Die stilte om die huis van Mohammadar Iqbal: Deel 2

  • 0

Lees Deel 1.

Die einde van die vakansieseisoen het aangebreek. Die kinders is terug skool toe en die meeste toeriste is weg, net hier en daar was nog ’n paar oueres te sien wat geen werks- of gesinsverpligtinge meer tuis gehad het om hulle terug na te haas nie. Ook die strome vol busse met groot groepe uit Rusland op hulle alles-inklusiewe, weeklange vakansie het opgedroog. En dit was ook maar goed so. Die hotelwerkers het al hoe meer ongeduldig en opstandig begin raak. In die bykans twee jaar sedert die rewolusie het bitter min in hulle werks- of lewensomstandighede verander. As gevolg van die stygende wisselkoers het die pryse van lewensmiddele aanhou styg, hoewel salarisse dieselfde gebly het. Van protes aanteken was daar geen sprake nie, want die hoteleienaars sou hulle summier afdank, aangesien daar geen tekort was aan goedkoop, ongeskoolde arbeid nie.

Soveel opgekropte ongelukkigheid moet êrens ’n uitlaatklep vind, en daar was vele gerugte daardie winter van vertroebelde verhoudings tussen werkers en toeriste, en selfs van onaangename voorvalle. Mohammadar het nie geweet wat om van sulke stories te maak nie. Daar was nooit sulke moeilikheid in al die jare wat hy by die hotel gewerk het nie. En hy het altyd goed oor die weg gekom met die toeriste; vriendelik, maar nooit familiêr nie, soos sy vader hom geleer het.  Selfs nou nog wanneer hy met hulle te doen kry, kom sy vader se woorde by hom op: “Onthou, hulle is jou brood en botter, maar behou altyd jou waardigheid.” Maar nou, die laaste tyd, was alles so in die war, met sy huis, en die een wat foto’s daar geneem het, en die ding wat hy gesien het. Nooit daarna het die knaende gevoel van onrus hom verlaat nie, maar hy kon met niemand daaroor praat nie. Fatma het agtergekom hy’t begin ly aan slaaploosheid, maar sy’t dit toegeskryf aan te veel koffie en hookah rook. “Jy sit te veel met daardie Faoud op die plein, ek het altyd gesê hy’t ’n slegte invloed op jou. Drink hierdie.” En dan moes hy weer een of ander bitter kruietee mengsel sluk.

Teen die middel van Desember was daar ’n referendum om die nuwe grondwet goed te keur. Hy’t nooit veel in politiek belang gestel nie en Faoud het gesê hulle moet maar net instem, dis alles vir die beste, enigiets om orde te bring in die gemors waarin die land verval het. Die wisselkoers het die hoogte ingeskiet, en hulle het nou regtig begin swaarkry met die aankoop van ingevoerde fietsonderdele.

In Januarie het Mourad begin voeter met Kaïro toe gaan saam met Faoud se seun. Niks wat hulle gesê het, kon hom keer nie.

“Daar kom groot moeilikheid,” het hy gesê, “ons moet gaan keer, hulle gaan die rewolusie steel.”

Elke aand was daar ’n bitter geredekawel wat sonder uitsondering geëindig het met Fatma wat in trane kamer toe gaan. Uiteindelik is ’n hele klomp van die dorp se jong mans een oggend voor sonsopkoms daar weg in ’n konvooi motors volgelaai met tente en blikkieskos. Daar was amper ’n feestelike atmosfeer toe die families in die koue oggendlug om die motors staan, asof hulle ’n groep kinders afsien wat op ’n skooltoer gaan. ’n Skooltoer waarvan hulle nie kon weet sommige nooit sou terugkeer nie.

Die tweede week na Mourad weg is, sê Mohammadar een middag vir Assem: “Ek stap bietjie by Faoud langs vir tee.”

“Goed so, Vader,” sê Assem soos altyd, hoewel hy weet ‘tee’ beteken koffie en hookah op die plein, en dat sy vader weet dat hy weet, maar dat daar ’n ongeskrewe reël êrens bestaan waarvolgens sulke dinge laat staan moes word soos hulle was.

Toe Mohammadar by die winkeldeur uitstap en oor die singel kyk, is sy huis daar weer groot en kil en grys voor hom, met swart gate vir vensters en deure en die donker spatsels van die bougainvillea teen die muur, swewend op ’n waas sodat die buitelyne aan die onderkant saamvloei met die skaduwees, en dit vir hom voel asof vanuit daardie vormlose fondament waarvandaan die kolossus in die hemel in reik, dieselfde intense stilte wat alle klank in sy pad verswelg, onsigbaar en genadeloos straal. Hy staan stil en gryp met sy een hand die deurkosyn vas, met die ander bedek hy sy oë. Weer ontlok die stilte se straling in hom die grenslose verlange, maar dié slag soveel heftiger, dis asof die golwe in sy siel in boor en hom fisies pynig. Hy voel hoe sy hart hewig in sy bors begin klop, miskien is dit beter as hy sit, maar hy wil nie teruggaan binnetoe en vir Assem ontstel nie. Hy kan ook nie in so ’n toestand by Faoud aankom nie. Hy kyk op sy horlosie. Dis tien oor drie, en hy besluit om met ’n ander straat langs plein toe te loop, sodat hy nie by sy vriend se winkel hoef verby te gaan nie.

Stadig loop hy in die straat af. Hier en daar herken iemand hom, maar dis asof almal effens teruggdeins wanneer hulle hom sien, en dan skielik in ’n ander rigting kyk. Enkeles probeer halfhartig groet, maar alhoewel hy hulle monde sien oopgaan, bereik geen klank hom nie. Eers toe hy by die plein aankom, begin geluide asof uit ’n ver oord sy ore bereik. Hy stap na die besige kafee toe, maar die area buite is skielik vir hom te lawaaierig, en die son is te helder, en hy besluit om binne te gaan sit. Een van die kelners herken hom en kom vra of hy koffie wil hê en hookah rook. “Nee dankie,” sê hy, verbaas oor hoe skor en vreemd sy stem klink, “koffie, nie hookah nie, bring ook ’n whisky, enigeen, dubbel, nee, niks by nie, skoon.” Eers het hy so gebewe dat hy die koffie en whiskyglas met albei hande moes vashou. Na die derde whisky het die gebewe effens begin bedaar, en die pyn in sy siel was minder skerp. Die lem was uit, maar die wond was nog daar. Hy was nou oortuig daar was groot fout met hom, maar met wie kon hy praat? Sekerlik nie met Faoud nie. Ook nie met Fatma nie, want sy sou net vir Faoud blameer en hom nog meer bitter tee gee om te drink. ’n Dokter was buite die kwessie. Miskien die Imam? Maar hoe meer hy daaroor dink, hoe meer het hy van die idee afgesien. Die Imam sou nie verstaan nie, daarvan was hy al hoe meer seker.

In die donker hoek van die restaurant het hy nog herhaalde kere whisky bestel, totdat hy nie meer veel kon voel nie. By ’n tafel naby hom het twee toeriste gesit, twee mans, een middeljarig en die ander jonk, albei in vakansieklere, maar heel netjies, niks wat sakkerig om hulle hang soos jy dikwels sien nie. Hare kort geknip en agteroor gegel, hoewel die ouer een al ’n taamlike groot, yl kol bo-op sy kop gehad het. Waar die idee vandaan gekom het dat húlle sou verstaan, weet hy nie, maar hy het al hoe meer direk na hulle begin kyk en oogkontak probeer maak. Hoe hy met hulle sou praat weet hy nie, want sy kennis van Engels het bestaan uit ’n paar standaard frases wat hy in die hotel geleer het jare gelede. Maar op een of ander manier sou hulle verstaan, daarvan was hy al hoe meer oortuig, en hy het begin geluide maak in hulle rigting. Hulle het verbaas na hom gekyk en beleefd geglimlag. “Excuse me?” het die ouer man gesê, “Oh...yes, good afternoon.” Al wat hy kon doen, was om nog meer van die hees, skor geluide te maak. Hulle het weggekyk en voortgegaan met hulle gesprek, wat baie druk en ernstig gelyk het. Hy moes nog whisky bestel ter versterking, en daarna kon hy met meer moed nog hees, skor geluide in hulle rigting maak. “Sorry, I don’t understand,” het die ouer man gesê en weer probeer glimlag. As hy net vir hulle kon vertel van sy huis, en van die wasigheid waarop dit sweef, en van die stilte en die uitstraling, en van Mourad ... Miskien hoor hulle hom nie goed nie. Hy staan op en mik in hulle rigting, maar sy bene gee pad onder hom en hy val vooroor, reg op die jonger een van die twee mans. ’n Kelner kom vinnig nader en help hom op. Ondertussen het iemand die eienaar gaan roep. Mahomet is duidelik geskok toe hy hom sien. “Mohammadar, wat gaan aan, wat het gebeur? Wag, ons help jou.” Hy roep nog ’n kelner nader en hulle steek elkeen ’n arm onder hom in.

“Mahomet,” probeer hy sê, “ek sal betaal, ek het geld.”

“Vergeet dit,” sê die eienaar, “ons sal later praat.”

“Nee, nee, ek sal betaal,” sê hy al hoe harder, sodat meer koppe in hulle rigting begin draai, “ek sal betaal ... vir alles!”

“Kom, kom,” sê Mahomet, “vergeet dit nou, hulle sal jou huis toe vat.” Net toe begin die Muezzin roep vir Maghrib.

“Ek sal môre,” skree Mohammdar nou amper, terwyl die twee kelners hom tussen die tafels deur sleepdra, “... vir alles betaal ... en ek sal vir jou vertel ... ek sal vir jou alles vertel ... van die stilte!”

Fatma het wasbleek geword toe sy die deur oopmaak en die twee kelners sien met Mohammadar wat tussen hulle hang. Hulle het gehelp om hom op die bed te gaan neerlê. In die nag het hy wakker geword. Hy het hom verbeel hy hoor die wind om die hoeke van die huis huil en deur die laning mimosas aan die suidekant suis. Êrens het hy hortjies hoor klap. Dit was asof die huis styg en dan weer daal, soos ’n groot skip wat diep op die see vaar. Dan weer was dit asof die huis sug sodra die geloei van die wind vir ’n oomblik bedaar. Die pyn in sy binneste was so fel dat hy nie verder kon slaap nie.

Fatma was woedend die volgende oggend. “Daardie drek van ’n Faoud, dis alles sy skuld.” Dit het niks gehelp om te protesteer nie. “Dis vandat julle jonk was. Ek het altyd gesê hy lei jou in die verderf in. En dis daardie Khaled van hom wat vir Mourad hier weg het. Sy kop vol nonsens gepraat. Vir niks goed nie, en dan wil hy kastig die rewolusie gaan red. Kan nie sy eie agterent red as dit moet nie.”

Na hy gewas en tee gedrink het, loop hy oor die pad, by die winkel verby en in die straat op. Dis ’n stil, windlose en wolklose dag. Hy stop voor die eiendomsagent en gaan in. Die ontvangsdame groet hom vriendelik, en hy herken haar as een van die kinders wat ’n paar jaar gelede nog in die middag saam met Mourad by die winkel kom uithang het. Sy sê hy moet bietjie wag, die agent is net besig op die telefoon. En dan vra sy hom met ’n blos op haar wange of hulle gereeld van Mourad hoor, en hoe dit met hom gaan, en wat ’n dapper ding dit is om te doen, om daar te gaan veg vir demokrasie, en dit in die grote Kaïro. Dankie, het hy gesê, en ja, hulle hoor gereeld van hom, hy sê daar is duisende mense en almal help mekaar, hy wou hulle nie ongerus maak nie, maar hulle moet glo altyd op die uitkyk wees, want daar is diewe en boewe wat rondgaan en mense se goed steel en hulle selfs aanval. Toe kan hy sit terwyl sy met haar werk voortgaan. Hy tel ’n tydskrif van die tafeltjie op en blaai deur, maar die letters swem voor sy oë. Hy sien wel dit is ’n glanstydskrif van hulle dorp, gemik op die toeristemark, veral dié wat sou belangstel om eiendom te koop. Daar is ’n artikel oor die plaaslike internasionale skool, met foto’s van laggende kinders en ’n span bleek, uitlandse onderwysers. Hy sien ’n artikel oor ’n ses-en-tagtig meterlange superjag, die Seven Seas, wat in die hawe kom vasmeer het. Toe kom die agent uit en hy slaan die tydskrif toe. Die man lyk effens verbaas om hom te sien, maar groet nogtans vriendelik. Hulle gaan sit in sy kantoor. Mohammadar val dadelik weg. “Ek wil weet wat my huis werd is, die een op die rand van die dorp, oorkant die verkeersirkel op die pad na die hawe toe,” sê hy. “Ja, ek weet waar’s jou huis,” sê die man. “Bedoel jy,” gaan hy voort, “sy markwaarde, byvoorbeeld as jy sou wou ... verkoop?” “Ja,” antwoord Mohammadar, “byvoorbeeld.” “Wel,” sê die man, “jy weet, nou is ’n moeilike tyd om te verkoop, met die wisselkoers. Jy mag dalk nie die prys kry wat jy in gedagte gehad het nie. En die ander ding is, uitlanders is skrikkerig om nou te koop, vanweë die politiek. Wat se prys het jy in gedagte gehad?” “Ek weet nie, ek het maar net gewonder, miskien kan jy my ’n idee gee.” “Jou huis is goed gebou, ek ken die ontwikkelaar, en hy’s goed geleë, naby die dorp, en op die pad na die hawe toe, ek bedoel, hy’s goed geleë vir ’n plaaslike persoon, maar die uitlanders soek eiendom nader aan die lagune, en boonop soek hulle ’n plek wat ontwikkel is, met ’n muur rondom, ’n tuin, ’n swembad miskien, die hele ding.”

“Uitlanders!” roep Mohammadar verontwaardig, “Wie’t gepraat van uitlanders?” “O,” die agent skrik effens, “ek dog, ek het aangeneem, wel as ek jou die waarheid moet vertel, daar was ’n navraag so ’n paar maande gelede, maar ek het nooit gedink ... Ek ken jou kinders, hulle was ’n paar jaar na my op skool, Mourad en ... uhm …” “Assem.” “Ja, dis reg, Assem, so, ek het nooit gedink jy sou eers belangstel nie, maar daar was ’n man hier, ’n toeris, ’n uitlander, wat uitgevra het oor jou huis, so ’n lang maer een met ’n keps op, so ’n Che Guevara tipe keps. Ek’t gesê ek sal uitvind, hy moet oor ’n dag of so terugkom, maar hy het nie. Hy’t ook in geen ander eiendom belangstel nie, ek wou hom die nuwe villas naby die Sweedse hotel wys, maar hy’t net sy kop geskud.” Mohammadar het intussen opgespring en begin maak vir die deur. “Julle sal nie my huis kry nie!” skree hy, “Niemand sal my huis vat nie!” raas hy voort op pad na die voordeur, verby die verbaasde ontvangsdame. “Ek weet hoekom julle my huis wil hê, moenie dink ek weet nie,” roep hy vir oulaas oor sy skouer voor hy die deur agter hom toeslaan, “dis oor die ... stilte!”

Buite moes hy vir ’n ruk op die sypaadjie stilstaan en teen ’n lamppaal leun sodat sy hart kon bedaar. En die pyn in sy binneste, so voel dit vir hom, word net al hoe erger. Alles is wasig voor sy oë, en die son is so skerp. Miskien moes hy na die oogkundige daar oorkant gaan, dalk kan hulle hom help. Buite op die stoep sit die oogkundige se assistent, ’n jong kêrel, en gesels met ’n toeris. Die assistent groet hom vriendelik, hy moet asseblief ingaan, die oogkundige is nou besig, maar miskien kan hulle hom inpas. Binne is dit koel en die lig is minder skerp. Die oogkundige is besig om iemand se oë te toets, ’n dame van sy ouderdom wat hy vaagweg herken. Sy maak iets wat soos ’n proesgeluid klink toe sy hom sien. Die oogkundige vra hoe hulle kan help. “Ek wou net …” stotter hy, “ek het net gewonder, of julle miskien na my oë kan kyk.” Ja seker, sê die man, as hy nie omgee om ’n rukkie te wag nie, miskien wil hy buite op die stoep gaan sit.

Hy gaan staan buite en luister hoe die jong assistent, in Engels, ’n storie vir die toeris vertel. Daar was twee broers. Die ouer een was ’n goeie mens en hy was baie gewild by almal, hy was die koning. Die jonger een was sleg en agterbaks, ’n leuenaar. Die slegte broer het jaloers geraak op sy ouer broer omdat hy so gewild was by die mense, en toe het hy hom vermoor en sy liggaam in stukke gekap, en die stukke het hy wyd en syd oor die land gestrooi. Hy het toe koning geword. Die vermoorde broer se vrou was hartverskeurd, want sy was baie lief vir hom. Sy het toe rondgegaan, reg oor die hele Egipte, en al die stukke van haar man se liggaam bymekaargemaak en weer aanmekaar gesit. Sy het beskik oor bonatuurlike kragte, en daarna het sy met behulp van ’n towerspreuk weer lewe in haar man se liggaam geblaas. Die man is toe na die onderwêreld gestuur om daar te heers. Maar voor hy daarnatoe is, het hy en sy vrou ’n kind verwek, wat die regmatige heerser van Egipte moes wees.  ’n Lang, uitgerekte geveg het ontstaan, in samewerking met die gode, om die sluwe broer te onttroon, soos daar gesê is, sodat Egipte nooit weer deur ’n moordenaar regeer sal word nie. “Ek het studeer om ’n toergids te word,” vertel die assistent, “hier is ’n kollege hier naby. Dit is een van die verhale wat ons moes leer in ons kursus oor antieke Egipte. Maar daar is te veel toergidse en te min werk vir almal. Daarom werk ek as ’n oogkundige assistent.”

Miskien sal ek maar aanstap, dink Mohammadar, wat sal dit tog help dat hulle na my oë kyk. Die oogkundige kom uit en vra of hy wil inkom. “Nee wat,” sê hy, “ek sal maar op ’n ander keer weer hierlangs kom.” “Is jy seker?” vra die oogkundige vriendelik.

Binne sê die vrou vir die ontvangsdame: “Dis hy, dis daardie ou Fatma wat haar so upstairs  hou se man. Kan jy dit glo, wie sou so iets kon dink, hy’t gister vreeslik dronk geraak op die plein en homself toe op ’n jong man, jy weet, ja  ... só ’n jong man, en nogal ’n uitlander boonop, gewerp. Die hele dorp is vol daarvan. Kan jy dit glo. En sy seun is glo in Kaïro, die een wat so agter die meisies aan gehardloop het. Glo die rewolusie gaan red, maar ek hoor iemand het hom daar gesien. Glo net partytjies en vrouens. En dan hou die ou Fatma haar so upstairs, kan jy dit glo.

“Ja, nee, ek moet nou gaan, dankie,” sê Mohammadar vir die oogkundige, “ek sal weer môre ’n draai maak, dankie.” En hy begin verder met die straat op loop. Hy voel nou kalmer, behalwe vir die diep pyn wat deur sy binneste sny, en die verlange sonder wese of oogmerk. Maar hoe verder hy loop, hoe groter was die gelatenheid daaroor wat van hom besit geneem het. Miskien moet dit so wees, dink hy, miskien is dit hoe die lewe werklik is. Voor hom sien hy die einde van die straat, die pad, die sirkel, en sy huis aan die oorkant. Die hemel is so blou soos wat hy dit nog nooit gesien het nie, sy huis se voorste muur soos die hoofseil van ’n groot, statige ou skip op ’n kalm see. Ek moet voort vaar, dink hy, ek is swak, my hande bewe en ek sien sleg, maar ek moet aanhou vaar. Miskien sal ek êrens uitkom, eendag sal ek dalk weet wat alles beteken, wat die stilte van my wil hê, en wat die doel is van die grenslose verlange. Maar nou wil ek net eers graag ’n bietjie in die kaptein se kajuit gaan lê en uitrus, met die hortjies oop, sodat ek die seemeeue kan hoor.

Die deur is gesluit en hy moet vis in sy sak vir sy sleutel. In die kombuis is daar ’n nota langs die opwasbak: “Ek gaan na my suster toe in Ras Ghareb.” Hy loop kamer toe en maak die hortjies wawyd oop. Dan gaan lê hy op sy rug op die bed, met sy klere en skoene aan. Hy moes aan die slaap geraak het, want hy hoor ’n groot stem wat van êrens hoog af sê: “Kom, laat ons dink aan die heelal asof ons van buite af daarna kyk, want slegs dan kan ons tyd werklik verstaan, slegs dan kan ons die geskiedenis sien as een geheel – verlede, hede en toekoms – soos ’n boek waarvan ons die blaaie kan oopslaan op watter tyd en plek ons ook al wil.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top