Die Slag van die Chambinga, 9 en 11 November 1987: ’n taktiese en operasionele ontleding

  • 2

Die Slag van die Chambinga, 9 en 11 November 1987: ’n taktiese en operasionele ontleding

Leopold Scholtz, navorsingsgenoot, fokusarea Sosiale Transformasie, Noordwes-Universiteit (Potchefstroom-kampus)

LitNet Akademies Jaargang 15(3)
ISSN 1995-5928

 

Opsomming

Die Slag van die Chambinga, 9 en 11 November 1987, bied uitstekende materiaal vir ’n taktiese en operasionale gevallestudie oor die laaste fase van die Grensoorlog in suidoos-Angola. Op dié twee dae is 16 Brigade van die Angolese leër, Fapla (Forças Armadas Populares de Libertação de Angola), naby die oorsprong van die Chambingarivier deur twee Suid-Afrikaanse veggroepe aangeval en sodanig beskadig dat die formasie uit die Angolese gevegsorde verdwyn en nie weer aan die oorlog deelgeneem het nie. Wat veral van belang is, is die wyse waarop die Suid-Afrikaanse bevelvoerders die gevegte vooraf beplan en bestuur het. Hulle het dit gedoen op ’n manier waarvan die grondslag vir die oorwinning vir alle praktiese doeleindes reeds vantevore gelê is. Om mee te begin het hulle die aandag van twee Angolese brigades enkele kilometer suid van die slagveld afgetrek om 16 Brigade te isoleer. Daarna het hulle dié maneuver op kleiner skaal herhaal deur die brigade se aandag op albei dae na een kant toe af te trek en dit vervolgens onverwags van die ander kant aan te val. Só is die voorwaardes vir ’n oorwinning gelê nog voordat ’n enkele skoot geskiet is. Die gevestigde gevolgtrekking is dat 16 Brigade, ondanks sy swaar nederlaag op albei dae, weens ’n sameloop van omstandighede ontsnap het. In dié artikel word nuwe getuienis aangevoer vir die gevolgtrekking dat alhoewel die Brigade weggekom het, dit te swaar beskadig was om verder te veg. Só is die basiese doelstelling waarmee die Suid-Afrikaners die vyand aangeval het, tog bereik. Ten slotte word sowel Fapla as die SAW se optrede gemeet aan die hand van die beginsels van oorlogvoering wat die SAW destyds verkondig het.

Trefwoorde: 4 SAI; 16 Brigade; 61 Meg; Angola; Roland de Vries; Deon Ferreira; Fapla, Grensoorlog, Olifant-tenk; Ratel-pantsermotor en -infanteriegevegsvoertuig; Suid-Afrikaanse Weermag (SAW).

 

Abstract

The Battle of the Chambinga, 9 and 11 November 1987: a tactical and operational analysis

Several clashes between the South African Defence Force (SADF) and the Angolan army (FAPLA, from Forças Armadas Populares de Libertação de Angola), took place during the final phase of the Border War in the south-eastern Angolan province of Cuando Cubango in 1987–1988. Two of these clashes took place on 9 and 11 November 1987.

Having stopped the FAPLA offensive to knock the Angolan rebel movement UNITA out of the civil war in a series of battles at the Lomba River, the SADF started a counteroffensive. The two battles of 9 and 11 November formed part of this counteroffensive.

These two clashes provide material for a professional military analysis which could be used as case studies in officers’ training courses. The article starts off by briefly explaining both sides’ order of battle: Whereas the South Africans had three battalion-sized combat groups, organised in a mechanised brigade (20 Brigade), FAPLA had four brigades. (Here it should be explained that FAPLA was organised on Soviet lines, which meant that their brigades were smaller than the SADF’s. Also, one of the FAPLA brigades involved in the offensive had been destroyed during the Lomba battles, leaving five in the vicinity.)

The article explains in detail how the South African battle plan was designed by the SADF’s second-in-command, Colonel Roland de Vries, at the time one of the most brilliant minds in the South African military. De Vries approached the battle expressly by carefully taking into account the internationally agreed principles of warfare. According to his memoirs, he was influenced by two of the most influential military writers of the 20th century, namely the German General Erwin Rommel (commander of the famous Afrika Korps in Libya, Egypt and Tunisia) and the British strategist Sir Basil Liddell Hart, one of the fathers of modern mechanised warfare.

He carefully selected FAPLA’s 16 Brigade, which was in a fairly isolated position, as the target, thereby transforming the SADF’s numerical inferiority into a local numerical superiority at the point of attack. The majority of the FAPLA forces were pinned down in the south of the broad battlefield by a feint by the least potent of the South African combat groups (Combat Group B, consisting of elements from 32 and 101 Battalion, both relatively lightly armed motorised infantry).

Furthermore, he sent the weaker of his two mechanised combat groups (Combat Group A, consisting largely of 61 Mechanised Battalion Group) in from the south-east in a feint to draw the Angolans’ attention to that side. Then the strongest combat group (Combat Group C, consisting chiefly of 4 South African Infantry Battalion, including a squadron of Olifant tanks), attacked them from the north-east, achieving complete surprise.

De Vries had therefore designed the battle in a way that virtually guaranteed success even before a shot had been fired. Victory was sure to follow. However, through a combination of factors, the victory was less total than envisaged. Therefore, the SADF resolved on a second attack two days later.

This time De Vries’s plan was a mirror image of the first attack. While FAPLA’s attention was drawn to the north-east by another feint, the attack force with the tanks was sent around the Angolans’ rear for an assault from the south-east. Surprise was not as complete as during the first attack, but the Angolans were nevertheless severely pummeled. Their casualties were severe, while the South Africans’ losses were relatively light.

Previous analyses of the two battles held that the commander of the main attack force, Commandant Leon Marais, was not vigorous enough, and that this allowed the enemy to escape. New information from a published and translated Soviet source, however, indicates that 16 Brigade had been so damaged that it could no longer function as a coordinated formation under a single command. According to military definitions it had been destroyed, albeit not annihilated. It is interesting to note that the brigade henceforth vanished from the FAPLA order of battle, indicating that it was either disbanded or pulled back to be reconstituted from scratch.

In other words, the accusations levelled at Marais were not justified.

The battles of 9 and 11 November played an important role in driving FAPLA back from the Lomba all the way to Cuito Cuanavale, where the SADF advance was finally brought to a halt in March 1988.

The article concludes with two tables in which the SADF and FAPLA are measured according to the 14 principles of warfare to which the SADF subscribed during the height of the war in the 1980s. Points are given, from 1 to 9, to indicate to what extent both sides satisfied the principles. From the tables it becomes clear at a glance that the SADF’s tactical handling was vastly superior to that of FAPLA. This explains why the South Africans won these battles and the Angolans lost.

The article is based largely on original archival research in the SANDF Documentation Centre. FAPLA and Soviet sources are firmly closed and could not be consulted at all.

Keywords: 4 SAI; 16 Brigade; 61 Mech; Angola; Roland de Vries; Deon Ferreira; Fapla, Border War; Olifant tank; Ratel armoured car and infantry fighting vehicle; South African Defence Force (SADF).

 

1. Inleiding

Waarom word veldslae gewen of verloor? Die kort antwoord is dat die kant wat hom op ’n intelligente en vernuwende wyse aan die beproefde beginsels van oorlogvoering hou, die beste kans op sukses het.

Die Slag van Chambinga, wat op 9 en 11 November 1987 in suidoos-Angola tussen die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) en die Angolese rebellebeweging Unita (União Nacional Para a Independência Total de Angola) enersyds en die Angolese leër, Fapla (Forças Armadas Populares de Libertação de Angola), geveg is, bied ’n uitstekende gevallestudie van dié kwessie. Op dié twee dae het twee SAW-veggroepe ’n geïsoleerde Fapla-brigade in goed voorbereide stellings aangeval en erg beskadig. Die gevestigde mening is dat die brigade deur ’n sameloop van omstandighede ontsnap het, maar nuwe getuienis dui daarop dat die formasie inderwaarheid vir alle praktiese doeleindes uitgeskakel is.

Die doel van dié artikel is om die twee dae se gevegte aan die hand van die beginsels van oorlogvoering te ontleed en só nuwe insigte oor ’n aspek van die Grensoorlog se laaste, beslissende fase te verkry. (Hier word erken dat die benaming Grensoorlog ’n Suid-Afrikaanse perspektief weergee, maar dit is nou eenmaal die naam wat in dié land vir die konflik gebruik word.)

Oor die twee gevegte van 9 en 11 November 1987 is al verskeie kere geskryf. Helmoed-Römer Heitman (1990) en Fred Bridgland (1990) het albei aandag daaraan gegee in hul boeke oor die laaste fase van die oorlog in Angola, terwyl genl. Roland de Vries, wat as SAW-offisier ’n deelnemer was, ook in sy memoires daaroor skryf (Heitman 1990, hoofstukke 14 en 15; Bridgland 1990:192–210; De Vries 2013, hoofstuk 15). Dit is nou egter die eerste keer dat ’n poging aangewend word om ’n professioneel-militêre ontleding op grond van argivale bronne aan te durf. Die eenvoudige vraag wat beantwoord moet word, is waarom die SAW so suksesvol was en Fapla so ’n nederlaag gely het. Die antwoord word aan die hand van erkende beginsels van oorlogvoering verskaf.

 

2. Agtergrond

Die Grensoorlog het in 1966 met ’n lae intensiteit begin toe die rebellebeweging Swapo die Suid-Afrikaanse heerskappy in Suidwes-Afrika (SWA, nou Namibië) gewapenderhand wou beëindig. Dit het uitgeloop op ’n uitgerekte teeninsurgensiestryd in die noorde van SWA. Die SAW wou egter nie bloot passief suid van die grens wag totdat Swapo-insurgente dit oorsteek en eers dán reageer nie; ná 1978 was sy militêre strategie ’n reeks oorgrens-operasies in Angola om die insurgente se infiltrasies te voorkom of te ontwrig nog voordat dit kon plaasvind. In die proses het die oorlog van karakter begin verander, want steeds meer het die Suid-Afrikaners met die Angolese leër gebots. (Vgl. Scholtz 2013, hfste. 1–9.)

Teen Augustus 1987 sou dit sy klimaks bereik toe die SAW ’n swak brigade oor die grens gestuur het om Unita teen ’n Fapla-offensief by te staan. ’n Reeks Fapla-pogings om die wye Lombarivier oor te steek is in September 1987 bloedig deur die SAW afgeslaan. Die hoogtepunt was die Slag van die Lomba op 3 Oktober, toe die SAW se voorste konvensionele eenheid, 61 Gemeganiseerde Bataljongroep (algemeen bekend as 61 Meg), Fapla se 47 Brigade aan die oewers van die rivier platgeloop en byna uitgewis het. (Vgl. Scholtz 2013, hfst. 12; 2017a, hfste. 5–8; 2017b:48–73.)

Hierna het Fapla sy offensiewe planne om Unita uit die oorlog te knikker voorlopig laat vaar en ’n ordelike taktiese terugtog noord van die Lomba aangepak.1 Intussen, nog voor die finale geveg van 3 Oktober, het die destydse Suid-Afrikaanse staatspresident, P.W. Botha, en ’n aantal generaals die front op 29 September besoek en opdrag vir ’n teenoffensief gegee. Die oorkoepelende doel was om Fapla só hard te slaan dat hy nie weer ’n verdere offensief voor die einde van 1988 van stapel sou kon stuur nie. Die gevegte van 9 en 11 November was die eerste uitvloeisel daarvan. Dus is die bestaande SAW-magte versterk met addisionele artillerie, ’n bykomende gemeganiseerde eenheid (met die misleidende naam 4 Suid-Afrikaanse Infanteriebataljon, of 4 SAI) en ’n eskadron Olifant-tenks.2 (Terloops, Bridgland 1990:182 sê die eskadron het uit 13 tenks bestaan, maar volgens die bevelvoerder, maj. (later brig.genl.) André Retief, is die korrekte getal 11 tenks – drie troepe van drie elk, een vir die bevelvoerder en ’n reserwetenk3 – in elk geval hopeloos te min vir die taak wat gewag het.)

 

3. Die slagordes

Dis belangrik om die verspreiding van die Angolese magte teen die begin van November 1987 te ondersoek, want dit help die SAW-gevegsplan verklaar.

Fapla het die offensief in Augustus met agt brigades begin, waarvan vier die voorradetoevoer en agtergebiede gedek en vier (47, 59, 16 en 21) die voorste ystervuis gevorm het. Brigades 59 en 21 is in die gevegte langs die Lomba erg geknou, 47 is nagenoeg uitgewis, terwyl 16 taamlik ongeskonde was. Nadat Fapla hom teruggetrek het, was daar dus drie brigades en ’n sogenaamde taktiese groep in die gebied breedweg tussen die Mianei in die suide en die Chambinga in die noorde oor (kyk kaart). Volgens lt. Alexander Kalan, ’n Sowjettolk by 16 Brigade (aangehaal in Shubin, Zhdarkin, Barabulya en Kuznetsova-Timonova 2014:63), was die formasie aan die begin van die veldtog sowat 1 500 man sterk, saam met enkele tenks. Die taktiese groep wat hier bo genoem is, was ’n kleinerige mobiele eenheid met sowat 15 tenks en gemeganiseerde infanterie en het selfstandig opgetree.


Klik op die kaart vir ’n groter weergawe.

Die formasies wat op 9 en 11 November binne trefafstand van die slagveld was, was (soos die SAW dit op grond van sy radio-onderskeppingsdiens gerekonstrueer het):

  • 25 Brigade (minus een bataljon), wat die logistieke basis by Tumpo bewaak het (kyk kaart);
  • 66 Brigade (minus een bataljon), wat die oorgang oor die Chambinga beset het
  • 16 Brigade, wat by die oorsprong van die Chambinga was;
  • 2 Taktiese Groep, sowat 20 km wes-suidwes van 16 Brigade aan die Vimpulorivier
  • 59 Brigade, wat stellings net noord van die die Mianeirivier beset het;
  • ’n infanteriebataljon van 66 Brigade by die oorsprong van die Mianei naby 59 Brigade; en
  • 21 Brigade, wat op die oewers van die Mianei was. (De Vries 2013:638)4

Die ontplooiing van die Fapla-formasies tussen die Mianei en die Chambinga bring ’n interessante feit na vore, naamlik dat 21 en 59 Brigades naby genoeg aan mekaar was om mekaar betreklik vinnig te hulp te kon snel. Bowendien, skryf kmdt. Richard von Moltke, die SAW se amptelike kroniekskrywer oor fase 2 van Operasie Moduler, was hulle “ingegrawe in ’n terrein waar die plantegroei só ruig was dat ’n gemeganiseerde mag nie daar kon inbeweeg vir ’n aanval sonder om baie ernstige verliese te ly nie”.5

Aan SAW-kant het die bevelvoerder, kol. Deon Ferreira, drie veggroepe gehad, elkeen min of meer die ekwivalent van ’n bataljon. (Hier moet wel bygesê word dat Fapla, wat op die Sowjetvoorbeeld gemodelleer was, se brigades en bataljons aansienlik swakker as dié van die SAW was.) Die drie was:6

  • Veggroep Alpha: ’n gemeganiseerde infanteriekompanie (Ratel-20), ’n pantserkar-eskadron (Ratel-90), ’n mortierpeloton (Ratel-81), ’n stormpionierpeloton (Ratel-20), ’n lugafweertroep (Ystervark-20) en ’n genietroep, almal van 61 Meg. Bevelvoerder: kmdt. Mike Müller. (Die Ratel was ’n Suid-Afrikaans-ontwerpte voertuig wat met 90 mm-kanonne as pantsermotor aangewend is, met 20 mm-snelvuurkanonne as infanteriegevegsvoertuig, en ook met 81 mm-mortiere toegerus.)
  • Veggroep Bravo: twee gemotoriseerde infanteriekompanies van 32 Bataljon en twee van 101 Bataljon, plus 32 Bataljon se tenkafweereskadron, ondersteuningskompanie en verkenningspan, en ’n gemeganiseerde infanteriekompanie wat van 61 Meg afgedeel is. Bevelvoerder: kmdt. Robbie Hartslief.
  • Veggroep Charlie: twee gemeganiseerde infanteriekompanies (Ratel-20), ’n gemeganiseerde ondersteuningskompanie (uiteenlopende wapens), ’n pantserkar-eskadron (Ratel-90) (almal van 4 SAI), ’n tenkeskadron (Olifant) van die Pantserskool, ’n gemotoriseerde infanteriekompanie van 32 Bataljon, en ’n lugafweertroep (Ystervark-20). Bevelvoerder: kmdt. Leon Marais.

Die veggroepe is ondersteun deur 20 Artillerieregiment, met twee batterye G-5-kanonne (155 mm), een Valkiri meervoudige vuurpyllanseerder-battery (127 mm) en ’n bykomende troep, ’n battery 120 mm-mortiere, en ’n troep selfaangedrewe G-6-kanonne. Bevelvoerder: kol. Jean Lausberg.

Altesaam was dit waarskynlik in die omgewing van 4 000 man. Die oorkoepelende formasie het bekend gestaan as Taakmag 20.7

 

4. Die gevegsontwerpe vir 9 November

Aan die begin van November was sowel Fapla as die SAW hard aan die beplan vir die komende tyd. Ongelukkig is die Angolese argiewe heeltemal gesluit, dus weet ons nie in besonderhede hoe die Fapla-bevelvoerders se koppe gewerk het nie. Ons het slegs ’n algemene idee, gegrond op radioberigte wat deur die uitstekende Suid-Afrikaanse elektroniese oorlogvoeringdiens onderskep is.8

Op 5 November het die Suid-Afrikaners juis ’n belangrike Angolese radioboodskap onderskep. Dit was ’n operasionele instruksie waaruit dit duidelik geword het dat Fapla ’n nuwe offensief beplan het so gou die brigades herbevoorraad is. Die bevel was dat 16 Brigade ooswaarts moes opruk, terwyl 21 en 59 Brigade, saam met die taktiese groep, suidwaarts moes beweeg en die Suid-Afrikaanse magte noord van die Lomba moes seermaak. Dit sou Fapla in ’n sterk posisie plaas om sy offensief in die rigting van Mavinga te hervat. Die probleem vir Fapla was dat sy inligting oor die SAW-ontplooiing volledig vals was: niemand was bewus daarvan dat twee sterk veggroepe – Alpha en Charlie – reeds ver noord van die Lomba was nie. Bowendien is die SAW-magte, ondanks die uitslag van die gevegte aan die Lomba, luidens die onderskeppings verkeerdelik gewaardeer as mobiele, onkonvensionele magte (à la 32 Bataljon) wat nie die mas teen Fapla se gemeganiseerde magte sou kon opkom nie. Om die waarheid te sê, die teenwoordigheid van die Suid-Afrikaanse veggroepe (en, belangrik, die tenks) sou die Angolese eers op die oggend van 9 November ’n onaangename skok besorg (Bridgland 1990:186–8).9

Die onderskepping het die Suid-Afrikaanse aandag waarskynlik ook ekstra gekonsentreer. Teen dié tyd – ons bespreek dit dadelik – was 16 Brigade in die SAW se visier as hoofteiken. Dus moes die Suid-Afrikaners vinnig optree om toe te slaan voor 16 Brigade beweeg en eersgenoemdes se planne in die war stuur. Gevolglik het die Suid-Afrikaanse Lugmag (SALM) en die artillerie 16 Brigade spesiaal geteister om sy beplande bewegings te bemoeilik sodat hy nie te ver kon beweeg nie.10 Dat dit die formasie swaar getref het, blyk uit ’n onderskepte berig op 8 November dat die aanvalle “baie dooies” meegebring het.11

Dit is buitengewoon interessant om te sien hoe die Suid-Afrikaanse bevelvoerders die komende veldslag vooraf beplan en bestuur het om sukses te verseker nog voor ’n enkele skoot geskiet is. Ofskoon kol. Deon Ferreira in bevel van Taakmag 20 was, het hy die gevegsontwerp aan sy tweede in bevel, kol. Roland de Vries, oorgelaat. Tereg, want De Vries was sonder twyfel een van die briljantste breine in die SAW destyds, die skrywer van ’n boek oor mobiele oorlogvoering (De Vries 1987), en iemand wat diep oor sy beroep nagedink het.

Volgens sy memoires het De Vries die komende geveg rasioneel, metodies en met die bewuste gebruikmaking van die erkende beginsels van oorlogvoering beplan:

The principles of warfare served as the supreme planning guideline as the whole warfaring game was centred on preventing the enemy from acting on sound principles; on the other hand, a supreme planning effort was to enable [our] own forces to exploit these principles in order to facilitate the achievement of our objectives. (De Vries 2013:651)

Sy basiese doel was om die geveg vloeibaar en mobiel te maak, eerder as om op uitputting of attrisie staat te maak. Vloeibare omstandighede was die natuurlike tuiste van die SAW, wie se militêre doktrine beweeglikheid sterk beklemtoon het. Weens die Suid-Afrikaners se beperkte militêre vermoëns – veel beperkter as dié van Angola met die Sowjetunie en Kuba agter hom – sou ’n uitputtingslag noodwendig sleg vir eersgenoemdes afloop.

De Vries het veral twee militêre denkers as inspirasiebron benut. Die een was die Duitser wat die geskiedenis as die “Wüstenfuchs” (Woestynvos) van die Tweede Wêreldoorlog binnegegaan het, Erwin Rommel. De Vries haal Rommel (vertaal) aan wat in notas voor sy gedwonge selfdood in 1944 só geskryf het: “’n Mens moet probeer om jou eie magte sowel in tyd as ruimte te konsentreer, terwyl jy terselfdertyd poog om die opponerende magte te verdeel en hulle op verskillende tye te vernietig” (De Vries 2013:651).

Die tweede was die Britse strateeg en skrywer van talle boeke, sir Basil Liddell Hart, in talle opsigte die vader van moderne mobiele, gemeganiseerde oorlogvoering. Liddell Hart het geskryf die doel moet wees “to find the chink in the armour, the mental armour at that. One’s object is the psychological disruption of the opposing command” en

[t]o cut the enemy’s lines of communication, thus paralysing his physical build-up; to seal him from his lines of retreat, thus undermining the enemy’s will and destroying his morale; to hit his centres of administration and disrupting his communications, thus severing the link between his brain and his limbs. (Aangehaal in De Vries 2013:651 uit Liddell Hart 1967:385)

In sy boek oor mobiele oorlogvoering het De Vries hierop voortgeborduur. Hy het twee aspekte van Liddell Hart se indirekte benadering behandel wat ter sake is. Die eerste was ontwrigting: “Hierdie gedagte onderstreep die belangrikheid van sielkundige en fisiese ontwrigting.’n Ontwrigtingsaksie moet enige operasie voorafgaan – die geleentheid moet geskep word.” Tweedens, uitbuiting: “[Hierdie] idee benadruk die belangrikheid om die geleentheid wat geskep is op beslissende wyse drasties uit te buit – dit is voordat die vyand sy ewewig herwin het” (De Vries 1987:87). Die basiese doel, het hy gemeen, “moet dus wees om die vyand op vindingryke wyse te uitoorlê, eerder as om in ’n kop aan kop volskaalse konfrontasie betrek te word – Bloed is beslis nie die prys van oorwinning nie” (De Vries 1987:xxii). (Ons sal sien hoe De Vries se gevegsontwerp aan dit alles voldoen.)

Gebaseer hierop was De Vries se aanvanklike idee om wes van die Cuitorivier, by wyse van spreke om die steelkant, noordwaarts op te ruk langs ’n roete wat die vyand nie verwag het nie en wat nie swaar bewaak is nie. Maar die ortodokse denkers in die SAW was nie vir dié waaghalsige oorspronklikheid te vinde nie en het besluit om oos van die rivier, waar die vyand nog taamlik sterk was, te bly. Met dít as gegewe het ’n teleurgestelde De Vries op die tweede beste besluit: om die betreklik geïsoleerde 16 Brigade by die oorsprong van die Chambinga aan te pak (De Vries 2013:650–1; Scholtz 2013:284–90).12

Maar ook dít sou intelligent gedoen word. Dus het De Vries by die militêre sielkundige Coetzee Badenhorst gaan kers opsteek: “In essence,” skryf hy, “we were looking at how we could use varying shock-inducing factors, such as creating anxiety and exploiting alienation, to paralyse the enemy’s mind” (De Vries 2013:654). Die hele idee was dus (soos Liddell Hart 1960:337–9 skryf) om die vyand fisies én emosioneel te ontwrig nog voordat die eerste skoot geskiet word.

De Vries se gevegsontwerp het op ’n historiese voorbeeld berus: Rommel se aanval op die Britse Agtste Leër in 1942 by die Gazala-linie in Libië. Rommel se plan was om die Britte se aandag met ’n frontale aanval op hul verdedigingslinie af te trek. Terselfdertyd sou hy met sy pantsermag rondom die vyandelike suidelike flank beweeg en hulle dan van agter aanval. Dit het grotendeels, maar nie heeltemal nie, geslaag. De Vries (1987:50–3) het dié geveg as ’n gevallestudie in sy boek oor mobiele oorlogvoering behandel. Sy gevegsontwerp vir 9 November was daardeur geïnspireer (2013:654).

Die De Vries-plan het twee elemente bevat wat by mekaar ingeskakel het.13 Die eerste was dat Veggroep Bravo die vyandelike 59 en 21 Brigades in die suide van die breë gevegsterrein deur ’n steekaanval sou bind. Omdat die Angolese formasies uiteraard nie kon weet dat dié aanval deel van ’n misleidingsaksie was nie, sou dit hulle keer om 16 Brigade verder noord te hulp te snel wanneer dié aangeval word. Bravo, bestaande uit hoofsaaklik gemotoriseerde infanterie, was die swakste van die drie veggroepe, nie geskik vir ’n volskaalse veldslag teen gemeganiseerde magte nie, maar wel vir ’n misleidingsinisiatief.

Die tweede element was ’n herhaling van die eerste op kleiner skaal. Verkenning het getoon dat die swaartepunt van 16 Brigade se verdedigingstellings na die suidooste gerig was. De Vries het Veggroep Alpha dus getaak om 16 Brigade uit dié rigting onder vuur te steek om dié se aandag weg te trek. Soos kmdt. Lambert Smith, ’n inligtingsoffisier, dit gestel het: “Ons moet die indruk by hierdie ou [die Fapla-bevelvoerder] skep dat ons hom gaan aanval uit die suidooste uit.”14 Dan sou Veggroep Charlie met die tenks uit die noordooste nader beweeg en die brigade skielik tref. Dit sou die vyand fisies en geestelik ontwrig en hul weerstandsvermoë verminder nog voordat die geveg behoorlik begin het, was die verwagting.

Veggroep Charlie, bestaande uit vars troepe, sou vir die hoofaanval gebruik word, en 61 Meg, wie se troepe tot dusver die spit afgebyt het, vir die misleidingsaksie. Bowendien, ná die verskriklike geveg van 3 Oktober, toe 61 Meg vyandelike tenks met hopeloos ongeskikte Ratel-90’s moes aandurf, het die hoof van die leër, lt.genl. Kat Liebenberg, verordineer dat die eenheid nie weer sonder tenks teen vyandelike tenks aangewend mog word nie.15

Die plan het dus daarop neergekom dat Fapla dubbeld gebind en verhinder word om sy magte teen die aanvallers te konsentreer.

In sy boek oor mobiele oorlogvoering skryf De Vries (1987:29) oor die bind van vyandelike magte:

Die vyand moet sy inisiatief ontneem word en sy handelingsvryheid moet beperk word. Aanvanklik moet die vyand gebind word om te verhoed dat sy magte en reserwes teen eie maneuvreringsmagte aangewend word. Dit dien geen doel dat ’n vyand sy troepeskikking, reserwes en groeperings betyds kan aanpas om bedreigings vanuit ’n onverwagse rigting die hoof te bied nie. Ondersteunings- en ontwrigtingsaanvalle, vuursteun, lugaanvalle, misleidingsaksies en optredes deur onkonvensionele magte sal dus aan die orde van die dag wees.

Dít is, in ’n enkele paragraaf, die teoretiese fondament waarop De Vries sy gevegsontwerp gebaseer het. Op dié manier het hy die Suid-Afrikaanse numeriese swakheid in krag op die aanvalspunt omgeskep.

In ’n onderhoud begin 1988 het hy die misleidingsaksie beskryf as “inderwaarheid ’n ontwrigtings-/misleidingsaanval […] Dit het die vyand ontwrig.” Bowendien sou 61 Meg beskikbaar gehou word “vir onvoorsiene omstandighede wat kon opduik, maar primêr om enige inmenging van taktiese groepe of ander magte wat verder suid gesit het [59 en 21 Brigade] af te sny […] 61 Meg moes derhalwe die flanke van 4 SAI beskerm teen inmenging.”16

 

5. Die geveg van 9 November (fase 1)

Die gebulder van artillerie het vroeg die oggend van 9 November begin toe Robbie Hartslief se Veggroep Bravo op 59 Brigade lostrek. Tot sy verbasing was die brigade se stellings leeg, waarskynlik omdat die formasie kort tevore noordwaarts onttrek het. Om 13h08 het Hartslief vuur van die vyand begin ondervind en toe self ooreenkomstig sy bevele teruggetrek. Sy taak was voltooi (Bridgland 1990:231; De Vries 2013:668, 671).17

Dit is interessant om die situasie ook uit die vyand se perspektief te bekyk: Volgens ’n Sowjetraadgewer by Fapla, lt.kol. Igor Zjdarkin (in Shubin en Tokarev 2011:55), is dieselfde oggend ’n aanval op die element van 25 Brigade by 59 Brigade gedoen, maar dit is afgeslaan.18 Uiteraard kon die vyand nie weet dat dit bloot ’n misleidingsaksie was en dat daar dus geen sprake van “afslaan” kon wees nie.

Veggroepe Alpha en Charlie het die aand van 8 November saam uit die suide in die rigting van 16 Brigade opgeruk totdat hulle die skeipunt bereik het, waarna elkeen sy eie gang gegaan het. Vroeg die oggend is die geveg ingelui met Veggroep Alpha wat ’n bombardement met sy Ratel-90’s se kanonne en 81 mm-mortiere vir sy misleidingsaksie uit die suidooste van stapel gestuur het. Fapla het binne enkele minute met swaar vuur geantwoord, wat wys dat dié die aas gesluk het. Dié vermoede is bevestig deur ’n onderskepping wat daarop gedui het dat Fapla onmiddellik begin het om ’n groep tenks suidoos van 16 Brigade (dus in die rigting van Veggroep Alpha) op te stel. Ook het die inligtingsoffisiere by Taakmag 20 se hoofkwartier agtergekom dat die formasie – in die woorde van kmdt. Lambert Smith – “sy hele verdediging” omswaai “en [...] alles suidoos [rig] om die bedreiging van 61 Meg […] die hoof te bied”. Om 06h39 het Veggroep Alpha se bevelvoerder, kmdt. Mike Müller, gevolglik sowat 800 m ver tot buite bereik van die Angolese artillerie teruggetrek. Sy taak was voltooi.19

Lt. Kalan (in Shubin e.a. 2014:65) bevestig dat Fapla heeltemal deur Alpha se steekaanval mislei is:

At dawn, at about 5 a.m., very heavy firing began, which we had not faced for a long time. I think they [die Suid-Afrikaners] fired everything they had. Smoke and dust clouded the area and there was zero visibility. The soldiers rushed around in panic. When we realised that there was almost no one left by our armoured vehicle (everyone had scattered), the senior officer gave the order: “Turn around and get away.” The brigade commander, driving past us in his armoured vehicle, shouted: “Follow me!”

Kmdt. Leon Marais se Veggroep Charlie, die hoofaanvalsmag, het intussen deur die digte bosse gebeur tot by sy afmarslyn sowat 3 km noordoos van 16 Brigade se stellings. Om 06h25 het hy gevra dat die artillerie drie skote doelbewus op die teiken skiet om die vyand se reaksie te toets. Daar was egter geen reaksie nie.20

In die wete dat die vyand nie die vaagste benul het van wat op hom wag nie, het Marais sy veggroep verder laat opruk. Om 06h45 het Charlie gerapporteer dat hy nog geen kontak met die vyand gemaak het nie. Suid-Afrikaanse artilleriewaarnemers en Spesmag-lede wat onder dekking van die donker tot baie naby aan die Angolese gekruip het, het egter laat weet dat die artillerie ’n ammunisie-opslagplek getref het wat met ’n donderslag ontplof het, en dat allerlei voertuie “ongeorden op die doelwit rondjaag” – ’n aanduiding van die paniek wat besig was om besit van die Angolese soldate te neem. ’n Paar minute later, om 06h57, het die waarnemers gehoor hoe Fapla-bemannings hul tenkenjins aanskakel.21 Die spanning het begin oplaai.

In hul hoofkwartier het Ferreira en De Vries vasgenael voor hul radio’s gesit om die geveg te volg. Getrou aan die SAW se doktrine het hulle Leon Marais gelaat om sy eie besluite te neem, maar hom wel van tyd tot tyd tersaaklike inligting oor die vyand se bewegings gestuur (De Vries 2013:666).22

Marais se opmars het geskied met 4 SAI se twee gemeganiseerde infanteriekompanies (Ratel-20) aan weerskante vooraan en die pantserkar-eskadron (Ratel-90) en ’n peloton van die 32 Bataljon-kompanie by die veggroep tussen hulle. Onmiddellik agter die pantserkarre het maj. André Retief se tenks (Olifant) gekom, gevolg deur die tenkafweerpeloton (ook Ratel-90), die mortierpeloton (Ratel-81) en die stormpionierpeloton (Ratel-20). Agteraan het die res van ’n gemotoriseerde infanteriekompanie van 32 Bataljon (Buffel-troepedraers), ’n lugafweertroep (Ystervark-20) en ’n genietroep (Ratels bewapen met 60 mm-mortiere) gekom.23

Soos in vorige gevegte het Unita-vegters te voet vooruit beweeg om die vyand te beweeg om sy teenwoordigheid te verraai, waarna hulle sywaarts uitgewyk en geen verdere rol van betekenis gespeel het nie. (Trouens, volgens Marais was Unita eerder ’n hindernis as ’n bate, ook omdat die inligting wat sy lede verstrek het, dikwels misleidend was.)24

Uit Suid-Afrikaanse onderskeppings van Fapla se radioverkeer is dit duidelik dat die Angolese eers om 07h32 bewus geword het van Veggroep Charlie en ’n tenkmag se aanwesigheid op sy voorstoep toe 16 Brigade gerapporteer het dat hy op die punt staan om deur ’n SAW-tenkmag aangeval te word. Dit wys in welke groot mate die misleidingsplan gewerk het. ’n Paar minute later het Charlie die eerste vyandige vuur getrek.25

Die Fapla-opperbevel het vinnig gereageer en 2 Taktiese Groep beveel om uit die suide nader te beweeg en 16 Brigade te hulp te snel. Binne ’n paar minute was die tenks aan die gang. Taakmag 20 se hoofkwartier het Marais gewaarsku dat die Fapla-tenks reeds teen 10h00 kon inmeng (De Vries 2013:669).26 Dit sou later ’n duidelike invloed op die verloop van die geveg hê.

Dit was die begin van ’n reeks hoë-intensiteit-gevegte wat heelparty van Charlie se onervare troepe enersyds vir die res van hul lewe emosioneel sou skend, maar waarin hulle hulself andersyds, danksy hul streng opleiding, oorwegend met groot professionaliteit gedra het. (Terloops, enkele Kubaanse raadgewers op die toneel het met groot spoed suidwaarts onttrek en versoek dat ’n helikopter gestuur word om hulle te ontruim. Twee helikopters is inderdaad effens later in die gebied waargeneem.27)

Net ná 08h00 het die peloton van 32 Bataljon by die voorhoede aan Marais berig dat geluide op die veggroep se linkerflank gehoor kan word. ’n Paar minute se verwarring, aangehelp deur teenstrydige berigte van Unita, het gevolg, maar toe stel Marais vas dat die geluide van ’n groep tenks en ander troepe afkomstig was, waarskynlik die tenks waaroor die Taakmag hom kort tevore gewaarsku het. Volgens hom het Fapla drie T-54/55-tenks, drie van die gevreesde ZSU-23-snelvuurkanonne, twee 14,5 mm swaar masjiengewere, twee BM-21-vuurpyllanseerders en drie BTR-pantserkarre gereed gehad het om Veggroep Charlie met geweld in sy linkerflank te tref.28 Vir hom was dit onrusbarend, want dié mag kon Charlie nie alleen lelik seermaak nie, maar die hele aanval ontwrig nog voor dit behoorlik begin het. Uit vrees dat die Suid-Afrikaanse artilleriste hul eie makkers kon raakskiet, is die kanonvuur in dié stadium gestaak (Bridgland 1990:194).29

Uit die gepubliseerde dagboek van lt. Alexander Kalan (kyk Shubin e.a. 2014:102–3) kan afgelei word dat Fapla heeltemal in die war was oor die SAW se plan. Kalan sê die Suid-Afrikaanse artillerie het om 03h00 met ’n “intense bombardement” begin. Twee uur later het die “eerste troepe in hul Eland-pantservoertuie [sic] verskyn” (waarskynlik is die Ratels vir Elande aangesien). Volgens Kalan het 16 Brigade op 8 November, die dag voor die veldslag, sy posisie verskuif. Hy vervolg: “Die rigting van hul aanval was ons vorige posisie. Hulle het blykbaar nie geweet ons het ons verdedigingsgebied verander nie. Net een bataljon met ses tenks en verskeie voertuie het in die vorige posisie agtergebly.” Hy sê dié mag was die brigade se 2de bataljon.30

Marais het gevrees dat die ontdekte mag op sy linkerflank sy eie B-echelon (die logistieke voertuie agter die hoofmag) kon bedreig, en het dus dadelik die tenkafweerpeloton teruggestuur om hulle te beskerm. Vervolgens het hy sy mag na links laat swenk, een gemeganiseerde infanteriekompanie en die tenkeskadron geïntegreer, en op die vyand toegesak. ’n Paar minute later, om 08h10 en 08h11, was twee Olifante die eerste twee Suid-Afrikaanse tenks sedert 1945 wat vyandelike tenks op die slagveld uitgeskiet het. Die kragtige 105 mm-kanon van die Olifant het geen moeite ondervind om die T-54/55 se dik pantser te deurboor nie – in teenstelling met die Ratel-90 se laetrompsnelheidkanon, wat gesukkel het en soms ses tot sewe voltreffers nodig gehad het om ’n vyandelike tenk uit te skiet. Ook ’n BM-21 is vernietig, en nog een is ongeskonde buitgemaak. Altesame 22 Angolese soldate het hier gesneuwel, terwyl die Suid-Afrikaners geen verliese gely het nie.31

Die geïntegreerde stormloop van die Olifante en Ratels was een te veel vir die vyand. ’n Fapla-soldaat wat hier gevange geneem is, het vertel dat sy makkers net hul gasmaskers gegryp en gehardloop het. Luidens ’n SAW-verslag het die vyand “blindelings gevlug” en is gesien dat “pers[oonlike] uitr[usting] en wapens oral op [die] doelwit rondlê”. ’n Kaart met die uitleg van die vyandelike stellings en mynvelde is hier gekry, wat baie waardevol geblyk het. Tydens dié deel van die geveg het 16 Brigade ’n dringende versoek om lugsteun aan die lugmagbasis by Menongue gerig. Toe twee Angolese MiGs byna ’n uur later hul opwagting bo die slagveld maak, het hulle egter bomaanvalle op hul eie troepe gedoen en Fapla se verwarring verder aangejaag.32

Trouens, regdeur die dag het Angolese MiG-vegterbomwerpers verskeie lugaanvalle gedoen, maar hul bomme en vuurpyle het telkens ver van die Suid-Afrikaanse magte geval. Vir die Suid-Afrikaanse troepe was die MiG-aanvalle weliswaar angswekkend, veral omdat die vyand die lugruim oorheers het en die SALM nie graag sy onvervangbare Mirages teen die MiGs wou inspan nie. Nietemin het die Suid-Afrikaners geen verliese as gevolg van vyandelike lugaanvalle gely nie, en die aanvalle het die SAW se bewegings slegs in beperkte mate aan bande gelê.33

Dié geveg het uit Suid-Afrikaanse oogpunt perfek verloop. Heitman (1990:125) skryf: “Tapes of the squadron command net sound as if they were recorded during a rather dull exercise.” En De Vries (2013:670), wat by Taakmag 20 se hoofkwartier na die radioverkeer geluister het, bevestig: “The commanding voices over the radios were cool, calm and collected […]” Die nadeel was dat twee belangrike ure met dié onbeplande geveg verloor is (Bridgland 1990:194).

 

6. Die geveg van 9 November (fase 2)

Dit was spoedig duidelik dat dié eerste geveg slegs teen ’n voorpos was en dat die hoofgeveg nog voorgelê het. ’n Fapla-gevangene het onthul dat die hoofmag se stellings sowat 3 km suidwaarts geleë was. Dit is bevestig deur ’n kaart wat op die toneel ontdek is en wat ook ander posisies en mynvelde in die omgewing aangedui het. Volgens ’n tydgenootlike verslag van Leon Marais is die hoofstellings – in die SAW-beplanning bekend as Addernes – beset deur twee infanteriebataljons met sowat 750 man, 10 T-54/55-tenks, vier 14,5 mm swaar masjiengewere, ses BM-21 meervoudige vuurpyllanseerders, se D-30-kanonne (122 mm) en ses 120 mm-mortiere.34 Dit word deur Kalan se dagboek (in Shubin e.a. 2014:103) bevestig, waarin staan dat die teiken deur twee bataljons, die brigade se 1ste en 3de bataljons, verdedig is.35 Later het Marais by wyse van terugblik tot die gevolgtrekking gekom dat daar meer as 22 vyandelike tenks by die teiken was.36

Hy is goed ingelig gehou deur maj. Cassie van der Merwe, ’n voorste (en klaarblyklik onverskrokke) artilleriewaarnemer, wat slegs sowat 500 m van 16 Brigade se hoofkwartier in ’n boom gesit en sy eie magte deurlopend op die hoogte gehou het van wat daar gebeur.37

Hierna is Veggroep Charlie se opmars na 16 Brigade se hoofkwartier in ’n suidwestelike rigting voortgesit met die pantserkar-eskadron en ’n deel van die 32 Bataljon-kompanie in die voorhoede. Ná 500 m het die infanteriste te voet verder begin beweeg. Die vordering was weens die digte plantegroei stadig en moeisaam, en die sigbaarheid was tot 30–40 m beperk. Om 10h12 of 10h19 (die bronne verskil) het die voorhoede vuur getrek toe die vyand met alles tot sy beskikking – kleingewere, masjiengewere, mortiere, tenks – losbrand. Hier het die Suid-Afrikaners hul eerste verliese gely: ’n lid van 32 Bataljon en twee van 4 SAI se A-Kompanie is gedood en nog een van 32 Bataljon en een van B-Kompanie is gewond.38

Namate die veggroep gevorder het, het die terrein ietwat makliker geword, want by 16 Brigade se hoofkwartier het die digte bosse plek gemaak vir oper terrein met bome. Die teiken was sterk verdedig deur infanterie met swaar wapens en byna al die brigade se oorblywende tenks, wat ’n moeilike taak aan Marais se manne gestel het. ’n Heftige tenkgeveg het hier uitgebreek. B-Kompanie is deur akkurate vuur vasgepen en kon nie beweeg nie. ’n Oomblik lank het Veggroep Charlie byna sy momentum verloor. As dit gebeur het, sou die Suid-Afrikaners groot probleme ondervind het, maar op die beslissende oomblik het Marais ’n geliefkoosde SAW-taktiek om uit ’n moeilike situasie te kom beveel: ’n vuurgordelaksie. Dit kom eenvoudig daarop neer dat almal wat kan, met alle moontlike wapens so vinnig moontlik saam in die rigting van die grootste gevaar skiet.39

Dit was hier waar ’n merkwaardige voorval plaasgevind het. ’n Ratel-20 van B-Kompanie wat pas sy infanterieseksie laat uitstap het, is opeens met ’n Fapla-tenk, skaars 60 m ver, gekonfronteer. Die kanonnier, sktr. A.M. Thom, het kop gehou en ’n stroom pantserbreekammunisie met sy 20 mm-kanon op die tenk afgevuur, wat binne sekondes aan die brand geslaan het. Dié ongelyke stryd kon egter nie goed afloop nie – nog ’n vyandelike tenk het die Ratel se toring heeltemal van sy romp afgeskiet. ’n Olifant het egter blitsvinnig wraak geneem en die T-54/55 vernietig. Thom en die bestuurder van die Ratel is gedood. (Marais het Thom vir die Honoris Causa aanbeveel, maar dit is nie goedgekeur nie; kyk Heitman 1990:127.)40

Die Suid-Afrikaners was egter nog nie uit die probleme nie; B-Kompanie was steeds op die regterflank onder akkurate vyandelike vuur vasgepen. André Retief het gevolglik sy reserwetroep van drie tenks daarheen gestuur om die infanteriste uit te help. In die heftige skietery wat hierop gevolg het, is een Olifant se rusperband afgeskiet, wat die tenk immobiel gelaat het. Die werktuigkundiges (of tiffies, soos hulle algemeen bekendgestaan het) het egter vinnig geïmproviseer deur die rusperband te verkort en oor een katrol minder te laat loop. Die tenk kon gevolglik by wyse van spreke al hinkende voortbeweeg (Heitman 1990:127; Bridgland 1990:196).41

Die geveg het met onverminderde hewigheid voortgewoed. Die terrein het dit moeilik vir die Suid-Afrikaners gemaak om gekoördineerd te maneuvreer, en Marais het groot probleme ondervind om beheer oor sy veggroep te behou. Teen 11h47 het die Olifante nog twee tenks uitgeskiet en een in perfekte toestand gebuit. (Terloops, alle dokumente in die tenk was in Spaans, wat die vermoede laat dat dit deur Kubaanse raadgewers beman was.) Langsamerhand het die Suid-Afrikaners se aggressie die geveg in hul guns laat swaai. Kort voor 12-uur middag verskyn egter twee MiG-23s in die lug, op soek na teikens om te bombardeer. Die Suid-Afrikaanse lugafweerwapens – primitiewe, met die hand gerigte 20 mm-kanonne – het vergeefs op die vliegtuie gevuur, maar moontlik het dié weerstand die vlieëniers nietemin sodanig ontsenu dat hul vuurpyle 3–4 km suid van die veggroep geval het. Nog twee het die B-echelon eweneens sonder sukses aangeval. Die aanwesigheid van MiGs het die veggroep nietemin gedwing om sy standaarddril uit te voer deur tot stilstand te kom en homself te kamoefleer. Dit het die Fapla-troepe die kans gegee om hul stellings te ontruim en te vlug. Teen 14h30 het die Suid-Afrikaners oor die doelwit geswerm en gekonsolideer.42 Die geveg was verby.

 

7. Die nadraai van die 9 November-geveg

As ’n mens bloot na die syfers kyk, was die geveg van 9 November ’n groot oorwinning vir die SAW. Die Suid-Afrikaners het sewe gesneuweldes en nege gewondes betreur. Daarby is een Ratel vernietig, een Ratel erg beskadig en een Olifant lig beskadig, maar op die slagveld herstel. Daarteenoor het Fapla 75 man verloor en ’n onbekende aantal is gewond. Die volgende uitrusting het in die slag gebly: agt tenks vernietig en een gebuit; twee BM-21 (waarvan 1 gebuit); 1 BTR, een 76 mm-kanon vernietig en een gebuit; een Ural-voertuig en drie 23 mm-lugafweerkanonne vernietig; een dieselbunker vernietig en een gebuit; 12 logistieke voertuie vernietig en 18 gebuit.43

Die oorspronklike idee was dat Veggroep Charlie ná die geveg tot reg teenoor die oorsprong van die Huberivier sou beweeg – “uitbuit” in SAW-jargon – om te keer dat 16 Brigade wegkom. Die opdrag was immers om Fapla oos van die Cuito te vernietig (dit wil sê, om dit onmoontlik te maak dat die brigades verder as samehangende gevegseenhede aangewend kon word). Maar Marais het halt geroep om sy voorrade aan te vul. Die praktiese gevolg was dat 16 Brigade op die oog af ontsnap het.44 Aan die Angolese kant was dit nie bekend presies wat gebeur het nie. In sy dagboek skryf Kalan (Shubin e.a. 2014:103) kripties: “Die brigade het begin retireer. Die brigadebevelvoerder het die drostery gestop en die brigade aan omsingeling onttrek.”45

Dié besluit het heftige woordewisselings en polemieke tot gevolg gehad. Dalk die hardste oordeel is gevel deur kol. Jan Breytenbach (2002:255) in sy boek oor 32 Bataljon (wat, terloops, verder wemel van die feitefoute). Volgens hom was Deon Ferreira woedend (“livid”). Hy vervolg: “He should have sacked the commander of 4-South African Infantry and replaced him with any one of an array of competent commanders who were eagerly awaiting an opportunity to cross swords with the enemy. In combat situations one cannot be lenient.”

Dit is inderdaad waar dat Ferreira bitter kwaad vir Marais was. Volgens Bridgland (1990:198), wat dit waarskynlik by Ferreira self verneem het, was dié “particularly incensed”. En De Vries (2013:670) was self baie teleurgesteld:

For some strange reason Commandant Leon Marais halted the attack and withdrew his combat force to safer ground. A moment for further decisive killing had passed by as a number of 16 Brigade soldiers and their hardware were afforded the opportunity to escape.

Hy voeg by: “16 Brigade was beaten but not butchered. They were able to flee and fight again another day. This was not completely according to the original plan” (2013:671).

’n Aantal belangrike nuanserings sal nodig wees. Ten eerste was daar duidelik persoonlikheidsbotsings tussen Ferreira en Marais; die twee het nie goed oor die weg gekom nie. Marais vertel dat toe hy in Oktober met 4 SAI te Rundu arriveer, Ferrreira twee dinge by hom wou weet: waarom hy (Marais) nie vroeër by die mag aangesluit het om hom te vergewis van die situasie nie (dít ondanks die feit dat Ferreira hom nie genooi het nie), en waarom Marais by geleentheid opgemerk het dat hý (Marais) die geveg sou kom wen.46 Dit dui op ’n krapperigheid tussen die twee reg van die begin af.

Deon Ferreira is oorlede en dus het ons nie sy weergawe van die feite nie. Daar is wel twee bronne wat ’n aanduiding van sy gevoel teenoor Marais gee. Die een is ’n geskrewe neerslag van ’n radiogesprek wat die twee op 15 November gevoer het. Ferreira het Marais gevra of hy nog wil voortgaan met die oorlog, aangesien hy die indruk wek dat dit nie so is nie. ’n Verontwaardigde Marais het teruggekap dat hy met sy taak wou voortgaan, en heftig geprotesteer omdat Ferreira só ’n vraag oor ’n oop radioverbinding stel, waar sy troepe dit ook kan hoor.47 Die volgende dag het Ferreira in ’n amptelike situasierapport laat inskryf: “Bev[elvoerder] TM [Taakmag] 10 ondervind ernstige probleme spesifiek met bev 4 SAI en beskou 4 SAI as uit die geveg uit. Indien môre nie deurslaggewend is nie, sal sit[uasie] heroorweeg moet word.”48 Geen verdere korrespondensie hieroor is opgespoor nie.

Marais self wys daarop dat sy troepe teen 14h00 die middag van 9 November reeds 17 uur se taktiese beweging agter die rug gehad het. Sy manne was uitgeput en moes eenvoudig rus. Bowendien was sy eenheid se ammunisie- en brandstofvoorraad laag en sou dit onverantwoordelik gewees het om ’n risiko daarmee te loop. Dalk die belangrikste oorweging was die aanwesigheid van Fapla se 2 Taktiese Groep, wat uit die suide aan die nader was. Marais kon in dié stadium nie weet waar dié eenheid was of hoe ver dit nog van sy troepe was nie (Scholtz 2013:303).49 Waarskynlik het die verlies van sewe van sy soldate – swaar verliese in ’n Suid-Afrikaanse konteks – ook swaar op sy gemoed geweeg.

Daar was ewenwel nóg ’n faktor, volkome buite Marais se beheer, maar wat dalk nog die belangrikste is. Dit is dat Taakmag 10 eenvoudig nie genoeg magte tot sy beskikking gehad het nie. Die formasie het twee veggroepe, Alpha (minus ’n kompanie) en Charlie gehad. Wat Alpha (61 Meg) betref: dié eenheid was voos geslaan ná die veeleisende reeks gevegte langs die Lomba. Kat Liebenberg het verordineer dat dié nie weer sonder tenks van sy eie teen vyandelike tenks aangewend mog word nie. Dus was Alpha, sover dit die geveg van 9 November betref, net geskik om die vyand te aandag af te trek, nie om sy vuurkrag by Charlie s’n te voeg nie. Dit het Taakmag 10 al klaar wesenlik verswak.

In ’n onderhoud enkele weke ná die gevegte het De Vries sy vinger op die probleem gelê:

As mens gaan kyk na die toepassing van die beginsels van oorlogvoering, behoort daar ’n ander mag te gewees het om die offensief voort te kan gesit het sodat hulle [Veggroep Charlie] kon gaan herorganiseer. Wat ek eintlik wil sê, is dat die teiken te diep [oftewel groot] was.50

De Vries sê met ander woorde dat ’n derde gemeganiseerde veggroep eintlik nodig was. In ’n e-pos het hy voorts laat weet: “Die topstruktuur het eenvoudig te veel van die troepe verwag.”51

Daarby was Charlie se troepe onervare. Hulle het hul opleiding hoofsaaklik by hul tuisbasis te Middelburg op die Oos-Transvaalse Hoëveld en by die Leërgevegskool Lohatlha in die Noord-Kaap ontvang. Daar was die omstandighede dramaties anders as in die suid-Angolese bosse, by wyse van spreke dus dikwels eerder ’n goeie imitasie van die hel as enigiets anders. 61 Meg se soldate het die geleentheid gehad om reeds maande in die uiterste noorde van Suidwes-Afrika en suidoos-Angola deur te bring; 4 SAI se lede, daarenteen, is so te sê reguit in die geveg ingegooi sonder ’n behoorlike kans om te akklimatiseer.

Ten slotte was Marais se vrees vir die oprukkende taktiese groep met sy 15 tenks nie oordrewe nie. Volgens die SAW-kroniekskrywer van Operasie Moduler, kmdt. Richard von Moltke, was die eenheid teen 13h00 reeds 8 km van die slagveld af en het hy hom gereed begin maak om Veggroep Charlie in ’n flankbeweging te tref. Gelukkig vir Marais het die Suid-Afrikaanse artillerie met ’n donderende geweld op die Angolese losgetrek en hulle gedwing om hul opmars te staak en skuiling in ’n digte bos te soek.52

Bridgland (1990:198) se slotsom was: “Subsequent political as well as military history might have been very different if 16, 59 and 21 Brigades, as well as 47 Brigade, had all been destroyed before the end of 1987.” Maar is dit volledig en korrek? In die res van die artikel sal ’n antwoord gesoek word.

 

8. Die probleem vervolgens

Toe die son die aand van 9 November 1987 oor die met bloed deurdrenkte slagveld naby die oorsprong van die Chambingarivier in suidoos-Angola sak, het die skemer ’n groot Suid-Afrikaanse oorwinning begroet. Op dié dag is Fapla se 16 Brigade se aandag eers deur die SAW se Veggroep Alpha (die grootste deel van 61 Meg) na die suidooste afgetrek. Daarna het Veggroep Charlie (bestaande uit 4 SAI, versterk deur ’n Olifant-tenkeskadron en ’n gemotoriseerde infanteriekompanie van 32 Bataljon) die brigade aangeval en ’n ernstige slag toegedien.

Maar Veggroep Charlie se taak was volgens die Suid-Afrikaanse bevelvoerders nie voltooi nie. Die opdrag was om 16 Brigade te vernietig – met ander woorde, die formasie moes nie meer in staat wees om as ’n koherente en gekoördineerde mag op te tree nie. Deur ’n sameloop van omstandighede was die Suid-Afrikaners se indruk egter dat die grootste deel van 16 Brigade daarin geslaag het om te ontsnap. Die bevel wat van pres. P.W. Botha en die leiding van die SAW uitgegaan het, was dat die drie oorgeblewe Fapla-brigades oos van die Cuitorivier vernietig moes word. Die aanval op 16 Brigade was die eerste fase hiervan. Die bevelvoerder van Taakmag 10, onder wie se bevel die twee veggroepe geressorteer het, kol. Deon Ferreira en sy tweede in bevel, kol. Roland de Vries, het gevolglik besluit dat ’n tweede aanval op 16 Brigade nodig was (De Vries 2013:673).

 

9. Die gevegsontwerp vir 11 November

In die afwesigheid van toeganklike Angolese bronne is dit moeilik om 16 Brigade se sterkte in dié stadium te bepaal. Volgens die gepubliseerde dagboek van lt. Kalan (Shubin e.a. 2014:103–4) het die brigade op 10 November 547 man (sonder sy derde bataljon) bevat. ’n Raaiskoot dat die volledige brigade 800–900 man sterk was, is dus waarskynlik nie ver van die kol nie.53

Die Suid-Afrikaners se taak is enigsins vergemaklik deurdat die twee suidelike Fapla-brigades (21 en 59) nie beduidend van posisie verander het nie. 16 Brigade het wel sowat 20 km noordwaarts geretireer (Shubin e.a. 2014:65). Persoonlike waarneming deur die Suid-Afrikaanse artilleriewaarnemer maj. Cassie van der Merwe en radio-onderskeppings het aan die lig gebring dat laasgenoemde brigade nou twee posisies beset het, wat in die Suid-Afrikaanse beplanning bekend gestaan het as doelwit A en doelwit B. Doelwit A is verdedig deur ’n mag met ses tenks (ofskoon ’n situasierapport vlak voor die geveg 13–15 tenks daar identifiseer) en B met ’n heelwat sterker mag: minstens 22 tenks.54

In die afwesigheid van bronne oor hoe Fapla die saak gesien het, weet ons niks van die Angolese krygsplan – indien enige – nie. Van Suid-Afrikaanse kant weet ons dit egter in taamlike besonderhede.

Oorspronklik was die idee om Fapla sommer die volgende dag al, 10 November, weer aan te val. Net toe die veggroepe uitbeweeg, is hul optrede egter deur Angolese verkenningsvliegtuie raakgesien. Dringende radioboodskappe het tussen 16 Brigade en Fapla se operasionele hoofkwartier in Cuito Cuanavale heen en weer geflits om versterkings aan te vra. Derhalwe het Taakmag 10 besluit om die aanval tot 11 November uit te stel. (De Vries 2013:674)55

Die SAW se gevegsontwerp vir 11 November was baie dieselfde as dié vir 9 November, maar met ’n interessante wysiging. Net soos twee dae tevore sou Veggroep Bravo die aandag van die twee Fapla-brigades tussen die Mianei- en die Vimpulorivier deur ’n steekaanval aftrek met die doel om hulle te verhinder om 16 Brigade – die hoofteiken – te hulp te snel (De Vries 2013:674).56 Dit wil lyk of die dag se herontplooiing van Fapla se magte ten minste gedeeltelik ’n gevolg hiervan was. 59 Brigade het naamlik effens noordwaarts in die rigting van die Chambinga begin beweeg, vermoedelik om 16 Brigade te help as dit nodig sou wees. ’n Pantserelement is na 2 Taktiese Groep ontplooi as flankmag in die digte bosgebied oos van die Huberivier se oorsprong om die brigade se terugtog daarlangs te dek. ’n Vlietende oomblik lank het Ferreira en De Vries gedink om eers dié pantsermag uit te skakel, maar dit het weens misleidende inligting van Unita deur die mat geval. Marais wou hom – begryplikerwys – eers van die korrekte inligting vergewis.57

Dié Fapla-opstelling is eers ná die tyd aan SAW-kant gerekonstrueer. Op die dag self was die vyandelike opstelling “somewhat vague”, in die woorde van De Vries (2013:672).

Wat die aanval op 16 Brigade betref, was misleiding en sowel fisiese as psigiese ontwrigting weer eens die grondslag. Soos kmdt. Lambert Smith dit gestel het: “Ons het ’n kans gewaag en gesê as die misleiding een keer kon gewerk het, hoekom probeer ons nie presies dieselfde ding ’n tweede keer nie?”58

Ferreira en De Vries het geredeneer dat Fapla, gegewe die ondervinding van 9 November, dié keer die hoofaanval uit die noordooste sou verwag. Dus het hulle besluit om Veggroep Alpha te gebruik om weer ’n steekaanval uit daardie rigting te doen, en Fapla dan onverwags uit die suide met Veggroep Charlie aan te val. Dit sou voorafgegaan word deur ’n artilleriebombardement op teikens A en B, opgevolg deur ’n aanval deur die SALM. Inderdaad, verkenning- en ander inligtingsbronne het daarop gedui dat 16 Brigade die swaartepunt van sy verdediging na die noordweste opgestel het. Nadat die aanval begin het, sou Alpha terugtrek en as reserwemag vir Charlie optree. Teiken A sou eerste aan die beurt kom, waarna die aanvalsmag hom vinnig sou reoriënteer en die aanvalsas noord sou swaai, verder na teiken B (kyk kaart) (De Vries 2013:674).59

 

10. Die geveg van 11 November (fase 1)

In die nag van 10 November, op die 11de, het Veggroepe Alpha en Charlie hul posisies deur ’n skêrbeweging geruil, met Alpha wat nou suid van die teiken was en Charlie noord. Die aanval moes om 09h00 begin.60

So gesê, so gedaan. Om 06h00 was Alpha gereed. Soos twee dae tevore, het die Ratel-90’s van ’n afstand met hul kanonne en die Ratel-81’s met hul mortiere op die vyand losgebrand, terwyl die artillerie met hul G-5’s en Valkiri-meervoudige vuurplynlanseerders verder weg ook hul stem dik gemaak het. Waar hy dit by 61 Meg se posisies aanskou het, het 2de lt. Len Robberts, van 61 Meg se pantserkar-eskadron, in sy dagboek aangeteken: “Die aarde dreun behoorlik. Rook kom op op die doelwit. 61 trek terug – groen monsters kom uit die boslyn” (Scholtz 2017:214). ’n Halfuur later het hulle aanskou hoe ses Mirage F1’s oor hul koppe swiep en hul dodelike vrag op die Angolese soldate laat val. 61 Meg se manne, nou suidoos, het met opset taamlik lawaai gemaak om die vyand onder die indruk te bring dat dít die rigting van die hoofaanval was.61

Die artilleriebombardement was dodelik. Unita het gerapporteer dat die kartetse verwoestend op die teikens gebars het. Drie of vier (die bronne verskil) tenks en ’n BRT-60-pantsermotor is met voltreffers deur die artilleriste aan skerwe geskiet. Angolese MiGs het met hul eie lugaanvalle probeer terugslaan, doeltreffender as gewoonlik. Die bomme het sowat 50 m van Charlie se lugafweertroep geval en ’n kanonnier is deur skrapnel in die rug getref.62

Hiervandaan sou dinge aansienlik moeiliker word. Weens die ruie terrein waardeur Veggroep Charlie moes worstel, was dié mag anderhalfuur laat, waardeur die element van verrassing verlore gegaan het. (Die sig was soms so min as 20 m – Bridgland 1990:200.) Die idee was om die vyand op Teiken A in die flank aan te val, maar in die woorde van kmdt. Smith het Charlie

die vyand genoeg kans gegee om te sien hier kom nou een helse groot mag uit die suide op hom af. Al wat die ouens toe gedoen het, hulle het uit daardie digte bos uit onttrek, hier in die digte bosse tussen die Hube- en die Chambinga-oorsprong in, en toe afbeweeg en hierso by die Hube-oorsprong in ’n kleiner bossie kom sit. Hulle het op ’n flank kom sit, sê, sou Veggroep C te lank in daardie bos vertoef, sou hulle hom uit die suidweste op ’n flank geslaan het.63

Die gevolg was dat toe Charlie eenmaal teiken A teen 10h45 bereik, hy geen vyandelike troepe meer daar aangetref het nie. Die stellings was verlate. In sy nabetragtingsverslag sê Marais in summiere woorde wat die volle omvang van die probleem versluier: “Die digte terrein het weer eens ’n beheerprobleem tot gevolg gehad en daar moes eers herorganiseer word voordat na [teiken] Bravo beweeg kon word.”64 Smith sê Charlie het “gedisoriënteer geraak” en in die bos “rondgedwaal” voordat Taakmag 10 se hoofkwartier die eenheid beveel het om noord te beweeg in die rigting van teiken B.65 In dié digte bos was navigasie ’n haas onmoontlike taak. Die hele veggroep het slegs ’n enkele voertuig met ’n primitiewe GPS gehad waarmee enigsins akkuraat genavigeer kon word.66

 

11. Die geveg van 11 November (fase 2)

In hierdie stadium was die infanterie al ure lank te voet deur die digte bosse aan die beur en het begin moeg word. (Terloops, volgens Marais het lt.genl. Liebenberg, hoof van die leër, persoonlik aan hom die bevel gegee dat die infanterie die aanval op doelwitte A en B te voet moes uitvoer.67 Dis duidelik dat die generaal nie veel van die omstandighede op voetsoolvlak begryp het nie.) Die drukkende, vogtige hitte het ook nie gehelp nie. Toe het die bevelvoerder van A-Kompanie versoek dat sy troepe ’n ruskans kry, wat Marais toegestaan het. Wat Marais nie geweet het nie – nie kón weet nie – was dat die vyandelike hoofmag binne trefafstand vir hulle gesit en loer het. Net toe die troepe dankbaar op die grond gaan sit en/of lê, brand die vyand van taamlik naby los met alles wat hy het. Dit is in sulke tye dat die opleiding van troepe sy waarde wys. Ná ’n oomblik of twee van begryplike paniek het maj. André Retief, die tenkeskadron se bevelvoerder, die inisiatief geneem en ’n vuurgordelaksie beveel. Op kort termyn het dit die vyand se vuur enigsins onderdruk, wat die tenks kans gegee het om vorentoe te beweeg.68

In dié stadium het Marais verdere ontstellende nuus ontvang. ’n Radioberig is onderskep wat daarop gedui het dat Fapla met drie groepe en met meer as 22 tenks op sy mag gesit en wag het. Dis duidelik dat 16 Brigade intussen versterk is. Marais het gevolglik sy eie pantserkar-eskadron na sy regterflank verskuif om te keer dat die vyand agter hom inglip en hom van agter aanval. Sy tenkafweerpeloton se Ratel-90’s is met dieselfde doel op sy linkerflank geplaas (Bridgland 1990:206).69

Iets soortgelyks as in die geveg van twee dae tevore het hier gebeur. ’n Ratel-20 van A-Kompanie het opeens vasgekyk in ’n vyandelike T-54/55. Net soos by die vorige geleentheid het die kanonnier, in hierdie geval sktr. M.J. Mitton, kop gehou, ’n vuurstroom pantserbreekammunisie van naby op die tenk afgevuur en net so lank aangehou totdat rook daaruit begin borrel het. Maar ook dié dapperheid kon nie goed afloop nie: ’n tweede T-54/55 het verskyn en die Ratel flenters geskiet. Mitton is ernstig gewond en het later gesterf. Sy kanonnier is gewond.70

Hierna het ’n ietwat chaotiese maneuvreringsgeveg losgebars, met die Suid-Afrikaners wat stelselmatig vorentoe beweeg en bunkers en loopgrawe ingeneem het. ’n Olifant het in ’n mynveld inbeweeg en ’n myn afgetrap, wat een van sy rusperbande losgeblaas het. Onder hewige vuur het ’n paar tiffies die tenk aan twee herwinningsvoertuie en nog ’n tenk gekoppel, en die magtelose Olifant uitgesleep om herstel te word. (Hiervoor het lt. Tobias de Villiers Vos die Honoris Crux ontvang.) Die ander Olifante het intussen die vuur van die vyand onderdruk en altesame sewe T-54/55’s uitgeskiet. ’n Ratel het ook ’n myn afgetrap en is bowendien deur ’n Fapla-tenk uitgeskiet (Bridgland 1990:207).71 In ’n SAW-situasierapport is kripties gemeld in woorde wat nie naastenby die verskrikking van die voorval kon weergee nie: “1 x Ratel roepsein 12C word uitgeskiet deur ’n vyandelike tenk. Troepe was uitgestap en kanonnier slegs gewond. Die drywer is nog in die brandende voertuig.”72 Twee plofadders, ’n eksperimentele stelsel om ’n pad deur ’n mynveld te skep, is vergeefs gebruik om die mynveld te probeer bres (Bridgland 1990:207).

In dié stadium het die Suid-Afrikaners radiogesprekke van Fapla onderskep wat gedui het op die beweging van tenks links van Veggroep Charlie. Oomblikke later is dit bevestig toe die tenkafweerpeloton (Ratel-90’s) dringend die aanwesigheid van T-54/55’s daar rapporteer. Die linkerkantste Olifant-troep van drie tenks het onmiddellik hul vuur by dié van die Ratels gevoeg en minstens twee vyandelike tenks vernietig.73

“Toe verloor ons heeltemal momentum in die geveg,” het kmdt. Lambert Smith hom ’n paar weke later herinner, “en toe begin die hergroepering.”74 In dié stadium – die tyd het intussen tot sowat 15h15 aangestap – het die veggroep se ammunisie in elk geval begin min word. Die Olifante het wel nog genoeg gehad. Gevolglik het brig. Fido Smit, opperbevelvoerder van die Suid-Afrikaanse magte in suidoos-Angola, beveel dat 4 SAI terugtrek, maar dat Veggroep Alpha vorentoe beweeg en by 4 SAI oorneem. Die verwoeste Ratel is in die mynveld laat staan. Mirages het die Angolese troepe aangeval om hul terugtrekking en ontsnapping te verhinder.75

Dit was egter vergeefs. Veggroep Alpha was slegs ’n taktiese sprong weg van die slagveld, maar in die paar minute wat die formasie nodig gehad het om by die tenks aan te sluit en van Charlie oor te neem, het die Fapla-troepe weer bewys dat hulle soos blits kon beweeg wanneer hul lewens daarvan afgehang het. In die sowat 10 minute waarin Alpha nader beweeg het om aan te sluit, het die Angolese MiGs verskeie bomme op die Suid-Afrikaanse magte laat val. Dit was almal onakkuraat, maar het Alpha se momentum heeltemal gebreek. Bowendien was die son al laag teen die horison, en die Suid-Afrikaners wou begryplikerwys nie in die donker in dié moeilike terrein veg nie. Kontak is gevolglik verbreek, en die oorblyfsels van 16 Brigade het geretireer.76 In die dae hierna het dié troepe eers suidweswaarts na hul ou posisies van 9 November teruggetrek en agtergelate uitrusting daar vernietig, waarna hulle oor die Chambinga na veiligheid ontsnap het.77

Die Suid-Afrikaanse artillerie het wel bloedig wraak geneem deur ’n infanteriebataljon van Fapla wat stelling noord van die brug oor die Chambinga in oop terrein ingeneem het, onder die bomme te steek. Die meervoudige vuurpyllanseerders het ’n volle salvo op die eenheid gevuur, en volgens ’n SAW-waarnemer op die toneel is feitlik die hele groep gedood en ’n aantal logistieke voertuie beskadig.78

 

12. Die gevolge

As ’n mens bloot na die getalle kyk, was die geveg van 11 November weer ’n groot Suid-Afrikaanse oorwinning. Aan SAW-kant het vyf man gesneuwel en is 19 gewond. Twee Ratels het in die slag gebly en een tenk is lig beskadig, maar herwin en herstel. By Fapla is 394 soldate – veel meer as op 9 November – gedood en ’n onbekende aantal gewond. Bowendien is 14 T-54/55-tenks buite aksie gestel, asook ’n ligte PT-76-tenk, 4 BTR-60’s, ’n BMP-1, ’n BRDM-2 en 12 logistieke voertuie (Heitman 1990:138).

Statistieke sê egter nie alles nie. Die gevestigde mening is dat 16 Brigade, net soos op 9 November, opnuut weggekom het. Maar was dit werklik die geval?

Die opdrag aan Taakmag 10 was om die brigades oos van die Cuito te vernietig. Dis belangrik om te weet hoe vernietig in militêre sin verstaan word. Dit beteken nie noodwendig uitwis nie. Dit beteken dat die vyandelike mag sodanig beskadig moet wees dat dit nie meer tot koherente en gekoördineerde optrede in staat is nie.

Teen dié agtergrond is dit interessant om te lees hoe lt. Kalan die formasie se toestand op 10 November, die dag ná die eerste geveg, beskryf (Shubin e.a. 2014:103–4): “Die brigade het geen brandstof, olie of smeerolie nie, en geen ammunisie nie. Daar is geen watertenks nie. Die wapeninventaris: 1 BM-21-vuurpyllanseerder, 7 vragmotors, 1 M-82, 4 RPG-7-vuurpylrigter, 1 AG-17-granaatwerper.” Kalan se inligting oor die oorgeblewe uitrusting is waarskynlik onakkuraat, gesien al die tenks en ander voertuie waarmee Charlie twee dae later te doen gekry het. Nietemin is sy laaste radioboodskap aan sy hoofkwartier veelseggend: “Die moreel van die brigadepersoneel maak dit onmoontlik om offensiewe operasies uit te voer. Sodra die brigade versterk is deur militêre personeel, wapens en ammunisie sal dit in staat wees om defensiewe operasies uit te voer.”79

Hiervolgens was die brigade eintlik al na 9 November se geveg vir alle praktiese doeleindes uitgeskakel. Die tweede geveg, op 11 November, was eenvoudig ’n bevestiging daarvan. Trouens, ’n mens soek vergeefs na die naam van 16 Brigade in Fapla se gevegsorde hierna. Dit lyk of die brigade stilweg onttrek of moontlik selfs ontbind is, wat beteken dat die doel waarmee die geveg aangegaan is, nl. om 16 Brigade as gekoördineerde en koherente gevegsformasie uit te skakel, wel bereik is. (En dit beteken dat ook my vroeëre gevolgtrekking, in Scholtz 2013:308, dat 16 Brigade weggekom het, foutief is.)

Dit geld nie slegs vir 16 Brigade nie. Op dieselfde dag, 11 November, het lt.kol. Igor Zjdarkin (kyk Shubin en Tokarev 2011:56–7) ’n skerpsinnige, akkurate boodskap aan die operasionele hoofkwartier in Cuito Cuanavale gestuur:

Die vyand slaan elke brigade afsonderlik en niks word gedoen om ’n kollektiewe slag te slaan nie. [Kyk weer na Roland de Vries se beplanning! – LS] Dus sal al die brigades een vir een uitgeskakel word. Daar is min militêre personeel in die gevegseenhede. Bevelvoerders van alle range is bang. Hulle is bang om teenaksies teen die vyand te begin.

In sy dagboek het hy daaraan toegevoeg:

Iets wat jy jou nie kan inbeeld nie, gebeur nou. Die Angolese troepe is byna totaal gedemoraliseer; die brigades is gemiddeld op 45% sterkte. [...] Die Angolese vrees die Suid-Afrikaners soos vuur en as hulle hoor dat hul “Buffalo” [32 Bataljon se embleem – LS] deel van ’n aanval is, gooi hulle al hul uitrusting weg en vlug paniekbevange.80

In die dae hierna het die SAW-veggroepe hul uiterste bes gedoen om die terugtrekkende Fapla-magte suid van die Chambinga vas te keer en te vernietig voordat hulle veiligheid noord van die rivier kon bereik, maar vergeefs. Dinge wou maar net nie verloop soos beplan nie. Teen 16 November was die Angolese eenhede almal in veiligheid, al is hulle in die proses lelik gegaffel. Al is die opdrag rakende 16 Brigade dus wel deeglik uitgevoer, was dit betreffende 21 en 59 Brigade nie die geval nie.

 

13. Ontleding

Wanneer die Slag van die Chambinga in al sy fases en fasette ontleed word, is dit belangrik om subjektiewe oortuigings en gevoelens (soos of die engele aan die kant van die SAW of Fapla was) te vermy en dit aan die hand van objektiewe, streng professionele en algemeen-erkende beginsels van oorlogvoering te doen.

Oor die beginsels van oorlogvoering het heelparty militêre denkers al talle geskrifte voortgebring. In die antieke tyd het die Chinese strateeg Sun Tzu (kyk San Tzu 1988) hom byvoorbeeld daaroor uitgelaat, en in die 19de eeu het die Pruisiese militêre denker Carl von Clausewitz (1942, 1998) verskillende studies daaroor die lig laat sien. In die 20ste eeu het genl.maj. J.F.C. Fuller, een van die vaders van moderne gemeganiseerde oorlogvoering, ses beginsels na aanleiding van sy studie van Napoleon geïdentifiseer, naamlik “objective, mass, offensive, security, surprise and movement” (Trythall 1977:31). Dit het die grondslag van die Britte se latere denke gevorm.

Elke moderne weermag hanteer sy eie stel oorlogsbeginsels op grond waarvan offisiere opgelei word. In die VSA geld nege beginsels, te wete “objective, offensive, mass, economy of force, maneuver, unity of command, security, surprise and simplicity” (US Army 1994:31).

Die SAW se denke oor die saak, aldus brig.genl. George Kruys, is deur sowel die Britte as die Amerikaners beïnvloed. Oor die toepassing van die beginsels skryf hy:

In the application or use of the principles of war, it must be understood that they are not meant to be interpreted as rigid and dogmatic commandments. They should be used creatively taking real conditions into account. The principles must be seen as considerations to be kept in mind by commanders when they plan and carry out operations. They can be used as a check list of topics whilst war gaming and operation and must be applied to the specific time and conditions of the situation. They should help the commander to choose the best options according to conditions. (Kruys 2001:39–40)

Die beginsels wat tydens die Grensoorlog deur die SAW erken is, is die volgende:

  • Die kies en handhawing van die oogmerk
  • Handhawing van moreel
  • Offensiewe optrede
  • Verrassing
  • Konsentrasie van poging
  • Sekerheid
  • Ekonomiese aanwending
  • Eenheid van bevel
  • Buigsaamheid
  • Maneuvrering
  • Samewerking tussen verskillende wapens
  • Goeie logistieke steun
  • Handhawing van reserwes
  • Goeie inligting. (Kruys 2001:43–4; De Vries 2018:62)

Sonder om in die slaggat te trap wat Kruys identifiseer, nl. om dié beginsels soos ’n soort chemiese formule of wet van die Mede en Perse te beskou, kan ons dit as ’n hulpmiddel gebruik om te kyk in welke mate die SAW en Fapla in die gevegte van 9 en 11 November 1987 daaraan voldoen het. Die punte word toegeken op grond van my – hopelik – ingeligte oordeel. Dis moontlik dat ander navorsers enigsins anders daarna kan kyk.

Op die 9-punt skaal in die tabelle dui 1 die swakste toepassing aan en 9 die beste.

Tabel 1. Ontleding: konvensionele beginsels van oorlogvoering (SAW)

Nommer Beginsel 1 2 3 4 5 6 7 8 9
1 Kies en handhawing van oogmerk             X    
2 Handhawing van moreel       X          
3 Offensiewe optrede               X  
4 Verrassing                 X
5 Konsentrasie van poging           X      
6 Sekerheid             X    
7 Ekonomiese aanwending           X      
8 Eenheid van bevel               X  
9 Buigsaamheid               X  
10 Maneuvrering               X  
11 Samewerking               X  
12 Logistieke steun       X          
13 Handhawing van reserwes     X            
14 Inligting               X  


Tabel 2. Ontleding: konvensionele beginsels van oorlogvoering (Fapla)

Reeksnommer Beginsel 1 2 3 4 5 6 7 8 9
1 Kies en handhawing van oogmerk   X              
2 Handhawing van moreel X                
3 Offensiewe optrede   X              
4 Verrassing     X            
5 Konsentrasie van poging   X              
6 Sekerheid   X              
7 Ekonomiese aanwending van magte   X              
8 Eenheid van bevel         X        
9 Buigsaamheid   X              
10 Maneuvrering     X            
11 Samewerking       X          
12 Logistieke steun   X              
13 Handhawing van reserwes         X        
14 Inligting X                

 

Uit die tabelle blyk duidelik dat die Suid-Afrikaners veel beter as die Angolese gevaar het. Hier moet wel in aanmerking geneem word dat die SAW in die gevegte van 9 en 11 November die aanvaller was en Fapla die verdediger. Met ander woorde, dit was die SAW wat die inisiatief geneem het en in beginsel veel beter in staat was om bogenoemde beginsels na te kom. Die SAW het in breë trekke geweet waar 16 Brigade was en wat gedoen moes word om die formasie uit te skakel. Tot op die oggend van 9 November was Fapla klaarblyklik heeltemal onbewus van die Suid-Afrikaners se teenwoordigheid so ver noord, laat staan waar en wanneer laasgenoemdes sou aanval.

Nog ’n faktor wat in gedagte gehou moet word, is dat verdediging, waar alle ander faktore gelyk is, die sterkste is. Maar ofskoon ’n verdedigende mag kan keer dat ’n vyand wen, kan dit bitter moeilik die deurslag vir ’n werklike eie oorwinning gee. Aanval, daarenteen, is meestal nodig om ’n beslissing af te dwing. Soos Von Clausewitz (1998:371) dit stel, behoort jy jou slegs so lank van die verdediging te bedien as wat jou eie swakte jou daartoe dwing. So gou jy sterk genoeg is, moet jy, om ’n beslissing af te dwing, tot die aanval oorgaan.

In die eerste fase van Operasie Moduler, of Saludando à Octubre, soos dit by die Angolese bekendgestaan het, was Fapla op die aanval. Maar ondanks ’n stewige oormag aan Fapla-kant het die SAW Fapla se pogings om Mavinga en die landingstrook daar in te neem beslissend afgeslaan. Daarna het die SAW self tot die offensief oorgegaan om ’n beslissing af te dwing. Hierin het die gevegte van 9 en 11 November ’n belangrike rol gespeel. En omdat die Suid-Afrikaners, met veral De Vries op die voorpunt, hul gevegsplanne bewustelik volgens die beginsels van oorlogvoering gevorm het, was hulle veel beter in staat om dit uit te voer as Fapla.

Dit is waar dat die Slag van die Chambinga nie die operasionele beslissing meegebring het waarop die SAW gehoop het nie. Fapla het, sy dit ernstig beskadig, tot noord van die Chambinga teruggetrek na terrein wat die verdediging sterk bevoordeel het. Hier het die SAW weens druk van die generaals in Pretoria van sy eie beginsels begin afwyk en altesame ses onverstandige frontaanvalle op goedvoorbereide verdedigende stellings gedoen. Die laaste drie het op duidelike nederlae vir die SAW uitgeloop. En toe het die Kubane met ’n onverwagte opmars in suidwes-Angola na die grens van SWA begin, waardeur die Suid-Afrikaners onkant betrap is. Die uiteindelike gevolg was dat ’n feitlik sekere operasionele oorwinning vir ’n gelykop uitslag verruil is. Maar dit is weer ’n ander verhaal.

 

Bibliografie

Gepubliseerde bronne

Breytenbach, J. 2002. Buffalo soldiers. The story of South Africa’s 32 Battalion 1975–1993. Alberton: Galago.

Bridgland, F. 1990. The war for Africa. Twelve months that changed a continent. Gibraltar: Ashanti.

De Vries, R. 1987. Mobiele oorlogvoering. ’n Perspektief vir Suider-Afrika. Menlopark: F.J.N. Harman.

—. 2013: The eye of the firestorm. Strength lies in mobility. Tygervallei: Naledi.

—. 2018: Mobile warfare for Africa. On the successful conduct of wars in Africa and beyond – lessons learned from the South African Border War. Solihull: Helion.

Heitman, H.-R. 1990. War in Angola: The final South African phase. Gibraltar: Ashanti.

Hough, M. en L. du Plessis (reds.). 2001. Selected military issues with specific reference to the Republic of South Africa. Pretoria: Institute of Strategic Studies.

Kruys, G.P.H. 2001. The principles of war: Their status in the year 2001. In Hough en Du Plessis (reds.) 2001.

Liddell Hart, B.H. 1967: Strategy. The indirect approach. Londen: Faber & Faber.

Scholtz, L. 2013. Die SAW in die Grensoorlog 1966–1989. Kaapstad: Tafelberg.

—. 2017a. Ratels aan die Lomba: Die storie van Charlie-Eskadron. Johannesburg: Jonathan Ball.

—. 2017b. The battle of the Lomba, 3 October 1987: a tactical and operational analysis. Journal for Contemporary History, 42(2):48–73.

Shubin, G. en A. Tokarev (reds.). 2011. Bush War. The road to Cuito Cuanavale. Soviet soldiers’ accounts of the Angolan War. Aucklandpark: Jacana.

Shubin, G., I. Zhdarkin, V. Barabulya en A. Kuznetsova-Timonova (reds.). 2014: Cuito Cuanavale: Frontline accounts by Soviet soldiers. Aucklandpark: Jacana.

Sun Tzu. 1988: The art of war. Uit Mandaryns vertaal deur T. Cleary. Boston: Shambhala.

Trythall, A.J. 1977. “Boney” Fuller: The intellectual general 1878–1966. Londen: Cassell.

US Army. 1994. Field manual 100–1. Baltimore: U.S. Army Publications Center.

Von Clausewitz, C. 1942: The principles of war. Uit Duits vertaal deur H.W. Gatzke. Harrisburg: Military Service Club.

—. 1998: Vom Kriege. Berlyn: Ullstein

Argivale bronne

SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling

 

Eindnotas

1 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 25/106, onderhoud met kmdt. Lambert Smith, 8–9.12.1988, parr. 39–40.

2 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 40, Warwick Dorning: A concise history of Operation Moduler (phase one): May–October 1987, bl. 72; J.F. Huyserversameling 40, Appendix A, bl. 21.

3 Onderhoud met brig.genl. André Retief, 10.8.2018.

4 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 40, Von Moltke, R.: Konsep Operasie Moduler (fase 2), parr. 271 en 275.

5 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 40, Von Moltke, R.: Konsep Operasie Moduler (fase 2), par. 275.

6 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 26/110, situasierapport, 8.11.1987; J.F. Huyserversameling 40, Von Moltke, R.: Konsep Operasie Moduler (fase 2), par. 164.

7 Eie berekening wat breedvoerig bespreek word in ’n nog ongepubliseerde manuskrip, Die SAW en Cuito Cuanavale: Hoe Suid-Afrika se beplanning ontwikkel het.

8 Kyk SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 16, verskeie lêers.

9 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 40, Von Moltke, R.: Konsep Operasie Moduler (fase 2), parr. 253–6.

10 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 40, Von Moltke, R.: Konsep Operasie Moduler (fase 2), parr. 257–60.

11 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 40, Von Moltke, R.: Konsep Operasie Moduler (fase 2), par. 269.

12 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 40, Von Moltke, R.: Konsep Operasie Moduler (fase 2), parr. 274–7.

13 Die volgende drie paragrawe berus op die volgende bronne: SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 26/110, situasierapport, 7.11.1987; SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 26/110, situasierapport 8–9.11.1987; SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 40, Von Moltke, R.: Konsep Operasie Moduler (fase 2), par. 278.

14 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 25/106, onderhoud met kmdt. Lambert Smith, 8–9.12.1987, par. 81.

15 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 25/106, onderhoud met kmdt. Lambert Smith, 8–9.12.1987, par 82.

16 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 27/122, onderhoud met kol. Roland de Vries, 16.2.1988, bl. 8.

17 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 26/110, situasierapport 8–9.11.1987.

18 Dagboekinskrywing vir 9.11.1987.

19 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 26/110, situasierapport 8–9.11.1987; SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 25/106, onderhoud met kmdt. Lambert Smith, 8–9.12.1987, parr. 83 en 106; SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 40, Von Moltke, R.: Konsep Operasie Moduler (fase 2), par. 283.

20 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 40, Von Moltke, R.: Konsep Operasie Moduler (fase 2), par. 280.

21 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 26/110, situasierapport, 8–9.11.1987.

22 E-pos van Leon Marais, 1.8.2018; onderhoud met André Retief, 13.8.2018.

23 Marais, L.: Kronologiese verloop van gevegte oos van Cuitorivier oor die periode 8 Nov tot 16 Nov 1987, 19.11.1987 (in my besit).

24 Marais, L.: Op Moduler, 1.8.2011, ble. 8 en 15 (in my besit).

25 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 40, Von Moltke, R.: Konsep Operasie Moduler (fase 2), parr. 285–96.

26 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 40, Von Moltke, R.: Konsep Operasie Moduler (fase 2), par. 287; SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 26/110, situasierapport, 8–9.11.1987.

27 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 40, Von Moltke, R.: Konsep Operasie Moduler (fase 2), par. 288.

28 Marais, L.: Kronologiese verloop van gevegte ..., bl. 3.

29 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 26/110, situasierapport, 8–9.11.1987.

30 Dagboekinskrywing van 9.11.1987.

31 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 40, Von Moltke, R.: Konsep Operasie Moduler (fase 2), par. 290; Marais: Kronologiese verloop van gevegte ...”, bl. 4.

32 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 26/110, situasierapport, 8–9.11.1987.

33 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 26/110, situasierapport, 8–9.11.1987; SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 40, Von Moltke, R.: Konsep Operasie Moduler (fase 2), par. 297.

34 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 26/110, situasierapport, 8–9.11.1987; Marais, L.: Kronologiese verloop van gevegte ..., 19.11.1987, bl. 4.

35 Dagboekinskrywing van 9.11.1987.

36 E-pos van Leon Marais, 1.8.2018.

37 E-pos van Leon Marais, 1.8.2018.

38 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 26/110, situasierapport, 8–9.1987; SANW Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 40, Von Moltke, R.: Konsep Operasie Moduler (fase 2), par. 295; SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 25/106, onderhoud met kmdt. Lambert Smith, 8–9.12.1987, par. 86; Marais, L. Kronologiese verloop van gevegte ..., 19.11.1987, bl. 5.

39 SANW Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 40, Von Moltke, R.: Konsep Operasie Moduler (fase 2)”, par. 295; Marais, L.: “Kronologiese verloop van gevegte ..., 19.11.1987, bl. 5.

40 SANW Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 40, Von Moltke, R.: Konsep Operasie Moduler (fase 2), par. 295; Marais, L.: Kronologiese verloop van gevegte ..., 19.11.1987, bl. 5.

41 Marais, L.: Kronologiese verloop van gevegte ..., 19.11.1987, bl. 5.

 

42 SANW Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 26/110, situasierapport, 8–9.11.1987; SANW Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 25/106, onderhoud met kmdt. Lambert Smith, par. 86, 8–9.11.1987; SANW Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 40, Moltke, R.: Konsep Operasie Moduler (fase 2), par. 296; Marais, L.: Kronologiese verloop van gevegte ..., 19.11.1987, bl. 5.

43 SANW Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 25/106, onderhoud met kmdt. Lambert Smith, par. 86, 8–9.11.1987; SANW Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 40, Moltke, R.: Konsep Operasie Moduler (fase 2), par. 302.

44 SANW Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 40, Moltke, R.: Konsep Operasie Moduler (fase 2), par. 297B.

45 Dagboekinskrywing van 9.11.1987.

46 Marais, L.: Op Moduler, 1.8.2011, bl. 14.

47 SANW Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 24/98, radiogesprek tussen kol. Deon Ferreira en kmdt. Leon Marais, 15.11.1987.

48 SANW Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 26/110, situasierapport, 16.11.1987.

49 E-pos van Leon Marais, 5.8.2018.

50 SANW Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 27/122, onderhoud met Roland de Vries, 16.2.1988, bl. 7.

51 E-pos van Roland de Vries, 11.8.2018.

52 SANW Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 40, Moltke, R.: Konsep Operasie Moduler (fase 2), par. 298.

53 Dagboekinskrywing van 10.11.1987.

54 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 40, Moltke, R.: Konsep Operasie Moduler (fase 2), parr. 318 en 328; SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 25/106, onderhoud met kmdt. Lambert Smith, par. 92; SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 26/110, situasierapport, 9–10.11.1987.

55 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 40, Von Moltke, R.: Konsep Operasie Moduler (fase 2), par. 311; Marais, L.: Op Moduler Nabetragting, 19.11.1987, bl. 7.

56 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 40, Von Moltke, R.: Konsep Operasie Moduler (fase 2), par. 321.

57 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 40, Von Moltke, R.: Konsep Operasie Moduler (fase 2), par. 309 en 316; SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 25/106, onderhoud met kmdt. Lambert Smith, 7–8.12.1987, par. 91.

58 J.F. Huyserversameling 25/106, onderhoud met kmdt. Lambert Smith, 7–8.12.1987, par. 94.

59 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 40, Von Moltke, R.: Konsep Operasie Moduler (fase 2), par. 320–1; SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 26/110, situasierapport, 10–11.1987; Op Moduler Nabetragting, 19.11.1987, bl. 7.

60 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 40, Von Moltke, R.: Konsep Operasie Moduler (fase 2), par. 321; SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 25/106, onderhoud met kmdt. Lambert Smith, 8–9.12.1987, par. 94.

61 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 25/106, onderhoud met kmdt. Lambert Smith, 8–9.12.1987, par. 96.

62 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 40, Von Moltke, R.: Konsep Operasie Moduler (fase 2), par. 323; Marais, L.: Op Moduler Nabetragting, 19.11.1987, bl. 8.

63 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 25/106, onderhoud met kmdt. Lambert Smith, 8–9.12.1987, par. 97.

64 Marais, L.: Op Moduler Nabetragting, 19.11.1987, bl. 8.

65 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 25/106, onderhoud met kmdt. Lambert Smith, 8–9.12.1987, par. 98.

66 Onderhoud met brig.genl. André Retief, 1.8.2018.

67 E-pos van Leon Marais, 1.8.2018.

68 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 40, Von Moltke, R.: Konsep Operasie Moduler (fase 2), par. 330–1; SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 26/110, situasierapport, 10–11.11.1987.

69 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 40, Von Moltke, R.: Konsep Operasie Moduler (fase 2), par. 332.

70 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 40, Von Moltke, R.: Konsep Operasie Moduler (fase 2), par. 333.

71 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 40, Von Moltke, R.: Konsep Operasie Moduler (fase 2), par. 334; SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 26/106, onderhoud met kmdt. Lambert Smith, 8–9.12.1987, par. 100.

72 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 26/110, situasierapport, 11.11.1987.

73 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 40, Von Moltke, R.: Konsep Operasie Moduler (fase 2), par. 335.

74 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 26/106, onderhoud met kmdt. Lambert Smith, 8–9.12.1987, par. 100.

75 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 40, Von Moltke, R.: Konsep Operasie Moduler (fase 2), parr. 335–6; SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 26/110, situasierapporte, 10–11.11.1987 en 11.11.1987.

76 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 40, Von Moltke, R.: Konsep Operasie Moduler (fase 2), parr. 336–42.

77 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 40, Von Moltke, R.: Konsep Operasie Moduler (fase 2), par. 345.

78 SANW-Dokumentasiesentrum. J.F. Huyserversameling 40, Von Moltke, R.: Konsep Operasie Moduler (fase 2), par. 338.

79 Dagboekinskrywing van 10.11.1987.

80 Dagboekinskrywing van 11.11.1987.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


  • 2

Kommentaar

  • Daleen Venter

    Goeiemore - waar kan ek navraag doen oor 'n volledige naamlys van die oorledenes tydens die geveg op 9 November 1987?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top