Die pasiënt as vennoot deur Dawie van Velden: ’n resensie

  • 2

Die pasiënt as vennoot deur Dawie van Velden
EAN: 9781485306986
Protea Boekhuis

Daar is twee plekke wat ’n gesonde mens ten alle koste moet vermy. Die eerste is die spreekkamer van ’n geldgierige mediese dokter, en die tweede is die internet.

Kom ons begin by omie Dokter. Op my ouderdom is ek pasgemaakte prooi vir dokters wat wil geldmaak, want die arts kan enige plek aan my liggaam raak en fout vind. Die enigste probleem hiermee is die absurd kort tydjie wat sommige dokters aan jou toestaan, teenoor die verlammende rekening wat jy daarna ontvang. Voor ek gekruisig word (diagnose na ’n CAT-skandering, sonar, X-strale en laser: “daar is gate in jou hande”), moet ek dit duidelik stel dat nie alle artse só ingestel is nie, en dat ek onwrikbaar aan my huisdokters glo.

En dan die internet. Donald Trump het nie fake news ontdek nie en Rusland het dit slegs verfyn – die ware onwikkelaars en verspreiders van fopnuus is die alternatiewe mediese praktisyns van die kuberruim. Homeopatie, kitsgewigverlieskure, magneetarmbande, koperarmbande, kristalle en konkoksies is herhaaldelik deur wetenskaplikes as kwaksalwery ontbloot deur dit aan wetenskaplike ondersoek bloot te stel. En tog floreer hierdie skadubesigheid.

Hoe verken die leek dan hierdie oorweldigende aanslag van bedenklike produkte en kure?

Die leek word ten sterkste aangeraai om dr Dawie van Velden se nuutste boek te lees.

Vroeg in die voorwoord lê die skrywer al sy vinger op die probleem: “... het ek bewus geword van die behoeftes en onkunde wat daar onder die publiek oor gesondheid en siekte bestaan. Dokters het dikwels nie genoeg tyd om aan pasiënte te verduidelik wat skort nie.” Hoe tragies en hoe waar is hierdie stelling nie. Pasiënte kry beter waarde vir geld wanneer hul motors gediens word en die werktuigkundige die probleem verduidelik en daarna die uitgediende onderdeel as bewys van vervanging toon.

Die aanslag van dié boek sny deur mites en fokus bowenal op die wetenskaplike metode, ons enigste verweer teen onkunde: die wetenskap is bloot gesistematiseerde kennis wat selfregulerend is. Maar die boek gaan ook verder, omdat die holistiese benadering aangespreek word waar liggaam, siel en gees as ’n geheel beskou en behandel moet word.

Wat hierdie werk nog meer indrukwekkend maak, is die eenvoud en toeganklikheid van die teks. Ek wil graag voorstel dat dit verpligte leesstof word vir jongmense juis omdat die skrywer pleit vir ’n lewenslange betrokkenheid en verantwoordelikheid vir ons eie gesondheid. Die pasiënt as vennoot verskyn net betyds om ons te waarsku teen universele kwaksalwery, maar meer belangrik, om ons aan te moedig om funksionele en lewensgewende vennootskappe met ons mediese dokters te smee.

  • Foto's van Dawie van Velden en Dave Pepler: Naomi Bruwer
  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top