Die onbekeerde, bekeerde Koos Kombuis

  • 0

Die PICA-toekennings waarmee tydskrifte jaarliks vereer word, is op 15 November by Emperor’s Palace gehou, en die ATKV se Taalgenoot het ’n prys ingepalm.

Carryn-Ann Nel se artikel oor Koos Kombuis, "Die onbekeerde, bekeerde Koos" (Herfs 2012) is bekroon met ’n PICA vir Beste profielskrywer van die jaar: Kliëntetydskrifte.

Naomi Meyer het vir Carryn-Ann oor die artikel gevra.

Wat het jou inspireer om hierdie artikel te skryf, of was dit ’n opdrag-artikel?

Dit was ‘n opdrag wat ek van Donnay Torr (redakteur van Taalgenoot) gekry het.

Was jy emosioneel betrokke by die artikel? Was dit vir jou lekker om dit te skryf, of was dit vir jou ’n ware werksopdrag wat met moeite gekom het?

Ek moet eerlik wees: ek moes baie navorsing oor Koos voor die tyd gaan doen. Hoewel ek ‘n idee gehad het oor wie hy is en wat hy doen, was ek nie baie blootgestel aan hom as kind en tiener nie. Dit was een van daardie onderhoude wat so tot my gespreek het (as mens, nie noodwendig as joernalis nie). Koos was ook lekker oop en eerlik; so dit het die vloei en die trant van ons gesprek soveel makliker gemaak. As ek hom gevra het om uit te brei, of iets duideliker te stel, het hy dit sonder moeite gedoen. Ons onderwerp (geloof) is ook vir my ‘n belangrike onderwerp. Ek het dit baie geniet om die storie self te skryf net omdat die onderhoud so fantasties en interessant was. Gewoonlik (as joernalis) weet ‘n mens soms wat die persoon aan die anderkant gaan sê. Met hom was dit anders. Ek het aan sy lippe gehang.

Ek sien jy werk by Die Burger. Waarom vryskut vir die Taalgenoot? Hoe sal die inhoud van die Taalgenoot verskil van dit wat jy gewoonlik skryf?

Ek vryskut vir die Taalgenoot van tyd tot tyd. Ek is die hooggeregshofverslaggewer by Die Burger, waar ek elke dag oor moord skryf. Ek geniet dit om te skryf, so dis vir my heerlik om soms ‘n bietjie te kan wegbreek en rubrieke en features te kan skryf. Met Taalgenoot is dit vir my lekker om kreatief te kan skryf. Ek geniet dit wel baie om vir Die Burger ook te skryf, want ek is totaal gefassineerd met die regsberoep, en om daaroor te kan skryf en mense se stemme daaroor te kry is vir my lekker.

Foto’s en uittreksels uit artikel met toestemming van Taalgenoot.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top