
Boekomslag: Jonathan Ball-uitgewers; agtergrondfoto: Canva Pro
Die oorkant
Annemarié van Niekerk
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624090854
’n Tweede roman is ’n hindernis waaroor ’n skrywer moet spring, veral as haar eerste roman soveel aandag getrek het. Hierdie keer durf Van Niekerk fiksie aan, hoewel daar, soos lesers lankal weet, deur alle fiksie sterk outobiografiese elemente verweef is, al is dit hoogstens emosioneel.
Soos ’n mens van hierdie skrywer sou verwag, is die inkleding noemenswaardig. Dit op sigself kan ’n probleem wees: Ek onthou in die teater het hulle gesê wanneer die gehoor spontaan begin hande klap vir die décor wanneer die gordyn oopgaan, het die ontwerper te ver gegaan en die donder gesteel.
’n Mens wil hande klap vir Van Niekerk se lieflike woorde en sinne oor die Suid-Kaap, die sintuiglikheid daarvan. Die omgewing word ’n karakter, alomteenwoordig, oeroud en iemand om mee rekening te hou. Die rustelose rivier en die veranderlike see, die veldblomme en kruie. Die roman is baie filmies: Die leser sien die klein Ada agter haar pa aankruie die berg op, met meer gewig op die regter- as die linkervoet. Jy ruik sy sweet saam met die fynbos.
Ada woon saam met haar pa, Esias, en ouer broer Desmond op ’n plasie Bloukoeniekraal in die Goukou-vallei. Haar pa is onherroeplik beskadig. Van almal staan hy vir my die helderste uit die bladsy regop; hy is daardie bosbefokte grensvegter wat nooit ophou baklei nie. Hy herinner my aan die manlike hoofkarakter in Alexandra Fuller se Scribbling the cat en ander bossies fokkers wat ek al geken het. Dis ’n gewigtige tema wat nooit uitgeput sal raak nie: die blywende, intergenerasionele skade wat PW Botha en sy makkers die Afrikanerpsige aangedoen het, met hulle gek oorlog in ’n ander land.
Esias was vóór sy diensplig al ’n koppige alfaman – dit het gelei tot die dood van sy jonger broer, waarvoor hy homself nooit vergewe het nie. Op die grens is sy beste vriend dood, nadat Esias geweier het om hom ’n genadeskoot toe te dien of hom agter te laat, en hom ver gedra het. Nou verkies hy om te bly glo in die ideale waarvoor hy geveg het. Alles is swart en wit. Sy woord is wet. Op die plasie, agter slot en grendel, is hy heer en koning. Hy heers brutaal oor sy kinders en die werkers en hy vind in sy Bybel regverdiging daarvoor. Hy is Ou-Testamenties. In hierdie opsig toon hy ooreenkomste met die pa in Onder ’n bloedrooi hemel, wat ’n memoir is.
........
’n Mens wil hande klap vir Van Niekerk se lieflike woorde en sinne oor die Suid-Kaap, die sintuiglikheid daarvan. Die omgewing word ’n karakter, alomteenwoordig, oeroud en iemand om mee rekening te hou.
........
Die kinders se ma, Vera, het lankal weggeloop en loer net nou en dan in om weer dik gebliksem te word. Sy is kunstig en vaag en was nie opgewasse om vir haar kinders in te tree nie. Sy kon ook nie bly en hulle afranseling aanskou nie. Die huishulp, Janna, is ook nie opgewasse nie. Sy was maar die bloed weg waar Esias sy seun in die skuur met ’n sweep bygekom het, en van klein Ada se lakens waar hy haar in die nag verkrag het. Toe die skool begin navraag doen oor die kneusplekke aan haar bene, haal hy die kinders uit die skool.
Ada het ’n manier om uit haar lyf te ontvlug wanneer sy binnegedring word: Sy verbeel haar dat ’n dassie in haar nek kom snuffel. Ada en Desmond beweeg nie nader aan mekaar weens hulle gedeelde brutalisering nie; hulle dryf eerder verder uitmekaar. Dis elkeen vir homself en elkeen moet alleen die skaamte en skande verwerk.
Daar is een ligpunt in Ada se lewe: Janna se susterskind Lies wat by hulle kon woon en werk. Sy het houding. Sy is skrander en die meisies doen saam skoolwerk en swem saam in die rivier.
Daar is verskillende tydlyne. In die hede kom woon Ada vir ’n tyd by Lies (nou Mel – haar volle naam is Melissa) in die rietdakhuisie wat sy gekoop het, oorkant die rivier van Bloukoeniekraal af. Melissa is besig met ’n projek oor die biodiversiteit van die streek. Ada is besig om haar jeugherinneringe te boekstaaf as ’n vorm van terapie.
In die vertroude omgewing klop die pynlike herinneringe aan. Die leser word al dieper die verlede ingelei, na die huis van gruwels en die hel waardeur hulpelose kinders moes gaan.
Esias de Jager is ’n simptoom, ’n puisie op die gesig van die Afrikanerpsige. Daar is soveel soos hy, die wandelende verwondes. Êrens vind hulle hul mishoop en kraai koning, hoog gekoring op brannas en Coke. Hierdie leser is (soos by die lees van vele romans) vervul met moedeloosheid vir die mensdom wat altyd iemand wil onderdruk: Eers het die Britte dit aan die Boere gedoen, toe doen die Boere dit aan swart mense en offer hulle eie seuns op as kanonvoer ter wille van uitgediende fascistiese ideale.
........
Dis ’n boek wat betower soos ’n wandeling in die veld, ten spyte van die geweld. Dis lieflik geskryf.
........
Dis ’n boek wat betower soos ’n wandeling in die veld, ten spyte van die geweld. Dis lieflik geskryf. Daar is ’n paar probleme, soos met die meeste tweede romans. Nie alle karakters kom so duidelik uit die verf soos Esias en tot ’n effens mindere mate Ada nie. Janna bly vaag, en selfs Mel. Vera is per definisie vaag en Desmond is byna onsigbaar uitgehol. Soms het dit vir my gevoel dat Mel bloot ’n alter ego is, soos ’n denkbeeldige speelmaat, iemand om mee te gesels en van te verskil. Iemand om lief te hê en te haat soos ’n aspek van jouself. Iemand wat toeskouer was.
Sekere temas word uitstekend ontgin, soos hoedat molestering en brutaliteit ’n mens eintlik selfsugtig maak, in jouself gekeer, gesteld op jouself en slegs tot ’n mindere mate op mense na aan jou wat hulle eie hel deurgemaak het, soos in Ada se geval Desmond, Janna en Mel.
Dis ’n wonderbaarlike, onvolmaakte boek. Soms voel dit asof die skrywer doelbewus besluit het om sekere kwessies aan te roer en tog is daar ’n eenvoud en stilte aan die roman. In die voortreflikste oomblikke hou dit ’n spieël op vir ons gebroke samelewing en vir die mens se inherente gebrokenheid.
Dit het my enduit gefassineer. Ek tref nie graag vergelykings nie, maar ek glo nie dit dra soveel gewig soos Onder ’n bloedrooi hemel nie. Maar hier is ’n skrywer van formaat, ’n gebore storieverteller met ’n koker vol betowerende woorde, oneindig sensitief en ingestel op vibrasies, ook van die natuur. Ek sien uit na haar volgende boek.

