Die stille verdwyn met Alzheimer’s

  • 1

Vuur. Water. Gebrek aan lug. Insekte. Reptiele. Donkerte. Klein spasies. Hoogtes.

Die meeste van ons vrees ten minste een van die lysie hierbo. Sommige vrese is in ons reptielbrein gesetel. Rasioneel weet ons daai vrese is daar vir ons beskerming. ’n Gesonde vrees vir vuur beskerm ons daarteen om roekeloos op te tree en te brand. Die vrees vir donkerte is gewortel in ’n tyd toe roofdiere jou kon aanval en opvreet voordat jy die gevaar kon sien. Dis vandag nog so, behalwe dat die “roofdiere” dieselfde spesie as onsself is. Moeiliker om te weet wie is vriend en wie is vyand, dus.

Elke oervrees is ontwerp in diens van beskerming en behoud van fisiese lewe. Ons vrees goed wat ons lewe voortydig kan kortknip, of dit nou bewustelik of onbewustelik is. Tegnologie en mediese deurbrake beteken dat ons lewe aansienlik verleng word. Beskawing, in soverre as wat ons die grootskaalse saamgroepering van mense beskaafd kan noem, verseker dat aanvalle deur wilde diere skaars is. Wild is getem en beperk tot toenemend kwynende areas.

Lewe soos wat die oermens dit geken het, is eintlik heel veilig. Die vrese wat Neanderthals beskerm het, is grootliks uit die weg geruim. Die grootste bedreiging vir ons fisiese integriteit is deesdae ander mense.

Fisiese integriteit is egter nie al bedreiging wat ons hedendaags ervaar nie. Wat van gevare wat ons fisiese liggaam ignoreer en die minder tasbare dele van ons Self aanval en vernietig? Hoe hanteer ons dit? Hoe beveg ons ’n vyand wat in ons liggaam is?

Kanker. MIV en VIGS. Parkinson’s. Alzheimer’s. Die lys is eindeloos lank.

Alzheimer’s is die een wat filosofies en persoonlik sekerlik my die meeste laat kopkrap. Persoonlik omdat dit in my familie voorkom. Filosofies omdat dit raak aan die hart van ons menswees. Hoeveel van ons wese is nie opgesluit in ons ervarings, in ons herinneringe nie? En as jy dit verloor, is jy nog dieselfde persoon? Kan jy nog dieselfde persoon wees? Ons is tog meer gees as vlees, of is ons nie?

Almal vergeet. Sommige goed is nie die moeite werd om te onthou nie. Maar wat as ons die belangrike dele, die dele wat ons menswees help skep het, vergeet? Wat as ons vergeet van familie, vriende, kinders, geboortes, sterftes? Wie is ons dan?

Hierdie afgelope naweek het ons my tante se 75ste verjaarsdag gevier. Dit sou net familie wees, het haar dogters besluit. Sy het op die rusbank gesit en aanvanklik die aandag geniet. Na omtrent ’n halfuur het sy haar handsak onder haar arm gevou en begin rondkyk vir haar dogter. Ek kon sien sy is nie meer lus vir al die mense nie, sy wil nou huis toe gaan. Sy het deurmekaar begin raak en nie besef dis haar broers en susters met hulle kinders wat om haar is nie. Sy het nie meer geweet dis haar partytjie nie. Sy het haar eie kleindogter nie herken nie en haar gevra wie se kind sy is.

Ek praat gereeld met haar op die telefoon. Dis elke keer dieselfde gesprek, maar sy besef dit nie. Ek wonder soms wat erger is: wanneer mense besef hulle verloor stukkies van hulself, of wanneer hulle dit nie agterkom nie.

Sy was in my grootwordjare die spitsvondige een wat altyd met ’n woordspeling of nuwe woorde vorendag gekom het. Op laerskool moes ons nog breiwerk inhandig as deel van ons naaldwerk. Borduur, dié kon ek doen, maar met ’n breipen in die hand was ek onbeholpe. Dan het sy elke keer ingespring en gehelp. Die heel eerste kassette wat ek in my hele lewe besit het, Cliff Richards se Young ones, het sy vir my gekoop. Ek onthou dit, maar sy weet glad nie meer waarvan ek praat nie.

Sy was die een wat altyd verjaarsdae en spesiale geleenthede onthou het. Nou moet ons haar help onthou.

Die Dixie Chicks het ’n ruk terug ’n liedjie, “Silent House”, opgeneem oor ’n ma met Alzheimer’s.

Who do we become without knowing where we started from ... Every day that will pass you by, every name that you won’t recall ... and I will try to connect all the pieces you left ... and I’ll remember the years when your mind was clear, how the laughter and life filled up this silent house ...

Dis moontlik om iemand te mis terwyl hulle fisies teenwoordig is. Die oermense het dit nie geweet nie, maar daar is verliese wat nie tot vermindering in ledetalle lei nie. Dis moontlik om te verdwyn terwyl jou liggaam nog teenwoordig is.

Dis my groot vrees: nie vuur of water of gebrek aan lug nie. Dat my verstand sal gaan en my liggaam bly.

Alzheimer’s South Africa bied ondersteuning aan families deur middel van ’n verskeidenheid dienste en aktiwiteite. Besoek hulle webwerf by https://alzheimers.org.za/ of stuur ’n e-pos na info@alzheimers.org.za.

  • 1

Kommentaar

  • Marié de Roos

    Daarom, drink maar foliensuur en vitamine B12 en leer sommer 'n nuwe taal ... en hoop vir die beste!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top