Die skare wat die konsert befonds

  • 0

Gerhard Maree het besef daar is baie kreatiewe mense wat elke dag werk en nooit kans kry om op te tree en hul kuns uit te leef nie. Daarom het hy onkonvensionele geleenthede geskep waar mense saam kan kuier en saans konsert kan hou. Naomi Meyer het hom oor die konsep van City Soirée uitgevra.

Hallo Gerhard, ek sien jy is besig met ’n interessante projek. Mense kan al sien wie tree op, maar niemand weet nog waar hulle gaan optree of wanneer nie. Hoe werk dit? Wil mense nie vooruit beplan nie?

Die lokaal word nie bekendgemaak nie (ons sê wel in watter deel van Kaapstad dit is), maar die datum en tyd wel. Mense het beslis nodig om te beplan en om te weet of die konsert in hulle area plaasvind, maar die geheimsinnigheid van die lokaal maak dit interessant en die beperkte ruimte maak dit intiem en eksklusief. Dis baie spesiaal om so konsert te kan beleef!

Waar kom julle aan die idee van City Soirée?

City Soirée is 'n organisasie wat bestaan om oplossings te probeer kry vir die uitdagings wat die uitvoerende kunste ervaar. Ons besigheid lê daarin om geleenthede te skep. Ek het City Soirée in 2010 begin as 'n platform vir kunstenaars wat buite die hoofstroom val. Ons het probeer om geleenthede te skep vir die uitvoerende kunste as geheel, dus was daar al digkuns wat voorgedra word, musiek, film, dans, ens. Ons mees onlangse projek is egter 'n reuse-stap vorentoe, nie net vir ons nie maar vir die uitvoerende kunste as 'n geheel. As deel van die soektog na hoe om die kunste te befonds, het ons begin kyk na crowdfunding (seker gehoorbefondsing in Afrikaans) en hoe om dit toe op optredes toe te pas. Ons het Troubadour as 'n “instrument” geskep om dit te kan doen, wat basies beteken dat 'n konsert kan plaasvind net as genoeg mense pledge, maw hulle geld neersit. As ons nie die mikpunt kan bereik nie, dan kanselleer ons die konsert en almal kry hulle geld terug. Ons is een van 'n handjievol organisasies in die wêreld wat dit doen en ons is regtig opgewonde oor die alternatief wat dit kan bied vir kunstenaars en promotors. Dit verwyder die finansiële risiko van 'n konsert en maak kontak vooraf beskikbaar sodat als en almal wat nodig is vir 'n konsert betaal kan word. Kunstenaars moet soms weke wag vir hul geld na die konsert plaasgevind het, terwyl almal anders betaal is. Daar's iets fundamenteel fout daarmee. Op die oomblik is Troubadour nog iets wat ons self gebruik en is nog nie beskikbaar vir net enigiemand nie, soos wat Kickstarter byvoorbeeld is. Dis 'n nuwe konsep wêreldwyd en ons weet ons kan nie wat oorsee gebeur, uitknip en plak in die Suid-Afrikaanse konteks nie. Ons moet eers verstaan hoe dit die beste gebruik kan word en wat mense se reaksie daarop is.

Wie het al opgetree by jul konserte (is dit die regte woord)? En watter stede was al betrek?

Tot op hede was ons uitsluitlik in Kaapstad, maar ons hoop om binnekort uit te brei na Gauteng en uiteindelik die res van die land. Die term konsert is heeltemal aanvaarbaar! Ons doen dit net effens anders. Als wat ons doen, is eintlik maar effens anders. In die verlede het ons 'n mengsel van gevestigde sowel as 'n groot aantal nuwe kunstenaars gehad. Die lys sluit in Loftus Marais, Righard Kapp, Mark Fransman, Philip Malan en ook wonderlike nuwe talent soos die kitaarspeler Nina Fourie-Gouws of die luitspeler Vera Vukovic. Ons het onlangs begin met huiskonserte as die begin van ons crowdfunding-konserte en die eerste van dié aard was met Derek Gripper en ook The Buckfever Underground. Die konsert waarna jy vroeër verwys het, betrek drie van Suid-Afrika se beste digters: Toni Stuart, Toast Coetzer en Nathan Trantraal. Selfs hierdie konsert is iets nuut, omdat ons mense vra om te betaal om digkuns te hoor. Dit word gevat van 'n geskrewe kuns na 'n uitvoerende kuns en dit wil voorkom asof mense gelukkig is om te betaal daarvoor! Op Dinsdag 20 Augustus het ons die eerste publieke konsert in Suid-Afrika wat deur crowdfunding moontlik gemaak is gedoen. Ons het 150 mense nodig gehad en nadat ons daardie mikpunt bereik het, is nog 50 kaartjies beskikbaar gestel, wat ook uitverkoop is. Dit is ongelooflik om te weet dat ons 'n vol lokaal gaan hê vir hierdie historiese konsert. Die kunstenaars daar is The Brother Moves On, Derek Gripper en Sannie Fox, almal unieke persoonlikhede wat die bedryf op 'n ander manier aanpak as wat die norm is.

Ek sien die konsert met Toast en Nathan kos R60. Waarom vra julle nie sommer die bedrag by die deur nie?

Konserte is 'n snaakse ding. Een week kom mense, en die volgende week nie. Ons maak dit duidelik dat die konsert net kan gebeur as genoeg mense vooraf betaal. Dit sit vir die eerste keer die beheer in die hande van die ondersteuners. As jy vir mense iets met waarde bied, soos 'n aand saam met Toast, Nathan en Toni, waar jy 'n glas wyn kan drink en met hulle gesels in die gemak van iemand se huis of woonstel, sal mense betaal en dit ondersteun.

Is julle ’n ondergrondse organisasie – wil jul doelbewus nie hoofstroomvermaak wees nie?

Ons is en ons is nie. Ons het definitief ondergronds begin en ons het 'n passie vir dinge wat bietjie anders is, maar ons wil geleenthede skep vir kunstenaars van enige aard. Ons gebruik gereeld die term genre agnostic. Die huiskonserte is perfek hiervoor, want jy kan een aand iets doen vir aanhangers van digkuns, en die volgende aand die magiese klanke van Derek Gripper hoor, en dan 'n ander aand 'n rock band hê wat 'n akoestiese optrede doen. Ons probeer dit duidelik maak aan almal dat ons die toestande skep vir kunstenaars om by hulle aanhangers uit te kom. Ons is nie 'n “events company” of promotors nie; ons tree meer as fasiliteerders op.

Met wie praat julle as julle hierdie geleenthede reël? Wie is julle teikengehoor?

Die mense wat City Soirée ondersteun, is grotendeels jong, werkende mense wat op soek is na iets nuuts, of mense wat baie graag goeie musiek wil hoor, en sien, maar nie lus is om in 'n raserige bar te gaan sit waar die helfte van die mense eerder daar is om dronk te word en kliphard te praat terwyl jy die konsert probeer geniet. Ons sien mense van alle ouderdomsgroepe by ons konserte. Die ding wat almal gemeen het, het nie veel met ouderdom te doen nie, maar eerder die kunstenaar wat optree.

En sê nou julle groei so groot dat die geleenthede nie meer inpas in aanhangers se huise nie? Waar is julle plafon?

Ons het nie 'n plafon nie. Beslis nie. Die konsep van Troubadour kan toegepas word vir 'n huiskonsert van 30 mense of 'n konsert van 30 000 mense, en ons is ewe geïnteresseerd in beide, asook als tussenin.

 As mense meer wil weet kan hulle gerus na ons webwerf gaan by www.citysoiree.co.za of ons op Facebook en Twitter (@CitySoireeCT) opsoek.

Foto's: Philip Grobler

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top