Die ontelbare 48 by die Vrystaat Kunstefees: ’n teaterresensie

  • 0

Die ontelbare 48 by die Vrystaat Kunstefees 2017

Met Wessel Pretorius
Regie, teks en vervaardiger: Wessel Pretorius
Ontwerp: Nico Scheepers

Die ontelbare 48 vertel ontelbare kleinverhale. Wessel Pretorius, skrywer van die teks en enigste vertolker van al die karakters se verhale in hierdie eenmanvertoning, het ’n Fiësta-toekenning as beste akteur in dié toneelstuk ontvang. Die toekenning was welverdiend. Pretorius vertolk elke rol met empatie en deernis. Die stuk is al in programboekies as ’n komedie aangedui, maar ek verskil met hierdie beskrywing. Daar is baie humor in die teks, maar dis geen grappige werk nie. Die stuk is warm, menslik en slim. Maar uiteindelik eerder ontstellend as snaaks.

Die storie-opsomming

Dis Woensdagaand op ’n klein plattelandse dorpie in die Laeveld. Die skoolsaal word ingerig vir die kerk se maandelikse fliekaand. 48 dorpenaars kom byeen, elkeen met sy eie storie, om vanaand ’n film te kyk. Tussen hulle sit ’n moordenaar met ’n sluwe plan.

Die karakters

Die fokus is op vier karakters van die 48 wat hul daardie aand in die filmvertoning bevind: ’n gefrustreerde hokkie-afrigter en ma, ’n hoërskoolseun wat bewus word van sy gay-seksualiteit, ’n drama-afrigter, en ’n dogtertjie van vyf. Wessel se bewoording van hoe elkeen hom- of haarself uitdruk, is raak en gevat. Plek-plek baie snaaks. Maar deurlopend is die gehoor bewus van wat wag. Die verteller het reg aan die begin reeds verklap wat gaan gebeur. Die verraderlike aspek van hierdie toneelstuk is hoe geheg mens aan hierdie karakters se lewens raak, elk met sy alledaagse onbenullighede en lief en leed.

Onthoubare tonele

Omdat die karakters onder die gehoor se velle inkruip, is daar onthoubare tonele. Mens beleef die afwagting en gewaarwordinge van verliefdheid in ’n kombuistoneel waar die hoërskoolseun met ’n ander seun gesels. Die onskuld van hierdie toneel is sjarmant. Die plasing van ’n ander toneel van ’n ma wat saam met haar seuntjie in ’n motor sit en vir hom sing, is baie goed. ’n Mens wil uitroep: laat haar bly waar sy is! Plasing van tonele is dus ook van belang – en goed gerangskik.

Wie is nie in die verhaal nie?

Die weglating van ander mense se doodgewone kleinverhale is slim. Wie is hulle en waaroor rou of lag elkeen van hulle vandag? Wie is al die mense in hierdie land wat op verskillende maniere omkom, almal wie se ontelbare stories ons nie hoor nie?

Dit het my opgeval: daar is geen stereotiepe heteroseksuele man wie se verhaal vertel word nie. En geen swart of bruin karakters nie.

Wie wie se stories vertel, is natuurlik van groot belang in hierdie land. Mense in magsposisies moenie namens ander praat nie. Ek vind die toneelstuk het slim hiermee omgegaan: dis kragtig om nie almal se stories te vertel nie, maar dit jou net te laat verbeel. Die onvertelde stories hinder; die skare gesiglose mense van wie ons nie hoor nie, is diegene wat mens bybly.

Die ontelbare 48 is een drama met baie stories. Wessel Pretorius, skrywer en akteur van hierdie toneelstuk, is een akteur met baie talente.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top