Die See: "Dit is anders as die normale ding"

  • 0

Die rockgroep Die See het al in hul paar jare se bestaan ’n groot groep lojale aanhangers versamel – en dié aanhangers, asook rockaanhangers wat nog nie met hulle bekend is nie, kan uitsien na ’n nuwe album binnekort. Henry Ferreira, voorman, beantwoord met behulp van sy medebandlede ’n paar vrae.

Goeiedag, Henry. Hoe's dinge?

Hallo, Henry! Baie dankie dat jy ons die geleentheid gun om die een en ander oor Die See te vertel. Wat hier onder volg, is ’n gekonsolideerde weerspieëling van ons almal se gedagtes – Die See uit een mond, saam in een brander uitgespoel, as’t ware.

diesee1web

Die See het ’n jaar of twee terug ’n nuwe album uitgebring en werk na verneem word nou aan nog ’n nuwe vrystelling. Dit ná die eerste album in 2010 verskyn het. Dit sal in sommige kringe as ’n relatief lang gewag tussen vrystellings beskou word – stem jy saam, of hoe werk dit by julle? Op watter maniere gaan julle anders met die nuwe album te werk as met die vorige vrystellings?

Nee, ons dink nie die tussenpose is te lank nie. As ’n mens die produksieproses forseer en net op kwantiteit fokus, sit jy dalk met ’n minderwaardige album vol geforseerde songs. Die musiek moet van nature kom. Hou ook in gedagte dat ons alles self doen – lirieke, komposisie, opname, luister, luister en weer luister, meng, weer luister, tot ons almal tevrede is. Neem maar Radiohead as voorbeeld, wat twee of drie jaar tussen albums neem. Om elke jaar teen wil en dank ’n album uit te bring, sal seker help om in Suid Afrika ’n bestaan uit musiek te maak, maar dan sal ons gehalte inboet. Ons hoofdoel is nie om ’n klomp geld te maak nie, maar om goeie musiek met diepte en betekenis te maak. Ons wil tevrede wees met ons eie produk. Dit moet ons plesier verskaf. Dit moet sê wat ons graag wil sê, al neem dit ’n bietjie langer. Dit is presies wat ons nou met ons derde album doen. Ons is almal ook besig met ander projekte en werkverpligtinge. Nie een van ons is voltyds by Die See betrokke nie. Ons skep en oefen en neem op wanneer ons ook al kan. En voor ’n mens kan sê "elderly woman behind a counter in a small town" is die nuwe jaar iets van die verlede.

Julle het naam gemaak as ’n band wat delf in ’n soort donker nostalgie, met heelwat verwysings na kusvakansies, kinderdae in Pretoria en dies meer. Nostalgie is natuurlik nie "uncharted territory" in die Afrikaanse vermaakbedryf nie en julle het ook in ander rigtings begin groei. Hoe sou jy daardie soort nostalgie waarby julle aan(ge)sluit (het) beskryf teenoor dit wat meer deur die populêre kunstenaars ingespan word? Hoe dink jy moet luisteraars, musikante en bloot mense omgaan met nostalgie?

Nee, dit gaan nie vir ons oor nostalgie nie. Dit is om die waarneming, die gewaarwording, die ervaring van die oomblik vas te vang, selfs al vind dit eers jare later gestalte in ’n formele opname. Dan word dit ’n herinnering, nie ’n nostalgiese terugverlang na iets wat was nie. Iets soos die see, die strand en perlemoen is byvoorbeeld eerder beeldspraak van besondere lewenservaringe en verlies van waardevolle omgewingskatte.

Die See skep musiek wat nie juis klokkies van "hoofstroom" en "massagehore" laat lui nie. Tog het die band ’n baie lojale groep volgelinge. Het die lede van Die See in die algemeen ’n filosofie rakende jul plek op die (Suid-)Afrikaanse musiektoneel en hoe julle uitreik na die fans, en ook die nog-nie-fans-nie? Wie móét na Die See luister, en wie moet liewer nie?

Musiek moet voor populêr-ismes soos “bands”, “produk”, “mark”, “kommersieel” en “massa” kom. Musiek kan ook sonder ’n openbare gehoor bestaan. Musiek is een van die mees basiese uitdrukkings van menswees, ’n taal op sigself. Nie dat ons so aanmatigend wil wees om ons enigsins met iemand soos Mozart te wil vergelyk nie, maar hoe gewild en suksesvol was Mozart in sy eie leeftyd? ’n Mens moet liewer vergeet van wat die mense daar buite wil hoor en doen waarvan jy hou, wat jy self graag wil hoor en wat jou selfbevrediging gee. Jy vind die erkenning wat jou toekom in jou eie tevredenheid met die gehalte werk wat jy lewer. As ander daarvan hou, is dit ’n bonus. Ons het reeds gepraat oor hoe teenproduktief dit kan wees om musiek te forseer. Om musiek te skryf met die “hoofstroom” in gedagte en dit dan in die “massa” se ore in te forseer, het net geen sin nie. Jy sal dalk meer geld maak, maar wat word dan van die musiek? Vir ons is musiek ’n kommunikasiemedium, ’n wyse om uitdrukking aan die dieptes van jou wese te verleen, nie ’n kommersiële bedryf nie.

Wanneer ’n mens luister na Die See se tunes, besef jy onmiddellik daar is kompleksiteit daaraan, veelvuldige lae van aandag en interpretasie in nie net die lirieke nie, maar die hele samestelling van die snitte ... ’n Mens wil-wil vergelykings met groepe soos Pink Floyd tref in hierdie verband. Hoe beskou jy die belangrikheid van hierdie soort aanslag, gegewe die soort kultuur van kitsbevrediging wat in die vermaakwêreld bestaan? Hoe het julle oor die jare gegroei in hierdie opsig en hoe sal julle voort voortaan nog wil groei?

Enige vergelyking wat daar met groepe soos Pink Floyd kan wees, is blote toeval. Ons streef niemand na nie. As ons in ’n kategorie moet inpas, sal dit seker iets soos alternatief moet wees. Dit is anders as die normale ding, ver buite die hoofstroom. ’n Mens wil amper wens almal wil musiek maak soos ons dit maak, dan sal daar meer ware musiek wees waarna mense kan luister. Dit is vandag net te maklik om mense oor en oor met dieselfde geykte goed te voer sonder om jou eie  musiek te bevraagteken, om jou af te vra of jy werklik waarde en diepte lewer en of jy net geld wil maak. Dit is asof mense afgestomp net na verbeeldinglose ritme en sinlose rymelary wil luister, want dit is al wat hulle in elk geval die hele tyd hoor. Mense vergeet dat om met musiek te werk,  is om met woord en klank te werk, dit te buig en te vorm in ’n sinryke, harmonieuse geheel. Goeie skrywers pen tog nie onsinnige gemors neer net om daarmee ’n klomp geld te verdien nie. Geen uitgewer sal dit in elk geval aanvaar nie en die skrywer self sal geen bevrediging uit sy eie werk put nie.

Al die lede van Die See was (en is, in sommige gevalle) ook betrokke by ander bands. In hoe ’n mate het dit al ’n demper geplaas op ’n soort enkele fokus vir die lede? En aan die ander kant, watter waarde voeg dit toe tot Die See se klank en inslag dat die lede uit diverse musikale agtergronde kom en hulself ook nog op verskeie musikale wyses uitleef? Sou jy so ’n situasie aanbeveel vir ander bands?

Om in verskeie projekte betrokke te wees, of te kon wees, is ’n goeie ding. Die See het eintlik heel toevallig gebeur. Ons was al vier met ons eie werk en lewens besig en het op die een of ander manier bymekaar uitgekom en maar net musiek begin maak. Heel gou het ons besef ons is ’n band. Dis moeilik om iets aan te beveel wat per toeval gebeur, veral as jy self nie heeltemal verstaan hoe dit gebeur nie. Elkeen van ons doen waarmee ons goed is, sit dit bymekaar, en dan kom die magic aan die ander kant uit.

Die See het al ’n rits benoemings vir toekennings gekry, veral vir Sama-toekennings. Dis glad nie te versmaai nie en dui natuurlik op erkenning vir wat julle doen. Watter waarde het toekennings in die algemeen vir bands, en hoe kan benoemings of die inpalm van toekennings met ’n mens se kop neuk as ’n kunstenaar? Met die klomp toekenningsgeleenthede (Tempo, Ghoema, ens) op die Afrikaanse front in gedagte, hoe beskou jy die Afrikaanse musiektoneel/-bedryf op die oomblik? Wat werk, en wat werk nie?

Ons is trots op ons benoemings. Ons het hard gewerk en dit is lekker om daarvoor erkenning te kry, veral as jy alles self gedoen het sonder finansiële hulp of om onder die vaandel van enige platemaatskappy in te skryf. ’n Mens voel dat jy iets regkry. As jy jou eie ding doen soos jy goeddink en ander neem daarvan kennis, dan is dit nogal bevredigend. Ons dink nietemin dis ’n bietjie vlak om toekennings na te jaag. Die geloofwaardigheid en onpartydigheid van sommiges daarvan is in elk geval ’n bietjie twyfelagtig.

In die relatief lang bestaan van Die See het julle natuurlik ook ’n klomp gigs en toere afgehandel. Enige herinneringe, stories of venues wat uitstaan in hierdie verband? Enige dinge wat jy eerder sal wil vergeet?

Daar was een gig in Bloemfontein wat ’n mens liewer sal wil vergeet. Ons kan darem nie veel daarvan onthou nie. Maar ja, dis waar. As Die See het ons al baie dinge saam ervaar, saam ’n hele vrag sout verorber. Oppikoppi is altyd ’n groot ervaring, asook Forr en Strab in Mosambiek. Dan is daar al die interessante mense wat jy ontmoet – dié wat in die musiekbedryf staan en ook dié wat daarbuite staan. Ons toere deur die Vrystaat was van ons lekkerstes, veral omdat ’n mens daar baie naby aan die mense self kom. Ons toere in Kaapland na Stilbaai, Strand en Tulbagh was ook besonder aangenaam en verrykend.

Wat hou die nabye en die verre toekoms in vir Die See, in so verre julle dit kan beheer?

Ons beoog om die derde album klaar te maak voor 2015 verby is. Ons speel vanjaar weer by Oppikoppi, waaroor ons baie opgewonde is, veral ook omdat ons by dieselfde fees as Johnny Clegg gaan speel. Ons wil daar een van die songs vrystel uit die album waaraan ons nou werk. Dit is beslis nie ’n song wat ’n mens te lank in ’n hok kan aanhou nie. Ons vang hom in die studio en laat hom by Oppikoppi vry. Op die nuwe album sal die songs kan kom en gaan soos hulle wil. Ons oorweeg dit om ’n element van die Suid-Afrikaanse geskiedenis in te werk – verwysings na monumentale gebeure of momente wat die gang van die geskiedenis verander het. Ons kan selfs iets oor Dimitri Tsafendas doen.

Wat die toekoms betref, sal Die See nie van sy huidige koers afwyk nie. Ons sal nooit ons sin vir goeie, betekenisvolle musiek inboet ter wille van goedkoop finansiële gewin nie – dit wil sê, goedkoop musiek net om geld te maak.

Wat is die sin van die lewe?

Om gelukkig te wees. Hoe gelukkiger jy is, hoe meer sin maak die lewe. Om die lewe om jou te ervaar, waar te neem en die dieper betekenis daarvan vas te pen, hetsy in jou geheue, in lirieke of in ’n wysie, of alles in een, sodat ander ook iets daarvan kan ervaar, dit is wat sin aan die lewe gee.

diesee2web

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top