Die stem van Lucky: Adriaan Louw gesels met Eben Venter

  • 0

Adriaan Louw het tydens die afgelope US Woordfees vir Eben Venter raakgeloop en hom uitgevra oor sy jongste roman, Santa Gamka.

 

 

Die titel van jou jongste roman is sowaar baie interessant. Wat skuil daaragter en waar kom dit vandaan?

Santa Gamka is die naam van ’n dorp in die Groot Karoo wat ek opgemaak het. Gamka beteken "leeu" en die werklike naam van die dorp is eintlik St Gamka. Die bruin mense maak Santa Gamka daarvan, dis hoe hulle die dorp vir hulleself toe-eien. Die besit-neem-van is belangrik, veral vir die hoofkarakter, die rentboy Lucky Marais.

Watter rol speel die tema heiligheid in die boek?

Kyk, ek het aanvanklik dat die getal sewe, ’n heilige getal, ’n belangrike rol in die storie laat speel. Die eienaar van die pottebakkersoond se naam was ook eers Clementine. Clemens beteken "genade" in Latyn. Maar toe het ek daardie laag weggestroop om die storie meer kaal te vertel. Soos die huis waaruit Lucky kom: modder, klip en sinkplaat. Die eenvoud daarvan, die enkelvoudigheid, dít neem ’n spesiale plek in die lewe van Lucky in. Om so ’n huis heilig te noem, is miskien om te veel daarvan te maak.

Watter rol speel jou persoonlike spiritualiteit as skrywer in die skryf van ’n boek waar hierdie tema eintlik sentraal is?

Spiritualiteit het sentraal gestaan in ’n vorige roman, Ek stamel ek sterwe. Aan die einde van die boek het ek die opeenvolgende fases van die sterwensuur soos opgeteken deur die Boeddhiste gebruik en by die teks ingewerk. Lucky se ma hamer hom aanhoudend met: "My kind, jy moet kan onderskei tussen goed en kwaad." Dis die buitenste grens van sy spirituele lewe. Lucky is veel eerder geworpe binne sy onmiddellike lewe. Sy sintuiglike ervarings staan voorop. Daarna kom sy geneigdheid om oor sy eie lewe en dié van ál die van die mense om hom te besin. Hy is ’n jong gees.

Die dood speel wel ’n rol in Lucky se lewe. Skrywers skryf ook dikwels oor dit waarvoor hulle vrees. Is dit so in jou geval?

Lucky is verras dat sy dood so vinnig op hom afgekom het. Hy probeer dit dapper tegemoetgaan, soos hy met sy lewe gemaak het. Arm grootgeword op ’n vasgestampte grondvloer, en in dieselfde grond, ’n armmansgraf, sal hy nou begrawe word. Tussenin is sy fel stryd om aan daardie armoedige grond te ontkom. Selfs in daardie beknopte ruimte aan die einde van sy lewe stry hy nog. Dis ’n benoude en beangste bakleiery met sy eie liggaam en met die sondes (was dit werklik "sondes"?) wat hy mag gepleeg het.
Lewensangs opgejaag in ’n beknopte ruimte – dis ook iets wat ter sprake kom in Horrelpoot. Dit mag iets te make het met my eie engtevrees. Dit is plesierig om dit in stories te ontgin.

Ons leer Lucky reeds vroeg in sy lewe ken en neem afskeid van hom as ’n volwasse man. Was dit moeiliker om oor die groeiproses te skryf as net ’n gedeelte in sy lewe?

Toe ek eers Lucky se stem gekry het, was dit vir my lekker en maklik om te vertel hoe hy grootword. Materiële goed soos Levi’s, ’n Chico en sjampoe en ’n selfbevestigende, parmantige houding is boustene wat in sy kleintyd al manifesteer. Woorde ook. Op ’n bewuste en by tye selfbewuste manier gebruik hy die stene om homself verder op te bou. Heel aan die einde van die storie staan en praat hy baie sterk.

Hoe skets mens die hele groeiproses sonder om enige belangrike besonderhede uit te laat, maar om dit nie te langdradig te maak nie?

Ek hou van ’n boek wat hier teen 250 bladsye klaarspeel. Maar ek hou ook van besonderhede. Soos die blaspienk kleur en vleesgeur van daardie veldblom wat Lucky teen laatmiddag vir een van sy kliënte gaan wys. Oordadig met besonderhede sou ek nie in die storie kon wees nie. Dit sou nie by Lucky pas nie. Wat wel by hom pas, is om die besonderhede van sy armoedige begin-lewe op te weeg teen dié van die lewe wat hy tegemoetgaan.

Lucky het sy naam by sy ma gekry omdat sy gedink het dat hy “anders” is. Dink jy dat hy wel op die ou end “lucky” is?

Hy het ’n definitiewe besef van wat ongeluk is. Om skool te verlaat en vir die res van jou lewe volstruise op te pas en Vrydae-aande dronk te word en te tiep as jy by die tavern uitloop, dit is die afgrond wat sommer net hier by hom is. Een dwars stap en hy’s daar af. Op ’n durend bewuste manier hou hy hom ver van daardie afgrond. Daar is tye waar hy op die stoep met sy twee wêreldse vriende sit en homself verloor. Daar is die bier, die andersheid van die geselskap, die afsondering van die openbare oog, die luukse om net daar te kan wees. Meestal is geluk, soos liefde, ’n toestand of disposisie wat net buite sy bereik bly.

Om terug te kom by die hele groeiproses: Hoe besluit mens wanneer die verhaal moet eindig, aangesien mens nooit werklik ophou geestelik groei nie?

Ek het van die begin af geweet waar ek die storie wil eindig: in die stad van sy drome. Madonna sê dat New York nie ’n stad is nie, maar ’n "state of mind". Lucky se aankoms in daardie stad is byna die voltooiing van sy groeiproses, baie ver verwyderd van die huis van klip, modder en sinkplaat. Býna die voltooiing, want ook hier, nes tuis, besef hy dat sy bruin vel nie goud werd is nie. Dit is nie vir hom ’n verrassing nie, maar vul sy geestestoestand aan. Wanneer hy besluit om die ding wat hy die beste in sy lewe kan doen ook te laat vaar in ’n situasie waar hy dit juis nodig het, maak hy ’n deur vir homself oop om met die res van sy lewe te begin. In ’n ander rat.

Die taalgebruik in die Groot-Karoo is heeltemal anders as in vele ander streke, wat daarop dui dat die skryfproses ook vele navorsing insluit. Hoe gaan mens te werke as jou hoofkarakter in ’n ander “taal” praat?

Ek het lank en hard gewerk om die stem van Lucky reg te kry. Sy Afrikaans is deurtrek van woorde en uitdrukkings wat jy assosieer met iemand wat van ’n klein dorpie af kom, van die plaas af, ’n mens van die aarde. Hierdie woorde en uitdrukkings het ek jare lank in die Groot Karoo versamel. Vermeng met die aardse woorde is nog ouer, argaïese woorde wat lankal nie meer deur blanke Afrikaanssprekendes gebruik word nie. Daarmee verbind Lucky hom aan sy mense se voorgeskiedenis in die Groot Karoo. Laastens bevat sy taal ook nuwe, en aan hom wonderbaarlike, woorde en uitdrukkings. Hy oes dit by sy Engels-onderwyseren by sy twee wêreldse vriende. Van die woorde gebruik Lucky om homself te emansipeer, weg van sy grond-identiteit af weg. Uiteindelik is Lucky se taal egter syne. Daar is niemand wat heeltemal soos hy praat nie. Sy taal is sy "lucky dip"; niemand kan hom dit nadoen nie. Dis sý manier om homself te probeer gelukkig maak, sy kans wat hy self gemaak en toe gevat het.

Uitgewer: Tafelberg
ISBN:9780624048138

Klik hier en koop jou eksemplaar van Santa Gamka nou van Kalahari.net!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top