Het julle die nuusberigte en TV-dekking oor die studente-optogte, kompleet met plakkate waar die behoud van Afrikaans by Maties bepleit word, gesien? Of die sit-ins op die Rooi Plein en in die rektor se kantoor, waar studente in hulle getalle opgeruk het? Die derduisende ouers wat soos een man saamstaan en weier om studenterekeninge te vereffen totdat hulle die versekering het dat hulle kinders in Afrikaans onderrig sal word, en sodoende die universiteit finansieel tot hulle knieë dwing? Wat van Afrikaanse nywerheidsleiers wat aanbied om die universiteit se kostes te dra, of wat massiewe beurse wat die Rhodes-beurs beskaamd laat staan, uitloof vir studente om net hier te bly en in Afrikaans verder te studeer? Of om in Nederland of Suriname of België te studeer, op voorwaarde dat die inhoud van hulle kursus op een of ander manier die hoër funksie van Afrikaans moet bevorder? Of wat van dosente wat weier om klas te gee totdat daar aan hulle verset gehoor gegee is?
Nee?
Ek ook nie, want dit het nie gebeur nie.
Dit sál ook nie gebeur nie.
Die rede hoekom dit nie gebeur nie, is baie eenvoudig. Die huidige studente aan die universiteit, die persone wat die mees direk en onmiddellik geraak sal word deur enige veranderinge in die taalbeleid, verkies dat die beleid verander. Wit en swart. Afrikaans en Engels. Daar's veel waaroor hulle aktivisties is, die behoud van Afrikaans as medium van onderrig is bloot net nie een van die goed waaroor hulle tob nie. Kyk na die protes teen verkragtingskultuur, of enige van die #MustFall-bewegings. Die argument dat hulle nie weet wat goed is vir hulle nie, of dat hulle nie die gevolge verstaan van toegewings oor taalbeleid, gaan bloot nie op nie. Hulle weet goed wat hulle wil hê.
Studente wat enigsins ’n toekoms in die internasionale arena in gedagte het, sit met een oog op ’n Rhodes-beurs en die ander op verdere studie aan Harvard, Oxford, Yale, Princeton, Brown en ander universiteite waar behendigheid in Afrikaans hulle ewe veel sal help as ’n prehensiele stert om aan takke mee te swaai.
Dis verder vir my baie interessant dat die luidste kommentaar die afgelope ruk gekom het van persone wie nie een alumni van Stellenbosch is nie. Natuurlik is enigeen geregtig daarop om hulle mening te lug, en indien dit so entertaining gedoen word soos die bekgeveg/vete/sitkom tussen Breyten Breytenbach en Piet Croucamp, met kameeverskynings deur ’n paar ander, gaan dit natuurlik in die media uitgebeeld word as Die Antwoord. Mense wat wel aan Stellenbosch studeer het, onder wie van die voorste regsdenkers en morele gesag van ons tyd, bly egter ver weg van die geskarrel. Van die voorste akteurs, skrywers, politici, besigheidsmense, akademici, en so aan en so voort, het aan Stellenbosch studeer. Hulle kom nie vorentoe om te veg vir die behoud van die taal nie. Ek vermoed dat, soos ek, baie van hulle gemengde gevoelens en ’n mate van ongemak het wanneer daar verwys word na die behoud van die kultuur en tradisie van Stellenbosch.
Die US Woordfees, normaalweg ’n viering van Afrikaanse skryfwerk, het hierdie jaar ook Engelse boeke en besprekings gehad, asook veel meer ander kunsvorme. Dit was so suksesvol dat dit seer sekerlik volgende jaar op groter skaal gerepliseer sal word. Wie wil in elk geval Franschhoek toe gaan, of Grahamstad, as jy soortgelyke produksies kan sien, en ten minste sommiges is in Afrikaans? As daar enige kritiek was oor die verandering in formaat, was dit seker in die briewekolom van Die Burger. My indruk was dat die gewone feesganger die verandering met ope arms verwelkom.
Ek het in April redelik baie gereis, na uiteenlopende plekke waar ek as buitestander met ’n vars, kritiese blik kon kyk na ons Suid-Afrikaners se verhouding met Afrikaans. In Amsterdam het ek gepraat met Nederlanders wat passievol is oor Afrikaans, oor ons ryk woordeskat en ons vermoë om nuwe woorde te vorm, oor hoe jonk, uitdrukkingsvol en lewenskragtig ons taal is.
’n Paar dae nadat ek terug gekom het, was ek in die Noord-Kaap op PEN Afrikaans se Trippel-7-projek. Hier het ek ervaar hoedat Tswana-sprekers met trots na Afrikaans verwys as hulle taal, en na hulself as Afrikaners. Ek kon net in verwondering saam lag toe twee deelnemers in ons program speels maar tog ernstig begin stry oor die belangrikheid daarvan om die taal reg te praat.
Ek het gesit en geluister hoe mense van dwarsoor die kleurspektrum en opvoedingsvlakke heen saam opgewonde raak daaroor om stories te vertel in Afrikaans, net soos wat die Nederlanders opgewonde daaroor was om stories aan te hoor in Afrikaans.
Dít is die toekoms van Afrikaans.
Wanneer was die laaste keer dat ons Afrikaanse woorde vertroetel het, geluister het na hoe mooi die taal op die tong en die oor val, en nie krampagtig probeer vashou het aan 'n kultuur en 'n leefwyse wat vervreemdend is nie? Wanneer was die laaste keer dat ons saam vreugde kon vind in speel met woorde, soos wat die sewe woordkunstenaars op die toer elke dag kon doen?
Ons is besig om verliese te ly op twee vlakke. Ons is besig om polities te verloor deurdat ons te hard vashou aan iets wat eintlik nie meer bestaan nie. En ons is besig om ons vreugde en ons genot in die taal wat ons praat, te verloor, ’n veel meer kritieke verlies na my mening.
Hoekom het die destydse anti-apartheidsverset geslaag? Want dié wat dit aan eie bas gevoel het, het protesteer. Al die protes en sanksies van oorsee sou min gedoen het as swart en bruin mense nie geweier het om verder onderdruk te word nie. Ons sien nie dieselfde verset onder Afrikaanssprekendes nie. Die stilswye kan seker ten minste gedeeltelik toegeskryf word daaraan dat Afrikaanssprekendes hulle skaam vir die geskiedenis waaraan Afrikaans so swaar dra. Dalk is hulle moeg daarvoor om die heeltyd voor die kop gegooi te word dat dit hulle skuld is dat die taal in die penarie is waarin ons onsself bevind.
Of dalk is hulle net so gewoond daaraan dat alles in plek val omdat hulle sê dit moet, dat ander, meer effektiewe maniere van verset nog nooit ontgin was nie.
Daar is veel wat gedoen kan word, en dit word nie gedoen nie. En terwyl ons sit en ginnegaap, is die venster waarbinne iets gedoen kan word, besig om te krimp. Hoekom is Stellenbosch die enigste kampus wat hoegenaamd nog ’n mate van Afrikaans aanbied? Hoe het dit gebeur dat die ander voorheen Afrikaanse kampusse sonder veel geveg verengels het? Want elke liewe keer nog het dié wat in ’n posisie is om iets te doen, te lank geaarsel en die tekens verkeerd gelees. Dis die pad wat Stellenbosch besig is om te loop, en die futlose protes van middeljarige mans gaan dit nie vir studente meer relevant maak nie.
Die tyd vir praat is verby, terwyl Afrikaanses nog sit en wroeg oor petisies.
Die tyd vir intellektuele masturbasie en amusante woordspeletjies is verby.
Dóén iets. Hou ’n optog. Reël ’n sit-in. Gebruik getalle om druk uit te oefen.
Of gaan lê in die hoekie en wag om die dinosourusse te join.
Klik hier vir al die bydraes oor die US-taalbeleid.
![]() |



Kommentaar
Ek kan nie anders nie as om vir jou te sê tien uit tien. "DOEN IETS". Wanneer gaan almal wakker skrik en besef doen en sê is heeltemal twee aparte goed. Almal het 'n eiertjie te lê, maar daar is weinig doeners, wat nou so nodig is.
Dis nie maklik om jou taal wat jou as mens gevorm het te laat wegkwyn en sterwe nie. Vrede met 'n toekoms is moontlik belangriker as opstaan en veg? Makliker gesê as gedaan!
Mooi so, Bettina ... behalwe vir die stekie oor futlose middeljarige mans, natuurlik. Maar laat die jeug inderdaad optree en dinge in die hand neem. Dit gaan immers oor hulle.
Die skryfster noem bostaande 'n vars, kritiese blik. In werklikheid is dit die gewone Afrikaansdislojaliteit wat by die bruin elite aangetref word. Maar dit is diesulkes wat plaaslik en in die buiteland namens nie-Standaardafrikaans praat asof dit die enigste soort Afrikaans is wat bestaansreg het. Ook is daar geen begrip vir Afrikanerkultuur nie.
Bewaar ons taal.
Dit is uniek.
Afrikaans ...versamel almal ... verdeel nie.
Dit is werklik nie nuttig om die debat oor Afrikaans by Stellenbosch aan 'n debat oor Afrikanerkultuur te koppel nie. Dit bevestig bloot die aanname van vele dat dit hier om etniese identiteit eerder as taal gaan. Dit is die dood in die pot.
Die gewoonte het ontstaan dat wanneer vir Afrikaans gepleit word, daar gesê word dat die meerderheid Afrikaanssprekendes bruin is. In die US-taaldebat word alewig gesê dat bruin studente benadeel gaan word as Afrikaans kwyn of afgeskaf word. Afrikaans en bruin kultuur mag dus gekoppel word. My standpunt is dat blankes, spesifiek die Afrikaners, ook deur die miskenning van Afrikaans benadeel word. Dit kan gesê word sonder om agter bruines se belange te skuil. Wat Conrad Steenkamp klaarblyklik voorstaan, is dat ons openlik oor die rol van bruin etnisiteit in die Afrikaansdebat mag wees, maar dat die gevestigde belang wat Afrikaners daarby het, liefs verswyg moet word. Wat hy voorstaan, is volledig in die tradisie van die Afrikaanse Taalraad (ATR). Maar dit is presies wat fundamenteel verkeerd met die ATR is. Dit is waarom die ATR voortdurend bruines se bydrae tot Afrikaans loof en daar selfs hoog opgegee word oor die mengeltaal Kaaps. Terselfdertyd word die baie groter bydrae wat Afrikaners tot die ontwikkeling en amptelike erkenning van Afrikaans gelewer het en die lofwaardigheid van Standaardafrikaans verswyg. Standaardafrikaans eerder as Kaaps is die Afrikaansvariëteit wat ons beste hoop teen verengelsing is. Wanneer begin die ATR om taalsuiwerheid en die gebruik van ordentlike, agbare Afrikaans, oftewel Standaardafrikaans, te bepleit? Wanneer begin die ATR om die reuse kwalitatiewe bydrae wat blankes tot Afrikaans gelewer het, te loof? Behalwe Neville Alexander en Adam Small en sulke snare is daar blankes wat lofwaardig tot Afrikaans bygedra het. Small is, soos Michael le Cordeur, 'n ondersteuner van Wim de Villiers se verengelsingsbeleid aan die US. Desnieteenstaande word Le Cordeur se teenwoordigheid in die ATR gekoester.
Beste Johannes
Dit lyk vir my asof jy kwessies met die Taalraad het.
Net vir die rekord, die Taalraad ondersteun wel standaard Afrikaans, maar ook die volle verskeidenheid van die taal. Die minagting van die taal se variante het Afrikaans al baie gekos.
Ek is nie bewus van enigiets wat die Taalraad gedoen het om bruin etnisiteit te bevorder of om Afrikaners te minag nie. Ons fokus is op die taal en sy sprekers in hul volle diversiteit, wat by implikasie almal insluit.
Ons fokus is op taal, nie etnisiteit nie. Jammer as dit jou nie pas nie, maar dit maak werklik nie sin om taal op Stellenbosch of elders onder 'n etniese vaandel te takel nie.
Die Taalraad het ook, so terloops, duidelik standpunt ingeneem oor Afrikaans as 'n akademiese taal. As jy verder hieroor wil praat, van aangesig tot aangesig, dan stel ek my tot jou beskikking.
Groete
Conrad
Ja, Conrad, ek het kwessies met die ATR. Om sy naam gestand te doen, moet dit vir die ATR in die eerste plek om Afrikaans gaan. Dus nie om meertaligheid en versoening nie. Eerstens omdat meertaligheid en versoening bedryf kan word sonder dat Afrikaans deel daarvan is. Tweedens omdat dit dan in die eerste plek om politiek en nie taal gaan nie.
Ek minag geen variant van Afrikaans nie. Maar daar is 'n variant, naamlik Standaardafrikaans, wat beter verskansing teen verengelsing as Kaaps bied. In party van sy voorkomste kan gevra word of Kaaps wel 'n variant van Afrikaans is of veel eerder 'n volwaardige mengeltaal wat toenemend Engels word. Daar is sekerlik 'n element van gevaar vir die voortbestaan van Afrikaans in die ATR se koestering van Kaaps. Hieroor moet ernstig besin word. Die ATR word hier deur politieke korrektheid op 'n dwaalspoor gelei. Daarom bepleit die ATR nooit taalsuiwerheid nie, terwyl dit gebiedend noodsaaklik in ons huidige situasie is.
In die US-taaldebat moet nie net op een etnisiteit, naamlik die van bruines, gefokus word nie, maar ook op die van die blanke Afrikaanssprekendes. Dan laat ons sommer ook reg geskied aan mode-uitdrukkings soos multikulturaliteit, inklusiwiteit en diversiteit.
Gestel die ATR "fokus op taal", spesifiek Afrikaans (en as dit moet: in al sy variasies), en nie op politieke korrektheid, meertaligheid en versoening nie. Dan is dit tog seker gebiedend dat almal wat in die ATR dien ten gunste van ten minste die gelyke status van Afrikaans aan die US moet wees. Dan hoort enigeen wat die verengelsing van die US in die Wim de Villiers-idioom steun nie in die ATR-direksie nie.
Ek beweer nie die ATR bevorder bruin etnisiteit as sodanig en minag Afrikaners nie. Wat ek gesê het, is dat bruin etnisiteit en Afrikaans in die taalstryd voortdurend gekoppel word. Terselfdertyd word die wesenlike belang wat Afrikaners hierby het, verswyg. Jy het uitdruklik beswaar teen die koppeling van Afrikanerkultuur en Afrikaans in jou eerste skrywe hierbo geopper. Dit het my genoop om te reageer.
En wat van my uitnodiging tot 'n ordentlike direkte gesprek, Johannes Comestor? Dit is 'n meer effektiewe manier om so 'n samebondeling van kwessies en persepsies te bespreek. Skryf aan my by taalraad@gmail.com as jy in my uitnodiging belangstel.
Bettina is besig met ’n rondomtalie-mallemeule-argument en sy is reg, maar terselfdertyd ook verkeerd. Reg oor die feit dat daar talle individue is wat Engels as akademiese taal voorstaan alhoewel dit natuurlik geensins om dieselfde redes nie. Mens sou hierdie individue in groepe kon indeel waarom hulle nie juis omgee om die agterkant van Afrikaans by tradisioneel Afrikaanse Universiteite te sien nie. Dit wissel ondermeer van politieke korrektheid, politieke bagasie en skuldgevoelens oor die verlede, die idee dat so-iets versoening sal bevorder, dat getalle vanweë die toename van Swart studente Engels regverdig ensomeer. Ook is dit so dat daar akademici/studente is wat met so ’n standpunt konflik wil vermy terwyl daar ook diegene is wat bloot défaitisties in hulle uitkyk is en die maklike uitweg verkies om Afrikaans te laat vaar. Bettina moet maar self besluit waar sy inpas. Of is sy waaragtig dalk ook een van die talle naïewes wat glo dat Afrikaans as taal nie bedreig hoef te voel solank daar darem nog feeste gehou kan word nie!?
Daar is natuurlik die meer “gesofistikeerde,” skynheilige, opportunistiese groep met ’n politieke agenda asook die blatantes wat Afrikaans doodgewoon haat en dit daarom wil vernietig, met of sonder handskoene. Oor hulle hoef mens nie te kommer nie want jy weet waar jy met hulle staan … So, Bettina is inderdaad reg wanneer sy sê dat daar talle studente en akademici is wat nie ’n premie plaas op Afrikaans as onderrigtaal nie. Dit is egter om ’n veelheid van redes soos ek hierbo probeer aantoon het – geen enkele gemene deler nie. Diegene waarteen sy dit het aan die anderkant is anders as wat sy wil voorgee, juis meer verdraagsaam en selfs prakties. Hulle oogmerk is nie om Engels in die visier te kry en die die doodskoot te gee nie.
En daarin lê die verskil. Vir Breyten Breytenbach, Prof Herman Giliomee en ander eendersdenkendes waarby ek myself insluit, is dit ’n en/en-argument en nie ’n of/of-een nie. Dit is ’n akkommoderende en verdraagsame standpunt en gesindheid ten spyte van waarskynlike probleme of groeipyne wat dit mag inhou. En die vraag is natuurlik of so ’n standpunt in beginsel verkeerd is of kan wees gesien teen die agtergrond dat taal in sy vele fasette in die Grondwet verskans word. ’n Idee wat basies, en in elk geval, oral in gevorderde demokrasieë in die wêreld erken en verreken word. Taal hoef nie noodwendig ’n verdelende faktor te wees nie. Inteendeel dit vestig die voortreflike idee van “leef-en-laat-leef.” Wanneer politici gerieflikheidshalwe tydens toesprake na Suid-Afrika as ’n reënboognasie verwys neem ek aan dat dit ook verwys na die veelheid van tale en dat die krag juis in eenheid van die verskeidenheid opgesluit lê. Of is dit maar ook soos ons nou in baie ander opsigte gesien het bloot ’n gerieflikheidstandpunt wat van toepassing is wanneer dit pas?
Kom ons wees vir ’n oomblik sommer baie prakties. As Afrikaans op tersiêre vlak val, ontstaan die vraag wat skole se rol in die toekoms gaan/moet wees om leerlinge vir die toekoms voor te berei en te onderrig. Dis tog logies Bettina dat skole dan juis jou argument sal gebruik. Die een van “hoekom studente in Afrikaans onderrig moet word as dit nie op Universiteitsvlak ’n opsie gaan wees nie.” Of soos jy dit verder stel; hulle oë gerig is op Harvard, Cambridge en ander Internasionale Universiteite? Hierdie soort van argumente om Afrikaans die rug toe te keer is baie meer gekompliseerd en geïntegreerd as wat dalk nou op die oog af besef word. Gaan lees weer die taalkenner, Prof Theo du Plessis, se wetenskaplik gefundeerde standpunte oor moedertaal-onderrig en die belangrikheid daarvan. Indien die opsie van Afrikaans as ’n wetenskapstaal op die hoogste vlak uitgefaseer word sal dit verseker ’n kettingreaksie tot gevolg hê; implikasies wat verseker nog nie in diepte verreken word nie.
Daar word tot vervelens toe gesê dat taal deel van die mens se wese is omdat hy daarin dink, droom en leef en dit is inderdaad die geval. Hoe meer geleenthede daar vir Afrikaanses is om in hul taal onderrig te word, hoe meer en beter sal presteer word veral in die vormingsfase op skoolvlak maar verseker ook daarna. Daar bestaan genoeg wetenskaplike bewyse dat dit die geval is (ook hierna verwys Prof du Plessis in sy bydrae tot die debat) en indien ’n leerling/student voel dat hy gemaklik en toegerus is om hom mettertyd ook in ’n ander taal of tale te kan uitdruk, kan hyself die keuse maak. ’n Vrywillige keuse is gewis ’n beter opsie as die “dwang” een!
In kort; die uitsluiting van Afrikaans op Universiteitsvlak sal oor tyd gevolge inhou vir Afrikaans op skoolvlak wat weer sal meebring dat ouers (ook oor tyd) in huisverband met dieselfde “feite” gekonfronteer sal word ... get the picture Bettina? Dis dan wanneer die kringloop voltooi is en Afrikaans tot ’n eenvoudige en niksseggende tweederangse taal gereduseer sal word totdat daar weer (soos in 1707, juis in Stellenbosch tydens ’n onderonsie met landdros Starrenburg) ’n Hendrik Bibault sal opstaan en uitroep: “Ek ben een Afrikaander!”
Bettina, jy is absoluut reg! Dit word tyd dat ons werklik iets doen. Ek was 10 jaar gelede 'n student aan die US. Toe het die druk op Afrikaans al begin. Ongelukkig is 'n groot groep Afrikaanssprekende studente bang vir die gevolge van protes-optrede. Ek is oortuig dat baie meer studente ernstig is oor die behoud van Afrikaans as wat die pseudo-statistiek van Wim en vriende wil voorgee. Dit is tyd dat jong Afrikaners en ander Afrikaanssprekendes die paradigma-skuif maak: soms moet 'n mens betoog!
Vandag is Moedersdag, ons kinders se moeder se taal is Engels maar hul moedertaal is Afrikaans. Daar is geen groter kampvegter vir Afrikaans en taalsuiwerheid as sy nie. Dit is verstommend dat ons jongmense klaarblyklik net nie meer omgee nie en bereid is om handdoek in te gooi. Ons ouergeslag kan nie die geveg namens die jeug voer nie. Hulle moet van hul laat hoor voordat dit te laat is.
Hier is 'n redelike akkurate beskrywing van wat by Stellenbosch gebeur het (en steeds gebeur):
http://nie-pc-nie.blogspot.co.za/2016/05/matt-theunnissen-typical-english.html
Totdat ons ophou om Standaardafrikaans as die alfa en die omega van Afrikaanse dialekte te beskou, gaan die situasie nie verbeter nie. Ek ken ongelooflik baie kleurlinge wat Engels by die werk met my praat, maar sodra hulle ’n oproep van ’n familielid ontvang skakel hulle oor Afrikaans toe. As ek dan vra maar hoekom praat jy dan nie Afrikaans met my nie, dan is die antwoord gewoonlik dat hulle ongemaklik voel om Afrikaans met meeste witmense te praat aangesien dit nie ’n Standaardafrikaans dialek is nie. My persepsie is dus hulle voel uitgesluit en hoe meer ons Afrikaans met Afrikanerskap koppel, hoe meer sluit ons hulle uit. Afrikaners moet bereid wees om van hul perdjie af te klim en almal wat Afrikaans praat as Afrikaners te beskou.
Met betrekking tot wat ék doen om te help? Nie veel nie, so ek is ook skuldig. Ek maak wel ’n paar bydraes by die FAK en AfriForum, maar ek is bevrees ons kort meer as dit.
Ek is geen digter nie, maar in die woorde van Bittereinder:"Wees die verskil wat jy in die samelewing wil sien, so hang jouself as dit is wat jy verdien."
Conrad Steenkamp, daar is ongelukkig nie 'n pyltjie by jou jongste skrywe sodat ek direk onder dit kan reageer nie. My "kwessies en persepsie" oor die Afrikaanse Taalraad (ATR) dateer terug tot sy ontstaan. Sedertdien doen ek alles in my vermoë om op die hoogte te bly van wat die ATR doen en nie doen nie. 'n "Ordentlike direkte gesprek" oor die ATR is inderdaad nodig. Maar dit moet nie 'n tweegesprek op 'n obskure plek wees nie. Dit is in die openbare belang dat die gesprek in die openbaar plaasvind sodat enigeen wat daarby belang het daarvan kennis kan neem. Dit moet ook nie 'n mondelinge gesprek wees nie, want uit ons reaksies hier bo is dit reeds duidelik dat talle "kwessies en persepsies" wat ek geopper het, onbeantwoord gebly het. Die gesprek moet op skrif plaasvind. Ek kan nie 'n beter plek voorstel as LitNet nie. Baie belanghebbendes sal dan insae he in waaroor ons verskil en waarom die ATR nie sy naam gestand doen nie en eerder 'n versoenings- of meertaligheidsraad is, dus 'n sterk polities korrekte klank het. In plaas van jou voorgestelde mondelinge tweegesprek stel ek dus 'n "ordentlike direkte" skriftelike gesprek op LitNet voor. Daar is die salige voordele dat ons gedagtewisseling nie in lengte of deur tydsverloop beperk sal word nie en ons skep algaande betroubare dokumentasie wat nie deur mot of roes verniel kan word nie.
Beste Johannes, Ek sien nou eers hierdie reaksie en jou uitnodiging tot 'n skriftelike gesprek. As jy iets oor die Taalraad wil skryf, doen dit gerus. Dalk kan mens iets op hierdie wyse bereik. Groete, Conrad
Conrad, ek skryf deurlopend oor Afrikaans, insluitende die Afrikaanse Taalraad, op LitNet en elders. Al die ou koeie het ek reeds geslag. As van hulle of nuwes opstaan, sal ek hulle ook slag. Dankie vir jou voorneme om dan skriftelik gesprek te voer.
Beste Johannes, my deur staan oop vir 'n ordentlike en ope gesprek (sonder skuilname en dies meer), maar ek gaan nie meer op jou ad hoc kommentaar soos in die geval van hierdie artikel reageer nie. Groete, Conrad.
Conrad Steenkamp het op 26 Oktober op my skrywe van 16 Mei gereageer. Hy het toe ingestem om skriftelik met my gesprek te voer, net om sy bereidwilligheid op 28 Oktober terug te trek. Ek vind sy meerdere insinuasies dat ek nie ordentlik gesprek voer nie, aanstootlik. Koos Kombuis mag blykbaar Koos Kombuis wees, maar Johannes Comestor, wat sedert 2006 op LitNet publiseer, mag nie Johannes Comestor wees met die oog op gesprekvoering met Conrad Steenkamp nie. Wat ek skryf, word as ad hoc kommentaar afgemaak. LitNet-lesers wat Afrikaans koester, kan gerus nagaan watter Afrikaanskwessies ek hierbo op 'n myns insiens ordentlike manier aangeroer het en waarop Conrad Steenkamp nie in 'n enkele geval gereageer het nie.
Jy weier my uitnodiging tot 'n direkte gesprek en stel 'n 'openlike' skriftelike debat op LitNet voor, 'n voorstel wat ek aanvaar het met die verwagting dat jy 'n stuk sal skryf om jou uiteenlopende opinies en opvattings oor die Taalraad saam te vat. Dan dring jy egter daarop aan dat so 'n gesprek deur die kommentaarafdeling van iemand anders se artikel plaasvind, iets waarmee ek minder gemaklik is. Skryf dus jou stuk. Ek wag daarop.
So terloops, almal weet wie Koos Kombuis is. Johannes Comestor is egter minder bekend.
Ek wil my verstout om te sê dat die meeste wit Afrikaners (en andersdenkende swartmense) deur linkse aktiviste geïntimideer word. Linkse aktiviste is geniepsig, uitgesproke, aggressief en intimiderend. Daarby is hulle ook goed georganiseerd en streetwise. Dit maak dat baie wit Afrikaners maar 'n lae profiel hou. As iemand deur hulle geteiken word is dit tiekets vir daardie person, want hulle mobiliseer en sweep op sodat hulle druk op bestuur kan plaas om iemand afgedank te kry. (Ek sien dit self.) Onthou tog asb ook dat die drukgroep is (ten spyte van wat hulle sê) maar net 'n vokale minderheid wat groot geraas maak. En ook so deur bangmaak. Wit Afrikanerstudente is eenvoudig nie opgewasse teen hierdie groep mense nie en wat dinge vererger is dat wit Afrikaners nie meer 'n proteskultuur het nie. In kort gestel, die rede hoekom daar stilte van wit Afrikaanse studente is, is waarskynlik omdat hulle bang en geïntimideerd is en nie noodwendig omdat die taal vir hulle onbelangrik is nie.
Een rede hoekom Afrikaanse studente swyg is omdat hulle hulle hul nering in Engels onder die knie wil kry sodat hulle 'n opsie het om oorsee te versit as dinge polities hier te sleg gaan en anti-wit rassisme nie meer so relatief hanteerbaar is as wat dit tans is nie. Miskien sal dit help as taalstryders hulle kan laat verstaan dat onderrig in beide tale ook deure vir jou in die sterk ekonomieë van die Dietse tale kan oopmaak.
Die taalstryd loop in sirkels en is die geskiedenis geneig om sigself te herhaal.
Dit het CP Hoogenhout genoop om te skryf na aanleiding van die verengelsing na die Tweede Anglo-Boereoorlog:
"Engels! Engels! Alles Engels! Engels wat jy sien en hoor;
In ons skole, in ons kerke word ons moedertaal vermoor.”
En so volg die huidige bestel op alle vlakke lyk my die voetspore van die Engelse en doen daarmee nie net Afrikaans maar ook alle ander tale 'n skreiende onreg aan, want dit maak nie saak watter taal jy praat nie, want in alle tale bly die moedertaal die soetste en beste onderrigtaal.
Conrad Steenkamp, daar is nie 'n pyltjie by jou jongste skrywe sodat ek daar kommentaar kan lewer nie. Koos Kombuis is nie net meer bekend as ek nie, hy is polities ook meer korrek. Hy noem Martin Luther King, Oliver Tambo en Nelson Mandela "groot geeste". Dalk is my Afrikaans beter as Kombuis s'n. Hy skryf van die "cherry op die koek", "Hy beter vinnig lees" en Julius Malema "is nie stupid nie." (Die Burger, 5 deser, p 11).