Die spook van Noupoort

  • 0

Foto: Canva

Die spook van Noupoort

Meneer Oelofsen, wat naby die dorp op kleinskaal boer en onderwyser in die hoërskool is, en ene Doubell, sy vriend, melk koeie in sy melkstal. Die koeie wat gewoonlik rustig is wanneer hulle gemelk word, is vanoggend onrustig. Onder die koei se pens deur sien Doubell ’n klein vroutjie in ’n swart rok met ’n Voortrekkerkappie op. Meneer Oelofsen sê nee, sy het ’n mussie op.

Anderkant Noupoort op pad na Middelburg is ’n smal poort tussen twee koppies waardeur die pad loop. ’n Poskoets was op pad na Kimberley met ’n klomp goue ponde op reis vir mynbase om hulle werknemers te betaal. ’n Meneer Kerr en sy broer het die koets in die poort voorgelê en van al die geld beroof. Die broers deel die geld om die helfte.

Die vroutjie in swart laat bou ’n winkel naby ’n moeras, wes van die dorp. Groot reëns het in die Donkerpoortberge en op Noupoort uitgesak en die moeras weggespoel. Haar winkel bly ook in die slag. Net die fondasies bly oor.

Raap Viljoen is ’n veeboer. Sy huis is digby die opstal van oom Dyk de Villiers se plaas langs die oewer van Noupoortsloot. Met nuwemaan, laat in die nag, huil ’n rooijakkals Raap wakker. Dis asof die jakkals onheil aankondig. Hy is bang. Hy bly die res van die nag en rondrol.

Raap bou ’n skuur bo-oor die fondasies van die winkel. Die vroutjie sit intussen die goue ponde in ’n kakie sak wat sy toewerk en onder die grond wegsteek. Enkele oggende daarna stoot Raap die deur van die skuur oop. Terwyl hy dit doen, skrik hy toe die nuwe deur se slot weg is en die skuifdeur van sy skuur kraak. Die vroutjie het dié nag die sakkie opgegrawe en die ponde in Consul-inmaakbottels voor die skuur neergesit. Sy wou eers die geld vir Raap wys, maar verander van plan. Hy vra haar waarom nie. Sy swyg.

Raap kry ’n man van Johannesburg om die vroutjie te dwing om die geld te wys. Sy vererg haar bloedig en gee die man ’n helse pakslae. Hy is so bang vir haar dat hy op die eerste trein terug na Johannesburg klim.

Een aand – dit was volmaan – oorreed sy meneer Pretorius, die skoolhoof, meneer Oelofsen wat in die hoërskool Skeinat en Wiskunde doseer, en Raap, die boer, om in haar huisie wat haar oorlede man na die vloed opgerig het – in die sitkamer – langs mekaar te staan. Elkeen het ’n baadjie aan. Sy het ’n spesmaas een van hulle het die geld in sy baadjiesak. Sy voel deur meneer Pretorius en meneer Oelofsen se sakke. Sy kry geen geld nie. Koue vingers streel oor meneer Oelofsen se kneukels. Hy kry hoendervleis. Hy voel sy ruggraat yskoud word en sy hare rys. Hy draai vinnig om om te sien wie dit gedoen het. Hy sien niemand. Die lig gaan af.

Terwyl meneer Oelofsen verdwaas bly staan, draai die vroutjie ’n sakdoek om sy hand om hom te brand. Sy kry dit nie reg nie en sê meneer Oelofsen moet dadelik huis toe gaan. Met haar fyn stemmetjie beveel sy hom om nie weer na haar huis te kom nie.

Raap gaan bankbestuurder toe met sy nuwe rykdom in ’n baadjiesak. Die twee ken mekaar lankal en is ou vriende. Raap vra die bankbestuurder wat hom te doen staan om die goue ponde in wettige geld om te sit. Die bankbestuurder stel Raap gerus. Hy sal die geld was. Raap is weg met ’n banksak vol geld.

Raap betaal die verband op sy plaas af en koop ’n splinternuwe kar. Hy en sy vrou ry die hele land deur.

Toe die vroutjie weer verskyn, sê meneer Oelofsen, was sy net agtien duim hoog. Hy was korrespondent van Die Burger en vertel die spookstorie in detail. Lesersbriewe wissel in reaksie op die storie. Een van hulle skiet die verhaal as snert af. In spoke glo hy nie. ’n Ander leser skryf sy het haar in die storie ingeleef. As jong meisie het sy in die donker met ’n flou flits deur die dorpsbegraafplaas geloop, kortpad huis toe. ’n Kort vroutjie in swart geklee het oor die grafte gesweef, terwyl sy die dooies koggel en uitnooi om uit hul ewige tuistes te klim. Uit die gruisakkers voor die wit grafstene klink treurliedere op. Die lyke is dood lewendig.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top