Die plaagdokter: "Doctor Schnabel"

  • 4

Die bekende arts en rubriekskrywer Heinz Mödler het ’n illustrasie by sy onlangse artikel oor die 17de-eeuse gebruik van maskers gehad (Die Burger, Woensdag 15 April). Dit toon die kleed en voëlsnawelmasker wat deur die 17de-eeuse Fransman Charles de L’Orme tydens ’n plaaguitbreking ontwerp en gedra is. Wat my aandag getrek het, was ’n aantal versies onderaan die prent, weerskante van die dokter se vreemde figuur. Elke vers is ’n mengsel van redelik leesbare Duits, en frases of woorde in Latyn. Verseindes rym, of dit nou Duitse of Latynse woorde is. Ek het die illustrasie op die internet gaan soek. Daarop blyk dit dat die gediggie heelwat langer is as die stukkie daarvan wat by Mödler se artikel gebruik is. Onder die versies is daar, links, ’n tekening van mense wat skynbaar vreesbevange van ’n klein weergawe van dieselfde figuur weghardloop. Regs word van die mees bekende geboue van die Rome van destyds uitgebeeld.

Illustrasie: verskaf

Eers ’n bietjie meer agtergrond: Hierdie gravure is in 1656 deur die uitgewer Paulus Fürst (1608–1666) van die Duitse stad Neurenberg gepubliseer, toe daar juis ’n uitbreking van die sogenaamde Swart Dood in Italië gewoed het – ongeveer 145 000 mense is glo in Rome oorlede, bykans 300 000 in die naburige Napels. Bo is ’n opskrif in Duits: "Doctor Schnabel". Onderaan is die syfer "I" en, in Latyn, "Columbina ad vivum delineavit", oftewel Duifie het d"it volgens ’n lewende model geteken", en dan: "Paulus Fürst excudt". Die derde woord hier is ’n standaard-uitgewersafkorting vir excudit = "het gedruk". My internetbron is onseker of Fürst ook die kunswerk geskep het, en of hy dit slegs gedruk het. Die naam Columbina is waarskynlik ’n skuilnaam, afgelei van die Latyn vir ’n duif, columba. Die byvoeglike naamwoord columbinus het twee betekenisse: "soos ’n duif" of "duifkleurig/grys". Die -a-uitgang dui op ’n vroulike kunstenaar. Dis bekend dat geleerdes in die 16de en 17de eeue dikwels hulle vanne vergrieks of verlatyns het. So het Schwartzerde, die Duitse hervormer, Melancthon geword, en die Nederlandse Van den Kerkhof het Kerkovius geword. Moontlik was die kunstenaar se van terugvoerbaar na die Duitse woord vir "grys", grau. Daar was wél ’n (Nederlandse) vroulike graveerkunstenaar met die voorletters GR, Geertruyd Roghmann (1625 – 1657), maar om te raai dat sy hierdie Columbina was, is té vergesog.

Nog verder na onder is daar (in Gotiese skrif, wat tot in die 20ste eeu dikwels in Duitsland gebruik is) ’n redelik saaklike beskrywing van die mondering wat deur De L’Orme ontwerp is, maar hierdie bepaalde dokter is blykbaar in Rome werksaam, of liewer, op pad Rome toe.

Die Duitse konvensie om hoofletters vir naamwoorde te gebruik word nie in alle gevalle in die gediggie gehandhaaf nie, en aan die ander kant begin heelwat van die Latynse woorde onnodig met ’n hoofletter, maar die geheel is redelik maklik om met behulp van twee woordeboeke te ontsyfer. Dit is ’n voorbeeld van ’n sogenaamde makaroniese rympie, waar twee tale saam in elke reël voorkom, ’n digvorm wat blykbaar in die Middeleeue gewild geraak het (gedeeltes van die bekende Carmina Burana van 1230 wissel so Engels en Latyn af). Dit kom vandag ook nog voor, ook in gesprekke en niepoëtiese vertellings, veral in veeltalige lande soos Suid-Afrika. Dink maar aan Kaaps, deurspek met Engelse woorde, of luister na twee Xhosasprekendes as hulle eers lekker gesels: Die gesprek slaan dikwels oor na Engelse uitdrukkings, veral met verwysing na datums en tyd.

Die gediggie, in die normale kursief van die tyd, met sy lang s’e en met die Latynse woorde vetgedruk, met my taamlik letterlike vertaling daarnaas, lui so:

Der Doctor Schnabel von Rom

Vos creditis, als eine fabel,

Quod scribitur vom Doctor Schnabel

Der fugit die Contagion

Et aufert seinen Zohn darvon,

Cadevera sucht er zu fristen

Gleich wie der Corvus auf der Misten

Ah credite, zihet nicht dort hin,

Dann Romae, regnat die Pestin,

 

Quis deberet sehr erschrecken

Für seiner Virgul oder stecken,

Qua loquitur, als war er stumm,

Und deutet sein Consilium.

Wiemancher Credit ohne zweifel

Das ihm tentir ein schwartzen Teüfel

Marsupium heist seine Höll

Und aurum die geholte seel.

Dokter Snawel van Rome 

Julle glo, asof dit ’n storie is,

Wat geskryf word van dokter Snawel

Wat die infeksie ontvlug

En sy seun daarvandaan wegdra,

"Hy soek lyke om te vreet       

Net soos die kraai op ’n mishoop."

Ai, glo dit: Hy trek nie elders weg

As na Rome, die Pes heers daar.

 

Wie sou moes vreeslik skrik

vir sy lat of die hou (daarvan)

waarmee hy praat, anders was hy stom,

en daarmee sy raad aandui?

Hoewel sommiges sonder twyfel glo

dat ’n swarte duiwel hom teister,

heet sy "hel" ’n "buidelsak"

En goud, die siel wat "gehaal" is.

 

Maar wat was die bedoeling met hierdie twee syskriffies? Waarom sou die prosa-onderskrif nie genoegsame verduideliking van hierdie 17de-eeuse "PPE"-drag (personal protective equipment) wees nie? Klaarblyklik is fopnuus nie net ’n 21ste-eeuse verskynsel nie. Mense het blykbaar destyds geskrik vir die "voëlgesig" met sy "kristalglas"-bril (so beskryf die Duitse onderskrif dit) en die eienaardige, lang, wasgesmeerde kleed en handskoene. Gou ontstaan daar ’n verklaring: Die dood is tydens die Pes alomteenwoordig; die vreemde "voël" word telkens gewaar, op pad na waar mense die siekste is, soos wat die dokter die sterwendes besoek. Dus: "Dié vreemde gedaante wil lyke opvreet!" Hierdie dokter is nou op pad Rome toe, waar die Pes op sy ergste is.

En die lat, waarvoor die mense verder terugdiens? Hier werk ’n 21ste-eeuse verduideliking goed: Die lat moes blykbaar die goeie dokter help om ’n "sosiale afstand" te handhaaf. Maar hoekom kon hy dan nie mense net aansê om pad te gee as hulle te naby aan hom kom nie? Want hulle sou hom nie hoor nie – die "snawel" is volgeprop met welriekende kruie en speserye om die dokter se werk draagliker te maak. Dit moet help om die stank van lyke te demp én die moontlikheid van aanraking deur besmette lug vir hom te verminder. Blykbaar was hierdie kruieprop so dig dat dit sy spraak onhoorbaar sou maak – hy sou stom wees, sê die gedig immers. Vandaar die lat, om beide ’n veilige afstand aan te dui en diegene wat nie wil hoor nie, te laat vóél.

Die arme dokter is ook verder beswadder: "Dis ’n duiwel wat hom so jaag om lyke op te vreet!" Inteendeel, die enigste leë holte wat hy saam met hom dra, is nie die poort na die hel nie, maar ’n buidelsakkie. Dis vermoedelik onder sy kleed, waarskynlik om die medisyne wat hy ronddra, ook teen besmetting te beveilig. En die dokter self? Sy siel is hemels, dis van goud, dis nie deur die duiwel weggedra nie. Dit verwys blykbaar na die algemeen geldende voorskrif van die tyd dat siekes nie aan die dood moet dink nie, maar aan "goud, silwer en ander dinge wat die hart vertroos" – aldus GL Townsend in die tydskrif The History of Medical and Allied Sciences, 20:276 (1965).

My bronne vertel verder dat hierdie uitbeelding blykbaar in satiriese navolging is van ’n soortgelyke, maar ernstige, gravure wat "’n Mondering teen die dood" uitbeeld, ook in 1656 deur die uitgewer Gerhard Altzenbach (ca 1595–1672) van Keulen gedruk. Slegs die bewoording van die sy- en onderskrifte verskil. Onderaan hierdie weergawe, in Gotiese skrif, is daar ’n saaklike beskrywing van die mondering, en aan weerskante van die figuur staan dieselfde inhoud: links in Latyn, regs in Frans. Fürst se gravure (sien hierbo) is die spieëlbeeld daarvan; sy dokter se snawel wys na links, dié van Altzenbach na regs.

  • 4

Kommentaar

  • Jo-Marie Claassen

    Dankie vir die dankie, Sarie! Dit was die vreemde gediggie wat my aandag getrek het. Ek kon aanvanklik nie agterkom watter taal dit is nie, en toe sien ek dis twee tale. Die res het uit minder as ’n uur se Google gekom.
    Jo-Marie

  • Koos Holtzhausen

    Dankie, Jo-Marie vir die deeglike speurwerk en die interessante artikel. Daar is niks nuuts onder die son nie.

  • Jo-Marie Claassen

    Ja, ek hoor toe in die naweek op RSG dat ene Brown in die agttiende eeu danksy 'n soortgelyke mondering tydens 'n pesuitbraak in die Skotse stad Edinburgh veilig as dokter die siekte oorleef het, nadat baie ander dokters gesterf het. Toe moes die Edinburgh Stadsraad lewenslank vir hom 'n enorme fooi uitbetaal, ter nakoming van 'n onbesonne belofte wat hulle, met die aanname dat hy soos sy voorgangers die pes nie sou oorleef nie, aan hom gemaak het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top