Die stropers – onder draai die duiwel rond

  • 1

Die Vrystaat is ’n vesting vir die wit Afrikaner, ’n etniese minderheidskultuur. In hierdie konserwatiewe boerderystreek, verweef met krag en manlikheid, is Janno anders, geheimsinnig en emosioneel swak. Eendag bring sy baie godsdienstige ma 'n verharde straat weeskind huis toe. Sy wil Pieter red en vra Janno om hierdie vreemdeling as ’n broer lief te hê. Die twee seuns begin kompeteer vir mag, ’n erfenis en ouerlike liefde.

 

Vir maande lank al vermy ek dit om oor Die stropers te skryf. Die fliek het my die eerste keer stomgeslaan. Vir ’n resensent is dit problematies. Jy moet ’n definitiewe opinie hê (en hopelik ’n subjektiewe opinie daarby). Op ’n instinktiewe vlak het ek geweet dit is ’n briljante film, maar dat iets daarvan ook krap. Ek moes dit ’n tweede slag kyk om te verstaan wat dit so besonders maak, en waarom die narratief platval.

Die stropers is ’n totale aanslag op dogma, indoktrinasie, patriargie, isolering teen die buitewêreld, fundamentele religie en ’n rigiede stelsel wat van almal slagoffers maak, ’n stelsel wat in stand gehou word deur niemand anders as ons self nie. Dit speel ook rond met die Kain-en-Abel-argetipe en wys hoe giftig ’n ma se liefde kan wees.

Regisseur Etienne Kallos herskep ook die engtevrees van bogenoemde stelsels. Hy versmoor jou vir 106 minute lank. Die (minimale) musiek laat jou nekhare regop staan. Die kristalhelder klankontwerp laat selfs die geritsel van die mielieblare jou ontsenu. Juliana Venter se angstige gebid om die seun se hart, bloed en saad te versterk, maak mens naar. Die kamerawerk – van agter geskiet, geraam deur deurrame – maak jou benoud. Die Vrystaatse landskap bied nie verligting nie: alhoewel beeldskoon, is dit toegevou in mis, donker belig of windverwaaid en koud. Mens voel uitgelewer aan die landskap, en aan die regisseur se visie. Daar is geen ambivalensie nie, en dit is jammer. Aan die een kant is dit effektief, want jy voel die onderdrukking aan jou bas, maar aan die ander kant laat dit geen spasie vir jou eie denke nie.

Die film lewer net genoeg emosie om jou aan die lewe te hou, om jou nie heeltemal afgeknou te laat voel nie. Die toneel waar Janno byvoorbeeld sy kamerlig aan- en afskakel, wys vir jou wat in sy hart is. Die plesier wat die rondloperhond bring, is tasbaar. So ook die kosbare oomblikke waar die twee ouer boeties met die kleinsussies speel, of vir hulle sing. Alhoewel jy regdeur voel die duiwel dans onder êrens rond.

Die twee jong akteurs, Brent Vermeulen en Alex van Dyk, is indrukwekkend as Janno, die sagte, stil boerseun wat so sagkens werk met kuikens, en Pieter, die skorriemorrie-straatkind met soveel “swagger”. Juliana Venter se vertolking van ’n byna psigotiese ma laat jou behoorlik gril. Morné Visser is ook effektief as die Alfa-man. Tog het ek gevoel die karakters is eensydig geskryf – daar was geen donker en lig in hul optredes nie. Kallos wou ’n definitiewe punt beklemtoon.

Die Vrystaat as agtergrond word goed vasgevang in die sandsteenopstal, die laslappiekombers, Blundstone-stewels, John Deere-kepse, ens. Geen Vrystaatboer sal egter gevang word in ’n stad-Jeep nie. Jou dorpskar is ’n Mercedes, indien jy nie jou dubbelkajuitbakkie gebruik nie.

[BEDERFWAARSKUWING] Geen konserwatiewe, religieuse Afrikanerfamilies wat ek ken, en waarop Kallos en sy span in die reklameteks en onderhoude hamer, sal ’n tienerjarige straatkind, en boonop prostituut, inneem en grootmaak as hul eie nie. Hulle barmhartigheid sal nie so ver strek nie. Die drang om ’n erfgenaam te hê is sterk, en die Afrikaner is bekend vir kinders aanneem, maar hulle sal babas aanneem sodat die boompie jonk gebuig kan word. Die uitgangspunt van die film val dus hier plat.

Die stropers is ’n breinverdowende, somber stoomtrein van ’n film wat jou gaan oopbreek, maar ongelukkig namens jou besluit hoe jy voel. As jy saamstem met die uitgangspunt van die film, is dit uiteraard nie ’n probleem nie.

  • 1

Kommentaar

  • Dit voel vir my of die duiwels daardie twee vrouens was. Maar is daar regtig sulke weird mense? Ek twyfel of hulle na 'n gewone sandsteenkerk sou gaan. Die pa is nie die baas van die plaas nie en duidelik ook nie die baas van die huis nie. Dit verklaar die vreemde besluit. Sy sg toksiese manlikheid is eerder frustrasie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top