Dié skrywers haal kortlys vir NB se Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2015

  • 0

NB-Uitgewers kondig met trots die kortlys vir die Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2015 aan. Uit ’n totaal van 95 inskrywings het die beoordelaars op die volgende kandidate besluit:

Oop afdeling
Amraal deur Marinda van Zyl
Brandwaterkom deur Alexander Strachan
Die laaste goeie man deur Dan Sleigh
Sjinees deur Etienne van Heerden

Debuutafdeling
Die onglobare deur Petrus Steyn
Die skaalmodel deur Anneli Groenewald
Maximillian Ottilie deur Jelleke Wierenga

Die wedstryd is nie net die omvangrykste romanwedstryd in die land nie; dit bied ook die grootste beloning én die geleentheid om by die land se grootste plaaslike uitgewery te publiseer. Skrywers kon manuskripte aan enige van NB-Uitgewers se fiksiedrukname voorlê: Tafelberg, Human & Rousseau, Queillerie of Kwela Boeke. Prysgeld van altesaam R350 000 is op die spel:

Wenner R200 000
Naaswenner R70 000
Derde prys R40 000
Debuutprys R40 000

Die beoordelaars is die voormalige boekeredakteur en bekroonde skrywer Kerneels Breytenbach, skrywer, vertaler en akademikus Michiel Heyns en die digter en letterkundige Heilna du Plooy.

“Die beoordelaars het van die inskrywings uitgesonder as meevoerende, indrukwekkende leeservarings, ambisieus in opset én uitvoering,” sê Etienne Bloemhof, NB-Uitgewers se hoof van fiksie.

Die Groot Afrikaanse Romanwedstryd, voorheen onder meer bekend as die Sanlam/Insig Groot Romanwedstryd en daarna die Sanlam-romanwedstryd, werf reeds sedert 1990 nuwe talent onder aspirantskrywers en moedig ook ervare skrywers aan om nuwe manuskripte te voltooi. Vorige wenners van hierdie wedstryd sluit in Ingrid Winterbach en Christoffel Coetzee.

Die wenners word op 22 Mei by ’n prysgeleentheid in Kaapstad aangekondig. NB-Uitgewers onderneem om die wenmanuskrip(te) te publiseer en het ook eerste opsie op al die manuskripte wat ingeskryf is.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top