Die rol van die Britse regering met betrekking tot slawerny en die konsentrasiekampe

  • 6

Foto van Danie van Wyk: verskaf

 

Die bekende Britse lied, “Rule Britannia”, se aanhef is as volg:

Rule, Britannia! Britannia, rule the waves!
Britons never, never, never shall be slaves …

Khinde Andrews, ’n professor in swart studies verbonde aan Birmingham City University in Engeland, het onlangs tydens ’n onderhoud met CNN Newsroom gereageer op die vraag of reparasie aan slagoffers van slawerny betaal moet word. Dit was na aanleiding van die Juneteenth-feesvieringe in sekere Amerikaanse state waar die vrystelling van die slawe gevier en herdenk is. Die kwessie was dat slawe hulle vryheid verkry het, maar nie werklik vry was nie. Vergoeding was slegs aan slawe-eienaars betaal, nie aan vrygestelde slawe nie.  Omdat geen reparasie aan hulle betaal is nie, kon hulle nie ’n nuwe begin maak nie.

Hy het verder verwys na slawe wat deur hul eienaars vanaf die kolonies na Engeland gebring was en hulle daar steeds as slawe behandel het, alhoewel daar in England nie regsgronde vir slawerny was nie.

Die onlangse protesoptogte in Engeland het veral gefokus op rassisme, slawerny en die koloniste se rol hierin. Skepe wat slawe vervoer het is deur die Bank of England gefinansier, en die versekeringsmaatskappy, Lloyds of London, het die skepe verseker. Verskeie groot Britse maatskappye, onder andere Greene King, het ’n “substantial investment to benefit the BAME (Black Asian and Minority Ethnic) community and in support of our race diversity in the business as we increase our focus on targeted work in this area” gemaak, het Nick Mackenzie, die hoof uitvoerende beampte van die maatskappy, gesê.

Die maatskappy sê voorts in ’n advertensie: “It is inexcusable that one of our founders profited from slavery and argued against its abolition in the 1800’s. These important and painful issues have a place in our history. We recognise our responsibility to engage with that”. So poog hulle om die ongeregtigheid van die verlede aan te spreek. Die Bank of England het onlangs hul verskonings aangebied vir hul rol in slawehandel. Die Britse regering het lenings aangegaan met verskeie finansiёle instellings van die tyd om slawe-eienaars en handelaars te vergoed vir verliese gely ná die vrystelling van die slawe. Hierdie tipe vergoeding kan nie slegs tot die Verenigde Koninkryk beperk word nie.

Andrews vra verder waarom geen reparasie betaal is aan slawe nie en noem verder dat hierdie verskonings voorkom as publisiteitsfoefies of openbare skakel-reklame en nie werklik die onmenslikheid van slawerny aangespreek het nie. Dit op sigself klink na opportunisme, gesien teen die agtergrond van rassisme in Brittanje. Daar is deesdae baie groot fokus op veral die VSA en minder fokus op lande soos byvoorbeeld Australiё waar groot onregte gepleeg is teenoor die inheemse bevolking, die Aborigines, en Spanje, vir die uitwissing van die inheemse bevolkings in Suid-Amerika. Koning Leopold van Belgiё en sy brutale rol in die Kongo kan ook nie op die agtergrond geplaas word nie.

Om beelde van kolonialiste en slawehandelaars te verwyder roer nie die wortel van die probleem aan nie, maar dien slegs as ’n uitlaatklep vir protesaksies. Die kwessie wat nie aangeraak word nie, is reparasie.

Dit is dus belangrik dat wanneer daar van reparasie teenoor die slagoffers van misdade teen die mensdom gepraat word, die streep regdeur getrek word en nie selektief omgegaan word met hierdie skandvlek op die mensdom nie.

Vir die doel van hierdie gesprek wil ek op die volgende twee gebeurtenisse in Suid-Afrika fokus:

  • Die lyding van vroue en kinders, asook hul arbeiders, tydens die Anglo-Boereoorlog (ook die Suid-Afrikaanse Oorlog genoem) en reparasie; en
  • Slawerny en reparasie.

Anglo-Boereoorlog en reparasie

Die konsentrasiekampe in die Republieke Vrystaat en die ZAR was deel van ’n verskroeide aarde-beleid en die wreedhede wat daarmee gepaardgegaan het tydens die oorlog, waarvoor Lord Kitchener opdrag gegee het.

Die Britse regering kan nie ongeskonde hiervan afkom asof hulle onkundig hieromtrent is nie. Soos hulle ’n verantwoordelikheid teenoor die nasate en slagoffers van slawerny het, net so het hulle ’n verantwoordelikheid teenoor die nasate en slagoffers van die konsentrasiekampe. ’n Verskoning sal nie genoeg wees nie, wel vergoeding vir lewensverlies en vir pyn en lyding.

Die afbrand van plase en die inhegtenisname van vroue en kinders kan met die Holocaust vergelyk word. Duisende Afrikanervroue en -kinders, sowel as arbeiders, het omgekom van honger en siektes. Daar word beweer dat ongeveer 20 000 swart mense ook in die konsentrasiekampe omgekom het. Hierdie kampe was deur die Britse magte geskep as deel van ’n militêre veldtog teen die twee Boererepublieke: die ZAR en die Oranje Vrystaat. Ek kan nie namens Afrikaners praat of ’n saak vir hulle uitmaak nie, maar dit is ’n aspek wat, nes slawerny aan die Kaap, na my mening ook nie genoeg aangespreek word nie.

’n Konsentrasiekamp tydens die Anglo-Boereoorlog (Fotobron: Wikipedia)

In 2015 het Jacob Rees-Mogg, lid van die Konserwatiewe Party in die Britse Parlement, in ’n verklaring die skep van hierdie kampe geregverdig. Dit was volgens hom geskep vir die beskerming van die vroue en kinders.  Sy verklaring het groot konsternasie veroorsaak omdat dit deurspek was van onwaarhede.

Dit het ’n Britse vrou, Emily Hobhouse, gekos om hierdie onmenslikhede bekend te maak en bewustheid by die Engelse koerante te skep. Sy het groot vernedering in haar geboorteland ervaar, maar het voortgegaan met haar stryd om ná haar besoeke aan Suid-Afrika, oorlogsmisdade bekend te maak. Sy is wyd geloof vir haar bydrae en uit erkenning daarvoor lê haar oorskot vandag by die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein.

Ek het die voorreg gehad om die Vrouemonument in Bloemfontein te besoek. Daar kry jy ’n idee van die omvang van die wreedhede gepleeg in die naam van die Britse Ryk. Die name van die gestorwenes is daar op ’n gedenkmuur aangebring.

Die oproep bly steeds dat die Britse regering nie slegs ’n verskoning moet aanbied nie, maar ’n weg moet vind om reparasie te bied in die vorm van vergoeding. Hulle kan dit nie slegs afmaak as vroue, kinders en swart arbeiders wat slagoffers van die oorlog was nie. ’n Standbeeld van Kitchener is tot sy nagedagtenis opgerig in Chatham, Engeland, en is daar ’n verwysing na hoe hy die oorlog in Suid-Afrika tot ’n suksesvolle einde gebring het, maar niks oor teen watter lewenskoste nie. Hierdie standbeeld behoort ook verwyder te word, want hy het soortgelyke oorlogsmisdade in Soedan gepleeg voor sy koms na Suid-Afrika.

(Kitchener het verdrink toe die oorlogskip, die HMS Hampshire, op 5 Junie 1915 op pad na Rusland gesink het).

Slawerny en reparasie

Slawerny het ná 1652 ’n aanvang aan die Kaap geneem tydens die Nederlandse kolonisasie van die Kaap. Dit was die oorspronklike model van kolonialisme en na die oorname deur die Britte in 1795, is die praktyk voortgesit en was daar geen verandering aan die status van slawe nie. Inteendeel, die getal slawehandelaars en slaweskepe het toegeneem en die verdere kolonisasie van Afrika het slawehandel laat floreer. Baie van die ingevoerde slawe was ambagsmanne wat hul vaardighede na die Kaap gebring het. Hulle het geen vergoeding vir hul werk ontvang nie omdat ’n slaaf as eiendom gesien en behandel is en gedwonge arbeid moes verrig.

Na die vrystelling van die slawe op 1 Desember 1834, wat eintlik vir alle praktiese redes in 1838 plaasgevind het, het die Bank of England lenings aan die Britse regering verskaf sodat kompensasie aan slawe-eienaars betaal kon word. Geen kompensasie is egter aan slawe betaal nie en daar was geen manier hoe hulle ekonomies op die been kon kom nie. Martin Luther King jnr verwys soos volg na die ekonomies agtergelate toestand van slawe na hul vrystelling: “It’s a cruel jest to say that a bootless man must lift himself by his own bootstraps.” Dit kan ook hier van toepassing gemaak word. Die koloniste het grond bekom en vervreem, ’n praktyk wat hulle ekonomies bevoordeel het.

In die VSA het ’n soortgelyke proses plaasgevind toe grond aan immigrante en slawe-eienaars verskaf is, tot die nadeel van vrygestelde slawe. Die Amerikaners vier jaarliks die vrystelling van die slawe, na aanleiding van die Emancipation Proclamation wat vanaf 1 Januarie 1863 van krag was, maar vir die eerste keer op 19 Junie 1865 in Texas gehoor is. Ironies was dit Texas wat juis prominensie aan die vrystelling van die slawe gegee het en dit as ’n vakansiedag beskou het. Vandag word dit in 49 state as ’n amptelike vakansiedag gevier. 

Die geskiedenis van slawerny aan die Kaap geniet nie vandag soveel prominensie nie. 1 Desember is ’n dag wat nie amptelik as ’n vakansiedag geproklameer is nie, en geen feesviering of gedenkdienste of optogte word gehou om slawe se bydrae tot die ontwikkeling van Suid-Afrika te erken nie. Is dit moontlik omdat geïnstitusionaliseerde slawerny nie in die res van die land geken en toegepas is nie en daarom nie dieselfde gewig dra as juis hier by ons aan die Kaap nie? Die tyd het aangebreek dat meer indringend gekyk word na ’n gebeurtenis soos hierdie en groter erkenning op amptelike vlak gegee word.

Geen gedenkteken of beeld is opgerig om slawe se stryd om oorlewing te gedenk nie. Dit wil dus voorkom asof hierdie deel van die Suid-Afrikaanse geskiedenis in die sand verdwyn het. Dit is op die weg van afstammelinge van slawe en die Khoi geleё om die kwessie op te neem en sorg te dra dat reparasie vir onnoembare leed en slawe se verlies aan vryheid en lewenskwaliteit ’n werklikheid word. Ons moet dit as deel van ons erfenis erken en dit eien.

  • 6

Kommentaar

  • Avatar
    Johannes Comestor

    "Gedurende die Eerste Britse Bewind (1795-1803) [is daar] meer slawe na die Kaapkolonie gebring ... as in enige tydperk van dieselfde lengte ... Kommissaris-generaal J A de Mist het aangeteken dat daar in 1793 altesame 16 767 slawe aan die Kaap was. Ten aanloop van die Eerste Britse Bewind in 1803 was daar 30 129 slawe, 'n toename van 78%. In die drie jaar van die Bataafse Bewind is 'n geringe hoeveelheid slawe ingevoer voordat die handel verbied is ... Vanaf 1806, die aanvang van die Tweede Britse Bewind, het die getal met nog 33 000 aangegroei. Dit bring mee dat 46 233 slawe onder Britse bewind in die vroeë 1800's ... aan die Kaap was" (Marthinus van Bart, Kaap van slawe, Tokai: Historical Media, 2012, bl 15).

    "Op Kerkplein, reg voor die hoofingang na die historiese Groote Kerk, ikoon van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, het die DA-beheerde Stad Kaapstad in 2008 'n 'Slawemonument' opgerig. Dit bestaan uit reuse-blokke gepoleerde swart graniet, wat soos grafstene lyk en waarop name en slagspreuke gegraveer is wat slawerny aan die Kaap suggereer. Die indruk word gewek dat die inskripsies en plek van oprigting sorgvuldig gekies is sodat die monument by implikasie 'n aanklag van onmenslikheid teen die Dietse en Hugenote pioniers en van historiese skuld teen hul nakomelinge, die Afrikaners, daarstel" (bl 11).

    "In die Iziko-Slawemuseum word die geskiedenis van slawerny aan die Kaap in die ouditorium by wyse van 'n aaneenlopende dokumentêre rolprent aangebied ... Die oudio-visuele aanbieding ... beeld 'n weersinwekkende verhaal van die 'Dutch' se slawevergrype dramaties uit. Die Britte word as die bevryders van die slawe geskets. Daar word nie na die Britse slawebedryf aan die Kaap verwys nie" (bl 17). "Wat geheel en al verswyg word, is dat die Nederlands-Bataafse regering ... slawehandel aan die Kaap afgeskaf het" (bl 19).

  • Een van die redes waarom die Voortrekkers getrek het was omdat die Britte die vergoeding vir die slawe wat hul besit het in Engeland uitbetaal het en weinig kon dit bekostig om die reis te onderneem. Baie van hierdie slawe het saam met die Voortrekkers getrek.

    ‘n Liberale Parlementslid het na die oorlog die Boererepublieke besoek en op die plase het gesinne dikwels teen die mure van afgebrande huise gestaan met kaalvoete. Wat hom egter opgeval het was dat hierdie mense die hulp wat aangebied is geweier het.

    Toe die Boerebelle ‘n boete moes betaal oor hul optrede het die Afrikaners regoor die land saamgestaan en geld ingesamel en nadat die boete betaal is het hul die orige as studiegeld vir Afrikanerkinders gebruik. Ek dink die Boere verwag nie vergoeding, maar Miskien net ‘n erkenning deur die Britte dat dit verkeerd was.

    Moet ook nie vergeet dat die Britte Ierse weeskinders ook na die Kaap gebring het om hier te werk en die Indiërs in Natal het ook vir ‘n tydperk gedwonge arbeid verrig waar ek dink hul na 2 jaar vrygestel is.

  • Avatar
    Danie van Wyk

    Saie el is bewus van die historiese feite soos deur jou gegee word. Dit was egter nie my doel om 'n indiepte historiese oorsig te gee nie, maar wou slegs wys op die blattante skending van menseregte deur die Britte en hul verpligting om dan ten minste 'n verskoning in die minste aan te bied.

  • Marietjie Warrington
    Marietjie Warrington

    ’n Insiggewende aflewering wat ongetwyfeld lof verdien! Dankie hiervoor Danie van Wyk. My ouma Bekker was by Volksrust in die konsentrasiekamp as jong dogter en dis hier waar sy kennis gemaak het met die gruwels van die Anglo-Boereoorlog. Haar vertellings is nog baie vars in my geheue en dis ’n stukkie geskiedenis wat ons nie durf begrawe nie.

  • Avatar
    Johann Basson

    1) Het swartmense nie swartmense in Afrika gevange geneem, verslaaf en aan buitelandse slawehandelaars verkwansel nie? Het Asiërs nie Asiërs in Asië gevange geneem, verslaaf en aan buitelandse slawehandelaars verkwansel nie? En wat van seerowery met gepaardgaande slawehandel? En wat van hedendaagse grootskaalse verslawing van mense deur verdowingsmiddele en menseroof?

    2) Het die Engelse (of "Ingelse") Anglo-Saksiese Upperclass Elite, tesame met hul meelopers, met hul hovaardige "white supremacist" lewensbeskouing en gierigheid van magsug, hebsug en gemaksug en hul imperialisme en kolonialisme grootse ellende en inbreukmaking op die menswaardigheid van andere en volkere meegebring nie?

    3) Was dit nie hierdie Engelse wat die Skotte, Walliërs, Iere, Kanadese, sommige Suid-Afrikaners en Australië en New Zeeland meegesleur het onder die banier van lojaliteit teenoor King and British Empire tot deelname aan die Anglo-Boereoorloë nie? En hoeveel van hulle "Died for King and Empire"?

    4) En hoeveel Suid-Afrikaners ken die geskiedenis van die Mfecane?

    5) En hoeveel Suid-Afrikaners leef vandag met skuldgevoelens oor die dade van hul voorgeslagte en dra die psigiese impak daarvan oor aan die nageslagte?

    6) En hoeveel Suid-Afrikaners en volke beleef die psigiese seerkry van inbreukmaking op hul menswaardigheid en dra hierdie seerkry oor aan die volgende nageslagte?

    Die groot vraag is: Wat het Suid-Afrikaners geleer uit die geskiedenis van die verlede? Of herhaal ons maar net weer die foute van die verlede? Is hierdie lewe dan só ingewikkeld? Kom ons werk saam aan 'n beter en regverdiger toekoms vir ons nageslagte.

    Naskrif: ek is 'n kreool Afrikaner. My een stammoeder was 'n slavin van Jan van Riebeeck, naamlik Angela van Bengale. 'n Ander stammoeder was die slavin Groote Catrijn van Palaciatta en 'n ander stammoeder was die Khoikhoi Krotoa. Van my voorgeslagte was slagoffers van die Nazi konsentrasiekampe en die ABO konsentrasiekampe. Welke persentasie volwasse Suid-Afrikaners ken die volle name en vanne van hul oupagrootjies en oumagrootjies, om nie een van hul voorgeslagte verder in die verlede te praat nie.

  • Avatar
    Johannes Comestor

    In 'n opname onder Britse tieners is bevind dat 23% van hulle dink dat Winston Churchill 'n fiktiewe karakter is (Daily Maverick 20.07.2020). In lande soos Brittanje en Amerika is daar 'n wydverspreide neiging in skool- en universitere onderrig om dislojaal teenoor die betrokke land te wees en eie geskiedenis ten bate van wereldgeskiedenis te verwaarloos.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top