Die politiek van gemene spel

  • 1

Hierdie toespraak deur Christo van der Rheede is gelewer tydens AHI Wes-Kaap se gala-aand, gehou te Velddrift op Donderdag 5 September.

Dit gaan nie goed in Suid-Afrika in hierdie stadium nie. Xenofobiese aanvalle en die vergelding wat daarmee gepaardgaan, geweld teen vroue en kinders, kriminaliteit in die breë, 'n ekonomie wat poer-poer, binnegevegte in die regerende party en allerlei regeringsbeleide wat net verdere ekonomiese rampspoed gaan meebring, is besig om ons demokrasie te rysmier. Dit is baie duidelik dat mense op alle vlakke van die samelewing en selfs tot kabinetsvlak, wat ook die president van die land insluit, letterlik en figuurlik met hul hande in hare sit. Almal probeer antwoorde vind vir dit wat nou aangaan. 

Die hoop wat daar met die aanstelling van President Ramaphosa bestaan het, het stelselmatig begin vervaag. Mense is nou meer as ooit verward en bitterlik teleurgesteld. 

Waaroor almal wel saamstem, is dat dinge nie so kan aangaan nie en dat die president en sy kabinet hul rug moet styf maak en sterk leiding moet gee om 'n einde aan hierdie sinlose geweld te bring. Dié hoop beskaam egter. Die geweld brei daagliks uit. Op hierdie stadium is Suid-Afrika soos 'n boot vol passasiers wat besig is om te sink, terwyl die kaptein en sy bemanning hulself in 'n reddingsboot tuisgemaak het en veilig na die land op pad is. 

Wat gaan hier aan? Nog meer – waarom die vele teenstrydige uitsprake deur leidende ANC-leiersfigure?

Na amper 'n week van xenofobiese aanvalle in die middestede van Pretoria en Johannesburg en ook in ander gebiede, het die President uitendelik gereageer. In 'n videoboodskap het hy gebied dat die aanvalle moet end kry. 

Die Sekretaris-Generaal, Ace Magashule, op sy beurt en in 'n toespraak 'n dag daarna voor SASCO-studente by die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT), is van mening dat swart mense nie ander mense met dieselfde velkleur moet aanval nie. Want hulle is mede-Afrikane. Waarom hulle aanval, terwyl mense met ligte gelaatstrekke en velle nie aangeval word nie? Hulle is blykbaar nie Afrikane nie, maar so sê hy in 'n televisie-opname, is sogenaamde uitlanders wat daarop uit is om Afrika te verdeel en oor Afrika te heers. 

Hy klassifiseer hulle as imperiale, fascistiese en rassistiese magte wat daarop uit is om die ideaal van verenigde Afrikane ondermyn. Dis hulle wat stamgebondenheid bevorder. Volgens hom sal die ANC nie by die Internasionale Monetêre Fonds óf die VSA geld gaan bedel nie, want hulle missie is om Afrika te verdeel en te heers.    

Dis in dieselfde week dat die Wêreld Ekonomiese Forum se Afrika-beraad in Kaapstad gehou word. Die tema van hierdie jaar is soos volg: "Die skepping van inklusiewe groei en 'n gedeelde toekoms in die Vierde Industriële Revolusie." Meer as 1 000 streek- en wêreldleiers in regering, besigheid, burgerlike samelewing en vanuit die akademie woon dit by. Die doel is om nuwe streeksvennootskappe, entrepreneuriese en aanpasbare leierskap te ondersoek ten einde gedeelde welvaart en 'n volhoubare toekoms vir alle Afrikane te bevorder en mee te bring.

Mense ongeag hul velkleur, hul etnisiteit, hul geloof, hul status, hul statuur en verteenwoordigend van lande dwarsoor die wêreld en met verbintennise met invloedryke instellings soos die Wêreldbank en die Internasionale Monetêre Fonds woon die geleentheid by. Met een doel voor oë: om Afrika en Suid-Afrika vorentoe te neem. Terloops, volgens die Stad Kaapstad het die beraad 'n direkte ekonomiese inspuiting van R19 miljoen meegebring. Dit is bykomend tot die ekonomiese voordele en werkgeleenthede wat dit verder geskep het.

Tydens die beraad het President Ramaphosa sy toewyding tot sy eie doelwit van R1,2 triljoen se investering in Suid-Afrika bevestig en gesê dat 'n tweede Beleggingsberaad van stapel gestuur sal word. Volgens hom beklee Suid-Afrika die 82ste plek uit die 190 ekonomieë op die Wêreldbank se ranglys wat die gemak waarmee sake in die onderskeie ekonomieë gedoen kan word, meet. Hy wil 'n ekonomie bou waarby alle Suid-Afrikaners kan baat vind en doen daarom 'n beroep op alle beleggers, spesifiek plaaslike beleggers, om hom te ondersteun. 

"We want and need foreign direct investment, and scaling up domestic investment is the necessary catalyst. We all want to see a South Africa that is thriving and prosperous. We all want to see a South Africa where all our citizens enjoy equal opportunity to make a better life for themselves." Aldus President Ramaphosa.

Twee leiers van dieselfde party met uiteenlopende standpunte. Terwyl die een sy uitlatings oor die etniese boeg gooi en wit mense, die VSA en die IMF blameer vir alles wat in die land verkeerd loop, is die ander een besig om met afgevaardigdes van dwarsoor die wêreld te flikflooi. 

Hierdie botsende standpunte is op feitlik elke beleidsterrein ter sprake. Selfs op begrafnisse. Die verdeeldheid in die ANC is sigbaar en tasbaar. Tog word daar hard probeer om 'n beeld van eenheid voor te hou. Wie is besig om wie te mislei?

Daar gaan nie 'n dag verby wat nie gekenmerk word deur botsende standpunte deur ANC-kabinetslede en leiers oor grond, die  Reserwebank, nasionale gesondheidsversekering en die ekonomie nie. Die reaksie op Minister Tito Mboweni se hervormingsvoorstelle vir die ekonomie is 'n sprekende voorbeeld. 

Onderlinge getwis spoel ook nou al oor na regsgdinge oor naamskending tussen eertydse kaders! Waar is die partydissipline? Waar is die etiek? Waar is die toewyding aan die land en om landsbelange eerste te stel?

Die politiek van gemene spel is egter nie 'n tuiste vir edelheid, eerlikheid en diensbaarheid nie. Nog minder fokus dit op wat in die beste belang van die land en al sy mense is. Dit gaan oor eiebelang. Die verkoop van die siel vir eie gewin. Die speel van die spel om polities te oorleef, om die mag te behou. En om jou politieke invloed ongeag of jy onder dwang of vrywilliglik van jou magsposisie moes afstand doen, nog steeds op 'n koverte of onderduimse manier te laat geld. 

Watter beter illustrasie is daar in terme van die politiek van gemene spel as dít wat tans by die Zondo-kommissie se verhore afspeel? Dieselfde mense wat hul posisies te danke het aan hul politieke affiliasies, hul ideologiese oortuigings en wat kwansuis tot die struggle toegetree het om 'n demokratiese land tot stand te bring, word nou vir staatskaping aan die kaak gestel. Die politiek van gemene spel het hulle ingehaal. 

Nié net voor die Zondo en vele ander kommissies nie, maar ook in al die staatsondernemings wat op die rand van bankrotskap is, ons sukkelende ekonomie, dalende belastinginkomste en ons verswakkende fiskale posisie. Voeg daarby onder meer die groeiende werkloosheidsyfer, groeiende tekort op die lopende rekening, swak dienslewering op munisipale vlakke, disfunksionele regeringsdepartmente, agt uit tien kinders in Suid-Afrika wat weens swak onderwys nie kan lees en skryf nie en die emigrasie van kundiges uit die land dan bevind ons ons reeds op 'n glybaan op pad na 'n mislukte staat.

Waar laat dit elke Suid-Afrikaner wat verbind is tot die uitbou en handhawing van ons demokrasie? Wat die Nasionale Grondwet eerbiedig en die waardes en ideale daagliks uitleef? En wat vir sy nageslag en elke ander Suid-Afrikaner 'n toekoms van voorspoed, vrede en vryheid van keuse wil verseker? 'n Meerderheid Suid-Afrikaners is hiertoe verbind. Tog laat ons toe dat 'n minderheid ons emosies, aspirasies, ons verhoudinge met ander, ons medemenslikheid en die belange wat ons vooropstel vir die land kaap. Dit geld ook vir ons staatsinstellings. Dit verlam ons, maak ons magteloos en polariseer ons.   

Kom ons gaan na die tekenbord en stel 'n plan op wat ten doel het om die hoofstroom van die burgerlike samelewing oor grense heen te verenig. Mense ongeag hul velkleur, etnisiteit, geloof en gender begin toenemend dieselfde sentimente te deel. Hulle deel dieselfde waardes. Hulle is moeg vir die leë beloftes, misdaad en verval in die breë. Terwyl sekere politici in leiersposisies hulle besig hou met die politiek van gemene spel en magspeletjies speel, moet die hoofstroom hulself besig hou met die uitleef van die politieke waardes en ideale  soos vervat in ons Nasionale Grondwet. 

Die Republiek van Suid-Afrika is een, soewereine, demokratiese staat gegrond op die volgende waardes:

  • Menswaardigheid, die bereiking van gelykheid en die uitbou van menseregte en vryhede.
  • Nierassigheid en nieseksisme.
  • Die oppergesag van die grondwet en die heerskappy van die reg.
  • Algemene stemreg vir volwassenes, 'n nasionale gemeenskaplike kieserslys, gereelde verkiesings en 'n veelpartystelsel van demokratiese regering, om aanspreeklikheid, 'n responsiewe ingesteldheid en openheid te verseker.

Instellings soos die AHI Wes-Kaap, Agri SA, die ATKV en vele ander organisasies het in die verband 'n kritieke rol om te vervul. Daar moet egter onder geen omstandighede toegelaat word dat dieselfde Grondwet waaraan ons op voetsoolvlak in woord en daad gestalte gee op enige wyse deur ons eie lede en deur enigiemand anders gekompromiteer word nie. 

In die verband het Agri SA verlede jaar deelgeneem aan die Grond Adviespaneel, maar onsself die reg voorbehou om 'n alternatiewe verslag na die tafel te bring. Die voorstelle wat Agri SA onder meer verwerp is enige verandering aan Artikel 25 van die Grondwet. 'n Vergoedingsbeleid vir onteiening gegrond op 'n vaste formule en dat mense wat grond geërf het verskillend hanteer word as diegene wat na '94 grond gekoop het. Geen private eienaarskap in kommunale gebiede. Die instel van 'n grondbelasting. Grondplafonne. Die regulering van grondbesit deur buitelanders. 

Talle hofuitsprake die laaste tyd wat verband hou met die grondkwessie bevestig die standpunte wat deur Agri SA in sy alternatiewe verslag gehuldig word. En dit bevestig net weer die belangrikheid en rigtinggewendheid van die Nasionale Grondwet. Suid-Afrika is 'n regstaat waarin almal se regte erken, beskerm en bevorder moet word. Maar daar rus ook 'n verantwoordelikheid op ons almal om 'n balans tussen ons regte en verantwoordelikheid te handhaaf. Om die politiek van gemene spel met die politiek van waardigheid te troef. In die verband was President Rooseveldt die volgende mening toegedaan: "The most practical kind of politics is the politics of decency."

Bly egter waaksaam. 

Die 19de eeuse Duitse filosoof George Wilhelm Hegel het die volgende te sê: "What experience and history teaches us is that people and governments have never learned anything from history, or acted on principles deduced from it." Dit weet ons te goed. Die politiek van spel het 'n uitmergelende en neerdrukkende storie in die verband te vertel. 

Tog is Hegel ook die volgende toegedaan: "Nothing great in the world has ever been accomplished without passion." Kom ons bou met oortuiging saam as wit, bruin en swart aan die groter saak. Dit is om 'n droomland en regstaat te bou waarin almal van ons 'n blink toekoms het. Met passie en oor grense heen, hierin lê die geleentheid. 

  • 1

Kommentaar

  • Christo plaas sy vinger vir die soveelste keer op die pols van 'n verwarde en versteurde SA.
    Die Sweedse meisie se optrede en toespraak in New York dui die weg....weg met "grootmense " se mooipaatjies en nasionale planne.
    Begin vee voor ons eie deure.....saam...soos Christo se.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top