
Boekomslag: LAPA; agtergrondfoto: © Kseniya Lapteva op Pexels (14 Augustus 2021 gepubliseer)
Die seun met die swaeltjie
Fanie Viljoen
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780637012614
Menige ouer moes al toekyk hoe sy of haar kind met ’n gewonde diertjie by die huis opdaag. Meestal is dit ’n troeteldier soos ’n hond of kat, maar soms kom ’n ietwat onverwagse vlermuis, krimpvarkie of selfs ’n skilpad te voorskyn. Babavoëltjies is egter nie ongewoon nie, en talle kinders het al gepoog om ’n siek of beseerde voëltjie gesond te dokter.
Diere en hul interaksie met mense is ’n gewilde onderwerp wat gereeld in kinder- en jeugfiksie voorkom. Vir dekades is WA Hickey se gewilde jeugroman Twee vir ’n stuiwer (1965) vir skoliere regoor Suid-Afrika voorgeskryf. Hierdie verhaal oor die doen en late van mossies het in menige harte ingekruip.
Fanie Viljoen is vanjaar aangewys as die wenner van die LAPA-Jeugromankompetisie 2025 vir Die seun met die swaeltjie. Hierdie hartroerende verhaal speel af in die Vrystaatse dorpie Rosendal. Tumelo Mokoena is veertien jaar oud en woon in die informele nedersetting Metati. Hy is omring deur uitdagende sosio-ekonomiese werklikhede soos werkloosheid, armoede, drankmisbruik en geweld. Ten spyte hiervan is Tumelo ’n saggeaarde, pligsgetroue seun wat graag sy ma, Estere, trots wil maak.
Een middag na skool vind hy ’n klein windswael op pad huis toe. Die swaeltjie blyk beseer te wees en Tumelo besluit summier om die voëltjie saam huis toe te neem. Hy besluit om die swaeltjie Fumane te doop. In Sotho beteken dit “gevind”. Aanvanklik wil Fumane niks eet of drink nie, maar mettertyd kry Tumelo die swaeltjie so ver om iets te eet en drink.
Na ’n tragiese gebeurtenis word die Mokoena-gesin se lewens oornag versplinter. Om sake te vererger besluit Tumelo se pa om onverwags te verdwyn en moet Tumelo drastiese en komplekse besluite neem. Hy en sy jonger suster, Dikeledi, onderneem ’n uitputtende reis op soek na hul pa. Tydens hierdie reis deur die gevaarlike strate van Johannesburg moet Tumelo en Dikeledi die hole van Hillbrow trotseer, en tot hul groot verbasing besef hulle dat nie almal vertrou kan word nie. Hul paaie kruis met gevaarlike misdadigers s’n. Die knaende hongerte en haweloosheid is maar enkele uitdagings wat oorkom moet word terwyl hulle die stad deurkruis op soek na hul pa.
........
Die swaeltjie speel ’n belangrike rol in die roman. Fumane versinnebeeld heling, vryheid en groei. In dié opsig is die wyse waarop sy saam met Tumelo en Dikeledi op reis gaan, belangrik, aangesien swaels van nature trekvoëls is.
........
Die swaeltjie speel ’n belangrike rol in die roman. Fumane versinnebeeld heling, vryheid en groei. In dié opsig is die wyse waarop sy saam met Tumelo en Dikeledi op reis gaan, belangrik, aangesien swaels van nature trekvoëls is. Tumelo en Dikeledi se reis op soek na hul pa gaan hand aan hand met Fumane se fisieke heling. Tydens hul soektog na hul pa in Johannesburg moes beide allerlei gevare trotseer. Fumane se naam beteken immers “gevind” – soortgelyk aan die wyse waarop Tumelo en Dikeledi ook gevind het waarna hulle op soek was. ’n Verlore vader keer saam met sy kinders terug na hul tuiste in Metati. Die gesin kom dus weer bymekaar soos ’n spreekwoordelike swerm swaels wat die pad (of eerder die vlug) vorentoe saam gaan aanpak.
Die seun met die swaeltjie is ’n eenvoudige verhaal sonder tierlantyntjies. Dit is juis hierdie eenvoud wat die narratief laat skitter. Talle Suid-Afrikaanse lesers sal met die karakters, hul uitdagings en lewenswyse kan identifiseer. Tumelo se verhaal strek veel wyer as die teks self. Die narratiewe gegewens is immers die geleefde ervaring van miljoene kinders regoor die land. Tumelo se verhaal is egter een van hoop en heling in ’n konteks waar armoede, geweld en gebroke gesinne die norm is.
’n Enkele punt van kritiek is die probleme in die narratief wat met tye moeiteloos opgelos word. Vir twee tieners wat vir die eerste keer na Johannesburg reis en die stadslewe ongewoond is, verloop hul soeke na hul pa té maklik. Hierdie “toevallighede” maak wel sin as ’n noodsaaklike komponent van die intrige. Sommige gebeure is soms amper te goed om waar te wees. Om ’n man in ’n enorme stad soos Johannesburg op te spoor is nie ’n maklike taak nie. Dit is egter te verstane dat die intrige nie te lank uitgerek kan word nie. Ondanks die maklike oplossings doen dit nie afbreuk aan die roman in sy geheel nie.
Vir die oplettende leser wag daar boonop ’n heerlike verrassing. Rentia Buitendag se grafiese uitleg gaan vernuftig te werk met prente. Dit is veral die optiese illusie met die prentjie van ’n swaeltjie onderaan elke tweede bladsy wat opval. Elke prentjie verskil effens van die vorige een. Buitendag maak van die flipboekeffek gebruik om ’n tipe animasie te skep waarin die leser die swaeltjie se reis visueel kan ervaar. Die grootte van die swaeltjie beeld die fisieke groei en herstel van Fumane uit. Die animasie-effek kan ook geïnterpreteer word as ’n figuurlike verwysing na Tumelo en Dikeledi se spanningsvolle reis van Metati na Johannesburg en terug. Uiteindelik is Fumane gesond om haar vlerke te sprei en die letterlike bladsy te verlaat. Hierdie kreatiewe element wat die meeste lesers dalk verby sal gaan, is één van die dinge wat hierdie verhaal kosbaar maak.
Die seun met die swaeltjie is ’n besonderse verhaal waarin geloof en deursettingsvermoë seëvier in die konteks van ’n gebroke samelewing. Tumelo en Fumane dien as simbole van hoop in ’n land waarin gemeenskappe en gesinne daagliks verskeie uitdagings moet trotseer. Hierdie roman is ’n waardige wenner en verdien om gelees te word.

