"Die regte Eugène Marais moet nog ontdek word.”

  • 2

handdruk650b
Baie is al geskryf oor die joernalis, digter, regsgeleerde, natuurkundige en dwelmverslaafde Eugène Marais. Niemand kon nog daarin slaag om ’n volledige beeld van hom te skep nie. Eugène Marais bly ’n fassinerende figuur en dit is asof die vrae oor hom by die dag meer word. Op soek na die regte Eugène Marais het Jean Oosthuizen met Friedel Hansen gesels wie se boek Die handdruk van die dood pas in hersiene formaat verskyn het. Hy het probeer om agter die kap van die byl te probeer kom van waarom Marais, wat deur sommige as een van die grootste Suid-Afrikaners gereken word, vandag steeds mense se verbeelding so aangryp.

jean_oosthuizen_200x200

Jean Oosthuizen

Leon Rossouw se Die groot verlange is waarskynlik die bekendste werk oor Eugène Marais, maar daar is al so baie oor hom geskryf. Wat het jou gedryf om nóg ’n boek oor Marais te skryf en nou boonop ’n hersiene uitgawe daarvan uit te gee?

Leon Rousseau het die herlewing in die belangstelling in Eugène Marais laat opvlam. Daarna was daar ander bydraes en dit het uiteindelik ’n omvangryke mosaïek gevorm. Ek glo egter die mosaïek is nog nie voltooi nie en daar sal waarskynlik altyd nog plek wees vir nuwe bydraes.

Ek het in die 1980’s inligting oor Eugène Marais bekom wat ek nêrens voorheen of sedertdien raakgeloop het nie. Toe kom die film Die wonderwerker laat in 2012 en ek het net daar besluit dat dit tyd is om my inligting te deel.

In 1984 het jy ’n dokumentêre radioprogram oor Marais gemaak; so ’n paar jaar gelede was daar Die wonderwerker waarna jy hier bo verwys, en daar is nog nuwe boeke oor Marais op pad. Dit lyk of mense nie uitgepraat kan raak oor hom nie. Wat maak hom so besonders?

friedelhansen250

Friedel Hansen

Ek dink dis omdat daar so baie onbeantwoorde vrae oor hom is. Daar is talle leë kolle in sy lewe, tye wanneer hy bloot weggeraak het of lang tydperke waaroor daar geen inligting bestaan nie. Niemand kon nog daarin slaag om ’n volledige beeld van hom te skep nie: Eugène Marais is ’n fassinerende figuur en dit is asof die vrae by die dag meer word, terwyl die teenoorgestelde eintlik waar behoort te wees. Sy gedrag en optrede was by tye eienaardig, selfs vreemd. Hy was ’n enigma, ’n onvervulde genie wat dit moeilik gevind het om by die alledaagse lewe in te pas en aan te pas; hy was ’n swerwer, die ewige soeker.

Hy was ook nie ongeneë om by geleentheid die waarheid roekeloos geweld aan te doen nie, soos sy bewering teenoor sy seun dat hy en Marie Corelli verloof was en op trou gestaan het. Dit was gewoon onwaar, want sy was vir die duur van haar volwasse lewe in ’n lesbiese verhouding (met dieselfde vrou). Ongelukkig is sy bewering sonder enige bevestiging as die waarheid die wêreld ingestuur.

Miskien moet ’n mens sê die regte Eugène Marais moet nog ontdek word. Ek glo Die handdruk van die dood lewer ’n betekenisvolle bydrae in hierdie verband.

As mens jou in die Marais-oeuvre sou verdiep, is “nuwe onthullings” bra skaars. Is daar werklik nog nuwe onthullings oor Marais wat aan die lig kan kom waarvan ons nie reeds weet nie?

Ek wil myself nie probeer voordoen as ’n kenner van Marais se literêre nalatenskap nie. Ek het hom eerder as historiese figuur staangemaak en die ongetoetste inligting waaroor ek beskik het, onder die mikroskoop ingeskuif.

Dit was vir my ’n fassinerende ontdekkingsreis, want ek kon ten opsigte van sommige van die inligting tot ’n bevredigende slotsom kom. ’n Goeie voorbeeld is sy beweerde liefdesverhouding met Marie Corelli: toe ek ontdek sy was lesbies, kon ek daardie bewering onmiddellik as onwaar skrap.

Daniel Hugo beskryf die eerste uitgawe van jou boek in ’n resensie as ongetwyfeld die opspraakwekkendste biografiese geskrif wat daar tot nog toe oor ’n Afrikaanse skrywer gepubliseer is. Is die opspraakwekkende dele van jou boek op fiksie of werklikheid gegrond?

Dis groot woorde van Daniel Hugo. My uitgangspunt was nooit om bloot ter wille van opspraak ’n boek te skryf nie. Ek het feite en inligting gehad en dit was deurgaans my oogmerk om verantwoordelik en met sorg daarmee om te gaan.

My boek is op feite, waarskynlikhede en grondige afleidings gebaseer. Dit was nooit veronderstel om fiksie te wees nie. Sekere kort hoofstukke in die boek, wat in elke geval as ’n skakel tussen langer hoofstukke vol feite geplaas is, is feitelik gedramatiseer; sommige is gegrond op ’n sterk moontlikheid dat dit kon gebeur het, maar ek het dit nie ter wille van effek “opgemaak” nie.

Daar is egter een uitsondering.

Wat was dit?

Laat ek verduidelik hoe ek te werk gegaan het. Tydens my navorsing kon ek sekere afleidings maak, byvoorbeeld dat Marais by die Malans op Potchefstroom tuis was. Dit is moontlik, maar ek kon dit nie bewys nie, hoewel daar niks bekend is oor waar hy in 1904 was nie, die jaar van sy waarskynlike besoek aan en verblyf in Potchefstroom. Marais se begrafnis is gedramatiseer, maar dis feitlik verbatim die vertelling van Piet van Wyk de Vries, wat dit as skoolseun bygewoon het, een van ’n handjievol mense in die reën. Marais se aankoms op Rietfontein in sy kapkar na ’n reënbui met die geur van pannekoek in die lug, sy aankoms op ’n “egte boerewerf”, is ’n gedramatiseerde weergawe van “As dit reën op Rietfontein”. Ek het op Naboomspruit grootgeword en skoolgegaan en die omgewing by Rietfontein, neffens Die Oog-warmbron, is baie bekend aan my. Ek het daarop elemente van die natuur, soos voëls, slange, diertjies en die omgewing in die beskrywing ingeweef.

Daar is egter een hoofstuk in die boek wat suiwer fiksie is: die besoek van Eugène Marais aan Herman Charles Bosman terwyl hy tronkstraf vir die moord op sy stiefbroer, David Russell, uitgedien het. Ek wou iets oor die verbintenis tussen hulle insluit en het daarop besluit.

Ek besef terdeë dat my boek sommige kritici as doelbewus ikonoklasties sou opval. Dit was nooit my uitgangspunt of my doel nie. Eugène Marais was ’n komplekse en tragiese figuur.

Wat was die opspraakwekkendste ontdekking oor Marais se lewe waarop jy tydens jou navorsing afgekom het?

Die ontdekking van Boy, die boek deur Marie Corelli, is vir my die bevredigendste, omdat ek na die boek sonder ’n titel moes soek: ek het ’n anekdote gehad, maar geen boek nie, en ek het ook nie geweet waarna om te soek nie. Toe ek Boy ontdek, kon ek meteens die kolletjies met mekaar verbind en ’n geheelbeeld het vir my vorm aangeneem.

Die verwantskap tussen Marais en Bosman is uiteraard opspraakwekkend, maar ek het reeds in 1984 daarvan geweet en die speurtog was dus baie makliker.

handdruk1

Marie Corelli op die kruin van die golf. Hierdie opdragfoto is in 1906 op 51-jarige ouderdom geneem. Die foto is op haar aandrang dramaties geretoesjeer, haar gesig ontrimpel en ’n perdebylyfie is vir haar ontwerp. Corelli het altyd seker gemaak foto’s van haar is vleiend.

Die tweede hersiene en verbeterde uitgawe van jou boek is pas beskikbaar. Wat is nuut wat nie in die eerste uitgawe verskyn nie en waarom het jy so kort na die eerste uitgawe ’n hersiene uitgawe geskryf?

Ek het nie’n volledige hersiene uitgawe geskryf nie.

Verskeie mense het heel aan die begin by my aangedring om ’n historiese roman te skryf, maar ek het nie daarvoor kans gesien nie. Daar was eenvoudig te veel inligting beskikbaar om alles in ’n roman te kon insluit. Die resultaat is ’n boek wat dit vir die leser onnodig maak om wyer te gaan oplees, want ek het gepoog om alles moontlik wat nodig is, in die boek in te sluit. My uitgangspunt was deurgaans dat my leser geen parate kennis oor Marais het nie en ek moes dit in gedagte hou.

’n Vriend van my, ouduitgewer Gert Basson, se eerste reaksie op my boek was: “Foto’s! Waar is die foto’s? Daar moet foto’s wees.” (In die eerste uitgawe was daar net drie foto’s van Marie Corelli en dit was ’n oordeelsfout, want ek moes voorsien het dat foto’s van my teorieë kon versterk. Ter versagting moet ek pleit dat ek wat die boek betref, feitlik alles alleen gedoen het.)

Na die verskyning van die eerste uitgawe in November 2013 het ek toe stelselmatig begin om foto’s te versamel en teen Desember 2014 was ek tevrede dat ek genoeg het. Een van die eerste oogmerke was om foto’s van Pretoria met sy geskatte inwonertal van 20 000 omstreeks 1900 te plaas neffens foto’s van Londen met sy meer as ses miljoen inwoners toe Marais daar aangekom met. My argument was dat niks in Suid-Afrika, behalwe sy Engelse gespreksvermoë, Marais volledig kon voorberei het op alles wat hy in die grootste stad in die wêreld van destyds, koningin Victoria se Londen, sou ervaar nie. Die kontras is verstommend, en indien iemand my sou vra wat in Eugène Marais se lewe gebeur het wat hom vir lang tydperke so negatief gelaat het, sou minstens een antwoord beslis wees: “Londen het met hom gebeur.”

Die nuwe uitgawe bevat meer as 40 bladsye se foto’s, waarvan sommige in kleur is. Daar is ook foto’s van ander bekendes, dokumente en so meer.

Ek het ook ’n hele nuwe hoofstuk geskryf wat inligting bevat wat ek ontvang het in reaksie op die eerste uitgawe. Ek is besonder ingenome met sommige van die inligting.

Die laaste rede is dat omdat ek die boek alleen geskryf het en hoofsaaklik ook alleen die proefleeswerk moes doen, mindere tipografiese en taalfoute ongelukkig ingesluip het. Ek het dit self geset en uitgelê; trouens, selfs die omslag is my ontwerp, hoewel ’n professionele kunstenaar dit vir my van nuuts af moes skep.

Omdat ek dit self gepubliseer het, is dit onvermydelik dat ek sekere tipografiese foute sou miskyk (dis meer as 70 000 woorde!). Gelukkig het verskeie lesers van hierdie foute vriendelik aan my uitgewys en kon ek dit ook regstel. Ek het self darem ook ’n paar raakgesien!

Die tweede uitgawe het 70 bladsye meer as die eerste uitgawe.

Jy sê jy het baie nuwe inligting oor Marais bekom na die verskyning van die eerste boek. Waar het jy die inligting bekom en kan jy vir ons ’n idee gee van waaroor dit handel?

Lesers met eerstehandse kennis en inligting het met my in verbinding getree om die inligting aan my oor te dra.

Ek het ontdek dat Marais se ouer suster, Polly Clulee, met ’n Skotse sendeling getroud is en dat hulle tot sy dood bymekaar was. Na sy dood het sy suster Polly versorg. Voorheen is aanvaar dat haar man haar verlaat het.

Die hele sage rondom die egtheid van Racheltjie de Beer se heldedaad het my aangespoor om te probeer vasstel hoe en waar Marais op die storie afgekom het. Ek het verskeie hipoteses ondersoek om vas te stel of Marais die tragiese verhaal van Hazel Miner in Noord-Dakota in Maart 1920 betyds kon bekom het vir ’n artikel in Die Boervrou in 1921.

Dan is daar die storie van Dogter van die veld wat na bewering een van die heel eerste Afrikaanse rolprente was en waaraan AG Visser en Marais ’n aandeel sou gehad het, hoewel daar helaas geen kopie van hierdie rolprent behoue gebly het nie.

Die inligting wat vir my die mees opspraakwekkende was, is dat Marais tydens sy verblyf in Erasmus (Bronkhorstspruit) immer sy morfienparafernalia by hom gedra het, asóók sy opiumpyp en wat daarmee saamgaan. Hy het in Erasmus blykbaar meer geld gehad as gedurende die meeste ander tye en hy kon dus morfien én opium bekostig. Hy het in Erasmus reeds dikwels sy slaapklere en beddegoed gebrand, nes later toe hy by die Cross-gesin geloseer het. Die ontdekking van sy opiumgebruik was vir my ’n deurbraak.

Ek het Stephen Grey se artikel oor Marais in 2013 in die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Letterkunde ook weer gaan lees. Toe ek dit die eerste keer gelees het kort voordat my boek moes drukkers toe, was ek nie baie ingenome daarmee nie. By die herlees het ek anders begin voel, veral oor die algemeen-aanvaarde opvatting dat Marais vanaf 1905 tot ongeveer 1917 onafgebroke in die Waterberg was. Dit klop eenvoudig nie met feite oor ander gebeure gedurende hierdie tydperk nie.

handdruk2

Die ingang na die Inner Temple in Fleet Street, circa 1891. Eugène Marais het as aspirant-regsgeleerde aan die Inner Temple behoort, een van vier sulke verenigings wat deel gevorm het van die Inns of Court.

Jou boek is nie slegs op feite gegrond nie, maar jy gaan ook met waarskynlikhede om. Waarop het jy hierdie waarskynlikhede gegrond?

Jou vraag loop te wyd om hier na behore te beantwoord, maar ek sal probeer.

Ek is in my hart en wese ’n ondersoekende skrywer, iets wat ek baie graag by die radio kon doen, maar waarvoor daar vir my by TV minder geleentheid bestaan het.

Ek kan my werkswyse soos volg opsom: ek sou met ’n teorie begin en probeer vasstel of dit waarskynlik kan wees. Dis onvermydelik dat ek in hierdie proses op nuwe feite of teorieë sou afkom, en ek het dan almal opgevolg. Só kon ek bepaal of ’n teorie of ’n waarskynlikheid moontlik waar is.

Ter illustrasie kan ek noem dat moordverhore baie selde met die getuienis van ’n ooggetuie afgehandel word; met ander woorde, daar is selde ’n “smoking gun”. Sulke verhore berus meestal op omstandigheidgetuienis, soos in die geval van Don Steenkamp van Griekwastad en Oscar Pistorius.

My hantering en ondersoek van enige teorie was dus uit die staanspoor om te bepaal of dit redelik waar kan wees. Ek het omstandigheidsgetuienis versamel; ek het nooit met vooropgestelde antwoorde ’n teorie probeer plooi totdat dit vir my reg is nie. Ek het byvoorbeeld geskryf dat Eugène en die Niemeyer-kinders dieselfde tyd as die Malan-kinders op skool was en mekaar kon geken het. Niks meer nie: “Dis baie moontlik dat hy en die Niemeyer-kinders reeds in die Paarl met die Malan-kinders bevriend geraak het. Miskien het hulle op ’n manier kontak behou; miskien was die mooie Elisa reeds in die Paarl as skoolmeisie verlief op die aantrek­like filander, Eugène Marais. En dalk hy op haar” (bl 240).

Heini Kotze het in antwoord op ’n vraag op die Facebook-blad van die Eugène Marais Stigting oor die moontlike verwantskap tussen Marais en Herman Charles Bosman egter geskryf: “Die Stigting het toegang tot die leerlingregisters van die Paarl First Class Public School waar Marais skoolgegaan het. In ‘Die handdruk van die dood’ word beweer dat die Malan kinders en Marais tydgenote op skool in die Paarl was. Die enkele Malan leerling in die register het geen verbintenis met die latere (Herman Charles) Bosman familie nie.”

Dis ’n wanvoorstelling. Ek het niks oor die Paarl First Class Public School geskryf nie. Kinders speel tog, kuier oor en weer, vang saam kattekwaad aan – nie waar nie?

In dieselfde kritiek skryf hy: [Marais se] “… dwelmverslawing is niks nuuts nie”.

Ek het Marais se verslawing nêrens as ’n nuwe onthulling aangebied nie; inteendeel, ek het eerder gewys op die omvang van sy verslawing, feite wat tot dusver met sagte handskoene in die verbygaan genoem is en na my kennis nog nooit voorheen in soveel besonderhede ontleed is nie. Marais se hele bestaan is deur sy verslawing gedefinieer; dit was nie bloot ’n bysaak nie. Dít is nuut.

Een van die waarskynlikhede wat jy in jou boek bespreek, is die sensasionele aanname dat Herman Charles Bosman die buite-egtelike seun van Eugène Marais is. Die Eugene Marais Stigting sê hulle kan die bewering nie bevestig of ontken nie. By navrae het Egbert van Bart, stigterslid van die HC Bosman Literêre Vereniging, gemeen dit is onwaarskynlik, maar nie onmoontlik nie, terwyl ander meen dit is ’n romantiese idee wat waarskynlik geen gronde het nie. Waarop grond jy jou bespiegelings hieroor?

Na die uitsending van my radiohoorbeeld in 1984 het ’n luisteraar ’n lang brief aan my geskryf oor Eugène Marais. In die brief het sy drie uiteenlopende stellings gemaak: (1) Robert Ardrey het plagiaat gepleeg deur van Marais se notas en aantekeninge te gebruik vir sy boek African Genesis; (2) Marais het aan tersiêre sifilis gely; (3) Marais was die biologiese pa van Herman Charles Bosman. Volgens haar was Marais daardie jaar in Potchefstroom. Sy het bygevoeg Bosman se ma het vertel Bosman was ’n “liefdeskind”; sy pa was baie bekend en briljant en sy kon nie met hom trou nie.

Ek het die Ardrey-bewering nooit ondersoek nie en is ook nie van plan om dit te doen nie, bloot omdat ek nie oor die tyd of die kennis beskik om dit na behore te doen nie.

Die bewering oor tersiêre sifilis het my nuuskierigheid geprikkel en ek het dit intensief nagevors. Uiteraard kon ek uiteindelik net daaroor bespiegel, maar ek het tot die oortuiging gekom dat dit waarskynlik waar is, juis omdat tersiêre sifilis tot vier dekades of langer dormant in ’n lyer se brein kan bly bestaan. Een van die gevolge van tersiêre of neurosifilis is dat dit ’n lyer se geestestoestand aftakel. Daar bestaan by min mense enige twyfel dat Marais se geestestoestand gedurende die laaste paar jaar van sy lewe al hoe meer agteruitgegaan het. Die dwelmverslawing was dalk nie alleen daarvoor verantwoordelik nie.

Die aanspraak oor die moontlike vaderskap van Marais van Herman Charles Bosman het groot reaksie ontlok. Ek het Valerie Rosenberg se Between the Lines intensief bestudeer. Sy het beweer dat Bosman die produk was van bloedskande tussen Elisa Malan en haar jonger broer, Charles. Ek het hierdie aanspraak deeglik oorweeg en dit uiteindelik verwerp. ’n Vriendin van Elisa, Bertha McKibbin, is in die boek deur Rosenberg geïdentifiseer as iemand aan wie Elisa dele van die waarheid sou vertel het.

In ’n persoonlike onderhoud met Valerie Rosenberg het sy egter heel driftig aan my gesê daardie inligting was afkomstig van Helena Lake, Bosman se weduwee.

Ek merk met belangstelling dat mense wat nou gemoeid is met die literêre nalatenskap van Marais of Bosman of albei, my aanname in ’n paar gevalle nie alleen bevraagteken nie maar dit summier verwerp. Daarmee het ek geen probleem nie; trouens, ek het verwag dat dit ’n storm sou ontketen. Terselfdertyd wil ek beklemtoon dat niemand na my kennis my teorie oor hulle waarskynlike verwantskap tot dusver verkeerd kon bewys nie. Ek sal enige nuwe inligting, bykomend tot dit wat ek reeds verskaf het, verwelkom.

handdruk3

Eugène Marais was in Pretoria gewoond aan ʼn perdetrem of ʼn kapkar; in Londen was die moltrein al etlike jare in bedryf.

Marais se liefde vir vroue is alombekend. Jy plaas die 33-jarige Marais as loseerder in die Malans se huis in Potchefstroom dieselfde jaar (1904) as wat die 28-jarige Elisa swanger geword het. Anders as Marais se ander minnaresse weier Elisa egter ’n aborsie en vlug Kaap toe om met ’n mynwerker van Kuilsrivier, Jakoos Bosman, te trou. Was Elisa volgens jou Marais se verlore liefde, en indien wel, waarom dink jy so?

Volgens die inskrywing in die Malans se Familiebybel is Herman Charles Bosman op 5 Februarie 1905 gebore. Daar bestaan egter geen amptelike rekord van sy geboorte nie, en gesien sy ma se geheimsinnigheid oor wie sy biologiese pa was, is dit redelik om te aan te neem dat hy dalk vroeër of moontlik later gebore is.

Marais se huwelik sowat tien jaar vroeër met Lettie Beyers en haar dood met die geboorte van hulle kind was volgens aanduidings ’n groot terugslag vir hom; trouens, dit was moontlik die begin van sy fatalisme en sy oortuiging dat die lewe nie sin maak nie.

Was Elisa Malan sy verlore liefde?

Dis sekerlik moontlik. Hy wou homself egter nie tot haar verbind nie.

Toe skryf hy in Junie 1905 “Winternag”. Ek haal aan uit bladsy 245 van my boek:

Winternag vertel van die koue buite in die veld, oor die natuur, oor grassade in die wind maar … hy verwys na die winkende hande en hy gebruik die treffende koeplet:

Soos die lied van ’n meisie

In haar liefde verlaat!

Was Winternag sy boetedoening, sy skuldbekentenis, sy erkenning dat hy wis Elisa is alleen, verlaat, verstoot? Miskien het hy haar werklik liefgehad en dalk het die feit dat hy haar op hierdie manier in die steek gelaat het bygedra tot sy melancholie in later jare.

En verderaan op dieselfde bladsy:

Winternag is onherroeplik die voorspel tot Marais se tragiese emosionele aftakeling en die prelude tot die desperate lewe van Herman Charles Bosman.

handdruk4

Die saad van die papawer (Papaver somniferum)

Leon Rousseau, skrywer van Die groot verlange, het in ’n lang artikel geskryf hy kon jou boek nie neersit nie. Marais se lewensloop het elemente van sowel ’n sprokie as ’n Griekse tragedie. Rousseau sê mens hoop eintlik jou hipotese is korrek, want dit klink so reg. Hoe korrek dink jy is jou hipotese?

Ek staan by alles wat ek geskryf het, want ek is oortuig my bronne was betroubaar en ek het op hulle spore afgestap. Ek het geen “feit” gefabriseer nie. Natuurlik het ek nuwe ontdekkings gemaak, maar my oordeel is ook deels gevorm deur dit wat ek vooraf geweet het.

Leon Rousseau het ook teenoor my aangedui dat hy my teorieë en hipoteses gaan insluit by sy finale uitgebreide voorwoord van Die groot verlange.

Dit alleen bring vir my groot bevrediging.

Daar is by sommige kritici skeptisisme oor die “disfunksionele familie” waaruit Marais volgens jou kom. Volgens die Eugène Marais Stigting het hulle toegang tot eerstehandse materiaal wat Marais se ouers as liefderyk en beskermend uitbeeld. Waarop grond jy jou stellings?

Gustav Preller se skryfwerk word seker ook as “eerstehandse materiaal” beskou. Preller het in die voorwoord tot die ongepubliseerde Inleiding tot Gedigte van Eugène Nielen Marais (wat opge­neem is in DJ Opperman se bundel van Preller se werke, Eerstelinge), in Januarie 1925 geskryf dat Marais hom sedert sy terugkeer na Suid-Afrika [dit wil sê, 1902] “bepaal het tot die beroep van advokaat en later van proku­reur”. Dis snert en ’n wanvoorstelling. Hy het bitter, bitter min as advokaat en prokureur gepraktiseer.

Pa Jan Marais het in sy persoonlike lewe agteruit geboer. Toe hy in die tronk beland weens die verduistering van openbare fondse, is Eugène gebore. Met sy tuiskoms moes hy meteens ook ’n kleuter in sy lewe akkommodeer.

Sy dogters het hom as the “perfect invalid” beskryf en niemand kon nog verklaar hoekom Lizzie Eugène uit hulle ouerhuis weggeneem het om op Boshof skool te gaan nie. Sy surrogaatouers was dus sy oudste broer, Charles, en die oudste suster, Lizzie (Elizabeth) Niemeyer, albei van Boshof.

Met my ontdekking van Boy deur Marie Corelli het baie dinge vir my duidelik geword. Dick Findlay, eertydse beroemde skilder en filateliekunstenaar, het my in 1984 vertel hoe ontsteld sy oumagrootjie, Lizzie Niemeyer, oor ’n boek van Marie Corelli was. Sy het die boek laat vernietig “omdat Eugène ’n karakter in daardie boek was”, maar sy wou nie die titel bekend maak nie. In 2013 het ek ontdek daardie boek is Boy, Corelli se skets wat op Eugène Marais gebaseer is.

Ek volstaan dus by my beskrywingvan ’n “disfunksionele familie”.

Daar is redelik min bekend oor Marais se lewe gedurende die tyd toe hy in Londen gebly en daar studeer het. Kon jy in jou boek daarin slaag om meer lig daarop te werp?

Ek glo ek het.

Die Inner Temple, waaraan hy as regstudent behoort het, is in Fleetstraat, wat tot in die 1980’s die meeste groot koerante en tydskrifte se redaksiekantore gehuisves het. Gesien sy ervaring van die koerantwese en sy intieme kennis van Suid-Afrika, die ZAR en veral Paul Kruger, het ek eers die afgelope ruk aan die moontlikheid begin dink dat hy dalk as ’n soort buitelandse korrespondent vir sommige van hierdie publikasies kon gewerk het en dalk onder ’n skuilnaam. Miskien verklaar dit iets van die lang tye van afwesigheid van sy regsklasse.

Is dit nie ’n nuwe veld vir navorsing nie?

Richard Harding Davis was tydens die Anglo-Boereoorlog as Amerikaner in Suid-Afrika ’n oorlogskorrespondent. Die bekende Amerikaanse tydskrif Cosmopolitan het Olive Schreiner gevra om tydens die Anglo-Boereoorlog hulle korrespondent in Suid-Afrika te wees, maar sy het dit van die hand gewys weens haar swak gesondheid.

Dis maar van die jongste teorieë oor wat Marais in Londen gedoen het.

Die ander groot ontdekking wat jy gemaak het, vloei voort uit Marais se vriendskap in sy Londense jare met die uiters suksesvolle Victoriaanse skrywer Marie Corelli, na wie al ’n paar keer in hierdie gesprek verwys is. Wil jy kortliks iets meer daaroor sê?

Ek is vas oortuig dat Marie Corelli die belangrikste persoon in sy lewe was tydens sy verblyf in Engeland en dalk ook daarna.

Net een blok wes van die Eugène Marais-hospitaal in Pretoria is daar ’n kort straatjie met die naam Corellistraat. Ek glimlag elke keer as ek daar verbyry. Waar sou die naam vandaan gekom het?

Corelli het 40 boeke geskryf met vreemde mistisisme en karakters wat nie deur tyd gebind is nie. Die enigste afwyking van hierdie tema was Boy: A Sketch, wat in 1900 verskyn het.

Marie Corelli was nie Marais se geliefde nie; sy was sy mentor. Sy het die rol vervul wat voorheen deur sy ma en toe deur sy suster, Lizzie, vervul is. Sy het hom bekendgestel aan absint, spiritualisme, astrale projeksie, Egiptologie en die piramides, en baie meer. Dis hoekom hy sy hart teenoor haar oopgemaak het en haar vertel het van sy eerste paar jaar in sy ouerhuis.

Die begin van Boy: A Sketch is veelseggend, byna profeties, en ek haal die eerste twee paragrawe aan:

It is said by many people who are supposed to “know things”, that our life is frequently, if not always, influ­enced by the first impressions we ourselves receive of its value or worthlessness. Some folks, presuming to be wiser even than the wisest, go so far as to affirm that if you, while still an infant in long clothes, happen to take a disgust at the manner and customs of your parents, you will inevitably be disgusted at most events and persons throughout the remainder of your earthly pilgrimage. If any truth exists in such a statement, then “Boy” had excellent cause to be profoundly disappointed in his pros­pects at a very early outset of his career.

He sat in what is sometimes called a “feeding-chair”, wedged in by a bar which guarded him from falling forward or tumbling out upon the floor, and the said bar was provided with an ingenious piece of wood, which was partially hollowed out in such wise as to keep him firm by his fat waist, as well as to provide a resting-place for the plateful of bread-and-milk which he was enjoying as much as circumstances would permit him to enjoy anything. Every now and then he beat the plate solemnly with his spoon, as though improvising a barbaric melody on a new sort of tom-tom, – and lifting a pair of large, angelic blue eyes upwards, till their limpid light seemed to meet and mix with the gold-glint of his tangled curls …

’n Paar bladsye verderaan vind ons die volgende veelseg­gende en treffende beskrywing van die kind se waar­nemingsvermoë:

Boy, lately arrived from the Infinite, was guiltless of his present dubious surroundings. He did not make his “honourable” father a drunkard, or his mother a sloven. He came into the world designed, perchance, to be the redemption of both his parents, had they received his innocent presence in that spirit. But they did not. They accepted him as a natural result of marriage, and took no more heed of him than a pair of monkeys casually observant of their first offspring.

En ’n entjie verder dat sy ma

would indeed have been profoundly astonished if she had known that Boy took her clothing into his consideration, and wondered why hooks were often off, and buttons often gone from her garments, and why her hair was so like some of the stuffing of the old armchair, woolly sort of stuffing, which was coming through the leather for want of mending.

handdruk6

Kerkstraat, Pretoria in 1891

Jy skryf ook oor Marais se dwelmverslawing, maar voeg die moontlikheid by dat hy sifilis gehad het. Feite of fiksie?

Dwelmverslawing? ’n Onbetwisbare feit. En ek glo sy afhanklikheid was baie erger as wat tot nou toe algemeen aangeneem is, veral danksy Gustav Preller se oorywerige dog misplaaste beeldpoetsery van Marais en ’n algemene onkunde juis omdat dit meestal in die verbygaan bespreek is. Hy was ’n volslae dwelmslaaf en dit bring baie aanstootlike en swak karaktereienskappe na vore.

Tersiêre sifilis? Heel waarskynlik. Die twee belangrikste simptome van gevorderde tersiêre sifilis (ook genoem neurosifilis of breinsifilis) is dat die breinfunksie begin agteruitgaan en verswak (lyers raak later van hulle kop af) en/of die aorta word aangetas. Die gevolg van laasgenoemde is gewoonlik ’n aneurisme van die aorta wat meestal noodlottig is. Ek glo dis wat tot Herman Charles Bosman se dood gely het.

Mense met tersiêre sifilis kan, soos ek alreeds gemeld het, tot so lank as veertig jaar daarmee lewe sonder dat dit manifesteer. Ek vermoed Marais het dit tydens sy Londense verblyf opgedoen.

handdruk5

Van Rietfontein se opstal bestaan daar haas lankal niks meer nie. Die statige belhambra is al wat oorgebly het.

Hoe sou jy Eugène Marais in een paragraaf opsom?

Sonder inagneming van sy literêre nalatenskap is Eugène Marais ’n tragiese en bejammerenswaardige figuur. In die moderne konteks is hy die toonbeeld van ’n junkie en ’n drifter.

Is dit nie bietjie kras as mens net na die moderne konteks kyk nie? Tragies inderdaad. Hy word deur sommige gesien as een van die grootste Suid-Afrikaners wat nog geleef het. Was hy nie dalk sy tyd, met foute en al, in baie opsigte ver vooruit as mens ook na sy breë nalatenskap as ondersoekende joernalis en natuurkenner kyk nie?

Die sleutelwoorde in my vorige antwoord is: “Sonder inagneming van sy literêre nalatenskap is Eugène Marais ’n tragiese en bejammerenswaardige figuur.”

Ek is jammer indien dit dalk mag voorkom ek is hard en ongenadig teenoor Marais, want die teendeel is waar; trouens, ek het geweldig baie empatie met hom, veral noudat ek die volle omvang van sy verslawing besef. Terselfdertyd moes ek realisties en eerlik wees: ’n mens sit met die teenstrydighede van altyd met ’n strikdas in die openbaar, maar sy blyplek is immer ’n losieskamer, ’n buitekamer, ’n rondawel.

Flip Smit, oudrektor van UP, het soos volg oor my boek geskryf: “Wat jy in jou voorwoord sê, voer jy getrou uit. Ook hoe jy met feite en waarskynlikhede omgaan. Ek is veral besonder beïndruk hoe jy die dekor skep waar Marais dan op die verhoog verskyn. Dit is ’n nuwe perspektief. Behalwe jou navorsing oor Marais is jou werk oor verslawing, hoe Londen gelyk het en baie meer net verstommend.”

My boek kyk na Marais se leefwêreld uit die hoek van die verslaafde. Dit moes vir hom daaglikse ’n steil opdraand gewees het om net te funksioneer: hy moes aan die een kant altyd eerstens sy afhanklikheid voed; aan die ander kant moes hy voortdurend aan ander se verwagtinge voldoen en presteer. Vergeet van sy genialiteit en sy prestasies en plaas jou in sy skoene: sonder sy daaglikse high sou hy dit nie kon doen nie. Dit verbaas my dus glad nie dat sy vermoë om te presteer met die verloop van tyd minder en minder geword het nie.

Die handdruk van die dood is ’n eerlike poging om te probeer verstaan hoekom Marais nooit werklik ten volle tot sy reg gekom het nie; dit is ’n opregte poging om begrip vir die omvang van sy verslawing te kweek. Sy grootste prestasie lê daarin dat hy ten spyte van sy hopelose afhanklikheid tog nog so uitnemend op literêre en wetenskaplike gebied presteer het. Hy kon net sowel baie vroeër in sy lewe uit desperaatheid tou opgegooi het.

Waar kan mens die boek bestel?

Die boek kan direk by my bestel word. Stuur ’n e-pos aan friedel.pretoria@gmail.com en ek sal al die besonderhede aanstuur.

Dis ook by Protea-boekwinkel beskikbaar.

 

Vir meer inligting oor Eugène Marais besoek gerus die Eugène Marais Stigting se webwerf by: http://eugene-marais.org.za/home/

  • 2

Kommentaar

  • Destijds heb ik met buitengewone belangstelling 'Die groot verlange' gelezen en herlezen. Met dezelfde belangstelling zou ik ook 'Die handdruk van die dood' willen lezen, maar zal er ooit gelegenheid zijn om dat boek hier in België of Nederland aan te kopen?

  • Thanks for the interview. First Afrikaans I have read in 25 years, but I understood 95% of it. I cannot buy Die Groot Verlange anywhere unfortunately. I hope this new book is available in electronic format.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top