Die skrywers van die Ou Testamentiese boek Genesis

  • 1

Die Duitse Protestantse teoloog Julius Wellhausen (Hameln, 1844 – Göttingen, 1918) het die evolusionêre ontstaan van die OT boek Genesis, en daarmee die eintlike wording van die Joodse godsdiens, op skitterende revolusionêre wyse uiteengesit in sy Die Composition des Hexateuchs und der historischen Bücher des Alten Tetaments van 1885. As “modernis” en navolger van die sogenaamde “Hoër Kritiek” was daar die konserwatiewes wat van hom verskil het (soos aanvanklik M Kegel), maar sy epigone (soos K Budde, CF Burney en GB Gray) het sy teorieë wel deeglik bevestig. Wellhausen het inderdaad die studie van die Hebreeuse OT totaal omvorm.

Vir die ontstaan van die boek Genesis (Běrêsjit in Hebreeus vir “In die Begin”) het Wellhausen op heel oorspronklike en vindingryke wyse vier bronne geïdentifiseer waaruit dit uiteindelik saamgestel is, naamlik bronne/skrywers “J”, “E”, “D” en “P”.

Bron “J” het Wellhausen met die adjektief “Jawisties” beskrywe omdat die God van Israel daar altyd Jahwê(h) was. Jahwê(h), die heilige Joodse tetragrammaton, wat 6 823 keer in die OT voorkom, was die Bondsgod van Israel, ’n naam té heilig om uitgespreek te word, en  in die plek daarvan altyd net Adonai gesê moes word, wat weer beteken het “[my]Heer”, of “Here” (pluralis majestatis) – te vergelyk met die NT (én Moderne Griekse) Kúrios (“heer”, “meneer” < “mijn heer”). Hierdie bron dateer waarskynlik uit 950 - 850 vC. Dit het in Jerusalem ontstaan, geskryf deur iemand uit die geslag van Juda (wat later die Suidelike Ryk van Israel sou vorm). Dit vorm hoofsaaklik die narratief van Adam en Eva (die skepping van die mens) en hul verblyf in die Tuin van Eden (die Paradys), asook die verhale van die Aartsvaders (Patriarge) en Eksodus. So hoor ons daarin die verhaal van Noag en sy Ark (Genesis 6 -7), die Here se roeping van Abraham (Genesis 15:7, ”Ek is die Here wat jou  uitgelei het uit Ur van die Chaldeërs (wat uit die Suidelike deel van Babilonië tot aan die Persiese Golf gestrek het, verwant aan die Arameërs) om jou hierdie land [Kanaän/Israel] in besit te gee” – vgl ook Genesis 12:1).  Hierdie goddelike roeping het Abraham gekry teen die jaar 2090 vC word daar bereken. Hongersnood het hom daarna na Egipte gedryf. Dit was ongeveer tussen 1447 en 1445 vC dat ons weer die uittog van die Israeliete uit Egipte moet dateer: 480 jaar vóór die vierde jaar van Salomo se regering oor Israel. Dokument “J” sluit ook die moederbelofte vir Abraham in (Genesis 3:15) en dit vertel ons ook van Isak en Jakob, die avonture van Josef en Moses se uittog met sy volk uit Egipte, en hulle terugkeer na Kanaän (in die boek Josua daarna verhaal). Bron “J” slaag daarin om sy karakters baie treffend af te beeld: die statige, godgelowige Abraham, die ambisieuse Jakob, die vindingryke Josef, en die geïnspireerde Moses. Bron “J” is al die prins van storievertellers genoem.

Uitsonderlik merkwaardig is egter dat dokument “J” die heilige tetragrammaton Jahwê(h) gebruik het nog voordat Jahwê(h) Homself aan Moses openbaar het in Eksodus 3:14: êhějêh ăsjêr êhějêh (“Ek is wat Ek is”), suiwer self-identies. Dit bring ons by ’n ander interessante teorie. Die Latynse Jupiter (meer korrek Juppiter volgens Lewis & Short se A Latin Dictionary, 1989, p 1018, sub voce) het ontwikkel uit Jovis-pater, waar Jovis gelyk is aan Djovis, ’n woord wat weer “lig” of “die helder hemel” kan beteken (sien Paul Harvey, The Oxford Companion to Classical Literature, 1969, p 232). Van hier is dit ’n klein stappie om Jahwê(h) teenoor Djovis te stel. Wat meer is, is dat dies in Latyn “dag” beteken, en dat dyāúch in Sanskrit ook die woord vir “lig” en “dag” is: vgl hier JB Hofmann, Etymologisches Wörterbuch des Griechischen,  1950, p 102, onder Zeús, waar hy Iupiter gelyk stel aan Zeû pater, “O Vader Zeus”. Sanskrit is ’n Indo-Europese taal wat aan die einde van die 18de eeu (1786) deur ’n Engelse geleerde, sir William Jones, in Indië ontdek is waarin die vier Vedas, as heilige boeke van die Hindoes, geskryf was). Samuel Prideaux Tregelles (Hebrew and Chaldee Lexicon, 1952, p 337, sub voce Jahwêh) meen dat die woord Jahwê(h) uit die verre “donker” Oudheid kom, heel waarskynlik uit Egipte, en dat dit dieselfde stam het as die Latynse Jovis en Jupiter. Jupiter en die Griekse Zeû pater (Vokatief by aanroep) beteken dan niks anders as “Vader Dag/Lig” nie. Dit korrespondeer weer perfek met die begin van die Skeppingsverhaal (Genesis 1:3), wajěhi ‘ōr: ”Laat daar lig wees!” Wat meer is, is dat die Griekse Zeús (Deús in die Lakonies van Sparta), die Oppergod van hul panteon, weer gelyk is aan die Latynse woord vir “God”, naamlik Deus. Deus, “god”, in Latyn, staan weer vir die  Griekse theós. En die sirkel is voltooi. “God” is “Lig” en die “Liggewer”, die “helder Een”, waarsonder die Skepping nie moontlik was nie, en wat weer op sy beurt met die hemel bo die aarde geassosieer word.

Bron “E” het Wellhausen met die adjektief “Elohisties” beskryf, na aanleiding daarvan dat Jahwê(h) hier met Elohîm, dit is sonder meer “God”, vervang word. Dit was ’n pikante opmerking van Wellhausen. Dit skrywer hiervan was ’n onbekende persoon uit die jaar ongeveer 750 vC, dus ietwat later as bron “J”. Dit was in die tyd nadat Saul, Dawid en Salomo as konings regeer het, en nadat die Koninkryk van Israel in twee verdeel is. “E” het aan die Noordelike Koninkryk, en wel die stam van Efraim, behoort met Samaria as hoofstad. Die skrywer van “E” was waarskynlik ’n priester. Ons kry hoofstukke van ”E” verspreid in die boeke van die Pentateuch. Twee meesterstukke van sy werk is die offerande van Isak in Genesis 22, en die verhaal van Josef in Egipte. Die hoofstukke wat “J” en “E” geskryf het, is deur iemand anders (weer ’n priester?) in een vervleg. Die uitgawe van bronne “J” en “E” saamgevoeg, was vir  baie  jare gewild as die Joodse Pentateuch. Maar dit was nie die einde van die evolusie van hierdie “Pentateuch van Moses” nie. Twee ander bronne, “D” en “P” kom nog by.

Bron “D” is hoofsaaklik wetties, en is vervat in Deuteronomium (die “nuwe/tweede” wet – Hebreeus  torah, Grieks nómos). In Grieks beteken nómos gewoonte-gebruik wat deur die volk gesanksioneer is; in Hebreeus beteken torah, wat met nómos vertaal word, soewereine goddelike instruksie van Bo waarin die mens geen seggingsmag het nie. Die skrywer van bron “D” het waarskynlik aan die Noordelike Ryk behoort, en is kort voor die tyd van die profeet Hosea (in 721 vC) geskrywe. Hierdie geskrif  is gedurende koning Josua se regering (639 - 608 vC), wat oor die Noordelike Ryk regeer het, in die Tempel in Jerusalem ontdek. Dit was een van die skrywer van hierdie dokument se hoofdoeleindes om die monoteïsme van Israel uit te spel: vgl Deuteronomium 6:4, sjěma’ jisjěrāel JHJH êlohēnu JHJH êchād: “Hoor Israel die HERE onse God is ’n enige HERE”.

Bron “P”, in sy finale redaksie, het waarskynlik tydens die Babiloniese Ballingskap van Israel onder Nebukadnesar (586-38 vC) sy vaste vorm gekry. Dit is ’n blote priesterlike dokument want dit het ook die rites en seremonies van Israel. Dit is beslis die laaste van die vier dokumente waaruit ’n onbekende persoon (of groep geestelikes) die Pentateuch sy finale vorm laat kry het teen ongeveer 550 vC, maar nie later as 400 vC nie. Die styl hiervan is formeel, en die skrywer(s) bereik soms groot hoogtes, soos met die eerste Skeppingsverhaal (Genesis 1.1 - 2:3), en die Verbond by Genesis 9 en 17. Primitiewe idees en antropomorfistiese voorstellings van Jahwê(h) as enigste God word vermy. Dit is opgestel binne ’n historiese raamwerk met die aangawe van genealogie-lyste, waar numeriese informasie soms opsigtelik foutief is, soos byvoorbeeld by Eksodus 12:37 (“En die kinders van Israel het van Raämses na Sukkot weggetrek, omtrent seshonderdduisend te voet, die manne buiten die kinders”). Die priesterskap by “P” word beskou as beperk tot die Seuns van Aäron, en nie net tot die stam van Levi soos by bron “D” nie. Die heilige naam Jahwê(h) word hier gebruik na die selfopenbaring daarvan van God vir Moses by Eksodus 3:14. Bron “P” sluit ook vroeër stof in wat kongrueer met die ander drie bonne. Hierdie bron beslaan die grootste gedeelte van die boek Levitikus in die Pentateuch.

Uit bostaande is dit duidelik dat die Pentateuch (die eerste vyf  boeke van die Joodse Bybel) oor ’n baie lang tydperk ontstaan het. Hoe, waarom, en deur wie, weet ons vandag nie. Vir lank was aangeneem dat Moses die Pentateuch geskryf het. Hy het inderdaad deel daaraan gehad (vgl Eksodus 17:14, 24:4, 34:28, en Numeri 33:2). In Deuteronomium 34:5 word egter van Moses se dood en begrafnis melding gemaak en word ons meegedeel dat niemand “tot vandag toe” sy graf geken het nie (dws die dag waarop hierdie woorde geskryf is).                                    Ons kan hiermee die ontstaan van die twee Homeriese Eposse vergelyk (naamlik die Ilias van 15 693 reëls, en die Odusseia van 11 760 reëls) wat ook teen die 9de eeu voor Christus tot stand gekom het toe die Grieke hulle alfabetiese skrif ontwikkel het uit die Fenisiese skriftekens (tà phoiníkeia). Eertyds het die Griekse Achaioí (Achajers) Lineêr-B-skrif aan hulle koninklike howe gebruik, voorafgegaan deur Lynskrif-A, wat beide sillabies was. Dit was Homerus wat die siklus van Trojaanse sange van die oud-Griekse barde (aoidoí), wat vir geslagte lank mondelings oorgelewer was, saamgevoeg het om sy Eposse te kon komponeer. Hy was glo ’n blinde sanger van die rotsagtige eiland Chios aan die kus van Klein-Asië. Daar is ook dié wat meen dat die naam “Homeros” etimologies eintlik net “samevoeger” beteken. Nietemin het hy vir die ou Grieke ook hulle eie mitologiese Bybel gegee. Genesis beskryf die skeppingsgeskiedenis (tōlědōt, ’n woord wat meermale daarin voorkom) van die wêreld en die mens. Die Babiloniërs, waaruit Abraham kom, het ook hulle eie skeppingsgeskiedenisse gehad. Die Joodse Genesis gee geen wetenskaplike beskrywing van die skepping nie. Die sieninge hier hoort tot die oer, voor-wetenskaplike denkinge van die mens. Met die Hadron-Versneller onder Switserland en Frankryk word die Higg’s boson nou gesoek, dws die skepping van materie uit energie, na aanleiding van Albert Einstein se beroemde formule E= MC² dws waar energie gelyk is aan massa wat met die spoed van lig tot die tweede mag vermenigvuldig word. Só word tasbare stof/materie dan uit blote abstrakte energie geformeer, die fisiese uit die metafisiese. En ons is terug by die oorspronklike betekenis van die name van Zeús, Jup(p)iter, Djovis en Jahwê(h) hierbo gesimboliseer in Genesis 1:3: “Laat daar lig wees!”

Hermann Gunkel, in sy Kommentar op Genesis (vyfde druk, 1922) was die eerste om die Formgeschichte toe te pas om die historisiteit van die Genesis-verhaal te toets. Later het Rudolf Bultmann dieselfde vir die NT gedoen met sy Die Geschichte der synoptischen Tradition van 1921, en tot die gevolgtrekking gekom dat die Evangeliese verhaal grondig gedemitologiseer moet word. Dit was ’n uitgangspunt van radikale skeptisisme op die stof gegewe wat ons in die Evangelies aantref. Hy het ’n feitlik onoorbrugbare hiatus geskep tussen geloof en ware geskiedenis. Martin Dibelius het dieselfde gedoen met sy Die Formgesichte des Evangeliums van 1919 (tweede uitgawe 1933), hoewel hy meer neutraal probeer staan het as Bultmann. Die mitologiese ondergrond van die Ou en Nuwe Testament in die stelling van sy narratief én dogma kan nie weggeredeneer word nie. ’n Post-modernistiese Entmythologisierung is vandag onvoorwaardelik essensieel vir die Christelike Bybel.

  • 1

Kommentaar

  • Weereens, baie interessant - vir 'n leek, soos ek, op hierdie gebied. Terwyl die uitmekaar pluis van die samestelling van die Ou Testament die letterlike interpretasie daarvan ondermyn (soos die evolusieleer), wonder ek tog of dit die insigte en leerstellings van die boeke enigsins aantas. As dit plek-plek mitologie is, beteken dit tog seker nie dat dit nie beskou kan word as 'n goddelike openbaring nie?

    Ek moet sê dat ek stik aan die woord "Post-modernistiese" in verband met 'n Bybelse interpretasie: Eerstens omdat dit nie meer die geur van die maand is nie en tweedens omdat die twyfel wat dit oral insleep, vreemd is aan enige godsdiens en dit nie aanvul en uitbou nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top