
In Egipte was daar ’n huis, vlak langs ’n verkeersirkel. Die paaie wat uit drie rigtings by die sirkel bymekaargekom het, was grondpaaie. Een pad het hoofpad toe gelei, die tweede in die dorp in, tussen die winkels deur tot by die plein waar die buitelugkafees en restaurante was. Die derde was die pad na die hawe toe. Dit was nie ’n kommersiële hawe nie, net ’n vasmeerplek vir luukse jagte van regoor die wêreld, en weelderige woonstelle en restaurante rondom vir die eienaars van die jagte.
By die huis se voordeur was ’n bougainvillea wat hoog tot by die tweede vloer gegroei het. Vir die grootste deel van die jaar was die boom oortrek met blomme waarvan die kleur mens jou kon voorstel mooi in die middel tussen pienk en pers was. Dit het Mohammadar altyd goed laat voel as hy by sy winkel uitkyk oor die sirkel en die blomme soos spatsels verf in die helder oggendson teen sy huis se voorkant sien. Alles in ag genome, sê hy dan vir homself, gaan dinge nie te sleg nie. Tye is moeilik, dit was waar. Daar was al hoe minder toeriste die afgelope twee, drie jaar, maar hy maak nog genoeg, met al die skoolkinders wat in die middae fietse kom huur.
Fatma was bitter gekant toe hy by die hotel wou weg om die fietsbesigheid te begin. “Jy’s al oor vyftig, dis te laat om nou ’n besigheid te begin. Wat vir ’n besigheid is dit nou ook, fietse uithuur? Wie stel belang om fietse te huur? Boonop, wat weet jy van besigheid af? Jou hele lewe lank werk jy by ’n hotel.”
So het dit vir maande aangehou, terwyl dit by die hotel al hoe erger gaan. Hy’t keer op keer vir haar probeer vertel van die nuwe eienaars en die nuwe, jong bestuurder wat hom al sy dae gee. Uiteindelik het sy begin kalmeer, en dit het gelyk of sy aan die idee van ’n eie besigheid gewoond raak. Soms het hy selfs gedink sy is opgewonde oor die vooruitsigte, maar natuurlik sou sy dit nooit toegee nie.
Toe die afdanking kom, was hy hulle een voor. Hy’t genoeg weggesit gehad om die winkel oorkant die sirkel te huur, en hulle het met vyf fietse begin. Mourad was nog op skool, en elke middag het hy kom help met die skoonmaak en nasien. Omdat hy so gewild was, het baie van sy skoolmaats in die middae by die winkel kom uithang. Dan het hulle fietse gehuur om op en af mee te jaag en waaghalsige toertjies uit te haal, toe hulle kleiner was om mekaar te beïndruk, en later, op hoërskool, die meisies wat verbyloop op pad na die plein toe. Soms het dit so druk gegaan dat die klante moes toustaan. Dit was voordat hy genoeg gehad het om meer fietse aan te skaf. Nou het hulle ’n stuk of twintig, en ook vyf motorfietse, veldfietse. Mourad is later klaar met skool en het voltyds kom werk. Toe kry hy ’n idee om toere met vierwielmotorfietse in die woestyn in te begin, maar Mohammadar wou niks daarvan hoor nie. Hy kon nooit presies verduidelik hoekom nie, dit was net ’n gevoel dat hy nooit met daardie tipe klant oor die weg sou kom nie. Te raserig, te luidrugtig, en onbeskof daarby, meestal Italiaans, met hulle Arafat-kopdoeke en donkerbrille.
Uiteindelik is Mourad weg om sy eie ding te gaan doen, maar dit was nie vierwielmotorfietse nie. So was hy altyd, wispelturig, kan nie lank op een ding konsentreer nie. Maar ’n hart van goud. Maak vriende net waar hy gaan, met toeriste ook. Hy koop toe ’n toek-toek. Met ’n banklening. Mohammadar was buite homself van woede en hy het gesukkel om homself in toom te hou, want hy het nooit sy stem verhef teenoor sy kinders nie, selfs nie toe hulle tieners was nie. “Jy weet tog wat die banke doen, ons het al baie daaroor gepraat. Hulle lok die jong mans om ’n lening aan te gaan wat hulle in jare nooit kan terugbetaal nie. Oor drie jaar vat hulle die ding terug en jy sit met niks. Jy’t self vertel dit het met baie van jou vriende gebeur.”
Maar Mourad wou nie hoor nie, en buitendien was dit te laat. Van toe af was die geel-en-swart toek-toek dikwels voor die fietswinkel geparkeer. Van daar af kon hy toeriste wat na die jagte wou gaan kyk, hawe toe vat, of hoofpad toe om van daar af ’n minibus te haal stad toe. En dit het vir Mohammadar ekstra besigheid begin bring. Soveel dat hy aangebied het om te help, en binne drie jaar was die toek-toek afbetaal. Die skelm bankbestuurder se gesig het gelyk of hy iets suurs geëet het toe hulle die laaste paaiement voor hom neersit. Maar hulle het al die papiere by hulle gehad. Geleidelik het die gesette man begin ontspan en later selfs lekker gelag vir Mourad se goedige geskerts. En hy’t geteken – die lening was afbetaal.
Kort daarna is Assem weg by die hotel waar hy gewerk het. Dit was ’n skok vir die familie, want hy het niks van sy planne laat blyk nie. Vir ’n maand of ses het hy saam met ’n vriend ’n soewenierwinkel aan die gang probeer hou, maar Mohammadar het geweet dit sal nie uitwerk nie. Assem was presies die teenoorgestelde as sy broer, stil en ingetoë. Maar ’n slimkop; as hy ooit geld gehad het om ’n kind te laat verder leer sou dit hy wees. Nee, die soewenierbesigheid kon nie werk nie, Assem was eenvoudig nie die soort wat heeltyd verbylopende toeriste kon pes om in te kom en te kom kyk nie, daarvoor was hy te ernstig, te waardig. Mohammadar was eintlik bly toe hy dit opgee, want toe kom hy in die fietswinkel werk. Hy’t vinnig geleer om al die onderhoud en herstelwerk self te doen, en later het hy die bestellings en die boekhouding oorgeneem.
Eintlik was daar min oor vir Mohammadar om te doen in die winkel, maar hy geniet dit nogtans om daar te wees, veral in die middag as die kleinkinders met hulle vriende daar kom saamdrom en met die fietse op en af jaag in die straat. Ja, alles in ag genome gaan dinge nie te sleg nie, sê Mohammadar dan vir homself terwyl hy by die winkel uitkyk oor die sirkel na die bougainvillea se helder pienk-pers blomme by sy huis se voordeur.
Dit moes na die Christen-nuwejaar gewees het toe hy eendag die toeris oorkant die sirkel voor sy huis opmerk. ’n Lang, skraal man in ’n langbroek en T-hemp, met ’n trui of sweetpaktop om sy middel gebind. Dit was verstandig, het hy gedink, want hoewel die dae heerlik warm was, koel dit vinnig af saans, en dan kon dit boonop winderig raak, veral by die hawe, soos waar dit vir hom gelyk het die man op pad heen was. Of eerder hulle, want daar was ’n vrou ook, korterig, met ligte hare. Dit was te ver om enigiets van hulle gesigte uit te maak, maar dit het gelyk of hulle sonbrille dra.
Hy sou hulle seker nie eens opgemerk het nie, as dit nie was dat die man gaan stilstaan het voor sy huis nie. Hy’t na die boonste vloer opgekyk, van links na regs gekyk, van bo na onder en weer na bo. Daarna het hy effens agtertoe getree en die proses ’n hele paar keer vanuit verskillende posisies herhaal. Die vrou het geduldig gestaan en wag, maar sy het duidelik nie die man se belangstelling in die huis gedeel nie. Sy het van oorkant die pad af in die rigting van die winkel gekyk, en moontlik verder op in die straat wat dorp toe lei. Na ’n ruk het haar geduld skynbaar opgeraak, want sy het omgedraai en in die rigting van die hawe begin loop. Die man se bewegings het meer freneties geraak nadat die vrou begin wegstap het. Hy het op en af in die pad gekyk, en toe daar geen verkeer meer was nie reg in die middel van die pad gaan staan, ’n kamera te voorskyn gehaal en foto’s begin neem van die huis. Telkens het hy verstellings aan die kamera gemaak, maar Mohammadar kon nieteenstaande die afstand aan die afwesigheid van ’n bonkige lens aflei dat dit nie ’n professionele apparaat was nie.
Eindelik het hy op sy hurke gaan sit in die middel van die pad en nog foto’s geneem, maar toe daar weer verkeer aankom vinnig die kamera weggesit en begin loop in die rigting waarin die vrou verdwyn het. Mohammadar onthou hy het op sy horlosie gekyk. Dit was net na drie, dalk tien oor drie, maar beslis nie later as kwart oor drie nie.
Die dae daarna was stil. Meeste toeriste het vertrek, en die skole het nog nie begin nie. Hy het nie weer die een gesien wat foto’s van sy huis geneem het nie. ’n Paar keer in die middag, as hy uitkyk oor die sirkel na sy huis, het hy ’n vreemde gevoel gekry, amper soos ’n onrustigheid, maar dan is hy weer agtertoe om te gaan kyk wat Assem doen. Een middag, hy weet nie of hy weggedommel het terwyl hy gesit en koerant lees het nie, maar toe hy opkyk was sy huis skielik groter as gewoonlik voor hom, asof dit los van die grond af staan, kompleet of dit sweef op ’n soort wasigheid. Daar was geen kleur nie. Hy knip sy oë, maar dit maak geen verskil nie; die bougainvillea se blomme bly donker vlekke teen die bleekwit muur, reg langs die gapende gat waar die voordeur moet wees. Die gebou reik in sy geheel soos ’n kil, grys, nouerwordende monoliet hoog in die wolklose hemel in. ’n Stilte, allesomvattend en diepgaande, het om die huis gehang en besit geneem van die skaduwees wat die middagson op die grond maak. Vanaf die kinders op fietse en motors in die pad het geen klank hom bereik nie. Hy’t gedag dat hy die stilte fisies ervaar, nie as die afwesigheid van iets nie, maar eerder as ’n aktiewe uitstraling. En die uitstraling se werking in hom het ’n grenslose verlange na iets totaal onbekend veroorsaak, iets wat so diep verborge was dat geen mens ooit daarvan bewus sou kon word nie. Assem kom binne en skrik toe hy sy vader sien.
“Wat is dit, wat het gebeur? Jy’s so bleek soos ’n laken.”
“Ek weet nie…” stamel Mohammadar, “nee...nee, ek’s reg, ek het seker net ingedut,” en hy staan op. “Ek sal by Faoud langs gaan, miskien sal tee my goed doen.” Hy’t op sy horlosie gekyk. Dit was tien oor drie.
Buite het hy onderlangs oor die pad na sy huis gekyk, maar van sy gewaarwording van flussies was daar geen teken nie. Faoud het hom soos gewoonlik hartlik gegroet en voorgestel hulle gaan koffie drink en hookah rook op die plein. “Kom,” het hy gesê, “ek het ’n goeie oggend gehad.”
Hulle stap in die straat af, en sover hulle gaan groet hulle die ander winkeleienaars wat in hulle deure staan of in groepies op die sypaadjie sit en tee drink. Dan kom hulle by die brug oor die kanaal. Die water lê spieëlglad en helder, en hulle kan visse vinnig heen en weer sien swem. Die weerkaatsing van die brug se halfronde opening in die water sluit naatloos aan by die opening self, sodat werklikheid en weerkaatsing saam ’n vol sirkel vorm. Mohammadar wonder hoekom hy dit nooit voorheen opgemerk het nie. Dit moet die soort ding wees wat skilders en fotograwe raaksien, en hy wonder hoe dit sal voel om so iets met ’n kamera te staan en afneem.
Ondertussen babbel Faoud onophoudelik voort; “Beste was ’n halssnoer en oorringe, saffier, wat ek verkoop het aan ’n vrou van Oekraïene. Baie vriendelik, praat Engels. Ek vra haar hoe dit kom dat sy Engels praat, en sy sê van haar man, glo van Suid-Afrika. Hy het heeltyd buite die deur gestaan. Lank en maer, wit soos ’n laken. Gestaan en staar na iets op in die straat.” Maar Mohammadar het skaars geluister, hy was te veel in die war. Dalk sou hy ’n dokter moes gaan sien, maar wat sou hy vir die dokter sê? Hoe kon hy beskryf wat hy ervaar het sonder dat hulle sou dink hy was besig om van sy kop af te raak?
Hulle kom aan op die groot plein waar al die strate uit die besigheidsdistrik bymekaarkom. Daar is restourante amper reg rondom, elk met sy eie pleintjie voor waar stoele staan en wag om op gesit te word. By meeste van die restourante is al die stoele leeg en verlate, maar nietemin vol kleurvolle uitnodiging en belofte van sagte gerief. Een plek is stampvol, met ’n buite-area twee keer so groot soos die ander, en gelukkig kry hulle plek taamlik voor waar die middagson nog nie deur die skaduwee van die gebou agter hulle oorval is nie.
“Ou Mahomet doen goed hé?” sê Faoud. “Wie sou kon dink, onthou jy nog toe ons saam op die skoolbanke gesit het in Ras Ghareb? Hy was nie presies wat jy skerp sou noem nie, en kyk nou. Goedkoop kos, en goeie kos moet ek bysê, goeie koffie, en met soveel klante kan hy sy pryse laag hou. Sy bier is die goedkoopste in die omgewing. Dis wat die toeriste lok. Die ander ouens kan nie byhou nie. Ek hoor ou Mostafa daar oorkant soek ’n koper. Wie sal wil betaal vir daardie duur stoele?”
Hulle bestel koffie en hookah. Die kelner, een van ’n hele span wat op strategiese plekke tussen die tafels staan, netjies geklee in ’n swart broek, donkergroen langmou hemp en swart onderbaadjie, maak die hookah staan langs die tafel en begin met die voorbereidingsritueel. Eers breek hy die shisha in stukkies wat hy in die bakkie laat val. Dan bedek hy die bakkie met aluminiumfoelie wat hy styftrek en om die rand vaskrimp. Met ’n tandestokkie maak hy ’n aantal gaatjies in die foelie, en dan plaas hy gloeiende kole met ’n tangetjie op die styfgespande foelie. Uiteindelik kry hulle elkeen ’n skoon mondstuk wat hulle by die pype se openinge inforseer. Faoud begin eerste trek.
Ondertussen het Mohammadar begin rondkyk na die klante rondom hulle. Daar is families, man, vrou in burka, en ’n rits kinders van klein tot groot, die kleintjies wriemelend op hulle stoele, die groteres se aandag volledig in beslag geneem deur elektroniese apparate waarop hulle vingers en duime blitssnelle bewegings maak. Groepe tieners laggend en skertsend, met hulle onderlinge intriges en vinnig-verskuiwende affiniteite en lojaliteite, stampend en kamtig slanend aan mekaar. Hier en daar ’n tafel met toeriste, meestal pare, die jongeres met kinders. Die oueres bleek maar met ’n roospienk blos op hulle wange van al die rondstap in die vars lug en die son; die mans met groot buike onder hulle T-hemde en dun, wit bene wat uitsteek onder hulle kortbroeke. Die vrouens asof hulle energie en sportiwiteit wil uitstraal in hulle wit hardloopskoene en ewe wit golfkepse. Mohammadar wil aan hulle dink as mense soos hyself, maar telkens skuif daar ’n wolk voor sy gedagtes in, amper ’n fisiese opwelling van diep onder uit sy maag as hy probeer dink dat hulle elkeen êrens behoort, ’n dorp, ’n straat, ’n huis. Faoud klop teen sy skouer.
“Jou beurt.” Mohammadar se hand bewe toe hy die mondstuk vat en begin trek.
“Wat bewe jy so? Ek’t gesien hoe sit jy en rondkyk. Jy weet hulle sê as ’n man bewe wanneer hy hookah rook, beteken dit hy kyk na ander vroue.” Faoud lag.
Mohammadar het juis net ’n goeie teug gevat en hy moet keer om nie te verstik nie.
“Nee...ek wonder maar net…” Hy wonder oor hierdie ongewone gedagtes wat hy kry, en of Faoud, en ander mense, ook sulke gedagtes kry. Hoe sou jy ooit kon weet, jy kan hulle tog nie vra nie?
“Ja,” sê Faoud, “ek weet jong. Ek wonder ook dikwels waar alles heengaan. Ek bedoel, ons woon hier, en ons is nie te vrot af nie, ek en jy, en ons het dit wragtig nie maklik gehad nie, maar kyk nou net in watse gemors is die land na daardie sogenaamde rewolusie. Gelukkig is ons ver van Kaïro af, maar natuurlik voel ons die effek ook hierso. Kyk na ons dorpsraad, nou moet hulle meer druk op die hotelle sit vir hoër lone en allerhande voordele vir die werkers. En dit met die afname in toerisme, en wie se skuld is dit? As dit nie was vir die moeilikheid in Kaïro nie, sou alles nog goed gegaan het. Hoe kan die hoteleienaars hoër salarisse betaal en voordele uitdeel as die toeriste nie kom nie? Maar dit kan hulle nie verstaan nie, die jonges. Weet nie wat dit is om te werk nie. Wat het ek en jy gekry by die hotel? Elke dag van ses tot tien, Kersfees en Nuwejaar vier en twintig uur sonder ekstra betaling, miskien oorskietkos om huis toe te vat. Kla kon jy nie. Ja jong, ek weet hoe jy voel. En nou praat my Khaled van Kaïro toe gaan. Daar kom glo nog moeilikheid, hulle praat so op die internet. Ja, ek weet nie, die ou wêreld is heeltemal onderstebo. Kyk nou net daar.” ’n Groep tieners loop voor hulle verby oor die plein. Die dogters dra almal blou denim kortbroeke, sommige so kort dat die onderkant van die boud sigbaar word as ’n been vorentoe gesit word. Die seuns se hare is of met jel gestileer sodat dit wilde punte in alle rigtings maak, of dis skoongeskeer aan die een kant en ’n lang kuif hang half oor die ander kant van die gesig.
Faoud sug diep, “Vat nog ’n trek, jong.” Dan word hy stil, en hulle sit saam en kyk hoe die skaduwees langer word oor die plein en soos stygende water opkruip teen die mure van die geboue aan die oorkant. Skielik is dit koel, en toe die Muezzin vanaf die moskee roep vir Maghrib, sê Faoud: “Kom jong, kom laat ons gaan.”
Lees volgende week deel 2.

