Die paartie-tapes

  • 2

Foto: https://pixabay.com/photos/cassettes-sound-carrier-5148602/

Dit was die dae van kassette toe Springbok Hits met ’n TDK-kasset van die radio af opgeneem is. Die beginstukkie was dikwels afgesny omdat die ou nie betyds record-play kon druk nie. Bekende white noise van daardie tyd was die agtergrondgeruis van grondpaaie as jy na plate geluister het – en baie was dankbaar vir kassette, want dit was, nou ja, tegnologies ’n groot vooruitgang. Springbok Hit Parade het nie oorspronklike kunstenaars uitgegee nie. Nee, mfp (Music for Pleasure) het die plesiermark geteiken. Dekades later het die Springbok Nude Girls in Stellenbosch tot stand gekom. Die plaatomslae met die skrapsgeklede meisies was waarskynlik gerig op die jonger mark, veral die troepe van die eertydse SAW. Die Pop Shop-plate wat die oorspronklike songs bevat het was duurder. In die ‘80’s het Now that’s what I call music 1, 2, 3, ensovoorts vlamgevat; later was dit net NOW 30, NOW 31, NOW 32 ...

O, en as daar “Dolby” op jou musiekalbum verskyn het, was die kwaliteit beter, want die hiss was laer.

.......

Vandag se generasie het nie ’n vaagste benul van die frustrasies – en vreugdes – wat die musiekliefhebbers van die sewentiger- en tagtigerjare beleef het nie.

.........

Vandag se generasie het nie ’n vaagste benul van die frustrasies – en vreugdes – wat die musiekliefhebbers van die sewentiger- en tagtigerjare beleef het nie. As jou tape se lint kroeserig gefrommel het, was dit waarskynlik koebaai aan jou gunstelingalbum. Daar was wel ’n soort remedie, ’n magiese kasset genaamd head cleaner wat jy by die naaste CNA kon koop om jou kassetspeler skoon en weer klopdisselboom te laat loop, maar niemand weet regtig of dit gewerk het nie. As bloedjong DJ vir die grootmense se partytjies het ek my toerusting leer ken; ook die moeisame en beproewende ge-rewind en fast forward van die bande, die skril getjirrr om by ’n spesifieke song uit te kom. In die sewentigerjare het die hoëstroustelle soos meubelstukke gelyk, maar iewers was daar ’n kassetspeler, die fokuspunt van die gaste se belangstelling.

Ek was seker so vyf, ses jaar oud toe my ma die paartie-tapes toegesluit gehou het in die imbuia-bal-en-klou-lessenaar in die studeerkamer. As jy gebore was in ’n familie  musiek-elitiste, streng klassiek geskool, was die paartie-tapes die een of ander guilty pleasure wat slegs tydens partytjies uitgehaal is. As ek terugdink, is dit vreemd dat my ouers na die kassette verwys het as “paartie-tapes”, want hulle het altyd ’n suiwer en korrekte Afrikaans gepraat – ek bedoel gebesig – en dié verwysing moes iets te doen gehad het met die geheim van die verbode vrug in die klein lessenaarlaaitjies. Wat het régtig tydens die partytjies gebeur? Want die paartie-tapes was slegs vir partytjies gereserveer. Ek het grootgeword met die swaar en soms muwwe klank van klassieke komponiste wat deur die huis weergalm, gesigte wat stoïsyns met hulle krullerige pruike vanuit die portretrame na my gestaar het.  

Ek was nie net DJ tydens die partytjies nie, ek was die bar lady ook. “Net een vingertjie,” sou my ma maan wanneer die huispartytjie ’n aanvang neem. Een vingertjie het “een tot” beteken en ek kon nooit verstaan waarom sy gedink het ’n kind se vinger is dieselfde grootte as ’n volwassene s’n nie – of het sy ’n baie klein single tot bedoel? Selfs in ’n liberale huishouding sou die begrip “tande tel” ’n nuwe dimensie kry: Ek het geleer om te swyg as ek wou deel uitmaak van die geselskap. Wanneer my ma se skrywersvriende kom kuier het, was die openingsrede ’n halfuur lange geswets oor die een of ander “donnerse resensent” voor die kuiergees ’n aanvang neem. Nee, ek het geleer om waar te neem. Voorskools reeds was ek ’n koelbloedige klein observer van menslike gedrag.

Ek het gedraf tussen die musiekkamer, waar daar bedags musiekles gegee is, en die sitkamer met die klein geelhoutkassie waarin die drank vér weg en diskreet weggesteek was. Richelieu en Krest-gemmerlim. Die grootmense het in die musiekkamer gekuier. Ek het geweet hoeveel die volwassenes kon drink en het hulle toleransie uitgedaag: Twee vingertjies het gou drie, of selfs vier geword. Ek het die kuiergaste se glase dopgehou en was gretig om weer op te vul. My eerste en vernaamste joppie was egter om DJ te speel en dan het my ma met ’n kopersleutel die paartie-tapes uit die stroewe ou lessenaar ontsluit. Dieselfde vlytige vingers wat die drank afgemeet het, het nou die kuns van rewind en fast forward op die paartie-tapes geken. ’n DJ het immers ’n aanvoeling vir die ontvouing van die stemming van ’n partytjie en dat musiek en drienks in sync moet bly.  Iewers het ek  sélf ’n sluk van die brandewyn probeer vat, maar my neus was aan die brand en ek het na my asem gesnak. Nee, het ek terstond besluit, ek hou niks van drank nie. Ek het ander kwellinge gehad: Wat was die binnegeheim van die paartie-tapes? Wie het ’n affair met wie gehad?

Musiek is ’n baie persoonlike ding. En die musikante van hoofstroomtreffers ken die resep – ’n song moet generies maar steeds spesifiek genoeg wees sodat duisende of miljoene luisteraars daarmee kan identifiseer. Menslike ervarings is tot vervelens toe soortgelyk. Soos byvoorbeeld liefdesteleurstellings … sulk-musiek gaan nooit uit die mode nie. Hierdie song is nét vir my geskryf; dit is presiés hoe ek voel. 

Elke musiekgenre het egter sy kwota clichés; klassieke musiek ook.  Mozart, Haydn en Vivaldi kan dalk as die popsterre van die klassieke toneel gesien word. “Vier Seisoene”, “Eine kleine Nachtmusik” ... en Hooked on classics. O, en om van André Rieu nie te praat nie. Nou ja, dan was Johann Strauss seker ’n dans-DJ; Beethoven was Duitse underground en Wagner was waarskynlik die eerste Goth.

As kind het ek gereken “You light up my life” was genuinely ’n mooi song en ek kon die grootmense se partytjie só open. Baie van die ’70’s se populêre musiek was egter deurdrenk met die stroop. Die meeste mense wat nie die woorde van die songs geken het nie, het wel die refreine onthou en innig saamgesing – dit was sulke trekkerige refreine en dan het mens nie aldag mooi geweet of die kasset gerek was nie en of die musiek oorspronklik so geklink het nie. 

’n Meer opwindende (of kreatiewe) keuse vir die afskop van ’n paartie was “Bad moon rising” en die gaste het daarna as “Hasie” verwys.

I see a bad moon a-rising
I see trouble on the way
I see earthquakes and lightnin'
I see bad times today.

As bar lady het ek in dié stadium nog versigtig te werk gegaan met die voggies. Dit was ’n kwessie van tyd voor ek ondeund die sopies sou vermeerder. Ek het die een of ander eienaardige aanvoeling vir die lees van menslike gedrag gehad, vir die trant en toon van die gesprek, maar ook vir die subtiele nieverbale nuanses wat tussen die gaste uitgespeel het. “Living next door to Alice”, of “Sylvia’s mother” sou gewilde opvolgkeuses wees. Geen ’70’s-partytjie was sy sout werd sonder ’n nommertjie van Neil Diamond nie, en wat sou ek speel – “Song sung blue” of “Sweet Caroline”?

Die partytjie se binnelewe was tasbaar soos swart fluweel. Tot die grootste introvert in die hoek van die vertrek het begin ontdooi, en as een van die gaste sou uitroep “Nou het ek ’n lekker lyf!”, sou ek die emosionele intimiteit oopdraai. “Love is a beautiful song”:

Love is a beautiful song
La-lah, la-la-lah, la-lah
Love is a beautiful song
La-lah, la-la-lah, la-lah
Love is a new way of living
A new way of starting each day
Millions of people all over the world
Know that love is a beautiful so-ong
Love is a beautiful song
La-lah, la-la-lah, la-lah ...

En ”Sailing” van Rod Stewart. Die gaste het nou salig weggeseil in die eufemisme wat die bottel bring. En, terwyl hulle seil ... “Bridge over troubled water”. Het die grootmense ooit gemerk hoe clever ek te werk gaan? het ek gewonder, en besluit op “I can see clearly now”. Hier by ronde drie, vier rond het hulle uitkyk op dinge inderdaad verhelder en kon ek The New Seekers se “Never ending song of love” gekies het. Maar dit was weer tyd om ’n cliffhanger in te bou, want die partytjie se intensiteit was besig om toe te neem.

In die ’70’s is “Rivers of Babylon” van Boney M as duiwels bestempel – waarom, kon ek nooit verstaan nie. Dit was immers geskoei op Psalm 137. Dalk het die verwysing na Sion – of Rastafariërs, of perdalks die metafoor van subkulture wat onderdruk word – die Afrikaanse gees van patriotisme (lees apartheid) bedreig. In ieder geval, dit was ’n lekker song om gaste mee te entertain. Of “It’s a heartache” – ’n energieke maar melankoliese nommer was dalk nou net die regte medisyne, gevolg deur Dan Hill se “Sometimes when we touch”. Ouch, ja, want die spul volwassenes het teen dié tyd nogal emosioneel begin raak en inderdaad meer aan mekaar begin vat. Na ’n paar ure van rewind en fast forward en die geskril van die paartie-tapes het grense tussen die gaste vervaag. Mense raak op verskillende maniere hoenderkop. Sommiges gaan aan die huil, ander lag, ánder soek ’n faait. Dit was nou tyd vir “Mama Tembu’s wedding”. Op hiérdie ikoniese nommer het die grootmense begin dans en dit “windsurfing” genoem. Selfs die grootste rassiste het gatgeswaai op Singana se song. (In die ’80’s het die jonges se gedans gelyk soos mense wat water pomp, maar dís weer ’n storie vir ‘n ander dag.) Kyk, ek verpes die cliché van mense se tone wat omkrul van lekkerkry, maar soms is dit wáár. Deel van die repertoire was “Patricia the stripper”:

She says God made her a sinner just to keep fat men thinner
As they tumble down in heaps before her feet
They hang around in groups like battle-weary troops
One can often see them queue right down the street
You see Patricia, or Delicia, not only is a singer
She also removes all her clothing
For Patricia is the best stripper in town.

“Patricia the stripper” was ’n song wat in 1975 vrygestel is op Chris de Burgh se omstrede album Spanish train and other stories. Dit was aanvanklik verbied in Suid-Afrika. Skynbaar het die Russe dit gemastermind om die Amerikaners so ver te kry om bose musiek te vervaardig, spesifiek daarop gerig om die Suid-Afrikaanse jeug te besoedel en te korrupteer. As kind kon ek hierdie conspiracy theory nie kleinkry nie. En om alles te kroon het die Satanic panic van die ’80’s van Amerika oorgewaai na Suid-Afrika en was die duiwel behoorlik los toe Rodney Seale skole begin besoek om die jeug te waarsku teen die gevare van rockmusiek. Afrikaners het bekommerd verwys na “dié kommunis”, “dié antichris”, “dié satanis” – alles is gesien as een en dieselfde ding. Die bepaalde lidwoord “die” het die vyandige Ander op ’n afstand gejukstaponeer teenoor die edele Boerejeug. Lucifer as die sjarmante engel van musiek is met suspisie bejeën. Maar ook dít is natuurlik weer ’n storie vir ’n ander dag. Ja; Spanish train and other stories was hoog op Seale se blacklist. Tog is dit “Patricia” wat die paartie-tape gehaal het, nie “Spanish train” nie. Ek vermoed die kleurvolle stripper het beter ingepas by die partytjiestemming as De Burgh se donker en briljante allegorie oor God en die duiwel wat poker speel – ek sal nie vir seker weet nie. Ook nie of my ouers se Calvinistiese roots halsstarrig teëgeskop het teen daardie bose Spaanse trein nie. 

Daar is ’n fyn grens tussen lag en huil. Want wat sal ’n ouwêreldse huispartytjie tog sonder “Without you” van Harry Nillson wees? Ek het die nostalgie verder aangeblaas met “Mamy Blue”. Terloops, die skrywer Welma Odendaal het nie om dowe neute ’n kortverhaal, “Mamy Blue en ek onthou”, wat al vir blou jare opgeneem is in Die Afrikaanse kortverhaalboek, geskryf nie.  

.........

Ek moet bieg, die finale fase van my jeugdige DJ-dae op partytjies was waarskynlik die lekkerste een. Dit was meermale ’n tranerige gedoente en met die intuïtiewe opportunisme van ’n kind het ek geneul vir sweets, ’n kat of ’n nuwe speelding. En my sin gekry.

........

Ek moet bieg, die finale fase van my jeugdige DJ-dae op partytjies was waarskynlik die lekkerste een. Dit was meermale ’n tranerige gedoente en met die intuïtiewe opportunisme van ’n kind het ek geneul vir sweets, ’n kat of ’n nuwe speelding. En my sin gekry. Mense wat te veel drink voel skuldig teenoor kinders en raak dan baie vrygewig. Nóú was dit tyd vir country. In ’n neutedop handel countrymusiek oor die euwels van drank, dobbel en slegte vroumense. Met die getjank van ’n slide guitar se glissando’s en diep vibrato’s het die tragiese hoenderkopfase uiteindelik aangebreek. “Sunday morning coming down” was profeties. Vra die gaste wat oorgeslaap het omdat hulle te “moeg” was … En vra vir Kris Kristofferson. Of vir Dolly Parton wanneer “Jolene” bly smeek:

Jolene, Jolene, Jolene, Jolene
I'm begging of you please don't take my ma-a-a-a-n
Jolene, Jolene, Jolene, Jolene
Please don't take him just because you ca-a-a-a-n.

.........

Die fases van dronkenskap speel uit soos die onderskeie fases van ’n drama: Daar is ’n uiteensetting, ’n opbou, ’n klimaks, ’n ontknoping en dan die einde.

..........

Die fases van dronkenskap speel uit soos die onderskeie fases van ’n drama: Daar is ’n uiteensetting, ’n opbou, ’n klimaks, ’n ontknoping en dan die einde. Mense wat drink se gesigte begin te shapeshift. Hulle kakebene verslap en die wange droop in so ‘n jammergatuitdrukking. In hierdie fase lyk hulle oë kompleet soos PW Botha s’n – die wit van die oogappels in die onderste ooglede raak sigbaar. Hulle is nou luidrugtig, want ná die jammergatfase volg die beterweterige fase – dit is wanneer iemand se vinger opgaan omdat hy groot ’n wysheid met die geselskap te deel, maar dít wat hy wou sê, bly hom ontgaan.

Oor my vermoedens oor potensiële affairs op die huispartytjies kon ek nooit klaarheid kry nie. Die geheim is doodeenvoudig saam met die paartie-tapes terug in lessenaarlaaitjies weggesluit, tot ’n volgende keer.

Verlede week het ek hierdie verlore kassette begin herkonstrueer met die hulp van Spotify, ’n digitale diens wat niks aan die verbeelding oorlaat nie – maar daarmee saam het die betowering van die paartie-tapes vir ewig verdwyn.

  • 2

Kommentaar

  • Ek glo daaraan mens moet nooit sê die ou dae was lekkerder nie. Maar jy kan nie stry nie, dit was darem lekker dae gewees. Ek kan die huis, garage, waenhuis of watter plek ook al se paarties goed onthou. Was self DJ, barman, partykeer chauffeur ook gewees. Was ongelukkig nooit by genoeg/te veel van sulke paarties gewees nie. As daar 'n swembad op die erf was, was die pret eers lekker gewees. 'n Suksesvolle paartie is gewoonlik met 'n boksgeveg beëindig. Solank die poelieste net nie daar moes kom uithelp nie. Daardie dae het die manne mekaar nie geskiet of te erg verniel nie.

  • As dogter was jy baie bevoorreg om daai rol in die tagtigs te kry! Dit was nou n lekker storie. Plek-plek sing ek die liedjies saam en roep dit herinneringe van soortgelyke partytjies.
    Deel asb daai spotify speellys!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top