Die stralende toorn van Augusta

  • 1

Foto: Pexels.com

Ek het in my lewe ’n paar mense met sterk persoonlikhede ontmoet, maar geeneen was so monumentaal soos Augusta nie. Sy was ’n Afrikanervrou van Potchefstroom. (Sou sy in haar laat vyftigs gewees het? Almal lyk oud wanneer ’n mens in jou vroeë twintigs is.) Miskien oordryf my geheue, maar dit voel asof sy oor die ses voet in haar sokkies gestaan het, en tingerig was sy nie; ’n vrou van inbors, hoog-geboesem in haar geblomde rokke. Sy was ’n onderwyseres en die weduwee van ’n bankbestuurder. Sy was ’n NG Kerk-lidmaat wat in ’n Pinksterkerk tot bekering gekom en ’n geestelike leier van soekers na die volle lig geword het.

Ek dink soms aan haar omdat haar gelaatstrekke nogal ooreenstem met dié van Donald Trump: pruilmondjie, blou ogies wat skuins afloop na onder en dikwels op skrefies getrek is, goue haredos. Haar persoonlikheid was darem nie soos syne nie. Daarvoor was sy te welsprekend. Haar geaardheid het iets van Florence Forster Jenkins s’n gehad, soos vertolk deur Meryl Streep: ’n melodramatiese maar eerbare koddigheid, ’n onwrikbare sekerheid wat nie wyk nie.

Ek en my glansvriende het een ná die ander in tentkerke die lig gesien en by haar biduurgroepie, wat groot van getal was, ingeval. Sy was God se soldaat, ’n voorbidder en intreder, streng en dikwels omgeef van ’n Bybelse toorn. Sy het ’n ding by die naam genoem. Toe ek die pad byster geraak en met ’n marionettemeester weggeloop het, het ek ontgogel geraak met sy dronk woedebuie en die onvoorspelbaarheid van ons nomadiese dae. Ek is terug Potchefstroom toe, het in die biblioteek begin werk en teruggekruip na die biduurgroep wat in haar groot sitkamer vergader het. Sy het my voor laat staan. Alle oë was op my. Sy het my lank met haar skreefogies getakseer. Haar stem het dun geword toe sy verklaar: "HartJUUU, jy sal moet leer om ‘nee’ te sê. Die Here gaan nie vir jou ’n blikbroek aantrek nie."

Daar was ’n paar oomblikke van stilte, waarna my vriendin Thea haar kop agteroorgooi en hoog en yl soos ’n wolf begin huil. Ek onthou die oomblik: hoe bleek en weerloos haar nek gelyk het, hoe blinkswart haar lang, reguit hare. Dit was aangrypend en spektakulêr. Die volgende oomblik begin ek soos ’n hondsdol hiëna lag, histeries en onstuitbaar. Daar is daardie aand bose geeste uit ons albei gedryf, uit my ’n gees van belustiging en hoon, uit Thea ’n gees van heksery, as ek reg onthou. Dit was dramatiese dae.

Augusta het ’n dogter gehad, ewe imposant as sy, min of meer ons ouderdom en ook ’n student. Sy was, soos haar ma, buitengewoon lank, met blou oë en goue krulhare, ’n fier houding en sterk persoonlikheid. Sy was treffend en androgeen mooi, soos ’n engel of ’n gesig op ’n muntstuk. Dit was asof daar ’n onsigbare swaard om haar heup gegord was. Ek het dikwels gedink dat dit nie ’n grap moes wees om Augusta as moeder te hê nie. Toe haar dogter op hoërskool vir die eerste keer met ’n seun uitgaan, het Augusta vir haar die leviete voorgelees. Ek onthou ’n kinderboek waarin ek eenkeer gelees het: "Grandma laid down more commandments than Jehovah did." Een van Augusta se dekrete was dat dans verbode is. Toe haar dogter op die afgesproke tyd terugkom, sê Augusta: "Julle het om kwart oor nege begin dans. Ek het by die kombuistafel gesit, opgestaan en die stoel met mening onder die tafel ingeskuif." Dit was waar.

Augusta was nie net charismaties wat geloof betref nie, sy het ook heelwat sjarme besit. Daar was altyd ’n vonkel in haar oog en lipstif op haar mond. Ek onthou in haar kombuis het sy een aand ’n lawwe liedjie gesing oor Gentleman Jack, oor hom was die ladies so gek. Sy was ydel ook. Die professor aan wie ek baie geheg was, het eenkeer gesê hy en Augusta ken mekaar van kindergarten af. Waaroor sy agterna opmerk: "Willie laat dit klink asof ons tydgenote is. Hy is ’n paar jaar ouer as ek."

Haar interpretasie van die Skrif het afgewyk van die susterskerke s’n, maar predikante het in hul sokkies gesidder en niemand het kans gesien om met haar te verskil nie. Besoekende geestelike leiers het haar klokslag besoek, soos ’n sekere profeet uit die Vrystaat wat by haar oorgebly en ons biduurgroep een aand toegespreek het. Terwyl hy bid, ontvang hy ’n profesie en begin stadig soos ’n slaapwandelaar praat: "Ek sien ’n Deborah." Almal se oë wip oop en vestig op my. Ek word yskoud. Dis nie die soort aandag wat ’n mens wil hê nie. Gelukkig word dit uit die res van sy profesie duidelik dat hy bedoel Augusta is soos ’n Debora in die Bybel, ’n leier van haar volk, ’n rigteres gesalf deur God. The best man for the job is a woman. Sjoe, dankie tog.

Daar was ook besoekende profete en lekepredikers uit Amerika. Ek onthou dat een van hulle ’n plaaslike vrou wat kanker gehad het, belowe het God gaan wondere verrig en haar genees, dat sy nog lank en vrugbaar sou leef. Met sy volgende besoek was sy dood, maar daar is nooit daarna verwys nie en geen verduideliking is gegee nie. Was haar geloof nie sterk genoeg nie? Het die duiwel ingemeng? Wie durf vra?

Ek weet nie of Augusta al weggeraap is nie, maar een ding weet ek: Haar motiewe was suiwer en haar fokus fenomenaal. Haar oë het gebrand soos ’n sweisvlam (dankie, Jani Allen). Sy het geen ongeregtigheid, losbandige seks, drank of egbreuk verduur nie. Die duiwel was haar persoonlike vyand en sy het hom met minagting en toornige gesag aangespreek. Bestraf. En wanneer sy koortjies sing in haar welluidende stem, het haar gesig soos ’n Chinese lantern gestraal.

Soms verlang ek na daardie blinde oortuiging, "assured of certain certainties" soos TS Eliot gesê het. Die liefde vir Jesus wat soos ’n lig voor in die wapad gebrand het. Die eenvoud. Maar ek verlang nie na die veroordeling en voorskriftelikheid nie.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top