Die sosiale kontrak en korrupte herders

  • 3

In sy boek Leviathan (1651) beskryf Thomas Hobbes die menslike bestaan voordat daar ’n samelewing was, soos volg:

Where there is no common power, there is no law, where no law, no injustice. Force and fraud are in war the cardinal virtues ... No arts, no letters, no society and which is worst of all, continual fear, and danger of violent death; and the life of man, solitary, poor, nasty, brutish and short.

Hobbes gaan voort en verduidelik dat mense in groepe bymekaar begin kom het en hul natuurlike vryheid prysgegee het uit vrees en in ruil vir veiligheid. Ander filosowe, soos Bentham, en veral Rousseau, het op hierdie teorie voortgebou. Alhoewel hulle op vele punte van mekaar verskil het, het almal  die ooreenkoms om saam te bly, die sosiale kontrak genoem.

Die inhoud van die sosiale kontrak kom kortliks op die volgende neer: lede van die gemeenskap kom ooreen oor sekere reëls, wat almal sal navolg. Indien iemand nie die reëls volg nie, sal andere in die gemeenskap by magte wees om hulle te dwing om die reëls na te kom. Sommige lede, omdat hulle natuurlik leiding neem, sal in beheer van die gemeenskap wees. Elke generasie sal opnuut hul leiers moet kies. In ruil daarvoor dat lede hulleself onderwerp aan die beheer van die regering, sal die regering na hulle omsien en hulle beveilig.

Die kontrak is duidelik oor wat gebeur indien lede nie hulle verpligtinge nakom nie. Maar wat gebeur wanneer die regering nie sy verpligtinge nakom nie?

Wat gebeur wanneer die regering militêre mag gebruik om sy verkose verteenwoordigers te onderdruk? Wat gebeur wanneer die regering toelaat dat weerlose, siek lede sterwe omdat dit goedkoper is as om hulle van kwaliteitsorg te voorsien? Wat gebeur wanneer die regering, of lede daarvan, sy gemeenskap besteel? Wat gebeur wanneer die regering sommige lede of groepe beskerm ten koste van ander?

Wat gebeur wanneer die regering die gevaar is waarteen die gemeenskap beskerm moet word?

Ons het hierdie jaar al verneem dat minstens 94 geestesversteurde mense gesterf het nadat hulle in die sorg geplaas was van nieregeringsorganisasies wat nie behoorlik na hulle omgesien het nie. Hulle het gesterf omdat die regering nie bereid was om te betaal vir behoorlike sorg nie. Hulle het gesterf omdat daar nie in hulle basiese behoeftes van water, kos en behoorlike beskutting voorsien is nie. Hulle het gesterf omdat wins belangriker geword het as mense. Die  Esidimeni 94 se dode was heeltemal voorkombaar. En die regering het nie ’n vinger verroer om dit te verhoed nie.

Hulle het inderdaad geweier om, op versoek, ’n oomblik van stilte te handhaaf vir die grootste lewensverlies wat hierdie regering nog die hoof moes bied. Hulle het geweier omdat hulle ’n politieke spel belangriker ag as die lewens van hulle lede. Dit moes in die eerste plek nie nodig gewees het dat iemand moes vra vir stilte nie, hulle moes dit outomaties gedoen het. Om die versoek dan nog te weier ook? Dis die handeling van ’n regering wat heeltemal uit voeling is met, en empatie verloor het vir, die lede wat hom verkies het.

Ons het gesien hoedat verkose lede in die parlement aangerand is. Ons moes aanskou hoedat die lede wat die taak opgelê was om die gemeenskap te beveilig, die lede wat ons moet verteenwoordig bedreig. Ons is elke dag besig om te aanskou hoedat lede van ons gemeenskap bedreig word omdat hulle vrae vra oor die legitimiteit van die leier.

Ons gaan gebuk onder ’n regering wat nie sy eie lede toelaat om bestaansvissery te bedryf nie, maar wat Sjinese kommersiële treilers toelaat om ons mariene hulpbronne tot op uitwissing te ontgin. Vir wins.

Ons gaan gebuk onder ’n regering wat bereid is om in die Karoo breking toe te laat, ten spyte van die wetenskaplike getuienis wat daarop dui dat die omgewing op lang termyn geskaad sal word. Vir wins.

Ons gaan gebuk onder ’n regering wat bereid is om ten duurste te betaal vir steenkool wat onbruikbaar is of nooit afgelewer is nie. Vir wins.

Ons gaan gebuk onder ’n regering wat treine aankoop wat nie op die spoor pas nie, en die verliese wat gely word, word met ’n skouer-optrek afgemaak. Maar iemand het beslis wins daaruit gemaak.

Wat maak ons met ’n regering wat ons gebonde hou aan die sosiale kontrak, maar optree asof dit nie ook op hulle van toepassing is nie?

Hobbes sou nie verbaas wees as hy vandag moes lewe nie. Hy het immers die regering vergelyk met ’n skaapwagter wat die skape teen die wolwe beskerm sodat hy hulle self later kan opeet. Hobbes het egter een ding uit die oog verloor. Die regering ook. Die skape is gebonde net solank as wat hulle toelaat dat die sosiale kontrak so mismaak word.

Hulle het ’n keuse. Hulle kan kies om die sosiale kontrak te ignoreer, en op gewelddadige wyse ontslae te raak van die korrupte leiers. Dit word burgeroorlog genoem. Of die skape kan by die volgende geleentheid wanneer hulle kan kies om die sosiale kontrak te hernu, kies om ander herders aan te stel.

Ons is nie slawe nie. Ons het vrye keuse, en dis tyd dat ons ons keuse begin uitoefen. Die slegte herders wat ons nou het, is nie onvermydelik deel van ons lewe en toekoms nie. Die sosiale kontrak werk in die herders se guns net solank ons hulle toelaat. Dit het tyd geword dat ons begin kyk na ander herders. Een ding van skape, immers: as die gras op een plek oneetbaar word, kry hulle weiding op ’n ander plek.

Hoe maak ons met ’n regering wat nie sy deel van die sosiale kontrak nakom nie?

Ons hernu die kontrak met ander herders. Daar is altyd ander gras en ander herders. Die skape moet net saamstaan.

 

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Sleigh Haynes

    'n Uitstekende rubriek. Net jammer ons moet so lank wag voordat ons nuwe herders kan aanstel.

  • Sal nie gebeur nie, want ons bly in Afrika waar dit onpatrioties is om van die regering te verskil en dit van almal verwag word om die regerende party te help om sy doelwitte te verwesenlik.
    Een keer daar en presidente en hul opvolgers klou soos nete aan posisie en mag.

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    Raakvat stuk die Me Wyngaard en LES 101 vir almal van hulle wat daai leerbanke in die Kaap vol sit ... onderrig insake voorregte versus verantwoordelikhede.
    Ongelukkig doen jy niks as jy soustryn ry nie, veral nie as die masjinis se gulp oop en sy sakke vol note is nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top