Die studenteproteste: Ontploffing of inploffing?

  • 4

Die afgelope paar weke het ons gebeure sien afspeel op ons kampusse wat nie eens gedurende die ergste jare in apartheid gebeur het nie. Rugbywedstryde wat ontaard in a free-for-all tussen toeskouers, spelers en protesteerders, universiteitsbiblioteek en -administrasiegeboue wat afgebrand word en verskeie kampusse wat geforseer was om te sluit omdat daar verdere konfrontasie gevrees was.

Dis deel van ’n patroon van geleidelike eskalasie wat nou skynbaar ontplof het, en, wil ek my verstout om te voorspel, binnekort gaan inplof. Die eerste teken van onrus was met die protes aangeteken deur Open Stellenbosch met die pers blackface-insident. Daarna het dit oorgeskuif na Kaapstad, waar studente met ’n vindingryke idee vorendag gekom het om behuisingstekorte te protesteer en die publiek se aandag op onregverdige allokasiepraktyke te vestig. Hulle het ’n plakkershut opgerig op ’n plek wat verkeer versper het en tot aansienlike ongerief vir motorryers gelei het. Toe die hut afgebreek word, het studente skilderye begin verbrand. By Vrystaat was ’n standbeeld van CR Swart met aansienlike moeite platgetrek.

In al hierdie voorbeelde was daar konfrontasies met die polisie en privaat sekuriteit. Die eerste skermutselinge met ander studente en lede van die publiek het egter eers gekom toe die protesteerders ’n rugbywedstryd onderbreek het. Die beperkte nuusdekking het my die indruk laat kry die protesteerders het hier meer afgebyt as wat hulle kon kou.

Tukkies, die Mahikeng-kampus van Noordwes-Universiteit, Wits, UWK – die lys gaan aan. Sol Plaatje is ten tye van hierdie skrywe omtrent die enigste universiteit wat skynbaar nog nie protes aangeteken het teen iets nie. #AfrikaansMustFall, #EndOutsourcing, #FeesMustFall, #RhodesMustFall is almal hashtags wat ons gesien het.

Die pot van woede is besig om oor te kook, nie net van protesterende studente se kant nie, maar ook vanaf die kant van wit studente wat nou begin terugveg, in sommige instansies letterlik. Wat al hierdie bewegings gemeen het, is dat dit afgeskop het met ’n edele doel, of dan ten minste ’n doel waarmee mens simpatie kon hê. Wie kan gekant wees teen ’n pleidooi dat universiteitsgelde te hoog is en dit tersiêre opleiding onbekostigbaar maak vir baie? Baie ouers het saam deelgeneem aan die optog Uniegebou toe.

Wie kon kla dat uitgekontrakteerde dienste die werksekerheid van universiteitspersoneel bedreig? Of dat Rhodes se nalatenskap onregverdigheid tot gevolg het? Selfs indien mense nie noodwendig saamgestem het nie, kon die klagte ten minste ingesien word.

Maar in elke geval het die protesteerders hulle hand oorspeel. En die versigtigheid van kommentators wat o so redelik probeer wees en die protes probeer goedpraat, maak my bekommerd. Hierdie is nie die tyd om polities korrek te wees nie.

Ek het absoluut geen probleem met burgerlike ongehoorsaamheid nie. Ek het geen probleem met vreedsame protes nie. In die regte omstandighede kan ek selfs gewelddadige protes verstaan. Toe die ANC onder leiding van Madiba en ander van Umkhonto we Sizwe die gewapende stryd aangegaan het, was dit in omstandighede waar daar geen politieke oplossing gevind kon word nie, waar die onreg so groot was dat dit gewapende stryd regverdig het. Dis nie hier die geval nie. Die studente lewe in ’n demokratiese bestel waar hulle hulle stemreg kan uitoefen, waar hulle deur vreedsame protes, of deur toegang tot die howe, hulle griewe kan lug. Tog het hulle nie.

Die opslaan van die plakkershut by Kaapstad, in die middel van ’n pad op die universiteitskampus, was vir my vindingryk en goed deurdag. Die teenstelling tussen die luukse motors wat daar parkeer en verbyry met die simbool van armoede en gebrek, was uitstekend. Selfs klagtes dat die verkeer versper word, het gelyk soos tipiese middelklas onsimpatieke optrede van persone wie se sitkamers in alle waarskynlikheid groter is as die hut waaroor hulle kla. Selfs die verbranding van versigtig uitgesoekte portrette wat kolonialisme verheerlik, sou ek in beginsel kon ondersteun as geregverdigde kommentaar en uitdrukking van burgerlike ongehoorsaamheid. Om die vlag te verbrand as simboliese verwerping, byvoorbeeld, van die gesag van die staat, is ’n eeue oue tradisie dwarsoor die wêreld. Om egter voor die voet kunswerke te verbrand net omdat dit teen die mure hang sonder om in ag te neem die kommentaar wat die kunswerke self lewer, het egter te ver gegaan. Wat ’n potensieel kragtige protesaksie kon gewees het, het oornag verander in die onbeheerste kriminele optrede van ’n mob wie se enigste doel was om soveel vernietiging as moontlik aan te rig. Wat kon tog ooit die simboliese waarde daaraan wees om die kanselier se kantoor met ’n petrolbom te bestook?

Tog wil ek ook verskil van die alarmiste wat nou die verbranding van kunswerke vergelyk met die dade van Nazi-Duitsland, toe hulle voor die voet Joodse kuns vernietig het. Hierdie groepe studente is nie staatsbefondste soldate nie. Hulle is nie daarop uit om ’n spesifieke etniese groep uit te wis nie. Hulle is eenvoudig nie georganiseerd genoeg nie. Daar is nie die tipe kohesie binne die groep om op groot skaal die tipe vernietiging te saai wat in Nazi-Duitsland was nie. Kyk byvoorbeeld hoedat daar nie eens binne Open Stellenbosch-geledere eensgesindheid was oor presies wat blackfacing is en hoe daarop reageer moet word nie. Daar is ook nie die grootskaalse ondersteuning vir hulle dade van die algemene publiek nie. In die afgelope week het hulle inderwaarheid aansienlike steun verloor onder gewone mense, wat hulle nou eerder sien as ’n groep opportunistiese kriminele. Kyk byvoorbeeld na die publieke verontwaardiging toe die studente wat die parlement beset het, met geweld verwyder was, teenoor die ondersteuning van kragdadigheid aan die polisie se kant hierdie week.

Tog kan die woede van die studente nie sonder meer afgemaak word nie. Een kampus is alreeds gesluit. Indien iemand nie as leier vorentoe staan nie, gaan ons meer vernietiging sien. Zuma is eenvoudig te besig om politieke scores te settle en sy eie bas te probeer red om die leierskap te verskaf wat ons nou nodig het.

Die geweld van die afgelope tyd is ’n sweer wat oopbars. Nou is dit die tyd om daai wonde skoon te maak, te verbind en oor te begin. Ons kan nie langer mekaar die skuld gee en onsself verontskuldig nie. Daai tyd is noodwendig verby.

Die talle foto's van studente wat hande vat en bid, wat self begin skoonmaak waar ander gemors het, is ’n groot stap in die regte rigting. Ons het egter ook nodig dat ander vorentoe staan en standpunt inneem. Nou is nie die tyd om polities korrek te wees nie. Nou is die tyd om leierskap wat vrede en versoening bevorder, te openbaar. Nou is die tyd om groter te wees as die geskille wat ons onderling het, om hande te vat en die Suid-Afrika te bou wat ons wil sien. Nou is die tyd om vergifnis te vra, oor en weer, en vergifnis te skenk, oor en weer.

Natuurlik is vergifnis ’n gelaaide konsep. Om Margaret Atwood aan te haal uit The handmaid’s tale: “But remember that forgiveness too is a power. To beg for it is a power, and to withhold or bestow it is a power, perhaps the greatest.”

Kom ons hoop dat Suid-Afrikaners dwarsoor die spektrum groot genoeg is om vergifnis te verskaf en nie te weerhou nie. Ons sal egter die seermaakgesprekke in alle erns moet voer, en in eerlikheid met mekaar optree. Dis die regte manier.

Dis die enigste manier.

  • 4

Kommentaar

  • Bettina, ek waardeer jou skrywe meer as wat dit dalk uit my kommentaar mag blyk maar ek verskil oor baie wat jy kondoneer, goedpraat en regverdig omdat juis dit die wortel van die kwaad is; die ongedissiplineerde woorde, dade en agteraf gekonkel, selfs deur hoge koppe op universiteitsbesture en -rade om die minderheids-"gepeupel" ter wille te wees ten koste van die redelike ware studente.
    Die optrede van baie van die aftakelaars het dikwels oorgegaan in barbaarse optrede en hoegenaamd nie gestrook met 'n demokratiese 22-jarige bevryde samelewing nie.
    Die konkelaars op universiteitsrade moet die grootste blaam hiervoor vat omdat hulle soos onbevoegde ouers opgetree het wat in hulle toegewings aan die "stout en onvolwasse kinders", die kinders tot belhamels en boelies verhef het, wat selfs die onredelike kon afpers.
    In 1993 is 'n akkoord met die Nasionale Uitvoerende Komitee van die ANC bereik wat gebaseer was op net twee grondbeginsels waartoe mnr Mandela en gen Viljoen vooraf op ooreengekom het. Naamlik die nie verskuiwing (selfs hervestiging) van mense en die nooit weer gebruik van ras as norm om mense te klassifiseer nie!
    Meer as 600 000 Afrikaners het daarvoor gestem selfs ten spyte daarvan dat die ooreenkoms eers die Sondag voor die 27 April verkiesing gesluit is.
    Daar moet in gedagte gehou word dat die Konserwatiewe Party asook die HNP en AWB en verskeie ander kleiner Afrikaner partye, nié aan die verkiesing deelgeneem het nie.
    Die vier afsonderlike sensusse (Blank, Swart, Bruin en Asiër) van Suid-Afrika is daarom geïntegreer met slegs taal as norm!
    400,000 opnemersgebiede is afsonderlik gedoen en dit het uiteindelik gelei tot gen Viljoen en VEKOM se 10-taalprovinsies voorstel asook uiteindelik die Zulus en Tswanas se taalprovinsies.
    Ongelukkig het met die Nasionale Party se goedkeuring en toedoen, ras as norm weer by CODESA ingesluip.
    Vandag is regstellende aksie, BEE en kwotas selfs vir sportspanne die norm.
    Die heel grootste probleem is dat byna niks gekom het van die 10 amptelike inheemse tale, waarvoor so hard geveg is nie!
    Inteendeel: die enigste uitheemse taal, wat baie sterk staan in die buiteland, die taal van die Kolonialiste en veroweraars, kry nou deurgaans voorkeurbehandeling ten koste van AL die inheemse tale!

  • "Het oornag verander in die onbeheerste kriminele optrede van ’n mob wie se enigste doel was om soveel vernietiging as moontlik aan te rig. Wat kon tog ooit die simboliese waarde daaraan wees om die kanselier se kantoor met ’n petrolbom te bestook?"

    Maar wat maak mens van die ryk studente wat blykbaar deel van die geweldadige mob is?
    Met die vorige rondte was Trengove SC se seun deel van die groep. Nou is Thuli Madonsela se dogter deel. Die vorige week moes Brian Molefe sy seun gaan uit-bail. Van die rugbyveld in die Vrystaat is 'n student afgedra en die foto's toon hy't tekkies aan wat R2500 kos.
    Wat moet mens daarin lees?
    Die pers en joernaliste en rubriekskrywers gaan daaroor en daar verby. Daar's nie diepgang in die geskrifte daaroor nie.
    Mens wonder, wat is ons eintlik besig om te beleef? Wat is besig om onderin te broei wat ons nie besef nie?

  • Dit is 'n uitstekende gebalanseerde stukkie skryfwerk. Die probleem egter is dat die "swart" perspektief en "wit" perspektief so radikaal verskil dat versoening tussen hierdie pole uiters moeilik sal wees. Dit word duidelik weerspieël in die reaksie (wit) op hierdie stuk. Om tot versoening te kom kan die vertrekpunte van die onderskeie groeperings nie net noodwendig geïgnoreer word nie en dan "nuut" begin word soos die skrywer voorstel. Beide partye sal eers begrip vir die ander se standpunte moet kweek alvorens daar enigsins oor die aangeleentheid onderhandel kan word. Ek onthou 'n "swart" student se opmerking na die Kovsie-rugbydebakel dat "sy nie kan verstaan dat wit studente nie kan verstaan dat hulle rassisties is nie". Daarteenoor kan " wit" studente en persone nie verstaan hoekom "swart" studente en persone nie die ervaring van "omgekeerde rassisme"- by gebrek aan beter terminologie - kan verstaan nie. Ek dink ons moet eers by mekaar begrip en ervaar van omstandighede kweek alvorens daar effektief oor die en soortgelyke optredes onderhandel kan word. Die begrippe en veral hoe mense dit ervaar, aan beide kante, sowel as die uitwysing en praktiese veroordeling van die radikale uiterstes aan beide kante en bevestiging van die waardes van die gematigdes (wat ek hoop en glo) steeds die meerderheid verteenwoordig, is as eerste stap noodsaaklik. Die radikale " fringes" moet dus eers uitgewys word en aanhoudend veroordeel word, alvorens na 'n oplossing beweeg kan word. Ons het ongelukkig die gematigdes in die ANC nodig om dit rêrig effektief te maak. Met die munisipale verkiesing en vrees van steunverlies dink ek nie daar is veel hoop op die kort termyn nie.

  • Marietjie Luyt

    Hallo Bettina, dankie vir jou skrywe.
    Dele van die EFF tree myns insiens wel op 'n georganiseerde, militaristiese wyse op om hulle politieke doelwitte te bereik. Die eerste slag wat ek hiervan oortuig geraak het was een aand in April verlede jaar. Dit was net na die #Rhodesmustfall-moles in Kaapstad.
    Op die televisienuus verskyn 'n falanks van sowat 50 EFF-manne in militêre gelid. Die plek is Kerkplein, Pretoria, by oom Paul se standbeeld. Die leier van die groep sê iets in die volgende trant, dreigend en honend: "'n Week van nou moet Paul Kruger en die burgers hier weg wees. Anders kom haal ons hulle self. Toemaar, ons het trokke waarmee ons die rommel kan wegvoer." Daar was ook nog iets in die lyn van Kruger, die massamoordenaar en sy Afrikaners wat swartmense met hulle gewere skiet. (Die klompie het duidelik nog nooit van die Anglo-Boereoorlog gehoor nie.)
    Daai aand toe dink ek, o vrek, die revolusie is aan't komme. Of nog erger, dis reeds hier.
    Nie 'n revolusie van liefde en vrede nie. Wat in die lug bly hang het was die geur van intimidasie, haat, en dreigemente van vernietiging.
    Die manne in hulle rooi berets het nie vir my anders gelyk as die foto's van Bruinhemde wat in die jare dertig in Berlyn se strate rondgesoek het na mense wat hulle kan slaan en verneder nie.
    Dit was vir my duidelik dat hierdie mense nie net dreig nie, maar nie sal skroom om hul dreigemente uit te voer nie. Hulle gaan nie ophou nie. Dat dit inderdaad die geval is, blyk uit onlangse afbrand van akademiese geboue by Mahikeng, onder meer glo 'n biblioteek?
    Heinrich Heine se insig: Eers verbrand hulle boeke, dan mense, klink weer relevant. Eers necklace hulle standbeelde, en dan?
    So. Is ek "alarmisties" as hierdie kêrels, onder aansporing, natuurlik, van Julle Weet Wie, hulle soos 'n spul Bruinhemde gedra?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top