beste grondwet in die wêreld” niks beteken as dit nie prakties neerslag kan vind nie, word al meer gehoor. Dit is ook duidelik dat verskillende gemeenskappe en oortuiginge verskillende verwagtinge van die grondwet het en dat meer en meer mense hulle minder gebonde ag aan ’n grondwet binne die raamwerk van ’n verswakkende staat en alles wat daarmee verband hou. Die grondwetlike demokrasie en die groter staatkundige bedeling is besig om in die oë van sy burgers toenemend te faal, wat lei tot reaksies soos vorme van politieke geweld en sabotasie, die weerhouding van belasting, die vlug van kundigheid en die vestiging van eie strukture waar die staat misluk. In die post-COVID-19 periode (met sy eiesoortige stel omstandighede) gaan politieke druk in hierdie verband vergroot en kan groter onstabiliteit te wagte wees.

Die beoogde wysiging aan die Kieswet (soos onlangs voorgestel) kan ook verreikende gevolge inhou vir hoe politieke steun na politieke mag herlei word. Dit kan die spelreëls van demokrasie wysig ten opsigte van hoe verkiesings gevoer word in ’n omgewing waar die ANC steun verloor en onsekerheid ten opsigte van verkiesingsuitkomste toeneem. (Hoewel daar kritiek teen die nasionale en provinsiale kiesstelsel geopper kan word, het dit ook belangrike voordele en moet met groot versigtigheid en goeie beplanning gehandel word.) Wanneer die NWK van die ANC se reaksie hierop beskou word, is die vraag egter of dit nie ’n verskuilde poging is om 2021 se plaaslike verkiesing uit te stel nie? Dit is duidelik dat, gegewe die huidige stand van sake in die land, die ANC-regering nie gereed voel vir die verkiesing nie en waarskynlik die risiko loop om magsverliese te ly wanneer die huidige stand van plaaslike regerings in berekening gebring word. Dit is ironies dat ’n plaaslike verkiesing volgende jaar heel moontlik as ’n katalisator vir verdere en verhoogde politieke onstabiliteit kan dien. Indien wel, het die prys van demokrasie te hoog geraak vir staatkundige stabiliteit? Dui dit moontlik op gebreke ten opsigte van die staat as staat, eerder as ten opsigte van die demokrasie as vorm van regering? Myns insiens is die naderende krisis rakende die demokratiese regeringsvorm bloot simptomaties van ’n groter krisis ten opsigte van die staat as staat; juis daarom kan verkiesings nie die politieke antwoorde bring waarna daar gesoek word nie.

ʼn Disintegrerende maatskaplike orde en die ontwikkeling van identiteitspolitiek: Daar word dikwels aanvaar dat Suid-Afrika een van die mees gewelddadige samelewings ter wêreld is. Die volgende faktore veroorsaak ’n samelewingsorde wat allermins gunstige omstandighede bied vir sosiale ontwikkeling, bestendigheid en groei: Sowat 55.5% van die bevolking (bykans 30 miljoen mense) lewe onder die armoedelyn; van 19 miljoen kinders groei 6,5 miljoen op sonder enige ouers en 7,5 miljoen met enkelouers; vlakke van sosiale geweld is soms ongekend hoog (gemiddeld meer as 50 moorde per dag); werkloosheid was voor COVID-19 reeds 28% (volgens die kleiner definisie); en plaaslike regerings wat noodsaaklike dienste moet lewer is grootliks disfunksioneel. Dit is in hierdie omstandighede waar patrone van geweld endemies word, misdadigheid toeneem (veral ten opsigte van die kwesbare groepe soos vroue en kinders); dwelmhandel floreer en maatskaplike ordes disintegreer. 

Die behoefte aan orde, sekerheid, veiligheid en ’n volhoubare omgewing bring dikwels mee dat mense hulleself in vele opsigte begin organiseer. Ons woonbuurte lyk deesdae soos Middeleeuse vestings wat probeer om indringers (medeburgers) buite te hou. Protesbewegings (byvoorbeeld diensleweringsproteste), affiliasie met misdaadsindikate, etnies-kulturele verbintenisse en ras-identiteite is bloot enkele voorbeelde in hierdie verband.

Met sowat 17 miljoen persone wat van sosiale toelaes afhanklik is, word ’n kultuur van afhanklikheid geskep en in stand gehou, wat as grondslag dien vir politieke mobilisasie en patronaatskappe. Met die ekonomie en finansies van die staat wat gevolglik toenemend onder druk kom, kan groot onstabiliteit verwag word indien die staat nie hierdie verpligting (wat terloops vergroot het tydens die COVID-19-inperking) kan volhou nie. 

In ’n neutedop: Die sosiaal-maatskaplike orde in Suid-Afrika is besig om verder te disintegreer en die polities-staatkundige omgewing weerspieël hierdie kompleksiteit op maatskaplike, veiligheids- en identiteitsgebiede. Dit is veral die mobilisasie van rasgebaseerde identiteite (en die talle wetgewings wat dit ondersteun) wat besig is om Suid-Afrika tot ’n omgewing van rasgedrewe geweld en konflik te herdefinieer. Volgens my oordeel is die vlakke van raspolarisasie erger as tydens enige periode sedert 1994 en word politiek grootliks rondom rasdefinisies en stereotipes bedryf. Van die nierassige samelewing soos voorgestel in die Nasionale Akkoord van 1994 het weinig tereggekom. Trouens, die teenoorgestelde is eerder bereik! Omvangryke ontwikkelingsvraagstukke word steeds groter en Suid-Afrika word ’n toenemend minder veilige plek om in te lewe. Al hierdie dinge gebeur ten spyte van die beste grondwet in die wêreld en alles wat destyds met die opstel daarvan in samehang daarmee verwag is. Kortom, die onvermoë om goeie grondwetlike beginsels suksesvol in werking te stel en uit te voer, raak myns insiens die wortel van die inploffing/ontploffing van die bedeling wat na 1994 tot stand gekom het. 

Politieke, ekonomiese en maatskaplike vraagstukke in Suid-Afrika (soos hier bo uiteengesit) beklemtoon dat uitdagende tye voorlê, wat verder bemoeilik word deur die onvoorsiene COVID-19-omstandighede. Daadkragtige leierskap, sterk strukture toegerus met die nodige vaardigheid en bevoegdheid en duidelike besluitneming is tans van die uiterste belang. Bogenoemde eienskappe is byna heeltemal afwesig op die vlakke van leierskap, strukture, vermoëns en besluitneming.

Die groter strategiese omgewing dui myns insiens op die einde van ’n politieke bedeling en ’n bepaalde sosiaal-maatskaplike orde, of op ten minste ’n bedeling wat in die toekoms toenemend anders daar gaan uitsien. Met bogenoemde as agtergrond, ag ek die volgende sake belangrik met die oog op die toekoms:

  1. Die ANC – met ’n onvermoë om homself te kan bestuur – beskik nie oor die vermoë, leierskap en visie om Suid-Afrika uit hierdie politieke, ekonomiese en sosiale moeras te bestuur nie. Kortliks, die ANC is deel van die probleem en die oplossing kan nie binne die organisasie gesoek word nie. Dit maak ’n vorm van regime-verandering noodsaaklik voordat die uitdagings verbonde aan hierdie bedeling suksesvol aangepak sal kan word.
  2. Die krisis binne die ANC dwing die organisasie om populistiese besluite te neem ten einde ondersteuners tevrede te hou; nuwe geldbronne te ontsluit (soos pensioenfondse en buitelandse lenings); en ras-identiteit te gebruik om politieke steun te mobiliseer. Dit skep ’n omgewing van beperkende ekonomiese groei, groterwordende maatskaplike vraagstukke, asook sosiale en politieke konflik.
  3. Die toepassing van radikale beleidsrigtings (soos veranker in die denke van die NDR en veral pogings tot volledige beheer oor die produksiefaktore) bring die Nasionale Akkoord van 1994 toenemend in gedrang. Minder groepe voel hulle verbonde tot die gees van die ooreenkoms van destyds. Die kwessie van ’n opvolgskikking gaan myns insiens in die toekoms sterker na vore tree.
  4. Die herformulering van ’n andersoortige politieke bedeling en ’n gepaste toepassing duik toenemend op in politieke gesprekke. Begrippe soos selfbestuur, afstig en groter outonomie tree onder meer na vore en definieer andersoortige grense vir die politieke debat en/of gesprek. Ander aspekte soos versnelde transformasie, ekonomiese gelykheid en staatsbeheer oor produksiefaktore word ook ter tafel gelê. Die ondersteuning vir wat beskou kan word as die huidige politieke bedeling kwyn myns insiens byna daagliks en daar is reeds informeel sprake van voorbereiding vir ’n gesprek oor ’n veranderde toekoms en hoe die politieke, ekonomiese en maatskaplike orde van daardie toekoms daar moet uitsien. RW Johnson was in die kol toe hy vroeër daarna verwys het dat die periode 1994-2020 in die geskiedenis bekend sal staan as ’n “mislukte politieke bedeling”.

’n Moeilike en bepalende tyd staan vir die Suid-Afrikaanse politiek voor die deur – ’n tyd wat noodwendig fundamentele verandering sal meebring. Groeperinge waaronder die Mbeki-stigting en Afrikaanse groepe voer enersyds reeds agter die skerms gesprekke oor die politieke toekoms van Suid-Afrika. Andersyds is toenemende rassepolarisasie en -mobilisasie aan die orde van die dag en raak die samelewing ook ’n speelveld van oplaaiende konflik en geweld. Die weg wat myns insiens gevolg moet word, moet toegespits wees op gesprekvoering en konflikoplossing, asook ’n objektiewe beskouing van al die antwoorde en oplossings wat voorgestel word en aan belangegroepe en politieke partye voorgelê word. Anders as in 1994 (en die destydse Nasionale Akkoord) sal ons nie alleen goeie grondwette en wetgewing as voorbeelde moet bestudeer nie, maar ook en veral toepassings moet oorweeg wat die beste belang van alle Suid-Afrikaners voorop moet stel.

Op ’n wyse is Suid-Afrikaners steeds soekend na die staat as staat en wat dit behels en vir al sy burgers kan beteken. Eerstens moet die grondslae waarop die staat berus, gesond en geregverdig wees, waarna die demokrasie as aspek van die groter staat tot voordeel van die stelsel as sodanig en sy burgers in besonder, sal ontwikkel.

In aansluiting by LJ du Plessis (die “Profeet van Potchefstroom”) kan ek in ’n ander verband meld dat ons nog net vaagweg die volle betekenis verstaan van die veranderinge wat in die komende jare op hande is en hoe dit vorentoe gaan ontwikkel. In ooreenstemming met ontwikkelinge wat tans in die wêreldpolitiek aan die gang is, kan die balkanisering van die Suid-Afrikaanse staat op die langer termyn ook nie as moontlikheid uitgesluit word nie.

Ek het min twyfel dat die politieke toekoms van Suid-Afrika baie anders daar gaan uitsien as gedurende die periode 1910-1994 (en selfs 1994-2020). Dit mag tot ’n groter mate in ooreenstemming gebring word met die groter geskiedkundige konteks en werklikhede wat veel wyer strek as die kleiner historiese heenwysing van die Suid-Afrikaanse staat wat tans as verwysing dien. Vaagweg (as die spreekwoordelike mistigheid verdwyn) kom die groter geheel van werklikhede (geskiedkundig, ekonomies, polities en maatskaplik) in perspektief. Hou ook in gedagte dat ons reeds hierdie verhaal begin skryf het. Die verhaal van môre ...

Bibliografie

Anon. 2019a. South Africa is one of the least safe countries in the world. 24 November. https.businesstech.co.za/news/lifestyle/355519/south-africa-is-one-of-.(15 Februarie 2020 geraadpleeg).

—. 2019b. Tax. Businesstech. 24 Desember. Businesstech.co.za (13 Februarie 2020 geraadpleeg).

Brink, F. 2019. Ekonomiese groei uiters kommerwekkend. Nuusvrystelling/Onafhanklike ekonoom. 3 Desember, Bothaville.

Complex system. 2019. Wikipedia. htts://en.wikipedia.org/wiki/complex-system (13 Februarie 2020 geraadpleeg).

Cronje, F. 2017. A traveller’s guide to South Africa in 2030. Kaapstad: Tafelberg.

Duvenhage,A. 1998. Die krisis van die nasiestaat. Acta Academica 31(3): 1-35.

—. 2003. Politieke verval as ʼn patroon van politieke verandering: ʼn Teoreties verkennende perspektief. Joernaal vir Eietydse Geskiedenis, 28(3):44—71.

—. 2005. Politieke transformasie – ’n konseptuele oriëntering en Suid-Afrikaanse toepassing. Acta Academica, 37(3):1–40.

—. 2007. Die Suid-Afrikaanse politieke omgewing: ʼn Strategiese ontleding en scenario-analise. NWU (Potchefstroom): Professorale intreerede.

Eisenberg, G.2019. Is it time for a blanket amnesty for illegal foreigners living in SA? Daily Maverick: 28 August 2019

Geldenhuys, D. 1999. Staatsverval. Politeia, 18(2):37–56.

Gladwell, M. 2000. The tipping point: How little things can make a big difference. New York: Little Brown.

Global Peace Index. 2019. South Africa is one of the least safe countries in the world. htts://businesstech.co.za/news/lifestyle/355519/ South Africa is (16 Februarie 2020 geraadpleeg).

Gous, N. 2018. SA most unequel country in the world: Poverty shows apartheid’s enduring legacy. 4 April. (20 Februarie 2020 geraadpleeg).

—. 2019. Service delivery protests are on the rise this year,warns experts. 11 Junie. 

(20 Februarie 2020 geraadpleeg).

Granovetter, M. 1978. Threshold models of collective behavior. American Journal of Sociology, 84(6):1420–43.

Grodzinz, M. 1957. Metropolitan segregations. Scientific American, 197:33–47.

Heleta, S. 2018. How many immigrants live in South Africa. (16 Februarie 2020 geraadpleeg).

Heystek, M. 2019. RSA titanic is in groot k#k – don’t let those patriotic swimsuits fool you. Biznews.com. 24 Desember. Businesstech.co.za+ (17 Februarie 2020 geraadpleeg).

Huntington, S.P. 1965. Political development and political decay. World Politics, 17(2):386–430.

—. 1968. Political order in changing societies. Londen: Yale University Press.

Johnson, R.W. 2019. Our coming traincrash. Politicsweb. 1 Augustus. (20 Februarie 2020 geraadpleeg).

Joubert, P. 2014. 100 years of income taxin SA – SRI. Politicsweb-news and analysis: Solidarity Research Institute. (18 Februarie 2020 geraadpleeg).

Kekana, M. 2019. Financial state of municipalities has worsened – Auditor General. Mail and Guardian. 26 Junie. (19 Februarie 2020 geraadpleeg).

Khumalo, J.2020. Mboweni faces wage battle. City Press: 21 Junie :1-2.

Krige, N.2019. Bheki Cele has the private security industry in his sights: 28 March 2020. (20 Februarie 2020 geraadpleeg).

Migdal, J.S. 1988. Strong societies and weak states: State-society relations and state capabilities in the third world. Princeton: Princeton University Press.

Mboweni, TT.2020. Supplementary budget speech. National Treasury: Republic of South Africa.

Myburg, P-L. 2019. Gangster state – Unravelling Ace Magashule’s web of capture. Kaapstad: Penguin.

Parsons, T. 1951. The social system. Londen: Routledge.

Private security in South Africa. 2019. Wikipedia. https: en.wikipedia.org/wiki/private security (19 Februarie 2020 geraadpleeg).

Schelling, T. 1971. Dynamic models of segregation. Berkeley: Department of Statistics.

Service delivery protests. 2019. Wikipedia. https//en.wikipedia.org/wiki/2019-service delivery-protests... (20 Februarie 2020 geraadpleeg).

Soobramoney, V. 2017. Capital outflow: R350 million has left South Africa. (18 Februarie 2020 geraadpleeg).

Steenkamp, L. 2019. South African taxpayers will bear the brunt of National Health Insurance. 29 Augustus. The Conversation. htts://theconversation.com/south-african-taxpayers-will-bear-... (17 Februarie 2020 geraadpleeg).

Steward, S.J. 1990. Does God play dice? The mathematics of chaos. Plek: Blackwell Publishers.

Strachan, G. 2017. South Africa continues on path of deindustrialization. Engineering news: Creamer Media (Africa Energy Indaba)

Turton, A. 2019. Going backwards – the deindustralization of the South African economy: Facebook: Facebook blad. (19 Februarie 2020 geraadpleeg).

Van der Groenendaal, H. 2017. South Africa has been captured by deindustrialization. (19 Februarie 2020 geraadpleeg).

Versluis, J-M en J. de Lange. 2019. How law enforcement in SA has all but collapsed. News24, 21 Oktober. 21/102019.https://city-press. News 24.com/News/rising-crime-low-prosecution. (20 Februarie 2020 geraadpleeg).

Weber, M. 1964. The theory of social and economic organization. New York: Free Press.

Zartman, I.W. (red). 1995. Collapsed states: The disintegration and restoration of legitimate authority. Boulder, CO: Reiner.

 [1] In ’n vorige artikel wat ek geskryf het, “Suid-Afrika by ’n kantelpunt – ’n slegte-saak-scenario?” is die argument volledig uiteengesit.

  • 4

Kommentaar

  • Avatar
    Johann Basson

    Ekonomiese wêreldkompeteerbaarheid en die ongebreidelde bevolkingsaanwas is die drywers wat Suid-Afrikaners se toekoms gaan bepaal, MITS . . . .

    Hoe gaan Suid-Afrikaners hierdie uitdagings kreatief aanpak op die basis van geregtigheid?

    En wie gaan voor loop? Ons of die Ander? Is ons koud of warm of lou of apaties? Het ons murg in ons ruggraat om gesien te word opbouende bydraes te maak vir ‘n beter toekoms vir alle Suid-Afrikaners gebaseer op geregtigheid?

    Watse legaat gaan ons vir ons nageslagte nalaat? Voorbeelde van onverdraagsaamheid en onvergewensgesindhede en ‘n klou aan die lelike herinneringe van die verlede sedert 1100 nC?

    Of ‘n rookleurige voorspoedige toekoms in ‘n ware omgee-vir-mekaar Suid-Afrikanerskap?

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    'n Insiggewende bydrae deur Prof. Duvenhage wat duidelik op 'n feite basis werk. Op 'n gegewe van wat is en hoe ons hier gekom het. Sy analise is deeglik en sy toekoms scenario meer realisties as talle ander politieke kommentators wat op voorveronderstellings, wenslyste en politieke agendas werk. Sy begrip en insig oor veranderlikes en hoe dit die land se toekoms kan beïnvloed maak gevolglik sin. Dis 'n deeglike en stewige akademiese bydrae.

    Die "verhaal van môre" waarna Prof. Duvenhage verwys is inderdaad besig om geskryf te word. Die toekoms en of dit 'n sukses sal wees, sal afhang van die benadering van 'n regering wat tans erg wankelrig is. Gaan dit een wees van 'n ons/ons óf een van 'n ons/julle benadering?

  • Die onseker toekoms is erg traumaties vir elke verantwoordelike Suid-Afrikaner en nog meer vir die wat groen koring op die land het. God behoed ons almal want revolusie lyk amper die enigste uitweg want geen van die huidige korrupte spul gaan hulle magsposisie afstaan sonder ’n geveg nie. Laat ek soos die Engelse sê: “Bring it on”.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top