|
|||||||||||||
The production quality of Palindroom and Kladboek by Joan Hambidge as case studies within the publishing industry
This article investigates the quality of specific products of two publishing houses. Within this context Palindroom (2008) and Kladboek (2008) are used as case studies to determine how the different chains of production at different publishing houses influence the final product. These different procedures (reconstructed through interviews with the different role players) of the respective publishing houses are compared with the ideal chain of production indicated by Venter (2006) to identify shortcomings in these processes. These texts were chosen as examples because they are by the same author and were published in the same year by small publishing houses (Genugtig! Uitgewers and Protea Boekhuis respectively).
Attention is given to various elements of these books as products. Firstly, the paratextual elements identified by Genette (1997) are analysed according to the communicative values of the peritext (cover, colophon page, title, etc.) and the epitext (reviews, interviews, etc.) respectively. Secondly, the views of Carstens (2003) regarding the standardisation of Afrikaans, those of Du Plessis and Carstens (2000) and Butcher (2006) concerning language editing, and Grebe’s application thereof on the book as product are used to assess the quality of these texts. These aspects of the book are contextualised in terms of the publication process to identify which phases could have been improved to create a satisfying final product.
Ultimately this article aims to make recommendations concerning the production of Afrikaans prose that can serve as guideline for publishing houses, book editors and language editors.
Die produksiegehalte van Palindroom en Kladboek deur Joan Hambidge as gevallestudies binne die uitgewersbedryf
Hierdie artikel ondersoek die produksiegehalte van uitgewershuisprodukte. Binne hierdie konteks word Palindroom (2008) en Kladboek (2008) as gevallestudies aangewend om te bepaal hoe die verskillende produksiekettings by verskillende uitgewershuise se finale produkte daar uitsien. Hierdie werkswyses (wat deur onderhoude met die verskillende rolspelers gerekonstrueer is) van die onderskeie uitgewers word vergelyk met Venter (2006) se ideale produksieketting om tekortkominge in die prosesse te identifiseer. Hierdie tekste is as voorbeelde gekies omdat hulle deur dieselfde outeur is, in dieselfde jaar verskyn het, en albei publikasies deur klein uitgewershuise uitgegee is (Genugtig! Uitgewers en Protea Boekhuis onderskeidelik).
Daar word aandag geskenk aan verskillende elemente van die boek as produk. Eerstens word die paratekstuele elemente wat Genette (1997) identifiseer, ontleed volgens die kommunikatiewe waarde van onderskeidelik die periteks (omslag, kolofonblad, titel, ens.) en die epiteks (resensies, onderhoude, ens.). Tweedens word beskouings van Carstens (2003) rondom die normering van Afrikaans, dié van Du Plessis en Carstens (2000) en Butcher (2006) aangaande taalversorging, en Grebe (2006) se toepassing daarvan op die boek as produk aangewend om die gehalte van die tekste te beoordeel. Hierdie aspekte van die boek word in verband gebring met die publikasieproses om te identifiseer welke fases verbeter kan word om ’n bevredigende finale produk daar te stel.
Uiteindelik poog hierdie artikel om aanbevelings aangaande die produksie van Afrikaanse prosa te maak wat as riglyn vir uitgewershuise, redakteurs en taalversorgers kan dien.
1.1 Probleemstelling
Bitter min studies aangaande produksiegehalte van Afrikaanse publikasies is tot op hede onderneem. Joan Hambidge is bekend daarvoor dat sy binne ’n redelik kort tydperk ’n omvattende oeuvre opgebou het en dikwels van uitgewershuise verwissel, en daarom kan ’n vergelykende ondersoek na die kwaliteit van uitgewersprodukte met vrug van tekste in Hambidge se oeuvre as gevallestudies gebruik maak. In Maart 2008 verskyn Hambidge se novelle Palindroom in een volume saam met die digbundel Koesnaatjies vir die proe by die uitgewershuis Genugtig!, en ’n maand later verskyn haar jongste roman, Kladboek, by Protea Boekhuis. Wat styl en inhoud (soos intertekstuele verwysings en die gebruik van korrespondensie soos e-posse en ander teksflardes) betref, wys Neervoort (2008:11) in ’n resensie op die ooreenkomste tussen hierdie twee tekste, wat die vergelykbaarheid van hierdie produkte verder vergemaklik.
Hierdie ondersoek is nie gemoeid met die tekstuele aspekte van Palindroom2 en Kladboek nie, maar is ’n prosesgeoriënteerde ondersoek na die skepping van die boek as produk. Ten einde hierdie analise te doen, sal verskeie aspekte van hierdie produkte onder die loep geneem word. Volgens Venter (2006:91) voeg die verskillende rolspelers in die boekproduksieketting deurgaans waarde toe met die uiteindelike doel om 'n bevredigende finale produk daar te stel. Teoreties moet die boekproduksieproses sekere stappe of fases insluit om ’n goeie produk te lewer (vgl. Venter 2006:38–127). Tog is dit net ’n voorgestelde ideaal, en daarom is dit belangrik om die spesifieke werkwyses van die betrokke uitgewers te vergelyk.
Deur onderhoude wat met die verskillende rolspelers in die produksie van die bogenoemde boeke gevoer is, sal daar eerstens bepaal word waar tekortkominge in die proses voorgekom het. ’n Onderhoud is met Hambidge gevoer om onder meer te bepaal waarom sy die boeke by twee verskillende uitgewershuise laat verskyn het, en wat haar beskouings aangaande die funksies en verantwoordelikhede van die uitgewer is. In die geval van Palindroom is onderhoude gevoer met die redakteur, Jackie Nagtegaal; die redigeerder, Madri Victor; en die taalversorger, Maatje Gunter. Die onderhoud met Nagtegaal het hoofsaaklik gewentel om Genugtig!/Joho! Uitgewers se uitgeefilosofie en die proses wat in die publikasie van Palindroom gevolg is. Victor en Gunter se onderhoude was gemoeid met die redigeringsproses, insluitend die redigeermetodes wat elkeen aangewend het, die naslaanbronne wat geraadpleeg is en elkeen se verantwoordelikhede tydens hierdie proses. Hoewel Gunter aanvanklik telefonies ingestem het dat haar onderhoud in hierdie studie gebruik word, het sy later versoek dat haar insette nie ingesluit word nie. In die geval van Kladboek is slegs Martjie Bosman geraadpleeg, omdat sy as redakteur, taalversorger en proefleser opgetree het. Haar onderhoud het dus ooreengestem met dié van Nagtegaal, Victor en Gunter.
Hierdie uitgeeprosesse sal tweedens ontleed word deur ’n analise van die taalaspekte. Ten einde die tekste te ontleed, sal hoofsaaklik gesteun word op die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS 2002), omdat dit die enigste normatiewe publikasie oor Afrikaans is en die reëls deur die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns neergelê word. In gevalle waar die AWS nie uitsluitsel gee nie, sal van die gesaghebbende Norme vir Afrikaans (2003) deur Carstens gebruik gemaak word. In enkele gevalle word Skryf Afrikaans van A tot Z (2003) deur Müller ook geraadpleeg, hoewel hierdie bron in sommige gevalle afwyk van die reëls wat die AWS voorskryf en op Media24 se huisstyl gebaseer is. Hierdie taalversorgingsaspekte hou verband met teoretiese beskouings oor Afrikaans as skryftaal, en daarom is dit ook belangrik om dit in verband te bring met teoretiese besinnings oor die verantwoordelikhede van taalversorgers. Gevolglik sal beskouings van Du Plessis en Carstens (2000) en Butcher (2006) oor die rol van die taalversorger, dié van Carstens (2003) rondom die normering van Afrikaans, en Grebe (2006) se toepassing daarvan op die boek as produk aangewend word om die gehalte van die tekste te beoordeel, veral met die oog op die teks as produk van die redigeringsproses.
Derdens sal die paratekstuele elemente wat Genette (1997) identifiseer, gebruik word om nietekstuele inligting oor elke publikasie te bespreek. Hierdie paratekstuele elemente sluit in die periteks (omslag, kolofonbladsy, titel, ens.) en die epiteks (resensies, onderhoude, ens.). Die parateks is wat van die manuskrip ’n boek maak en gevolglik is dit ’n belangrike aspek van die boek as produk en beïnvloed dit ook die kwaliteit van die algehele produk (Genette 1997:1). As sodanig het dit ’n groot invloed op die leser se aanvanklike opvattings oor die produk.
Uiteindelik poog hierdie artikel om tekortkominge in die produksieprosesse van Afrikaanse fiksiepublikasies uit te wys en om voorstelle ter verbetering van die kwaliteit van uitgeweryprodukte te maak.
1.2 Uitgeweryprofiele
Genugtig! Uitgewers begin in 2003 as ’n stokperdjie om debuutskrywers die geleentheid om publikasie te gun (Genugtig! Uitgewers 2008). Hierdie “stokperdjie-uitgewery” het binne drie jaar tot “’n volwaardige besigheid gegroei” (ibid.). Teen die middel van 2008 is die uitgewery se boekproduksie twee keer hoër vergeleke met dieselfde tyd van die vorige jaar en vorm Engelse en glanspublikasies deel van die maatskappy se publikasielys (ibid.). Welke soort boeke ’n uitgewer publiseer, loop hand aan hand met sy uitgeefilosofie, wat “beskou [kan] word as die basiese motivering van die uitgewery in die vervulling van sy funksie” (Venter 2006:101). Die klem val egter nie net op die soort publikasies nie, maar ook op die grootte van die drukoplaag. Venter (2006:371) klassifiseer Genugtig! hiervolgens as ’n nismark-uitgewer. In September 2008 verander die naam van die uitgewery na Joho! Uitgewers. Nagtegaal (2008) beskryf Joho! Uitgewers se uitgeefilosofie as volg:
Ons uitgeefilosofie is om aan diverse stemme ’n geleentheid te gee om in die publieke domein gehoor te word. Ons is ’n boetiek uitgewershuis (sic – RF) wat slegs 12 publikasies per jaar aanpak, en ons poog om die 12 publikasies so uiteenlopend as moontlik te maak. [...] Ons publikasies is gerig op Suid-Afrikaners wat weier drink (sic, wyer dink – RF) en ons poog om ons boeke so beskikbaar moontlik te maak.
Verder beskou Joho! die outeur as hul belangrikste kliënt (ibid.).
Die eerste publikasie van Hambidge wat Genugtig! hanteer, is die digbundel Dad, wat in 2006 verskyn. Palindroom word beskryf as ’n “post-post moderne” (sic) novelle en saam met Koesnaatjies vir die proe word dié “dubbelboek” die eerste van sy soort in die Afrikaanse uitgewersbedryf (Joho!, 2008). Die uitgewershuis bemark dit as “’n letterkundige manifestasie van prosa en gedigte” (ibid.). Hambidge het aanvanklik haar manuskripte aan Genugtig! voorgelê omdat dié uitgewery “gewaagde/dwars/aweregse tekste uitgee”, en omdat hulle bereid was om “dadelik die spel te speel” met Palindroom (Hambidge 2008c). Hierdie uitgewery is egter tot op hede nog ’n klein bydraer tot die publikasie van Afrikaanse fiksietitels, met net meer as twintig publikasies (Engelse en glanspublikasies ingesluit) op sy publikasielys.
Protea Boekhuis het volgens Venter (2006:363) “daarin geslaag om in ’n besondere kort tyd homself as algemene uitgewery te vestig en ’n aansienlike bydrae tot die Afrikaanse fiksieproduksie te maak (in die besonder tot Afrikaanse poësie)”. Hierdie uitgewery se uitgebreide publikasielys strek oor verskeie genres, ten spyte daarvan dat dit steeds ’n klein, onafhanklike uitgewery is. Nicol Stassen, eienaar en stigter van Protea Boekhuis, se uitgeefilosofie is veral gemoeid met die kulturele bydrae wat hul publikasies lewer. Stassen (in Venter 2006:364) noem dat hy Afrikaanse fiksie publiseer wat ’n bydrae tot die Afrikaanse letterkunde lewer. Die besluit of ’n boek gepubliseer gaan word, berus dus op die “meriete” van die teks, en die teks moet as ’t ware een wees “waarsonder die letterkunde armer sou gewees het” (ibid.).
Ná ’n kort hiaat word Hambidge se sestiende digbundel, Ruggespraak (2002), by Protea Boekhuis gepubliseer. Hambidge erken dat sy na hierdie uitgewer verskuif het omdat Nicol Stassen bereid was om haar te akkommodeer. Dit sluit aan by Venter
(2006:363–4), wat hierdie uitgewer as “’n toevlugsoord vir veral Afrikaanse digters” beskryf, aangesien ander Afrikaanse uitgewerye hulle poësieproduksie sedert 2001 drasties verminder het. Ruggespraak word opgevolg met Die buigsaamheid van verdriet (2004) en En skielik is dit aand (2005), wat ook by Protea Boekhuis verskyn. Vuurwiel, Hambidge se jongste bundel, het in Maart 2009 by Human & Rousseau verskyn.
2. Tersaaklike aspekte van die boek as produk
2.1 Die publikasieproses
Venter (2006:98–128) en Davies (2004:83–104) gee ’n omvattende beskrywing van die ideale boekproduksieketting. Vir die doeleindes van hierdie ondersoek sal slegs oorsigtelik hierna verwys word ten einde ’n raamwerk te skep waarin elke bydraer tot die finale produk se take gekontekstualiseer kan word. Die genereringsfase is die aanvangsfase van die publikasieproses. In hierdie fase word die manuskrip geskep en óf na die uitgewer gestuur, óf deur die uitgewer aangevra. Die uitgewer besluit dan – dikwels aan die hand van marknavorsing – of die boek gepubliseer moet word. Die ekonomiese lewensvatbaarheid van die boek word ondersoek, maar dit kan ook beïnvloed word deur die kulturele, literêre, ekonomiese, sosiale en politieke kontekste waarin die boek sal verskyn. Die uitgeefilosofie speel ook hier ’n rol. Die sosiale en ekonomiese doelwitte van die uitgewer word hierin vervat en bepaal onder andere op welke soorte publikasies of genres die uitgewer fokus, asook sy teikenmark. Die uitgeefilosofie van die uitgewery moet versoenbaar wees met sy ekonomiese doelstellings, aangesien dit die voortbestaan van die uitgewery bepaal (ibid.).
Nadat ’n manuskrip vir publikasie geïdentifiseer is, verskuif dit na die produksiefase. Volgens Venter (2006:106) sluit hierdie fase “al die aktiwiteite waardeur die voltooide manuskrip omvorm word tot ’n materiële produk (die gedrukte boek)” in. In dié fase is onder andere die volgende persone betrokke: die werwingsredakteur, taal- en tegniese redigeerder, produksiebestuurder, grafiese ontwerper, DTP3-spesialiste, reproduksiespesialiste, en operateurs van drukperse en bindmasjiene (ibid.). Dit is ook belangrik om te noem dat die rolle van die betrokke partye dikwels oorvleuel: die redakteur kan byvoorbeeld as taalversorger (redigeerder) en proefleser optree. Tydens hierdie fase word die manuskrip redaksioneel versorg (geredigeer), grafiese ontwerp word gedoen en bladproewe word vergelyk met die geredigeerde manuskrip om foute wat tydens die ontwerpstadium ingesluip het, reg te stel (Venter 2006:106–9). Hierna word die teks by die drukkers gereproduseer en afgerond, waarna die boek eindelik verskyn. Die derde en vierde fases in die produksieketting is gesamentlik die bemarking, verspreiding en aflewering van die finale produk.
Die publikasieproses kan as volg diagrammaties voorgestel word:

Figuur 1
2.2 Die rolle van die redakteur en taalversorger
Die redakteur en taalversorger lewer as rolspelers in bogenoemde proses enorme bydraes tot die waarde van die uiteindelike produk. Aangesien die rolle van die redakteur, taalversorger/redigeerder en proefleser dikwels verwar word, is dit nodig om hierdie funksies in die publikasieproses duidelik te omskryf. Kotze en Verhoef (2001:80) noem dat hierdie verwarring dui op ’n gebrek aan die omskrywing van die aktiwiteite wat met teksversorging gepaard gaan binne die konteks van die teksversorger se posisie in die teksproduksieproses.
2.2.1 Die redakteur
Daar bestaan ’n magdom posbeskrywings en -benamings vir die verskillende tipes redakteurs van groot uitgewershuise, onder andere die werwingsredakteur, ontwikkelingsredakteur, boekeredakteur, besturende redakteur, produksieredakteur, proefleser, skrywersredakteur en kopieredakteur (Kotze en Verhoef 2001:80). Volgens Butcher (2006:5) is vryskuttaalversorgers se enigste “publishing contact [...] the desk editor, managing editor or production editor who gives them the work”. Butcher (2006:31) noem voorts in hierdie verband dat die “commissioning editor may be responsible for the general content, organisation and style of the book; for picking up any errors of fact or potentially libellous passages; or for obtaining permission to reproduce quotations, illustrations, etc.”
Hoewel hierdie verskillende poste gevul word by groot internasionale uitgewershuise soos Routledge, Cambridge University Press en Penguin Books, vereis die klein Suid-Afrikaanse mark dat kleiner uitgewerye – veral dié wat in Afrikaanse boeke spesialiseer – dikwels slegs een persoon aanstel om ’n verskeidenheid van hierdie take te verrig. In die Suid-Afrikaanse boekbedryf kan die redakteur van ’n spesifieke boek byvoorbeeld optree as werwingsredakteur, taalversorger, proefleser én produksieredakteur. Met redakteur word dus bedoel die persoon wat toesien dat die produksieproses van ’n spesifieke boek van genereringsfase tot bemarkingsfase glad verloop, en taalversorging en die kontrolering van bladproewe kan moontlik self deur die redakteur hanteer word. In klein uitgewerye soos Protea Boekhuis en Joho! Uitgewers is die redakteur dus dikwels die projekbestuurder. Die redakteur moet in sulke gevalle onder andere:
- keurverslae vir die manuskrip inwin
- deurgaans met die skrywer skakel en die kontrak tussen uitgewer en outeur finaliseer
- ’n produksierekord vir die manuskrip opstel met beoogde datums vir die afhandeling van die verskillende stadia soos redigering, uitleg, omslagontwerp, bladproewe en die drukproses
- met vryskuttaalversorgers skakel en toesien dat die kwaliteit van die taalversorging na wense is, indien die redakteur nie self die taalversorging doen nie
- met omslagontwerpers skakel om ’n gepaste omslag te ontwerp
- met uitlegkunstenaars skakel en toesien dat die uitleg na wense is
- met die produksiebestuurder skakel om kwotasies vir die drukproses in te win
- bandtekste en ander promosiemateriaal skryf
- met proeflesers skakel en seker maak dat die werk na wense is indien hy dit nie self doen nie.
Kotze en Verhoef (2001:80) wys ook op die verskeidenheid funksies van hierdie rolspelers in die uitgewersbedryf:
Dit word egter uit die Suid-Afrikaanse taalpraktyk en konteks duidelik dat al dié fasette en vereistes gewoonlik in ’n enkele persoon setel wat verskillende rolle moet vertolk in die uitvoering van sy of haar taak. Trouens, empiriese navorsing toon dat uitgewers sowel as teksversorgers sélf nie seker is oor die posbenaming van dié persoon wat ’n manuskrip tot ’n volwaardige teks moet omskakel nie.
Redakteurs by klein uitgewershuise vervul dus verskeie redaksiefunksies en is nie somaar gelyk te stel aan taalversorgers nie, hoewel redakteurs dikwels ook die taalversorging en proeflees van manuskripte hanteer.
2.2.2 Die taalversorger/redigeerder
Volgens Du Plessis en Carstens (2000:61) is “die primêre taak van die taalversorger om ’n teks presieser, saakliker en betekenisvoller te maak as wat dit oorspronklik was”. Verder moet ’n “taalversorger [...] na die teks as geheel kyk en nie slegs die taalgebruik kontroleer en verbeter nie” (ibid., oorspronklike kursivering). Die taalversorger (of copy-editor in Engelse terminologie) moet dus verseker dat ’n teks ’n logiese samehang vertoon (kohesie), taal- en spelfoute korrigeer, deurgaanse konsekwentheid verseker (die gebruik van hakies, “straight quotes” teenoor “smart quotes”, ens.) en ook feite nagaan. Binne die konteks van die uitgewersbedryf noem Butcher (2006:1) dat
[t]he main aims of copy-editing are to remove any obstacles between the reader and what the author wants to convey and to find and solve any problems before the book goes to the typesetter, so that production can go ahead without interruption or unnecessary expense.
Op grond hiervan onderskei Butcher (2006:1–2) drie vlakke van redigering. Omvattende redigering poog om die teks as geheel te verbeter, en tydens hierdie fase van redigering word onder meer aandag geskenk aan die omvang, lengte, organisasie, struktuur, regs- en etiese aspekte. Voorstelle vir wysigings word gemaak met die uiteindelike doel om die teks as geheel te verbeter. Gedetailleerde redigering het te make met die afsonderlike teksgedeeltes en die logiese samehang daarvan. Tydens hierdie fase van redigering word gefokus op betekenis, woordkeuses, grammatika en koherensie tussen verskillende teksgedeeltes en tussen teks en grafika. Redigering vir konsekwentheid, die derde fase van redigering, verseker dat tekselemente soos aanhalingstekens, bibliografiese gegewens, verwysings en wisselvorme eenvormig in die teks gebruik word en met die uitgewershuis se huisstyl ooreenstem.
Hierdie vlakke van redigering is veral op niebellettristiese tekste van toepassing. Volgens Venter (2006:107) bied die redigering van kreatiewe tekste besondere uitdagings, omdat hierdie tipe redigering
die fyn balans [moet] handhaaf tussen die korrigering van taalfoute en die verdringing van die outeur se kreatiewe skryfstyl. Die redigering van kreatiewe skryfwerk is ’n kuns wat slegs met tyd en ondervinding aangeleer word. [...] Dit bly egter steeds die taalredigeerder se plig om die kreatiewe skrywer verleentheid te spaar deur te wys op swak taalgebruik.
Hieruit blyk duidelik dat die taalversorger of redigeerder se pligte verskil van dié van die redakteur: die taalversorger se primêre fokus is die teks as kommunikasiemiddel en die totale omvang en betekenis van die teks, terwyl die redakteur gemoeid is met die teks as produk en dus die finale vorm daarvan as boek. Hoewel die rolle van taalversorger en redakteur dus dikwels oorvleuel, is dit belangrik om die onderskeid tussen hierdie funksies te handhaaf.
’n Ander terminologiese kwessie in die Afrikaanse taalpraktyk is die onderskeid tussen redigering en taalversorging. Dikwels word daar met eersgenoemde term ’n tipe “herskrywing” bedoel, wat – soos die bogenoemde vlakke van redigering uitwys – nie die geval is nie. Daar kan hoogstens aangevoer word dat die outeur verskillende weergawes van ’n teks skep en dit dus herskryf, en dat slegs die laaste weergawe van ’n teks dan aan die uitgewer verskaf word. Die outeur “redigeer” dus tydens hierdie proses van herskrywing self sy/haar teks; die redigeerder herskryf nie die teks nie, maar optimaliseer dit slegs. Redigering en taalversorging is dus sinonieme (sien ook Kotze en Verhoef 2001). Die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut noem dat ook die begrippe proeflees en redigeer dikwels verwar word (SAVI 2007). Dit is dus nodig om die funksies van die proefleser duidelik te omskryf.
2.2.3 Die proefleser
In terme van die boekbedryf verwys redigering, soos bo beskryf, na taalversorging tydens die manuskripfase. Proeflees, daarenteen, is “’n meganiese taak waartydens die geredigeerde manuskrip met die bladproewe vergelyk word en foute wat per ongeluk of tydens die ontwerpstadium ingesluip het, opgespoor word” (Venter 2006:109). Die teks word dus gekontroleer wanneer die uitleg voltooi is. Die fokus val tydens hierdie fase op uitlegkwessies soos die afkap van woorde, die aanwesigheid van hoerjongens4 en die kontrolering van die uitvoering van opdragte aangaande die uitleg van verskillende teksgedeeltes. Aangesien dit ’n afsonderlike taak tydens ’n spesifieke fase in die produksieproses is, kan die proefleser die redakteur of taalversorger wees, of ’n ander instansie wat betrokke raak met die doel om waarde toe te voeg (sien ook Butcher 2006:3).
2.3 Paratekstuele elemente
Die woord parateks verwys volgens Genette (1997:1) na die elemente wat dit moontlik maak vir ’n teks om ’n boek te word en om aan die leserspubliek vrygestel te word. Paratekste het dus te make met die aanbieding van ’n boek:
And although we do not always know whether these productions are to be regarded as belonging to the text, in any case they surround it and extend it, precisely in order to present it, in the usual sense of this verb but also in the strongest sense: to make present, to ensure the text’s presence in the world, its “reception” and consumption in the form (nowadays, at least) of a book. (Genette 1997:1, oorspronklike kursivering)
Die paratekstuele elemente wat ’n teks omring, is daarom nie ’n primêre deel van die teks nie, maar kan eerder beskou word as ’n uitbreiding daarvan. Genette vergelyk die paratekstuele elemente met ’n vestibule “that offers the world at large the possibility of either stepping inside or turning back” (1997:2). Hierdie elemente staan dus parallel met die teks en kommunikeer sekere inligting met potensiële lesers selfs voordat hulle met die fisiese teks in aanraking kom. Volgens Cochrane (2007:41) kan paratekstuele gegewens “lei tot ’n verruiming van die leser se verwagtingshorison” en hou hierdie verruiming “belangrike implikasies vir die interpretasie van ’n literêre teks in”. Daar word ’n onderskeid getref tussen die periteks, wat met die lokaliteit van die teks in verband staan en steeds deel daarvan vorm, en die epiteks, wat alle inligting buite die teks insluit, byvoorbeeld resensies, onderhoude met die outeur, ens. (Genette 1997:5; Cochrane 2007:40–41). Dit is belangrik om te noem dat die periteks nóú verband hou met die skepping van die produk, terwyl die epiteks ’n respons op die produk verteenwoordig.
2.3.1 Die periteks
Die omslag van ’n boek is die eerste gegewe van ’n boek waarmee die leser in aanraking kom. Die omslag en titelblad, asook die materiële aspekte van die formaat (uitleg, soort papier, ens.), word deur Genette (1997:16) onder die “publisher’s peritext” geplaas. Die omslag, as primêre beeld van die boek, is waarskynlik die mees prominente peritekstuele gegewe en kan in vier verdeel word: die voorplat, die keersy daarvan, die agterplat, en die keersy daarvan. Genette (1997:24) meld dat die volgende inligting op die voorplat van ’n boek kan verskyn:
naam van die outeur
- titel van die boek
- aanduiding van die genre
- toewyding/opdrag
- epigraaf
- naam en embleem van die uitgewery
- RRP5 (voorgestelde verkoopsprys).
Dit is belangrik om te noem dat dit uiters skaars is dat die genre, opdrag en epigraaf op die voorplat van ’n boek verskyn.
Die keersye van die voor- en agterplat word gewoonlik blanko gelaat (Genette 1997:25).
Op die agterplat verskyn sommige van die volgende (Genette 1997:26):
- titel van die boek
- naam van die outeur
- bandteks (die blurb)
- biografiese en/of bibliografiese inligting oor die outeur
- aanhalings uit keurverslae
- aanhalings uit die media (lof vir vorige boeke deur dieselfde outeur, of lof vir dié spesifieke boek in die geval van ’n heruitgawe)
- melding van ander titels deur dieselfde outeur by dieselfde uitgewery
- aanduiding van die genre
- naam van die omslagontwerper6
- voorgestelde verkoopprys;
- Internasionale Standaard Boeknommer (ISBN)
- die strepieskode.
Die rugkant vertoon gewoonlik die titel van die boek, die naam van die outeur en die embleem en/of naam van die uitgewery.
Die invouflappe van party boeke kan ook sekere van die bogenoemde funksies van die voor- en agterplat oorneem, onder andere die bandteks (wat hoofsaaklik ’n oorredende funksie het), biografiese/bibliografiese inligting oor die outeur, melding van ander titels deur dieselfde outeur, en aanhalings uit die media. In die geval van hardebandboeke word ’n stofomslag dikwels voorsien. Die stofomslag kan die funksies van die omslag oorneem (indien die omslag blanko gelaat word), of dit kan die inligting op die omslag herhaal of uitbrei.
2.3.2 Die epiteks
Die vernaamste kriterium wat die epiteks van die periteks onderskei, is die ruimtelike skeiding wat daartussen bestaan (Genette 1997:344). Die epiteks is enige paratekstuele element wat nie materieel deel vorm van die teks nie en buite die boek bestaan (ibid.). Die uitgewery skep ’n gedeelte van die epiteks rondom ’n boek deur middel van ’n reklameveldtog en die media lewer ’n verdere bydrae tot die ontstaan van die epiteks en sluit die volgende in: resensies en onderhoude in koerante en tydskrifte, radio- en televisie-onderhoude, lesings, akademiese artikels, referate en colloquiums. Die epiteks speel dus ook ’n beduidende rol in die insluiting van die teks in die kanon.
2.4 Die teks
Op ’n basiese vlak is die uiteindelike doel van ’n teks (watter funksie dit ook al mag aanneem, hetsy esteties, informatief, oorredend of instruktief) om met die leser te kommunikeer. Tekortkominge in die taalgebruik kan die oordrag van die boodskap van sender (outeur) na ontvanger (leser) verhinder. Carstens (1997:104) sit dit as volg uiteen:
Kommunikasie met behulp van taaltekste is nie noodwendig ’n gewaarborgde aktiwiteit nie. Dit is naamlik nodig dat die verwagtinge ten opsigte van ’n teks as ’n sinvolle kommunikasiemiddel nagekom moet word en dat die beginsels van tekstuele kommunikasie in hierdie proses gehoorsaam moet word.
Indien die taalversorging van ’n teks tydens die produksieproses afgeskeep is, sal dit ’n negatiewe effek op die leser se ervaring van die teks hê. Opmerklike foute sal die leser se aandag van die teks aflei en sodoende kommunikasie negatief beïnvloed, en sommige foute mag selfs die bedoelde betekenis van die teks wysig. Daar is verskeie verskynsels in die taalgebruik van ’n teks wat suksesvolle kommunikasie kan verhinder. Eerstens moet daar onderskei word tussen afwykings en foute:
’n “[A]fwyking” is ’n verskynsel wat van die gewone norm of gebruik verskil, met ander woorde nie heeltemal ooreenstem met die algemeen aanvaarde norm nie of in stryd is daarmee. Daarteenoor is ’n “fout” weer ’n onjuistheid, iets wat verkeerd is, dit wil sê ’n verskynsel wat in so ’n mate van die normale sisteem afwyk dat dit as verkeerd, onjuis of as ’n oortreding beskou kan word. Ons het hier met ’n graadverskil te doen: ’n “afwyking” verskil wel van die gewone norm, maar dit sal heel dikwels toelaatbaar wees as ’n vorm van taalgebruik. In teenstelling hiermee is ’n “fout” iets wat heeltemal indruis teen die norm en daarom nie as ’n toelaatbare vorm van taalgebruik beskou kan word nie. (Carstens 2003:9, oorspronklike kursivering)
Volgens Carstens (2003:16) is logiese samehang (koherensie) die belangrikste aspek van versorgde taalgebruik. Dit behels dat daar maklik van die een paragraaf na die volgende “oorgegaan kan word” en dat daar “nie onnodige steurings in die kommunikasieoordrag voorkom as gevolg van taalslordighede nie” (ibid.). Tweedens moet daar dus gekyk word na kwessies soos meerduidige en pleonastiese taalgebruik, asook blote versorgingsfoute, byvoorbeeld inkonsekwenthede en spelfoute, wat die kommunikasieproses negatief beïnvloed. Hoewel hierdie aspekte van versorgde taalgebruik nie noodwendig vir alle bellettristiese tekste geld nie, behoort afwykings en/of foute nie voor te kom in gevalle waar dit nie spesifiek as skryftegniek aangewend word nie. In sulke gevalle is ’n sensitiewe redakteur onontbeerlik.
Aangesien beide Palindroom en Kladboek bellettristiese tekste is, word daar nie verwag dat die tekste sal ooreenstem met formele Standaardafrikaans (FSA) nie. Taalgebruik moet egter steeds vir die leser verstaanbaar wees en moet daarom een of ander vorm van die standaard vertoon (Carstens 2003:288).
3. ’n Analise van die produkte van Genugtig! Uitgewers en Protea Boekhuis as gevallestudies
3.2 Die publikasieprosesse
3.1.1 Palindroom/Koesnaatjies vir die proe
Hambidge het Palindroom/Koesnaatjies vir die proe vir publikasie aan Genugtig! Uitgewers voorgelê (Hambidge 2008a). In die eerste fase van die publikasieproses is die manuskrip onderskeidelik deur twee keurders van die uitgewery en in twee onafhanklike keurverslae vir publikasie aanbeveel (Nagtegaal 2008). Die finansiële lewensvatbaarheid van literêre fiksie was nie vir die uitgewer ’n kwessie nie en die manuskrip is dus vir publikasie aanvaar. Jackie Nagtegaal, redakteur van Palindroom, stel dit as volg:
Joan het ’n defnintiewe (sic) “fanbase” wat getrou haar werk koop. Ernstige fiksie soos die (sic) [Palindroom – RF] verkoop nie duisende nie, maar die raktyd van so ’n teks is gewoonlik langer as [dié van – RF] ander boeke. Dit verkoop stadiger, maar langer.
Op die kolofonblad van Palindroom word Madri Victor as “redigeerder” aangedui en Maatje Gunter as “taalversorger”. Hier funksioneer redigeerder en taalversorger dus nie as sinonieme nie en hierdie onderskeid kan moontlik tot verwarring lei. Volgens Genugtig! is daar van Victor verwag om die “manuskrip se vloei, taal en leesbaarheid te verbeter” en het sy ook gedien as “’n klankbord” en “objektiewe oog” (Nagtegaal 2008). Van Gunter is daar weer verwag om “slegs na die finale uitleg te kyk en dit te proefless (sic), maw (sic), te verseker dat daar nie spelfoute, gramatikale (sic) foute ens (sic) is nie” (ibid.). Victor was, sover afgelei kan word, dus verantwoordelik vir omvattende redigering, terwyl Gunter hoofsaaklik gedetailleerde redigering ten doel gehad het. Dit wil egter voorkom asof veral die redakteur nie werklik bewus is van die verskillende aktiwiteite van proeflees en taalversorging nie. Die ideaal is dat alle redigering in die redigeerstadium afgehandel word, en dat slegs enkele foute wat dalk oorgeslaan is, nog in die bladproefstadium reggestel word.
Ná die manuskrip van Palindroom geredigeer is, is dit na die uitlegkunstenaar gestuur. Die uitleg is inhuis gedoen. Volgens Venter (2006:109) se ideale model word ’n eerste stel bladproewe gelewer ná die uitleg voltooi is. Die stelle bladproewe word gewoonlik tot ’n minimum van drie beperk weens finansiële implikasies (ibid.). In hierdie verband noem Nagtegaal (2008) dat daar slegs twee stelle bladproewe was, juis weens hierdie implikasies: “Uitgewers probeer dit [die aantal stelle bladproewe – RF] te (sic) beperk. Maar die finansiele (sic) inplikasies (sic) van ’n herdruk is veel erger.” Volgens Victor (2008) het sy nie die bladproewe gekontroleer nie en ander rolspelers by Genugtig! het die tweede stel (finale) bladproewe nagegaan (Nagtegaal 2008). Nagtegaal (ibid.) beklemtoon ook dat “[d]ie onus altyd op die uitgewer lê om die boek foutloos in die mark in te stuur”. Dit wil dus voorkom asof hierdie redakteur onbewus is van die tekortkominge van Palindroom.
Die omslag van die boek is in oorleg met Hambidge ontwerp (Nagtegaal 2008) en is ook inhuis gedoen.
Nadat die drukkers die boeke gelewer het, is dit deur verspreiders na boekhandelaars gestuur. Hoewel hierdie boek dus die ideale publikasieproses van Venter (2006) volg, is die produk in sekere opsigte van ’n onbevredigende gehalte.
3.1.2 Kladboek
Soos met Palindroom/Koesnaatjies vir die proe is ook Kladboek nie deur die uitgewer aangevra nie, maar deur die outeur vir publikasie voorgelê (Hambidge 2008a). Die manuskrip is onvoorwaardelik deur ’n onafhanklike keurder vir publikasie voorgeskryf (Bosman 2008) en gevolglik aanvaar, maar die publikasie daarvan is volgens Hambidge vertraag weens “’n lang lys [...] ander boeke” wat eers gepubliseer moes word (2008a). Volgens Martjie Bosman, redakteur van Kladboek, het sy die projek van die begin hanteer. Haar pligte het die volgende behels (Bosman 2008):
- Die versorging van die manuskrip totdat dit gereed was vir uitleg.
- Die kontrolering van die proewe ná uitleg.
- Die soek van ’n geskikte foto of kunswerk of idee vir die omslag en skakeling met die ontwerper in verband met die omslag.
- Die skryf van die bandteks.
- Die skryf van ’n inligtingstuk vir boekhandelaars.
- Die aanvra van ’n drukkwotasie en skakeling met die drukker.
- Die finale kontrolering van blou proewe.7
Wat die taalversorging betref, beskryf Bosman haar werkswyse as volg (ibid.):
[D]ie eerste stap [is] die formatering van die manuskrip op die rekenaar. In die geval van Kladboek het ek eers deur die harde kopie geblaai om my te vergewis van die verskillende dele waaruit die teks bestaan – die skrywer het dit met kursiewe en vetdruk en inkepings aangedui – sodat ek nie die outeur se aanduidings met ’n oorhoofse formatering sou uitwis nie. Ná die basiese formatering maak ek gewoonlik al die afkappingstekens van die ’n’s reg, en daarna verander ek die aanhalingstekens na “smart quotes” indien nodig. Dis klein goedjies wat ’n mens vreeslik kan irriteer as jy op die taal wil konsentreer. Daarna verander ek die taalkeuse na Afrikaans en stel die speltoetser om foute te merk en lees dan gewoon deur die teks soos wat ’n gewone leser sou lees, maak spelfoute reg, kontroleer die sinsbou, voeg leestekens in (soos vraagtekens, wat skrywers partykeer vergeet), kyk of aanhalingstekens en hakies sluit, kontroleer feite wat verdag lyk [...] Soms herskryf ek sinne wat verkeerd of lomp voorkom en maak voorstelle in verband met die skuif/skrap/invoeg van sinne of paragrawe t.w.v. duidelikheid of logika.
Bosman se taalversorgingstake sluit dus aan by dié wat Du Plessis en Carstens (2000:61) identifiseer. Sy verduidelik haar benaderingswyse tot naslaanbronne as volg:
Die AWS is ons redigeerbybel by Protea. [...] Eers as jy seker is dat die AWS nie uitsluitsel oor ’n sekere kwessie gee nie, kan jy in ander bronne begin soek. Vir reëls i.v.m. sintaksis, skryfwyses, voorsetsels, leestekens en so meer raadpleeg ek Norme vir Afrikaans van W.A.M. Carstens. Skryf Afrikaans van Dalene Müller het nuttige woordelyste, maar die boek [...] is nié ’n normerende publikasie nie [...] Daar is ook verskeie publikasies oor korrekte Afrikaans op my rak [...] waarna ek van tyd tot tyd kyk, veral rakende anglisismes en die korrekte woord vir ’n bepaalde konteks. Ek maak ook gebruik van woordeboeke, veral die elektroniese weergawes, maar woordeboeke teken alles op en lê nie reëls neer nie. Hulle moet maar versigtig hanteer word.
Die uitleg van Kladboek is deur Ada Radford, ’n vryskut-uitlegkunstenaar, behartig. Drie stelle bladproewe van Kladboek is gelewer, en is deur Bosman gekontroleer (ibid.). Daar is hoofsaaklik setveranderinge aan die eerste en tweede stel aangebring, terwyl slegs enkele bladsye van die derde stel verander is (ibid.). Die omslagontwerp is in oorleg met die redakteur deur die inhuisontwerper, Hanli Deysel, gedoen. Hierna is die finale teks in elektroniese formaat na die drukker gestuur. Blou proewe is gedruk en na die uitgewer gestuur. Nadat die redakteur die proewe afgeteken het, is die drukwerk voltooi. Die drukoplaag is daarna deur verspreiders na boekhandelaars gestuur.
3.2 Paratekstuele gegewens
3.2.1 Palindroom
Die omslag van ’n boek het verskeie funksies: eerstens beskerm dit die boek, tweedens lok dit potensiële kopers, en derdens kommunikeer dit met voornemende kopers en lesers. Die titel Palindroom dui dadelik op die dubbele aard van die boek (Du Plooy 2008). Die ongewone formaat van hierdie boek, waarin ’n novelle en ’n digbundel saam gebind is, laat streng gesproke nie toe vir ’n tradisionele voor- en agterplat nie. Die Koningin van Harte, wat die enigste illustrasie op die swart voorplat van sowel die novelle as die digbundel is, vestig volgens Nagtegaal (2008) en Hambidge (in Victor en Hambidge 2008) die leser se aandag daarop dat die tarot ’n belangrike rol in die narratief vervul. Hierdie intertekstuele verwysing is egter net geslaagd indien die leser daarvan bewus is dat speelkaarte ooreenstem met die Minor Arcana van die tarot, en die omslag skep dalk ’n heel ander verwagting by die leser as wat die outeur en omslagontwerper bedoel het. ’n Koesnaatjie is ’n klein, eetbare, ronde, vleisagtige vrug met ’n grondkleur. Die titel Koesnaatjies vir die proe is ’n leidraad tot die “speelsheid” en “spulsheid” van die verse (Victor 2008). Op die voorplat van die novelle en digbundel verskyn ’n beskrywing van die boek:
Met hierdie teks word die Januskop van Joan Hambidge gedemonstreer: enersyds parodies soos in die bundel Koesnaatjies vir die proe en andersyds ernstig in ’n roman soos Palindroom. (Oorspronklike kursivering)
Hierdie beskrywing, wat by gebrek aan ’n beter term as ’n soort “bandteks” beskou kan word, is egter te lank om op die voorplat van ’n boek te verskyn, maar te kort om as oorredende bandteks te funksioneer. Die begrip wat hierdie “bandteks” postuleer, is ook nie oorredend nie. Davies (2004:91) bied ’n aantal riglyne vir die skryf van bandtekste, waaronder die volgende:
- Moet nooit ’n bandteks inlei met die woorde hierdie boek nie.
- Begin en eindig die bandteks met sterk stellings.
- Maak seker dat die teks betekenis dra en grammatikaal korrek is.
- Hou die beskrywing kort en fokus eerder op die sterk punte van die boek.
- “Verkoop” die boek deur die bandteks.
Davies se heel logiese riglyne is duidelik afwesig in bogenoemde teks. In die eerste instansie word die teks ingelei met die frase Met hierdie teks, met die gevolg dat die sin lomp voorkom – dit is immers duidelik dat Hambidge se “Januskop” nie in ’n ander boek op die rak gedemonstreer word nie. Dit sou veel meer gepas gewees het om te begin met “Die Januskop van Joan Hambidge word hier gedemonstreer ...” Deur die woordorde so te wysig sou die aanvangsreël baie sterker voorgekom het, aangesien die fokus dan op die bemarkbare “Januskop” van Hambidge val – aangesien Hambidge ’n bekende Afrikaanse digter is en as sodanig meer bemarkbaar is as byvoorbeeld ’n onbekende digter – en nie op die oorbodige frase hierdie teks nie. Boonop word Palindroom as ’n roman beskryf (ook deur verskeie resensente), hoewel die teks streng gesproke eerder ’n novelle is (vir ’n onderskeid tussen hierdie begrippe, sien Heirbrant 1995:22). Ander kritiek wat teen hierdie teks gebring kan word, is dat die beskrywing te kort is om enige van die ander sterk punte van die boek te bemark, terwyl die gebruik van die woord soos die unieke waarde van hierdie teks ondermyn – dan kan die leser mos net sowel ander (dalk goedkoper) “ernstige” en parodiese tekste van Hambidge aanskaf.
Die ISBN en strepieskode verskyn op die voorplat van die digbundel, maar daar word geen melding gemaak van ander titels deur dieselfde outeur by hierdie uitgewer nie. Hambidge se uitgebreide oeuvre sou ’n belangrike trekpleister kon wees, beide vir nuwe aanhangers van Hambidge se werk en vir lesers wat reeds bekend is met haar poësie en die nimlike Sonja Verbeek. Daar verskyn voorts geen aanhalings uit keurverslae nie – dit ten spyte van die feit dat daar vier keurverslae bestaan (Nagtegaal 2008) en dat uitgewers meestal vir keurverslae betaal. Hierdie paratekstuele elemente sou moontlik as verdere trekpleister vir potensiële lesers kon funksioneer. Die mees praktiese manier om wel hierdie inligting in te sluit in ’n ongewone publikasieformaat soos dié van Palindroom/Koesnaatjies vir die proe, sou die gebruik van invouflappe wees. Op hierdie flappe sou daar genoeg spasie wees vir aanbevelings uit keurverslae, aanhalings uit die media, asook ’n kort biografiese en bibliografiese gedeelte oor die outeur.
Daar bestaan wel ’n bemarkingsteks wat op die invouflappe gebruik sou kon word. Hierdie teks verskyn op Joho! se webblad (Joho! 2008) met ’n skakel na die aanlynboekwinkel kalahari.net. Ten spyte van die groot aantal foute daarin, sou dit met behoorlike redigering as ’n goeie bandteks kon funksioneer. Daar is onder andere beskrywings van die ongewone aard van die publikasie, Joan Hambidge se kenmerkende dualiteit, en ’n voorsmakie van die teks. Voorts word Hambidge se akademiese agtergrond en die pryse wat sy vir haar kreatiewe werk verower het, vermeld, asook haar huidige openbare posisies. Dit is onduidelik waarom hierdie teks as promosiemateriaal op die internet gebruik word, maar van potensiële kopers in boekwinkels weerhou word bloot omdat die gekose omslagformaat dit nie toelaat nie. Genugtig! Uitgewers verloor hierdeur moontlik ’n belangrike promosiegeleentheid.
Daar moet ook kortliks melding gemaak word van die gehalte van die illustrasies (sien Figure 2, 3, 4 en 5). Welke omslag die beste is, hang af van persoonlike smaak.
|
Figuur 2 |
Figuur 3 |
|
Figuur 4 |
Figuur 5 |
Ook die enigste illustrasie in die teks is nie bo verdenking nie. Op bladsy 44 is ’n collage afgedruk. In die teks word die bron (http://www.themodernword.com/borges/) op postmoderne wyse vermeld, net soos ander feitelike gegewens wat Hambidge deurgaans van bronne voorsien. In hierdie geval is die collage en sy onderskrif egter net so gekopieer. Die bron word egter nie op die kolofonblad van Palindroom erken nie. Dit lyk dus asof die uitgewer nie die moeite gedoen het om uit te vind of kopieregklaring vir die gebruik van die collage vereis word nie, al het die outeur moeite gedoen om die bron in die teks te erken. Reproduksie van grafiese materiaal sonder die nodige toestemming of erkenning deur die uitgewer (al erken die skrywer die bron in haar teks) kan moontlik op kopieregskending deur die uitgewer neerkom.Een belangrike punt wat wel bespreek moet word, is die illustrasie op die voorblad van Palindroom/Koesnaatjies vir die proe. Die illustrasie van die Koningin van Harte is baie dof en boonop gedeeltelik uit fokus. Die resolusie van die illustrasie wat gebruik is, is waarskynlik baie laag, met die gevolg dat die kolletjies per duim (dpi) vergroot moes word en dus as onderskeibare blokkies vertoon (in Engelse terminologie pixellation genoem).
Die uitlegkunstenaar se werk was ook nie bevredigend nie. Verskillende fonte word gebruik vir die plotgedeeltes aan die een kant, en die tekste soos e-posse, gedigte, kortverhale, ens. wat in die narratief gebruik word aan die ander kant. Eersgenoemde gedeeltes maak gebruik van inkeepparagrawe, terwyl die tekste in die teks deur blokparagrawe weergegee word. Die leser word egter verwar omdat sekere blokparagrawe afgewissel word met inkeepparagrawe wat telkens nie ingekeep word nie. Op bladsye 12 en 13, byvoorbeeld, verskyn ’n fragment van ’n verhaal wat die karakter Mentee vir die Mentor gestuur het. Dit word weergegee in blokparagrawe, maar wanneer dialoog gebruik word, is daar nie ’n spasie voor ’n nuwe spreker se dialoog nie en is dit ook nie ingekeep nie. Dieselfde probleem word aangetref op bladsye 19 en 20, in die dagboekinskrywing op bladsy 29, en op bladsye 41, 42, 87, 124, 131, 135 en 151. In die gewone plotgedeeltes verskyn soortgelyke foute, soos op bladsye 160 en 161.
3.2.2 Kladboek
Die titel van Kladboek speel in op die plot van die roman. De Vries (2008) wys daarop dat die boek ’n samestelling is van “halfklaar novelles, e-posse, gedigte, resensies, akademiese artikels en reisbeskrywings”. Op die agterplat van Kladboek vind die leser ook die naam van die uitgewer, die genre van die boek, melding van ander titels deur Hambidge by hierdie uitgewer en die ISBN. Die geronde hoekies van die boek en donkerder rugkant (wat lyk of dit op die boek geplak is om dit te bind) herinner die leser ook waarskynlik aan die bekende Moleskine-notaboeke. Geronde hoekies is lank reeds in gebruik in Europa, maar tot onlangs was die drukkoste van hierdie formaat baie hoog in Suid-Afrika. Hierdie formaat het ’n paratekstuele funksie wat by die titel en inhoud van die boek aansluit.
3.3 Taalversorging as fase in die onderskeie publikasieprosesse
3.3.1 Palindroom
Grebe (2006:94–5) noem dat “[e]en van die vernaamste probleme waaraan vele van die onlangs verskene tekste in Afrikaans mank gaan, is juis die skynbare onbelangrikheid waarmee die funksie van die redakteur in die jongste tyd bejeën word.” Aansluitend hierby is die onderskatting van die belangrikheid van redakteurs/redigeerders/ taalversorgers met ervaring. Du Plessis en Carstens (2000:60) noem dat werkgewers “geneig is om te dink dat enige persoon wat ’n taalkursus voltooi het, ‘taalversorging’ kan doen”. Dit blyk definitief met Palindroom die geval te wees.
Volgens Nagtegaal (2008) maak Genugtig! slegs gebruik van vryskuttaalversorgers, want “dit hou dinge vir ons vars”. Myns insiens blyk dit egter dat sommige van hierdie taalversorgers nie genoeg ondervinding in die redigering van bellettristiese tekste het nie en nie gesaghebbende bronne raadpleeg tydens die redigeerproses nie. Maatje Gunter was verantwoordelik vir die kontrolering van taalgebruik en die styl van die teks (Nagtegaal 2008). Volgens Du Plessis en Carstens (2000:65) is hierdie tipe redigering op grammatikale en leksikale vlak, terwyl aandag ook geskenk word aan taalregister en sinskonstruksie. Madri Victor, die “redigeerder”, was volgens Nagtegaal (2008) gemoeid met die struktuur en organisering van die teks, oftewel algehele kohesie. Volgens Victor het sy slegs “struktureel na die manuskrip gekyk, en voorstelle gemaak vir verandering wat perspektief en ander strukturele aspekte betref” en sy “het slegs redigering gedoen en het nie weer die taalversorging gekontroleer nie” (Victor 2008). In hierdie verband noem sy dat daar by nabetragting sekere problematiese aspekte in die teks is:
Ek het byvoorbeeld eers in my eksemplaar van die boek gemerk dat die ’n se strepie in die digbundel verkeerdom lê. Dit is iets waarteen ek telkens vaskyk en sou dit wou vermy, maar moet vir lief neem daarmee aangesien ek nie weer die manuskrip gesien het nie.
In hierdie opsig sou dit dalk vir Genugtig! Uitgewers voordelig gewees het om Victor die bladproewe te laat nagaan, aangesien sy ’n ervare redakteur is en moontlik ’n hele paar problematiese aspekte sou kon uitgewys het. Verder noem Victor egter dat sy met Hambidge ooreengekom het “om insette te lewer betreffende struktuur en ander tegniese aspekte [en] feite te kontroleer” en sy moes dus omvattende redigering doen (ibid.). Sy beskryf haar algemene werkswyse met betrekking tot redigering as volg:
Ek lees gewoonlik eers ’n manuskrip een of twee maal deur om ’n geheelindruk te kry. Dan sal ek strukturele veranderinge voorstel, indien nodig, of aandui watter dele problematies is. Hierna werk ek die manuskrip van voor af deur en gaan intertekstuele verwysings na soos dit voorkom, maak seker dat paragraaf- en sinskonstruksies, punktuasie en spelling reg is.
Die naslaanbronne waarvan sy gebruik maak, is “[d]ie HAT, Afrikaanse woordelys en spelreëls, Skryf Afrikaans, Pharos tweetalige woordeboek, Pharos Verklarende Afrikaansewoordeboek, Pharos se tweetalige frasewoordeboek [en] Groot Tesourus van Afrikaans”, terwyl sy intertekstuele verwysings met behulp van die internet nagaan. Belangrik is egter dat Victor slegs struktureel na die manuskrip gekyk het (dus omvattende redigering gedoen het) en dus voorstelle gemaak het oor die vertelperspektief en intertekstuele verwysings nagegaan het (Victor 2008). Nadat haar redigering afgehandel is, is die gewysigde manuskrip vir taalversorging na Gunter gestuur, en Victor het nie weer die geleentheid gehad om die manuskrip te kontroleer nie. Die swak taalversorging van die teks kan dus nie voor Victor se deur gelê word nie, aangesien sy nie vir die taalversorging verantwoordelik was nie.
’n Noukeurige ondersoek na die taalgebruik in Palindroom dui daarop dat hierdie teks ver tekortskiet wat taalversorging betref. Vir die doel van hierdie ondersoek sal slegs enkele van hierdie foute uitgelig word.
3.3.1.1 Sintaktiese foute
Volgens Du Plessis en Carstens (2000:69) word daar
op hierdie vlak [...] aandag geskenk aan die struktuur en funksies van die sintaktiese elemente. Dit gaan met ander woorde hier vir die taalversorger veral oor die woordvolgorde in sinne: Afrikaans as SVO-taal, die woordorde na die gebruik van ’n voegwoord, die volgorde van die bywoordelike bepalings (tyd, wyse, plek) en die dubbele ontkenning in Afrikaans. (Oorspronklike kursivering)
Hier onder volg ’n aantal sulke foutiewe sinne met ’n verduideliking van die probleem:
- p. 7: “Sy druk die e-posse uit, hou dit in haar tas en probeer saans dit dekodeer en verstaan wat aan die gebeur is.”
- Die woordvolgorde steur omdat die bywoordelike bepaling van tyd (“saans”) voor die objek (“dit”) geplaas word.
- Eerder: “... hou dit in haar tas en probeer dit saans dekodeer ...”
- p. 9: “ Mentee vertel van ’n droom waarin sy diep afduik in donker water wat later ’n klein swembad word en uiteindelik ’n bad waarin sy sit met ’n vreemde man.”
- Die posisie van die werkwoord “sit” en die afwesigheid van die bywoord “saam” maak die sin lomp en lei tot meerduidige betekenis. Dit laat dit klink asof sy met ’n vreemde man opgeskeep sit – en dit boonop in ’n bad.
- Eerder: “... ’n bad waarin sy saam met ’n vreemde man sit.”
- p. 9: “Sy drink rooiwyn wat proe soos bloed.”
- Die woordvolgorde volg nie die normale SVO-sinsvolgorde van hoofsinne in Afrikaans nie. Hierdie afwyking kan moontlik toegeskryf word aan die invloed van Engels (Carstens 2003:51). (Vergelyk “She drinks red wine that tastes like blood.”)
- Eerder: “Sy drink rooiwyn wat soos bloed proe” of “Sy drink rooiwyn wat na bloed smaak.”
- p. 22: “Sy stap deur Parys se strate na ’n kunsuitstalling in ’n mistige nag.”
- Soos dit tans is, stap die subjek (sy) deur die strate van die stad na ’n kunsuitstalling wat in die mistige nag gehou word.
- Eerder: “Sy stap in ’n mistige nag deur Parys se strate na ’n kunsuitstalling.”
- p. 24: “Tog, in die fliek is daar later ’n houtvinger waarmee sy tokkel op die klavier.”
- Die posisie van die werkwoord “tokkel” maak die sin lomp.
- Eerder: “… ’n houtvinger waarmee sy op die klavier tokkel.”
- p. 27: “Sy versend die verhaal ‘Die hart het versugtinge wat die rede net soms, net soms verstaan’ na Mentee se BlackBerry, die onmiddellike toegang wanneer sy kommentaar of reaksie behoef van haar.”
- Die posisie van die werkwoord “behoef” maak die sin lomp.
- Eerder: “... wanneer sy kommentaar of reaksie van haar behoef.”
- p. 27: “Vyfuur die oggend was die verhaal, wat deur ’n nag gekronkel het, voltooi.”
- Die inkorrekte gebruik van “was” in plaas van “is” veroorsaak temporale verwarring. Die verhaal is immers steeds voltooi, anders was dit nog nooit voltooi nie.
- Eerder: “Vyfuur die oggend is die verhaal, wat deur ’n nag gekronkel het, voltooi.”
- p. 41: “Ek sal via ’n verhaal jou probeer antwoord.”
- Die posisie van die voornaamwoord “jou” maak die sin lomp.
- Eerder: “Ek sal jou via ’n verhaal probeer antwoord.”
- p. 86: “Die uitgedrukte korrespondensie tussen haar en Mentee lê reg voor Geliefde. Sy hoef net haar hand te lig, dan sal dit haar pik soos ’n gevaarlike slang.”
- Die anafoor “dit” verwys waarskynlik na die antesedent “uitgedrukte korrespondensie”, maar die aanwesigheid van ’n ander naamwoordfrase tussen die anafoor en die antesedent (naamlik “haar hand”) veroorsaak dat hierdie naamwoordfrase as antesedent gelees word. Die leser dink dus aanvanklik dat haar hand haar sal pik indien sy dit sou lig.
- Die posisie van die werkwoord “pik” maak boonop die sin lomp.
- Eerder: “Dit sal haar soos ’n gevaarlike slang pik, sou sy net haar hand lig.”
- p. 92: “Op dieselfde oomblik ontdek Mentor ’n merk aan haar linkerarm – daar is bloed op die bed asof sy in ’n worsteling betrokke was gedurende die nag.”
- Volgens Carstens (2003:55) word die bywoordelike bepaling van tyd in Afrikaanse sinne na vore geskuif en moet dit voor die plekbepaling geplaas word.
- Eerder: “... asof sy gedurende die nag in ’n worsteling betrokke was.”
- p. 155: “Hy het ’n voël en hase huis toe gebring daardie aand.”
- Die bywoordelike bepaling van tyd, naamlik “daardie aand”, staan op die verkeerde plek in die sin.
- Eerder: “Daardie aand het hy ’n voël en hase huis toe gebring.”
3.3.1.2 Grafiese foute
Hierdie afdeling sluit twee aspekte in, naamlik spelling en interpunksie (lees- en skryftekens), en is die “vlak waarop nieprofessionele taalversorgers konsentreer wanneer hulle ’n teks versorg” (Du Plessis en Carstens 2000:69). Hier onder volg ’n aantal voorbeelde van foutiewe spelling en interpunksie, met ’n verduideliking van waarom dit as ’n fout beskou word:
- Daar word verskeie kere verwys na die skrywer Vladimir Nabokov. Sy van word soms reg gespel, terwyl dit ander kere verkeerd gespel word. Gevolglik is hier nie net spelfoute nie, maar boonop inkonsekwenthede ter sprake.
- “Nabokof” word op pp. 80 (1 keer), 86 (1 keer), 88–90 (10 keer), 118 (4 keer), 125 (1 keer), 134 (1 keer), 138–140 (5 keer), 143 (1 keer), 144 (2 keer) 146 (1 keer), 148 (1 keer) en 149 (1 keer) gebruik.
- “Nabokov” word op pp. 90 (1 keer), 91 (1 keer), 134 (1 keer), 140 (3 keer), 143 (1 keer) en 144 (1 keer) gebruik.
- Sekere woorde word deurgaans verkeerd gespel:
- pp. 11, 13, 92: “beëindig” verskyn as “beeïndig”.
- p. 68: “biblioteek” verskyn as “bibioteek”.
- pp. 16, 31: “ontstel” verskyn as “onstel”.
- p. 40: “skryfwerkswinkel” verskyn as “skryfwerskwinkel”.
- p. 89: “government” verskyn as “goverment”.
- Die aksentteken ontbreek soms:
- p. 156: “Na ’n lang reis kom hulle by die reus aan, wat ongelukkig is oor Tepoztecatl nog jonk is.”
- Eerder: “Ná ’n lang reis kom hulle by die reus aan, wat ongelukkig is oor Tepoztecatl nog jonk is.”
- p. 160: “Na Geliefde sal ’n nuwe muse hierdie begeerte vergestalt.”
- Eerder: “Ná Geliefde sal ’n nuwe muse hierdie begeerte vergestalt.”
- Die gebruik van spasies voor en ná ellipse word menige male nie konsekwent toegepas nie. Vergelyk ter illustrasie die volgende paragraaf:
- p. 9: “Dit is duidelik jou verhouding met die Man wat jy as inperkend ervaar ... en uiteindelik word hy ’n vreemdeling vir jou ...een by wie jy nie meer tuis voel nie...” (Let op die spasiëring tussen die ellipse en woorde.)
- Die gebruik van kommas word dikwels onkundig toegepas of bloot weggelaat:
- p. 12: Yes only four. Yes all men. [...] Yes only one at a time, although OK, some of them had overlapped a little chronologically.
- Sonder kommas is hierdie sinne nie grammaties korrek nie.
- Eerder: “Yes, only four”, “Yes, all men” en “Yes, only one at a time ...”
- p. 18: “Campion is vir my in die klas van Werner Herzog, die Duitse filmmaker, wat onder andere Fitzcarraldo Aquirre: The Wrath of God verfilm het en eweneens wys hoe daar met sogenaamde ‘primitiewe’ stamme gewerk kan word.”
- Let veral hier op die tweede komma, wat veroorsaak dat die betekenis verander word. Soos dit hier staan, word geïmpliseer dat daar slegs een Duitse filmmaker is en dat sy naam Werner Herzog is.
- Eerder: “Campion is vir my in die klas van Werner Herzog, die Duitse filmmaker wat onder andere Fitzcarraldo Aquirre: The Wrath of God verfilm het, en eweneens wys hoe daar met sogenaamde ‘primitiewe’ stamme gewerk kan word.”
- p. 18: “Jane Campion is gebore in Wellington, NZ en elke filmkyker was waarskynlik oorrompel deur haar film, The Piano, met Holly Hunter en Harvey Keitel in die hoofrolle.”
- In hierdie geval impliseer die komma voor The Piano dat Campion slegs een film gemaak het.
- Eerder: Jane Campion is gebore in Wellington, NZ en elke filmkyker was waarskynlik oorrompel deur haar film The Piano, met Holly Hunter en Harvey Keitel in die hoofrolle.
- p. 19: “Dit is ’n aangrypende rolprent oor begeerte, en onvervulling en in kragtige beelde word ’n spanning tussen stemloos- en stemhebbend wees, uitgewerk.”
- Die absurde gebruik van die komma verander die betekenis van die sin. In hierdie konstruksie beteken dit dat die rolprent net oor begeerte handel en die gedeelte ná die komma is totaal onbegrypbaar. Dit is vermoedelik ’n rolprent oor beide begeerte en onvervulling, terwyl ’n spanning in kragtige beelde uitgewerk word.
- Eerder: “Dit is ’n aangrypende rolprent oor begeerte en onvervulling, en in kragtige beelde word ...”
- p. 22: “ En sy sal dit inkleur met verwysings na Firenze, haar mentee se lieflingstad en hulle sal albei fantaseer oor hoe hulle oor die kieselsteentjies stap en iewers in ’n klein stegie ’n restaurantjie ontdek, rooiwyn drink en fettucine eet.”
- Aanvanklik dink die leser dat die subjek dit sal inkleur met verwysings na Firenze en ander verwysings na haar mentee se lieflingstad (wat dus nie Firenze is nie), maar na “lieflingstad” raak dit duidelik dat “verwysings” nie dui op ’n lys nie en dat Firenze die mentee se lieflingstad is. Die leser besef dan eers dat ’n komma ontbreek.
- Eerder: “... met verwysings na Firenze, haar mentee se lieflingstad, en hulle ...”
- p. 24: “ Die volgende oggend is daar steeds geen boodskap van die Mentee nie, maar wel van haar geliefde wat laat weet dat sy haar, weens werkverpligtinge, nie sal kom afhaal nie.”
- In hierdie geval is die kommas bloot oorbodig en steurend.
- Eerder: “... dat sy haar weens werkverpligtinge nie sal kom afhaal nie.”
- p. 12: Yes only four. Yes all men. [...] Yes only one at a time, although OK, some of them had overlapped a little chronologically.
- ’n Eienaam is verkeerd gespel. Volgens reël 9.29 van die AWS word saakname wat as eiename optree, met ’n hoofletter gespel.
- p. 29: Die Weense Filharmoniese Orkes word geskryf as die “Weense Filharmoniese orkes”.
- Die filmtitel MirrorMask word op p. 53 met ’n koppelteken geskryf, moontlik omdat die uitlegkunstenaar die woord moes afkap om na ’n nuwe reël oor te gaan. Die film se titel is egter nie Mirror-Mask nie, dus kan dit nie afgekap word nie en die proefleser moes die fout reggestel het.
- In die Afrikaanse gedeeltes van die teks word passim van Engelse woorde gebruik gemaak. Hierdie woorde word egter nie deurgaans in dieselfde formaat geskryf nie (hulle is soms gekursiveer, soms tussen aanhalingstekens, ens.). Die leser sal ook terloops hier wonder waarom Engelse woorde soos “partner” voorkom, maar sommige Engelse woorde wat ook gereeld in Omgangsafrikaans gebruik word (sien Carstens 2003:155–6), soos “inbox” en “breakup”, vertaal word (onderskeidelik as “inboksie” (p. 28) en “liefdesopbreek” (p. 31)). Vergelyk verder die volgende:
- p. 17: partner
- p. 18: workshop
- p. 28: server-probleem
- p. 29: draft-boksie
- p. 39: delete
- p. 39: Under erasure
- p. 40: google
- p. 40: Jeeves
- p. 41: ‘workshop’
- p. 47: file
- p. 62: ‘family romance’.
3.3.1.3 Morfologiese foute
Kennis van die vorm, funksie en betekenis van woorddele kan volgens Du Plessis en Carstens (2000:68) die taalversorger help met meervoudsvorming, trappe van vergelyking, verkleiningsvorme, ens. Konsekwentheid speel ook hier ’n belangrike rol.
Volgens die AWS is die korrekte Afrikaanse afkorting vir “short message service” SMS. Die meervoud is SMS’e. ’n Ongewone vorm van die afkorting word deurgaans in die teks gebruik en daar word ook van twee verskillende meervoudsvorme gebruik gemaak:
- In die teks word hierdie afkorting deurgaans as “sms” geskryf: pp. 9 (1 keer), 18 (1 keer), 20 (2 keer), 21 (2 keer), 22 (2 keer), 27, (1 keer), 36 (2 keer), 35 (1 keer), 43 (1 keer), 46 (1 keer), 47 (1 keer), 53 (1 keer), 54 (1 keer), 67 (1 keer), 80 (1 keer), 81 (1 keer), 82 (1 keer), 92 (2 keer), 99 (1 keer), 103 (1 keer), 106 (1 keer), 108 (1 keer), 111 (1 keer), 133 (1 keer) en 139 (1 keer).
- Die meervoud word soms as “sms’e” geskryf: pp. 36, 43, 47, 54, 80 en 82. Ander kere word die meervoud as “smse” geskryf: pp. 21 en 67.
3.3.1.4 Stilistiese foute
Du Plessis en Carstens (2000:69) noem dat die styl van ’n teks te make het met die “wyse waarop ’n persoon sy gedagtes verwoord”. Die graad van formaliteit speel ook hier ’n rol. Hier volg ’n paar van hierdie soort foute:
- p. 9: “ Nou’s die rolle opnuut omgeruil en is sy die succuba, die een wat iets oorneem van haar mentee.”
- Die gebruik van “nou’s” as verkorte vorm van “nou is” veroorsaak ’n stylbreuk, aangesien die taal in die roman tog ’n sekere standaardvorm handhaaf. Dit is boonop nie deel van die dialoog nie, so daar is geen rede om die sametrekking te gebruik nie.
- Eerder: “Nou is die rolle opnuut omgeruil ...”
- p. 19: “' The stark image of the piano in die standing surf will endure,' som die kritikus, Joan Ellis, knap op in die verhaalopsomming van Campion se webblad.”
- Die betekenis van “opsom” lê opgesluit in “opsomming”. Hierdie verskynsel staan bekend as woordoortolligheid of pleonastiese taalgebruik. Carstens (2003:126) noem vier redes waaraan hierdie verskynsel toegeskryf kan word:
- onkunde of swak begrip van die werklike betekenis(se) van die betrokke woord(e)
- ’n gebrek aan konsentrasie
- slordigheid in die gebruik van die taal
- ’n poging tot mooiskrywery.
- ’n Mens sou verwag dat veral hierdie soort foute nie in ’n geredigeerde teks voorkom nie.
- Die betekenis van “opsom” lê opgesluit in “opsomming”. Hierdie verskynsel staan bekend as woordoortolligheid of pleonastiese taalgebruik. Carstens (2003:126) noem vier redes waaraan hierdie verskynsel toegeskryf kan word:
- p. 20: “En net voor die afgesproke afspraak, kanselleer sy” (my kursivering).
- Die betekenis van “afgesproke” lê opgesluit in “afspraak”.
- Eerder: “En net voor die afspraak kanselleer sy” of “En net voor die afgesproke tyd kanselleer sy.”
- p. 41: “ Sy stel haar voor hoe sy skryf, haar verhale ‘workshop’, met die ander mede-skrywers gesels” (my kursivering).
- Die gesamentlike gebruik van die woorde “ander” en “mede-” is oorbodig, want haar medeskrywers is die ander skrywers. Dit is ook onduidelik waarom mede-skrywers met ’n koppelteken geskryf word.
- Eerder: “... met die ander skrywers gesels”, of “... met die medeskrywers gesels”.
3.3.1.5 Leksikologiese foute
Du Plessis en Carstens (2000:69) plaas hier die fokus op die leksikon (algehele woordeskat) van die taal. Taalgebruikers moet dus die korrekte woord kies om ’n spesifieke gedagte uit te druk. ’n Verkeerde woordkeuse kan verwarring by die leser veroorsaak. ’n Paar leksikologiese foute is raakgelees:
- p. 9: “In ’n Middeleeuse studie lees sy oor die geloof wat bestaan het dat mense in die nag met mekaar psigiese kontak kan maak.”
- Die term “Middeleeuse studie” is meerduidig. Dit kan dui op ’n studie wat in die Middeleeue onderneem is, of ’n studie oor die Middeleeue.
- Geen voorstel ter verbetering kan gemaak word sonder om die outeur te raadpleeg nie.
- p. 17: “ Sy lees weer Henry James en The Portrait of a Lady en kyk na Jane Campion se verfilming daarvan op haar rekenaar ” (my kursivering).
- Die woord "verfilming" moes waarskynlik "film" of "filmweergawe" gewees het, aangesien die karakter in die roman na ’n filmweergawe van Henry James se The Portrait of a Lady kyk en nie na die proses waardeur die handelinge op film vasgevang word nie.
- Eerder: “... en kyk na Jane Campion se filmweergawe daarvan ...”
- p. 20: “ In ’n sms later die aand bely sy dat dit goed is om te weet haar mentor is so naby, maar die Mentor wis die sms dadelik uit.”
- Indien die outeur bedoel dat die SMS bloot verwyder word, sal slegs “wis” meer gepas as “uitwis” wees. Sy veroorsaak immers nie dat alle SMS’e uitsterf nie.
- Eerder: “... maar die Mentor wis die sms dadelik.”
- p. 29: “En die wete dat die skryfproses jou kan neem op plekke waar jy nie wil/kan wees nie.”
- Die voorsetsel is verkeerd.
- Eerder: “... na plekke waar jy nie kan/wil wees nie.”
- p. 30: “ Veral die vyfde is haar gunsteling, omdat dit iets van die skepper se melancholie opvang ” (my kursivering).
- ’n Uitvoering van ’n musiekstuk word hier bespreek. Aangesien die outeur die gevoelswaarde wat die musiek oordra, wil beskryf, sou die woord “vasvang” dalk meer gepas wees.
- Eerder: “... omdat dit iets van die skepper se melancholie vasvang.”
- p. 34: “Lector Salutem!”
- Die Latynse vaste uitdrukking word verkeerd gespel. Soos dit in die teks verskyn, is die woord “Lector” in die nominatiewe naamval. Hierdie woord moet egter in die datiewe naamval geskryf word vir die uitdrukking om grammatikaal korrek te wees.
- Eerder: “Lectori Salutem!”
Hierdie is maar enkele van die foute wat in Palindroom gevind is.
3.3.2 Kladboek
Hoewel Kladboek nie foutloos is nie, bevat die teks baie minder foute as Palindroom. Die enkele foute wat wel gevind is, word almal weergegee:
3.3.2.1 Sintaktiese foute
- Die dubbele ontkenning ontbreek een maal:
- p. 77: “... kan sy om die dood nie die kerk vind.”
- Eerder: “... kan sy om die dood nie die kerk vind nie.”
- Die verledetydsuitgang “ge-” het een maal ongrammatikaliteit (en ironie) tot gevolg:
- “Hoe nou gemaak as die leser oor jou skouer loer en as ’t ware met ’n rooi pen kommentaar lewer of geredigeer?” (my kursivering).
- Eerder: “Hoe nou gemaak as die leser oor jou skouer loer en as ’t ware met ’n rooi pen kommentaar lewer of redigeer?”
3.3.2.2 Grafiese foute
- ’n Woord in die teks is verkeerd gespel:
- p. 39: “Armada-rekenaar” verskyn as “Armada-ekenaar”.
- Volgens reël 12.1 in die AWS (2002:109) moet ’n koppelteken tussen dieselfde of verskillende vokaalletters geplaas word indien die opeenhoping van vokale kan veroorsaak dat die woord verkeerde gelees word. Een so ’n fout is in die teks gevind:
- p. 98: “negeuur”.
- Eerder: “nege-uur”.
4. Resepsie as epitekste
Soos reeds genoem vorm resensies deel van die epiteks. As sodanig het dit ’n groot invloed op die leser se aanvanklike opvattings oor ’n produk en beïnvloed dit sy/haar keuse om die boek aan te skaf, al dan nie. In sy resensie van Palindroom noem Beukes (2008:11) dat Hambidge “haar skryfkrag” op ’n “[s]lim/vernuftige” wyse demonstreer. Sy algehele indruk van die boek is positief. Du Plooy (2008) oordeel ook positief, en sy beskryf die boek as “’n boeiende en leerryke leeservaring”. Liebenberg, boekeredakteur van Die Volksblad, spreek in haar resensie (2008:10) ook lof vir die boek uit. Al hierdie resensies bespreek die inhoud, omslag en ongewone publikasieformaat van die boek in groot detail, maar nie een noem die blatante swak taalversorging van die teks nie. Kladboek ontvang ook ’n aantal positiewe resensies, onder andere dié van De Vries (2008). Die enigste resensie wat negatiewe kritiek op beide Palindroom en Kladboek uitspreek, is dié van Neervoort (2008:11). Hierdie kritiek is weer eens nie op die boek as produk nie, maar fokus slegs op die inhoudelike aspekte.
Dit spreek boekdele dat bogenoemde resensente, sommige gerekende akademici, nie eens terloops na die produksiegehalte van Palindroom en Kladboek verwys nie. Hierdie resensies bied nie ’n objektiewe blik op die boeke as algehele produkte nie, maar fokus slegs op inhoudelike gegewens. In die geval van Palindroom bied dit nie eerlike, omvattende en tersaaklike kritiek op die produk nie, met die gevolg dat potensiële lesers onbewus bly van hierdie problematiese aspekte van die produk wat hulle moontlik mag aanskaf. Verskeie lesers – selfs groot aanhangers van Hambidge se werk, soos hierdie leser – sou moontlik nie die boek gekoop het as hulle vooraf bewus gemaak is van hierdie tekortkominge nie, bloot omdat die leeservaring gebuk gaan onder soveel foute dat daar nie op die inhoud gekonsentreer kan word nie. In die geval van Kladboek, aan die ander kant, sou die uitstekende versorging van die boek, beide op teks- en ontwerpvlak, ’n pluimpie in resensies verdien – want hoewel ’n mens sulke kwaliteit van elke boek verwag, is dit selde dat ’n Afrikaanse boek van so ’n hoë produksiegehalte is.
Dit is duidelik dat die rol van die redakteur en taalversorger in die Afrikaanse boekbedryf soms nie met genoeg erns bejeën word nie, soos Grebe (2006:95) tereg uitwys. Tensy resensente op produksiegebreke wys, sal uitgewers ook geen moeite doen om die kwaliteit van hulle produkte te verbeter nie. ’n Mens wonder onwillekeurig waarom hierdie resensente maar vir lief daarmee neem en dit nie kritiseer nie.
5. Gevolgtrekking
Uit hierdie ontleding is dit duidelik dat die produksiegehalte van Palindroom en Kladboek verskil. Die swak kwaliteit van eersgenoemde kan waarskynlik toegeskryf word aan die volgende faktore tydens die produksieproses:
- Die redigering is deur twee verskillende instansies hanteer, met die gevolg dat die een hand nie geweet het wat die ander een doen nie. As slegs een persoon verantwoordelikheid vir die taalversorging moes aanvaar het, sou hy/sy waarskynlik meer konsensieus daarmee omgegaan het.
- Uit die groot aantal foute blyk dit dat een van die taalversorgers nie die nodige kennis of ervaring gehad het om die redigering sonder bystand te hanteer nie.
- Die redakteur het nie die kwaliteit van die werk na behore gekontroleer nie, waarskynlik weens onkunde.
- Die omslagontwerper het nie die moeite gedoen om ’n foto met die nodige kwaliteit en resolusie (300 dpi) in die omslagontwerp te gebruik nie.
- Die produksiebestuurder het nie ’n meer gepaste omslagformaat vir hierdie ongewone publikasie uitgewys nie. Dit het ook daartoe gelei dat die redakteur ’n oneffektiewe bandteks geskep het.
- Die uitlegkunstenaar het die uitleg afgeskeep en in sommige gevalle nie eens inkeepparagrawe ingekeep nie.
Die proses waardeur ’n manuskrip tot ’n boek omvorm word, beide wat taalversorging en ontwerp betref, is die totale verantwoordelikheid van die uitgewer juis omdat die outeur kies om sy/haar boek deur ’n uitgewer te laat publiseer. Dit is professionele dienste wat gelewer word en dus kan die outeur nie aanspreeklik gehou word vir nalatigheid, swak versorging of powere bemarking nie.
Op grond van die resultate van hierdie ondersoek is dit moontlik om minstens ’n paar aanbevelings te maak om as riglyn vir uitgewershuise, redakteurs en taalversorgers te dien. Al doen die redakteur nie self die taalversorging of kontrolering van bladproewe nie, moet hy/sy oor ’n grondige kennis van die taal waarin die manuskrip geskryf is, beskik. Wanneer dit nie die geval is nie, kan redakteurs nie swak werk deur vryskuttaalversorgers identifiseer en betyds laat regstel nie. Voorts moet slegs een persoon verantwoordelikheid aanvaar vir die totale taalversorging van ’n teks. Dit hoef nie die redakteur te wees nie, maar moet dan ten minste voor uitleg deur die redakteur gekontroleer word. Uitgewers moet ook aan vryskuttaalversorgers en redakteurs naslaanbronne voorskryf. Vir Afrikaanse tekste is die AWS en ander gesaghebbende publikasies onontbeerlik en daar kan nie bloot staatgemaak word op woordeboeke en die internet nie. Daarbenewens moet die uitgewery ook oor ’n stylgids beskik wat aan vryskutwerkers verskaf kan word. Uitleg moet onderneem word eers wanneer die manuskrip voldoende geredigeer is en deur die redakteur afgeteken is. Bladproewe moet dus slegs nagegaan word om die uitleg te kontroleer en om laaste foute wat deurgeglip het, reg te stel.
In hierdie verband lyk Martjie Bosman van Protea se werkswyse na die mees suksesvolle benadering tot redigering, veral aangesien Hambidge ook noem dat Bosman as redakteur “in ’n klas van haar eie” is (2008). Hierdie redigeermetode behels onder meer:
- die formatering van die manuskrip
- die formatering van leestekens, met ander woorde die regstelling van die afkappingsteken van ’n en die verandering van “straight quotes” na “smart quotes” deur middel van die soek-en-vervang-funksie in die woordverwerkingsprogram
- die gebruik van ’n Afrikaanse speltoetser
- die totale versorging van die teks volgens al drie van Butcher se redigeervlakke
- die kontrolering van feite
- die evaluasie van die algehele struktuur van die teks.
Wat die ontwerpaspekte van die produksieproses betref, kan sekere riglyne uit hierdie ondersoek geïdentifiseer word. Eerstens moet die produksiebestuurder ingelig word oor die aard van die teks en op grond daarvan ’n gepaste omslagformaat aanbeveel alvorens die omslag ontwerp word. Tweedens moet die omslagontwerper verseker dat die resolusie van die ontwerp hoog genoeg is. Derdens moet die skrywer van die bandteks die bemarkingswaarde van die bandteks in gedagte hou en volgens uitgewersriglyne ’n gepaste bandteks skryf. Laastens moet ingeligte uitlegkunstenaars die uitleg hanteer en dit moet gedoen word vanaf ’n behoorlik-geformateerde, geredigeerde manuskrip wat die redakteur moet verskaf.
Daarbenewens moet resensente goeie oordeel aan die dag lê en nie skroom om afskeepwerk van uitgewers as sodanig te identifiseer nie. Kleyn (2008:101) noem in hierdie verband dat “[r]esensies van digbundels [...] oor die algemeen min genade vir swak inhoud, afronding en aanbieding [toon]”, maar hierdie uitspraak is duidelik nie geldig vir prosapublikasies nie. Uitgewers in Suid-Afrika speel ’n bepalende rol in die ontwikkeling van die letterkunde (ibid.), maar ook in die ontwikkeling en instandhouding van Afrikaans – en verbruikers is nie veronderstel om maar vir lief te neem met onaanvaarbare kwaliteit nie.
6. Bibliografie
Beukes, M. 2008. Hambidge skryf roerend oor pyn, verlies. Beeld, 26 Mei, p. 11.
Bosman, M. 2008. E-posonderhoud met Reinhardt Fourie, 31 Oktober 2008.
Butcher, J. 2006. Butcher’s Copy-editing: The Cambridge Handbook for Editors, Copy-editors and Proofreaders. Cambridge: Cambridge University Press. 4de uitgawe.
Carstens, W.A.M. 1997. Afrikaanse tekslinguistiek: ’n inleiding. Pretoria: Van Schaik.
—. 2003. Norme vir Afrikaans. Pretoria: Van Schaik. 4de uitgawe.
Cochrane, N. 2007. Die verhouding tussen parateks en pikareske aanspraak: Draaijakkals deur George Weideman as voorbeeld binne die moderne Afrikaanse prosa. Ensovoort, 11(1):37–47.
Davies, G. 2004. Book commissioning and acquisition. Londen: Routledge.
De Vries, I. 2008. Jou liefde op kladpapier. LitNet. https://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=
print_article&news_id=51178&cause_id=1270 (22 Augustus 2008 geraadpleeg).
Du Plessis, A. en W.A.M. Carstens, 2000. Taalversorging – teoreties gefundeer intaalpraktyk? Literator, 21(3):59–74.
Du Plooy, H. 2008. Tema van verlies met seismografiese keurigheid vasgelê in Hambidge se Palindroom/Koesnaatjies. LitNet. https://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=
cause_dir_news_item&news_id=49167&cause_id=1270 (26 Julie 2008 geraadpleeg).
Genette, G. 1997. Paratexts: Thresholds of interpretation. Vertaal deur Jane E. Lewin. Cambridge: Cambridge University Press.
Genugtig! Uitgewers. 2008. Van uitroep tot uitroep. Genugtig! Uitgewers verander hul naam na Joho! http://www.joho.co.za/Afrikaans/Welkom_by_Joho_files/persverklaring.pdf (30 September 2008 geraadpleeg).
Grebe, H. 2006. Etienne van Heerden: Mooi loop met die woorde! Tydskrif vir Letterkunde , 43(2):91-106.
Hambidge, J. 2002. Ruggespraak. Pretoria: Protea Boekhuis.
—. 2004. Die buigsaamheid van verdriet. Pretoria: Protea Boekhuis.
—. 2005. En skielik is dit aand. Pretoria: Protea Boekhuis.
—. 2006. Dad. Parklands: Genugtig! Uitgewers.
—. 2008a. Palindroom / Koesnaatjies vir die proe. Parklands: Genugtig! Uitgewers.
—. 2008b. Kladboek. Pretoria: Protea Boekhuis.
—. 2008c. E-posonderhoud met Reinhardt Fourie, 18 Oktober 2008.
Heirbrant, S. 1995. Componenten en compositie van de historische roman: Een comparatistiche en genologische benadering . Antwerpen: Garant.
Joho! Uitgewers. 2008. Palindroom deur Joan Hambidge. http://www.joho.co.za/Afrikaans/Palindroom_2.html (30 September 2008 geraadpleeg).
Kleyn, L. 2008. ’n Ander bestekopname van die Afrikaanse poësie, 2004−2007. LitNet Akademies , 5(1):100–134.
Kleyn, S. 2008. Koesnaatjies vir die proe: speelse, spulse en stukkende verse. LitNet. https://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=
cause_dir_news_item&news_id=55114&cause_id=1270 (6 November 2008 geraadpleeg).
Kotze, A. en M. Verhoef. 2001. Die teksversorger as spookskrywer: Die teorie en professie onder die loep. Literator, 22(2):77–90.
Liebenberg, D. 2008. Die droom is duskant die bewuste vermoor. Volksblad, 22 September, p. 10.
Müller, D. 2003. Skryf Afrikaans van A tot Z. Kaapstad: Pharos.
Nagtegaal, J. 2008. E-posonderhoud met Reinhardt Fourie, 10 November 2008.
Neervoort, H. 2008. Komplekse intellektuele wonings op soek na verbeelding. Die Burger , 28 Julie, p. 11.
SAVI (Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut). 2009. Editing and proofreading.
http://translators.org.za/sati_cms/index.php?frontend_action=
display_text_content&content_id=1552 (3 Februarie 2009 geraadpleeg).
Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. 2002.
Afrikaanse woordelys en spelreëls . Kaapstad: Pharos. 9de uitgawe.
Venter, M.R. 2006. Die materiële produksie van Afrikaanse fiksie (1990–2005): ’n Empiriese ondersoek na die produksieprofiel en uitgeweryprofiel binne die
uitgeesisteem. Ongepubliseerde Ph.D.-verhandeling, Universiteit van Pretoria.
Victor, M. 2008. E-posonderhoud met Reinhardt Fourie, 20 November 2008.
Victor, M. en J. Hambidge. 2008. There are more questions than answers: Joan Hambidge in gesprek met Madri Victor oor Palindroom. LitNet. https://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=
cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=46674&cat_id=178 (10 Junie 2008 geraadpleeg).
Eindnotas
1 Met dank aan me. Jacomien van Niekerk vir haar bystand tydens die inisiële fase van hierdie ondersoek.
2 Enige verwysings na Palindroom sluit uiteraard ook Koesnaatjies vir die proe in.
3 Desktop publishing.
4 Hoerjongens is die kollektiewe Afrikaanse term vir sogenaamde “widows” en “orphans”. Butcher (2006:505) definieer ’n “widow” as die kort laaste reël van ’n paragraaf wat oorloop tot bo-aan ’n volgende bladsy. ’n “Orphan” is, soortgelyk, die beginreël van ’n paragraaf aan die einde van ’n bladsy. Ervare uitlegkunstenaars probeer om dit te vermy, maar in teks met baie kort paragrawe, soos in die geval van dialoog, is dit soms onmoontlik om hoerjongens uit te skakel. Die proefleser moet dit egter kontroleer om dit tot die minimum te beperk.
5 Hoewel internasionale uitgewerye van ’n voorgestelde verkoopsprys gebruik maak, is dit nie in Suid-Afrika die geval nie, aangesien boekpryse hier te lande nie voorgeskryf word nie. Elke uitgewer/boekhandelaar besluit dus self op die prys van elke boek.
6 Hoewel dit met internasionale uitgewerye die geval is, soos Penguin Books, word die omslagontwerper in Suid-Afrika eerder op die kolofonblad aangedui.
7 Die blou proewe is ’n kopie van die boek op swak papier wat gedruk word om seker te maak dat die seksies van die boek en bladsyvolgorde korrek is. Dit kan uiteraard nie op bladproefstadium gekontroleer word nie, want dit het te make met die fisiese proses van die sny en bind van velle papier wat deur die drukmasjien hanteer word.





