“I wrote it as a warning, not an instruction manual” is die onderskrif by ’n spotprent van George Orwell, skynbaar met verwysing na 1984.
Hy kon net sowel met die bedryfshoof van die SAUK gepraat het. Die afgelope week het vele verhale van bisarre magsvertoon en magsmisgrype by die staatsuitsaaier uitgelek. Twitter-aanwysings aan joernaliste oor wat regtig in Pretoria aan die gang is. Joernaliste wat verplig word om TV-uitsendings van Motsoeneng se nuutste propaganda te kyk. Die vrees waaronder joernaliste leef dat hulle kollegas hulle sal verklik, met die gevolg dat hulle maar eerder netjies in hulle spoor trap voordat enigiets kan gebeur.
Dit klink soos grepe uit 1984 in stede van die werklikheid wat hom nou in Suid-Afrika afspeel.
In Orwell se distopiese verhaal word propaganda versprei deur die Ministry of Truth, wie se taak dit was om die samelewing van vals inligting te voorsien en hulle daarin te laat glo. Deel daarvan was dat almal dopgehou word, en dat enige afwykende gedrag gerapporteer en gestraf sou word. Winston, die protagonis in Orwell se verhaal, stel dit so: “You had to live – did live, from habit that became instinct – in the assumption that every sound you made was overheard, and, except in darkness, every movement scrutinised.” Ek vermoed dat dit hierdie week die algemene gevoel in die openbare uitsaaier is. Jy weet nie wie jou dophou en wie gaan rapporteer oor wat jy kwytraak nie. Dis dus beter om eerder stum te bly. Dis nog nie gewoonte nie, maar gee tyd. Binne ’n maand of twee sal die gewoonte al tot instink verhard het. Dis verstommend hoe vinnig daai instink in werking tree. Dit het onder die Groot Krokodil gebeur, dis reeds besig om onder die Stortkop te gebeur.
Hierdie week is drie gerespekteerde joernaliste by RSG geskors omdat hulle ’n bevel wat op sensuur neerkom, bevraagteken het. Dit gaan egter oor veel meer as die betrokke joernaliste, want die boodskap wat dadelik deurgesyfer het na alle ander joernaliste is baie duidelik: Jy kan volgende wees. Dit veroorsaak dat almal nou versigtiger is oor watter nuus hulle uitsaai. Dis nie meer nodig om sensuur van bo toe te pas nie; joernaliste pas nou selfsensuur toe. Deur drie joernaliste te skors is ’n hele radiostasie, en selfs joernaliste by ander radio- en TV-stasies in die SAUK-stal, gemuilband. Motsoeneng, en die poppemeesters agter hom, het hulle doel bereik.
Wat die joernaliste en ander werknemers van die SAUK skynbaar nie besef nie, is dat indien almal saamstaan, dan kan die kultuur by hulle werkgewer verander word. Die Ministry of Truth het tog lakeie nodig om hulle werk te doen, en as almal weier, dan kom die masjinerie tot knersende stilstand.
Is daar egter regtig begrip vir wat hier aan die gang is? Motsoeneng is nie ’n egotistiese megalomaniak wat op sy eie optree nie. Daar sou vinnig genoeg teen hom opgetree word indien dit die geval was. Dus moet ons noodwendig aanneem dat hy met goedkeuring van hoër op optree. Hoekom anders sal hy ’n blanko verbod op negatiewe beriggewing oor die President plaas? Dis tog deel van ’n groter projek, die herskryf van ons geskiedenis. Dit het begin by straatname, en dorpsname – waardige projekte waarteen niemand regtig beswaar kon aanteken sonder om soos ’n rassis te lyk wat hardnekkig aan die pynlike verlede vasklou nie.
Orwell het dit ook voorsien: “Every record has been destroyed or falsified, every book has been rewritten, every picture has been repainted, every statue and street and building has been renamed, every date has been altered ... History has stopped. Nothing exists except an endless present in which the Party is always right.” Alreeds het ons hier ’n situasie waar kritiek teen die ANC, en teen Zuma, gepenaliseer word. Vandag is dit mense se werk wat in gedrang kom, more is dit dalk ons vryheid.
Net vir die rekord: Zuma het dit nie geskep nie. Die Groot Krokodil, en Mbeke, het vir hom ’n stewige basis gelê. Voor hulle was daar die Engelse, en voor hulle die Hollanders wat die Kaap kom inneem het.
Dwarsoor die wêreld sien ons tekens van fascisme. In die Midde-Ooste, en in groot dele van Afrika, word die skyn nie eers meer voorgehou nie, want die houvas wat die regime het, is goed gevestig. Gewoonte het al verhard tot instink. Gewone burgers se wil om teëstand te bied is vernietig. Dié wat nog kans sien om te bevraagteken, en teë te staan, sal gou genoeg te doen kry met die Ministry of Love. Alreeds hierdie week het die polisie opdrag gekry om die Uniegebou, en ministers se wonings, te beskerm ten koste van die beskerming van gewone landsburgers. Die boodskap: dis elke mens vir homself, as jy nie deel van die binnekring is nie. Die polisie, ons toekomstige Ministry of Love-amptenare, het dit aanvaar en uitgevoer, alhoewel sommiges van hulle na bewering ongelukkig was daaroor.
Gedurende apartheid was daar ook polisiebeamptes wat nie saamgestem het met die status quo nie. Nie almal is sleg nie, nie almal is gewetenloos nie. Almal is egter stil, en dis amper net so erg, want die effek is dieselfde.
Die skommelinge by die SAUK hierdie afgelope ruk is nie kommerwekkend omdat drie joernaliste hulle werk verloor het nie. Dit gaan nie eers daaroor of mense wat net die SAUK-nuus sien, nou nie meer op hoogte is met die ware toedrag van sake in die land nie. Sosiale media het in elk geval die manier waarop ons nuus kry, verander. Almal het selfone, en gebruik dit. Mense is nie dom nie, en as hulle nie op een manier die nuus kry nie, dan is daar ander maniere.
Die gebeure by die SAUK is kommerwekkend omdat ons Grondwet op die gruwelikste manier denkbaar misbruik en misken word, juis deur die mense aan wie die behoud en instandhouding daarvan toevertrou is. En die res van ons, wie se plig dit is om hulle tot verantwoording te roep, kyk teen ons ooglede vas en sien nie die meer dreigende gevaar wat net agter die voor die hand liggende skuil nie.
Met elke aanslag word ons grondwetlike demokrasie verswak. Op een vlak is dit dalk taal, op ’n ander beriggewing. In Pretoria was dit nie die gewelddadige protes op sigself wat problematies was nie, alhoewel dit erg problematies was. Dis die oorsaak van die geweld wat my bekommer.
Eenvoudig gestel, ANC-lidmate was ongelukkig omdat die kandidate van hulle keuse nie benoem was nie. Anders gestel, die ANC het ’n party geword wat hulle nie meer steur aan die wil van hulle lede nie. En as hulle die wil van hulle lede kan ignoreer, en bereid is om die weermag in te roep om die uitvoerende struktuur se wil af te dwing, wat laat ons dink hulle sal hulle steur aan burgers wat nié vir hulle stem nie?
“We know that no one ever seizes power with the intention of relinquishing it. Power is not a means, it is an end.”
As daar nou reeds bloed in die strate is, wat gaan gebeur na die verkiesing, wanneer daardie ongewenste benoemdes ingestem is? Gaan dié in bewind dan enigsins meer toegeeflik wees teenoor lede of selfs landsburgers wat nie die amptelike weergawe ondersteun nie? Natuurlik nie.
“The more the Party is powerful, the less it will be tolerant: the weaker the opposition, the tighter the despotism.”
Hoekom anders maak Zuma nou reeds geluide van ’n derde termyn? Hoekom die mag prysgee as hy daaraan kan vasklou?
Die protes sal ophou, omdat mense moeg raak van protesteer, of omdat hulle protes gewelddadig onderdruk word. Juis nou moet ons egter met alles in ons protes aanteken. Die alternatief is gewoon nie aanvaarbaar nie.
Apartheid het langer aangehou as wat dit moes, omdat daar ’n punt gekom het waar mense die status quo aanvaar het, om watter rede ook al. Ons kan nie bekostig om die nuwe onderdrukking wat stadigaan kop uitsteek, ook te aanvaar nie.
“There are three stages in your reintegration ... there is learning, there is understanding, and there is acceptance.”
Ons is alreeds besig om te leer dat ons nie moet teëstribbel nie. Hoe lank voordat ons ten volle geïntegreer is in Zuptastan?


Kommentaar
Selfregverdigend en polities korrek moet kritiek op die hede altyd kort-kort gekwalifiseer word deur (dikwels ontoepaslike) kritiek op die verlede.
Bettina Wyngaard bly terug gryp na sogenaamde "Apartheid" in haar vergelyking met die verval van die reënboognasie, oftewel die NSA. Dit hang waarskynlik af van wat jou eie verwysingsraamwerk is.Daar is egter ander, beter vergelykings elders ter wêreld, want wat word verstaan onder die term "Apartheid"? Ek meen, selfstandige selfregering en outonomie was deel van sg. "Apartheid" en is internasionaal-erkende beginsels en strewes van verskeie volke. Na 22 jaar as deel van 'n klein wit minderheid onder die getalle-verdrukking van 'n rasse-massa-meerderheid is ek nou meer oortuig as ooit tevore dat selfstandige selfregering en outonomie van die verskillende volke en etnisiteite die enigste, werkbare en volhoubare opsie vir minderhede vir die toekoms is. As deel van die onderdrukte, polities-gekastreerde, stemlose, wit minderheid, kan die swart meerderheid se SABC-manewales my bitter min skeel. Dis die swart meerderheid se uitsaai-koöperasie, en daarom die swart meerderheid se probleem. Die klein wit minderheid kan daar geen verskil aan maak nie, net soos met die politiek.
Nou waar is die vreeslose joernaliste nou? Die manne en vroue wat die apartheidregering se gewere en aanhouding nie gevrees het nie? Nou kruip hulle weg!
Waar kry Zuma al hierdie mag vandaan? Die Illuminatie, die Vrymesselaars, of van The Prince of Darkness homself? Vra maar net.
Die spyker op die kop slaan; 'n skoon hou uit die middel van die raket; tref die bal met die "sweet spot"-gedeelte van die kolf ...
'n PUIK stuk uit die hart, verstand en dan die pen van Bettina. Welgedaan vir die perspektief en die waarskuwing dat die rooi ligte flikker wat natuurlik tot diepe kommer strek. Bettina is ongetwyfeld in die kol as sy sê:
“Die gebeure by die SAUK is kommerwekkend omdat ons Grondwet op die gruwelikste manier denkbaar misbruik en misken word, juis deur die mense aan wie die behoud en instandhouding daarvan toevertrou is. En die res van ons, wie se plig dit is om hulle tot verantwoording te roep, kyk teen ons ooglede vas en sien nie die meer dreigende gevaar wat net agter die voor die hand liggende skuil nie.”
Daar rus 'n groot verantwoordelikheid op die burgery van die land om op te staan teen hierdie vergrype van mag. Soos die spreekwoordelike paddatjie, wie se water stelselmatig verhit word totdat hy lam is en nie meer kan spring nie, so loop ook ons die risiko om onsself vanweë apatie te vernietig.
“We know that no one ever seizes power with the intention of relinquishing it. Power is not a means, it is an end,” EN “The more the Party is powerful, the less it will be tolerant: the weaker the opposition, the tighter the despotism,” haal Bettina aan en daarmee dring sy deur tot op die been.
"Die tyd vir aksie is nou en saam kan ons ..." om van die geliefde uitdrukkings van politici gebruik te maak. In hierdie geval is dit egter om die regte rede en moet dit op 'n beskaafde en verantwoordelik manier gedoen word. Dis nooit te laat nie ...
Ek is bevrees dit is reeds baie jare te laat. Dekades te laat. "Mag is reg". Die kommunistiese ANC en hul kaders het die mag, en daarom ook die reg. Jou probleem is die "eenheidstaat" wat deur getalle domineer word. Waar getalle die meetsnoer is. Ongeag of die getalle dom-onnosel is. Getalle wen, omdat alles aan die oormag van getalle gemeet en besluit word. Kwantiteit oor kwaliteit. Dis die gevolge van 'n demokrasie in 'n eenheidstaat waar blote getalle, en nie rasionele denke of rede nie, die uitslag bepaal. Dis waar ons nou is sedert 1994. En die ANC se ondersteuners het die getalle-oormag. Daarom getalle-oormag = mag = reg. Dis die prys wat minderhede oor en oor bly betaal in 'n eenheidstaat. Dis die logiese gevolge wat 'n minderheid ervaar wanneer hulle hul outonomie en vryheid eenmaal afgestaan het: verlies, frustrasie en magteloosheid.