Die paar ure wat Suid-Afrika sonder 'n staatshoof was

  • 0

Fotobron: brieflywriting.com

Op 25 April 1961 is die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Wet 32 van 1961, in die Staatskoerant gepubliseer.1 Die dag vantevore het die destydse goewerneur-generaal, CR Swart, die wet goedgekeur deur die Afrikaanse teks daarvan te teken. Dit was een van sy laaste funksies in dié amp.

Artikel 121 van die 1961-Grondwet het bepaal dat die wet eers op 31 Mei 1961 in werking sou tree, "behalwe”, so het die wet gelui, “vir sover anders vereis (sou) word ten einde aan 'n bepaling daarvan gevolg te kan gee". Sekere artikels van die 1961-Grondwet het dus vóór 31 Mei 1961 in werking getree. Dit was hoofsaaklik daardie artikels wat bepaal het op welke wyse die Republiek se eerste staatspresident verkies moes word.

Onmiddellik nadat die Grondwet in die Staatskoerant gepubliseer is, het die destydse speaker van die parlement die eerste handeling kragtens die wet uitgevoer, en dit was om 10 Mei 1961 as datum vir die verkiesing van die eerste staatspresident te bepaal. Teen daardie tyd was dit al wyd bekend dat die dienende goewerneur-generaal, CR Swart, die Nasionale Party se kandidaat vir dié hoë amp sou wees.

Toe het daar 'n interessante ding gebeur. Teen die einde van April het die kantoor van die eerste minister, HF Verwoerd, aangekondig dat koningin Elizabeth goedkeuring verleen het aan mnr Swart se versoek dat hy met ingang 1 Mei 1961 van sy ampspligte as goewerneur-generaal onthef sou word. Die rede was voor die hand liggend: dit sou onvanpas wees dat mnr Swart, as dienende goewerneur-generaal, die bykomende status van aangewese staatspresident van die nuwe Republiek sou hê.

Maar wie sou vir die duur van Mei 1961 in mnr Swart se plek waarneem as goewerneur-generaal?

Om dié vraag te kan beantwoord, moet ek eers iets anders verduidelik. Terwyl Suid-Afrika nog ’n lid van die Britse Statebond was, was daar sekere bevoegdhede wat die goewerneur-generaal namens die Britse vors kon uitoefen. Dié bevoegdhede is oor die jare heen onder meer vervat in sogenaamde Letters Patent, of koninklike “ope briewe”. Dit was briewe van die Britse vors wat instruksies aan die goewerneur-generaal van die Unie bevat het en wat vir algemene openbare kennisname bekend gemaak moes word. Daar was vroeër jare ook sogenaamde Letters Close wat – soos die naam aandui – vertroulik gehou moes word.

In 'n Letter Patent van so ver terug as 1937 het die Britse koning bepaal dat as die amp van goewerneur-generaal van die Unie vakant sou raak, die hoofregter in sy plek moes waarneem. En so het dit dan gebeur dat die destydse hoofregter, LC Steyn, vanaf 1 Mei tot middernag op 30 Mei 1961 as goewerneur-generaal waargeneem het.

Op 10 Mei 1961 is Suid-Afrika se eerste staatspresident deur die kieskollege van die parlement in 'n geheime stemming aangewys. Mnr Swart is met 139 stemme teenoor die 71 stemme van oudhoofregter HA Fagan, wat die Verenigde Party se kandidaat was, verkies.

Op 31 Mei 1961 is mnr Swart as staatspresident ingehuldig deur die man wat tot om middernag die vorige dag nog in sy plek as goewerneur-generaal waargeneem het: hoofregter LC Steyn.

Slim regsgeleerdes het daarna gewonder wie Suid-Afrika se staatshoof was gedurende die paar uur tussen die geboorte van die Republiek om middernag op 30 Mei 1961 en mnr Swart se inhuldiging 'n paar uur later op die oggend van 31 Mei ... Skynbaar had Suid-Afrika gedurende daardie noodlotswangere ure toe mooitjies nie ’n staatshoof nie! (Nie dat dit vandag – 54 jaar later – nog saak maak nie!)

1 Vgl. in die algemeen Annual Survey of SA Law  (1961), ble 1 ev.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top