Die storie(s) van Chester Williams

  • 3

Heindrich Wyngaard bring hulde aan die onlangs-ontslape Springbokheld, Chester Williams.

“Stories mould who we are, from our character to our cultural identity,” lees jy in die flapteks van Will Storr se The Science of storytelling. Ook skryf hy: “Storytelling is an essential part of what makes us human.”

Ons het in die konteks van hierdie huldeblyk rede om daarby stil te staan, by dié drie sleutelwoorde, of drie begrippe uit die wetenskap van stories-vertel: “karakter”, “kulturele identiteit” en “menslikheid” of menswees.

Maar is dit slegs maar ’n geval dat stories ons karakter en kulturele identiteit, ons menswees, vorm – of is dit ewe waar dat juis die spesifieke karakter en kulturele identiteit van ’n individu, wie hy of sy werklik is en hoe hy of sy lééf, as’t ware gevorm is, dat dit op sigself ’n storie vertel?

En tot hoe ’n mate ding die verskillende weergawes van die storie(s) oor iemand se lewe met mekaar mee om aandag?

Terwyl ons hieroor tob, kan met redelike sekerheid gesê word dat dit ’n algemeen aanvaarde feit is dat sport, soos stories, oor die jare heen beskou is, as ’n handige vormer van karakter en kulturele identiteit en ook as ’n wesenlike faktor tot wat jou as mens máák en wát jou ’n mens maak, onderskeidbaar van ander spesies.

Hierdie is ’n storie oor ’n besonderse sportman, wat verlede Vrydag die hart van menige gebreek het toe hy aan ’n hartaanval beswyk het. Die storie handel oor die stories wat hom gevorm het en hoe hy self die katalisator vir die vorming van nuwe stories was.

Dit is die verhaal van die oud-Springbokrugbyspeler Chester Williams, swart in die generiese sin van die woord en bruin wat sy kulturele identiteit betref, ’n held van Suid-Afrika se seëvierende 1995 Rugbywêreldbekertoernooi, die eerste waaraan die land sedert die beëindiging  van die isolasiejare toegelaat is om deel te mag neem.

***

Dié seun van die Paarl is in 1970 gebore en het aan Nederburg Primêr en Klein Nederburg Sekondêr sy skoolopvoeding ontvang. In die laat tagtigerjare was hy een van die eerste bruin seuns wat aan ’n Cravenweek deelgeneem het.

Ná skool het Williams sy weg na die SA Vloot gevind, aldus die sporthistorikus Hendrik Snyders. Hiertydens het hy vir die Weermagspanne begin uitdraf, later die Westelike Provinsie meer as sestig keer tussen 1991 en 1998 verteenwoordig; en altesame 47 keer vir die Bokke opgedraf en 27 drieë gedruk, terwyl hy gedurende sy laaste speeldae sy verskyning gemaak het in die trui van die Transvaalse span wat later as die Goue Leeus herdoop is.

“But raw biographical data have little meaning to the storytelling brain,” leer ons by Storr in Storytelling. Die “rou biografiese data” oor Williams is boonop reeds sedert Vrydag op aanlynnuusplatforms, sosiale media, op radio en televisie en in gedrukte media weergegee. “What [the storytelling brain] desires – what it insists upon, in exchange for the rare gift of its attention,” skryf Storr, “– is something else.”

Williams was “something else.” Soos wat ’n spanmaat uit die 1995-WB-groep, Naka Drotské, vertel, het Williams by einste daai Cravenweek in 1988 reeds ’n impak gemaak. Dit was deur die wyse waarop hy en sy WP Liga-spanmaat wyle Tinus Linee vir onder andere die reusagtige Ruben Kruger van die Vrystaat, wat gewoonlik met min weerstand ’n lyn kon breek, “moeg geduik” het.

Wat hom veral besonders gemaak het, as jy een aspek van sy storie moet beklemtoon, was sy onkreukbare karakter, dat hy nooit by skandes betrokke was tydens en ná sy speeldae nie, óp of van die veld af nie; ook die wyse waarop hy inhoud aan sy kulturele identiteit gegee het – om as bruin speler sy merk in die Bokspan te kon maak, trots deel van sy gemeenskap te bly, en terug te ploeg – en die toeganklike, vriendelike en omgee-mens wat hy in die aansien van ander tot ver buite die wit lyne van ’n rugbyveld was.

Jy wil dus eintlik nie na hom as “Williams” verwys nie; dit is te koud, te afstandelik. Die meer familiêre, warmer voornaam “Chester” het nog altyd lekkerder en met meer waardering van almal se tong afgerol. Of sommer net “Chessie,” want in rugby is noemname immers deel van die spel.

Dié “Chessie” het hom verder onderskei deurdat hy dit nie as benede homself beskou het om in rugbybroeikaste soos die Bolandse Kavaliers, Roemenië, Tunisië en Uganda afrigting te doen nie, en deurdat hy by die Universiteit van Wes-Kaapland met minder hulpbronne en ’n kleiner talentpoel as ander universiteitspanne in die Varsitybekertoernooi moes vasbyt en tog sukses behaal het.

’n Mens hoef net te let op die manier waarop een van sy UWK-talente, skrumskakel Herschel Jantjies, op die Springbok-toneel sy teenwoordigheid aangekondig het om te weet dat hy deur Williams se hande kom: Jantjies speel met selfvertroue en toegewydheid en hy vier sy prestasie op die veld met nederigheid – én dan beskik hy boonop oor ‘n kuiltjie en breë glimlag, byna identies aan dié van Williams.

Neem in ag dat Jantjies een van die spelers in die Bokke se huidige Wêreldbekergroep is na wie die afrigter Rassie Erasmus in sy reaksie op die “aaklige nuus” van Williams se dood verwys het: “Talle van ons spelers is te jonk om die 1995 Rugbywêreldbeker-eindstryd te onthou, maar hulle het opgegroei met beelde van die hoogtepunte van die wedstryd en van Chester en hulle ken hom vandag as ‘n rugbyspeler wat ’n ikoon vir ons land geword het.”

***

’n Ikoon vir ons land: Maar ikone het ook nie-bewonderaars, selfs vyande, of gewoon mense wat nie saamstem met jou aangryp van geleenthede, soos wat Williams in die voor-eenheidsdae en ook ná eenheid in 1992 tussen die verskillende rasgegronde oud-rugby-unies bereik is nie.

Dié eenheid, reken hulle, is steeds maar onvoltooid, onafgehandel; en dit moet jou aan die dink sit dat Williams ’n hele dekade ná sy oom Avril (1984) ’n Bok geword het en by die vyftien jaar ná Errol Tobias in 1980.

’n Sosiaal-gemanipuleerde droogte aan bruin en swart Bokke het vir so lank voortgeduur dat jy teen 1999, byna twintig jaar ná Tobias se debuut, eers maar altesame tien Bokke van kleur gehad het: naas Tobias, was dit Williams snr, Williams jnr, Tinus Linee (1993), Breyton Paulse (1996), McNeill Hendricks en Dale Santon (1997), Deon Kayser en Owen Nkumane (1998) en Kaya Malotana (1999).

Die storie van Chester Williams is dus terselfdertyd die storie van ’n stryd van spelers uit sy gemeenskap wat van die vroegste tye af die voorreg ontneem is om die gesogte Springbok-trui oor die kop te trek. Onder hulle tel spelers soos sy pa, Wilfred, wat vir die destydse bruin nasionale rugbyspan, die Proteas, gespeel het, soos ook sy ma se broer, Adam Dombas; en daar is talle ander. Nou is dit nie meer die wetlik-verskanste rassediskriminasie wat spelers se kanse bepaal nie, maar dalk eerder die vlak van vertroue tussen afrigters en spelers van ander rasse én onderling onder die spanlede.

Jy moet ook nie mislei word om te glo dat die diskriminasie waaronder vroeër generasies bruin en swart spelers gebuk gegaan het, iets van die verlede is nie. Tobias is in die begin Tagtigerjare op toer in Amerika die woorde “Go home, kaffir!” toegesnou – nie deur regsgesinde wit mense nie, maar deur kamstige progressiewe protesteerders wat hul stem teen apartheid in sport, teen ’n wit-oorheerste Bokspan, dik gemaak het.

Williams vertel sy eie storie van aan die ontvangkant van hierdie soort rassistiese skeltaal te wees in ’n biografie deur die rugbyskrywer Mark Keohane, ’n boek wat uiteindelik, jammerlik, meer aandag gekry het vir die ophaal van daardie insident op die veld toe die vleuel James Small hom op ’n keer die k-woord sou toegesnou het eerder as vir die inspirasie wat geput kan word uit Williams se verhaal.

En daarom lê sommige mense jou dit op die hart, wanneer jy hulle meedeel jy skryf 'n huldeblyk, dat Williams se teenwoordigheid as enigste speler van kleur in die ’95-span níé die uitsonderlike prestasie is wat as die groot waarheid aanvaar word nie. Dit was in werklikheid, só meen hulle, die groot tragedie van die ’95-toernooi.

***

Die indruk wat Williams deurentyd gelaat het as speler en oudspeler, was dat daar by hom egter geen bitterheid bestaan nie, eweneens ’n karaktereienskap van ’n groothartige mens.

Maar selfs vir hom, wat ook op ’n keer die afrigter van die Springbok Sewesspan was, moes dit moeilik gewees het om die frustrasie te versteek oor geleenthede wat spelers soos hy kry of ontsê word om ná uittrede in ander hoedanighede by die spel betrokke te bly.

Dit is ’n ander, onderspeelde, deel van sy verhaal.

Behalwe vir diegene wat as rugbykommentators ingespan is en word, onder wie Tobias, Paulse, Nkumane, Gcobani Bobo (’n 2003-Bok), Hanyani Shimange (2004), het enkele al ’n bystandsafrigtersrol vertolk, soos Ricardo Loubscher (2000) by die Bokke, Bolla Conradie (’n 2002-Bok) saam met Williams by UWK en mees onlangs Thando Manana (2000) by die OP.

Wat Chester Williams bly ontwyk het – geen geheim dat hy homself as geskik vir die pos beskou het nie – was die droom om die Springbokke af te rig.

Die groot troos vir hom was sekerlik, vir wat dit werd is, dat hy tog, hopelik tot in lengte van dae, geëer sal word as die bruin gesig van die 1995-RWB-Springbokspan. Soos die foto van die (wit) kaptein François Pienaar en die land se eerste swart president, Nelson Mandela, wat die Webb Ellis-trofee omhoog hou, só behoort Williams se teenwoordigheid in die span nooit onderspeel te word nie.

Dit is ook ’n beeld wat in ons geheue ingeëts moet bly, ’n storie wat aanhou vertel moet word.

Het ons hom voldoende hiervoor vereer? Het ons genoeg waarde geheg aan sy storie terwyl hy nog gelewe het?

Indien ons nie het nie, is daar sekerlik goeie rede om die situasie reg te stel. En deel van hierdie “regstellende aksie” is die besef dat ander oudspelers wat Williams se agtergrond deel en teen alle verwagtinge in die hoogste sport bereik het, ander Chesters met ander name, dié lewe nog.

Ons moet nou, voordat dit te laat word, ook húlle verhale afstof, húlle menswaardigheid – na die raad van Will Storr in The Science of storytelling – deur storievertellery herstel.

______________________________

Heindrich Wyngaard se biografie oor Errol Tobias, Bursting through the half-gap het in 2017 verskyn ná Rugby saved my world – The Ashwin Willemse story (2015, met Peter Bills) en Die gevleuelde woorde en wyshede van Peter de Villiers (2009).

  • 3

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Ek was tien jaar oud daardie dag toe Suid-Afrika die wereldbeker gewen het in 1995. Chester was 'n groot held.

  • Hier is 'n 'link' vir diegene wat nie weet hoe die 1995 rugby wereldbeker gewen is nie - lyk my daar is 'n paar. Joel Stransky het die beker gewen. Nou weet julle ne.

  • Barend van der Merwe

    Waar is jou skakel 'Onkunde'? Stransky het nie "die beker gewen" nie. Rugby is 'n spansport...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top