Die Oudtshoorniet wat nie toegelaat is om sy welverdiende vonnis uit te dien nie

  • 0

 

volstruise_wikipedia

Volstruise in Oudtshoorn (foto: wikipedia)

 

"Die beskuldigde is 'n leeglêer en niksnuts wat op sy vrou teer gedurende daardie tydperke in sy lewe wat hy nie in die gevangenis deurbring nie." So lui regter Baker se openingswoorde in sy uitspraak in S v Swiegelaar,[1] 'n Kaapse saak van 1979.

Die saak het op 'n outomatiese hersiening voor die regter gedien – 'n prosedure wat deur die strafproseswet gereël word en wat kortliks daarop neerkom dat as 'n landdros 'n persoon meer as 'n sekere aantal maande gevangenisstraf op 'n bepaalde klag oplê, sy vonnis outomaties deur 'n regter van die hooggeregshof hersien word.

Maar terug na ons storie: tussen 1957 en 1972 is Swiegelaar vyftien keer aan verskeie misdrywe skuldig bevind en onder meer gevangenisstraf ter voorkoming van misdaad opgelê.

Terwyl hy in die gevangenis was, het sy vrou – met wie hy in gemeenskap van goed getroud was – gewerk om haar en die kinders aan die lewe te hou. Uit haar verdienste het sy onder meer vir haarself klere gekoop.

Op 'n lentedag in 1978 het Swiegelaar, bloot omdat sy aandete nie betyds gereed was nie, sy vrou se klere ter waarde van R50 fyn en flenters gesny. Nou, in 1978 kon 'n mens nogal baie klere vir R50 koop en mev Swiegelaar – seker ook al behoorlik sat vir haar leeglêer-man – het hom gaan aankla. Die landdros van Oudtshoorn – "die dorp wat sy teenwoordigheid moes verduur", soos regter Baker dit gestel het – het Swiegelaar aan opsetlike saakbeskadiging skuldig bevind. Die ses maande gevangenisstraf wat die landdros hom opgelê het, het daartoe gelei dat sy skuldigbevinding en vonnis deur 'n regter hersien moes word, soos ek reeds verduidelik het.

Toe die oorkonde voor regter Baker geplaas is, het hy "baie teësinnig", om sy eie woorde te gebruik, gelas dat Swiegelaar onmiddellik uit die gevangenis vrygelaat moes word. "Die beskuldigde verdien die vonnis ryklik," het die regter gesê, "maar ongelukkig laat die reg nie toe dat hy hierdie welverdiende vonnis uitdien nie." Die regter het verduidelik dat ons gemenereg bepaal dat waar 'n man in 'n huwelik in gemeenskap van goedere sy vrou se klere verniel, of selfs verkwansel, sy magteloos is. Die rede is dat eiendom wat in die gemeenskaplike boedel val, onder die man se beheer, sy “maritale mag”, kom. In beginsel kan hy daarmee maak soos hy goeddink.

Die wetgewer het egter reeds in 1953 hierdie geweldig wye beskikkingsbevoegdheid wat 'n man wat in gemeenskap van goedere getroud is oor sy vrou se eiendom het, ingekort. Die Wet op Huweliksaangeleenthede[2] het beskerming verleen teen die man se maritale mag ten aansien van die vrou se onroerende eiendom wat sy met haar eie verdienste bekom het. Sekere roerende goed is ook deur hierdie wet beskerm, maar – ongelukkig vir mev Swiegelaar – nie die vrou se persoonlike klere nie.

In 1984 het die wetgewer nog verder gegaan en die man se maritale mag totaal afgeskaf by wyse van die Huweliksgoederewet.[3] Artikel 14 van die wet verleen gelyke beskikkingsbevoegdheid oor hul bates aan ‘n paartjie wat in gemeenskap van goedere getroud is. Dit is ‘n interessante wet wat in verstaanbare taal geskryf is, en wat gerus van naderby deur getroudes bestudeer kan word.

    [1]1979(2) SA 238 (KPA)

    [2] Wet 37 van 1953, nou grotendeels deur later wetgewing herroep.

    [3] Art 11 van Wet 88 van 1984

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top