
Foto: Canva
Die rommelkrapper
Honde storm op Dolfie af. Hulle bekke steek deur die hekke, spoeg kwyl. Hy terg hulle nooit nie, want hy is bang die hekke staan eendag oop. Met sy alien-armpies sal hy hulle nie kan keer as hulle sy kop van sy lyf af wil byt nie.
Donker wolke verander Klerksdorp in ’n oordeelsdagtoneel. Die donder bulder soos Meneer as hulle vragte bottels en blikkies te lig is.
Dit moet net nie nou begin reën nie, dan kry hy nie sy trollie teen die bult uitgestoot nie.
Geoefende vingers knoop die vullissakke oop. As hy dit skeer, raak mense kwaad. Soms raas hulle met hom. Of vloek hom. ’n Man het hom al met motorsleutels gegooi.
Meneer sê hy is nie ’n rommelkrapper nie, nee, hy’s ’n besigheidsman. Hy werk vir homself. En hy is ’n entre ... pen ... eer ... Wat is daai groot woord nou weer? Hy sal vir Meneer moet vra. Meneer sê dit is mense soos hy wat die planeet red. Meneer het eenkeer op sy selfoon vir hom foto’s van die see gewys, vol rommel omdat niemand dit optel nie. Jissie, hy sou darem baie ryk gewees het as hy by die see gebly het.
Sommige mense gooi al hulle bottels in een sak sodat hy nie nodig het om in hulle gemors te krap nie. Die tannie op die hoek van Odendaalstraat spoel haar bottels uit. Ai, hy kan nie eens die laaste koeldrankdruppels op sy tong gooi nie. Sy sit ook al haar ou brood in ’n sak en hang dit aan die hek. Een keer ’n maand sit sy ’n sjokolade en koeldrank ook in.
Toe hy nog kleiner was, wou sy altyd weet hoekom hy nie in die skool is nie. Duh. Meneer leer hom sommer self. Meneer is slim. Regtig slim. Hy was ’n skoolhoof in Bothaville voordat hy die herwinbesigheid in Klerksdorp begin het. Nou besit Meneer ’n erf so groot soos die begraafplaas in Kleindorp, twee trokke en 50 mense wat vir hom werk. Die meeste mense is sy ouderdom en kom lank saam met Meneer. ’n Paar is ouer, maar Meneer het hulle nie, soos vir hom, met die hand grootgemaak nie. Die seuns wat nou vir Meneer werk, kry 10 sent meer per kilogram. 10 sent! Dit is omdat Meneer hulle ook leer hoe om te ... amper gebruik hy die n-woord.
Hy het nie daarvan gehou dat Meneer se hande alewig oral oor sy lyf gevat en gevryf het nie, maar nou mis hy Meneer se aanraking. Soms, as almal slaap, vat hy aan homself en verbeel hom dit is Meneer.
Dolfie vee die traan in die hoek van sy oog met sy pinkie weg. Hy is sommer simpel om so te voel.
Hy moet werk; die son trek water.
Sy sug klink asof hy sy laaste asem uitblaas. Hy knoop al die sakke toe voor hy na die volgende huis stap. Sug weer.
“Nege mense dood,” skree die koerantopskrif. Meneer het altyd gevra of hy kwaad is as hy in blokletters skryf, so die verslaggewer moet vir iemand baie kwaad wees.
Hy vee sy hande teen sy broek skoon, trek die koerant onder die pizza-boks uit. Lees met sy wysvinger. Klank die lang woorde hardop. Hy sal vir Meneer moet vra wat reeksmoordenaar beteken. En verkragter. Hy hoop net nie dit is stoute woorde nie, want die laaste keer toe hy ’n stoute woord gebruik het, was Meneer so kwaad, die spoeg het teen sy gesig gespat soos Meneer op hom geskree het. En hy het daarna vir ’n week lank op ’n kussing gesit.
“Mens sê nie daai woord nie – dis vuil,” het Meneer die woorde soos ’n stukkie kos wat in jou tand vassit, uitgespoeg. Meneer het hom egter onder die komberse geleer wat die n-woord beteken. Meneer het hom ook alles geleer wat hy van vullisherwinning weet. Byvoorbeeld, hy kry meer sente per kilogram vir die 04 in die driehoek as die 01. Ek wed jou jy het die syfers nog nooit eens gesien nie.
Meneer het hom ook geleer om al die proppies eenkant te gooi. Papier, blikkies, plastiek en bottels ook. Mens kry meer vir blikkies, want jy kan dit plat trap om meer in een vrag te kry. Veral by skole, want kinders is lief vir gaskoeldrank. Maar hy hou nie van skole nie, want die dogtertjies se rokke is te kort om nie te staar nie.
Hy gooi die bottels – proppies af soos Meneer hom geleer het – in die een sak. Staan op, trap ’n paar blikkies plat. Dit is die heel lekkerste van die werk.
’n Bakkie jaag verby, verminder nie eens spoed vir die slaggate nie.
Dolfie staar hom agterna voor hy sy trollie uit die pad sleep. ’n Buffel soos hierdie gee nie eens om dat dit ’n skoolstraat is nie. Waar is die polisie? Dit is wat die koerant ook vra. Wie kan nege mense wreed vermoor en die polisie het nie een enkele leidraad nie? Die koerant sê ook dat die reeksmoordenaar al sy slagoffers goed ken.
Gaan hy ook eendag ’n bakkie besit? Dink net hoeveel geld gaan hy dan met sy besigheid maak. Dan sal hy sy eie besigheid begin en die trollie vir sy gunstelingseun gee, nes Meneer. Het jy geweet, Meneer het self die trollie gebou? Hierdie trollie het selfs ’n nommerplaat by. Nes ’n regte kar. Hy het dit by die asgate opgetel en Meneer het hom gehelp om dit vas te skroef.
Hy druk die koerant terug in die sak.
Het die inwoners vir hom ’n stukkie pizza gelos? Hy hoop net nie dit is Hawaiian nie, want hy hou nie so baie van pynappel nie. Maar bacon ... Hy lek sommer sy vingers af.
Die stukkie is so klein, hulle kon dit net sowel geëet het. Iemand eet nie sy korsies nie. Hy kan bly wees Meneer sien dit nie, want Meneer sal dit in sy keelgat afdruk.
Hy blaas die miere af, hap, kou toemond.
Hierdie seun breek gereeld speelgoed. Soms kan Dolfie dit regmaak. Dan los hy dit by die kinderhuis waaruit Meneer hom 12 jaar gelede gered het. Die heel beste speelgoed hou hy vir die nuwe seun in Meneer se span. Die arme seun is nog so nuut, hy huil saans in sy kussing. Bid dat liewe Jesus sy mammie moet terugbring. Hy leer nie vir die seun die n-woord nie. Hulle speel net saam karretjies.
Meneer sê hy is te oud om nog karretjies te speel, maar waarmee moet hy hom saans besig hou?
Die vrou het nie ’n man nie, want daar is nooit enige sigaretboksies of bierbottels tussen haar vullis nie. Ook min sakke waarin vleis se bloed oor alles loop. Hy dink nie sy is ryk nie, want haar vullis het baie broodsakkies en vrugtebokse in. Min sweets-papiere.
Kyk net hoe slim is hy. Hy weet die vrou het twee kinders, want daar is weekliks 14 joghurtbakkies. Die een kind moet ’n dogtertjie wees, want hy het eenkeer ’n pop met ’n af kop in een van die sakke gekry.
Die mense wat doodgemaak word, onthou hy, se koppe is ook af. Die koerant sê dit is nooit gekry nie.
Meneer hou nie van vroue nie. Meneer raas altyd met hom as hy hulle van agter aanstaar. Maar hy kan nie help nie; hulle is dan so mooi. Nou kyk hy net as Meneer nie by is nie.
Die vroue sien hom nooit staar nie. Hy proeslag; skud sy kop. Waarvan praat hy. Niemand sien hom ooit raak nie.
Die een vrou het een oggend sommer stout voor hom gebuk. In haar PJ’s. Hy weet nie wat sy in die vullissakke wou gooi nie, maar toe sy opstaan, was hy agter haar. Die mes om haar keel; sy neus in haar hare. Hy was kliphard en het hard asemgehaal. Sy was eerste; die ander agt het gevolg.


Kommentaar
Stefaans! Jou stories het sulke hou-op-die-maag eindes!
Wow Stefaans! Ek het nou geruk van skrik… Sjoe! Laat mens wonder wat het geword van die koppe…
Uit ‘n kriminologie-agtergrond slaan hierdie verhaal die spyker op sy kop. Dis ongelukkig jou tipiese moordenaar wat onder die radar van vulliskrapper beweeg maar tog moet verslag doen aan ‘n “meneer”. Briljant saamgevat deur die skrywer. En sou die wet nie hierdie mens arresteer nie, sal hy mettertyd die “meneer” word. Uitstekend gedoen om hierdie patrone in misdaad uit te wys. Die skrywer ken sy profiele goed!
Dankie Trisa, ek werk hard aan my eindes.
Dankie Elise. Die storie het homself aangemeld. Ek is te dankbaar LitNet het dit aanvaar. Geluk ook met jou nuwe Huisgenoot-kortverhaal. Liefde-liefde x
Dankie Lelanie. Ek hoop jy sal van Kaalvuis hou. Ek hou van noir. Doen jouself 'n guns en lees Andrew Vachss se Bruke boeke. Ek hoop om eendag soos hy myself te verwoord.
Liewe Stefaans.
Wat 'n storie.
Ek het vrae gehad en dis deurlopend beantwoord. Vrae soos "wie is Meneer" en "wat het hy vir Dolfie geleer", "waar kom Dolfie vandaan", "is Meneer die reeksmoordenaar en verkragter, want ‘after all’ is dit wat hy met die seuns doen: verkrag hulle en vermoor hulle drome".
En toe kom die einde … Soos Lelanie skryf, Dolfie gaan die nuwe Meneer word (hy leer die dan klaar die jonger seuns) en hy gaan hulle alles leer wat ook hy ken. Dis vreesaanjaend om daaraan te dink.
BRILJANT (in blokletters geskryf)
Liefde
Baie dankie 🌹