Die proponentjie ’n entjie uit die vergetelheid ontruk

  • 1

.....
Blink herinneringe aan die kuns van Pieter Fourie en Shaleen Surtie-Richards
....

Sedert Shaleen Surtie-Richards se voortydige afsterwe enkele maande gelede al, soek ek die teaterprogram van Kruik se opvoering in 1986 van Die proponentjie, Pieter Fourie se toe nuutgeskrewe klug wat uit Kaapstad die platteland vol getoer het.

Nie soek soos in handeviervoet nie, soek soos in ’n ogie oophou in die proses van pampiere uit die voortyd liasseer, waarmee ek toevallig tans besig is. Die program, onthou ek goed, is gloeirooi, met voorop ’n spotprent van die aspirantdominee omkring deur ’n wolk vryerige vroue.

Die oggend van Saterdag 11 September 2021 kom die dun maar steeds netjiese programmetjie te voorskyn. Sommer so – sonder sinjale.

Boaan die buiteplat is Kruik se ou logo en die woorde “Capab” en “Kruik”, laasgenoemde onder eersgenoemde ingenestel. Oor die toneelstuk se titel staan, ook in hoofletters: “PIETER FOURIE se NUWE KLUG”. Die woordjie “se” is in onderkas en effe kleiner as die res.

Twee oggende daarná, voor ek die programmetjie kon bekyk, hoor die wêreld die swaar nuus dat nóg ’n skeppende reus die vorige dag oorlede is: Pieter Fourie, die briljante dramaturg, regisseur, akteur en, in sy latenstyd, digter.

Die program vertel vir my dat my onthou juis is: dat ek toe, as standerd 5-bloedjie, in ’n volgepakte HB Thom-teater, soos dit toe bekendgestaan het, vir die eerste keer met twee – nee, heelwat meer – groot Afrikaanse geeste kennis gemaak het.

Die jong Shaleen Surtie-Richards as Rachel, die proponent se bediende, was natuurlik iets wat soos weerlig getref het. Soveel van soet en rof en glad en skurf en parmantig en skaterbui-ontlokkend in een mens, in een gloeiende, effe ronde lyf, was haas onvoorstelbaar.

Dit was toe natuurlik nog die hoogbloei van apartheid, die HB Thom witter as sneeu, lank voor cultural appropriation en blackfacing hier te lande betekenis had, en ek onthou my prille gemoed het stilletjies gewonder: Is dit ’n bruin vrou daai – of dalk ’n wit aktrise wat, met koffiekorrels ingesmeer, net baie goed die bruin stemval nadoen?

Dit was nie my eerste keer as lid van ’n propperse professionele teatergehoor nie – daar was beslis die jaar vantevore reeds Die wildsboudjie in dieselfde teater, onder Fourie se regie – maar hierdie ervaring was iets werklik raars: Aan veral Surtie-Richards was daar iets alchemies, iets effe ondenkbaars. Sy hoef net haar plomp voetjie op die verhoog te sit – met natuurlik al die ander elemente van sekerlik een van die volmaakste komiese aktrises ooit – vir dawerende lagbuie om op haar neer te reën.

Al was die res van die rolverdeling daar om Rachel te onderskraag, hoef hulle ook nie terug te gestaan het nie. Ds Gaffie, die proponent in die titel, is deur Gustav Geldenhuys vertolk; Wania deur Janie du Plessis (toe wyd bekend as prikkelkop-televisieaanbieder); Grote Grieta deur Estelle Gouws; Kleingroet deur Marion Holm; Tienie Trêweller deur Michelle Botes; Sarie Boerewors deur Diane Wilson (maar in die vertoning op Stellenbosch deur Annemarie Blanckenberg); Hannie Hallelujavoetjies deur Margaretha Ficher. En les bes: Die nimlike Nerina Ferreira, sy met die gedroogde perske vir ’n mond, wat woorde soos stuitige borrels vrylaat, was Dollie Diamonds.

Fourie was nie alleen die skrywer nie, maar ook die vernuftige regisseur. In en uit by die deure, oor en agter en deurmekaar het die klugtighede ontknoop. Dicky Longhurst het die ontwerp behartig en Skip Wright die beligting.

Die presiese intrige kan ek nie fyn oproep nie; tog onthou ek dit was so rofweg op die lees van die Ray Cooney- of Marc Camoletti-tipe klug geskoei. Die proponent was gou van hoeveel vryerige jongvroue en hul ambisieuse moeders omkring wat soos bye om ’n blom is: met alleen bestuiwing op die brein. Rachel, so herinner ek my, het die rol van selfaangestelde bewaarder van die priesterlike onskuld vervul.

Onder die name van die rolverdeling staan dit: “Dis die laat-Vyftigerjare. Dis die sitkamer van ’n pastorie êrens op die platteland.”

In Fourie se kort programnota skryf hy: “Die klug is die paradoks van die teater. Vir die gehoor: maklik, toeganklik, ontspannend; vir die spelers, regisseur en dramaturg: verwikkeld en bloedsweet. Binne die teater self word dit algemeen aanvaar dat die klug sy moeilikste genre is: ’n doolhof en ratwerk wat met die presisie van ’n Switserse horlosie moet sinchroniseer.”

En dan: “Juis daarom dat ek eers ná 25 jaar in die teater en 10 eie stukke op die planke besluit het om my eerste klug te skryf. Dat dit ’n periodestuk moes wees, was vir my belangrik. Ek het onmiddellik op die laat-vyftigerjare besluit. Heerlike materiaal vir ’n klug: die eerste doodsnikke van die Victoriaanse moraliteit en die begin van die jeug se eie bevryding op die platteland.”

Twee blaaie voor dit, op die binnekant van die programmetjie se buiteblad, tussen kiekies van die rolverdeling, verskyn Rock Hudson se gesig in ’n rooi-omsoomde hartjie. Tog ’n vreemde keuse om die geïdealiseerde hupsheid van weleer te versinnebeeld: Hudson se dood, in Oktober 1985 reeds, aan vigsverwante oorsake, was ook in Suid-Afrika die tydskrifte vol.

Fourie vervolg: “Die milieu en die tydperk ken ek – is ek onlosmaaklik deel van. Met dié besluit geneem, het die karakters – vriende en kennisse uit my tienderjare – een vir een hul kom sitmaak op my pen se punt. En toe onthou ek: die skeuring in ons gemeente oor die jong predikantjie wat met sy kortbroekie durf tennis speel het. Dit het inderdaad daartoe gelei dat ’n dorpie met 200 siele toe met twee tennisklubs en twee tennisbane kon spog! Een vir die langbroekers. Een vir kortbroekers.

“Wat u vanaand sien, is ’n huldeblyk aan die dierbaarste mense uit my jeugomgewing.”

Al het kritici van toe Fourie se debuutklug as geyk afgemaak – dit was darem nie WEG Louw nie, wat al etlike jare saliger was – was teatervernuwing baie ver van die gedagtes van die leeuedeel van die Stellenbosse teatergehoor op die aand van Woensdag 14 Mei 1986. Verbeel jou net hoe het dit die vorige maand op Hermanus, Swellendam en Saldanha gegaan!

En al wat in my twaalfjarige kop gemaal het, daar in die diggemaakte saal, was hoe blink en volmaak die verhoog was. So blink en volmaak soos sekerlik net die toekoms kon wees.

  • 1

Kommentaar

  • Amanda+le+Roux

    Dit was sooo lekker om te lees. Met jou beskywings en woordkeuses voel dit of ek dit self beleef het, Jean! Ek kan nie glo dat ek dit misgeloop het op Stellenbosch nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top