|
||||||
Opsomming
Die oorgawe van hoofkommandant Marthinus Prinsloo en meer as 4 000 burgers gedurende die Anglo-Boereoorlog (Suid-Afrikaanse Oorlog) in die Brandwaterkom aan die einde van Julie 1900 het oënskynlik die Vrystaat as vegtende party uitgeskakel, en was tegelyk ook ’n groot terugslag vir die Boere se oorlogspoging in die algemeen. Die feit dat die Boere onder twyfelagtige omstandighede oorgegee het, en boonop sonder om enigsins weerstand te bied, het tot veel twis en komplotteorieë aanleiding gegee. En dan was daar ook nog ds. Paul Hendrik Roux se naïewe skakeling met die Britte nadat Prinsloo reeds sy bereidwilligheid verklaar het om oor te gee. In die ondersoek waarop hierdie artikel gebaseer is, word die oorlogsherinneringe van een van die hoofkarakters in die drama wat in die Brandwaterkom ontvou het, naamlik dié van ds. Roux, ontleed, in ’n poging om meer lig te werp op wat presies in Julie 1900 in die Oos-Vrystaat gebeur het. Die aanloop tot die oorgawe word bespreek, soos ook die nuwe strategie wat deur die Boere aanvaar is; die dilemma waarin Roux hom bevind het; sy verhouding met Prinsloo; die vraag na wie presies in bevel van die Boeremagte in die Brandwaterkom was; die omstrede krygsraadvergaderings; Prinsloo se onderhandelinge met die Britte; asook die uiteindelike Boere-oorgawe. Dié studie herbevestig die waarde van herinneringe en ander outobiografiese dokumente vir die rekonstruksie en verstaan van die verlede, maar beklemtoon ook hoe belangrik dit is dat sodanige dokumente met groot omsigtigheid, en dus ook baie krities, hanteer moet word. Die inligting wat in hierdie tipe bronne bevat word, moet – so ver as wat dit moontlik is – geverifieer en met inligting in argivale en ander bronne vergelyk word, soos wat dan ook in hierdie studie gedoen is.
Trefwoorde:Anglo-Boereoorlog; Brandwaterkom-oorgawe; C.R. de Wet; M. Prinsloo; oorlogsherinneringe; P.H. Roux; verraad; Vrystaatse magte
Abstract
The war reminiscences of P.H. Roux: an excuse, or a correct explanation of the surrender in July 1900?
The surrender of Marthinus Prinsloo and more than 4 000 Orange Free State burghers in the Brandwater Basin in the Eastern Orange Free State at the end of July 1900, seemingly knocked the Orange Free State out of the Anglo-Boer War (South African War) of 1899 to 1902. This was a severe blow to the Boer war effort in general. The fact that the Boers surrendered under dubious circumstances and without putting up a fight in the Brandwater Basin fed conspiracy theories and caused a lot of animosity.
In this study the reminiscences of one of the main characters in the Brandwater Basin drama, namely those written by the Reverend Paul Roux, are analysed in an effort to shed more light on the events that unfolded in the Eastern Orange Free State in the fateful month of July 1900. To understand what happened, it is necessary to discuss the events in the run-up to the surrender. This includes an indication of what forces were available to the Boers in the Basin. The new strategy that was adopted by the Boers is also explained; for example, how the Boer forces were divided into three main sections. Paul Roux now found himself confronted by a dilemma, because he did not know exactly what forces he was supposed to command, as well as not knowing what exactly his command relationship with Marthinus Prinsloo was.
In an effort to understand the clashes that in due course ensued between Prinsloo and Roux, brief biographical information with regard to both commanders is provided, including an indication of their military background and experience.
Marthinus Prinsloo (1838–1903) fought in several wars against black people. At the start of the Anglo-Boer War he served without any notable distinction on the Natal front before being transferred to the Orange Free State. Before the war, Paul Hendrik Roux (1862–1911) served the Senekal church congregation in the Orange Free State as their minister. When war broke out, he served as a chaplain to the Boer forces in Natal, but his views with regard to strategy and tactics soon attracted attention and gained such respect that he was appointed as a combat general ("vechtgeneraal") – something that elicited jealousy in certain quarters, including from Prinsloo.
In July 1900 these two disparate commanders found themselves in the Brandwater Basin and it was just a question of time before clashes would ensue regarding who held overall command in the Basin. From the sources consulted, including Roux's reminiscences (written in November 1900; see VAB, A305a), it is clear that there were two commanders of equal rank in the Basin, each with his own orders and own views of the strategic situation. In the meantime, Christiaan de Wet had left the Basin. Several controversial war council meetings ("krijgsraadvergaderings") took place in the Brandwater Basin, with Roux and Prinsloo trying to outwit each other. And all the while, the British forces, commanded by Lieutenant-General Archibald Hunter, were closing in, eventually sealing off all the mountain passes leading into, and out of, the Basin.
During the night of 27–28 July 1900 Roux was elected as overall commander of all the Boer forces that remained in the Brandwater Basin. But then Prinsloo and a number of other officers arrived at the war council meeting and demanded a new vote on the issue, and as a consequence, Prinsloo was elected as overall commander. The war council meeting then debated the issue of what to do next: continue with the military resistance against the British forces; ask for an armistice; or surrender? Sources contradict one another as to what exactly the war council decided to do, but what is a fact, is that soon afterwards, Prinsloo contacted Hunter and surrendered all the Boer forces in the Basin. Roux apparently protested, but to no avail.
Roux's reminiscences shed important light on the July 1900 events in the Brandwater Basin, but his views are – at least to an extent – contradicted by some of the other consulted sources. Roux clearly tried to vindicate his own actions and placed the blame for the debacle on Prinsloo's shoulders. Nevertheless, both Boer commanders' leadership and judgement leave much to be desired. This study once again emphasises the importance of reminiscences and other autobiographical documents in the reconstruction and understanding of the past, but also highlights the fact that these documents should be handled with the necessary circumspection, and that the evidence contained in such documents should – as far as is possible – be verified and compared with archival and other historical evidence.
Keywords: Anglo-Boer War; Brandwater Basin surrender; C.R. de Wet; Free State forces; M. Prinsloo; P.H. Roux; treason; war reminiscences
1. Inleiding
Die Anglo-Boereoorlog, of Suid-Afrikaanse Oorlog, het vir bykans drie jaar oor groot gedeeltes van suidelike Afrika gewoed. Die Boere het aanvanklik die inisiatief geneem en die Britse magte gevoelige nederlae toegedien. Die oorlogsgety het egter in Februarie 1900 teen die Boeremagte gedraai; die gesamentlike magte onder die bevel van genl. P.A. Cronjé het te Paardeberg oorgegee en Britse magte het die setels van beide die Oranje-Vrystaat (OVS) en die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) beset. In die OVS sou nog een Britse sukses, naamlik die oorgawe van die OVS-magte in die Brandwaterkom (einde Julie / begin Augustus 1900), byna die einde van die OVS-oorlogspoging beteken. J.D. Kestell (1920:80) beskryf in sy werk oor die lewe van genl. C.R. de Wet dié oorgawe, naas die oorgawe van Cronjé, as die mees ontmoedigende onheil wat die Boererepublieke getref het.
Die Brandwaterkom-oorgawe het in die geskiedenis van die oorlog ’n skandvlek vir die Boere geword. Om verstaanbare redes het die gebeure in aanloop tot en die oorgawe self minder aandag in die geskiedskrywing van die oorlog geniet. Wanneer egter deur die annale van die geskiedenis van die oorlog geblaai word, is daar talle verwysings in ongepubliseerde geskrifte wat oor die gebeure handel. Hierdie geskrifte sluit briewe, oorlogsherinneringe en ander geskrifte in. Een van die geskrifte, naamlik dié van waarnemende hoofkommandant P.H. Roux, bied ’n belangrike perspektief op die gebeure self. Dié geskrif is in alle waarskynlikheid deur Roux op versoek van dr. W. van Everdingen voorberei met die doel om dit in Van Everdingen se publikasie oor die Anglo-Boereoorlog in te sluit.
Uitgaande van die standpunt dat herinneringe en ander outobiografiese bronne van groot waarde vir die historikus is, maar met omsigtigheid hanteer moet word, en waar moontlik dus ook geverifieer en met inligting in argivale en ander bronne vergelyk moet word, bespreek hierdie artikel die inhoud van Roux se herinneringe. Die herinneringe is veral belangrik deurdat omdat Roux op die dag van die oorgawe waarskynlik die bevelvoerder van die magte in die Brandwaterkom was. Die manuskrip is ook om ’n verdere rede belangrik: Roux was na afloop van die oorlog baie ontsteld nadat hy die boek De strijd tusschen Boer en Brit van genl. Christiaan de Wet gelees het. Volgens Roux: “[H]et spyt my te moeten zeggen dat bykans de gehele zaak onjuistelyk werd voorgestel en dat, myns inziens, gy nergens zoo uit uw weg gaat om op blote gissingen en losse rapporten iemand [...] belachelyk voor te stellen als juist in myn geval” (Heyns 1930:15). Roux se herinneringe gaan vervolgens ontleed word ten einde vas te stel of dit ’n juiste verklaring van die oorgawe weergee, of bloot ’n verontskuldiging van Roux is. Ten einde die gebeure beter te verstaan, word waar nodig na ander geskrifte verwys om die gebeure in die regte perspektief te plaas.
2. Die manuskrip
Die herinneringsmanuskrip is in alle waarskynlikheid deur Roux op versoek van Van Everdingen voorberei. Dit is nie duidelik wanneer Roux hierdie versoek ontvang het nie. Die manuskrip, wat vir doeleindes van hierdie studie gebruik is, is gevind in die Vrystaatse Argiefbewaarplek. Die Roux-versameling bestaan uit twee blou kartonhouers. Die houers bevat ’n notaboek getiteld “Boekie met aantekeninge oor persoonlike redes vir oorgawe & ervarings as gevangene: Paul Roux, 3 Nov 1900” (VAB, A305a). Dié boek bevat ook preke van Roux, asook waardevolle inligting rakende die getalsterkte van die OVS-magte en die redes waarom Roux oorgegee het. Daarmee tesaam is daar ’n notule van ’n krygsvergadering (VAB, A305b) asook korrespondensie wat verband hou met die oorgawe. Van groter belang vir die doeleindes van hierdie artikel is ’n konsepweergawe van die gebeure in aanloop tot die oorgawe. Hierdie dokument is getiteld “De overgave van Prinsloo” deur P.H. Roux (VAB, A305c). Die aantekeninge is waarskynlik ’n eerste weergawe van die latere manuskrip.
Daarmee tesaam is daar die manuskrip self. Die manuskrip bestaan uit 24 handgeskrewe bladsye en ’n kaart. Die manuskrip is op A4-bladsye geskryf wat in twee gedeel is. Roux het die bladsye 1 tot 12 genommer. Gevolglik is elke tweede bladsy genommer. Ten einde verwarring te voorkom, is besluit om Roux se numerering te gebruik. Hierdie manuskrip is waarskynlik ’n voorfinale weergawe van die dokument wat aan Van Everdingen verskaf is.
3. Aanloop tot die oorgawe
Roux se weergawe begin op 5 Julie 1900. Op daardie stadium was die kommando’s van Ficksburg, Ladybrand, Thaba ’Nchu, Wepener en ’n gedeelte van die Winburg- en Smithfield-kommando’s sowat 10 km oos van Ficksburg en Senekal gekonsentreer. Hierdie afdeling van die OVS-mag was onder die bevel van veggenl. J. Crowther en het uit ongeveer 2 300 man bestaan. ’n Tweede afdeling, onder die bevel van hoofkommandant F.J.W.J. Hattingh, het die passe tussen die OVS en Natal beskerm. Net soos die afdeling onder Crowther, het Hattingh ongeveer 2 300 man onder sy bevel gehad. Die derde afdeling, onder die bevel van hoofkmdt. C.R. de Wet, het stellings in die omgewing van Bethlehem ingeneem. Hierdie afdeling het bestaan uit die kommando’s van Heilbron, Bethlehem, Kroonstad, Bloemfontein, Rouxville, Bethulie, Jacobsdal en Fauresmith en ’n gedeelte van die Winburg-kommando. Daar was ’n verdere kleinere afdeling van ongeveer 460 burgers onder die bevel van kmdt. S. Haasbroek. Die getalsterkte van die OVS-mag op 5 Julie 1900 word deur Roux aangegee as ongeveer 7 800 man (VAB, A305c:1).
In die boekie met die aantekening beskryf Roux die getalsterkte van die OVS-krygsmag soos volg: Ficksburg: 400; Ladybrand: 410; Thaba ’Nchu: 420, Wepener: 420; Smithfield: 250; Harrismith: 1 200; Vrede: 1 100; Haasbroek: 420; Heilbron: 480; Bethlehem: 500; Kroonstad: 400; Bloemfontein: 170; Rouxville: 400; Bethulie: 150; en Jacobsdal en Fauresmith: 120 (VAB, A305a). Let daarop dat wanneer die getalle soos deur Roux vermeld, bymekaar getel word, nie 7 800 as totaal gekry word nie, maar 6 740. Dit word hier ook aangeneem dat 7 800 offisiere en burgers eerder die mees positiewe posisie aandui en dat die werklike getalle minder kon gewees het (Amery 1906:316, 326).
Hierdie vier afdelings het oor 16 kanonne beskik wat oor die algemeen nie in ’n goeie toestand was nie. Net soos oor die stand van die kanonne, was Roux ook besorg oor talle persone in die OVS-krygsmag wat nie aan die stryd deelgeneem het nie. Volgens Roux: “[D]en O.V.Staat bestond dus uit ongeveer 7 800 manschappen, onder welke begrepen waren de wagendrijvers, lagerliggers, vluchtelingen, ouden van dagen, veehoeders & onwilligen, die veiligheidshalve zich wel bij de Lagers hielden, doch nimmer hadden meegevochten & zelfs in een kritiek oogenblik geen plan hebben de wapenen te hanteeren” (VAB, A305c:1).
Op 6 Julie 1900 het die Britse magte Bethlehem met ’n “ontzettende overmach” aangeval. Op die oggend van 7 Julie 1900 het die Britse magte ’n swakpunt in die OVS-verdedigingsmag ontdek, Bethlehem ingeneem en die OVS-magte genoop om die aftog te blaas. Volgens Roux is 102 Britse soldate in dié geveg gedood of verwond. Teen die aand van 7 Julie het die OVS-magte wat aan die verdediging van Bethlehem deelgeneem het, in die rigting van Retiefsnek en Slabbertsnek teruggeval. Die terugtog vanaf Bethlehem het die posisie van die Winburg-kommando te Biddulphsberg in die omgewing van Senekal onveilig gemaak. Hierdie gedeelte van die kommando het daarom op 8 Julie 1900 na die omgewing van Witnek teruggeval (VAB, A305c:1; Amery 1906:307–9; Maurice en Grant 1908:290–1).
Volgens Roux was die Winburg-kommando in twee afdelings verdeel. Die gedeelte van die kommando hier ter sprake is waarskynlik die Senekal-kommando wat deur kmdt. G.S. van der Merwe aangevoer is (Van Schoor 1990:96). Die verdeling van die Winburg-kommando is van belang. Hier onder sal naamlik gesien word dat Van der Merwe en Roux in alle waarskynlikheid deel van die kommando was en dat hul besluit om oor te gee, ten nouste verband gehou het met die posisie van die bevelvoerder van die Winburg-kommando.
4. ’n Nuwe strategie
Na afloop van die terugtog het die groter meerderheid van die OVS-mag wat in die Brandwaterkom saamgetrek was, hulle in ’n halfmaan rondom Fouriesburg bevind. Volgens Roux was die plan dat die OVS-magte hier sou beraadslaag. Die posisie was egter van so ’n aard dat die Britse magte die toegangsroetes tot die Brandwaterkom kon beleër en sodoende die OVS-magte daar vaspen. Volgens Roux het M.T. Steyn, die staatspresident van die OVS, en De Wet daarom besluit om die OVS-magte in drie afdelings te verdeel. Roux verwys later indirek na die krygskommissie wat vir die toedeling van kommando’s aan die twee “groot Commandos” of afdelings verantwoordelik was. Hoe dit ook al sy, die eerste afdeling was onder die bevel van De Wet. Dié afdeling het die kommando’s van Heilbron, Bethlehem en Kroonstad ingesluit, asook ongeveer 150 man van die Frankfort-kommando, ’n aantal Kaapse koloniste (rebelle) en die Theron Verkennerskorps. Die Staatspresident, die uitvoerende raad en siviele amptenare sou die eerste afdeling vergesel (VAB, A305c:1–2; Pretorius 1976:17).1
Roux is oor die tweede afdeling aangestel. Hierdie afdeling het die kommando’s van Bloemfontein, Thaba ’Nchu, Wepener, Rouxville, Bethulie, Jacobsdal, Smithfield en Fauresmith ingesluit. Hoewel Roux uitdruklik verklaar dat die OVS-magte in twee groot kommando’s verdeel is, is dit duidelik uit sy manuskrip dat daar ook ’n derde afdeling was. Hierdie afdeling het die oorblywende kommando’s ingesluit, asook die kommando’s van Harrismith en Vrede. Laasgenoemde twee kommando’s is vanuit Natal teruggeroep (VAB, A305c:2; Pretorius 1976:17; De Bruin 2009:123–9). Indien Roux se verwysing na die volledige kommando’s gebruik word, sou die oorblywende kommando’s verwys na die kommando’s van Ficksburg, Ladybrand en Winburg. Indien Roux se getalle gebruik word, beteken dit dat dié afdeling, wat ook die Harrismith- en Vrede-kommando’s ingesluit het, uit 3 100 man bestaan het. Ongelukkig vermeld Roux nie die getalsterkte van die Winburg-kommando nie en sluit die 3 100 man daarom nie dié kommando in nie. Indien die getalle as korrek aanvaar word, is ’n beduidende mag aan die beskerming van die passe toegeken.
Roux en De Wet se beskrywings van die verdeling van die OVS-magte verskil. Volgens De Wet sou die OVS-magte in drie groot afdelings en een klein afdeling verdeel word. Die kleiner mag sou, volgens De Wet, uit ’n afdeling van die Bethlehem-kommando bestaan wat deur Prinsloo aangevoer sou word.2 In die brief van Roux aan De Wet maak Roux egter geen melding van dié punt nie. Ook verwys Roux na homself in die manuskrip as “hoofveggeneraal Roux” en nie soos deur De Wet in sy boek as “assistenthoofkommandant” Roux nie. Volgens Roux is hy kort hierna tot waarnemende hoofkommandant bevorder. Roux skryf dat De Wet op 14 Julie 1900 die eerste maal gepoog het om deur die Britse linies te breek. Hierdie poging was nie suksesvol nie. Op 15 Julie 1900 het De Wet wel daarin geslaag om deur die Britse linies te breek (VAB, A305c:2; Pretorius 1976:22–6; Pretorius 2001:31–8; Atwood 2011:178; Nasson 2010:205).
5. ’n Dilemma vir Roux
Volgens Roux was hy nie so gelukkig soos De Wet nie. Roux verklaar dat die Wepener- kommando deur die krygskommissie aan sy afdeling toegewys is. Volgens hom was daar ’n Britse afdeling in die onmiddellike omgewing van die Wepener-kommando wat dit op sy beurt weer moeilik gemaak het vir die kommando om by die afdeling van Roux aan te sluit met die doel om die Brandwaterkom te verlaat. Vreemd genoeg is dit nie die krygskommissie nie, maar wel Marthinus Prinsloo wat volgens Roux daarvoor verantwoordelik was om ’n ander kommando aan die posisie toe te wys. Dit mag wees dat die krygskommissie ’n oorsig begaan het met die toewysing van die kommando, dat die meerderheid van die lede van die kommissie saam met die Staatspresident die Brandwaterkom verlaat het met die gevolg dat die krygskommissie nie beskikbaar was om die probleem te hanteer nie. Prinsloo was verantwoordelik vir die bewaking van die passe en moes daarom ’n ander kommando aan die posisie toewys. Volgens Roux het Prinsloo versuim om dit te doen. Ter verdediging van Prinsloo moet vermeld word dat Prinsloo in daardie stadium nog op die koms van die Harrismith- en Vrede-kommando’s gewag het. Navorsing dui verder daarop dat die krygstrategie waarskynlik ter elfder ure gewysig is en dat hierdie kommando’s intussen aan ’n derde afdeling toegewys is wat ook die Brandwaterkom moes verlaat. (Kyk bv. De Bruin 2009.) Dit is nie duidelik of Prinsloo kennis van die wysiging gehad het nie. Roux skryf egter dat Prinsloo nie alleen versuim het om so ’n toewysing te maak nie, maar ook “alle mogelijke beschuldigen tegen [de President & De Wet]” gemaak het (VAB, A305c:2–3).
Roux verklaar dat hy wel vir Prinsloo as bevelvoerder van die groter Brandwaterkom-krygsafdeling genader het met ’n versoek om die Wepener-kommando na sy krygsafdeling oor te plaas (Heyns 1930:16; VAB, A305c:2–3; Boldingh 1903:15). Keulemans (1903:16, vn. 1)3 verklaar dat Roux verskeie versoeke in dié opsig aan Prinsloo gerig het. Van Everdingen (1920:40, vn. 1) haal Roux soos volg aan: “Prinsloo had, sedert zijn tijdelijke aanstelling, nooit met mij gecorrespondeerd, mij in niets geraadpleegd, mij nooit eenige rapport gezonden – mij kortweg geïgnoreerd.” Roux skryf dat Prinsloo ander kommando’s beskikbaar gehad het en dat hy versuim het om aan Roux se versoek gehoor te gee. Roux verwys spesifiek na die kommando van Haasbroek wat volgens hom beskikbaar was om die stellings van die Wepener-kommando in te neem. Roux kom gevolglik tot die slotsom dat Prinsloo onredelik was (VAB, A305c:2).
Roux het daarom vier dae later, na afloop van die vertrek van De Wet, “in groote onvergenoegdheid over’t oponthoud” na Prinsloo gegaan. Hier het hy toevallig verneem dat Prinsloo nie van plan was om ’n ander kommando aan die stellings van die Wepener-kommando toe te wys nie. Roux verwys na ‘n “geknoei” met betrekking tot die posisie van die Wepener-kommando. Hy het daarom besluit om die bevelvoerders van die onderskeie kommando’s onder sy bevel byeen te roep. Ten tye van die vergadering het Roux voorgestel dat sy afdeling sonder die Wepener-kommando die Brandwaterkom moes verlaat. Roux verklaar dat so ’n voorstel as onwenslik beskou is ten spyte van die feit dat die Britse magte besig was om stelling buite die Brandwaterkom in te neem (Heyns 1930:16; VAB, A305c:3).
’n Krygsvergadering het, kragtens die bepalings van militêre wetgewing, geen besluitnemingsbevoegdheid gehad nie. Die gewoonte het egter wel bestaan om die aanbevelings van die liggaam as bindend te ag (sien De Bruin 2009:14–7). Roux sou daarom aan sy ondergeskikte offisiere opdrag gegee het om sonder die Wepener-kommando te vertrek. Sy offisiere sou egter kon geweier het om aan die bevel gehoor te gee, wat Roux weer sou genoodsaak het om die offisiere voor ’n krygsraad vir minagting van ’n bevel te daag. Dit is onseker of Roux bewus was van die besluite van die breë krygsvergadering van OVS- en ZAR-offisiere wat op 17 Maart 1900 te Kroonstad gehou is. Volgens C.J. Asselbergs het De Wet die volgende stelling tydens die vergadering gemaak: “Ik acht het noodig, wanneer er generaals, hoofdcommandanten, commandanten of veldcornetten zijn, die hun zaken niet doen of in hunne betrekking niet op hun plaats zijn, wij een middel bezitten om dergelijke menschen onmiddelijk te suspendeeren” (Scholtz en Scholtz 1978:52). Ooreenkomstig die voorstel van De Wet is besluit om aan krygsrade, bestaande uit sewe offisiere, die bevoegdheid te verleen om kommandante te ontslaan wat hulle aan nalatigheid of pligsversuim skuldig maak (Breytenbach 2000:164–5).
Met inagneming van die uiters dreigende omstandighede waarin die twee krygsafdelings hulle bevind het, saam met die sterk gewoonteregtelike gebruik van krygsvergaderings as besluitnemingsliggame, was dit egter nie wenslik om hierdie roete te volg nie. Roux het daarom geen ander keuse gehad as om te poog om Prinsloo te oorreed om die Wepener-kommando na sy (Roux se) krygsafdeling oor te plaas nie. Laastens is dit belangrik om die 1899-opperbevel, en die stelsel om offisiere tot range te verkies soos dit in 1899 gegeld het, te vergelyk met dié van offisiere wat aangestel is volgens die gewysigde militêre reg, waarvan Roux 'n sprekende voorbeeld was. Die gebeure hier bo dui daarop dat aangestelde offisiere nie enigsins in 'n meer gesaghebbende posisie as verkose offisiere gestaan het nie (sien ook Van Schoor 2000:41–2).
Gevolglik het Roux as ’n waarnemende hoofkommandant vir Prinsloo beveel om die Wepener-kommando na die Roux-krygsafdeling oor te plaas. Hierdie bevel van Roux, en reaksie daarop, word soos volg deur Roux omskryf: “Als Waarn. Hfd. Commandant gelaste ik [Roux] hem [Prinsloo] mij dat Commando [Wepener] dadelik te laten hebben, doch groot was mijne verbasing toen hij zijne aanstelling door president Steyn tot Waarn. Hoofd. Comdt. onder mijn neus drukte [...] daarenboven matigde hy zich ‘t recht aan van eerste officier” (VAB, A305c:3).
Vervolgens word kortliks meer besonderhede in verband met die twee bevelvoerders verskaf, waarna die verdere gebeure in die Brandwaterkom bespreek sal word.
6. Die bevelvoerders
6.1 Marthinus Prinsloo4
Roux het die skuld met betrekking tot die versuim om ’n oplossing rakende die geskil te vind, voor die deur van Prinsloo geplaas. Dit is dan ook nie vreemd nie dat Roux byna ’n bladsy afstaan om die eienskappe van Prinsloo as ’n bevelvoerder te bespreek. Volgens Roux was Prinsloo 63 jaar oud en gewild onder die burgers en offisiere. (In werklikheid was Prinsloo, gebore 9 Oktober 1838, in Julie 1900 61 jaar oud.) Roux verklaar dat die rede vir Prinsloo se gewildheid nie algemeen bekend was nie. Hierdie gewildheid mag egter toegeskryf word aan die feit dat Prinsloo hom in oorloë teen swart stamme onderskei het. Die gevolg was dat Prinsloo tot kommandant van die Winburg-kommando verkies is en later ook tot die volksraad. Dit kon dan nie anders nie, volgens Roux, dat Prinsloo met die uitbreek van die oorlog tot hoofkommandant van die OVS-magte in Natal verkies is (VAB, A305c:3―4; Breytenbach 1978:158).
Prinsloo, asook talle ander offisiere se aanspraak op bevel, was die gevolg van hulle deelname in oorloë teen swart stamme. (Prinsloo het byvoorbeeld in die 1850’s en 1860’s aan die Vrystaat-Basotho-oorloë deelgeneem.) Volgens Roux (VAB, A305c:4) was so ’n aanspraak “’n noodlottige denkbeeld [...] dat officieren in der strijd tegen de Britten in de Kaffir-oorlogen daartoe moesten gekwalificeerd zijn geworden”.5 Met betrekking tot Prinsloo se aansprake op die bevel van die OVS-Natal-afdeling verklaar Roux (VAB, A305c:4) dat Prinsloo in die oë van talle gevolglik goed vir die posisie gekwalifiseerd was en “[a]angezien hij zelf ook zoo dacht, was dit geenzins te weerleggen”. Roux se manuskrip gaan voort in dié neerhalende trant. Volgens hom sou Prinsloo met 400 man, sonder grofgeskut, Natal binne trek om “de Engelschen tot in de zee te pietzen. Maar hij bleef op den Berg zitten & zoo gezegd, zoo niet gedaan” (VAB, A305c:4).
Betreffende Prinsloo se rol as hoofkommandant in Natal verklaar Roux dat Prinsloo se werk hoofsaaklik toegespits was op die uitreik van verlofpasse en dat hy verder geen werklike rol vervul het nie. Prinsloo het, volgens Roux, ook gepoog om die burgers oor te haal om nie verlof te neem nie deur te verklaar dat hy vir goed van sy kranklike vrou afskeid geneem het. Roux skryf egter dat Prinsloo kort hierna gereël het dat sy vrou in die omgewing van sy kamp kom bly het. Ongelukkig is Prinsloo, volgens Roux, te laat vanuit Natal teruggeroep (Maart 1900) met die doel om bevel in die Winburg-distrik te gaan voer (VAB, A305c:4).
Tog voldoen Prinsloo nie aan die opdrag nie, maar vertoef hy onderweg in die omgewing van Lindley. Hier het Prinsloo met alles fout gevind en hom voorgedoen as iemand wat, in die woorde van Roux, tot alles in staat was. Roux skryf dat Prinsloo hom na afloop van die gebeure te Lindley (waar Marthinus se broer, Michael Prinsloo, gehelp het om ’n Britse mag te verslaan) aan die stryd sou onttrek. (Prinsloo het weens siekte en ouderdom sy amp neergelê, maar op kommando gebly.) (Pretorius 2010:244–5, 354; Breytenbach 1996:212–5.) Roux sluit sy beskrywing van Prinsloo se militêre loopbaan met die volgende woorde af: “[R]eeds was hy op weg dien stap te nemen toen er eene kleine gebeurtenis plaas greep, die bestemd was mee te werken hem andermaal eene betrekking te bezorgen die hem als het hoofd figuur in eene der treurigste toneelen in den oorlog aan de wereld vertoonen zou” (VAB, A305c:4).
Hierdie klein gebeurtenis hou verband met ’n geskil. Dit is nie duidelik wanneer die geskil plaasgevind het nie. Die veronderstelling hier is dat dit in die dae na afloop van die geveg te Bethlehem plaasgevind het. Volgens Roux was die oorsaak van dié geskil kanonne, wat na alle waarskynlikheid aan die Roux-krygsafdeling afgestaan moes word. Roux vermeld nie die naam van die betrokke kommandant nie. Wanneer die herinneringe van Roux en Keulemans, asook Amery se beskrywing, saamgelees word, kom dit voor of die kommandant moontlik Sarel Haasbroek was. Roux verwys alleen na die bevelvoerder as “een eerzuchtigen Commandant”. Wat die geskil betref, kom dit aan die hand van Roux voor of Haasbroek vir Prinsloo genader het, wat op sy beurt saam met Haasbroek na die Staatspresident gegaan het. Volgens Roux was die aanstelling van Prinsloo as ’n waarnemende hoofkommandant die gevolg van dié gesprek tussen die Staatspresident, Prinsloo en Haasbroek (VAB, A305c:5–6; Keulemans 1903:11–2; Amery 1906:337).
Roux beskryf die samesprekings tussen die Staatspresident, Prinsloo en Haasbroek as pynlik van aard. Hy gebruik ook die samesprekings om probleme in die OVS-leër aan te stip. Volgens hom kon ondergeskiktes na willekeur handel en hulle selfs teen die bevele van hulle bevelvoerders verset. Daarmee saam was talle eersugtig en het hulle, volgens hom, alleen gehandel waar dit eie eer bevorder het. Hoewel Roux na die Staatspresident as ’n “trouwen Staatsknecht” verwys, is dit volgens hom duidelik dat die aanstelling vir Prinsloo “in staat gesteld [heeft] zulk een schandelijke rol te spelen”. Roux verwys ook na Prinsloo as ’n eersugtige persoon vir “wien het land & de onafhankelijkheid slechts betrekkelijke waarde had – waarde enkel zoolang hij nommer een of daaromtrent kon zijn” (VAB, A305c:4–5).
6.2 Paul Hendrik Roux6
Dit is hier ook nodig om ’n kort beskrywing van die militêre loopbaan van Roux te gee. Volgens Roux was hy ten tye van die gebeure ’n hoofveggeneraal wat as ’n waarnemende hoofkommandant aangewys is. In teenstelling met die lang beskrywing van die loopbaan van Prinsloo, verklap Roux se manuskrip weinig van sy eie militêre loopbaan tot op daardie stadium. Paul Hendrik Roux (gebore 28 September 1862) was in die jare onmiddellik voor die uitbreek van die oorlog ’n predikant op Senekal. Met die uitbreek van die oorlog het die 37-jarige Roux hom as predikant by die Natal-krygsafdeling van die OVS aangesluit (Heyns 1930:v, 13; Keulemans 1903:12; Amery 1906:337). In Natal het Roux, volgens Keulemans (1903:12; sien ook Amery 1906:337), “in gevecht en in krijgsraad zijne adviezen zeer dikwijls opgevolgd gezien, [hij] had bijgedragen tot verbetering der organisatie door president en krijgscommissie op misstanden te wijzen”.
In 1900 word Roux, volgens sy herinneringe, as “hoofdvechtgeneraal” aangestel (VAB, A305c:2). Heyns (1930:13) en Keulemans (1903:12) verklaar dat die Staatspresident vir Roux in die rang aangestel het. Volgens veldkornet I.A. Meyer is Roux deur die uitvoerende komitee van die OVS as veggeneraal aangestel (VAB, A119/1056:16).7 In teenstelling hiermee verklaar De Wet (s.j.:84; sien ook Amery 1906:337) dat hy aan die einde van Mei / begin Junie 1900 vir Roux as veggeneraal in die plek van I.A. de Villiers aangestel het. Van Everdingen (1920:6, vn. 3) verklaar met verwysing na die herinneringe van Roux dat Roux reeds voor die dood van I.A. de Villiers as hoofveggeneraal aangestel is. Volgens J.N. Brink (1940:70), die adjudant van Jan Crowther, wil dit voorkom of Crowther met die dood van De Villiers in sy posisie aangestel of verkies is.8 In die herinneringe van ’n onbekende persoon word spesifiek vermeld dat Crowther op 1 Junie 1900 as assistentveggeneraal aangestel is (OMBR, 4310/3. Sien ook VAB, A119/1056:15). Die rang van assistentveggeneraal was, net soos dié van hoofveggeneraal, ook in die OVS se militêre wetgewing onbekend. Die rang van assistentveggeneraal sou egter gebruik kon gewees het om ’n onderskeid tussen Roux as hoofveggeneraal en Crowther as assistentveggeneraal, verbonde aan dieselfde krygsafdeling, te maak. Die aanstelling van twee offisiere as opvolger vir De Villiers sou ook moontlik die weg kon gebaan het vir ’n konfrontasie tussen Roux en Crowther. Volgens De Wet het hy met die afskaffing van die rang van veggeneraal vir Roux, P.D. de Wet en C.C. Froneman as assistenthoofkommandante aangestel (De Wet s.j.:94). De Wet vermeld egter nie die naam van Crowther nie.
Keulemans (1903:12) verklaar dat Roux se aanstelling tot veggeneraal ’n wrang smaak in die monde van sekere offisiere gelaat het. Amery (1906:337; sien ook De Wet s.j.:124) verwys ook na die jaloesie wat ontstaan het as gevolg van die “sudden elevation” van Roux. Roux het trouens voor hierdie aanstelling geen offisiersrang gehad nie. In die verloop van ’n bietjie meer as twee maande het Roux van ’n nie-amptelike militêre adviseur tot die tweede hoogste militêre rang in die OVS gevorder. Volgens Keulemans (1903:12) is Roux dikwels met die volgende woorde gegroet: “Schoenmaker, houd je bij je leest.” Keulemans verduidelik dat talle ander kommandante vir die posisie van hoofveggeneraal oor die hoof gesien is, en dat die reaksie van offisiere met die aanstelling van Roux in dié lig gesien moet word. Ten opsigte van Prinsloo en kmdt. S. Haasbroek vermeld Keulemans spesifiek dat die aanstelling van Roux hulle (Prinsloo en Haasbroek) in “kwaad bloed gezet” het.
Met verwysing na Keulemans hier bo kan die afleiding gemaak word dat die verhouding tussen Prinsloo en Roux reeds voor die vertrek van die Staatspresident problematies was. Prinsloo was verder die hoofkommandant van die Natal-krygsafdeling, waar Roux ook as ’n nie-amptelike militêre adviseur diens gedoen het. Enige teregwysing van Roux in Natal sou daarom ook ’n teregwysing vir Prinsloo as bevelvoerder van die krygsafdeling beteken het.
7. Reg van bevel
Prinsloo en Roux is gevolglik met ’n situasie gekonfronteer waar twee offisiere van gelyke range, met verskillende bevele, in dieselfde operasionele gebied teenwoordig was. Die bevele rakende die Wepener-kommando was van besondere belang vir die oplossing van die geskil. Indien die bevele bepaal het dat die Wepener-kommando moes wag om deur die Hattingh-krygsafdeling afgelos te word, kon Roux nie daarop aandring dat Prinsloo die Wepener-kommando na sy (Roux se) krygsafdeling oorplaas nie. Geen geskrewe bevele in dié verband kon egter gevind word nie. Die gevolgtrekking is daarom dat die twee offisiere self geen duidelikheid rakende die punt gehad het nie, met die gevolg dat Prinsloo hom op die reg van senior offisier beroep het.
Sowel die Staatspresident as die krygskommissie, het ten tye van dié gebeure reeds die Brandwaterkom verlaat (Pretorius 2001:34, 38). Verder was nóg die Staatspresident, nóg die krygskommissie, en ook nie De Wet nie, na afloop van die vertrek per telegraaf bereikbaar. Indien die Staatspresident of De Wet, asook die krygskommissie, wel bereikbaar was, moes die betrokke punt sekerlik vir verdere bevele verwys word. Alles dui egter daarop dat dit nie moontlik was nie. Die twee offisiere (Prinsloo en Roux) moes daarom self tot die een of ander vorm van vergelyk kom.
Voorts het Prinsloo die reg van ’n senior offisier uitgeoefen, maar dit is duidelik dat die militêre wetgewing van 1899 nie so ’n reg erken het nie. Die Krijgs- en Commandowet (Wet 10/1899)spreek eerder tot die teendeel, naamlik ’n totale gebrek aan die omskrywing van ’n offisier en ’n senior offisier. Indien die Staatspresident daarom nie by wyse van een of ander verordening die krygsmag na behore georganiseer het nie, was dit onmoontlik om te bepaal wie die bevelvoerende offisier, en wie sy ondergeskiktes, was. Daarteenoor het die ZAR-wetgewing die posisie duidelik uiteengesit (ZAR, Wet 20/1898, Artikels 26, 27).
In die geval van Prinsloo het sy ouderdom, jare lange ervaring as kommandant, en ook die maande wat hy self in die rang van hoofkommandant in Natal opgetree het, tot sy senioriteit bygedra. Daarteenoor was Roux veel jonger as Prinsloo. Roux was slegs enkele maande in die rang van veggeneraal, en het slegs enkele dae as ’n waarnemende hoofkommandant opgetree. Prinsloo was daarom duidelik die senior waarnemende hoofkommandant indien die beginsel van senioriteit wel kragtens die OVS se militêre reg erken was. Volgens regter J.B.M. Hertzog het dié reg egter nie bestaan nie. Hertzog verklaar: “[Hoofd-Commandants] were equal in rank and authority, and therefore owed no obedience except to the President” (Van Schoor 2000:39).
8. Algemene krygsvergadering
In die lig van die situasie soos hier bo uiteengesit, het Roux besluit om ’n algemene krygsvergadering te belê met die doel om die probleem te hanteer. Laasgenoemde vergadering het op 21 Julie 1900 plaasgevind met die doel om ’n ander kommando in die plek van die Wepener-kommando aan die Roux-afdeling toe te wys. Dit is opmerklik hoe Roux deurgaans poog om Prinsloo in ’n swak lig te stel. So verwys hy na Prinsloo wat met sy snuifdoos in die een hand en sy aanstelling in die ander hand by die krygsvergadering aanwesig was. Volgens Roux was die snuifdoos onder die neus van Prinsloo en sy aanstelling as waarnemende hoofkommandant onder die neus van enigiemand wat hom geopponeer het. Voorts het Prinsloo, toe ’n versoek gerig is om ’n ander kommando aan die posisie van die Wepener-kommando toe te wys, ontwykend geantwoord deur op die misstappe van De Wet en ander te wys. Daar kon geen amptelike of enige ander vorm van notule van die vergadering gevind word nie. Wat die inhoud van Prinsloo se aantygings in die krygsvergadering betref, is dit alleen Roux wat getuienis oor hierdie stellings bied. Volgens Roux het Prinsloo tydens die vergadering gepraat “over de misstappen door [den President],9 De Wet en anderen begaan; daarop volgde een jammerlijk gezanik over zijne eigene goede hoedanigheden” (VAB, A305c:5; sien in die algemeen ook De Bruin 2009:203–9).
Brink (1904:87; 1940:91) verwys nie na die krygsvergadering nie, maar verklaar dat Prinsloo “bij zijne broederofficieren [...] een bittere grief van gemaakt [heeft] dat de President met Christiaan de Wet uitgetrokken was en niet met hem [Prinsloo]”. Voorts meld Brink (1904:87; 1940:91) dat Prinsloo aan offisiere vertel het dat die Staatspresident hom bedrieg het. Ongelukkig laat Brink na om te beskryf wat Prinsloo hiermee bedoel het. J.A.J. de Villiers het in ’n gesprek aan O. Hintrager, ’n Duitse vrywilliger, vertel dat Prinsloo met die aanstelling van De Wet in sy eer gekrenk was (Oberholster 1973:126). Roux verklaar dat Prinsloo in die vergadering daartoe toegestem het dat die Winburg-kommando, onder die bevel van kmdt. G.S. van der Merwe, aan die stellings van die Wepener-kommando toegewys kon word (VAB, A305c:5).
9. Aanvalle te Slabbertsnek
Die besluit van die krygsvergadering het dit moontlik gemaak vir die Wepener-kommando om hulle by die Roux-afdeling aan te sluit. Daar is besluit om die Brandwaterkom gedurende die nag van 23 Julie 1900 te verlaat. Ongelukkig, volgens Roux, het die moedswillige getalm uiteindelik daartoe aanleiding gegee dat Roux se afdeling in die Britse beleg van die Brandwaterkom ingesluit is. Op 23 Julie 1900 het die Britse magte aanvalle op Retiefsnek en Slabbertsnek van stapel gestuur. Gedurende die dag het beide aanvoerders (Prinsloo en Roux) weerstand onder hewige kanonvuur gebied. In die nag van 23 Julie het die Britse magte hul grofgeskut verskuif. Laasgenoemde verskuiwing het uiteindelik daartoe aanleiding gegee dat die Britse magte in ’n beter posisie was om die Retiefsnek-kamp onder skoot te bring. Dit het op sy beurt weer die verskuiwing van die Retiefsnek-kamp genoodsaak (VAB, A305c:6; Amery 1906:327–30; Maurice en Grant 1908:299–300).
Te Slabbertsnek het dit ook nie veel beter gegaan nie. Op 23 Julie 1900 is die posisie daar deur die gesamentlike magte van genl.majs. R. Clements en A. Paget aangeval. Aanduidings is dat Roux ten tye van die aanval bevel oor die kommando’s van Bloemfontein (kmdt. W.J. Kolbe), Rouxville (kmdt. J.H. Olivier) en Smithfield (kmdt. J.F. Potgieter) gevoer het. Roux is bygestaan deur veggenl. P.J. Fourie. Volgens Roux het die Britse magte op die sneeubedekte bergtoppe verskyn. Die gevolg was dat sy magte van agter aangeval kon word. Roux was daarom genoodsaak om in die rigting van Fouriesburg terug te val (VAB, A305c:6; TNA, WO, 32/7998:5; Kritzinger en McDonald 1904:9; Van Schoor 1990:96; Maurice en Grant 1908:301). Volgens Kolbe (OMBR, 6967/1:321–2) sou die Britse magte, soos hy enkele dae vantevore aan Roux genoem het, poog om die kop wat deur Olivier verdedig is, te verower. Kolbe skryf voorts dat die Britse magte kort voor sonsondergang op 23 Julie 1900 daarin geslaag het om ’n rantjie in die omgewing van Olivier se stellings te verower. Behalwe die verlies van hierdie stelling het die OVS-krygsmag te Slabbertsnek daarin geslaag om, te midde van ’n swaar bombardement hul stellings voorlopig te behou (Amery 1906:330–1).
Kolbe (OMBR, 6967/1:322–8) gaan verder en verklaar dat die OVS-krygsmag gedurende die nag wagte agtergelaat het met die doel om die volgende môre na hulle onderskeie stellings terug te keer. Volgens P.H. Kritzinger en R.D. McDonald (1904:10) en G. Boldingh (1903:17), wat aan die geveg deelgeneem het, het die Britse magte gedurende die nag ’n onbewaakte roete gevind, wat hulle in staat gestel het om die OVS-stellings te Slabbertsnek te omvleuel. Dit was gevolglik vir die Britse magte moontlik om verby die OVS-stellings te trek. Die terugkeer van die OVS-krygsmag na hulle stellings is op 24 Julie 1900 met ’n swaar bombardement van die Britse magte begroet. Kolbe vertel dat hy met die plasing van die OVS-krygsmag in hulle stellings opgemerk het dat die kop aan die suidweste van die OVS-kant (waarskynlik die kop waar Olivier stelling ingeneem het) deur die Britse magte beset is. Volgens die verslag van lt.genl. Archibald Hunter (TNA, WO, 32/7998) kom dit voor of dié besetting gedurende die vroeë oggendure plaasgevind het. Hierdie beweging het beteken dat die Britse magte daarin geslaag het om rondom die OVS-stellings te Slabbertsnek te trek. Die verdedigers van Slabbertsnek het daarom geen ander keuse gehad as om hulle stellings te ontruim nie. Roux skryf dat aan OVS-kant drie persone gedood en sewe gewond is (VAB, A305c:6; Amery 1906:331).
Roux verklaar dat sy posisie van agter aangeval is. J.C. van der Walt, wat ook op 24 Julie 1900 te Slabbertsnek aan die geveg deelgeneem het, verduidelik dat die Britse magte die berg in die nag bestyg het en die stellings te Slabbertsnek van agter aangeval het. Die dagboek van Van der Walt skep die indruk dat die verskuiwing van ’n kanon moontlik met die verlies van Slabbertsnek verbind kan word. Die gedagte onder die burgers was, volgens Van der Walt, ook dat die stellings te Retiefsnek ontruim is, en dat die offisiere en burgers in die ontruiming van Retiefsnek die stellings te Slabbertsnek in gevaar gestel het (VAB A119/519:3–4).
Brink (1940:83; sien ook OMBR, 4128/42:2) beweer ook dat die gebeure by Retiefsnek die posisie te Slabbertsnek onhoudbaar gemaak het. Hierdie stelling van Brink, asook die veronderstelling van Van der Walt, blyk egter duidelik verkeerd te wees. Die OVS-stellings te Retiefsnek is ná die stelling te Slabbertsnek op 24 Julie 1900 ontruim. Clements het Slabbertsnek reeds vroeër beset. Volgens die beskrywing van Hunter is dit ook duidelik dat die aanval op Slabbertsnek nie met die besetting van Retiefsnek verband gehou het nie, maar wel met die suksesvolle besetting van ’n onbesette, of onbewaakte, stelling van Roux. Indien Prinsloo, volgens die siening van Amery (1906:329–30), gepoog het om sy posisie te Retiefsnek te handhaaf, sou hy homself aan ’n rugaanval vanaf Slabbertsnek blootgestel het. Prinsloo het daarom geen ander keuse gehad nie as om sy stellings te Retiefsnek te ontruim en na Fouriesburg terug te val toe hy kennis van die ontruiming van Slabbertsnek ontvang het (Boldingh 1903:17–8; Van Schoor 1990:97).10 Prinsloo was voorts vir die beskerming van die Brandwaterkom verantwoordelik. Sy onvermoë om met Roux saam te werk is die rede vir Roux se verdediging van Slabbertsnek. Indien Prinsloo en Roux wel saamgewerk het, sou ’n ander bevelvoerder dié dag te Slabbertsnek diens gedoen het. Dit bly egter ’n ope vraag of Prinsloo en so ’n bevelvoerder die toegangsroetes sou kon beskerm het.
Ten slotte moet daarop gelet word dat Roux op die betrokke dag (23 Julie 1900) veronderstel was om die Brandwaterkom te verlaat. Die verdediging van die stelling was dus nie sy prioriteit nie. Voorts kon geen bron gevind word wat daarop dui dat Prinsloo alternatiewe reëlings vir die beskerming van die stellings getref het nie. Indien Roux op die betrokke dag, voor die aanvalle begin het, die posisie verlaat het met die doel om uitvoering aan die tweede fase van die krygstrategie te gee, sou die Britse magte geen of weinig weerstand te Slabbertsnek gevind het nie. Hieruit blyk dit dat Roux óf steeds nie gereed was om te vertrek nie, óf dat Prinsloo versuim het om ander kommando’s aan die stelling te Slabbertsnek toe te wys. Hierdie versuim plaas weer eens ’n ernstige vraagteken oor die bevelsposisie wat Prinsloo beklee het.
10. Krygsvergadering te Fouriesburg
Volgens Roux was al die kommando’s gedurende die nag van 24 Julie 1900 in die omgewing van Fouriesburg. Roux verklaar dat nie een van die kommando’s deur die Britse magte agtervolg is nie. Roux was egter onbewus dat Hunter besluit het om nie die OVS-magte te agtervolg nie. Hunter het gevrees dat indien hy dit sou doen, hy druk sou uitoefen op die OVS-magte om deur roetes te ontsnap wat nog nie behoorlik deur die Britse magte geblokkeer was nie. Aanduidings was ook dat ’n toegangsroete sowat 43 km noordoos van Fouriesburg, waarskynlik Nauwpoort, nog nie deur die Britse magte afgesluit was nie. Roux was egter bekommerd dat indien die roete reeds deur die Britse magte afgesluit was, “beslommeringen” dit onmoontlik sou maak om ’n weg daar oop te veg (VAB, A305c:6; TNA, WO, 32/7998:5).
Op 25 Julie 1900 het ’n tweede algemene krygsvergadering onder die voorsitterskap van Roux plaasgevind. Daar bestaan wel ’n notule van die vergadering wat deur Boldingh in sy hoedanigheid as sekretaris gehou is. Vir Roux was hierdie vergadering veral belangrik om te bepaal wie die bevelvoerder van die gesamentlike magte was. Daarmee tesaam moes die krygsvergadering ook kommando’s toewys aan die posisie te Nauwpoort om sodoende aan die twee OVS-afdelings ’n geleentheid te bied om die Brandwaterkom daar te verlaat. Laastens moes besluit word wat met “hindernisse” gedoen moes word. “Hindernisse” en “beslommernisse” verwys hier na die groot aantal waens, vee en vlugtelinge wat by die kommando’s aanwesig was (VAB, A305c:6; De Bruin 2009:229–35). Die beskerming van persoonlike eiendom het later die spil geword waarom onderhandelinge met die Britse magte sou draai. Wat die notule betref, is dit opmerklik dat dit Roux se herinneringe, soos vervat in sy manuskrip, op bepaalde punte weerspreek. Die notule, asook ander herinneringe met betrekking tot die vergadering, word daarom in die verdere bespreking hier onder ingesluit.
10.1 Bevel
Dit is insiggewend dat dié besprekingspunt nie in die notule van die vergadering gevind word nie, maar alleen in die herinneringe van Roux voorkom. Hy verklaar dat die Fouriesburg-krygsvergadering onder andere moes besluit wie die bevelvoerder van die “saamgevloeide menigte” sou wees. Volgens Roux het die ongelukkige sameloop van omstandighede tot gevolg gehad dat daar twee waarnemende hoofkommandante, naamlik hy self en Prinsloo, binne die Brandwaterkom aanwesig was wat in daardie stadium bevel oor twee krygsafdelings gevoer het. Roux verklaar dat ’n hoofkommandant nie tydens die vergadering aangewys kon word nie, omdat ’n groot aantal offisiere nie teenwoordig was nie (VAB, A305c:6; De Bruin 2009:229–31). By gebrek aan die aanstelling van so ’n offisier, het dit beteken dat Prinsloo en Roux as bevelvoerders die een of ander vorm van samewerking moes bewerkstellig wat die twee krygsafdelings in staat sou stel om hulle onderskeie militêre doelwitte te bereik.
10.2 Die keuse van ’n uitgangsroete
Volgens die notule het die bespreking aanvanklik oor die keuse van ’n uitgangsroete, of meerdere uitgangsroetes, gehandel. Ten opsigte van dié punt is twee voorstelle ter tafel gelê, naamlik om óf van Commandonek óf van Nauwpoort as uitgangsroete gebruik te maak. Veggenls. C.C. Froneman en Olivier het as alternatief voorgestel dat die kommando’s in twee verdeel word en dat gepoog word om in twee rigtings uit te breek. Volgens Kolbe het Froneman se voorstel gelui dat die twee onderskeie kommandogroepe Nauwpoort en Witkop as uitgangsroetes moes gebruik. Kolbe het hierop voorgestel dat die kommando’s eerder verenig moes bly en dat daar ’n sterk eenheid na Nauwpoort gestuur moes word om die uitgangsroete oop te hou. Die meerderheid van die aanwesige offisiere was ten gunste van die Kolbe-voorstel (VAB, A305b:1–3; OMBR, 6967/1:345–6).
Die volgende vraag wat deur die krygsvergadering beantwoord moes word, was die keuse van ’n uitgangsroete. Prakties gesproke was daar twee roetes vir dié doel beskikbaar, naamlik Nauwpoort en Commandonek. Nauwpoort het ook die moontlikheid gebied dat indien die Britse magte dit sou afsluit, Golden Gate as uitgangsroete gebruik kon word. Golden Gate is egter aanvanklik nie deur die OVS-krygsmag as ’n geskikte roete vir kanonne en waens beskou nie. Die alternatiewe van Nauwpoort en Golden Gate het voorts ook die versekering gebied dat waarnemende hoofkmdt. F.J.W.J. Hattingh en sy krygsafdeling in die onmiddellike omgewing teenwoordig was, en sodoende steun aan enige poging van die groter Brandwaterkom- en Roux-krygsafdelings kon bied om een van die twee uitgangsroetes te gebruik (VAB, A305b:1–3; VAB, A305c:6; Kritzinger en McDonald 1904:10; Boldingh 1903:18; Gilson s.j.:101).
Die notule vermeld dat die krygsraadvergadering nog tyding oor die situasie te Nauwpoort en Commandonek afgewag het. Crowther, die bevelvoerder van ’n eenheid van die groter Brandwaterkom-krygsafdeling, was ook nie by die aanvang van die krygsraadvergadering teenwoordig nie. Dit kom voor of geen offisier verbonde aan die Nauwpoort-stellings dié krygsvergadering bygewoon het nie. Volgens die notule blyk dit verder dat ’n verslag, betreffende die posisie te Commandonek, die krygsvergadering na die aanvang van die bespreking bereik het. Die notule oor die betrokke punt lees soos volg: “Rapport Gen. Crowther meld dat hij bij geen weg door den vijand kon gaan en dat hij met al zijn commandos naar Naauwpoort trekt via Middleton” (VAB, A305b:2; Boldingh 1903:18).
In teenstelling hiermee verklaar Meyer, ’n veldkornet wat ’n gedeelte van die stellings te Commandonek beset het, dat dit wel moontlik was om deur die Britse magte te Commandonek te trek. Dit is voorts interessant dat die notule geen melding maak dat Crowther, ooreenkomstig die opdrag van Prinsloo soos deur Brink vermeld, met die eenheid teruggeval het nie. Die notule spreek duidelik tot die teendeel: “Hoofdk. Prinsloo zegt dat de kommandanten van Commandonek gekend moeten worden [omtrent die keuse van ’n uitgangsroete]. Wij weten nog nieks van daar” (VAB, A305b:2).
Indien die herinneringe van Brink korrek is, kom dit voor of Crowther nagelaat het om die krygsvergadering in kennis te stel van dié opdrag van Prinsloo. Crowther se versuim sou moontlik ’n poging wees om ’n middeweg te volg en sodoende beide Prinsloo en Roux tevrede te stel. Aan die een kant sou Prinsloo tevrede wees dat Crowther sy opdrag gehoorsaam het. Aan die ander kant sou Roux weer tevrede wees dat Crowther die beste keuse uitgeoefen het deur aan Commandonek te onttrek omdat laasgenoemde uitgangsroete, as gevolg van die teenwoordigheid van die Britse magte, nie meer geskik was nie. Dit is egter twyfelagtig of Brink se herinneringe oor die betrokke punt korrek is. Alleen Meyer is van oordeel dat ’n terugval deur Commandonek moontlik was. Geen ander bron kon gevind word wat Meyer se herinneringe bevestig nie. Hoe dit ook al sy, die Commandonek-stellings was verlore, wat alleen Nauwpoort as uitgangsroete gelaat het, met Golden Gate as moontlike alternatief.
Ten opsigte van Nauwpoort meld Roux (VAB, A305c:6) dat dié uitgangsroete binne redelike bereik van die kommando’s was. Dit is opmerklik dat Roux uitdruklik vermeld dat Nauwpoort ten tye van die krygsvergadering nog oop was en sou die Britse magte reeds daar teenwoordig wees, kon die kommando’s sonder waens en ander hindernisse hul weg daardeur oopveg. Ook Kritzinger en McDonald (1904:10) verklaar dat Nauwpoort ná die besetting van Retiefsnek en Slabbertsnek nog oop was. Volgens Roux, Kritzinger en McDonald, asook die notule (VAB, A305b), wil dit voorkom of die krygsvergadering nie op hoogte was van die gebeure, gevegte en teenwoordigheid van die Britse magte te Nauwpoort nie.11 Amery (1906:327–8) verklaar wel dat Prinsloo versterkings na Nauwpoort gestuur het nadat hy bewus geword het van die beweging van Hunter op 22 Julie 1900 in daardie rigting. Geen ander bron ter bevestiging van hierdie stelling van Amery kon gevind word nie. Dit kom voor of die alternatief, om van Golden Gate as uitgangsroete gebruik te maak, óf nie algemeen bekend was nie, óf vanweë die onbegaanbaarheid daarvan nie as ’n geskikte roete beskou is nie.
Die vraag ontstaan of Prinsloo en andere in die geharwar wat in die voorafgaande dae tydens die gevegte ontstaan het, tyd gehad het om hulle van die werklike situasie te Nauwpoort te vergewis. Geen duidelike antwoord hierop kon egter gevind word nie. Dit is belangrik om hier wel te meld dat Hunter op 19 Julie 1900 aangedui het dat sy magte nie sterk genoeg was om Nauwpoort af te sluit en gelyktydige aanvalle te Retiefsnek en Slabbertsnek te loods nie. Daar is ook reeds aangetoon dat Hunter vir genl.maj. Hector MacDonald na Nauwpoort gestuur het om saam met genl.maj. Bruce Hamilton die nek af te sluit (TNA, WO, 32/7998:5). Dit mag daarom wees dat daar wel nog ’n geleentheid vir die groter Brandwaterkom- en Roux-krygsafdelings was om deur Nauwpoort terug te val indien hulle met die nodige spoed kon optree.
Ten einde uitvoering te gee aan die besluit om Nauwpoort as uitgangsroete te gebruik, het die krygsvergadering ooreenkomstig die voorstel van Kolbe besluit om die kommando’s van kmdt. Haasbroek en van die distrikte Bethulie en Fauresmith na Nauwpoort te stuur. Hulle opdrag was om die kommando’s daar te versterk en die uitgangsroete aan beide kante van Nauwpoort oop te hou (VAB, A305b:3; VAB, A305c:6–7; Boldingh 1903:18; OMBR, 4128/42:2).12 Volgens Roux was dit ten tye van die krygsvergadering reeds duidelik dat indien Haasbroek en die ander kommandante in hierdie opdrag faal, die oorblywende twee OVS-krygsafdelings binne die Brandwaterkom vasgekeer sou wees. Vlugtelinge sou moontlik daarin kon slaag om die Golden Gate-uitgangsroete te gebruik. Laastens is besluit om kommando’s in die omgewing van Fouriesburg agter te laat om ’n agterhoede te vorm, om so geleentheid aan die onderkrygsafdeling van Crowther te bied om saam met die ander kommando’s na Nauwpoort terug te val (VAB, A305c:7; Van Schoor 1990:97).13
10.3 Beweeglikheid van kommando’s
Volgens Roux moes die krygsvergadering besluit wie die trek van die verskillende kommando’s sou reël. Wat onder dié punt verstaan word, is nie duidelik nie. Die krygsvergadering het egter, in ooreenstemming met ’n voorstel van Roux, besluit dat elke kommando self vir sy eie laers verantwoordelikheid moes neem. Laasgenoemde besluit is deur Roux gekritiseer omdat dit in effek beteken het dat die kommando wat die vinnigste kon vlug, die beste kans gehad het om sy besittings te behou. Volgens Roux het hy ook ’n pleidooi gelewer dat alles wat nie noodsaaklik was nie, agtergelaat moes word. Dit is vreemd dat Roux verklaar dat alleen hy (Roux) en kmdt. P.J. Visser ten gunste daarvan was om hindernisse, soos waens, agter te laat. Roux het ook later in 'n brief aan De Wet aangedui dat Froneman hom op hierdie punt geopponeer het. Hier bo is reeds daarop gewys dat die notule van die verrigtinge duidelik verklaar dat die voorsitter, naamlik Roux, voorgestel het dat elke kommandant oor sy eie laer moes beskik (VAB, A305b:4; VAB, A305c:7; Heyns 1930:17; De Bruin 2009:234–5).
10.4 Drosters, vlugtelinge en krygsgevangenes
Die krygsraadvergadering het besluit om die perde en wapens van persone wat in die Brandwaterkom sou agterbly en versuim om verdere kommandodiens te verrig, af te neem. Die vraag na wat met die vlugtende vroue en kinders gedoen moet word, het ook ontstaan. Op hierdie punt het Prinsloo geantwoord dat dit nie die krygsraadvergadering se rol was om daaroor te beslis nie. Wat die lot van krygsgevangenes betref, het die krygsraadvergadering besluit om die 104 Britse krygsgevangenes te Fouriesburg vry te laat (VAB, A305b:4).
11. Verdere bewegings
Na afloop van die vergadering het Prinsloo in die omgewing van Fouriesburg agtergebly met die doel om aan die kommando’s te Commandonek geleentheid te bied om by die ander kommando’s aan te sluit. Hierdie groep het hierna die agterhoede gevorm. Roux gaan voort en verklaar dat daar talle moeilikhede op die smal weg na Nauwpoort gevind is. Hy gee egter geen beskrywing nie, behalwe dat daar onsekerheid geheers het oor presies waarheen getrek moes word en wie die bevelvoerder was. Roux het daarom bly aandring dat daar ’n verkiesing van ’n hoofkommandant moes plaasvind. Laasgenoemde versoek is in die woorde van Roux deur Prinsloo gedwarsboom. Gevolglik het Roux ’n brief aan Prinsloo geskryf dat indien so ’n vergadering nie die volgende dag plaasvind nie, dit te laat vir OVS-magte in die Brandwaterkom sou wees (VAB, A305c:5).
12. Die krygsvergadering van 27–28 Julie 1900
In die omstandighede was dit sekerlik belangrik om die bewegings van die krygsafdelings van Prinsloo, Hattingh en Roux te koördineer. Dit is dus vreemd dat Roux nie probeer het om met sy twee ampsbroers dié pogings te koördineer nie, maar eerder besluit het om in ’n volle krygsvergadering te poog om die probleem op te los. Roux het in die dispuut wat tussen hom en Prinsloo ontstaan het, in privaatgesprekke reeds die onderspit gedelf. Die krygsvergadering waartoe Roux sy heil gewend het, het gedurende die nag van 27–28 Julie 1900 op Bethel, die plaas van ene Biddel, ’n aanvang geneem. Twee afskrifte van die notule is tussen die aantekeninge van Roux gevind. Die een is gemerk COPY terwyl die ander geen aanduiding van die status daarvan bevat nie. Die COPY-weergawe bestaan uit twee bladsye waarvan die einde van bladsy 2 daarop dui dat daar ook ander bladsye aangeheg moes gewees het. Die tweede notule verwys alleen na punte 1 en 2 van die COPY-weergawe (VAB, A305d).
12.1 Die verkiesing van ’n hoofkommandant
Ten aanvang van die vergadering het Roux sy ontevredenheid uitgespreek met die feit dat daar drie waarnemende hoofkommandante was. Roux het later verduidelik dat die onmiddellike teenwoordigheid van veral twee hoofkommandante daartoe aanleiding gegee het dat offisiere nie een van die twee se bevele gehoorsaam het nie (Heyns 1930:17). Hierdie weergawe van Roux dui egter op ’n dieperliggende probleem, naamlik ’n gebrek aan dissipline. Indien die OVS-krygsmag wel gedissiplineerd was, sou bevele gehoorsaam word. Ten opsigte van Roux se eie onvermoë om dissipline te handhaaf, verklaar hy dat die offisiere wat ontevrede met sy aanstelling was, sy bevele gedwarsboom het (Heyns 1930:17).
Hoewel nog nie alle offisiere, insluitend Prinsloo, ten aanvang van die vergadering teenwoordig was nie, word besluit om onmiddellik oor te gaan tot die verkiesing van ’n hoofkommandant, wat dan oor die gesamentlike magte in die Brandwaterkom bevel moes voer. Die vergadering het egter ook besluit dat die uitslag nie finaal sou wees alvorens alle offisiere die geleentheid gehad het om te stem nie. Ten einde die aangeleentheid af te handel is besluit om aan Prinsloo en Hattingh kennis te gee om ook ’n verkiesing te gelas, om sodoende ’n bevelvoerder vir die drie krygsafdelings te laat verkies (VAB, A305d:1; VAB, A305c:8; Van Schoor 1990:98).
De Wet (s.j.:124) verklaar dat Roux in dié gebeure vir ’n onwettige verkiesing verantwoordelik was. Volgens De Wet het Roux nie kennis geneem van die Staatspresident se bevoegdheid om die werking van die Krijgs- en Commandowet (Wet 10/1899) op te skort nie. Geen verwysing kon gevind word waar die Staatspresident wel die werking van die wet opgeskort het nie. De Wet is egter wel korrek in sy gevolgtrekking deurdat die verkiesing, kragtens die bepalings van die Wet omtrent het kiezen van Hoofdcommandant en aanvulling van de Krijgs- en Kommandowet (Wet 33/1899, Artikel 1)nie aan die prosedurele vereistes voldoen het nie. Dié wet het uitdruklik bepaal dat die staatspresident die dag en datum vir so ’n verkiesing moes bepaal. ’n Verkiesing kon dus alleen op gesag van die staatspresident plaasvind. Roux kon dus nie self die inisiatief vir die hou van so ’n verkiesing neem nie. Roux het, in antwoord op De Wet, geskryf dat hy (De Wet) self ook vroeër, waarskynlik in Junie 1900, so ’n onwettige verkiesing gehou het. Daarom is Roux se verweer dat hy die voorbeeld van sy bevelvoerende offisier gevolg het (Heyns 1930:16).
Voorts is die krygsmag voor die vertrek van die Staatspresident behoorlik in afsonderlike krygsafdelings met bevelvoerders georganiseer. Die krygsafdelings het elkeen ook sy eie bevele gehad. Roux het in werklikheid, met sy aandrang op ’n hoofkommandantsverkiesing, die besluite en bevele ongedaan gemaak. Hierdie optrede van Roux kan as onreëlmatig aangestip word. Die verkieslikste oplossing was eerder om die operasionele aspekte verbonde aan die twee krygsafdelings se onttrekking uit die Brandwaterkom te koördineer. Die verkiesing van ’n hoofkommandant, gegewe die omstandighede waarin die twee krygsafdelings hulle bevind het, kan daarom des te meer as vreemd aangestip word.
Ten aanvang van die vergadering word Roux tot hoofkommandant verkies. Die uitslag was soos volg: Roux: veertien stemme; Prinsloo: agt stemme; en Hattingh: een stem. Kort na afloop van die stemming het Prinsloo en ander offisiere hulle ook by die vergadering aangesluit. Aangesien die uitslag nie finaal was nie, is daar ook aan dié groep offisiere geleentheid gebied om te stem. Hierdie stemming het die pendulum weer in die guns van Prinsloo geswaai, met Prinsloo wat twintig stemme op hom verenig het, Roux sestien stemme en Hattingh twee stemme (VAB, A305e:1; Heyns 1930:17; VAB, A305c:8; Keulemans 1903:21, vn. 1; OMBR, 4128/42:3).
Die laat aankoms van Prinsloo word in ’n skrywe van 27 Julie 1900 verduidelik. In dié skrywe het Prinsloo afgespreek dat die vergadering om 21:00 op die plaas van ene Eduard Roos gehou sou word. Prinsloo het egter geskryf dat indien Roux dit nodig vind, hy ’n ander plek vir die vergadering kon aanwys. Indien Roux wel so sou besluit, het Prinsloo versoek dat ’n persoon op die plaas van Roos gelaat word om hom dan na die nuwe plek van die vergadering te neem. Roux het dié keuse uitgeoefen. Prinsloo en sy offisiere het om hierdie rede laat by die vergadering aangekom. Dit is insiggewend dat Prinsloo in hierdie skrywe sy rang as waarnemende hoofkommandant aangedui het en ook na Roux in dieselfde hoedanigheid verwys het (VAB, A305f).14 Hoewel die verkiesing nie ’n prioriteit was nie, het Prinsloo ook daaraan deelgeneem.
Roux het die aanvanklike verkiesingsuitslag as “zeer merkwaardig” beskryf. Volgens hom was die offisiere wat die stemming in Prinsloo se guns beïnvloed het, ook die offisiere wat eerste oorgegee het. Roux het, na afloop van die oorlog, die verkiesing met die volgende woorde beskryf: “bedrog, afgunst en hatelijke tegenwerking” (Van Everdingen 1920:48; Heyns 1930:17; VAB, A305c:8). Brink (1904:87) bestempel die verkiesing van Prinsloo as hoofkommandant as ’n “noodlottige benoeming!” Dit moet beklemtoon word dat die uitslag gevolg het op ’n vergadering en verkiesing wat op die aandrang van Roux gehou is.
In hierdie stadium het die krygsvergadering besluit dat Prinsloo, wat voorlopig die meerderheid van stemme gehad het, as hoofkommandant moes waarneem totdat die finale uitslag van die verkiesing bekend was. Voorts het Roux onderneem om geen handeling as offisier te verrig totdat die verkiesing afgehandel was nie. Roux moes hom, ooreenkomstig die onderneming, soos ’n privaatburger gedra (Keulemans 1903:21, vn. 1; Boldingh 1903:21; VAB, A119/42:2). Wat met dié begrip bedoel word, is nie duidelik nie. Die veronderstelling is dat Roux, tot tyd en wyl die verkiesingsuitslag bekend was, geen verdere funksies as offisier kon vervul nie.
Roux, daarenteen, verklaar dat hy hom onder die bevel van Prinsloo gestel het. Hy maak geen melding van die sluit van so ’n ooreenkoms in enige van die twee weergawes van sy herinneringe nie. Hy verklaar, daarenteen, dat hy die volgende dag na die voorste kommando’s gegaan het om hom op hoogte van die situasie daar te bring. Tog skryf Roux later weer dat hy die aand toe hy die minderheid van stemme gekry het, nie langer bevel gevoer het nie (Heyns 1930:17; VAB, A305c:8–9). Op 'n ander plek skryf Roux weer dat Prinsloo sy bevelvoerder was. Ook skryf hy dat hy ontneem is, maar laat na om aan te dui of hy van bevel ontneem is (VAB, A305a). Van Everdingen (1920:48) verklaar uitdruklik dat Roux onderneem het om geen handeling as offisier te verrig totdat die verkiesing afgehandel was nie. In die woorde van Van Everdingen was Roux op 28 Julie 1900 ’n burger sonder offisiersrang. In hierdie hoedanigheid het hy hom aan die bevel van Prinsloo onderwerp. As gesag verwys Van Everdingen na die herinneringe van Roux, wat deur Roux aan hom beskikbaar gestel is.
Prinsloo het daarom ook bevel gevoer oor dié kommando’s wat kragtens die krygstrategie aan Roux toegewys was. Volgens Van Everdingen (1920:48, vn. 4) was laasgenoemde waarskynlik ’n voorwaarde wat deur Prinsloo self onderhandel is. Sodoende is Roux ook gedwing om die oorgawe in sy hoedanigheid as privaatburger, onder die bevel van Prinsloo, te aanvaar. Roux het aan Van Everdingen verklaar dat hy nooit tot die voorwaarde sou toegestem het indien hy geweet het dat Prinsloo beplan het om oor te gee nie. Roux en Van Everdingen gee dus te kenne dat Prinsloo reeds die aand van die krygsvergadering besluit het om oor te gee, en Roux ook in die oorgawe in te sluit. Indien dit wel die geval was, beteken dit dat Prinsloo moontlik nie ’n geldige rede vir die oorgawe gehad het nie.
Kritzinger en McDonald (1904:11) beskryf ’n meer objektiewe weergawe van die voorwaarde. Volgens hulle het beide offisiere onderneem om, sou die ander die meerderheid in die voorlopige verkiesing behaal, geen gesag uit te oefen nie. Dit was trouens ook die oplossing vir die probleem rakende die aanwesigheid van meerdere bevelvoerders, naamlik dat daar voortaan net een hoofkommandant sou wees. Die toedig van duistere motiewe, soos deur Roux en Van Everdingen aangevoer, is daarom nie sonder meer aanvaarbaar nie. Inteendeel, dit skep die indruk dat Roux in die proses gepoog het om sy eie aandeel in die oorgawe te verbloem.
Aan die hand van Van Everdingen se relaas wil dit lyk of hy Roux probeer verontskuldig. Laasgenoemde is moontlik verklaarbaar aan die hand van die feit dat Roux met Van Everdingen meegewerk het in die skryf van die betrokke gedeelte van sy (Van Everdingen se) boek. Daarom het dié weergawe Roux se sieninge rakende die gebeure gesteun. Andersins het Van Everdingen, by gebrek aan ander bronne, meer gewig aan Roux se aantekeninge gegee.
12.2 Oorgawe, wapenstilstand of weerstand?
Slegs twee persone wat die krygsvergadering bygewoon het, werp lig op die vraag in welke mate oorgawe, wapenstilstand of weerstand tydens die vergadering bespreek is (Van Schoor 1990:98; VAB, A305c:8). Ander bronne bespreek wel die vergadering, maar is geskryf deur persone wat nie daardie aand teenwoordig was nie. Kmdt. G.S. van der Merwe verklaar dat verskeie voorstelle na afloop van die verkiesing gedebatteer is. Ongelukkig gee Van der Merwe geen verdere besonderhede nie. Die krygsvergadering kon egter geen eenstemmigheid met betrekking tot enige van die voorstelle bereik nie. Gevolglik is besluit om ’n kommissie aan te wys om die krygsvergadering ten opsigte van die pad vorentoe te adviseer. Hierdie kommissie het bestaan uit Prinsloo, Roux, veggenls. P.J. Fourie, J. Crowther en G.S. van der Merwe self. Na ’n kort vergadering het die kommissie, volgens Van der Merwe, twee voorstelle aan die krygsvergadering voorgelê, naamlik ’n wapenstilstand van vier dae, of onvoorwaardelike oorgawe. Volgens Van der Merwe is die voorstel om onvoorwaardelike oorgawe in ’n stemming verwerp (Van Schoor 1990:98).15
Daarteenoor vermeld De Wet en Kestell dat sewentien teenoor dertien offisiere ten gunste van oorgawe gestem het. Nòg De Wet, nòg Kestell het egter die vergadering bygewoon. Hierdie besluit is, volgens dié twee skrywers, onmiddellik hersien. Ongelukkig verklaar die twee skrywers nie wat met hersiening bedoel word nie. De Wet verklaar dat die hersiening ’n politieke besluit was. Wat De Wet met “’n politieke besluit” bedoel, is egter ook nie duidelik nie. Kestell, aan die anderkant, skryf die hersiening van die besluit toe aan die geweldige impak daarvan (De Wet s.j.:124; Kestell 1920:67). ’n Soortgelyke weergawe word in ’n mededeling van P.H. de Villiers gevind. Hiervolgens het die oorgrote meerderheid van die krygsraadvergadering ten gunste van oorgawe gestem (Barry s.j.:28, 33).
Die seun van Haasbroek vermeld ook dat sy vader die aand van die krygsvergadering verklaar het dat sy kommando ’n onafhanklike kommando was, en dat hy derhalwe nie deur ’n besluit tot oorgawe gebind word nie. Haasbroek senior het ook aan die offisiere aangebied dat hulle by sy kommando kon aansluit en sodoende nie in die oorgawe ingesluit word nie (OMBR, 4128/42:3). Die weergawe van De Wet, P.H. de Villiers, Kestell en Haasbroek onderskryf die weergawe van Van der Merwe.
Daarteenoor verklaar Roux uitdruklik dat daar geen woord in die krygsvergadering rakende oorgawe geuiter is nie (VAB, A305c:8). Roux en Van der Merwe was die enigste persone wat die krygsvergadering bygewoon het en wat die gebeure beskryf het. Die weergawe van Van der Merwe word onderskryf deur die weergawes van Kestell, De Wet, Haasbroek en die mededeling van P.H. de Villiers later aan ’n familielid. Die bespreking van ’n moontlike oorgawe in die vergadering is daarom nie onwaarskynlik nie. Roux se weergawe, naamlik dat geen woord rakende oorgawe geuiter is nie,16 skyn dus verkeerd te wees. Hierdie punt benadruk die waarskynlikheid dat Roux, in sy weergawe van die oorgawe, poog om sy eie handelinge te verbloem.
Die wapenstilstand het ten doel gehad om ‘n geleentheid te skep om met die regering in verbinding te tree. Indien Hunter die versoek sou weier, moes voortgeveg word (VAB, A305c:8; Van Schoor 1990:98; sien ook Brink 1940:90).17 Hieroor vra De Wet (s.j.:124) die volgende vraag: “Was dat werk voor officieren die zagen dat zij op het punt stonden van vasgekeerd te worden? Kon men denken dat een vijand zoo onnoozel zou zijn om stilstand van wapenen te verleenen, opdat men daardoor wegen tot ontkoming zou kunnen vinden. – Neen ’t was òf kortzichtigheid òf ... iets anders!” Volgens Roux was die oorgrote meerderheid van die burgers reeds ontmoedig. Die aanwesigheid van twee hoofkommandante, tesame met die groot aantal vlugtende vroue, kinders, waens en vee, het die situasie verder bemoeilik. Roux het geoordeel dat die nuwe hoofkommandant ’n wapenstilstand moes aanvra om met die OVS-regering rakende die sluiting van vrede in verbinding te tree.18
Twee moontlike oplossings vir die oënskynlik “onnoozel” handeling kan aan die hand gedoen word. Die eerste word deur De Wet (s.j.:125) voorgestel, naamlik “iets anders”. Hierdie “iets anders” word kort hierna verder deur De Wet verduidelik, naamlik dat “Prinsloo of iemand anders verraad” gepleeg het. ’n Tweede moontlikheid kan in ’n letterlike vertolking van die aantekeninge van Roux gelees word. Roux skryf soos volg oor die besluit: “[Het werd aan Prinsloo] opgedragen overeenkomstig een besluit genomen, aan de commandos hunne respectiewe posities aan te wijzen & in geval er moeilijkheden mochten ontstaan, zou hij de Engelschen om een wapenstilstand voor 6 dagen mogen vragen ten einde ons in gelegenheid te stellen met onzen President in communicatie te komen, doch zou die wapenstilstand geweigerd werd zouden wij tot het uiterste toe met de macht van wapenen weerstand bieden” (VAB, A305c:8). Prinsloo moes gevolglik stellings aanwys, met die doel om die naderende Britse magte te verhoed om die terugvallende kommando’s verder te laat terugval.
13. Verdere handelinge van Roux
Roux verklaar dat Prinsloo aan Crowther en Van der Merwe opdrag gegee het om die stemme van die afwesige offisiere in te samel en dat hy vir Crowther en Van der Merwe vergesel het. Sodoende het Roux gehoop om hom te vergewis van die situasie by die voorste kommando’s. Roux verklaar dat hy die volgende aand, na afloop van die verkiesing, weer terug in die kamp van Prinsloo was. Die uitstaande stemme het die verkiesing in die guns van Roux beklink (VAB, A305c:8–9).
Na afloop van die verkiesing was Crowther en Van der Merwe onderweg na Prinsloo met die verkiesingsuitslag. Volgens Van der Merwe het hulle vir Roux onderweg ontmoet, waarna Roux hom by hulle aangesluit het. Hulle het Roux ook van die verkiesingsuitslag in kennis gestel. Onderweg na Prinsloo het die drie offisiere twee berigte ontvang. Die eerste was die skrywe van Prinsloo aan sy offisiere waarin hy hulle van die onderhandelinge tussen hom (Prinsloo) en Hunter in kennis gestel het en ’n vergadering vir die bespreking daarvan belê het. Die tweede berig was ’n skrywe van S.G. Vilonel waarin hy (Vilonel) die burgers van die oorgawe in kennis gestel het, en hulle versoek het om nie verder te beweeg nie (Van Schoor 1990:99; Amery 1906:340). Roux werp self nie veel lig op die terugreis nie. Hy verklaar alleen dat daar gerugte van moeilikheid die ronde gedoen het, maar dat hy nooit vermoed het dat verraad gepleeg is nie. Voorts het hy alle moed gehad dat die situasie nog gered kon word (VAB, A305c:9; Heyns 1930:18).
Roux het Prinsloo aangetref waar hy onder ’n wa geslaap het. Hier het Prinsloo aan hom ’n nota oorhandig waarin Hunter sy onvoorwaardelike oorgawe aanvaar het. Prinsloo het Roux ook meegedeel dat hy hom by name oorgegee het, aangesien Roux vir daardie dag nog onder sy bevel was. Volgens Roux het hy deur sy onderneming om nie langer bevel te voer nie, die “prooi voor de lage wraakzucht & jaloesie” geword. Roux was, volgens Van der Merwe, duidelik ontsteld en het Prinsloo as ’n landsverraaier uitgemaak. Prinsloo het Roux op sy beurt daarop gewys dat terwyl hy besig was om sy verkiesingsveldtog te bevorder, hy wat Prinsloo was, die vyand in onuithoudbare posisies beveg het. Een van Roux se adjudante wou in een stadium ook vir Prinsloo skiet. Roux het dit egter belet (Heyns 1930:18; VAB, A305a; Van Schoor 1990:99; Brink 1940:96–7; Brink 1904:91).
Roux het ook vir Prinsloo versoek om afskrifte van die korrespondensie tussen hom en Hunter te verkry. Prinsloo het hom egter meegedeel dat hy nie afskrifte daarvan gehou het nie (Heyns 1930:18; Van Everdingen 1920:55, vn. 2; Brink 1904:91). Roux het dus voor die keuse gestaan om óf die oorgawe, soos deur Prinsloo en Hunter ooreengekom, te aanvaar, óf te weier om die ooreenkoms te erken.
Hier moet weer benadruk word dat Roux tot 29 Julie 1900 onder die bevel van Prinsloo gestaan het. Prinsloo was ook die bevelvoerende offisier op 28 en 29 Julie 1900. Sy (Prinsloo se) handelinge, veral ten opsigte van die oorgawe, het die krygsafdelings onder sy bevel gebind. Roux, as die nuutverkose hoofkommandant, kon daarom nie strydig met die onderhandelinge deur Prinsloo aangegaan, handel nie. Roux, as die verkose hoofkommandant, moes voortgaan en alles daarstel om die oorgawe die volgende dag af te handel. Prinsloo moes aan die bevele van sy nuwe hoofkommandant voldoen.
Dit wil voorkom of Roux besluit het om die geldigheid van die oorgawe te bevraagteken. Roux het daarom, volgens Kolbe, ’n brief aan alle offisiere geskryf waarin hy hulle in sy hoedanigheid as hoofkommandant beveel het om hulle posisies te handhaaf. Hy het voorts aan die offisiere die oorgawe, soos deur Prinsloo ooreengekom, vermeld en verklaar dat hy in persoon teen die oorgawe sou protes aanteken. Hier moet vermeld word dat die weergawe, soos hier beskryf, ontleen word aan herinneringskrifte en dagboeke. Die oorspronklike skrywe kon nie gevind word nie (OMBR, 6967/1:360–1; Brink 1940:97; OMBR, 4128/42:3). Kolbe vermeld dat Roux die brief soos volg afgesluit het: “Vaarwel Broeders, als wij elkander niet weeder zien” (OMBR, 6967/1:361). In dié opsig het Roux ’n besondere waagstuk onderneem wat sy offisiere en burgers in ’n baie moeilike situasie geplaas het. Sou hy nie terugkeer nie, het hulle geen verdere instruksies gehad nie.
Kolbe verklaar dat hy die brief van Roux aan kmdt. J.F. Potgieter oorhandig het, wat dit op sy beurt verder moes aanstuur. Potgieter het sy ontsteltenis teenoor Kolbe te kenne gegee omdat Roux homself in dié skrywe as die hoofkommandant aangedui het. Volgens Kolbe het Potgieter nie geweet dat die stemme van die afwesige offisiere nog getel moes word nie. Potgieter was daarom onder die indruk dat Prinsloo die verkose hoofkommandant was. Potgieter het wel verklaar dat hy die brief sou aanstuur. Dit wil egter voorkom of dit nie gebeur het nie en dat Potgieter die brief hierna vernietig het. Vir hierdie handeling is Potgieter later deur veggenl. P.J. Fourie van verraad beskuldig (VAB, A155/42; OMBR, 6967/1:363, 367).
Kolbe verklaar dat hy agter Roux aangery het in ’n poging om hom te oorreed om nie teen die oorgawe protes aan te teken nie. Onderweg het Kolbe vir Fourie ontmoet, wat verklaar het dat Roux reeds in die vyandelike linies was en dat hulle hom nie meer sou kon inhaal nie. Dit wil voorkom of Fourie ook vir Roux uitdruklik teen sy besluit om protes aan te teken, gewaarsku het. Roux het egter nie op die waarskuwing ag geslaan nie. Kritzinger en McDonald skryf dat Fourie hierna vir Roux soos volg gegroet het: “Good-bye, General; I greet you never to see you again in the Boer ranks” (aangehaal in Kritzinger en McDonald 1904:12; sien ook OMBR, 6967/1:363–5). Fourie, Kolbe en ander offisiere het waarskynlik ook met dié wete hierna beraadslaag oor wat hulle in die afwesigheid van die nuutverkose hoofkommandant te doen staan (OMBR, 6967/1:363–5).
Roux het hom hierna per skrywe tot Hunter gewend. In die skrywe het hy versoek dat Hunter ’n nota van hom aan kmdt. S.G. Vilonel oorhandig, en dat Vilonel ook as Roux se woordvoerder moes optree. Roux het dus, net soos Prinsloo, van ’n veroordeelde landsverraaier gebruik gemaak om onderhandelinge namens sy krygsafdeling te voer.19 Ongelukkig kon geen verdere inligting rakende Roux se nota aan Vilonel gevind word nie. Hunter verklaar wel dat hy op 30 Julie 1900 ’n skrywe van Roux ontvang het. In hierdie skrywe vermeld Hunter dat Roux verklaar het dat hy, onafhanklik van Prinsloo, die bevelvoerder van die agterste kommando’s was en dat hy eie voorwaardes wou onderhandel. In hierdie opsig het Roux, net soos Prinsloo, ’n wanvoorstelling rakende sy bevel gemaak. Roux was die verkose hoofkommandant van beide krygsafdelings. Hunter het Roux geantwoord dat Prinsloo almal in die oorgawe ingesluit het, en dat hy op grond van Prinsloo se oorgawe nie bereid was om met Roux te onderhandel nie. Hunter het dit benadruk dat hy wel bereid was om Roux in sy kamp te ontvang, maar dat verdere samesprekings rakende die oorgawe buite die kwessie was (TNA, WO, 105/24b:11; TNA, WO, 105/24c:11; TNA, WO, 105/17a; Heyns 1930:18).
Hunter het op 4 Augustus in ’n skrywe aan die Britse opperbevelvoerder verklaar dat hy kennis geneem het dat wanneer meer as een kommandant in ’n krygsafdeling teenwoordig was, ’n kommandant-generaal verkies moes word. Hunter se kennis hier verwys na die posisie soos vervat in die OVS se militêre wetgewing. Dit wil egter voorkom of die OVS nie ’n kommandant-generaal verkies het nie. Voorts het Hunter kennis geneem van die feit dat Prinsloo, vir doeleindes van die eerste skrywe aan hom, deur die ander kommandante gemagtig was om ’n wapenstilstand aan te vra. Hy het ook kennis geneem dat, sou die wapenstilstand nie aanvaar word nie, die aangeleentheid na die offisiere terugverwys moes word. Laastens getuig Hunter dat hy ook kennis gehad het dat ’n onvoorwaardelike oorgawe nie aanvaarbaar was nie. Hoe en waar Hunter die kennis verkry het, is egter nie duidelik nie. Dit is wel waarskynlik dat Hunter na afloop van die gesprek met Roux meer duidelikheid gehad het. Dit wil egter voorkom of die inligting nie van Prinsloo verkry is nie. Hunter verklaar uitdruklik dat Prinsloo hom meegedeel het dat hy (Prinsloo) nie kennis ontvang het dat Roux tot hoofkommandant verkies is nie (TNA, WO, 105/24d:4). Dit blyk dat Prinsloo dus self ’n wanvoorstelling met betrekking tot sy rang geskep het.
Roux het slegs die skrywe van Hunter gehad waarin hy die onvoorwaardelike oorgawe van Prinsloo aanvaar het. Prinsloo het verder óf nie rekord van die korrespondensie gehou nie, óf verkies om dit nie aan Roux te oorhandig nie. Die gebrek aan korrespondensie is veral problematies, deurdat Roux as die nuwe hoofkommandant die besluite van Prinsloo, sy voorganger, op 30 Julie 1900 tot uitvoering moes bring. Ten opsigte van die skrywe moes dit wel duidelik gewees het dat Prinsloo die vorige dag onvoorwaardelik oorgegee het. Die skrywe van Hunter het voorts aangedui dat die hele krygsmag onder Prinsloo in die oorgawe ingesluit is. Gevolglik is dit duidelik dat die twee krygsafdelings van Prinsloo en Roux, na afloop van die krygsvergadering, onder die gesamentlike bevel van Prinsloo gestaan het. Roux behoort daarom geen twyfel te gehad het dat die woorde na die geheel van die twee krygsafdelings verwys het nie (TNA, WO, 105/24a:7–8; VAB, A305c:9).
Roux was gevolglik in die duister oor sowel die gebeure van die vorige dag as die presiese aard en inhoud van die onderhandelinge tot op hede. Wat die vorige dag se gebeure betref, het Roux geweet dat Prinsloo se agterhoede in gevegte met die Britse magte betrokke was. Aan OVS-kant is een gedood en twee gewond. Na afloop van die geveg het Prinsloo vir Hunter, die bevelvoerder van die Britse magte, genader met ’n versoek om ’n wapenstilstand. Hierdie versoek is geweier, wat op sy beurt tot verdere onderhandelinge tussen Prinsloo en Hunter uitgeloop het (Amery 1906:338–40; Maurice en Grant 1908:303–4). Dit was tot Roux se verbasing dat S.G. Vilonel, ’n veroordeelde landsverraaier, in die onderhandelinge gebruik is. Wat die uitkoms van die onderhandelinge betref, verklaar Roux dat Prinsloo op parool na Kaapstad gestuur word en dat Vilonel, asook kmdt. P.H. de Villiers en sy sekretaris, toegelaat is om na hulle huise terug te keer (VAB, A305c:9–10).
De Wet (s.j.:125) skryf ook: “[Roux] deed daar een stap, die niet van een zeer voorzichtigen man [...] verwacht kon worden, maar wel van een kind. Hij ging namelijk persoonlijk naar Gen. Hunter’s kamp om te protesteeren tegen de overgave, op grond dat zij onwettig was, daar hij en niet Prinsloo hoofdcommandant was [...] Wat moet de Engelsche Genl. in de stilte geamuseerd geweest zijn over zulk kinderspel. Men behoeft zich niet te vragen wat van Gen. Roux werd? Er kan maar één antwoord zijn: Gen. Hunter had één prisonier meer!” In teenstelling verklaar Roux dat hy nie na Hunter gegaan het om protes aan te teken nie, maar om oor te gee: “Ik deed toen wat ik 10 maanden lang als een beginsel aan de Burgers gepredikt had: in gehoorsaamheid aan onze meerderen ons te onderwerpen al koste’t ons leven. Door den drang der omstandigheden had ik my tydelik onder Prinsloos bevel geplaast, nooit vermoedend dat tydelik bevel in verraad zou gekeerd worden” (Heyns 1920:18). Daarmee tesaam was dit aan Roux duidelik dat die kommando’s nie bereid was om verder te veg nie. Voorts verklaar Roux dat die kommando’s van Harrismith en Vrede gevlug het. Roux verklaar voorts dat kommandante soos Haasbroek en Olivier vir Prinsloo gestem het. Tog het hierdie kommandante nie aan Prinsloo se bevel om oor te gee, gehoor gegee nie (VAB A305a).
Roux verklaar verder dat hy hom nie aan die OVS-krygsmag wou opdring nie. Verder was dit vir hom duidelik dat afguns en jaloesie die bevel van die OVS-krygsmag lamgelê het. Voorts was Roux onseker waar De Wet hom bevind het en kon hy daarom moeilik ’n rede sien om verder met verset aan te gaan. Van Everdingen verklaar dat Roux nog voor sy vertrek na Hunter se kamp oorweging daaraan geskenk het om ’n tweede brief te skryf, waarin hy aandui dat Prinsloo nie by magte was om al die kommando’s oor te gee nie. Roux het egter, volgens Van Everdingen, besef dat so ’n argument nutteloos was. Roux het daarom, in sy eie woorde, verkies om onder die omstandighede met die voorreg van evangelieprediking in ballingskap te gaan (VAB A305a; Van Everdingen 1920:58–9).
Op 31 Julie 1900 arriveer Roux in die kamp van Hunter. Volgens Hunter het Roux hom meegedeel dat hy die oorgawe van Prinsloo verwerp het. Hunter gaan voort en verklaar dat Roux hom egter verplig gevoel het om aan die bevel van Prinsloo, om oor te gee, gehoor te gee. Roux het dit onomwonde gestel dat indien sake in sy eie hande gelaat was, daar nie oorgegee sou gewees het nie. Roux het Hunter ook meegedeel dat hy van mening was dat die meeste offisiere en burgers wel sou oorgee. Hunter verklaar dat Roux hom ingelig het dat enkeles nie aan die bevel gehoor sou gee nie. Hunter het wel gepoog om Roux te oortuig om sy invloed te gebruik om Fourie, Haasbroek en Olivier oor te haal om aan die bevel gehoor te gee. Roux het egter geweier. Volgens Hunter het Roux verklaar dat hy (Roux) wel deur Prinsloo se bevel gebind was, maar dat die offisiere en burgers onder hom nie daardeur gebonde was nie. Hunter gaan voort: “I fail to follow his [Roux’s] argument” (TNA, WO, 105/24d:4; TNA, WO, 105/17b).20 Hierdie standpunt is later soos volg deur Roux in 'n brief aan De Wet verduidelik: “Ik heb geen enkel Burger overgegeven noch enigeen geraden zich te gaan overgeven omdat ik myzelven als buiten bevel beschouwde, en ware ik in bevel gebleven, ik zou voorwaar nooit overgegeven hebben en anderen evenmin geraden hebben zulks te doen” (Heyns 1930:18).
Roux verdedig hom soos volg op die aanklag van De Wet: “Ik heb noch in geschrift, noch in persoon (zooals gy in uw Boek beweert) geprotesteerd tegen de overgave, omdat de commandos die reeds by Salmon Raath voorby waren, my voorbij kwamen op weg naar Hunter, het zou dus klare onzin geweest zyn om nog te gaan protesteeren” (Heyns 1930:18). Dit wil voorkom of daar oral bespiegel is wat met Roux gebeur het. Hierdie onsekerheid het die krygsmoreel verder laat versleg. Daarmee tesaam het talle gevrees dat hulle as rebelle gevange geneem sou word. Enkele dae na afloop van die gebeure het MacDonald versoek dat Roux moes bevestig dat hy oorgegee het, en nie gevange geneem is nie. Dit blyk verder dat die offisiere aan die begin van Augustus 1900 steeds onder die indruk was dat Roux die kamp van Hunter onder die wit vlag binnegegaan het, en dat Hunter die wit vlag misken het deur Roux gevange te neem. Daarmee saam het talle burgers gevrees dat hulle, nadat hulle oorgegee het, gefusilleer sou word, en dat op alle eiendom beslag gelê sou word (VAB, A155/42; Brink 1940:98; NWMSa en NWMSb:27–8, 30–2; TNA, WO, 105/17c).
Vir Roux was die geredelike onderwerping van die OVS-magte in die Brandwaterkom “gewisselijke eene der donkerste bladzijden [...] in de geschiedenis van een bloedigen strijd voor vrijheid & onafhankelijkheid”. Hy sluit sy manuskrip af en skryf dat die oorgawe die gevolg van eersug was en dat laasgenoemde die oorgawe berug gemaak het: “Hoe anders dan Cronje's overgawe! Niets hier waarop met trots kon worden teruggezien. Sulke schande & vernedering. Welk een schok & ontmoediging zou't bericht van die lafhartige daad die President & Christian zijn! Prinsloos overgawe was de overgawe van zelfrespect” (VAB, A305c:11–2).
14. Gevolgtrekkings
Hoewel Van Everdingen in sy beskrywing van die gebeure van die geskrifte van Roux gebruik maak, is die Roux-manuskrip, so ver vasgestel kan word, nooit in sy geheel gepubliseer nie. Hoewel Roux se manuskrip waardevolle insig rakende die gebeure bied, is dit belangrik om daarop te let dat Roux in alle waarskynlikheid gepoog het om óf sy eie aandeel in die “onmoedigende onheil” te verduidelik, óf alle blaam daarvoor vierkantig op die skouers van Prinsloo te plaas. Tog bied die geskrif insigte in die dilemma van Roux, asook wat betref die verloop van gebeure wat op 29 Julie 1900 tot die onvoorwaardelike oorgawe van die magte onder bevel van Roux of Prinsloo aanleiding gegee het.
Roux het versuim om uitvoering te gee aan die opdrag om sy krygsafdeling na sy toegekende gebied te verplaas. Hy het verder die versuim geplaas voor die deur van Prinsloo, wat geweier het om die Wepener-kommando na sy krygsafdeling oor te plaas. Die bevele verbonde aan die krygstrategie kon egter nie gevind word nie. Die geskil wat tussen Prinsloo en Roux rakende die Wepener-kommando ontstaan het, is daarom eerder die gevolg van swakgeformuleerde bevele. Met reg kan die vraag gevra word of Roux, in die lig van bostaande bevinding, enigsins die skuld vir sy versuim om aan die bevel om die Brandwaterkom te verlaat, toegereken kan word. In dié opsig is daar blyke dat Roux nie opgewasse was om hom teenoor Prinsloo te laat geld nie. Voorts het Roux die skuld vir sy versuim om sonder die Wepener-kommando uit te trek, toegeskryf aan sy krygsvergadering, wat geweier het om die Brandwaterkom sonder die kommando te verlaat.
Daarmee tesaam is Roux se bevel deur ’n gebrek aan militêre inligting gekenmerk. Ter verdediging van Roux kan wel gemeld word dat hy waarskynlik nie die ondersteuning van sy offisiere gehad het nie. By gebrek aan dié ondersteuning het Roux telkemale krygsvergaderings belê. Die vergaderings het onnodig tyd in beslag geneem en het weinig tot die oplossing van die inherente probleem, naamlik Roux se onvermoë om bevel te voer, bygedra. Roux se onvermoë om langs hierdie weg sukses te behaal, blyk verder uit die feit dat Prinsloo daarin geslaag het om sonder die tussenkoms van ’n krygsvergadering oor te gee. Die studie kon egter nie bepaal wie vir die aanstelling van Roux verantwoordelik was nie. Daardie persoon het ook versuim om sy plig uit te voer om ’n meer ervare en geskikte bevelvoerder aan te stel.
Ten slotte het die studie talle weersprekinge tussen die herinneringe van Roux en ander bronne aangestip. In hierdie opsig het die herinneringe van Roux in bepaalde opsigte geblyk ’n weergawe daar te stel wat hom bevoordeel het. Die verskille tussen Roux se weergawe en ander weergawes word na afloop van die oorlog soos volg verduidelik: “Ik respecteer de gedachtenis dergenen die hun leven voor hun land hebben neergelegd, doch dit zal my niet verhinderen te verklaren, dat er officieren uit Nauwpoort zyn ontvluch voor wier dapperheid of eerlykheid, of karakter, ik geen duit wil geven, en zyn ’t die rapporten droegen van wat met my by Prinsloos overgave plaats vond” (Heyns 1930:18). Herinneringsgeskrifte is inderdaad belangrike historiese bronne, maar hulle moet met omsigtigheid hanteer en waar moontlik met ander verbandhoudende bronne vergelyk word. In die geval van ds./genl. P.H. Roux werp sy oorlogsherinneringe weliswaar lig op die gebeure in die Brandwaterkom in Julie 1900, maar kan dit nie sonder meer as ’n honderd persent korrekte verklaring van al die gebeure aanvaar word nie, want daar is duidelike aanduidings dat hy sy optrede en/of gebrek aan optrede ten minste in ’n mate probeer verontskuldig het.
Bibliografie
Gepubliseerde bronne
Amery, L.S. (red.). 1906. The Times history of the war in South Africa 1899–1902.Band 4. Londen: Sampson Low, Marston and Company, Ltd.
Atwood, R. 2011. Roberts and Kitchener in South Africa 1900–1902. Barnsley: Pen & Sword Military.
Barry, A. s.j. Ons Japie: Dagboek gehou gedurende die Driejarige Oorlog. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel.
Boldingh, G. 1903. Een Hollandsch officier in Zuid-Afrika: Nagelaten geschriften van luitenant Gerrit Boldingh.Rotterdam: B. van de Watering.
Breytenbach, J.H. 1978. Die geskiedenis van die Tweede Vryheidsoorlog in Suid-Afrika 1899–1902. Band 1. Pretoria: Die Staatsdrukker.
―. 1996. Die geskiedenis van die Tweede Vryheidsoorlog in Suid-Afrika, 1899–1902. Band 6. Pretoria: Die Staatsdrukker.
―. 2000. Die geskiedenis van die Tweede Vryheidsoorlog in Suid-Afrika, 1899–1902. Band 5. Pretoria: Die Staatsdrukker.
Brink, J.N. 1904. Ceylon en de bannelingen.Amsterdam: Hollandsch-Afrikaansche Uitgevers-Maatschappij.
―. 1940. Oorlog en ballingskap. Kaapstad: Nasionale Pers.
De Bruin, J.H. 2009. ’n Regshistoriese studie van die finale oorgawe van die Oranje-Vrystaat se konvensionele magte gedurende die Anglo-Boereoorlog (1899–1902). Ongepubliseerde LLD-proefskrif, Universiteit van die Vrystaat.
De Bruin, J., A. Wessels en J.J. Henning. 2011. The Orange Free State’s strategy to continue the Anglo-Boer War: A lost opportunity, Joernaal vir Eietydse Geskiedenis 36(2):112–34.
Delport, P.J. 1972. Die rol van genl. Marthinus Prinsloo gedurende die Tweede Vryheidsoorlog. Ongepubliseerde MA-verhandeling, Universiteit van die Oranje-Vrystaat.
De Wet, C.R. s.j. De strijd tusschen Boer en Brit: De herinneringe van den Boerengeneraal Chr. de Wet. Thielt: J. Lannoo.
Gilson, C.J.L. s.j. History of the 1st Batt. Sherwood Foresters (Notts. and Derby Regt.) in the Boer War, 1899–1902.Londen: Swan Sonnenschein & Co. Ltd.
Grundlingh, A. 2006. The dynamics of treason: Boer collaboration in the South African War of 1899–1902. Pretoria: Protea Book House.
Heyns, A.M. 1930. Lewenskets van genl. ds. Paul H. Roux.Geen uitgewer vermeld.
Judd, D. en K. Surridge. 2002. The Boer War. Londen: John Murray.
Kestell, J.D. 1920. Christiaan de Wet: ’n Lewensbeskrywing. Kaapstad: De Nationale Pers.
Kritzinger, P.H. en R.D. McDonald. 1904. In the shadow of death. Londen: Clowes.
[Maurice, J.F. (red.) en M.H. Grant.] 1908. History of the war in South Africa 1899–1902. Band 3. Londen: Hurst and Blackett Limited.
Moll, J.C. 1981. Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek. Band 4. Durban: Butterworth.
Nasson, B. 2010. The war for South Africa: The Anglo-Boer War 1899–1902. Kaapstad: Tafelberg.
Oberholster, J.J. (red.). 1973. Dagboek van Oskar Hintrager: Saam met Christiaan de Wet, Mei tot September 1900, Christiaan de Wet-annale 2.
Penning, L. s.j. De oorlog in Zuid-Afrika: De strijd tusschen Engeland en de verbonden Boeren-republieken Transvaal en Oranje Vrijstaat in zijn verloop geschetst 3. Rotterdam: D.A. Daamen.
Pretorius, F. 1976. Die eerste dryfjag op hoofkmdt. C.R. de Wet, Christiaan de Wet-annale 4.
―. 2001. The great escape of the Boer pimpernel Christiaan de Wet: The making of a legend. Pietermaritzburg: University of Natal Press.
―. 2010. The A to Z of the Anglo-Boer War. Lanham: The Scarecrow Press.
Scholtz, L. 1999. Waarom die Boere die oorlog verloor het. Pretoria: Protea Boekhuis.
Scholtz W.L. von R. en I.M.E. Scholtz (reds.). 1978. Dagboek van C.J. Asselbergs, Christiaan de Wet-annale 5.
Van Everdingen, W. 1920. De oorlog in Zuid-Afrika: Een beschrijving. Tweede Tijdvak 2. Delft: Technische Boekhandel en Drukkerij J. Waltman jr.
Van Rensburg, A.P.J. 1976. Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek. Band 1. Kaapstad: Tafelberg.
Van Schoor M.C.E. (red.). 1990. The diaries and recollection of Jacob Abraham Jeremias de Villiers, Christiaan de Wet-annale 8.
―. 2000. Gen. J.B.M. Hertzog’s war experiences, Christiaan de Wet-annale 10.
Wet 10/1899: Krijgs- en Commandowet.
Wet 33/1899: Wet omtrent het kiezen van Hoofdcommandant en aanvulling van de Krijgs- en Kommandowet, Artikel 1.
ZAR, Wet 20/1898: Wet voor den krijgsdiens in de Zuid-Afrikaansche Republiek, Artikels 26 en 27.
Argivale materiaal
Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, Bloemfontein (OMBR)
OMBR, 4128/42: S. Haasbroek, Die oorgawe van genl. Prinsloo.
OMBR, 4310/3: Dagboek van ’n onbekende persoon.
OMBR, 6967/1: W.J. Kolbe, Leevensgeschiedenis van genl. W.J. Kolbe.
National War Museum of Scotland, Edinburgh (NWMS)
NWMSa: MacDonald’s despatches. Afskrif van brief. H.A. MacDonald – F.S. Roberts en A. Hunter, 5 Augustus 1900.
NWMSb: MacDonald’s despatches. Afskrif van brief. Offisier (onleesbaar) – A. Hunter, 6 Augustus 1900.
The National Archives, Kew (TNA), War Office (WO)
TNA, WO, 32/7998: Hunter-verslag.
TNA, WO, 105/17a: Afskrif van telegram A. 237. A. Hunter – F.S. Roberts, 30 Julie 1900.
TNA, WO, 105/17b: Afskrif van telegram A. 251. A. Hunter – F.S. Roberts, 31 Julie 1900.
TNA, WO, 105/17c: Afskrif van telegram A. 363. A. Hunter – F.S. Roberts, 8 Augustus 1900.
TNA, WO, 105/24a: Afskrif van brief no. 6. A. Hunter – M. Prinsloo, 29 Julie 1900.
TNA, WO, 105/24b: Afskrif van brief. P.H. Roux – A. Hunter, 30 Julie 1900.
TNA, WO, 105/24c: Afskrif van brief. A. Hunter – P.H. Roux, 30 Julie 1900.
TNA, WO, 105/24d: Afskrif van brief. A. Hunter – F.S. Roberts, 4 Augustus 1900.
Vrystaatse Argiefbewaarplek, Bloemfontein (VAB)
VAB, A119/42: Renier-versameling. Brief. J.N. Brink – Die Volksblad, 17 Junie 1949.
VAB, A119/519: Renier-versameling. Dagboek van J.C. van der Walt.
VAB, A119/1056: Renier-versameling. I.A. Meyer, Die ervarings van ’n veldkornet in die Engelse oorlog 1899–1902.
VAB, A155/42: Oorlogsmuseum-versameling. Brief. C.C. Froneman – C.R. de Wet, 3 Augustus 1900.
VAB, A305a: Roux-versameling. P.H. Roux, Boekie met aantekeninge oor persoonlike redes vir oorgawe & ervarings as gevangene: Paul Roux, 3 Nov. 1900.
VAB, A305b: Roux-versameling. Notule krygsvergadering, 25 Julie 1900.
VAB, A305c: Roux-versameling. P.H. Roux, De overgave van Prinsloo.
VAB, A305d: Roux-versameling. Afskrif. Notulen van der Krygsraadvergadering gehouden op de plaats Bethel van den heer Biddel in het dist. Bethlehem op den 27ste Julie 1900.
VAB, A305e: Roux-versameling. Afskrif. Notule 7 Julie 1900.
VAB, A305f: Roux-versameling. Brief. M. Prinsloo – P.H. Roux, 27 Julie 1900.
VAB, OVS GS, 1660: OVS Goewermentsekretaris-versameling (GS). Afskrif van skrywe. J.A. Collins – lede van die krygskommissie, 17 Oktober 1899.
Eindnotas
1 Vir ’n verdere bespreking van die OVS-opperbevel, sien De Bruin (2009:13–42).
2 Vir verdere bespreking sien De Bruin, Wessels en Henning (2011:112–34).
3 Soos vervat in Boldingh (1903). Die aantekeninge van Keulemans verskyn as kommentaar in die vorm van voetnote tot die beskrywing van Boldingh. Vir doeleindes van hierdie artikel word na Keulemans as ’n afsonderlike bron verwys om sodoende ’n duidelike onderskeid tussen die weergawes van Boldingh en Keulemans te tref.
4 Vir geverifieerde gegewens, kyk bv. die artikel deur Van Rensburg (1976:690–2) oor Prinsloo, asook Pretorius (2010:353–5).
5 Wanneer woorde wat vandag as kwetsend beskou word, aangehaal word, word dit gedoen om te verseker dat die integriteit van die oorspronklike teks nie aangetas word nie, en word dus geen negatiewe konnotasie geïmpliseer nie.
6 Vir geverifieerde gegewens, kyk bv. die artikel van Moll (1981:550–1) oor Roux, asook Pretorius 2010:397–8.
7 Dit mag wees dat Meyer na die uitvoerende raad, en nie die komitee nie, verwys. Dit kan ook wees dat Roux deur die krygskommissie aangestel is. By gebrek aan enige verdere klarigheid is die veronderstelling dat Roux deur die staatspresident of uitvoerende raad aangestel is.
8 Crowther is aan die begin van die oorlog as plaasvervanger vir A.P.J. Diedericks verkies. Diedericks was die veldkornet van wyk Ladybrand. Hy (Diedericks) is op sy beurt as plaasvervanger van die kommandant van die Ladybrand-kommando verkies (VAB, OVS GS, 1660:580).
9 Ingevoeg na aanleiding van ’n aanhaling van Roux, soos in Van Everdingen (1920:41) verskyn.
10 Brink (1940:83) weerspreek bronne soos Boldingh, Van der Merwe en Amery rakende die besetting van die twee passe. Volgens Brink: “Die lot van Retiefsnek het Slabbertsnek onhoudbaar gemaak.” Sien ook Penning (s.j.:878–9). Vreemd genoeg skryf Brink in ’n vroeëre werk (1904:84): “In den nacht van 24 Juli, nadat de vijand Slabbertsnek in bezit genomen had, liet de waarnemende Hoofd-Commandant Prinsloo, Genl. Crowther te Commandonek weten, zoo spoedig mogelijk zijn posities te verlaten [...].” Brink was self nie tydens die gevegte te Retiefsnek of Slabbertsnek aanwesig nie. Kyk in die algemeen ook Maurice en Grant (1908:299–301).
11 Die seun van Haasbroek verklaar dat hulle met hulle aankoms te Nauwpoort gevind het dat die OVS-afdeling met die Britse magte slaags was (OMBR, 4128/42:2; sien ook OMBR, 6967/1:352).
12 Roux maak geen melding van die Jacobsdal-kommando (kmdt. H.P.J. Pretorius) wat saam met Haasbroek opdrag ontvang het om na Nauwpoort te gaan nie. Boldingh maak geen melding van die kommando’s van Bethulie (kmdt. F.J. du Plooy) en Jacobsdal (Pretorius) wat saam met Haasbroek na Nauwpoort moes gaan nie. Haasbroek maak alleen van die Haasbroek-kommando melding. Volgens Van der Merwe is die Fauresmith-kommando (kmdt. P.J. Visser) ook by die opdrag ingesluit (Van Schoor 1990:97). Kyk in die algemeen ook De Bruin (2009:231–4).
13 Van der Merwe vermeld dat die kommando’s van Senekal, Thaba ’Nchu, Rouxville en Bloemfontein vir dié doel opdrag ontvang het om stelling in te neem (Van Schoor 1990:97).
14 Dit blyk dat Roux vir kmdt. G.S. van der Merwe gestuur het, wat Prinsloo na die krygsvergadering geneem het (Van Schoor 1990:98; sien ook VAB, A305c:7–8).
15 Roux verwys na ’n wapenstilstand van ses dae, en nie vier dae nie (VAB, A305c:8; sien ook Kestell 1920:67; Van Everdingen 1920:48).
16 Sien ook Van Everdingen (1920:49, vn. 1).
17 Delport (1972:181) verklaar dat daar geen bewys gevind kon word vir die stelling dat indien die wapenstilstand verwerp word, daar verder geveg moet word nie. Hierdie standpunt blyk verkeerd te wees wanneer met die herinneringe van Roux en die verklaring van Van der Merwe gehandel word.
18 Soos aan Kestell meegedeel. Sien Kestell (1920:66–7).
19 Vir meer omtrent die rol van die omstrede kmdt. S.G. Vilonel in die Brandwaterkom-gebeure, sien Grundlingh (2006:342–3).
20 Brink (1940:98) verklaar ook dat Roux vir Hunter versoek het om afskrifte van die korrespondensie te verkry. Hierdie versoek is deur Hunter geweier.
LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.

