Die skaaktowenaar van Grootbos deur oom LJ: ’n lesersindruk

  • 0

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Die skaaktowenaar van Grootbos deur oom LJ het my aangenaam verras. Die boek is die breinkind van Louis Holtzhausen wat meer as 20 jaar ervaring het in skaakafrigting.

Dit is ’n lekkerlees-storie oor diere wat skaak speel en dié paragraaf uit die voorwoord het amper gemaak dat ek die res van die voorwoord wou oorslaan en net by die boek uitkom:

Twee jong nuuskierige eekhorinkies kom onverwags af op veldwagters wat in die veld onder ’n boom sit en ’n bordspeletjie speel. Dáárdie dag het die eekhorinkies se lewensreis ’n heeltemal ander rigting ingeslaan. Dit was die begin van ’n opwindende en avontuurlike ervaring toe hulle die spel skaak ontdek het.

Die skaaktowenaar van Grootbos is nie net ’n boek wat jonger kinders sal lus maak vir leer skaak speel nie, maar hulle leer ook lewenslesse wat goed versteek word in die teks – sonder dat die jong leser dit besef.

Volgens oom LJ se webblad is skaak een van die oudste speletjies in die wêreld, en volgens ’n legende het skaak meer as 1 500 jaar gelede sy ontstaan in Indië gehad toe die koning destyds sy raadgewers gevra het om ’n speletjie uit te dink wat nie net sy soldate gaan leer veg in ’n oorlog nie, maar ook sal leer om te dink oor hoe hulle moet veg.

Skaak is beslis ’n spel wat mens sal leer om strategies te dink en ek is baie spyt dat ek slegs vir ’n jaar of twee in laerskool skaak gespeel het. Hulle sê skaak help jou om beter te doen in vakke soos wiskunde en wetenskap ... Dalk is dit hoekom ek van die wa afgeval het: te min skaak!

Daar is heelwat maniere hoe mens kan leer skaak speel: skaakboeke, skoolafrigting, by ’n vriend of familielid, ’n persoonlike afrigter en deesdae met die wonderlike tegnologie, ook aanlyn. Ons twee eekhorinkies, Ebie en Elkie, is egte sommer baie bevoorreg om hulle eerste lesse in skaak nie net by ’n persoonlike afrigter te kry nie, maar by ’n kampioen!

Die boek begin waar die twee eekies, Ebie en Elkie, vir die eerste keer mense sien. “Hulle lyk snaaks, nè – dra sulke eienaardige velle om hulle en ... uhm, hul sterte is afgekap!” sê Ebie verbaas (bl 4).

En so sal die twee avontuurlustige eekhorinkies nog heelwat met die twee mense te doen kry, want hulle is veldwagters wat in die Grootbos besig is met ’n vreemde bordspeletjie en dis ’n spel wat Elkie sommer baie interesseer. Die beste ding wat met die twee kon gebeur het: Hulle ontmoet vir oom Vee, die trapsuutjies, wat hulle toe meer van die vreemde spel vertel en hoe meer Elkie hoor, hoe meer wil hy weet. En so begin die twee se informele skaaklesse by oom Vee.

Die tweede beste ding wat met ons twee eekhorinkies gebeur, is die dag toe die skoolhoof aankondig dat daar nou skaaklesse by hulle skool aangebied gaan word, maar Juffrou het natuurlik hulp nodig, want sy weet minder as niks van skaak. Na ’n naamlose oproep kry sy ’n interessante wenk wat haar help met skaakafrigting.

In hierdie boek leer ons nie net skaak speel nie, maar sommer ook ’n paar lewenslesse. Een van die lewenslesse: eerlikheid. Dit vorm vir my die kern van die boek. Ons leer dat wanneer iemand oneerlik was, hulle een of ander tyd uitgevang word. Ons leer van lojaliteit wanneer die twee eekhorinkies alles in hulle vermoë doen om iemand wie se naam skade aangedoen is, weer in ere te herstel. Ons leer ook van uithouvermoë. Ons leer wat ware vriendskap is.

Hoekom moet jong kinders leer skaak speel? Oom LJ noem nege redes op sy webtuiste. Ek gaan net ’n paar noem; die res kan jy gerus gaan oplees op www.skaatmat.co.za.

  • Skaak maak jou kind slimmer.
  • Dit verbeter konsentrasie.
  • Skaak help om aandag-afleibaarheid en hiperaktiwiteit te beheer.
  • Skaak verbeter logiese denke.

Vir dieselfde redes is skaak ook goed vir volwassenes, maar ’n studie wat deur die Albert Einstein Kollege vir Medisyne gedoen is, het bevestig dat gereelde skaakspel jou risiko om Alzheimers te kry verminder, omdat skaak jou breinfunksies stimuleer.

Natuurlik word sterker bande ook tussen ouers en kinders geskep wanneer hulle saam skaak speel.

Ek dink hierdie is ’n heerlike boek om aan te koop vir jong kinders wat nie net die diereavonture in die boek sal geniet nie, maar ook nuuskierig genoeg sal raak om te wil leer skaak speel. Dis ook ’n goeie geskenk vir ’n onderwyser wat dalk skaak moet aanbied.

As jy meer wil weet oor skaak, kursusse (vir beginners en gevorderd), of om jou kopie te bestel van Die skaaktowenaar van Grootbos, volg gerus die skakel: www.skaakmat.co.za.

Volg gerus ook Die skaaktowenaar van Grootbos op Facebook.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top